6 November 2025: Erns Grundling praat by ons jaareindfunksie (22 Nov) | res van jaar se stappe

Dagsê

Hierdie is net ‘n vinnige nuusbrief om julle meer te vertel van ons jaareindfunksie op Saterdag 22 November van 10:00 tot 14:00. Bespreek teen Woensdag 19:00 November om 12:00 op die laatste (vir spysenieringsdoeleindes) by Amanda Matthee by 082 570 3895. R150 pp. Gaste is welkom.

Ons hoofgasspreker is ERNS GRUNDLING van die Elders-programme. Hy praat oor die volgende:

“Solvitur Ambulando – Dit word opgelos deur te stap”

TV-aanbieder, skrywer en stapper Erns Grundling deel in hierdie openhartige praatjie meer oor die groot impak van stap, pelgrimstogte en reis op sy lewe en loopbaan. Die praatjie sluit ook voorlesings in uit sy kreatiewe skryfwerk en topverkoperboek Elders (2017). Van die temas is bewustelik leef (“mindfulness”) en die positiewe gevolge van stap en oefening op psigiese gesondheid.

Sy boek Elders sal teen R250 (kontant) by die funksie te koop wees.

Dan ‘n bietjie meer oor ons VERKOOPSTAFEL VIR TWEEDEHANDSE STAPTOERUSTING – hoe dit gaan werk:

Wat kan jy kom verkoop?

Enigiets van bruikbare stapklere (wat te groot of te klein is, of verkeerd gekoop is) en slaapsakke tot by matrassies en kamptoerusting. Al die transaksies is in kontant in R10-eenhede. Bring dus R10-note saam.

As jy items wil verkoop:

  • Stuur e-pos aan Madeleine Krause by madeleine@nautical4u.co.za om ‘n nommer te kry. Die nommers word op 20 November aan almal gestuur.
  • Merk jou items met die prys (in eenhede van R10) en jou nommer. Maak asseblief die pryse billik om die verkope aan te moedig. (Items sonder ‘n prys of nommer word as ‘n skenking beskou 😊 )
  • Sorg dat al jou items BRUIKBAAR, SKOON en HEEL is.
  • Bring jou items vooraf (tussen 09:15 en 10:45) na die verkoopstafel by die jaareindfunksie.
  • Na die funksie kan jy jou geld kom afhaal en jou item(s) wat nie verkoop het nie kom kry. (Items wat nie afgehaal word nie, word vir ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk.)

As jy wil kom koop:

  • Kom snuffel en vul jou staptoerusting aan.
  • Betaal kontant in R10-note (ons het nie kleingeld of ‘n kaartmasjien nie).

Kom ons ondersteun die sirkelekonomie en verkoop die toerusting wat ons nie meer gebruik nie in plaas daarvan dat dit net plek in ‘n kas opneem of, nog erger, op ‘n vullishoop beland en ons koolstofvoetspoor vergroot.

Kry meer inligting oor ons jaareindfunksie hieronder en bespreek nou.

  • Stapverslae: Sien die stapverslae vir Duiwelspiek, Kloovenburg, Tygerberg-natuurreservaat, Grotto Bay-natuurreservaat, en die volmaanstap by Plaisir-wynlandgoed hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

TAFELBERG: ROOIKAT RAVINE EN KURKWOUD – SATERDAG 8 NOVEMBER 2025

Bespreek nou

Beginpunt: 07:30 by Cecilia Forest se parkeerarea by https://goo.gl/maps/9JGQRNWCAFpMNPwa8. Stapleier: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B, sowat 8 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons begin om 08:00 te stap vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons stap eers op tot by die kontoerpaadjie en dan aan tot by die afdraaipaadjie na Kirstenbosch. Hier draai ons egter links en klim met ‘n hele paar trappe die berg uit totdat ons weer begin afdaal na Cecilia-waterval. Ons stap dan voort tot by Constantianek voordat ons weer terugdraai. Ons stap deur die Kurkwoud tot terug by die begin. Dit is ‘n gemaklike 8 km.

SEEPUNT-STAP – SATERDAG 15 NOVEMBER 2025

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Queen’s Beach parkeerarea, Seepunt. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik, 11 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Jy kan met tekkies of goeie plakkies ook stap. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Kobus en Edna sê: ‘n Lekker stap langs die see met mooi uitsigte oor die Twaalf Apostels-berge en die Atlantiese Oseaan (en van die duurste huise in die land). By Bakoven eet ons ontbyt op die groot plat rotse en stap dan rustig met dieselfde paadjie terug. (Daar is geleentheid vir swem langs die pad vir diegene wat kouewaterterapie beoefen!) Ons behoort teen 13:00 terug te wees by die motors.

JAAREINDFUNKSIE – SATERDAG 22 NOVEMBER 2025 VAN 10:00 – 14:00

Bespreek teen Woensdag 19:00 November om 12:00 op die laatste

Plek: NG Kerk La Rochelle se kerksaal

Op die program: Twee sprekers (Erns Grundling en Steve Chadwick), ‘n “mini-bazaar”, bekendstelling van 2026 se stapprogram (PowerPoint-aanbieding), middagete en kuier.

“Mini-bazaar”: Tafel met tweedehandse staptoerusting (kom verkoop die staptoerusting wat jy nie meer gebruik nie / kom vul jou staptoerusting op ‘n bekostigbare manier aan), THE stapsokkies (hulle was verlede jaar ook by ons jaareindfunksie), Dirk se heuning, Erns Grundling se boek Elders (R250 kontant), Steve Chadwick se boek, ens. (Nog voorstelle – laat weet gerus vir Amanda).

Hoe om tweedehandse staptoerusting by die funksie te VERKOOP: Stuur e-pos aan Madeleine Krause by madeleine@nautical4u.co.za om ‘n nommer te kry. Die nommers word op 20 November aan almal gestuur. Merk jou items met die prys (in eenhede van R10) en jou nommer. Maak asseblief die pryse billik om die verkope aan te moedig. (Items sonder ‘n prys of nommer word as ‘n skenking beskou 😊 ). Sorg dat al jou items BRUIKBAAR, SKOON en HEEL is. Bring jou items vooraf (tussen 09:15 en 10:45) na die verkoopstafel by die jaareindfunksie. Na die funksie kan jy jou geld kom afhaal en jou item(s) wat nie verkoop het nie kom kry. (Items wat nie afgehaal word nie, word vir ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk.)

Hoe om tweedehandse staptoerusting by die funksie te KOOP:Kom snuffel en vul jou staptoerusting aan. Betaal kontant in R10-note (ons het nie kleingeld of ‘n kaartmasjien nie).

Koste vir die funksie (ete en saal se huur): R150 per persoon – betaalbaar by die deur (as jy bespreek het, is jy vir die koste verantwoordelik)

Middagete: Heerlike gebraaide hoender met 3 slaaie, varsgebakte brood met smeergoed, en poeding. Elkeen bring eie drinkgoed en skottelgoed.

Maksimum groepgrootte: 60 mense (vir spysenieringsdoeleindes) – besoekers baie welkom

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895

OTTER-VOETSLAANROETE, SUID-KAAP – MAANDAG 24 – VRYDAG 28 NOVEMBER 2025

Volbespreek

Stapreëlings: Elvin en Carine van Zyl by 083 456 9424 (net WhatsApp-boodskappe). Graad: 2B (veeleisend, 41 km oor 5 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir 5-dag stap met oornaghutte met beddens en matrasse. Survival bag en tou vir rivierkruisings. Slegs bio-afbreekbare seep. SA ID-dokument. Wees voorbereid op enige soort weer. Koste: Otter-permit R2118 per persoon. Plus daaglikse bewaringsfooie van R82 per dag (maar as jy Wildcard het, betaal jy geen bewaringsfooie nie; bring egter jou Wildcard en SA ID saam). Vervoerkoste (shuttle) na beginpunt: + R200. Oornagverblyf voor en na die stap (2 aande): + R500. Brandstofdonasie R1400 (615 km x 2 = 1 230 km). Adminheffing R25 per lid / R100 per besoeker.

Elvin en Carine sê: Jy moet ten minste een keer in jou lewe die Otter stap! Ons vertrek vroeg die Sondagoggend (23 November) en ry tot by Nature’s Valley. Ons reël blyplek vir die aand voor die stap, en die Vrydagaand na die stap. Ons stap van Maandag 24 tot Vrydag 28 November. Ons ry rustig Saterdag 29 November terug Kaap toe. Die Otter-voetslaanpad in die Tsitsikamma Nasionale Park is die eerste amptelike voetslaanroete in Suid-Afrika. Dit is in 1968 geopen, en loop van die Stormsriviermond weswaarts tot by Nature’s Valley (De Vasselot-kampterrein). Dit is een van die skouspelagtigste kusstroke in die land en is bekend vir sy kuswoude, reusebranders, afgesonderde baaie en ‘n kusplato bedek met heide en proteas.

  • Dag 1: 4,6 km – sowat 3 uur. Vanaf Stormsrivier-kampeerterrein tot by Ngubu se hutte. Stap verby mooi waterval waar ons kan swem.
  • Dag 2: 7,9 km – sowat 6 uur. Van Ngubu se hutte – Scott se hutte. Kruis Kleinbosrivier, stap verby Bloubaai en Skilderkrans.
  • Dag 3: 7,7 km – sowat 4 uur. Van Scott se hutte na Oakhurst se hutte. Kruis Geelhoutbosrivier, Elandsbosrivier, Lotteringrivier (survival bags soms hier nodig).
  • Dag 4: 13,8 km – sowat 8 uur. Van Oakhurst se hutte na André se hutte. Kruis Witelsrivier, Bloukransrivier (net voor 10 km merk) (survival bags nodig vir ingeval). Dit is sowat 4 uur se stap van Oakhurst na Bloukransrivier. Dit is sowat 2 uur se stap van Bloukransrivier na die oornaghut.
  • Dag 5: 6,8 km – sowat 3 uur. André se hutte na Nature’s Valley. Kruis die Kliprivier en klim tot op die rand van die koppies. Loop op die plato tot jy uiteindelik weer by die strand uitkom, en loop dan seelangs tot by Nature’s Valley.

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 29 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 10 November

Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 18de wyntoer wees. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

KLEIN ROOSBOOM: “PARTY BIKE” – SATERDAG 6 DESEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 24 November

Beginpunt: Klein Roosboom. 2 groepe van 12 per party bike – begintyd 11:05 vir eerste groep en 11:20 vir tweede groep. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (“fietsry” deur die wingerde). Groepgrootte: Net 24 plekke. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R250 pp. Brandstofdonasie – afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand sê: Hierdie is ‘n heerlike sosiale “fietsrit” op ‘n “party bike” (maksimum spoed 8 km per uur!) waarop 12 mense vir 2 uur lank deur die wingerde op die wynplaas Klein Roosboom buite Durbanville kan ry, met wyn en musiek (en plek vir jou selfoon) daarby. Ons kan agterna by Klein Roosboom gaan koffie drink. Groot pret!

STAPVERSLAE

Duiwelspiek – 11 Oktober 2025

14 van ons kom om 7:30 by die Duiwelspiek roete op Tafelbergpad bymekaar. Na die admin uitgesorteer is, begin ons met die sig-sag paadjie teen die berg uit stap to by die kontoerpad. Daar draai ons links en stap rustig voort. Die hele Kaap is toe onder die mis en ons het geen uitsigte van die stad nie. Ons neem ‘n teebreek voordat ons die volgende steil paid aanvat na die saaltjie (Saddle Rock). Die wind is ysig maar ons besluit om tot bo te gaan. Dit is ‘n baie steil 300m na die baken. Ons kry ‘n beskutte deel waar ons weer iets eet terwyl ons stuk-stuk foto’s neem by die baken. Die hoogste baken is 1001m hoog wat net 85m laer as Tafelberg se 1086m is. Na ‘n lekker rus begin ons weer versigtig met die steil paadjie af. Ons besluit om middagete by die uitkykpunt op Oppelskop te geniet. Na ‘n lekker ruskans neem ons die steil paadjie vanaf Oppelskop Fire Lookout af tot by die teerpad en draai daar links in Tafelbergpad en stap terug na die motors. Die mis het weggetrek en ons kon darem so iets van die stad, Leeukop en ook Tafelberg sien. Voorwaar ‘n lieflike stap en almal het ingestem dat dit lekker was on weer op Tafelberg te stap. ‘n Groot dankie aan Brenda Sideratos en Werner Booyens vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 677 m.

Kloovenburg – 18 Oktober 2025

Die stap op hierdie roete het in 2022 uitgereën, maar hierdie rondte was die weer perfek – wolkskadu vir die eerste 2 ure en daarna gesellige sonskyn met die temperatuur darem laer as 30 grade. Twaalf stappers het die stap aangepak, waaronder vier stappers wat die oggend 05:00 al uit Hermanus vertrek het (Petro Schlemmer is Pieter Du Toit, die eienaar van Kloovenburg, se suster en kon ons interessanthede vertel oor haar grootwordjare op die plaas). Die stap kan van twee beginpunte af aangedurf word. Ons het by die Eight Feet Village begin – om ‘n vroeër begintyd te akkommodeer; Eight Feet is van 08:00 af oop terwyl Kloovenburg se hekke eers 09:00 oopgaan. Die roete self het ons om wingerde en olyfboorde geneem, met ‘n paar gesonde bultjies en afdraandes, voordat ons na 1,5 km die paadjie op met Kasteelberg na die grot-draaipunt gevat het. Hierdie deel is baie mooi en kronkel op deur bosse, met ‘n baie matige hoeveelheid “rock-hopping”. Van die grot wat ongeveer 50% teen die berg uit is, kry mens ‘n uitsig oor die hele vallei en die dorpie Riebeek-Kasteel. Die af-pad is redelik aanhoudend en het konsentrasie geverg as gevolg van die los grond plek-plek. Een val van ‘n besoeker was darem nie ernstig nie en teen 11:00 het ons Kloovenburg bereik, waar die brunch-breek geleentheid gelaat het om iets koels by Kringe-Inni-Bos aan te skaf (en ‘n soetigheid vir Mariette), asook ‘n vinnige gaan kyk na Kloovenburg se olyf- en wyn-aanbiedinge. Die laaste skof het ons, met nog twee klimme, teruggeneem na Eight Feet, waar feitlik almal die sosiale sy van die dag met pizza, sap en bier ondersteun het. Die konsensus was dat dit ‘n mooi en verbasend uitdagende graad 2 stap is wat herhaal kan word, maar dat ‘n herhaling beslis weer die bergpaadjie moet insluit (daarsonder sal dit dalk ietwat te elementêre stap wees). 8,8 km is voltooi en volgens Edna, Mariette en Gerrit se slimhorlosies is 456m verdien wat hoogte betref. ‘n Groot dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 456m.

Tygerberg-natuurreservaat – 25 Oktober 2025

Op ‘n lieflike koel lente-oggend kom 9 stappers bymekaar om die sirkelroete te stap wat die Ukhetshe-, Honey Badger-, Watsonia-, Tortoise-, en Duiker-roetes insluit. Ons word verras met gratis toegang omdat dit die naweek is van die Great Southern BioBlitz. Net soos in Oktober 2024, was die veld nog baie klam, groen en vol blomme. Ons sien voëls, skoenlappers en selfs ‘n skilpad langs die pad. Ons het die sirkelroete kloksgewys aangepak vanaf die hek. Ons het rustig gestap en telkens gestop om die vergesigte na Robbeneiland, Tafelberg en later die Boland te geniet. Die onlangse toevoeging van ‘n kiosk by die ingang is ‘n aanwins. Die kiosk bied koffie, koeldranke, water, sjokolades, muffins en koekies. Tygerberg Natuurreservaat bly ‘n heerlike ontsnapping van die stadsgewoel terwyl dit uiters toeganklik en veilig is en boonop  is jy teen middagete weer tuis (stap en rus ingesluit het 4.5 uur geduur). Baie dankie aan Mariette Nortjé vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 390 mm.

Grotto Bay-natuurreservaat – 1 November 2025

Lekker koel weer, na reën deur die nag, het ons die Saterdag-oggend by Grotto Bay-natuurreservaat 32 km noord van Melkbosstrand begroet. Die wind was matig en al 13 stappers was bly dat die sand onder voet ietwat gekompakteer is deur die vooraf reën. Die roete het byval gevind as gevolg van sy diversiteit – eers stap mens deur die fynbosarea neffens die R27 waar skilpaaie, bokkies en talle slake teegekom is, dan na die rivierkruising met bietjie klimwerk op en af oor die duine, tot by die see waar die etebreek geniet is. Die laaste 5 tot 6 km loop langs die oseaan via billike en goed-onderhoude voetpaadjies. Daar was alternatief ‘n matige rotsklouter-roete, maar die hooggety het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Rotse en seeklippe maak dat die seepad-gedeelte (ook genoem die Oystercatcher Trail – ons het hier ‘n paar van die swarttobies gesien) heel skouspelagtig is. Daar het ook hordes jellievisse uitgespoel wat vir unieke fotomateriaal gesorg het. Die stap het, breke ingesluit, naby 5 ure geduur en kan beskou word as ‘n gemaklike 2A-stap, met die sandfaktor waarskynlik die grootste uitdaging, hoewel beslis haalbaar vir ‘n matige fikse stapper. Die stap word aanbeveel om gereeld op die program te kom, omdat dit bietjie ‘n anderlandskap bied en ‘n goeie vullerstap sal wees op ‘n naweek wanneer daar ook langer, moeiliker of meer tegniese stappe aangebied word. Baie dankie aan Freddie en Susan vir die reëlings en stapleiding. ‘n Paar van ons het agterna by Groote Post gaan wyn proe en kaasborde geniet. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 177 mm.

Volmaanstap by Plaisir-wynlandgoed – 5 November 2025

Vier dames kom net voor 18:00 by die Plaisir-landgoed in Simondium bymekaar. Ons maak seker ons is op die register en ons word deel van die eerste groep wat begin stap. Pragtige paadjie deur die bome en langs die Meulstroom-rivier tot bo – asems jaag maar ons druk deur. Ons word bo-op die koppie verwelkom met ‘n piepklein glasie wyn. Daar is oral oulike sitplekkies en ons maak ons gou tuis terwyl mense stuk-stuk nog aankom. Die maan het so teen 19:30 verskyn – dit was ongelooflik mooi! Dit was ‘n Supermoon, wat beteken die maan lyk 14% groter en kaats 30% meer sonlig terug na die aarde toe. Daar sal eers weer in 2034 so ‘n supermaan verskyn. Ons eet iets, gesels en neem pragtige foto’s. So vanaf 20:00 begin die mense terugstap met kopliggies. Teen 21:45 is ons terug by ons motors en ons bene kan voel dat ons ‘n stewige 11km agter die rug het! Baie dankie aan Brenda Sideratos vir die inisiatief en reëlings. (Die stap word op Sondagmiddag 1 Februarie 2026 weer aangebied.) Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 304 mm.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2026

R110 vir die hooflid en R190 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“Sometimes there is no next time, no timeouts and no second chances. Sometimes it’s now or never.” – Unknown

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna