~ 22 April 2026: Ons volgende sarsie stappe | Stapverslae

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapnuus: Ons het verlede maand ‘n wonderlike 5 dae by Ebb & Flow by Wildernis gekamp, dagstappe gedoen en die wêreld daar verken. Ons skuld Kobus en Edna Terblanche ‘n groot dankie vir al die moeite wat hulle gedoen het om dit vir ons almal spesiaal te maak. Die winter het skielik gekom en ons moes verlede Saterdag Werner se Tafelberg-stap (oostelike kontoerpad) kanselleer oor die reën. Die Paarlberg-stap van 9 Mei se roete verander na die een wat ons gewoonlik stap – sien hieronder. Ons stappe vir die volgende paar weke is hieronder. Kyk gerus en kom stap saam!
  • Gratis toegang tot Stad Kaapstad se natuurreservate 24-27 April 2026: Gratis toegang hierdie naweek tot onder meer Tygerberg, Blaauwberg en Helderberg se natuurreservate. Die oorkoepelende doel van die naweek: “… snap photos of plants, animals and insects, and upload them to the iNaturalist app, where experts help identify the species. Cape Town will compete with cities around the world to record the most wildlife observations.” Kry meer inligting by https://www.thesouthafrican.com/news/cape-town-nature-reserves-free-entry-this-long-weekend-which-reserves/
  • Leeukop se jeeppad tydelik toe: Die jeeppad is toe vir instandhouding tot 20 Junie 2026. SANParks sê: However, hikers will still be able to access the Lion’s Head Summit via alternative routes, which are the Kramat trail located on Signal Hill Road, the Upper Rhine Road Trail and the trail from Kloof Road.
  • Weet jy van nuwe roetes? As jy afkom op nuwe roetes wat ons moontlik in volgende jaar se stapprogram kan sit, stuur dit asseblief aan vir Wynand Krause by Wynand@nauticalbluestar.co.za.
  • Ons simpatie: Ons simpatie gaan aan Esmay Josephs en Desiree Timmet wie se moeder op 14 Februarie na ‘n lang siekbed oorlede is. Ons simpatie gaan ook aan die familie van Rene Schoeman-Hodgson wat op 3 April oorlede is. Dit is in hartseertye soos hierdie wat mens op nuut besef hoe kosbaar die lewe is.
  • Newhman oor stap in die berge: 1. You’ve paid to suffer – and somehow enjoyed it. (Waking up early, walking for hours, getting tired … and still calling it a “good weekend”.) 2. You secretly judge people who say, “Let’s just stay indoors”. (Not out loud – but part of you wonders how they don’t feel bored.) 3. You’ve questioned your life choices mid-hike … then forgot about it at the summit. (Halfway up: “Why am I doing this?” At the top: “This is why.”) 4. You know the best views don’t come easy. (If it’s comfortable, it’s probably not the spot people remember.) 5. You’ve been happier sitting on a rock than sitting in a fancy place. (No noise. No pressure. Just you and the view.) 6. You don’t trust “easy hikes” anymore. (You’ve learned the hard way that “easy” can still leave you breathless and questioning everything.) 7. You’ve experienced silence that actually felt loud. (No traffic. No music. Just your thoughts—and somehow that hits deeper.) 8. You’ve made better decisions on a trail than in a meeting. (Something about walking clears your mind more than sitting ever could.) 9. You don’t always need people to enjoy the moment. (Some of your best memories happened when it was just you and the trail.) 10. No matter how hard it gets, you always say, “I’ll do it again”. (Because deep down, you know the struggle is part of what makes it worth it.)
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Majik Forest, Hermanus-kuspad, Meerendal-stap, Jonkershoek: Yellowwood en Twin Peak Kontoer, Luiperd-kamerastap en Gantouw-ossewaroete hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR

KAMPNAWEEK OP LEOPARD TRAIL GASTEPLAAS – VRYDAG 24 TOT MAANDAG 27 APRIL 2026

Volbespreek

Basis: Leopard Trail Gasteplaas – https://www.leopardtrail.co.za/ – teen die hange van die Langeberge op die R60 tussen Swellendam en Ashton (naby Bonnievale). Die plaas is sowat 180 km vanaf Bellville. Stapleiers: Freddie en Susan Pohl by 074 304 7678. Graad: Saterdag 2B (8 km), Sondag 2B (12 km), Maandag kort roete. Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir kampnaweek wat uit dagstappe bestaan. Bring eie tent, kamptoerusting, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Kampkoste: R540. Brandstofdonasie: R420 (180 km x 2 = 360 km) (vir voertuig met 2 betalende passiers OF reël onderling). Adminheffing R30 (lid) / R60 (besoeker). R70 permitkoste vir Saterdag se stap. (Opsioneel: 4×4 sundowner-rit teen die berg op teen R100 pp; begeleide ekskursie na waterval teen R50 pp. Besoek die oord se motormuseum teen R40 pp.)

Freddie en Susan sê: Ons basis vir drie aande is die Leopard Trail Gasteplaas se kampeerterrein. Geen elektrisiteit nie, maar volop boomskadu, grasperke, warm water, spoeltoilette en ander ablusie-geriewe. Saterdag: Ry na Van Loveren-wynplaas 23 km vanaf ons blyplek en stap die Bergroete (2B: 8 km, 470m klimhoogte). Heelwat oppe en affe op die sirkelroete maar beslis die moeite werd. Sondag: Roete op Leopard Trail plaas (2B, 12 km, stewige klimhoogte). Maandag: Waterval-roete of ‘n ander kort stap sodat ons teen 11:00 kan begin klaar maak om huis toe te ry.

ZEVENWACHT, KUILSRIVIER – SATERDAG 2 MEI 2026

Bespreek nou

Beginpunt: 08:00 by Zevenwacht – http://zevenwacht.co.za/map/Stapleiers: Arie en Arina van Eck by 084 626 3301. Graad: 2B (redelik; 10 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Stappermit R60. Brandstofdonasie R60 (afhangend van hoe ver jy moet ry). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Arie en Arina sê: Die roete loop deur die wingerde op die Zevenwacht-landgoed by Kuilsrivier en bied pragtige uitsigte oor Tafelberg, Valsbaai, Gordonsbaai en Tafelbaai. Ons omdraaipunt is ‘n klein lapa bo-op ‘n koppie. Die 10 km in die buitelug is net wat jy nodig het om uit jou gewone naweekpatroon te kom. Daar is ook die opsie van ʼn wynproe of koffie en croissants agterna.

PAARLBERG – SATERDAG 9 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 27 April

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Paarlberg-natuurreservaat by Meulwater. Staporganiseerder: Amanda Matthee by 0825703895. Stapleier: Beulagh Keulder. Graad: 2B (18 km; 585 m klimhoogte). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Beulagh sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

ALPHEN-ROETE, CONSTANTIA – SATERDAG 16 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 4 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Alphen Hotel, Constantia. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik gelyk), 14 km. Groepgrootte:16. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf) en bestaan uit ‘n aantal korter roetes wat saam die 14 km opmaak. Dit is ‘n boomryke roete wat heelwat skadu bied. Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors.

TAFELBERG: OVERSEER’S COTTAGE – MET DAGSTAPPE – VRYDAG 22 TOT SONDAG 24 MEI 2026

Volbespreek

Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag 22 Mei by Constantianek (presiese reëlings word nader aan die tyd getref): Stapleier:Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad:2B (redelik, 1 lang dagstap, 1 korter dagstap). Groepgrootte:16. Inpak: Soos vir ‘n oornagstap met ‘n groot rugsak om by die oornaghut uit te kom. Pak ook ‘n dagsakkie in vir die twee dagstappe op die berg. Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige soort weer. Die Overseer’s Cottage het beddens met beddegoed en handdoeke, kombuis, storte, ens. Bring flitsligte en lampies. Ons moet charcoal tussen 16 van ons verdeel vir die twee aande se braai. Koste: Permit R862 pp vir 2 nagte (aanpassing vir 2026-tariewe moet nog bykom). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R20 (lid) / R40 (besoeker).

Werner sê: Julle weet daardie kliphuis op Tafelberg se agterste tafel waar ons altyd verbyloop (by die kraan waar ons altyd op die muurtjie sit) op pad om iewers op die berg te gaan stap? Ons gaan twee aande hier bly en dan dagstappe op die berg doen. Ons gaan dus luuks bly en lekker stap. En laatmiddag, wanneer al die dagstappers van die berg af is, het ons die hele berg vir onsself. #Wêreldvrede. Die hut het beddens en beddegoed, en ‘n kombuis met breekware, ens. Geen elektrisiteit, maar daar is ‘n gasstoof, -yskas en -geysers. Ons kan vanaf 14:00 die Vrydagmiddag inklok. Die plan is om Vrydagmiddag vanaf Constantianek met die trappiespad op te stap en om Saterdag ‘n goeie dagstap te doen. Ons kan Sondag ‘n vroegoggend stap doen (ons moet 10:00 uit wees) voor ons weer terugstap met die trappiespad na Constantianek. Ons gaan reël om Vrydag ons voertuie iewers veilig te parkeer en dan ‘n shuttle tot by Constantianek te neem. Maak nie saak wat die weer maak nie, ons gaan die meeste van hierdie fantastiese geleentheid maak!

KIRSTENBOSCH SILVERTREE-ROETE – SATERDAG 30 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 18 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Kirstenbosch se Rycroft-hek (Hek 3). Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 453 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Toegang by Kirstenbosch R100. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Ons kom om 08:00 by die Rycroft-hek (Hek 3) bymekaar. Daar is parkeerplek aan die linkerkant van die pad – sien kaart hier: https://www.sanbi.org/wp-content/uploads/2018/11/Kirstenbosch-Garden-Map-2018-W.pdf. Die Silvertree-roete kombineer die mooiste van Kirstenbosch met ‘n redelike klim tot op die 300-meter kontoerpad en dan ‘n goeie afdraand tot weer in Kirstenbosch – ‘n goeie 11 km se stap. Ons eet middagete by die “scree belt” (strook klippe), wat fantastiese uitsigte oor die Skiereiland bied. Sien: https://www.sanbi.org/gardens/kirstenboch/safety-on-the-mountain/nursery-ravine/silvertree-trail/. Ons stap via die Boomslang-paadjie terug na ons motors. Die Fynbos Kirstenbosch Tea Room is ‘n opsie vir koffie agterna.

KORINGBERG-DAGSTAP – SATERDAG 6 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 25 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Koringberg. Stapleiers: Magda Kritzinger en Esther Warnich. Graad: 2A (stapafstand 14 km; klimhoogte sowat 300 m). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R200 (120 km x 2) (vir motor met 3 betalende passasiers / of reël self onderling). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Magda en Esther sê: ‘n Baie mooi dagstap deur Koringberg se koppies. Daar is ‘n paar stewige (maar geleidelike) bulte, maar die blomme en die uitsigte maak dit die moeite werd. Koringberg se gasvryheid op sy beste. Ons kan ook inloer by die Desert Rose-padstap – https://www.desertrosefarmstall.co.za/.

DURBANVILLE-HEUWELS – SATERDAG 13 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 1 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die Doordekraaldam in Angelierstraat (naby Majik Forest). Stapleiers:Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2A (Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 300 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons stap deur die groen strook in Doordekraal, Bellville – onder meer deur die Majic Forest met sy netwerk van roetes. Daar is paar stewige maar geleidelike bulte wat die uitsigte oor die Bolandse berg en omgewing die moeite werd maak. ‘n Goeie stap om uit te kom in die natuur sonder om ver te ry of heeldag uit te bly.

TAFELBERG: PLATTEKLIPKLOOF – SATERDAG 20 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Woensdag 17 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by houthuisie by stapbeginpunt op Tafelbergpad. Stapleier: Abrie Marais by 082 578 3046. Graad: 2B (5 km; 650 m klimhoogte): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Abrie sê: Dit is een van daardie roetes wat hoër voel as wat dit lank is. Maar as jy bestendig stap, sal jy bo uitkom. Die idee van warm koffie op die berg by die kabelstasie se restaurant is ook aanloklik. Die uitsigte vanaf Tafelberg se voorste tafel en vanaf die boonste rotsagtige deel van Platteklipkloof bly prentjiemooi.

STAPVERSLAE

Majik Forest (lang roete) – 21 Februarie 2026

Altesaam 21 mense (na ‘n paar kansellasies) het Saterdagoggend om 07:00 by die Majik Forest winkelsentrum bymekaar gekom vir ‘n vroegoggend-stap voor die beloofde 33 grade Celsius op ons neerdaal. Ons begin met die Majik Forest “sirkelroete” en stap verby die Renosterveld-tuin en die gedenkbome en geniet die skaduwee op die deel oorkant die riviertjie. Aan die einde van die sirkelroete draai ons regs en kom uit op ‘n jeeppad uit wat bult-op loop tot by ‘n baken op Koppie 1. Daarna volg ‘n entjie gelykpad tot by die volgende stewige bult wat ons na Koppie 2 neem – ons “brekfis-koppie”. Hier het ons onder die bome gesit en iets geëet, met mooi uitsigte oor wynplase soos Maastricht en Nitida en die Durbanville-omgewing. Daarna was dit amper heel pad afdraand “al langs die drade” en verby die kampie met die springbokkies en dansende volstruise tot terug by ons motors. Baie van ons het nie geweet van hierdie langer Majic Forest wat oor die koppies loop en die roete die moeite werd maak nie. Baie dankie aan Estelle Zietsman vir die recce en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 352 m.

Hermanus-kuspad – Saterdag 28 Februarie 2026

Ons was 11 mense wat Saterdagoggend 08:00 by die Rock-restaurant by Hermanus se Nuwe Hawe bymekaar gekom het. Ons los ‘n paar motors hier en ry almal saam in die ander voertuie na Grotto-strand waar ons begin stap. Die weer is mooi ten spyte van gerugte van sterk wind en reën later die dag. Die melkhoutbome op die eerste deel sorg vir baie foto-stoppe. Toe ons weer in die oopte kom, stop vir iets te ete by bankies met ‘n pragtige uitsig oor Walkerbaai. Soms is ons hoog bo die branders en ander kere onder by die wonderlikste getypoele of strandjies. In die verlede is ‘n deel van die roete langs die hoofpad herlei omdat die Poole-baai gedeelte te rotsagtig is. Nou loop die hele pad kuslangs danksy die nuwe Poole-baai paadjie (amper 1 km) met sy bruggies en loopvlakke wat op pilare gestut is. (The Poole’s Bay link of the Hermanus Cliff Path has been awarded gold at the SA Institute of Civil Engineering (SAICE) annual awards … noting the dedication of the team … to overcome challenges posed by wave action. This award is a testament to the community’s commitment to enhancing local infrastructure.) By Poole-baai se getypoel het twee van ons geswem (terwyl die res spyt was hulle het nie swemklere gebring nie). Hierna stap ons tot by die Ou Hawe waar ons ‘n uur uitsit vir koffie drink, roomys eet, by die winkeltjies rondsnuffel en/of na die see staar. Toe pak ons die laaste 3 km tot by die Nuwe Hawe aan. Hierdie deel is ook nuut. Daar is interessante beeldhouwerke van brons soos mens met die paadjie aanstap – ‘n goeie idee omdat dit kuns vir meer mense toeganklik maak. By die Nuwe Hawe word die bestuurders van die motors teruggeneem Grotto-strand toe sodat hulle hul voertuie kon gaan haal. Toe gaan eet ons lekker vis en tjips by die Quayside Cabin voor ons groet. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Arie en Arina van Eck vir die “sweeper”-dienste. Dit is ‘n stap wat ons elke jaar kan herhaal. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 151 m.

Meerendal-stap – 7 Maart 2026

Op ’n koelerige Saterdagoggend, het 11 stappers om 07:00, by die beginpunt by Meerendal bymekaargekom. Nadat die nodige gedoen is, het ons met ’n koue windjie in ons gesigte, begin stap.  Die pad het ons rondom ’n paar blokke wingerde gelei en daarna om ’n koppie, begin kronkel. Ons het pragtige uitsigte van Tafelberg, Tafelbaai en Blouberg strand geniet. In die voorgrond het wingerde die uitsigte volmaak afgerond. Na 4.5 km het ons die bree weg verlaat om teen Dorstkoppie uit te stap. Bo-op die koppie en ietwat uitasem het ons in die koel windjie ons lekker warm koppie koffie geniet. Na ons binneste warm was het ons op dieselfde paadjie teen die koppie afgestap. Die breë pad het ons weer rondom ‘n paar blokke wingerd geneem, voordat ons weer by die begin aangekom het. Almal was dit eens dat dit n heerlike stap was. Dit het vir ons elkeeen van ons, goeie oefening gebied en die uitsigte het alles die moeite werd gemaak. Baie dankie aan Arie en Arina van Eck vir die recce voor die tyd en die stapleiding. Dit is ‘n lekker “oefenroete” hier op ons drumpel wat ons kan herhaal. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 441 m.

Jonkershoek: Yellowwood en Twin Peak Kontoer – 21 Maart 2026

Nege van ons kom lekker vroeg by die hek van Jonkershoek bymekaar. Ons handel die permitte en admin af en begin te stap. Sommer dadelik begin die gelydelike klim op in die kloof op die Yellowwood-roete. Toe ons amper bo is, stop ons in ‘n rivierloop vir ‘n koffie. Ons klim die laaste bietjie tot op die Twin Peak kontoer. Hiervandaan is dit ‘n gemaklike en gelyke roete tot ons weer by die jeeptrack aansluit. Hier draai ons links en mik vir die Langrivierkloof. Ons stap verby die helikopterlandingsplek tot ons in die kloof aankom. Hier sit ons onder die bome in die skadu, langs die Landrivier. Na ‘n lekker rus vat ons die pad terug na die motors. ‘n Lekker maklike stap met die mooiste uitsigte. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 16 km. Klimhoogte: 709 m.

Luiperd-kamerastap – 21 Maart 2026

Ons poging om 07:00 te begin stap word in die wiele gery deur ‘n GPS-misverstand maar ons kom darem om 07:29 aan die gang. Ons vorder goed en bereik die kamera-ligging twee uur later. Steph monteer en stel die nuwe kameras in terwyl Org en Mariana die gras en bossies snoei. Ons vertrek weer om 10:15 en bereik die motors om 12:40. Genadiglik was dit nog nie ondraaglik warm nie. Ons stop agterna vir iets te ete en te drinke by die Ou Looiery / Tannery in Wellington – die ou leerlooiery is in ‘n kompleks van eetplekke en winkeltjies omskep. Ons is baie nuuskierig om te sien wat die nuwe kameras gaan vasvang. Baie dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 m.

Gantouw-ossewaroete – 11 April 2026

Altesaam 19 van ons plus 1 “accidental tourist” (Pieter Lombaard van Natal, wat voëls kom kyk het maar toe by ons aangesluit het) het die Saterdagoggend 07:30 voor die ingang van die Steenbrasrivierdam op Sir Lowryspas bymekaar gekom. (Die afdraai is na regs nes jy oor die hoogste punt van die pas is, daar waar die dubbelbaanpad in een baan verander. Daar is sekuriteit by die ingang na die dam.) Ons het vinnig en versigtig oor die pad gehardloop en toe die paadjie oor die spoorlyn geneem en met die “teerpad” (wat later grondpad word) gestap tot ons links afgedraai het en opgeklim het na die Gantouwpas se nekkie. Op die nekkie het ons die paadjie links na die twee kanonne geneem en daar koffie en broodjies geniet. Dit was bitter koud, maar die mistigheid het vir mooi foto’s gesorg. Terug by die nekkie volg ons die afdraand met die gleuwe wat die ossewaens se wiele in die 17de eeu in die rotse ingekerf het want dit was vroeër die hoofroete tussen die Kaap en die Overberg. Hierdie deel van die roete is nederigmakend want dit gee mens ‘n idee van die absolute deursettingsvermoë van die mense wat hier met spanne osse en swaar waens deur is. Die vroegste aangetekende tog deur die pas was in 1662 deur Hendrik Lacus, ‘n landmeter van die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy. Teen 1821 is meer as 4 500 ossewaens elke jaar deur die Gantouwpas (Hottentots-Holland Kloof). Die Khoi-veewagters het na hierdie roete as Gantouw (“eland”) verwys. Die ossewaspore in die sandsteen is in 1958 tot Nasionale Monument verklaar. Onder by die treinspoor draai ons links en volg die spoorlyn tot by die 100 m lange tonnel wat onder die N2 deur loop (die middelste deel is pikdonker omdat die tonnel om ‘n draai loop). So 200 m na die tonnel kry ons weer die paadjie na regs wat ons terugneem na ons motors. Ons sê vir mekaar dat elke keer as ons opkyk na hierdie nekkie wanneer ons oor Sir Lowryspas ry, ons anders sal kyk na die mense wat hier met osse en waens oor is om die Kaap van vars groente en vrugte te voorsien. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 7 km. Klimhoogte: 450 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

Individuele lidmaatskap is R110 per persoon vir 2026. Lidmaatskap per paar is R190 (hooflid en gade OF hooflid en 1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

I’ve noticed people who were athletes carry something different in how they approach hard things. Not because sport builds character exactly. But because they have a physical memory of being uncomfortable and continuing anyway. That memory is a resource. It’s why some people can push through things others can’t. – Scott D Clary

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand