Dagsê
- Jaareindfunksie – 22 Nov: Besprekings vir ons jaareindfunksie op Saterdag 22 November in La Rochelle NG Kerk se kerksaal open vandag. Op die program is ‘n interessante spreker, die bekendstelling van 2026 se stapprogram, ‘n “mini-bazaar”, en heerlike ete. Die mini-bazaar sluit ‘n tafel in vir tweedehandse staptoerusting waar jy staptoerusting kan verkoop wat jy nie meer gebruik nie of jou staptoerusting op ‘n kostedoeltreffende manier kan aanvul. Kry al die besonderhede hieronder en bespreek by Amanda Matthee by 082 570 3895.
- Otter-staproete: Daar is nog plek op hierdie roete wat jy ten minste een keer in jou lewe moet doen. Die stapdatums is Maandag 24 tot Vrydag 28 November 2025 en die kersie op die koek is dat dit om 14:00 laagwater is op die dag wat ons die Bloukransrivier moet kruis (dit wil sê ons hoef nie soos die vorige keer 03:00 in die nag op te staan en met flitse te begin loop op die dag van die rivierkruising nie). Bespreek by Elvin en Carine van Zyl by 083 456 9424 (stuur WhatsApp-boodskap).
- Die verband tussen sterk spiere en breingesondheid: Hierdie artikel in die MIT Technology Review sê ons brein en spiere kommunikeer voortdurend met mekaar en dat lewenslange breingesondheid direk verband hou met ons vermoë om ons spiere aan die beweeg te hou. “Myokines are released into the bloodstream when your muscles contract, create new cells, or perform other metabolic activities. When they arrive at the brain, they regulate physiological and metabolic responses there, too. As a result, myokines have the ability to affect cognition, mood, and emotional behavior. Exercise further stimulates what scientists call muscle-brain “cross talk,” and these myokine messengers help determine specific beneficial responses in the brain. These can include the formation of new neurons and increased synaptic plasticity, both of which boost learning and memory. In these ways, strong muscles are essential to healthy brain function.” Dit wil sê stap is goed vir ons. Lees meer by https://www.technologyreview.com/2022/08/22/1057660/strong-muscles-healthy-brain/
- Fotokompetisie vir 2026-boekieprogram se voorblad: Hou hierdie in gedagte op jou stappe. Die foto’s wat jy inskryf moet in 2025 deur jou geneem word. Landskap-formaat (dwars); goeie gehalte foto’s; 2 inskrywings per persoon; foto’s geneem op klubstappe. Dit sal in wit-en-swart gebruik word. (As daar mense op jou foto is, moet hulle verkieslik nie herkenbaar wees nie. Neem hulle byvoorbeeld van agter af.) Sluitingsdatum: 9 Januarie 2026. Jou inskrywings kan gestuur word na Gerna Hough by gernah81@gmail.com.
- Ses doen-dinge in en om die Kaap: Sommer vir die interessantheid – dit sluit in ‘n wynsafari, die Museum van Illusies, ‘n stoomtreinrit, en kajak in die maanlig. Sien https://www.netwerk24.com/leefstyl/reis/6-aktiwiteite-in-en-om-die-kaap-om-jou-mee-besig-te-hou-20250922-0568.
- Wild Outdoor Adventure Show 4 – 7 Desember 2025 by die CCIT, Kaapstad: Vir kennisname – sien https://wildoutdooradventureshow.com/pages/outdoor-sport-equipment.
- Ons simpatie: Ons simpatie aan Ulla Esterhuizen wie se broer Wolfgang op 4 September vanjaar oorlede is. Ons dink aan Ulla en haar familie in hierdie tyd.
- Stapverslae: Sien stapverslae vir Papkuilsvlei, die 12 Apostels, Elandsbaai-naweek, Sterretjieskop by Franschhoek, Tafelberg 5 damme, Sederberge, Koopmanskloof, en Sosyskloof hieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 25 OKTOBER 2025
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R40 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Mariette sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.
BERGRIVIER: AFRIKAKOP TOT OP PLATO, BERGRIVIERDAM, FRANSCHHOEK – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober
Beginpunt- en tyd: 7:30 by https://maps.app.goo.gl/2SVRvC5SMwo2UgWF9. Graad: 2.5B (12 km, klimhoogte, 645 m, matig inspannend; bietjie blootstelling, maar niks om voor bang te wees nie, geskat 5 ure. Steil en rotsagtig op sommige plekke, met erosie en vloedskade; twee riviere om te kruis). Inpak: Dagsakkie met kos, water, swemklere, reënbaadjie, ens. Koste: Geen permitgeld nie. Brandstofdonasie R100 (of bestuurder bepaal self). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Hierdie pragtige en matig uitdagende stap bied ‘n vars perspektief op die bergreekse tussen Stellenbosch en Franschhoek. Die stap begin vanaf Jan van Riebeeckweg sowat 1 km voor die Bergrivierdam se muur. Ons loop af langs die paadjie in die vallei, waar twee rivierkruisings op ons wag. Die diepte van die water sal afhang van die seisoen en die reën die afgelope tyd. Wees gereed om jou skoene uit te trek en ten minste knie- tot heuphoogte deur die water te loop. Na die rivierkruisings trek ons ons stapskoene aan en stap aan met die bergpaadjie tot langs die bergrug waar ons pragtige uitsigte oor die Bergrivierdam, Simonsberg en Paarl in die verte sal hê. By die rotsformasies geniet ons ontbyt.
Belangrike nota oor rivierkruising: Ons parkeer op die pad wat na die Bergrivierdam se muur lei. Ons moet twee riviere binne die eerste 300m kruis. Die aanbeveling is om vanaf die motor met jou waterskoene/Crocs te begin en jou stapskoene om jou nek of in jou rugsak te dra. Na die tweede kruising steek ons die skoene in die bosse weg en trek ons ons stapskoene aan. Die watervlak is tussen knie- en heuphoogte en die waterstroom is matig, daarom word ‘n stapstok aanbeveel.
Daarna stap ons ‘n entjie om die berg en klim ‘n steil zig-zag verspoelde paadjie tot bo en dan kry jou bene bietjie verligting van die terrein met ‘n reusagtige plato wat voor jou oopmaak. Hierdie gedeelte het baie interessante rotsformasies en die oorblyfsels van die BTK-bergskuiling wat in 1999 afgebrand het. Hier geniet ons middagete, afgeleë tussen die majestieuse berge. Na middagete keer ons versigtig oor die los klippe met dieselfde roete terug, maar met unieke en interessante uitsigte oor die Bergrivierdam.
GROTTO BAY (32 KM NOORD VAN MELKBOSSTRAND) – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober
Beginpunt- en tyd: 08:00 by die Grotto Bay private natuurreservaat langs die Weskus. Stapleier: Freddie Pohl by 074 304 7678. Graad: 2A (13 km): Groepgrootte: 24. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie (68 km x 2 = 136 km) R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.
Freddie en Susan sê: Ons stap ‘n sirkelroete van 13 km in die Grotto Bay private natuurreservaat sowat 60 km noord van Kaapstad en 32 km noord van Melkbosstrand (moenie Grotto Bay verwar met Grotto Beach by Hermanus nie). Grotto Bay vorm deel van die Kaapse Weskus-biosfeer wat in 2000 deur UNESCO tot bewaringsgebied verklaar is. Ons stap ook ‘n deel langs die see. Heerlike en besondere mooi dagstap langs die Weskus.
TAFELBERG: ROOIKAT RAVINE EN KURKWOUD – SATERDAG 8 NOVEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 27 Oktober
Beginpunt: 07:30 by Cecilia Forest se parkeerarea by https://goo.gl/maps/9JGQRNWCAFpMNPwa8. Stapleier: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B, sowat 8 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Kobus en Edna sê: Ons begin om 08:00 te stap vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons stap eers op tot by die kontoerpaadjie en dan aan tot by die afdraaipaadjie na Kirstenbosch. Hier draai ons egter links en klim met ‘n hele paar trappe die berg uit totdat ons weer begin afdaal na Cecilia-waterval. Ons stap dan voort tot by Constantianek voordat ons weer terugdraai. Ons stap deur die Kurkwoud tot terug by die begin. Dit is ‘n gemaklike 8 km.
SEEPUNT-STAP – SATERDAG 15 NOVEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 3 November
Beginpunt- en tyd: 07:00 by Queen’s Beach parkeerarea, Seepunt. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik, 11 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Jy kan met tekkies of goeie plakkies ook stap. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Kobus en Edna sê: ‘n Lekker stap langs die see met mooi uitsigte oor die Twaalf Apostels-berge en die Atlantiese Oseaan (en van die duurste huise in die land). By Bakoven eet ons ontbyt op die groot plat rotse en stap dan rustig met dieselfde paadjie terug. (Daar is geleentheid vir swem langs die pad vir diegene wat kouewaterterapie beoefen!) Ons behoort teen 13:00 terug te wees by die motors.
JAAREINDFUNKSIE – SATERDAG 22 NOVEMBER 2025 VAN 10:00 – 14:00
Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober
Plek: NG Kerk La Rochelle se kerksaal
Op die program: Spreker (Steve Chadwick), ‘n “mini-bazaar”, bekendstelling van 2026 se stapprogram (PowerPoint-aanbieding), middagete en kuier.
“Mini-bazaar”: Tafel met tweedehandse staptoerusting (kom verkoop die staptoerusting wat jy nie meer gebruik nie / kom vul jou staptoerusting op ‘n bekostigbare manier aan), THE stapsokkies (hulle was verlede jaar ook by ons jaareindfunksie), Dirk se heuning, Steve Chadwick se boek, ens. (Nog voorstelle – laat weet gerus vir Amanda).
Koste: R150 per persoon – betaalbaar by die deur (as jy bespreek het, is jy vir die koste verantwoordelik)
Middagete: Heerlike gebraaide hoender met 3 slaaie, varsgebakte brood met smeergoed, en poeding. Elkeen bring eie drinkgoed en skottelgoed.
Groepgrootte: 60 mense (vir spysenieringsdoeleindes) – besoekers ook welkom
Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895
OTTER-VOETSLAANROETE, SUID-KAAP – MAANDAG 24 – VRYDAG 28 NOVEMBER 2025 (stapdatums)
Daar is nog plek oop op – bespreek nou
Stapreëlings: Elvin en Carine van Zyl by 083 456 9424 (net WhatsApp-boodskappe). Graad: 2B (veeleisend, 41 km oor 5 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir 5-dag stap met oornaghutte met beddens en matrasse. Survival bag en tou vir rivierkruisings. Slegs bio-afbreekbare seep. SA ID-dokument. Wees voorbereid op enige soort weer. Koste: Otter-permit R2118 per persoon. Plus daaglikse bewaringsfooie van R82 per dag (maar as jy Wildcard het, betaal jy geen bewaringsfooie nie; bring egter jou Wildcard en SA ID saam). Vervoerkoste (shuttle) na beginpunt: + R200. Oornagverblyf voor en na die stap (2 aande): + R500. Brandstofdonasie R1400 (615 km x 2 = 1 230 km). Adminheffing R25 per lid / R100 per besoeker.
Elvin en Carine sê: Jy moet ten minste een keer in jou lewe die Otter stap! Ons vertrek vroeg die Sondagoggend (23 November) en ry tot by Nature’s Valley. Ons reël blyplek vir die aand voor die stap, en die Vrydagaand na die stap. Ons stap van Maandag 24 tot Vrydag 28 November. Ons ry rustig Saterdag 29 November terug Kaap toe. Die Otter-voetslaanpad in die Tsitsikamma Nasionale Park is die eerste amptelike voetslaanroete in Suid-Afrika. Dit is in 1968 geopen, en loop van die Stormsriviermond weswaarts tot by Nature’s Valley (De Vasselot-kampterrein). Dit is een van die skouspelagtigste kusstroke in die land en is bekend vir sy kuswoude, reusebranders, afgesonderde baaie en ‘n kusplato bedek met heide en proteas.
- Dag 1: 4,6 km – sowat 3 uur. Vanaf Stormsrivier-kampeerterrein tot by Ngubu se hutte. Stap verby mooi waterval waar ons kan swem.
- Dag 2: 7,9 km – sowat 6 uur. Van Ngubu se hutte – Scott se hutte. Kruis Kleinbosrivier, stap verby Bloubaai en Skilderkrans.
- Dag 3: 7,7 km – sowat 4 uur. Van Scott se hutte na Oakhurst se hutte. Kruis Geelhoutbosrivier, Elandsbosrivier, Lotteringrivier (survival bags soms hier nodig).
- Dag 4: 13,8 km – sowat 8 uur. Van Oakhurst se hutte na André se hutte. Kruis Witelsrivier, Bloukransrivier (net voor 10 km merk) (survival bags nodig vir ingeval). Dit is sowat 4 uur se stap van Oakhurst na Bloukransrivier. Dit is sowat 2 uur se stap van Bloukransrivier na die oornaghut.
- Dag 5: 6,8 km – sowat 3 uur. André se hutte na Nature’s Valley. Kruis die Kliprivier en klim tot op die rand van die koppies. Loop op die plato tot jy uiteindelik weer by die strand uitkom, en loop dan seelangs tot by Nature’s Valley.
Belangrik: Onthou jou ID-boek. Slegs bio-afbreekbare seep op roete toegelaat. Ons sal nader aan die tyd inligting oor die getye bekend maak vir die rivierkruisings.
WYNKELDERSTAP – SATERDAG 29 NOVEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 10 November
Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 18de wyntoer wees. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.
KLEIN ROOSBOOM: “PARTY BIKE” – SATERDAG 6 DESEMBER 2025
Bespreek vanaf Maandag 24 November
Beginpunt: Tyd en plek word later deurgegee. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (“fietsry” deur die wingerde). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R250 pp. Brandstofdonasie – afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Wynand sê: Hierdie is ‘n heerlike sosiale “fietsrit” op ‘n “party bike” (maksimum spoed 8 km per uur!) waarop 12 mense vir 2 uur lank deur die wingerde op die wynplaas Klein Roosboom kan ry, met wyn en musiek (en plek vir jou selfoon) daarby. Ons kan agterna by Klein Roosboom gaan koffie drink.
STAPVERSLAE
Papkuilsvlei, Redelinghuys – 16 tot 17 Augustus 2025
Ons val Saterdagoggend dou-voor-dag in die pad Redelinghuys toe. Die bestemming is Papkuilsvlei-plaas. Soos altyd, word ons gasvry ontvang deur Gys en Brenda, die plaasmense. Nadat ons ons kieste en sakke vol soet naartjies gestop het, word die groepfoto geneem en val ons in die pad, darem net met dagsakkies. Magda, wat een van die argitekte van die roete was, vat voor. Dis ‘n heerlike vars oggend en ons kry kans om op te warm op die gelyk grondpad vir ongeveer 2 kilometer, maar toe begin die pret en moet ons ons lywe bobbejaan hou. Ons klim en klouter en kruip deur skeure en wurm onsself deur gaatjies. Maar ons sien interessante rotsformasies, spelonke en wêreldwye uitsigte. Die kameras klik-klik. Ons is nie haastig nie, dag 1 is mos nét 9 kilometer. Almal “lyk” fiks en almal hou mooi bymekaar. En so, met al die baie konsentrasie om voete op die regte plekke te sit, is dag 1 amper verby toe ons die oornagplek daar onder die kranse raaksien. Vir ou laas word ons moeë lywe getoets met die laaaaaang leer, wat ons tot by ons “luukse” (in stap terme) verblyf vat. Elkeen soek ‘n lêplek, die terrein word verken, ‘n paar flukses stook die donkie en verjaarsdag-kolwyntjies word geëet. Gaan koue bier en cup-cakes saam? Ons word deur die plaasmense bederf met lekker vars plaasbrood vir voorgereg. Die buite-en binnebraai se vure word aangesteek en dit raak lekker gesellig. Party van ons kyk selfs op die selfoon hoe die Bokke verloor! Sondagoggend staan ons vars en vol nuwe moed op. Dag 2 se “maklike” 9 kilometer is ‘n wanpersepsie. In die mis moet ons weer die lang leer uitklim. Van daar is dit toe weer eens die ene “klein Oorlogskloof”. Ons klouter ook af in Rehan se Grot en bekyk die wêreld van daar bo af. Dis so ‘n mooi helder dag dat ons die blou seewaters kan sien in die verte. Die veld vergoed ons met pragtige blomme, interessante plante en selfs ‘n slang. Teen 15:00 is ons weer terug by die motors. Ja, dit was ‘n uitdagende stap, maar ‘n goedvoel-ervaring met baie goeie herinneringe. ‘n Groot dankie aan Santie Kies vir die stapreëlings. Stapafstand: 18 km. Klimhoogte: 682 m.
Tafelberg, 12 Apostels – 23 Augustus 2025
Hierdie stap word byna gekanselleer weens slegte weer en reënvooruitsigte. Gelukkig is daar 12 stappers wat bereid is om te stap. Ons vervroeg die begintyd om sodoende die beste van die saak te maak. Stappers teken in en ons begin die roete anti-kloksgewys stap vanaf Oudekraal se parkeerarea. Die eerste paar honderd meter is redelik klipperig, maar daarna is die paadjies gerieflik begaanbaar. Die omgewing is pragtig met uitsigte op die 12 Apostelspieke bokant ons en die see regs van ons. Die koel weer sorg dat ons, sonder te veel sweet, die gemaklike opdraande hier en daar kan hanteer. Na 6 km begin die weer vinnig verander en ons besluit om te stop vir koffie en iets te ete. ‘n Lekker rëenbui sak oor ons uit en ons begin die terugtog motors toe. Hierdie is nou regtig ‘n mooi roete wat deur al Sanlam se staplede geniet kan word. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 350 m.
Elandsbaai stap- en kampnaweek – 29 Augustus tot 1 September 2025
Ons is 17 stappers wat die naweek kamp – ons staan op die Elandsbaai Hotel se kampterrein met mooi uitsigte oor die see. Ons kom stuk-stuk die aand daar aan, ons braai, kuier en party mense eet sommer iets by die hotel. Die volgende oggend stap ons ‘n goeie 10 km deur die dorp – ons neem foto’s en sien pragtige blomme. Ons drink tee en geniet ietsie langs die see. Vandaar besoek ons die Elandsbaai grot met tekeninge. Ons stap rustig seelangs terug. Party stappers geniet ‘n ligte ete by die hotel. Brenda en Werner bederf die groep met vars gebakte brood en jam asook ‘n lekker Cacktus Jack shooter. Die aand word daar weer gebraai. Almal braai saam met ‘n lekker blomhoed/hemp om sommer die lente te vier. Sondagoggend kry ons die gids om 10:00 voor die hotel en ons ry met ons motors na die Diepwal-grotte. Dit is ‘n stewige klim van 1 km tot bo. Die geskiendenis van die grotte word met ons gedeel. Teen 12:30 is ons terug by die motors en elkeen vat die pad huis toe. Party het egter nog ‘n paar dae gekamp en blomme gaan kyk. Ons was baie dankbaar dat daar geen reën geval het die naweek nie. Baie dankie aan Brenda en Werner vir die naweek se reelings. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 223 m.
Sterretjieskop, Bergrivier, Franschhoek – 6 September 2025
Vyf van ons kom die oggend 08:00 by die Robertsvlei-hek van die Bergrivierdam bymekaar. Na die admin afgehandel is en die permit met Zapper betaal is, vat ons pad in die rigting van die berg aan linkerkant. Ons klim tot op die eerste kontoerlyn en draai regs. Ons stap lekker op die kontoer en oral is daar stroompies met lekker vars water. Na ‘n paar kilometers draai ons links om die boonste kontoer te vat. Ons klim maklik en geleideilk op en op. Die uitsigte oor Robertsvlei en die Bergrivierdam is asemrowend. Uiteindelik kom ons by die eindpunt/draaipunt aan, Sterretjieskop. Hier lê die hele Franschhoek-vallei en dorp voor ons. Ons geniet middagete en neem dan dieselfde roete terug tot by die laer kontoer, waar ons dan die pad reguit af vat tot weer op die jeeppad. ‘n Groot dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 537 m.
Tafelberg: 5 damme en ‘n duikplank – 13 September 2025
Altesaam 12 stappers het vroegoggend by Constantianek bymekaar gekom om tot op die agterste tafel van Tafelberg te klim om te gaan kyk hoe lyk die vyf damme na die winterreën. Die damme met hul indrukwekkende damwalle is tussen 1896 en 1907 gebou om Kaapstad van water te voorsien. Ons het die “twee stelle trappies” tot op die jeeppad hoër op geneem. Die rotswande met die fynbosblommetjies op hierdie deel is altyd mooi. Hoe hoër ons geklim het, hoe meer mistig het dit geword. Ons het dus nie veel van ‘n uitsig gehad nie, maar die mistigheid sorg weer vir mooi foto’s. Ons eerste stop was die De Villiers-dam waar ons op die klippe gesit en ontbyt geëet het. Hier kon ons glad nie die damwal aan die oorkant sien nie, so dig was die mis. Ons gaan aan by die Alexandra-dam en Victoria-dam en stap tot by die indrukwekkende Hely-Hutchinson-dam waar ons met die leertjie tot op die damwal klim. Ook hier kon ons nie die ander kant van die 582 meter lange damwal sien nie. Op pad na die Woodhead-dam stel een van die stappers voor dat ons tot by die “duikplank” stap – ‘n oorhangrots aan die Kasteelpoort-kant van die berg so ‘n kilometer verder. Dit het vir fantastiese uitsigte en baie foto’s gesorg. Hierdie ekstra stukkie kan ons gerus op toekomstige soortgelyke stappe inwerk. Ons stap terug tot by die Woodhead-dam en rus ‘n rukkie aan die einde van die damwal voor ons die jeeppad terug na ons motors aanpak. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Gerna en Edna vir die voorstap. Stapafstand: 17 km. Klimhoogte: 590 m.
Sederberge – 20 tot 24 September 2025
DAG 1: Ons vertrek na Sederberge, parkeer die motors op Driehoek-plaas onder die eikebome en begin stap net na middagete. Dis ‘n stywe opdraand met die swaar sakke tot by “Die Rif”, waar ons wil oornag. Dis ‘n lekker kampplek in ‘n Sederboom-woud naby water. Dis koud en na kosmaaktyd en bietjie gesels, kruip ons in. DAG 2: Dis weer ‘n lieflike sonskyndag en ons val in die pad, net met dagsakkies, na Wolfbergboog, via Gabrielspas. Dis ‘n stewige klim, maar “Die Boog” is altyd ‘n besondere baken. Middagetetyd is ons terug by die kamp, opgewarm en reg vir die volgende 5 km na ons oornag plek by die Panorama-grot. Dit begin lyk na reën, soos voorspel vir die nag, en ons raak haastig. Nadat die Welbedacht-grot bekyk is, klouter ons verder na ons oornag-grot. Daar is gelukkig ook water naby. ‘n Paar brawes slaan tent op. Ons maak kos en kuier lekker knus in die grot, met pragtige uitsigte. Die weer versleg, dit begin reën en die wind waai verwoed. Die tentbewoners se tentjies klou vas deur die nag, met ‘n natterigheid wat hier en daar deurslaan, maar almal oorleef. Die wind gaan lê deur die nag en ons word beloon met ‘n volmaakte sonskynoggend. DAG 3: Ons stap terug tot by die Sleeppad en bly vir lank nog in Tafelberg en die “Spout” se skaduwee. Net verby Sleeppad-hut draai ons uit in Sneeukop se rigting. Ons volg die Eselsbank-rivier tot by die Twin Peaks, waar ons kamp opslaan. Dis nog vroeg-middag en ons kan lekker die waterval daar naby bekyk, vir ‘n slag ‘n “bad” vat, klere was en nat goed laat uitdroog. Ná ‘n lekker kuier en kosmaak, sak die son en dis koud. Tyd vir die warm slaapsak. DAG 4: Ons begin met ‘n effense opdraand, bewonder die verskeie mooi watervalle, wat sterk loop na die goeie reëns en die kameras klik aanhoudend. Ons stap verby Lauries Hell (‘n gedeelte van Sneeukop), bekyk Sneeukop-hut en neem weer die Sleeppad, wat net daar by die hut begin. Ons vorder tot by die bo-punt van Engelsmanskloof en bewonder die pragtige uitsig terwyl ons middagete geniet. Ons daal verder met die Sleeppad, draai af by Sleeppad-hut en sak ernstig af al met Jan Dissels-rivier langs tot onder by Grootmansvlakte, waar ons tente staanmaak, tussen die beskutte rotse. Ons verkeer uiters gesellig en maak aandkos vir oulaas. Dis ‘n pragtige koue windstil aand en die sterre skyn ekstra helder. DAG 5: Begin die dag met ‘n baie koue windjie. Vandag is dit net al die pad afdraand na die motors. Ons raak ontslae van al ons orige kos vir middagete langs ‘n lekker stroompie. Almal het nou stal geruik en ons is teen 12:00 terug by die motors. Werner verras ons met koue biere wat hy daar in sy bakkie op die ys gehou het. Heeeerlikk!!!
Dit was ‘n wonderlike 5 dae in die besondere atmosfeer van die Sederberge. Ons is dankbaar vir die geseënde tyd saam met lekker mense. ‘n GROOT dankie aan Santie Kies vir al die toutjies bymekaar hou en al die reelings. Stapafstand: 58 km. Klimhoogte: 1509 m.
Koopmanskloof, Bottelaryheuwels – 27 September 2025
Die stap is gelei deur Madeleine Krause en Keenan wat in die area woonagtig is en die roete goed ken. Altesaam 26 stappers met heelwat besoekers het die oggend saam gestap in perfekte weer. Die stap is geskuif sodat ons beter blomme kon sien en ons was nie teleurgesteld nie. Ons asems het goed gejaag met die opdraande en ons kon gereeld stop om ie pragtige uitsigte oor die Skiereiland te besigtig. Die staproete is goed instand gehou en ons het op die koppie gebreek vir tee, waarna ons weer terug gestap het. Tydsduur was 2 uur 54 minute. Baie dankie aan Madeleine en Wynand Krause vir al die reëlings. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 285 m.
Jonkershoek, Sosyskloof – 4 Oktober 2025
Ons was 8 dames wat gestap het. Ons het die admin teen 08:30 afgehandel en was reg om te begin stap. Dit was effe koel maar daar was geen wind nie. Dit was eintlik ‘n baie mooi dag. Ons aanvanklike plan was om Sosyskloof kloksgewys te stap (op in Swartboskloof tot by die afdraai op die kontoerpad en dan na Sosyskloof) maar ons het vanaf die hek ‘n vroeë afdraai op ‘n dienspad na regs gevat en toe regs opgedraai op ‘n stappaadjie wat ons na die ‘fire lookout’ geneem het (waar ons aanvanklik middagete beplan het). Ons besef toe dat ons besig was om die roete anti-kloksgewys te stap. Met die meeste van die klim toe agter die rug, neem ons ‘n 10 min breek want dit was nog te vroeg vir ontbyt. Ons het vanaf die groen huisie die laaste stukkie opgeklim tot op die kontoerpad, waarvan die eerste deel van die paadjie baie nou was met steil afgronde. Om 11:40 stop ons vir brunch by die inheemse bome met lekker sitplek, koeltebome reg rondom ons. Ons het iets geëet, lekker gelag vir stories en sommer 5 min by rustyd bygesit. Ons het verder gestap tot waar die Sosyskloofroete by die Swartbosroete aansluit en hier links op die Swartbosroete afgedraai en die paadjie tot onder by die jeeptrack en toe terug hek toe gevolg. Ons het omtrent 8 koggelmanders gesien, en een swart slang wat blitsvinnig voor Gerna (stapleier) verby geseil in die pad. So 10m later het ons vars bobbejaan ‘bollie’ in die pad gesien en so 8m verder ons die eerste bobbejaan gesien. Ons was rustig en het aangestap. ‘n Paar meter verder het ‘n klein bobbejaantjie op die klip gesit en vir ons gekyk. Die res het in die gras geskarrel. Ons is veilig daar verby. Ons het mooi blomme gesien. Ons het ervaar dat dit baie beter is om die roete anti-kloksgewys te stap en sal dit in die toekoms weer so stap. Wildcard is geldig vir Swartboskloof/Sosyskloof roete. Dankie vir elkeen wat saam kom stap het. Baie dankie aan Gerna Hough vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte 355m.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2025
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
There is a special silence in the mountains that invites us to pause and reflect. The majestic peaks and the vast landscapes make us realize our own insignificance in the universe. Hiking in the mountains is an experience that humbles us and inspires us at the same time. “Only where you have walked on foot have you really been.” – Messner
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna
