~ 19 Augustus 2026: Stappe vir res van hierdie jaar | Voorstelle vir 2027 se stapprogram

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapsake: Hierdie is net ‘n vinnige nuusbrief om te sê ons begin nou met die beplanning van volgende jaar se stapprogram. As jy afkom op nuwe roetes wat ons vir 2027 se stapprogram kan oorweeg, of as daar roetes is wat jy bittergraag op volgende jaar se stapprogram wil sien, stuur dit asseblief aan vir Wynand Krause by Wynand@nauticalbluestar.co.za teen Woensdag 26 Augustus 2026. Sien die res van hierdie jaar se stappe hieronder – kom stap saam!
  • Droogste Julie ooit in dele van die Wes-Kaap: Ander jare hierdie tyd het ons al talle stappe weens reën afgestel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê: “Preliminary rainfall data indicates that the Cape Town International Airport recorded its lowest rainfall in July since 1958, with only 14.4 mm recorded for the month. This is only about 16% of the average at the Airport. The previous record was in 1987 when only 18.0 mm was reported. The seasonal weather forecast indicated a strong signal for below-normal rainfall for the south-western Cape during the winter period, and short-term weather forecasts suggest that this trend will most likely continue into the first week of August. Some stations in the south-western parts of the Western Cape also reported their lowest rainfall since records began or their previous record.”
  • Volg ons op Facebook: Kry ons by https://www.facebook.com/Sanlamstapklub om foto’s van ons stappe en ander stapinligting te sien.
  • Reis – en stap in die berge – help vir alles: People change their lives more after TRAVEL than after therapy (the data surprised everyone). 1) Researchers noticed a strange pattern: Major life shifts often happen not after years of therapy, but after a single strong travel experience. People come back from a trip and suddenly quit jobs, end relationships, change cities, or finally start comething they postponed for years. A psychologist explained: “Travel breaks the illusion that your current life is the only possible one.” Therapy works with words, travel works with direct experience. 2) When you travel, your brain is forced out of autopilot. New streets, languages, food, faces – the nervous system can’t rely on old scripts. This creates what scientists call a “plastic window”, when decisions are rewritten faster. One woman said, “After two weeks abroad, I realised I was living someone else’s life.” That realisation did not come from analysis, but from contrast. 3) Travel temporarily removes social roles. At home, you are someone’s employee, partner, child or parent. On the road, those labels weaken. You become just a person moving through space. Therapists note that this loss of identity pressure allows people to hear their real desires for the first time. Not what’s expected – but what actually feels alive. 4) Data shows that insights gained during travel integrate faster. Instead of weekly reflection, the body learns through movement and emotion. That’s why decisions made after travel feel irreversible – they are anchored not in logic but in experience. Therapy explains who you are. Travel shows who you could be. And for many people, that glimpse is enough to change everything.
  • Simpatiebetoning: Ons simpatie gaan aan Hanna Jacobs (hanna.jacobs@mweb.co.za) wie se broer Johan op 7 Augustus skielik oorlede is. Ons wens haar baie sterkte toe in hierdie hartseer tyd.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Silwermyn, Museum of Illusions, Alphen-roete by Constantia, Fotografie-kursus, Tafelberg Extreme en Luiperdkamerastap hier onder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR

TAFELBERG: 5 DAMME – SATERDAG 22 AUGUSTUS 2026

Bespreek nou

Stapleier en besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Constantianek. Graad: 2B (trappiespad tot op jeeppad is, 15 km, klimhoogte 569 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos en iets warms om te drink, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Kom ons gaan kyk hoe lyk die damme op Tafelberg in die winter. Ons stap op met die trappiespad en jeeppad tot op die agterste tafel en kyk hoe lyk die vyf damme op ons pad. Lekker dagstap om jou naweek die moeite werd te maak. Goeie oefening vir mense wat binnekort die Leopard Trail in die Baviaanskloof gaan stap.

TAFELBERG: OP MET 3 FIRS RAVINE EN AF VIA GROOTKOP EN OUDEKRAAL RAVINE – SATERDAG 29 AUGUSTUS 2026

Bespreek nou

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 07:30 by die Theresa Avenue jeep track in Bakoven – sien https://goo.gl/maps/jsiotDDBhj12. Graad: 3C (veeleisend; 12 km, 1000 m klim). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons begin in Theresaweg en stap met die Pipetrack langs totdat ons by 3 Firs Ravine se afdraai kom. Dan stap ons met hierdie steil maar baie mooi ravyn op tot bo-op Tafelberg se agterste tafel. ‘n Kop vir hoogtes is hier belangrik. Ons stap ‘n ent op die agterste tafel aan tot by Grootkop, waar ons dan tot op die hoogste punt van die 12 Apostels klim.  Ons sak dan weer af tot op die Pipe Track via Oudekraal Ravine en volg dan die roete terug tot by die motors. ‘n Baie mooi en moeite-werd dagstap.

TAFELBERG: TWAALF APOSTELS – SATERDAG 5 SEPTEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 24 Augustus

Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Beginpunt- en tyd: 08:00 by Oudekraalweg 37, Kampsbaai. Graad: 2B (redelik), 14 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste:Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Kobus en Edna sê: Hierdie sirkelroete bied ongelooflike mooi uitsigte oor die Atlantiese kus bokant Oudekraalbaai en Cosy-baai. Die roete loop naby die Twaalf Apostels Hotel verby, deur pragtige fynbos en kolle inheemse woud, en verby reusagtige granietrotse met uitsigte oor Llundudno en Klein Leeukop. Dit is ‘n onthoubare mooi stap.

ANURA-WYNPLAAS – SATERDAG 12 SEPTEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 31 Augustus

Beginpunt- en tyd: Anura. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 3171. Graad: 1A. Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Permitkoste: R?

Wynand en Madeleine sê: Ons stap ‘n roete op Anura-wynplaas aan die voetheuwels van Simonsberg (Klapmuts-afdraai vanaf N1, dan Simondiumpad). Pragtige omgewing met mooi uitsigte. Agterna kan ons die deli en Forest Hill Kaasmakery besoek.

LEOPARD’S TRAIL, BAVIAANSKLOOF, OOS-KAAP – 11-16 SEPTEMBER 2026

Volbespreek

Organisering: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad        2B – veeleisend (totale stapafstand 63 km; klimhoogtes tot 500 m op ‘n slag). Groepgrootte          : 12. Inpak: Soos vir oornagstap waar ons met dagsakkies stap en ons oornaggoed van hut na hut vervoer word (slackpacking). Maak gereed vir enige weersomstandighede en sorg dat jy fiks en voorbereid is. Koste: Stappermit en verblyf voor en na die stap: R3 800 pp. Brandstofdonasie: R1 400 pp (590 km x 2 = 1 180 km). Adminheffing R40 (lid) / R80 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie is ons groot stap van die jaar. Ons vertrek Vrydag 11 September uit die Kaap en ry via Willowmore na die Red Cliffs-plaashuis aan die begin van die roete. Ons slaap ook hier die dag waarop ons klaar stap. Ons stap van Saterdag 12 tot Dinsdag 15 September en ry Woensdag 16 September terug Kaap toe. Dag 1 = sowat 10 km (3-5 uur), Dag 2 = 18 km (5-8 uur), Dag 3 = 22 km (6-9 uur), Dag 4 = 13 km (3-5 uur). Sien roetebeskrywing: https://gobaviaans.co.za/project/route-and-map/. “This is true wilderness hiking. A single-track path meanders through the inaccessible mountains of South Africa’s third largest wilderness area. With the Baviaanskloof hosting 7 of SA’s 8 biomes, the Leopard Trail offers an unparalleled diversity of landscapes. The Leopard Trail was designed for hikers by hikers.  The trail and overnight sites were purposely created to inspire WOW, and to connect hikers to the magic of true wilderness.”

MURATIE – STAP EN PIEKNIEK – SATERDAG 19 SEPTEMBER

Bespreek vanaf Maandag 7 September

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:30 by die Dirtopia-kantoor op Muratie. Graad: 2A (sowat 10,5 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Permit R75. R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Lekker dagstap op die plaas Muratie (in 1685 tot stand gekom) teen die hange van Simonsberg in die Knorhoekvallei noord van Stellenbosch. Ons doen ‘n roete van sowat 11 km met ‘n piekniek (bring lekker koffie en broodjies) by die uitkykpunt met mooi uitsigte oor die wingerde, wynplase, Tafelberg in verte en al die berge rondom ons.

MATOPPIE BY BERGRIVIERDAM, FRANSCHHOEK – SATERDAG 26 SEPTEMBER

Bespreek vanaf Maandag 14 September

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 08:00 by Bergrivierdam se wal: https://goo.gl/maps/FJy6X6eoW5isz9a8A. Graad: 2A (stapafstand 13 km; klimhoogte 306 m): Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Permit: R80. R120 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons stap eers ‘n ent langs die Bergrivierdam en dan antikloksgewys om Matoppie – met ‘n lekker stop vir koffie en broodjies. ‘n Baie lekker stap met mooi uitsigte, maak nie saak wat die weer maak nie.

PERDEBERGPIEK, KLEINMOND – SATERDAG 3 OKTOBER

Bespreek vanaf Maandag 21 September

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:00 by Fairy Glen-piekniekterrein (aan oostekant van Palmietrivier, naby die ou betonbrug en net buite Kleinmond). Graad: 2B (stapafstand 13 km; klimhoogte 769 m, geleidelike klim). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: R170 brandstofdonasie (106 km x 2). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: ‘n Stewige klim, ongelooflike mooi uitsigte en ‘n behoorlike “sense of achievement” – dit is wat Perdebergpiek by Kleinmond jou belowe. Die roete begin by die piekniekplek waar die brug oor die Palmietrivier gaan tussen Betteysbaai en Kleinmond. Ralph Pina beskryf dit so: “The hike from Feetjiesbos (or Fairy Glen), near the Palmiet bridge, to Perdeberg Peak and back, in the Kogelberg Biosphere Reserve, is not hard. It rises through rich fynbos at an easy gradient, gradually revealing views of the sweep of Sandown Bay beach to the Bot River mouth, the Three Sisters, grand vistas of the Elgin plateau north to the Hottentots Holland mountains as you breast the ridge, culminating in a commanding view of the Palmiet lagoon Oudebosch, Platberg, Buffelstal, Rooielsberg and Kogelberg peak. At one point the Cape Hangklip lighthouse fleetingly winks through Leopard Gorge’s cleft. On this day we could see clear across to the Cape Peninsula. https://ralphpina.com/2025/05/perdeberg-hike/

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 10 OKTOBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 28 September

Stapleier en besprekings: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: R40 toegangsgeld by hek (R30 vir mense bo 60). Brandstofdonasie sal afhang van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Mariette sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.

KAAPPUNT-NAWEEKSTAP (CAPE OF GOOD HOPE-ROETE) – SAT 17 TOT SON 18 OKTOBER 2026

Bespreek nou

Besprekings: Santie Kies by 082 299 1753. Beginpunt- en tyd: 08:00 by die ingangshek na die Kaappunt-natuurreservaat (ons voertuie word veilig by die hek en binne die natuurreservaat parkeer). Graad: 2B (Dag 1: 15.5 km, 523m klimhoogte; Dag 2: 21,5 km, 543 klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Kan die Saterdagaand braai by die hut. Koste: Stappermit R443 per persoon + Bewaringsfooie van R110 per persoon (geen Bewaringsfooi as jy Wildcard het). (Die bewaringsfooie is by die hek betaalbaar met jou krediet- of debietkaart – geen kontant.) Bring ook jou SA ID-dokument saam (Suid-Afrikaners betaal minder bewaringsfooie as buitelanders, maar hulle wil jou ID sien). Brandstofdonasie R190 (2 x 80 km). Adminheffing R20 (lid) / R40 (besoeker).

Santie sê: Dag 1: 15,5 km oor sowat 6 uur. Ons stap kloksgewys reg rondom die reservaat. Ons stap oor of om die pieke aan die Valksbaaikant van die reservaat tot ons op Kanonberg kom. Dan sak ons af na ‘n deel langs die kus wat enige dag net so mooi soos die Otter is. Die laaste end is opdraand na ons oornaghutte (Restio en Protea) by die Goldfields-opvoedingsentrum naby die punt. Ons braai die aand. Warmwaterstorte en toilette. 10 uit 10 uitsig vanaf die hut – met Valsbaai aan die een kant en die Atlantiese Oseaan aan die ander kant. Dag 2: 21,3 km oor 9 uur. Ons begin vroeg en stap af met die koppie tot by die see (Atlantiese kus) en loop dan vir ‘n lang ruk al langs die see tot ons uiteindelike binneland toe draai in die rigting van die reservaat se hoofingang. Ons loop oor interessante koppies op hierdie gedeelte. ‘n Baie spesiale stap.

SCARBOROUGH: BASKLOOF – SATERDAG 24 OKTOBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 12 Oktober

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 08:00 by die parkeerarea by die see by Scarborough. Graad: 2B (12 km, 600 m klimhoogte, steil klim plek-plek). Groepgrootte: 12. Inpak. Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Permit: R60. Brandstofdonasie: R105 (65 km x 2) (motor met 3 betalende passasiers). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons stap die Fynbosroete in die berge bokant Scarborough (so 10 km suid van Kommetjie). Die Baskloof Privaat Fynbosnatuurreservaat “straddles the mountains around and behind the Conservation Villages of Misty Cliffs and Scarborough on the M65 south”. Ons begin stap vanaf die parkeerarea by die see in Scarborough. Ons stap eers tot bo-op die plato voordat ons links draai na die ander Grootkop met sy mooi rotsformasies. Ons stap aan na die Kleinplaasdam waar ons kan swem as die weer reg is. Op pad terug draai ons regs uit na Platberg waar ‘n asemrowende mooi uitsig oor die Atlantiese Oseaan en Kaappunt op ons wag. Hiervandaan stap ons terug na die motors. Baie mooi uitsigte oor die Atlantiese Oseaan, baie mooi fynbos en rotsformasies.

DWARSBERG TROUT HIDEAWAY, RAWSONVILLE – VRYDAGMIDDAG 30 OKTOBER TOT SONDAG 1 NOVEMBER

Volbespreek

Reëlings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Basis: Dwarsberg Trout Hideaway, Rawsonville. Graad

Wissel volgens dagstap – 1A tot 2B. Groepgrootte: 20. Inpak: Soos vir kampnaweek met dagstappe. Eie tente en kamptoerusting. Braai saans. Dagstappe met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Kampgeld: R620 per persoon. Brandstofdonasie R200 (2 x 86 km) (motor met 2 betalende passasiers). Adminheffing R20 (lid) / R40 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie kampterrein is so besonders en gewild dat ons reeds op 21 Januarie 2025 moes bespreek om plek te kon kry vir laaste naweek van Oktober 2026. Dit is ook nie ver om te ry nie. Ons het River Campsite 2 (https://www.trouthaven.co.za/rooms/camp-site-2/) gekry – met gras en ‘n riviertjie wat “voor ons deur” verby loop. Daar is elektrisiteit en warm storte. Verskeie dagstappe en aktiwiteite wat nader aan die tyd deurgegee sal word – moontlik ook besoek aan Bosjes met sy kapel met die “vlerke”-dak. Die ideale wegbreek vir hierdie tyd van die jaar. Sien ook https://www.trouthaven.co.za/

CLARA ANNA FONTEIN DAGSTAP BUITE DURBANVILLE – SATERDAG 7 NOVEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 26 Oktober

Stapleiers en besprekings: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Beginpunt- en tyd: 09:00 by Clara Anna Fontein Natuurreservaat se ingang vanuit Odendaalstraat, Aurora, Durbanville. Graad: 1A (10 km, 105 klimhoogte – geleidelike bult). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Permit R100. Brandstofdonasie sal afhang van afstand wat jy moet ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand sê: Ons stap ‘n sirkelroete van sowat 10 km oor die heuwels buite Durbanville met pragtige uitsigte oor die Bolandse berge. ‘n Hele paar wildsoorte en ook sebras is hier gevestig. Ons hou piekniek by een van die uitkykpunte.

FRANSCHHOEK: JAN JOUBERTSGAT-SIRKELROETE – SATERDAG 14 NOVEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 2 November

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Jan Joubertsgat Brug in Franschhoek-pas. Graad: 2B (9 km, 368 m klimhoogte). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Permit R100. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons begin in die Franschhoekpas by die historiese Jan Joubertsgatbrug wat in 1825 gebou is. Ons stap hiervandaan op na die plato waar daar uitsigte is oor die Theewaterskloofdam voordat ons terug draai in die rigting van Franschhoek. Ons stap aan tot by ‘n jeeppad waar ons dan klim tot bo-op ‘n koppie wat uitstekende uitsigte oor die Franschhoek-vallei bied. Ons stap terug na ons motors al langs die Franschhoekpas. Die sirkelroete bied mooi uitsigte oor die Mont Rochelle berge en is ook bekend vir sy mooi fynbos. Na die tyd kan ons bietjie voete in die water sit onder die brug.

JAAREINDFUNKSIE – SATERDAG 21 NOVEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 19 Oktober

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Plek: Word binnekort bekend gemaak. Op die agenda: Bekendstelling van 2027 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), spreker, lekker eet en kuier. Meer besonderhede word later deurgegee.

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 28 NOVEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 16 November

Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 19de wyntoer wees. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

TREINRIT: KAAPSTAD NA KALKBAAI EN TERUG – SATERDAG 5 DESEMBER 2026

Bespreek vanaf Maandag 23 November

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt: Kaapstad-Stasie om 07:00 (trein vertrek 07:30). Graad: 1A (redelik): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Treinkaartjie sowat R24 retoer. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie is ‘n toerdag. Ons parkeer by die Civic Centre of in die Strandstraat-parkade en ry met die blou Metrorail-trein Kalkbaai toe (R12 per persoon; vertrek 08:00), verken die wêreld daar, en kom weer terug (R12 per persoon; vertrek 12:18 of 13:34). Die rit tussen Kaapstad en Kalkbaai neem net meer as 1 uur. Dit gee ons genoeg tyd om die interessante winkeltjies (klere, juweliersware, antiekeware), kunsgalerye en koffieplekke te verken wat aan Kalkbaai ‘n unieke karakter gee. Inside Guide sê die volgende oor Kalkbaai: “It was named one of The 12 Coolest Neighbourhoods Around The World by Forbes magazine, among international hotspots like Barcelona’s Sants, Washington’s Navy Yard and Amsterdam’s Noord, and outranking London’s Soho and New York’s Greenpoint in the process. After one visit to the quirky seaside village of Kalk Bay, it’s easy to understand why.”

STAPVERSLAE

Silwermyn – 27 Junie 2026

Agt van ons kom by die parkeerarea by die dam binne Silvermyn 1 bymekaar. Ons handel die admin af en begin te stap in die rigting van Steenbergrif. Ons stap al met die rif links voordat ons regs draai en mik vir die Olifantsoog-grot. Hier stop ons vir n koffie en foto’s voordat ons die paadjie aanpak wat klim tot bo by die maste op Constantiaberg. Die wolke en mis kom erg in en ons gee maar die kruin ‘n mis en soek eerder die “Elephant Bum Cave” op. Hier stop ons weer vir ‘n koffie.  Ons sak af teen Constantiaberg en gaan na die Houtbaai-uitkykpunt waar daar ‘n nuwe bankie en platform gebou is.  Ons vertoef ‘n rukkie en neem ‘n paar foto’s voordat ons weer die pad aanpak.  Ons neem die Amfiteater roete en stap al om die rim rondom die Silvermyndam. Ons stop halfpad vir middagete voordat ons uiteindelik weer by die parkeerarea uitkom, net voor die weer weer inkom. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 688 m.

Museum of Illusions, Kaapstad – 4 Julie 2026

Ons was vyf mense wat die Saterdagoggend by die Museum of Illusions in Kloofstraat, Kaapstad, opgedaag het. Ons eerste foto was sommer by die ingang by Mandela se portret (met die oë wat lyk of dit jou volg) – mens moet jou “Mandela credentials” reg hê. Daarna volg ‘n reuse kaleidoskoop en groot “3D pin art board” waar jy met jou hele lyf ‘n “letterlike indruk” kan maak (wat vir baie pret gesorg het – party het gesweer hulle lyk nie so nie). Ons het verken, alles uitprobeer, verwonderd gestaan, gelag, baie foto’s geneem en met die bietjie fisika-kennis van skool probeer sin maak van sommige installasies. Daar is sowat 60 verskillende installasies. Duidelik verstaan Museum of Illusions die ervaringsekonomie – mense wil goed ervaar. Ons is almal agterna na die Honest Chocolate Café in Waalstraat waar ons koffie en sjokolade in verskeie vorme ingeneem het (dankie vir die aanbeveling, Hanna). Die kaartjies is duur (afslag vir afgetredenes en kinders; koop kaartjies vooraf aanlyn), maar dit was die moeite werd. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 1 km.

Alphen-roete, Constantia – 11 Julie 2026

Altesaam 11 stappers ontmoet om 07:15 by die Alphen Hotel. Ons verwelkom 4 nuwe stappers. Admin word afgehandel en ons pak die roete aan voordat die “parkrunners” begin stap. Die roete volg die pragtige Constantia-groengordel wat mens byna laat vergeet dat ons eintlik in die stad stap! Ons stap deur die Alphen-roete, Klaasenbosch en ‘n gedeelte van Ceceliawoud. Hier stop ons vir ‘n rustige teebreek. Ons stap verby Constantianek se parkeerarea en volg dan die teerpad tot by die ingang na “Die Hel”. Die roete lei ons deur ‘n pragtige woudagtige gedeelte en sorg ook vir ‘n stewige bult. Van hier volg ons die “Jeep”-roete om by die Diep Rivier-roete aan te sluit. Ons span uit vir vroeë middagete onder die lieflike koeltebome. Na so 30 minute se rustigheid volg ons die Dieprivier-roete – hier is dit steeds baie modderig en ons stap maar versigtig. Ons eindig die dag weer via die Alphen-roete en bereik die motors so teen 12:30. ‘n Heerlike 14 km roete met genoeg opdraandes om darem ook die spiere oefening te gee! ‘n Groot dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 410 m.

Fotografie-kursus – 18 Julie 2026

Altesaam 16 mense het die Saterdagoggend om 09:30 by Abrie en Ina se huis in Brackenfell bymekaar gekom vir die werkwinkel oor fotografie spesifiek vir pakstappers wat meestal met hul selfone foto’s neem. Die kursus is aangebied deur professionele fotograaf Hanna Jabobs (https://hannajacobs.co.za/courses/). Fotografie beteken letterlik in Grieks “painting with light”. Hanna het begin deur ons meer te vertel van die funksionaliteit van ons selfone – funksies wat ons nie altyd optimaal benut nie. Toe het sy onder meer gepraat oor komposisie, atmosfeer, die reël van derdes, kleure wat die aandag van jou fokuspunt aftrek, die reël van “simplify” (moenie te veel elemente in jou foto hê nie), en “honesty versus performance”. Selfs al begin jy net om een of twee van hierdie funksies of riglyne in jou foto’s te gebruik, sal jou foto’s beter uitkom. Ons is agterna bederf met heerlike muffins en koffie. ‘n GROOT dankie aan Hanna Jacobs wat haar kennis met ons gedeel het – ons waardeer dit. En dankie ook aan Abrie en Ina Marais wat hul huis aan ons beskikbaar gestel het en ons welkom laat voel het.

Tafelberg Extreme – 25 Julie 2026

Saterdagoggend vroeg kom 12 van ons bymekaar by die parkeerarea op Kloofnek. Nadat die admin afgehandel is mik ons vir die Pipetrack en stap al aan die westekant van Tafelberg op die kontoer tot ons die afdraai kry na die Diagonal Roete. Ons klim tot by Diagonal-grot waar ons brekvis geniet. Hierna begin die klim vir die dag. Ons klim met Diagonal op, maar vat nie die afdraai na regs nie. Ons hou aan met klim al die pad in Porcupine Ravine in totdat ons uiteindelik bo is. Bo is dit bietjie nat en modderig, maar na ‘n koffiebreek om na die klim te herstel, vat ons die 12 Apsotels-paadjie, Echo Valley en die Smuts Track tot by Maclear’s Beacon vir middagete. Na ete stap ons oor die berg tot by Platteklip Gorge en toe af tot op die voorste kontoer. Ons volg die voorste kontoer tot by die kabelkarretjiestasie. Hier neem ons die bussie, wat verniet is en tussen die kabelkarretjiestasie en Kloofnek se parkering loop. ‘n Lekker rustig busrit om ‘n lang dag se stap af te sluit. Dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 15 km. Klimhoogte: 1175 m.

Luiperdkamerastap – 1 Augustus 2026

Altesaam ses van ons kom om 07:20 by Eerste Tol in Bainskloofpas buite Wellington bymekaar.

Die weer is goed met ‘n sterkerige windjie. Ons val om 07:30 in die pad en vorder goed en is om 09:45 by die kameras. Steph versorg die kameras waarop daar meer as 9000 foto’s is. Ons vertrek om 10:30 en is kort na 13:00 terug by die motors. Steph raporteer dat daar heelwat foto’s met luiperde op is sowel as ander fauna soos ratels, ystervarke, ‘n muskeljaatkat, hase, bobbejane, ‘n muishond en ‘n klipspringer. Dit lyk na moontlik 4 verskillende luiperds. Foto’s sal later beskikbaar gemaak word. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

Individuele lidmaatskap is R110 per persoon vir 2026. Lidmaatskap per paar is R190 (hooflid en gade OF hooflid en 1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

Gen X truth: “I don’t know how many more wide-leg to skinny-leg to wide-leg pants transitions I have in me. I’m just wearing my hiking pants from now on.” – Hike Like A Woman

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand