~ 19 Mei 2026: Kom stap Saterdag by Helderberg | Volgende sarsie stappe

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapnuus: Dit is die tyd van die jaar wat van die mooiste stapdae het – sjampanje-mooi dae sonder enige wind – net om die volgende dag weer woes te reën. Dit beteken ons moet noodgedwonge stappe afstel en/of skuif in geval van ongunstige weer. Dit is altyd ‘n moeilike besluit vir die stapleiers en bestuur, maar veiligheid bly die belangrikste. Kamp-en-stapnaweek by Leopard Trail Gasteplaas tussen Swellendam en Ashton: Skuif na Vry 7 tot Maan 10 Augustus (daar is nog plek). Alphen-roete by Constantia: Skuif na Saterdag 11 Julie. Zevenwacht by Kuilsrivier: Ons kyk vir nuwe datum. Tafelberg Overseer’s Cottage: Deur Sanparke gekanselleer omdat die dienspad na die hut verspoel het. Die eerste oop bespreking is vir 25-27 April 2027. Sien volgende sarsie stappe hieronder.
  • Woody’s Walk by Helderberg hierdie Saterdag: Ons stap Saterdag 23 Mei die Woody’s Walk roete (11 km, 653 m klim) in die Helderberg-natuurreservaat by Somerset-Wes. Dit is ‘n baie mooi sirkelroete wat geleidelik oploop tot in Disakloof – ‘n kol inheemse woud. Hier stop ons vir koffie en broodjies voor ons verder opklim in die kloof tot op ‘n kontoerpad wat uiteindelik weer by die jeeppad terug aansluit. Mooi uitsigte oor die Strand en Somerset-Wes en die see. Bespreek nou by Werner Dalziel by 082 579 0968 en kom stap saam.
  • Redes waarom ons stap: Travel (and backpacking for that matter) temporarily removes social roles. At home, you are someone’s employee, partner, child, or parent. On the road, those labels weaken. You become just a person moving through space. Therapists note that this loss of identity pressure allows people to their real desires for the first time.
  • Tafelberg-kabelkarretjie se jaarlikse instandhouding: The Table Mountain Aerial Cableway in Cape Town is scheduled for its annual maintenance from Monday, 27 July to Sunday, 9 August 2026.
  • Weet jy van nuwe roetes? As jy afkom op nuwe roetes wat ons moontlik in volgende jaar se stapprogram kan sit, stuur dit asseblief aan vir Wynand Krause by Wynand@nauticalbluestar.co.za.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Ebb & Flow (Wildernis), Tygerberg-natuurreservaat en Paarlberg hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR

HELDERBERG-NATUURRESERVAAT (SOMERSET-WES): WOODY’S WALK – SATERDAG 23 MEI 2026

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Helderberg-natuurreservaat se parkeerarea (hek open al 07:30). Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (stapafstand 11 km; klimhoogte 653 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Toegang by Helderberg-natuurreservaat R30 pp (R20 vir pensioenarisse) + R20 per voertuig. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons kom om 08:00 by die parkeerarea by die besoekersentrum binne die reservaat bymekaar. Ons stap dan deur die tuin voordat ons die Waboomroete vat tot in Disakloof (geleidelike klim). Ons klim tot heel bo in die kloof voordat ons links uitdraai en met Woodies Walk verder stap. Ons stap dan al met die roete langs totdat ons begin afsak na die begin. Lekker stap met mooi uitsigte oor die Helderberg.

KIRSTENBOSCH SILVERTREE-ROETE – SATERDAG 30 MEI 2026

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Kirstenbosch se Rycroft-hek (Hek 3). Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 453 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Toegang by Kirstenbosch R100. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Ons kom om 08:00 by die Rycroft-hek (Hek 3) bymekaar. Daar is parkeerplek aan die linkerkant van die pad – sien kaart hier: https://www.sanbi.org/wp-content/uploads/2018/11/Kirstenbosch-Garden-Map-2018-W.pdf. Die Silvertree-roete kombineer die mooiste van Kirstenbosch met ‘n redelike klim tot op die 300-meter kontoerpad en dan ‘n goeie afdraand tot weer in Kirstenbosch – ‘n goeie 11 km se stap. Ons eet middagete by die “scree belt” (strook klippe), wat fantastiese uitsigte oor die Skiereiland bied. Sien: https://www.sanbi.org/gardens/kirstenboch/safety-on-the-mountain/nursery-ravine/silvertree-trail/. Ons stap via die Boomslang-paadjie terug na ons motors. Die Fynbos Kirstenbosch Tea Room is ‘n opsie vir koffie agterna.

KORINGBERG-DAGSTAP – SATERDAG 6 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 25 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Koringberg. Stapleiers: Magda Kritzinger en Esther Warnich. Besprekings: Esther Warnichby 072 369 3266. Graad: 2A (stapafstand 14 km; klimhoogte sowat 300 m). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R200 (120 km x 2) (vir motor met 3 betalende passasiers / of reël self onderling). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Magda en Esther sê: ‘n Baie mooi dagstap deur Koringberg se koppies. Die veld is tans grasgroen en daar is heelwat blommetjies. Daar is ‘n paar stewige maar geleidelike bulte, maar die blomme en die uitsigte maak dit die moeite werd. Koringberg se gasvryheid op sy beste. Ons kan ook inloer by die Desert Rose-padstap – https://www.desertrosefarmstall.co.za/.

DURBANVILLE-HEUWELS – SATERDAG 13 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 1 Junie

Beginpunt- en tyd:        08:00 by die Doordekraaldam in Angelierstraat (naby Majik Forest). Stapleiers:Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2A (Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 300 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons stap deur die groen strook in Doordekraal, Bellville – onder meer deur die Majic Forest met sy netwerk van roetes. Daar is paar stewige maar geleidelike bulte wat die uitsigte oor die Bolandse berg en omgewing die moeite werd maak. ‘n Goeie stap om uit te kom in die natuur sonder om ver te ry of heeldag uit te bly.

TAFELBERG: PLATTEKLIPKLOOF – SATERDAG 20 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Woensdag 17 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by houthuisie by stapbeginpunt op Tafelbergpad. Stapleier: Abrie Marais by 082 578 3046. Graad: 2B (5 km; 650 m klimhoogte): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Abrie sê: Dit is een van daardie roetes wat hoër voel as wat dit lank is. Maar as jy bestendig stap, sal jy bo uitkom. Die idee van warm koffie op die berg by die kabelstasie se restaurant is ook aanloklik. Die uitsigte vanaf Tafelberg se voorste tafel en vanaf die boonste rotsagtige deel van Platteklipkloof bly prentjiemooi.

SILWERMYN 1: CONSTANTIABERG – SATERDAG 27 JUNIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 15 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Silwermyn-Wes se parkeerterrein. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (12 km, 650 m+ klimhoogte, veeleisend). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons stap die roete anti-kloksgewys (linksom). Ons loop op na die Olifantsooggrot via Steenbergrif en dan al met die olifant se “ruggraat” langs tot bo-op Constantiaberg tot by die maste en radarstasie. Daarna neem ons die steil paadjie af en keer via die “Amfiteater-roete” met sy fantastiese uitsigte oor Silvermyn terug na ons motors.

KAAPSTAD: MUSEUM OF ILLUSIONS – SATERDAG 4 JULIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 22 Junie

Beginpunt- en tyd: 10:00 by Kloofstraat 10, Kaapstad. Organiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1A (stap deur die museum). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Kaartjies vir volwassenes: R250 pp. Kaartjies vir volwassenes 60+ en vir kinders tot 12 jaar: R200 pp. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Het jy as kind ‘n kaleidoskoop gehad? By die Museum of Illusions word jy die “kraletjie” in die kaleidoskopp. “Museum of Illusions Cape Town is a unique and exciting museum dedicated to providing visitors with a fun, interactive and educational experience that challenges perception and inspires creativity. You will enjoy more than 60 visual and educational exhibits featuring holograms, stereograms, optical illusions, and immersive rooms that are designed to tease the senses and trick the mind.” Dit is ‘n plek wat met jou kop smokkel! Groot pret as jy in ‘n groep gaan! Sien ook https://moicapetown.co.za/.

ALPHEN-ROETE, CONSTANTIA – SATERDAG 11 JULIE 2026

Bespreek vanaf Maandag 29 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Alphen Hotel, Constantia. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik gelyk), 14 km. Groepgrootte:16. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf) en bestaan uit ‘n aantal korter roetes wat saam die 14 km opmaak. Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors. Dit is ‘n pragtige boomryke roete wat onder meer deur kolle woudgebied loop – kom stap gerus saam.

KAMPNAWEEK OP LEOPARD TRAIL GASTEPLAAS – VRYDAG 7 TOT MAANDAG 10 AUGUSTUS 2026

Plek oop – bespreek by Amanda by 082 570 3895

Basis: Leopard Trail Gasteplaas – https://www.leopardtrail.co.za/ – teen die hange van die Langeberge op die R60 tussen Swellendam en Ashton (naby Bonnievale). Die plaas is sowat 180 km vanaf Bellville. Graad: Saterdag (twee opsies – maklike en moeilike roete), Sondag 2B (12 km), Maandag kort roete. Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir kampnaweek wat uit dagstappe bestaan. Bring eie tent, kamptoerusting, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Kampkoste: R540. Brandstofdonasie: R420 (180 km x 2 = 360 km) (vir voertuig met 2 betalende passiers OF reël onderling). Adminheffing R30 (lid) / R60 (besoeker). R70 permitkoste vir Saterdag se stap. (Opsioneel: 4×4 sundowner-rit teen die berg op teen R100 pp; begeleide ekskursie na waterval op die plaas teen R50 pp. Besoek die oord se motormuseum teen R40 pp. Besoek aan kaasfabriek.)

Freddie en Susan sê: Ons basis vir drie aande is die Leopard Trail Gasteplaas se kampeerterrein. Geen elektrisiteit nie, maar volop boomskadu, grasperke, warm water, spoeltoilette en ander ablusie-geriewe. Hout en ys te koop.

  • Saterdag: Ry na Van Loveren-wynplaas 23 km vanaf ons blyplek en stap die Bergroete (2B: 8 km, 470m klimhoogte). Heelwat oppe en affe op die sirkelroete maar beslis die moeite werd.
  • Sondag: Roete op Leopard Trail plaas (2B, 12 km, stewige klimhoogte).
  • Maandag: Waterval-roete of ‘n ander kort stap sodat ons teen 11:00 kan begin klaar maak om huis toe te ry.

STAPVERSLAE

Ebb & Flow stapnaweek – 27 Maart – 1 April 2026

Vrydag: Aankoms by Sanparke se Ebb & Flow-kampeerterrein in Wildernis, so 10 km oos van George. Kamp word opgeslaan en ons maak worsbroodjies vir aandete. Saterdag (12 km): Ons vertrek vroegoggend na Swartvlei en stap met laagwater na Gericke se Punt. Dit is ‘n pragtige roete langs die see met groot rotsformasies waarvan die grootste mens aan ‘n Egiptiese Sfinks laat dink. Van hier ry ons na Sedgefield se Wild Oats Community Farmers’ Market en kuier lekker tussen al die stalletjies met heerlike kos, klere, kuns, ens. Ons volgende besoekpunt is die Simbavati privaat natuurreservaat op die berg bokant Gericke se Punt. Die wildreservaat bied pragtige uitsigte oor die omliggende berge, vleie en oseaan. Ons stap tussen troppe wild wat rustig wei. Van hier ry ons na die Hippiegrotte naby die ou treinbrug in Wildernis. Ons stap met die ou treinspoor tot by die grotte. Hier verkyk ‘n mens jou aan al die snuisterye wat opgegaar is en die grotte totaal vul. Ons keer terug kamp toe en kuier verder om die kampvuur. Sondag (8 km): Vandag stap ons die Brown-hooded Kingfisher-roete. Pragtige bospaadjies lei ons geleidelik op tot by ‘n mooi waterval en swemgat. Ons kuier ‘n rukkie en stap terug tot by motors. Ons stop by vir kaaskoek en koffie by Hoekwil se Koekwil-koffieshoppie. Volgende op die program is die Woodville Grootboomroete. Hier vind ons ‘n pragtige Outeniqua geelhoutboom wat ouer as 800 jaar is. Daar is ook pragtige sampioene orals langs die bospaadjies. Op pad huis toe stop ons by die Map of Africa-uitkykpunt oorkant die valskermsweefstasie in Wildernis en neem foto’s van die vallei onder ons. Die rivier kronkel om die digbeboste landskap en lyk byna net soos die onderpunt van Afrika. Terug by die kamp ontspan almal ‘n bietjie en braai weer saam. Maandag (11.5 km): Vandag is daar geleentheid vir swem in die see. Ons stap vanaf ons kampterrein en geniet die kuier langs die water. Sommige swem en ander sit en gesels lekker. Hierna stap ons tot in Wildernis vir ‘n lekker roomys en koffie. Ons besoek ook die St Aidan’s Anglican Chapelry, pragtige klein kerkie wat in 2022 ‘n hele 100 oud was. Johan Snyman vertel vir ons die interessante geskiedenis van die kerkie. Ons gaan loer in by die gewilde Wildernis Hotel en keer dan terug kamp toe. Nou is dit tyd vir speletjies en spanne word ingedeel. Items: Malvalekker slaan, waterskep, woordbou, versamelname en die braaibroodjie-kompetisie. Ons sluit die dag weer af met ‘n braai. Dinsdag (10.5 km): Vandag stap ons sommer van die kamp af tot by die Half-collared Kingfisher roete. Ons volg die pragtige, koel bospaadjie tot by die Touwrivier waar ons in groepies van vyf met die pont die rivier oorsteek. Die roete het plek-plek geboude trappe om met die klim te help – ons bene kry dus lekker oefening. Ons bereik die pragtige waterval en geniet ons koffie en piekniekkos op die groot rotse onder die waterval. Hierna stap ons terug kamp toe en kuier vir oulaas heerlik om die vuur. Woensdag: Almal pak op, groet en vertrek na hul verskillende bestemmings. Baie dankie vir almal se samewerking – dit was heerlik! ‘n GROOT DANKIE aan Kobus en Edna Terblanche wat vooraf alles ge-recce het en wat ongelooflike baie moeite gedoen het om hierdie paar dae spesiaal te maak. Ons waardeer julle. Stapafstand: 42 km. Klimhoogte: 629 m.

Tygerberg-natuurreservaat – 25 April 2026

Ons het besluit om die Robertson-naweek (Leopard Trail Gasteplaas) uit te skuif na die langnaweek in Augustus as gevolg van reën – dit sou nie die moeite werd wees om so ver te ry net vir een mooi stapdag nie. Ons het toe besluit om die Saterdag Tygerberg-koppie te gaan stap, al is dit net vir oefening. Na ‘n paar kansellasies was ons net drie mense. Ons stap die Ukhetshe-roete kloksgewys, volg toe die Honey Badger tot by die Watsonia-roete, daarvandaan op na die mas en dan af met die dienspad tot terug by die hek – via ‘n stop by die koffietrokkie vir heerlike cappuccino’s. Ons het in mooi weer begin stap, maar toe ons onder kom, was dit bewolk soos die kouefront oor die Skiereiland inbeweeg het. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 300 m.

Paarlberg – 9 Mei 2026

Ons was altesaam 10 mense wat Saterdagoggend om 08:00 by Meulwater op Paarlberg bymekaar gekom het vir ‘n lekker dagstap net voor drie kouefronte die Kaap tref. Ons het vanaf die Meulwater-veldblomtuin op die Jan Phillips-pad in ‘n noordelike rigting begin stap. Ons draai toe links af by ‘n waterval en stap langs die waterval op tot by Oukraal. Oukraal was vroeër een van drie kampplekke waar mense tydens Kerstyd uitgekamp het. Dit is ook hier waar die Oukraalliedjie geskryf is. Ons stap toe al met die tweespoorpad langs in die rigting van Betheldam waar ons vir tee gestop het. Daarna stap ons via Krismiskamp na die paadjie tussen Gordon-rots en Bretagne-rots – die granietrotse is 50 miljoen jaar oud. Na die 371 trappies kom ons bo uit. ‘n Paar het tot bo by die baken geklim. Ons vat weer ‘n breek vir koffie en ‘n broodjie voor ons koers kies na Paarlrots met sy kanon. Daarna stap ons via die jeeppad terug na Meulwater. ‘n Groot dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding en interessante vertellinge oor Paarlberg se geskiedenis. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 509 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

Individuele lidmaatskap is R110 per persoon vir 2026. Lidmaatskap per paar is R190 (hooflid en gade OF hooflid en 1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“If I say I don’t have money and then you see me on a camping trip, don’t be surprised. Camping money and regular money are two different kinds of money.” – Camperville

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand