NUUS EN STAPSAKE
Dagsê
- Stapnuus: Hierdie Saterdag (4 Julie) is ‘n pretdag – ons besoek die Museum of Illusions in Kaapstad. Kom met ‘n foon met ‘n vol battery want jy gaan baie foto’s neem. Kry meer inligting hieronder en bespreek voor Donderdag 2 Julie om 12:00 by Amanda Matthee by 082 570 3895. Sien ook ons fotografiewerkwinkel op 18 Julie. Die Leopard’s Trail in die Baviaanskloof (11-16 Sept) is volbespreek. Dan is ons ook besig om weer ‘n werkwinkel met Outdoor Warehouse te reël oor staptoerusting – wat alles tans op die mark is, waarna jy moet kyk as jy skoene, ‘n rugsak of slaapsak wil koop, ens. Ons hou julle ingelig.
- Weet jy van nuwe roetes? As jy afkom op nuwe roetes wat ons moontlik in volgende jaar se stapprogram kan sit, stuur dit asseblief aan vir Wynand Krause by Wynand@nauticalbluestar.co.za. Ons begin binnekort met ons beplanning vir volgende jaar se program.
- Hoekom stap ons? Why do we spend money just to sleep on the ground? If you tell a non-hiker that you paid money to sleep on the ground … they look at you like you’ve lost your mind. No bed. No air conditioning. No room service. Just a thin tent, a sleeping bag, and a patch of dirt somewhere in the mountains. And yet … we keep doing it. We buy the gear. We pack the bags. We hike for hours just to set up a tiny shelter in the middle of nowhere. From the outside, it doesn’t make sense. But anyone who has spent a night in the mountains understands. Because camping isn’t really about the tent. It’s about what disappears when you’re out there. No traffic. No deadlines. No constant notifications pulling at your attention. Just firelight. Wind in the trees. And conversations that somehow feel more honest under the stars. Food tastes better. Laughter feels louder. Even silence feels comfortable. For a few hours, life becomes very simple … And in that simplicity, something resets. So yes… technically we’re paying money to sleep on the ground. But what we’re really buying is a small break from the noise of modern life. A night where the world slows down. And honestly? That might be the most valuable luxury there is. Newhman – https://www.facebook.com/newhmanco
- Die besoedeling van ons seewater: Valsbaai – wat strek vanaf die Kaapse Skiereiland in die weste, die Kaapse Vlakte in die noorde en die Bolandse berge in die ooste – is bekend vir sy biodiversiteit, maar die seewater en die sand daaronder word al meer besoedel weens verstedeliking en hawe-bedrywighede. Navorsers van die Universiteit van Kaapstad het tussen April en Junie vanjaar monsters by 19 stasies langs die kus geneem en bevind dat die water en sediment ‘n kommerwekkende mengsel van pynmedikasie, onkruiddoders en metale bevat. Marine Pollution Bulletin, 231, a119940, https://doi.org/10.1016/j.marpolbul.2026.119940.
- Stapverslae: Sien stapverslae vir Helderberg-natuurreservaat (Woody’s Walk), Kirstenbosch Silvertree-roete, Koringberg, Durbanville Heuwels en Zevenwachthieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR
KAAPSTAD: MUSEUM OF ILLUSIONS – SATERDAG 4 JULIE 2026
Bespreek voor 12:00 op Donderdag 2 Julie
Beginpunt- en tyd: 10:00 by Kloofstraat 10, Kaapstad. Organiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1A (stap deur die museum). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Kaartjies vir volwassenes: R250 pp. Kaartjies vir volwassenes 60+ en vir kinders tot 12 jaar: R200 pp. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: Het jy as kind ‘n kaleidoskoop gehad? By die Museum of Illusions word jy die “kraletjie” in die kaleidoskoop. “Museum of Illusions Cape Town is a unique and exciting museum dedicated to providing visitors with a fun, interactive and educational experience that challenges perception and inspires creativity. You will enjoy more than 60 visual and educational exhibits featuring holograms, stereograms, optical illusions, and immersive rooms that are designed to tease the senses and trick the mind.” Dit is ‘n plek wat met jou kop smokkel! Groot pret as jy in ‘n groep gaan! Sien ook https://moicapetown.co.za/.
ALPHEN-ROETE, CONSTANTIA – SATERDAG 11 JULIE 2026
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 07:15 vir 07:30 by Alphen Hotel, Constantia (sodat ons parkering kan kry voor die Parkrunners begin). Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik gelyk), 14 km. Groepgrootte:16. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Kobus en Edna sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf) en bestaan uit ‘n aantal korter roetes wat saam die 14 km opmaak. Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors. Dit is ‘n pragtige boomryke roete wat onder meer deur kolle woudgebied loop – kom stap saam!
WINTERFUNKSIE: FOTOGRAFIE-WERKWINKEL – SATERDAG 18 JULIE 2026 (09:30 – 12:00)
Bespreek vanaf Maandag 6 Julie
Plek: Abrie en Ina se huis in Brackenfell. Tyd: Begin stiptelik 09:30. Organiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Op die agenda: Werkwinkel van sowat 2 uur oor selfoon-fotografie, aangebied deur professionele fotograaf Hanna Jacobs. Groepgrootte: 15. Vir saambring: Selfoon / kamera, notaboek en pen. Koste: R50 per kop. Koffie, tee en ligte verversings ingesluit.
Amanda sê: Omtrent almal van ons neem stapfoto’s met ons selfone. Ons kom op ongelooflike mooi plekke en sien landskappe wat bitter min ander mense sien. Dit is die foto’s wat ons met ander mense deel en wat die onthou-jy-nogs van ons lewe word. Maar dit wat ons sien kry ons nie altyd op ons kamera vasgevang nie. Wat moet ons doen om beter foto’s te neem? Kom woon ons werkwinel oor selfoon-fotografie by, aangebied deur professionele fotograaf Hanna Jacobs. Hierdie werkwinkel sal jou wys hoe om die komposisie van jou foto’s te verbeter, foto’s te redigeer, en beter foto’s van mense, plantegroei, uitsigte en landskappe te neem. Dit sluit talle wenke in oor hoe om jou selfoon se kamera beter te benut. Sien ook https://hannajacobs.co.za/courses/.
TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 25 JULIE 2026
Bespreek vanaf Maandag 13 Julie
Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 4C (veeleisend, 15 km met 1130 m klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Kloofnek se parkeerarea. Ons stap met die Pipetrack langs tot ons die afdraai kry na die Diagonal roete. Ons klim met Diagonal op totdat ons die minder gebruikte paadjie van Porcupine Ravine teekom. Ons draai dan hier af en klim met die redelike styl roete tot bo-op die berg. As ons bo-op die berg is mik ons vir Maclears Baken voordat ons dan terugdraai na Platteklip Gorge. Ons volg dan die kontoerpad tot by Kloof Corner en dan terug na die parkeerarea.
BAINSKLOOF-STAP: OPSTAP NA LUIPERDKAMERA – SATERDAG 1 AUGUSTUS 2026
Bespreek vanaf Maandag 20 Julie
Beginpunt- en tyd: 07:30 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Geen permitkoste nie. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Steph sê: Ons het onlangs twee nuwe luiperdkameras in Bainskloof geïnstalleer en is baie nuuskierig oor wat alles op die kameras vasgevang is. Kom stap saam en sien self wat alles afgeneem is. Al die foto’s gaan aan die Kaapse Luiperdtrust wat die inligting vir navorsing oor luiperds in die Kaapse berge gebruik. Ons diens die kameras elke paar maande – ons doen dit sedert 2015. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en wat hul kondisie is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.
KAMPNAWEEK OP LEOPARD TRAIL GASTEPLAAS – VRYDAG 7 TOT MAANDAG 10 AUGUSTUS 2026
Ons gaan moontlik hierdie herskeduleer – ons gee binnekort die nuwe plan deur.
JONKERSHOEK: JEEPPAD-SIRKELROETE – SATERDAG 15 AUGUSTUS 2026
Bespreek vanaf Maandag 3 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 by hek van natuurreservaat. Stapleiers: Gerrit en Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 1A (11 km, klimhoogte 156 m): Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Permit R70. Brandstofdonasie R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Gerrit en Mariette sê: Ons parkeer by die ingang van die Jonkershoek-natuurreservaat en stap antikloksgewys al met die jeeppad langs tot weer by die hek. Ons halfpadmerk is die Witbrug – bring lekker koffie en broodjies. Dit is ‘n maklike en toeganklike roete omring met pragtige berge. ‘n Lekker dagstap en goeie wegbreek van jou naweekroetine.
CATS SE PAD, MONT ROCHELLE, FRANSCHHOEK – SATERDAG 22 AUGUSTUS 2026
Bespreek vanaf Maandag 10 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 by hek van natuurreservaat. Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Graad: 2B (11 km, 450 km klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Permit R70. Brandstofdonasie R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner en Brenda sê: Die roete begin by in Reservoir-straat in Franschhoek en volg deels ‘n wapad van 1819. Die roete het ‘n lekker klim wat vir mooi uitsigte sorg. Ons eindig by die historiese JanJoubertsgat Brug (in 1825 gebou) in die Franschhoekpas. Sien ook https://montrochellehiking.co.za/2020/11/11/cats-path-trail/.
TAFELBERG: OP MET 3 FIRS RAVINE EN AF VIA GROOTKOP EN OUDEKRAAL RAVINE – SATERDAG 29 AUGUSTUS 2026
Bespreek vanaf Maandag 17 Augustus
Beginpunt- en tyd: 07:30 by die Theresa Avenue jeep track in Bakoven – sien https://goo.gl/maps/jsiotDDBhj12. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 3C (veeleisend; 12 km, 1000 m klim). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Ons begin in Theresaweg en stap met die Pipetrack langs totdat ons by 3 Firs Ravine se afdraai kom. Dan stap ons met hierdie steil maar baie mooi ravyn op tot bo-op Tafelberg se agterste tafel. ‘n Kop vir hoogtes is hier belangrik. Ons stap ‘n ent op die agterste tafel aan tot by Grootkop, waar ons dan tot op die hoogste punt van die 12 Apostels klim. Ons sak dan weer af tot op die Pipe Track via Oudekraal Ravine en volg dan die roete terug tot by die motors. ‘n Baie mooi en moeite-werd dagstap.
TAFELBERG: TWAALF APOSTELS – SATERDAG 5 SEPTEMBER 2026
Bespreek vanaf Maandag 24 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Oudekraalweg 37, Kampsbaai. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (redelik), 14 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste:Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste nie.
Kobus en Edna sê: Hierdie sirkelroete bied ongelooflike mooi uitsigte oor die Atlantiese kus bokant Oudekraalbaai en Cosy-baai. Die roete loop naby die Twaalf Apostels Hotel verby, deur pragtige fynbos en kolle inheemse woud, en verby reusagtige granietrotse met uitsigte oor Llundudno en Klein Leeukop. Dit is ‘n onthoubare mooi stap.
STAPVERSLAE
Helderberg-natuurreservaat: Woody’s Walk – 23 Mei 2026
Met die Tafelberg naweek wat weer eens in die slag gebly het weens weersomstandighede, besluit 9 van ons om bietjie by Helderbergnattuurreservaat die Woodies Walk roete te gaan stap. Ons kom by die parkeerarea bymekaar en spring weg, al teen die kant van die berg op. Ons vat ‘n bietjie van ‘n ander paadjie en sluit uiteindelik aan by die nuwe Waboom-roete. Hierdie nuwe roete tot in Disakloof maak dat mens ‘n groot deel van die jeeptrack misstap, en is ons nie bly nie. Na ‘n lekker rus in Disakloof, klim ons verder op in die kloof tot ons links uitdraai op Woodies Walk se kontoer. Hier is nog so bietjie op en op voordat ons uiteindelik by die draaipunt kom en begin sak terug. Die uitsigte vanaf die roete maak egter al die gesukkel tot daar bo die moeite werd. Ons vat nog ‘n onderdentlike breek en toe is dit voorwaarts tot ons weer terug is by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 673 m.
Kirstenbosch Silvertree-roete – 30 Mei 2026
Nege van ons kom die Saterdagoggend om 08:00 by Kirstenbosch se Rycroft-hek (Hek 3) bymekaar om die Silvertree-roete te stap. Die roete kombineer die mooiste van Kirstenbosch met skaduryke kontoerpad aan die oostekant van Tafelberg (wat dit ook geskik maak vir die somer). Ons loop links om die besproeiingsdam en volg dan die trappies tot op die kontoerpad. Ons loop verby mooi inhamme met watervalle, mos-bedekte rotswande en die afdraaipaadjies na Nursery Ravine en Skeleton Gorge. Dan volg ‘n stewige opdraand (400 trappies) tot op die 300-meter kontoerpad. Ons stop vir iets te ete by die “scree belt” (strook klippe), wat fantastiese uitsigte oor die Skiereiland bied. Dit is ons hoogste punt vir die dag. ‘n Houtkapper kom sit in een van die bome vlak by ons en gee ‘n hele houtkap-vertoning. Ons stap nog ‘n kort entjie op die hoër kontoerpad en draai dan regs af en volg ‘n lang kuite-strekker afdraand tot ons weer regs draai en later ‘n grondpad volg tot ons uiteindelik links afdraai tot terug in Kirstenbosch. Ons werk ons pad verby Lady Anne Barnard se bad tot by die Boomslang-roete en dan weer tot by die Rycroft-hek. Party van ons ry om tot by Hek 2 vir koffie by die Tea Room terwyl ander deur die tuin soontoe stap. Dit is ‘n mooi en moeite-werd stap wat goeie oefening bied. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 471 m.
Koringberg – 6 Junie 2026
Altesaam 13 stappers het op ‘n baie koue Saterdagoggend, maar met die mooiste sonsopkoms, die staproete begin om bo-op Koringberg in die Swartland te kan staan. Ons het flink die pad gevat na Klein-Swartberg en vandaar die klim begin. Die dag het in ‘n perfekte windstil en helder sonskyndag ontwikkel en ons kon baie ver sien. Kobus, die eienaar van die plaas, het saamgestap en interessante inligting oor die omgewing gedeel. Dit is die laaste oorblywende deel van die rhenosterveld, en tot dusver darem nog ongeskonde. Navorsers het aan die suidekant ‘n nuwe spesie skoenlapper ontdek, en bo het hulle ‘n blommetjie gekry wat almal al gedink het uitgeroei is. Amper bo kon ons Tafelberg al baie duidelik sien, asook die see in die verte en verskeie dorpe. Bo het ons ‘n blaaskans geneem. Onder ons het die dorpie Koringberg gelê, met koringvariëteite as straatname, en met al die groen koringlande rondom. In die verte kon ons verskeie bergreekse sien, met Kobus wat vir ons die name daarvan uitgelig het. Ons het nog ‘n paar kilometer geklim, en halfpad vir ‘n rukkie by die lapa vertoef om versterkings vir die res van die stap in te neem. Ons het met ‘n klipperige paadjie begin afdaal na ‘n nekkie toe, en toe ‘n steil paadjie af tot heel onder geneem, waar ons by Albert se vakansiehuisie, Onbekend, ingeloer het. Daarna het ons so amper ‘n kilometer al langs die koring (en nie in die koring nie) geloop om by ons volgende ruspunt uit te kom. Ons het heerlik op die groen gras gesit en tee gedrink. Hierna het ons die laaste 5 km in lieflike weer gestap na waar ons motors geparkeer is. Langs die pad het Kobus het ons vertel van die rooikatte wat baie pla omdat hul habitat, die berg-area, teenaan die plaas is. As die rooikatte egter geleer het om tarentale en ander voëls en klein diertjies as hoofvoedselbron te vang, vang hulle nie die lammers nie. ‘n Groot dankie aan Esther Warnicht en Magda Kritzinger wat die roete vooraf gerecce het en alles van die dag vir ons moontlik gemaak het. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 462 m.
Durbanville Heuwels – 13 Junie 2026
‘n Groep van 11 stapmaats ontmoet 07:30 by Sportman’s Warehouse in Bellville. Ons verwelkom 4 nuwe stappers en stel onsself voor aanmekaar. Die stap begin met 83 trappies op pad na die Tygerberg Waterfront. Hier swenk ons regs en stap verby die meer en restaurante op pad na die veldpaadjie verby die ou tronk terrasse. Doordekraaldam is propvol water en lyk pragtig in die oggendlig. Ons kruis Jip de Jager-rylaan en stap deur Majikwoud 1 verby die nuwe waterkanale. Aan die bopunt swaai ons regs en stap ‘n lekker bult uit tot dat ons Majikwoud 2 bereik. Nog ‘n stewige lang bult bring ons by die draaipunt en ons span uit vir ‘n lekker breek en verfrissings. Na ‘n lekker rustige kuier pak ons die terugtog aan. Die uitsigte oor die Bolandse berge is pragtig, asook die varkblomme wat begin kop uitsteek. Ons stap deur die bos-gedeelte van Majikwoud en bereik weer Doordekraaldam en Tygerberg Waterfront. Teen ongeveer 11:30 is ons veilig terug by die motors. ‘n Groot dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stafafstand: 15 km. Klimhoogte: 100 m.
Zevenwacht-stap – 20 Junie 2026
’n Groep van 5 stappers het op ’n heerlike wintersoggend by Zevenwacht ontmoet en om 08:00 begin stap. Ons was min in getal, maar dit het geen afbreuk gedoen aan ons geesdrif en genot van die stap nie. Die lug was mooi skoon en ons het pragtige uitsigte gehad op Tafelberg, Tafelbaai en Valsbaai tot by Rooiels se bekende baken. Die Helderberg was prentjiemooi en so ook die Swartland. Na ‘n lekker warm koffie en eetdingetjie by Mooiplaas se Lapa het ons verder gestap. Die keer meer heuwel af as op en afgesluit met ‘n heerlike warm drankie by die proelokaal. Almal was dit eens, dit was meer as die moeite werd en ‘n sonde om op so ‘n wonderlike dag nie buite in die natuur te stap nie. Baie dankie aan Arie en Arina van Eck vir die reëlings en stapleiding – en ook die variasie in die roete. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 354 m.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2026
Individuele lidmaatskap is R110 per persoon vir 2026. Lidmaatskap per paar is R190 (hooflid en gade OF hooflid en 1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
“Don’t let anyone talk you out of that 30 minute hike. Those 2 hours could be the most exciting 5 hours of your life.” – Adventure Family Vlog & UtahGuide.com.
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand
