~ 24 November 2025: Ons stapprogram vir 2026! | Nog plek op Party Bike 6 Des – bespreek nou

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Jaareindfunksie: Baie dankie aan almal wat Saterdag ons jaareindfunksie met Erns Grundling en Steve Chadwick as gassprekers bygewoon het! Tussen die sprekers se stories, Abrie en Ina se heerlike ete (hoender, slaai, tuisgebakte brood, malvapoeding); die verkoopstafels (THE Socks, Madeleine se tafel met tweedehandse stapgoed, Dirk se heuning, Erns se boek Elders), die bekendstelling van 2026 se stapprogram, en die kuier is ons almal huis toe met iets vir ons siel en onsself. ‘n GROOT dankie aan almal wat gehelp het met die stapprogram se saamstel en met die funksie se reëlings.
  • Ons stapprogram vir 2026: Die nuwe stapprogram is hier! Ons langstappe vir volgende jaar is die WILDERNIS-EKSKURSIE (Vrydag 27 Maart tot Woensdag 1 April; 5 nagte se kamp by Ebb & Flow; sowat R1300 pp kampgeld; dagstappe en talle ekstras) en die BAVIAANS LEOPARD’S TRAIL in die Oos-Kaap (stapdatums is Saterdag 12 tot Dinsdag 15 September; R3200 pp vir stappermit; stap met dagsakkies want oornaggoed word aangery). Tussenin is daar stappe wat wissel van maklik tot ekstreem – regtig iets vir elkeen. Nou kan jy begin beplan sodat jy iets het om na uit te sien!
  • Party Bike Sat 6 Des om 10:45 – enkele plekke oop, bespreek NOU: Kom saam op hierdie jolige “joy ride” by Klein Roosboom! Ons vertrek net na 11:00 op twee e-bikes wat 12 mense elk kan neem en waarop jy vir twee uur deur die wingerde ry. Geen fiksheid of fietsryondervinding nodig nie. Heerlike sosiale rit vir net R250 pp. Wyn of koeldrank is vir jou eie rekening by Klein Roosboom beskikbaar en dit kan op die e-bike geneem word. Bespreek voor 14:00 vandag (Maandag 24 November 2025) by Wynand Krause by 084 573 4376. Sien foto’s hieronder.
  • Ledegeld vir 2026: Jy kan nou al jou ledegeld vir volgende jaar betaal. R110 vir die hooflid en R190 per paar (of hooflid en  1 afhanklike kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ’n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag vir lede teenoor R20 per dag vir besoekers). Die lidmaatskapvorm is hierby aangeheg.
  • Bergbok-wisseltrofee se wenner aangekondig: Hierdie wisseltrofee word toegeken aan die persoon wie se totale klimhoogte vir die jaar die meeste is. Vanjaar is dit Gerna Hough – baie geluk! Dit is ‘n prettige manier om erkenning te gee aan die feit dat alle kilometers nie gelyk is nie – party is plat en maklik terwyl ander letter en figuurlik asemrowend is. Hier is vanjaar se voorbokke wat AFSTAND betref: Magda Kritzinger (371 km), Gerna Hough (351 km), Amanda Matthee (264 km), Brenda Sideratos (256 km), Werner Booyen (224 km), Ari van Eck (222 km), Arina van Eck (222 km); Miranda Myburgh (215 km), Edna Terblanche (203 km), en Ulla Esterhuyzen (194 km). En hier is vanjaar se voorbokke wat KLIMHOOGTE betref: Gerna Hough (14 372 m), Magda Kritzinger (12 613 m), Brenda Sideratos (11 236 m), Werner Booyens (9 482 m), Amanda Matthee (8 805 m), Miranda Myburgh (7 861 m), Edna Terblanche (6 857 m), Ari van Eck (6 796 m), Arina van Eck (6 796 m), Ulla Esterhuyzen (6 711 m), Beulagh Keulder (6 439 m), en Werner Dalziel (6 121 m). Statistiek tot en met 18 November 2025
  • Hoe om ledegeld te betaal: Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910. Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld). Stuur jou inbetalingsbewys saam met jou lidmaatskapvorm aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Stapverslae: Sien die stapverslae vir Fonteintjiesberg, Rooikatkloof (Tafelberg) en die Seepunt-stap hieronder.

LAASTE SARSIE STAPPE VIR DIE JAAR

WYNKELDERSTAP BY VERGELEGEN – SATERDAG 29 NOVEMBER 2025

Volbespreek

Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R100 pp vir die wynproe.Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 18de wyntoer wees. Ons doen ‘n maklike 5 km stap op Vergelegen – die geskiedkundige plaas by Somerset-Wes wat in 1700 hier gevestig is. Daarna doen ons ‘n wynproe. Die wat wil kan agterna Lourensford se heerlike mark besoek vir iets om te eet en te drink.

KLEIN ROOSBOOM: “PARTY BIKE” – SATERDAG 6 DESEMBER 2025

Bespreek voor 14:00 op Maandag 24 November

Beginpunt: Klein Roosboom om 10:45. 2 groepe van 12 per e-bike. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (“fietsry” deur die wingerde – geen fiksheid of fietsryondervinding nodig nie). Groepgrootte: 24. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R250 pp. Brandstofdonasie – afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand sê: Hierdie is ‘n heerlike sosiale “fietsrit” op ‘n “party bike” (maksimum spoed 8 km per uur!) waarop 12 mense vir 2 uur lank deur die wingerde op die wynplaas Klein Roosboom buite Durbanville kan ry, met wyn en musiek (en plek vir jou selfoon) daarby. Ons kan wyn of koeldrank by Klein Roosboom koop vir die rit op die e-bike. Ons kan agterna daar gaan koffie drink. Groot pret!

STAPVERSLAE

Fonteintjiesberg – 18 – 19 Oktober 2025

Ons is 8 stappers wat die stap meemaak. Ons vertrek in 2 motors. Een groep moet eers aangaan Worcester toe om die sleutel van die hut op te tel. Soos Murphy dit wil hê, is die dame laat en ons moet maar rustig verkeer en geduldig wag. Gelukkig is daar geen admin om af te handel nie en ons kon na 09:00 in die pad val en begin stap. Ons het reggemaak vir koue, maar die weer was ongelooflik lekker en ons groep van 8 dames klets en stap en geniet die pragtige uitsigte. Teen 14:30 kom ons by die hut aan. Daar is ‘n groep mense van die Bergklub wat reeds die vorige dag gearriveer het. Ons sit rond, drink iets en van ons stappers stap af na die waterpoel en maak voete en bene nat. Ons deel stories met die ander stappers en party skrop en maak kos. Die volgende oggend is die Bergklublede vroeg op en ons besluit om ook maar op te staan en begin met ontbyt. Ons wens die groep wat die Traverse gaan doen ‘n lekker stap toe en begin regmaak om self terug te stap. Die weer tel weer eens in ons guns. Ons stap teen ‘n lekker spoed af en geniet ‘n laaste ruskans by ‘n waterpoel voordat ons by die motors aankom. Dit was ‘n heerlike 2-dag stap en ons is baie dankbaar dat ons die hut met die Bergklub se stappers kon deel. Dankie vir Brenda Sideratos wat gehelp het met die naweek se reëlings en seker gemaak het die sleutel van die hut is veilig terugbesorg in Worcester. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 1169 m.

Tafelberg: Rooikatkloof – 8 November 2025

Altesaam 13 stappers ontmoet om 06:30 by Ceceliabosparkering. Ons stap met die bospaadjie in die rigting van Kirstenbosch en neem die Skeletonkloof-voetpad berg-op. Van hierdie roete draai ons links af op die Rooikatkloofroete. Die volgende kilometer is trappe op en af en sorg vir goeie beenoefening! Ons stop by die Ceceliawaterval waar die stappers teetyd geniet en sommige sommer lekker afkoel onder die waterval se stroompies water. Ons pak die volgende kilometer se trappe aan totdat ons by die grondpad kom van waar ons regs swenk om Kurkwoud toe te stap. Die woud bied lekker koelte lafenis en ons geniet ons piekniekkos by ‘n waterstroompie. Hierna stap ons al geselsende en bereik die motors so teen 10:45. Heerlike stap met genoeg oefening vir die bene, maar ook genoeg gelyk oppervlakte om lekker te kan gesels. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 430 m.

Seepuntstap – 15 November 2025

Altesaam 9 stappers ontmoet om 07:00 by Queen’s Beach-parkering. Kobus deel ‘n bietjie statistiek oor die omgewing, asook die astronomiese bedrae wat hier aan eiendom spandeer word. Ons begin stap met redelike sterk wind, maar almal is vrolik, want die uitsigte oor die see regs en die berge links is pragtig. Boonop droom ons om lywe soos die verbygaande drawwers te mag kry! Kampsbaai-strand is pragtig en is vanoggend, boverwagting, ook pragtig skoon. Orals langs die pad is daar hope luukse motors waaraan ons ons verkyk. By Bantry Baai kies ons koers rotse toe en elkeen vind ‘n lekker sitplek om ons piekniekkos te geniet, foto’s te neem en te gesels. Swem is vandag nie ‘n opsie nie, want die weer is koelerig. Ons begin stadig terug   te stap motors toe en sien die omgewing nou weer uit ‘n ander hoek. Alles spreek van rykdom en weelde, maar in ons harte is ons tevrede – ons is gesond, ons kan stap, ons kan die mooi van die natuur geniet en ons het mekaar om die wêreld op te vrolik!! Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 50 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

R190 per paar (of hooflid en  1 afhanklike kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R10 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die lidmaatskapvorm is hierby aangeheg.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“En soms sal jy die waardevolste reis van almal aflê tussen mens en mens, intiem en stil en selde durend, maar altyd kosbaar.” – André P. Brink

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna