~ 18 Desember 2025: Dankie aan almal wat saamgestap het | Ons stapprogram vir 2026

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • ‘n Tyd vir dankie sê: Oor enkele dae, op 21 Desember, is dit die sonkeerpunt (summer solstice) in die suidelike halfrond met die langste dag en kortste nag – hoewel die middel van die somer by ons eers in Februarie is. En so kom nog ‘n stapjaar tot ‘n einde. Ons het ‘n goeie en voorspoedige stapjaar gehad en daarvoor sê ons ‘n GROOT DANKIE aan elke lid, besoeker en ondersteuner wat op een of ander wyse bygedra het. Ons sien dit raak en ons waardeer dit. Welkom ook aan al ons nuwe lede. Sien ook die terugvoerverslag van die Otter-voetslaanroete hieronder. Nou is dit vakansietyd – reis veilig, kuier lekker, en rus goed. Mag volgende jaar vir ons almal interessante reise na buite en na binne inhou.
  • Datums vir jou dagboek vir 2026: Ons heg weer ons stapprogram vir volgende jaar aan. Ons twee groot stappe is die WILDERNIS-EKSKURSIE (Vrydag 27 Maart tot Woensdag 1 April; 5 nagte se kamp by Ebb & Flow; sowat R1300 pp kampgeld; dagstappe en talle ekstras) en die BAVIAANS LEOPARD’S TRAIL in die Oos-Kaap (stapdatums is Saterdag 12 tot Dinsdag 15 September; R3200 pp vir stappermit; stap met dagsakkies want oornaggoed word aangery). Tussenin is daar stappe wat wissel van maklik tot ekstreem – iets vir elkeen. Alles begin by ‘n plan.
  • Besprekings wat op 5 Januarie 2026 open: Die besprekings vir volgende jaar se stappe open op Maandag 5 Januarie om 07:00. Die spesifieke besprekings wat daardie dag oop maak is die Strand-dagstap: Pavilion – Perdevlei op Saterdag 10 Januarie (besprekings by Steph du Toit by 082 851 9953), die Almenkerk-dagstap by Grabouw op Saterdag 17 Januarie (besprekings by Freddie en Susan by Pohl 074 304 7678) en die Wildernis Ebb & Flow (Suidkus, naby George) van Vrydag 27 Maart tot Woensdag 1 April (besprekings by Kobus en Edna Terblanche 082 379 3171). Ons sal nader aan die tyd meer inligting gee.
  • Ledegeld vir 2026: R110 vir die hooflid en R190 per paar (of hooflid en  1 afhanklike kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ’n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag vir lede teenoor R20 per dag vir besoekers). Die lidmaatskapvorm is hierby aangeheg.
  • Hoe om ledegeld te betaal: Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910. Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld). Stuur jou inbetalingsbewys saam met jou lidmaatskapvorm aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Weerlig-veiligheidsmaatreëlings: Anders as wat ‘n mens sou dink, word die meeste mense wat deur weerlig getref word nie deur direkte weerligstrale getref nie (3-5%) maar deur “ground currents” (50-55%), “side flashes” (30-35%) of “upward streamers” (10-15%). Hierdie artikel bevat inligting oor wat om te doen indien jy op ‘n stap in ‘n donderstorm beland: https://thetravelinfoblogger.com/lightning-safety-for-hikers/
  • Slangbyt: Die African Snake Bite Institute het ‘n inligtingstuk saamgestel oor wat om te doen in geval van ‘n slangbyt. Sien https://www.africansnakebiteinstitute.com/wp-content/uploads/2025/02/Snakebite-Flipper-Chart-Emergency-Care.pdf
  • Stapverslae: Sien die stapverslae vir die Vergelegen-wynplaasstap, die Otter-voetslaanpad en Klein Roosboom “Party Bike” hieronder.

EERSTE SARSIE STAPPE VIR 2026

STRAND: PAARDEVLEI NA PAVILION EN TERUG – SATERDAG 10 JANUARIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 5 Januarie

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Paardevlei net voor die Strand (ons sal ‘n pin stuur). Graad: 1A (redelik, 11 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Ons begin Paardevlei (ons sal ‘n pin stuur) want die parkeerplek hier is beter. Ons stap eers rondom die vlei en kies dan koers kuslangs en stap na die Pavilion en terug. Trek gerus jou swemklere onder jou stapklere aan indien jy langs die pad ‘n “dip wil vang”! Terug by Paardevlei is daar ‘n gesellige plekkie waar ons koffie kan drink. Ons beoog om teen 07:30 te begin. Die afstand is 11 km en ons behoort so teen 11:00 klaar te wees. Sien julle daar!

ALMENKERK-WYNPLAAS, GRABOUW – SATERDAG 17 JANUARIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 5 Januarie

Stapleiers en besprekings: Freddie en Susan Pohl 074 304 7678. Beginpunt- en tyd: 08:45 by Almenkerk-wynplaas se hek. Graad: 1A (stapafstand 8 km; klimhoogte 195m). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Permitgeld: R40 (die geld gaan vir die beheer van indringerplante wat natuurlike ekosisteme ontwrig).Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Freddie en Susan : Die roete op die Almenkerk-wynplaas in die pragtige Elgin-vallei (afdraai net na die Peregrine-padstal) is ‘n heerlike “kry-die-jaar-op-die-pad” stap van 8 km. Wat die roete anders maak, is die “oefeningstasies” wat die “fun” in die “fun walk” te sit.  Hoewel daar twee verrassende steil bulte in die eerste gedeelte aangedurf moet word, maak die plaas se pragtige uitsigte oor die damme en die vallei, asook die veelkleurige rose by die appelboorde meer as genoeg op vir die sweet en inspanning. Die waterkanon (vierde oefenstasie) sorg vir heelwat pret. Maak gereed om sopnat aan die ander uit te kom. Maar moenie kommer nie, die son sal jou vinnig weer “afdroog”. Die ander stasies sluit in “tyre flips”, ‘n balanseerbalk en “sit-ups”. Ons kan agterna hier wyn proe of iets by die Peregrine-padstal gaan eet. Kry meer inligting by https://almenkerk.co.za/visit-us/.

STAPVERSLAE

Vergelegen: stap en wynproe – 29 November 2025

Agt van ons kom om 08:45 op die parkeerplek van die wynproelokaal  van die historiese Vergelegen (gestig op 1 Februarie 1700) in Somerset-Wes bymekaar. Daar is ‘n groot verkeersoponthoud in Stellenbosch as gevolg van ‘n padwedloop. Miranda maak dit betyds maar Amanda sluit eers ná die staptog by ons aan. Ons handel die admin af en val in die pad. Die mense wat nog nooit op Vergelegen was nie verkyk hulle aan die pragtige omgewing en tuine. Om hulle te akkommodeer, stap ons rustig en verkort die roete effens. Ons wat gereeld hier stap is eintlik bederf en gewoond daaraan. Gelukkig is Amanda by die wynproelokaal en ek bel haar om te reël dat ons so 15 minute gaan laat wees vir ons bespreking. Ons sit aan vir die proe van die wyne en is beïndruk met die gehalte. Ons word bederf met ‘n vierde wyn wat op promosie is. Daar word op die ou end heelwat wyn gekoop. Die groep neem afskeid van mekaar behalwe vir vyf van ons wat na die Lourensford-mark toe gaan vir iets te ete en te drinke. Hierdie omgewing met sy natuurprag en aktiewiteite kan maar gereeld op ons stapprogram oorweeg word. ‘n Groot dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings en inisiatief. Stapafstand: 4 km. Klimhoogte: 192 m.

Otter –  24-28 November 2025

Ons groep van 12 Otter-stappers het uit verskillende rigtings Sondag 23 November 2025 bymekaar gekom in die pragtige Nature’s Valley en almal in dieselfde huis oorgebly. Ons het die aand saam gebraai en mekaar so bietjie beter leer ken.

Ons is die Maandagoggend 09:00 by De Vasselot-kampterrein deur ons pendelvervoer opgelaai en na Stormsrivier Nasionale Park geneem. By Stormsrivier Park se ontvangs het ons die formaliteite en verpligte ‘Briefing’ afgehandel voor ons die Otter amptelik kon begin. Die eerste paar kilometer het ons met ‘n pragtige paadjie deur die inheemse woud see se kant toe gevat. Hier het ons ons eerste sarsie van “boulder hopping en rotsklim” gehad voordat ons teen middagete by die waterval en rotspoel langs die see kom afpak. Na middagete en nadat ons ‘n bietjie afgekoel het in die rotspoel het ons die laaste paar kilometer aangepak na die eerste oornag hut. Die eerste dag was korterig (4.8 km) maar nie sonder opwinding nie en ‘n goeie voorsmaak van die pragtige natuurskoon wat op ons sou wag vir die volgende paar dae. Die hutte wat basies maar meer as voldoende en Dag 1 se hut het ‘n baie spesiale buit stort in ‘n baie skadurye kloof gehad. Ons het die dag met ‘n pragtige sonsondergang gegroet. 

Dag 2 het ons meestal onder die koel skaduwee van die woud gestap, maar ook deeglik kennis gemaak met die monster bulte waarmee die Otter ons telkens vir die volgende paar dae sou inwag. Persoonlik was dit vir my een van die mooiste dae op die hele staptog. Ons het vroeg ons eerste rivierkruising by Kleinbosrivier gehad. Oor die algemeen was die Tuinroete redelik droog vir hierdie tyd van die jaar en meeste rivierkruisings kon oorgesteek word sonder om te veel nat te word.

Net na middagete op Dag 2 het die avontuurlustiges onder ons die mooi “pinnacle” rots uitgeklim en is beloon met seker van die mooiste uitsigte op die hele roete. Kort daarna het ons weer gestop, ons rugsakke agtergelaat en afgeklim na die pragtige Bloubaai waar ons ‘n tyd lank vertoef het en net die mooi van die omgewing kon inneem terwyl ons op die strand gesit het. Ons het daarna weer teen ‘n stywe opdraande uit voor ons die laaste kilometer of twee voltooi het vir die twee oornaghutte wat  by ‘n kleinerige riviermond geleë was. Hier het die berugte muskejaatkat van die Otter ons ook kom besoek en homself gehelp aan van ons stappers se kosvoorraad wat hy in die hande kon kry! Dag 2 se stap afstand was 7.9km.

Ons het sommer baie vroeg op Dag 3 die pragtige Elandsriviermond oorgesteek met die mooiste spierwit sandstrand riviermond. Ons het hom enkeldiepte oorgesteek voor ons weer die volgende ravyn uitgeklim het. Hoog bo-op die ravyn het ons net na middagete by die Lotteringsrivier aangekom met die mooiste uitsig van die oornaghutte onder teen die rivier aan die oorkant. Na ‘n effense tegniese begingedeelte van die roete na die onderste gedeelte van die Lotteringrivier ravyn het ons onder by ‘n rivierloop aangekom wat ons met behulp van ‘n paar spronge oor rotse droogvoets kon kruis. Hier het ons ook ‘n hele tydjie vertoef in die talle swempoele wat in die rivierloop was voor ons die laaste entjie na die oornaghutte aangepak het. Dit was van die mooiste uitsigte van die oornaghutte met ‘n uitsig oor die riviermonding en die gedruis van die branders heelnag voor ons voordeur.

Dag 4 het sommer dadelik begin met ‘n baie stewige klim. Ons het effens vroeër begin om doodseker te maak ons is vroeg genoeg met laagwater by die Bloukranskruising. Die dag het vinnig gevorder vir die eerste gedeelte tot by Witelsrivier. Van hier af het ons redelik naby die see gestap met talle steil rotsklimpaadjies wat ons moes baasraak. Ons was redelik vroeg by Bloukrans, maar die effens ongunstige weer van die dag het gemaak dat die see baie onrustig was en vir redelike ongemaklike golwe gesorg het wat baie twyfel in ons gemoedere laat ontstaan het oor die veiligheid van die Bloukranskruising ten spyte van die laagwater. Die groter golwe het vir bietjie opwinding gesorg maar ons is uiteindelik oor die Bloukransmonding. Met baie adrenalien in die are is ons die loodreg rotse uit met behulp van toue en kon ons die laaste paar kilometer aanpak na André se oornaghutte. Die gemoedere was baie hoog die aand toe ons die vuur aansteek want die Bloukrans is oorgesteek en die laaste dag lê voor. Dag 4 se stap afstand was 13.8km.

Weer eens het ons die dag begin met ‘n baie steil klim van die begin af, maar ons is beloon met ‘n ongelooflike uitsigte van die rand van die ravyn oor die woude en berge agter ons. Dag 5 was vandaar ‘n redelike gemaklike stap tussen ‘n kombinasie van woud en oop fynbos tot by die Grootriviermond op Nature’s Valley se pragtige groot en oop strand. Hier het ons die laaste kilometer of twee met die woudpaadjie gestap tot by die eindpunt by De Vasselot-ruskamp. Ons was 12 moeë stappers maar met ‘n lied en sommer baie vreugde in ons harte het toe ons klaarmaak.

Ons het daarna ‘n warm stort en skoon klere by ons oorna huis in Nature’s Valley met oorgawe waardeer. Ons almal het die dag afgesluit met ‘n aandete by die plaaslike restaurant in Nature’s Valley. Nuwe vriendskappe is gemaak en met ‘n hart vol ongelooflike herinneringe het ons die volgende dag huiswaarts gekeer. ‘n GROOT DANKIE aan Elvin en Carine van Zyl vir al die stapreëlings, die toutjies bymekaar hou, en die stapleiding – ons waardeer dit baie. Stapafstand: 45 km. Klimhoogte: 4115 m.

Klein Roosboom “Party Bike” – 6 Desember 2025

Soms in die lewe, veral hier na die einde van die jaar se kant toe, het ‘n mens lekker “saamdans-musiek”, ‘n glasie wyn en ‘n “party bike” nodig om ‘n slag te lag en die dinge van die jaar af te skud. En dit is wat 13 van ons (ons was meer, maar daar was ‘n paar wat as gevolg van siekte moes kanselleer) op Saterdag 6 Desember gedoen het toe ons om 10:30 op Klein Roosboom net buite Durbanville bymekaar gekom het. Eers bestel jy jou wyn en eetgoed, en dan is dit tyd vir fiets trap – nie dat ons vreeslik hoef te getrap het nie, want die “fietse” werk met batterye en eintlik help elkeen se getrap maar net om die battery te laai. Die party bikes, wat ‘n topspoed van 8 km per uur kan haal, het plek vir jou selfoon, wyn en eetgoed. Die bestuurder – met ‘n hemp waarop staan “High-performance driver – www.partybike.co.za” – dui aan wanneer jy moet vashou op ‘n afdraand en wanneer daar vir ‘n groepfoto gestop word. So het ons vir ten minste 2 uur lank deur die wingerde en oor die koppies gelag, getrap en gesels. Groot-groot pret! Agterna het ‘n groepie van ons nog oor ‘n koppie koffie of glas wyn gekuier. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en recce voor die tyd. Stapafstand / trapafstand: 2 km. Klimhoogte: 50 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

R190 per paar (of hooflid en  1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die lidmaatskapvorm is hierby aangeheg.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“It is the possibility of having a dream come true that makes life interesting.” – Paulo Coelho

“I feel like the human version of tangled Christmas lights.” – Anonymous

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna