~ 16 Februarie 2026: Hier is die boekieprogram met al die “lusmaker”-roetebeskrywings

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Ons boekieprogram is hier! Net ‘n vinnige nuusbrief om ons boekieprogram vir julle te stuur. Dit bevat die storie van elke stap wat ons aanbied – van die “lusmaker”-roetebeskrywing tot by die moeilikheidsgraad en koste. Besprekings open om 07:00 op die besprekingsdag wat in die program aangedui word. Lekker beplan!
    Sanlam-Staptoerklub boekieprogram 2026
  • Dankie aan almal wat ons Algemene Jaarvergadering Saterdag by Kaapzicht bygewoon het: 2026 se bestuur bestaan uit Amanda Matthee, Steph du Toit, André Venter, Werner Dalziel en Wynand Krause. Die kernkomitee word ondersteun deur die Stapbeplanningskomitee van 17 lede en deur verskeie kleiner advieskomitees. Dankie vir jul vertroue in ons.
  • Geluk aan die langasems met hul kilometer-wapentjies: Kilometer-wapentjies is aan die volgende mense by die Algemene Jaarvergadering uitgedeel: Elza Geldenhuys (3004 km), Edna Terblanche (2061 km), Santie Kies (2017 km), Estelle Zietsman (2000 km), Gerna Hough (1080 km), en Sinmarie Pieterse (501 km). Ons sê baie geluk!
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Blouberg, die volmaanskap by Plaisir in Franschhoek, en die Seepunt-stap hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR

MAJIK FOREST, DURBANVILLE – SATERDAG 21 FEBRUARIE 2026

Enkele plekke oop

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Stapleier: Estelle Zietsman. Beginpunt- en tyd: 07:00 by Majik Forest. Graad: 1A (stapafstand 9 km, twee geleidelike bulte). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: sal afhang van waarvandaan jy ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Estelle : Ons parkeer aan die agterkant van die Spar-winkel by die Majik Forest-winkelsentrum en kom by die Majik Forest se “boonste hek” (naaste aan Spar) bymekaar. Ons neem die “breë pad” tot by die hek aan die Jip de Jager-kant van die reservaat, stap oor die riviertjie en dan deur die woud-gedeelte tot weer by die boonste hek. Hier neem ons ‘n jeeppad tot op ‘n koppie waar ons ons koffie drink en broodjies eet en die uitsigte geniet. Daarna stap ons weer terug tot by ons motors. Die Majik Forest-bewaringsgebied vorm deel van die Tygerberg-heuwels en is grootliks met renosterveld oortrek. Lekker vroegoggend-stap!

HERMANUS-KUSPAD – SATERDAG 28 FEBRUARIE 2026

Bespreek nou

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:00 byGrotto-strand, Hermanus. Graad: 1A (stapafstand sowat 15 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R190 (120 km x 2) (motor met 3 betalende passasiers OF reël self onderling). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda : ‘n Dag by Hermanus! Ons stap vanaf Grotto Beach se parkeerarea tot by die Nuwe Hawe en weer ‘n ent terug op die bekende Hermanus-rotspad (Hermanus Cliff Path Walk). Die paadjie is onlangs met 3 km verleng sodat jy vanaf die Ou Hawe (dit was in die verlede die eindpunt) tot by die Nuwe Hawe kan stap. Die roete vorm deel van die Fern Kloof-bewaringsgebied en bied fantastiese uitsigte oor Walkerbaai en die ruwe kusgebied. Ons loop verby plekke met name soos Lawaaiwater, Kammabaai, Tamatiebank en Platbank. Die roete het verskeie toekennings gewen, onder meer die SA Institution of Civil Engineering (SAICE) se Goue Toekenning vir die Poolebaai-brug. Daar is ook plek vir swem in die getypoele – bring gerus swemklere saam. Ons kan die markie by die Ou Hawe besoek en vis en chips by die Nuwe Hawe eet. Hermanus is ‘n entjie om te ry, maar hierdie rotspad is beslis die moeite werd.

MEERENDAL, DURBANVILLE – SATERDAG 7 MAART 2026

Bespreek vanaf Maandag 23 Februarie

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Meerendal. Stapleiers: Arie en Arina van Eck by 084 626 3301. Graad:

2A (10 km, klimhoogte 449 m): Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Permit: R40. Brandstofdonasie: sal afhang van waarvandaan jy ry. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Arie en Arina sê: ‘n Lekker stap wat goeie oefening bied in die heuwels buite Durbanville. Die Dorst-koppie bied ‘n stewige klim van so ‘n bietjie meer as 1 km. Die roete het baie mooi uitsigte oor die wingerde en omringende plase. Goed vir fiksheid opbou.

BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SATERDAG 14 MAART 2026

Bespreek vanaf Maandag 2 Maart

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Geen permitkoste nie. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur twee luiperdkameras te borg. Die kameras is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kameras elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en wat hul kondisie is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.

JONKERSHOEK: YELLOWWOOD EN TWIN PEAKS CONTOUR – SATERDAG 21 MAART 2026

Bespreek vanaf Maandag 9 Maart

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Jonkershoek-natuurreservaat se hek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (stapafstand 14 km, 700 m klim, geleidelik). Groepgrootte:16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Permit: R70 (geen Wildcards – dit is ‘n MTO-roete). Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons begin stap by Jonkershoek-natuurreservaat se hek en stap die eerste deel van die Yellowwood-roete voordat ons verder met die Twin Traverse-roete aanstap. Ons klim tot op die boonste kontoer en stap tot in ‘n kloof met ‘n waterval waar ons dan vir middagete stop. Langs die pad sal ons nog mooi klowe besoek. Baie mooi uitsigte oor die Jonkershoekvallei.

WILDERNIS-WEGBREEK (KAMP EN DAGSTAPPE) – VRYDAG 27 MAART TOT WOENSDAG 1 APRIL 2026

2 plekke oop – bespreek nou

Basis: Sanparke se Ebb & FlowKampeerterreinbyWildernis. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: verskeie dagstappe en aktiwiteite wat wissel van 1A tot 2B. Groepgrootte:

12. Inpak: 5 nagte se kamp, met dagstappe. (Al die etes is vir jou eie rekening. Ons het 6 staanplekke – 1 voertuig per staanplek toegelaat, anders is daar ekstra koste. Elke staanplek sorg vir sy eie braaihout.) Koste: Sowat R1300 pp vir die 5 nagte se kamp en aktiwiteits- of dagstappermitte.Plus Sanparke se bewaringsfooie van R305 (of gratis as jy Wildcard het). Brandstofdonasie: R1150 (940 km altesaam) (vir voertuig met 2 betalende passasiers; sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem; OF reël self onderling). Adminheffing R50 (lid) / R100 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Hierdie is jou kans om Wildernis en die Tuinroete behoorlik te verken:

  • Vrydag 27 Maart: Ry Wildernis toe en slaan kamp op. (Wildernis is 10 km oos van George op die N2.)
  • Saterdag 28 Maart: Vertrek 06:45 met motors na Sfinks-parkeerarea (40 km se ry heen en weer). Stap seelangs na Gericke se Punt en terug (4 km). Besoek die gewilde Wild Oats Community Farmers’ Market by Sedgefield waar ons ontbyt kan eet en beslis ‘n craffin (croissant en muffin gemeng) moet proe! Daarna volg ‘n stap (5 km) by die Simbavati Lodge met sy zebras, bokke, en uitsigte oor die see en lagoon, en die Hippiegrot (4 km). Res van die dag vry (moontlike opsies – eie koste – is kajak ry op die rivier, e-bikes, paragliding, die omgewing verken, oefen vir die “ysterman-kompetisie”). Ons braai en kuier die aand saam.
  • Sondag 29 Maart (permit of Wildcard): Stap die Brown King Fisher roete (6 km) en Grootboom-roete by Hoekwil (7 km) (ry-afstand van altesaam 12 km), en eet van die beste kaaskoek in die land. Braai en kuier die aand saam.
  • Maandag 30 Maart: Stap see toe, swem, stap sirkelroete deur Wildernis (geniet middagete) en dan terug tot by kamp (15 km). Middag: “Ysterman-kompetisie” met pryse. Aand: Potjiekos-kompetisie met pryse.
  • Dinsdag 31 Maart (permit of Wildcard): Die hoogtepunt van ons stappe – die Giant King Fisher (12 km) met ontbyt/piekniek by die waterval en swem. Res van die dag vry. Braai vir oulaas saam.
  • Woensdag 1 April: Pak op (ons moet teen 10:00 uit wees) en ry terug Kaap toe.

OSSEWA-ROETE, GANTOUWPAS, SIR LOWRYSPAS – SATERDAG 11 APRIL 2026

Bespreek vanaf Maandag 23 Maart

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Steenbrasdam se ingang op Sir Lowryspas. Stapleier:Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (10 km, 450 klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. FLITS om deur tonnel te stap. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie roete wat in Sir Lowryspas begin (net oor die nekkie, regoor die ingang na die Steenbrasrivierdam) en deur die Hottentots-Holland-natuurreservaat loop, neem jou tot op ‘n nekkie waar ‘n ou kanon is, en dan af met ‘n paadjie verby ossewaspore uit die 17de eeu. As ons onder by die treinspoor kom, draai ons links, stap deur ‘n baie donker treintonnel (bring sterk flitslig) van sowat 100 meter, en kry dan die paadjie wat ons weer terugneem na die motors toe. Die ossewaspore in die sandsteen is in 1958 tot Nasionale Monument verklaar. Dit is ongelooflik dat die ossewaens deur die bergpas kon kom. Die Khoi-veewagters het na hierdie roete as “Gantouw” verwys. Gantouw beteken eland. Die vroegste aangetekende tog deur die pas was in 1662 deur Hendrik Lacus, ‘n landmeter van die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy. Teen 1821 is meer as 4 500 ossewaens elke jaar deur die Gantouwpas (Hottentots-Holland Kloof). Mooi stap, interessante geskiedenis.

BERGRIVIERDAM – ENGELSE FORT, FRANSCHHOEK – SATERDAG 18 APRIL 2026

Bespreek vanaf Dinsdag 7 April

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Robertsvleipad se hek. Stapleier:Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend; 21 km). Groepgrootte: 16. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste:Permit: R80 kontant of Zapper / Snapscan. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons begin die stap op ‘n jeeppad met mooi uitsigte oor die Bergrivierdam. Ons moet dan ‘n rivier kruis waar ons partykeer skoene moet uittrek. Ons kan ook afdraai na die waterval toe vir ‘n lekker teebreek. Van hier af pak ons toe die roete aan na die Engelse fort. Ons klim op in die kloof en kruis nog ‘n paar stroompies en riviertjies. Ons klim die laaste deel in die kloof op tot by die nekkie waar ons ‘n welverdiende middagete by die Engelse fort sal geniet. Ons kan ook verder stap tot by die volgende uitkykpunt. Ons kom met dieselfde roete terug. ‘n Lekker vol dag se stap in die berge buite Franschhoek.

KAMPNAWEEK BY BONNIEVALE EN ROBERTSON – VRYDAGMIDDAG 24 TOT MAANDAG 27 APRIL 2026

Bespreek vanaf Maandag 19 Januarie

Basis: Leopard Trail Gasteplaas – https://www.leopardtrail.co.za/ – teen die hange van die Langeberge op die R60 tussen Swellendam en Ashton (naby Bonnievale). Die plaas is sowat 180 km vanaf Bellville. Stapleiers: Freddie en Susan Pohl by 074 304 7678. Graad: Saterdag 2B (8 km), Sondag 2B (12 km), Maandag kort roete. Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir kampnaweek wat uit dagstappe bestaan. Bring eie tent, kamptoerusting, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Kampkoste: R540. Brandstofdonasie: R420 (180 km x 2 = 360 km) (vir voertuig met 2 betalende passiers OF reël onderling). Adminheffing R30 (lid) / R60 (besoeker). R70 permitkoste vir Saterdag se stap. (Opsioneel: 4×4 sundowner-rit teen die berg op teen R100 pp; begeleide ekskursie na waterval op die plaas teen R50 pp. Ens.)

Freddie en Susan sê: Ons basis vir drie aande is die Leopard Trail Gasteplaas se kampeerterrein. Geen elektrisiteit nie, maar volop boomskadu, grasperke, warm water, spoeltoilette en ander ablusie-geriewe. Hout en ys te koop.

  • Saterdag: Ry na Van Loveren-wynplaas 23 km vanaf ons blyplek en stap die Bergroete (2B: 8 km, 470m klimhoogte). Heelwat oppe en affe op die sirkelroete maar beslis die moeite werd.
  • Sondag: Roete op Leopard Trail plaas (2B, 12 km, stewige klimhoogte).
  • Maandag: Waterval-roete of ‘n ander kort stap sodat ons teen 11:00 kan begin klaar maak om huis toe te ry.
  • Etes:  Vrydagaand: elkeen sorg vir hom-/haarself. Reëlings vir Saterdag en Sondag se aandetes (met minstens een braai) en verwante koste volg via WhatApp.
  • Ander fasiliteite by die oord: 4×4 roete, ses damme vir visvang, roei en swem. ‘n Kaaskoopstop kan moontlik by Bonnievale se Parmalat of Lamont (5 km van die oord) vir die Maandag gereël word.

ZEVENWACHT, KUILSRIVIER – SATERDAG 2 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 20 April

Beginpunt: 08:00 by Zevenwacht – http://zevenwacht.co.za/map/. Stapleiers:Arie en Arina van Eck by 084 626 3301. Graad:2B (redelik; 10 km). Groepgrootte: 15. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: Stappermit R60. Brandstofdonasie R60 (afhangend van hoe ver jy moet ry). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Arie en Arina sê: Die roete loop deur die wingerde op die Zevenwacht-landgoed by Kuilsrivier en bied pragtige uitsigte oor Tafelberg, Valsbaai, Gordonsbaai en Tafelbaai. Ons omdraaipunt is ‘n klein lapa bo-op ‘n koppie. Die 10 km in die buitelug is net wat jy nodig het om uit jou gewone naweekpatroon te kom. Daar is ook die opsie van ʼn wynproe of koffie en croissants agterna.

PAARLBERG (VANAF SPICE ROUTE) – SATERDAG 9 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 27 April

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Spice Route. Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Stapleier:

Beulagh Keulder. Graad: 2B (sowat 16 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Beulagh sê: Ons beginpunt is die Spice Route Destination op die Suid-Agter-Paarl-pad – sien https://www.spiceroute.co.za/. Ons stap ‘n lekker lang roete deur die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Ons stap onder meer verby die Taalmonument.

ALPHEN-ROETE, CONSTANTIA – SATERDAG 16 MEI 2026

Bespreek vanaf Maandag 4 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Alphen Hotel, Constantia. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik gelyk), 14 km. Groepgrootte:16. Inpak:Soos vir dagstap met son-, reën- en windbeskerming, water, kos, ens. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf) en bestaan uit ‘n aantal korter roetes wat saam die 14 km opmaak. Dit is ‘n boomryke roete wat heelwat skadu bied. Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors.

TAFELBERG: OVERSEER’S COTTAGE – MET DAGSTAPPE – VRYDAG 22 TOT SONDAG 24 MEI 2026

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag 22 Mei by Constantianek (presiese reëlings word nader aan die tyd getref): Stapleier:Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad:2B (redelik, 1 lang dagstap, 1 korter dagstap). Groepgrootte:16. Inpak: Soos vir ‘n oornagstap met ‘n groot rugsak om by die oornaghut uit te kom. Pak ook ‘n dagsakkie in vir die twee dagstappe op die berg. Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige soort weer. Die Overseer’s Cottage het beddens met beddegoed en handdoeke, kombuis, storte, ens. Bring flitsligte en lampies. Ons moet charcoal tussen 16 van ons verdeel vir die twee aande se braai. Koste: Permit R862 pp vir 2 nagte (aanpassing vir 2026-tariewe moet nog bykom). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R20 (lid) / R40 (besoeker).

Werner sê: Julle weet daardie kliphuis op Tafelberg se agterste tafel waar ons altyd verbyloop (by die kraan waar ons altyd op die muurtjie sit) op pad om iewers op die berg te gaan stap? Ons gaan twee aande hier bly en dan dagstappe op die berg doen. Ons gaan dus luuks bly en lekker stap. En laatmiddag, wanneer al die dagstappers van die berg af is, het ons die hele berg vir onsself. #Wêreldvrede. Die hut het beddens en beddegoed, en ‘n kombuis met breekware, ens. Geen elektrisiteit, maar daar is ‘n gasstoof, -yskas en -geysers. Ons kan vanaf 14:00 die Vrydagmiddag inklok. Die plan is om Vrydagmiddag vanaf Constantianek met die trappiespad op te stap en om Saterdag ‘n goeie dagstap te doen. Ons kan Sondag ‘n vroegoggend stap doen (ons moet 10:00 uit wees) voor ons weer terugstap met die trappiespad na Constantianek. Ons gaan reël om Vrydag ons voertuie iewers veilig te parkeer en dan ‘n shuttle tot by Constantianek te neem. Maak nie saak wat die weer maak nie, ons gaan die meeste van hierdie fantastiese geleentheid maak!

STAPVERSLAE

Blouberg Seestap 2026 – 17 Januarie 2027

Tien stappers het die ideale somerweer met pratige uitsigte oor die see en na Tafelberg geniet. Die stap het die beplande Almenkerk-stap vervang. Ons moes inderhaas improviseer as gevolg van die Blouberg Park Run wat parkering by die Eden-on-Bay-sentrum bemoeilik het. Nietemin kon die stappers uit twee windrigtings begin, mekaar onderweg ontmoet en so bewys dat ‘n boer steeds ‘n plan kan maak. Dit was ‘n goeie geleentheid om die litte los te kry en die prag van ‘n seestap te kon deel. Dankie aan die stappers vir hul geduld en aanpasbaarheid. Baie dankie aan Freddie Pohl vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km.

Plaisir-wynplaas: Volmaan-stap 2026 – 1 Februarie 2026

Die stap is in samewerking met Hike the Vines aangebied. Mariette, Amanda, Brenda en Hanna het die volmaanstap by Plaisir in November 2025 gaan recce. Soos met die vorige volmaanstappe wat deur Hike the Vine aangebied is, was die reëlings baie goed. Mariette en Amanda het besluit dat elke stapper self sy bespreking en vrywaring aanlyn doen en ICE-kontakbesonderhede verskaf. Ek moes net namens twee stappers hul bespreking en betaling doen omdat hulle nie aanlyn kon regkom nie. Elke stapper het dan net ook ons klub se vrywaring voltooi. Teen R250 is dit ‘n baie duur stap, maar steeds die moeite werd. Pensionarisse geniet egter 50% afslag en betaal dus net R125 vir die stap en ‘n proeglasie wyn by die piekniekplek. Teen 17:45 het 11 stappers bymekaargekom by die gras parkeerterrein by die Plaisir-wynplaas se proelokaal bymekaar gekom. Spesiale toilette is deur Hike the Vines beskikbaar gestel. Ons het die stywe klim aangepak en binne 90 minute by die piekniekplek uitgekom. Die 5.7 km roete is duidelik aangedui. By die piekniekterrein is ons begroet deur ‘n glasie Sauvignon of Chenin om saam met ons kos te geniet. Danksy die plastiekgras en piekniektafels kon ons lekker ontspan en wag vir die maan om oor die berge op te kom. Die uitsigte oor die vallei is onverbeterlik. Teen 21:30 het ons die 5.4 km roete af aangepak en is telkens verras met klein liggies in die bos of oor ‘n bruggie of om ‘n paal. Die woud en nabyheid van die kabbelende rivierwater maak die stap ‘n spesiale uitstappie. Teen 22:00 was almal veilig by die motors. Februarie het ons ‘n pragtige aand gegun met ‘n wolklose nag en geen nodigheid vir baadjies nie, maar ons het baie warm gekry. Dit was 34 grade toe ons begin stap het en 26 grade daarna. Dit was die regte besluit om op ‘n naweeksaand te stap. ‘n Naweekstap in Maart sal dalk koeler wees as dit so kon uitwerk. Ons hou ons oë oop om te sien  watter wynplaas Hike the Vines  vir die 2026/2027 seisoen kies. www.entryninja.com/events. ‘n Groot dankie aan Gerrit en Mariette Nortjé vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 300 m.

Seepuntstap – 7 Februarie 2026

‘n Groep van 18 stapmaats ontmoet om 06:45 by die Queen’s Beach-parkeerarea in Seepunt. Die admin word afgehandel en algemene verwagtinge van die roete word bespreek. Ons verwelkom ‘n paar nuwe stappers en ook twee lede wat na ‘n lang rusperiode weer kom saam stap. Dit is ‘n heerlike koel, bewolkte oggend! Ons vertrek 07:00 en stap al geselsend in die rigting van die V&A Waterfront. Die see en berg is pragtig! Die promenade is pragtig opgeknap, die paadjies netjies herstel en die grasperke is besig om mooi groen te raak. Meeste van ons is baie opgewonde om die nuwe Oranjezicht-plaasmark vir die eerste keer te besoek en is aangenaam verras om te sien hoe pragtig en gerieflik die nuwe gebou se uitleg is. Al die handelsware is van topgehalte en die kosstalletjies laat mens se mond behoorlik water! Ons kuier daar vir 40 minute. Net om die draai van die mark sien ons ‘n paar dolfyne wat heerlik tussen die kajakroeiers in die baai baljaar – klap hul sterte en spat die roeiers sopnat! Pragtige interaksie tussen die roeiers en dolfyne! Op pad terug motors stop ons om die Orms & Canon-foto-uitstalling teen die promenade-muur te bewonder. Amanda wys vir ons die wenfoto (geneem deur haar vriend Marc Degenaar). Swem was ongelukkig uit, aangesien die getypoel met laagwater net kniediep is. Ons stap flink en bereik die motors teen ongeveer 10:15 – net betyds want die son begin nou steek! Dankie aan al die stapmaats wat die oggend met ons gedeel het! ‘n Groot dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 10 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

Individuele lidmaatskap is R110 per persoon vir 2026. Lidmaatskap per paar is R190 (hooflid en gade OF hooflid en 1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die lidmaatskapvorm is hierby aangeheg.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

At home: 5k steps = I deserve a nap. On vacation: 25k steps = “Wait, there’s one more street to explore.” – KK Travel Tales.

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand