~ 15 Augustus 2025: Otter se bespreking open Maandag 18 Aug | 15 stapverslae

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapsake: Net ‘n vinnige nuusbrief om te sê die Otter-voetslaanpad se besprekings open Maandag 18 Augustus om 07:00 byElvin van Zyl by 083 456 9424 (slegs WhatsApp-boodskappe). Al die inligting oor hierdie ikoniese roete langs die suidkus is hieronder. Die datums is 23 tot 29 November – rydatums ingesluit. Saterdag 6 September se lang Assegaaiboskloof word met die korter en meer toeganklike Sterrietjieskop vervang – ook in die Bergriviervallei buite Franschhoek. Verder werk ons aan 2026 se stapprogram en het ons verlede naweek ‘n groot re-unie van die Visrivier Canyon gehou.
  • Stapwenke wat kan help: i) Drink genoeg water (die aanbeveling is ten minste ‘n halwe liter per uur), ii) gebruik lipsalf met ‘n sonbeskermingsfaktor (dit help om velkanker te voorkom), iii) staan stil as jy foto’s neem (anders kan jy oor ‘n klip val), iv) pak jou goed in plastieksakkies om dit teen reën en water te beskerm (geen rugsak is regtig waterdig nie), v) dra helder kleure (sodat jy maklik raakgesien kan word in geval van nood), vi) bring ekstra sokkies (vir ingeval jou voete nat word en jy met koue voete verder moet loop), vii) sorg dat jou skoenveters nie los punte of lussies het wat aan bossies kan vashaak en jou kan laat struikel nie, viii) sorg dat jou toonnaels kort geknip is (veral as daar baie afdraandes op die roete is), ix) lemoene kan ‘n goeie bron van energie wees, en x) moenie bang wees om gereeld te stop en te rus nie. Sien https://simplylocal.life/12-overlooked-hiking-tips/
  • THE se stapsokkies: Die THE-span het verlede jaar by ons jaareindfunksie ‘n stalletjie gehad waar hulle hul stapsokkies verkoop het. Die onderkante van die sokkies is van sybokhaar (mohair) wat help dat jy nie blase kry nie. Daar is tans ‘n promosie op hul webwerf waar jy 3 paar sokkies vir R399 kan koop. Sien https://thesocks.co.za/.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Devonvale-sirkelroete, Matoppie, die Luiperdkamerastap, Orangekloof, Tsitsikamma, Knorhoek-wynplaas, Tafelberg Extreme,Tafelberg Kabelkar-McClearsbaken, Arangieskop, Rhebokskloof, Platteklipkloof, Visrivier Canyon, Perdekop by Mont Rochelle, die Zewenwacht-dammestap, en Paarlberg hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

PAPKUILSVLEI, SANDVELD, REDELINGHUYS – SATERDAG 16 TOT SONDAG 17 AUGUSTUS 2025

Volbespreek

Beginpunt: 08:00 op die plaas Papkuilsvlei van Gys van Lill (1 km buite Redelinghuys). Organiseerder: Santie Kies by 082 299 1753. Graad: 2B (veeleisend, 16 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweekstap wat uit slenterstap bestaan. Slaap oor in hut met beddens en matrasse. Koste: Stappermit, oornagverblyf en hout sowat R440. Brandstofdonasie (2 x 185 km = 370 km) R330 (met 3 betalende passasiers per voertuig / of reël self). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Santie sê: Ons ry Saterdagoggend vroeg Sandveld en aartappelwêreld toe en kom op die plaas Papkuilsvlei naby Redelinghuys bymekaar. Ons begin die Saterdagoggend te stap. Die roete lyk aanvanklik maklik, maar dit klouter oor rotse en deur skeure en grotte om jou die mooiste van die gebied te wys. Party stappers noem dit “Klein Oorlogskloof”. Die Sandveld is ook baie mooi in die blommetyd. Ons bly die Saterdagaaand oor by ‘n gesellige kamp (met kamers, badkamers en ‘n heerlike kuier-“sitkamer”). Ons kan die aand braai. Daar is warmwaterstorte. Die ligte en yskas werk met ‘n kragopwekker.

TAFELBERG: TWAALF APOSTELS – SATERDAG 23 AUGUSTUS 2025

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Oudekraalweg 37, Kampsbaai. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (redelik), 14 km. Groepgrootte           Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Kobus en Edna sê: Hierdie sirkelroete bied ongelooflike mooi uitsigte oor die Atlantiese kus bokant Oudekraalbaai en Cosy-baai. Die roete loop naby die Twaalf Apostels Hotel verby, deur pragtige fynbos en kolle inheemse woud, en verby reusagtige granietrotse met uitsigte oor Llundudno en Klein Leeukop. Dit is ‘n onthoubare mooi stap.

ELANDSBAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 29 TOT SONDAG 31 AUGUSTUS 2025

Volbespreek

Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Graad: 2B (redelik, 1 lang dagstap, 1 korter dagstap). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n naweekstap waar ons kamp en dagstappe doen. Koste:                 Permitkoste van dagstappe: Finale bedrag sal deurgegee word. Kamp en hout: R225 pp (sluit adminheffing vir lede in). Brandstofdonasie (220 km x 2 = 440 km) R550 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit).

Werner en Brenda sê: Elandsbaai is ‘n vriendelike vissersdorpie aan die Weskus, sowat 220 km noord van Kaapstad. Ons kuier hier in die blommetyd wat dit baie spesiaal maak. Elandsbaai is bekend vir sy strande en surfers, en vir Verlorenvlei – een van die grootste riviermondings in die streek, met 232 verskillende voëlspesies, onder meer flaminke en pelikane. Ons kamp by die Elandsbaai Hotel (hulle het kampeergeriewe), doen twee dagstappe en verken die omgewing.

FRANSCHHOEK – BERGRIVIERDAM, STERRETJIESKOP – SATERDAG 6 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 25 Augustus

Beginpunt: 08:00 by Bergrivierdam se parkeerarea (bokant die dam aan Robertsvlei se kant). Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (12 km; 480 m klimhoogte, geen klouterwerk nie). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R80. Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Hierdie roete begin by die Bergrivierdam net voor Franschhoek. Vanaf die parkeerplek kies ons koers berge toe en klim op tot op die middelkontoerpad waar ons dan regs draai. Ons stap met die kontoerpad vir ‘n paar kilometer tot ons die afdraai na Sterrietjieskop links kry. Dan volg ‘n opdraand tot op Sterretjieskop met sy fantastiese uitsig oor die Franschhoekvallei. Ons volg dieselfde paadjie terug maar stap die laaste deel via die jeeppad terug na ons motors. ‘n Mooi en moeite-werd stap.

TAFELBERG: 5 DAMME – SATERDAG 13 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 1 September

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Constantianek. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (trappiespad tot op jeeppad is, 15 km, klimhoogte 569 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos en iets warms om te drink, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Kom ons gaan kyk hoe lyk die damme op Tafelberg in die winter. Ons stap op met die trappiespad en jeeppad tot op die agterste tafel en kyk hoe lyk die vyf damme op ons pad. Lekker dagstap om jou naweek die moeite werd te maak.

SEDERBERGE – LANGSTAP SATERDAG 20 TOT WOENSDAG 24 SEPTEMBER 2025 (24 SEPT = VAKANSIEDAG)

Volbespreek

Stapleier: Santie Kies by 082 299 1753. Graad: 2B (44 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dit is ‘n wildernis-stap en alles moet saamgedra word – ook ‘n tent, tensy jy verkies om onder die sterre te slaap. Dit is ook nog lekker koud in September in die Sederberge, so bring genoeg warm klere en ‘n warm slaapsak. Die beplande roete en slaapplekke kan aangepas word afhangend van die weersomstandighede. Koste: Stappermit: R680 (R170 x 4) (met Wildcard) / R1030 (sonder Wildcard) – presiese bedrag sal deurgegee word. Brandstofdonasie (235 km x 2 = 470 km) R600 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit). Adminheffing R50 (lid) / R100 (besoeker).

Santie sê: Ons verken van die mooiste dele van die Sederberge met hierdie roete van 5 dae – met genoeg tyd om hierdie wildernisgebied te waardeer. Dag 1 (5.5 km): Ons vertrek Saterdagoggend vroeg uit die Kaap na Driehoek-plaas in die Sederberge, waar ons die motors onder die akkerbome parkeer. Stap vanaf parkeerarea bergop via  Welbedacht, en kamp by die Panorama-grot. Daar is geen water naby nie. Sorg dus vir eie water vir die aand. Dag 2 (10.1 km): Stap vanaf Panorama-grot op na Sleeppad jeeppad. Stap tot by Sleeppadhut. Draai weg met voetpad na Eselbank se Hoek (Lauries Hell omgewing) en kamp daar naby rivier. Dag 3   (10.6 km): Stap vanaf Eselbank se Hoek, verby Sneeukophut. Volg dan die sleeppad tot by Engelsmanskloof en klouter daar af. Stap na “The Anvil” en kamp by die swempoel daar naby. Dag 4 (8.4 km): Stap vanaf die swempoel-kampplek terug, dan verby Crystal Pool hut en Crystal pools, af met Groot-Hartseer na Grootlandsvlakte. Kamp naby Muller se water. Dag 5 (9.4 km): Stap met jeeppad verby Middelberg-Suid terug na motors by Welbedacht.

BOTTELARYHEUWELS: KOOPMANSKLOOF – SATERDAG 27 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 15 September

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Koopmanskloof. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 2A (redelik, 13 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste         Permit: R50 pp. Brandstofdonasie afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand en Madeleine sê: Die roete in die Bottelary-bewaringsgebied begin en eindig op die plaas Koopmanskloof. Ons het hierdie roete na September geskuif omdat die veld dan op sy mooiste is in die blommetyd. Die roete neem ons na die hoogste punt (476 m) in die bewaringsgebied met pragtige uitsigte vanaf Tafelberg tot by Paarlberg. ‘n Heerlike dagstap hier op ons drumpel.

BETTEYSBAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 3 TOT SONDAG 5 OKTOBER 2025

Volbespreek

Staporganiseerder: Gerna Hough by 082 978 8611. Graad: Saterdag: 3A (lank en redelik maar nie groot klimhoogte nie, 24 km, 8 uur) + Sondag: kort stap (1A). Groepgrootte: 12. Inpak: Ons basis vir die naweek is ‘n gerieflike huis in Bettysbaai. Pak in soos vir 2 dagstappe met braai elke aand. Bring eie slaapsakke en handdoeke. Koste: Verblyf R417 + R20 hout. Brandstofdonasie (84 km x 2 = 168 km) R210 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit). Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).

Gerna sê: Ons basis in Bettysbaai maak dit vir ons moontlik om die Saterdag een van die mooiste roetes in die Kogelberg-natuurreservaat te stap sonder om nog terug te ry Kaap toe die aand (hierdie roete word deur Werner Dalziel gelei). Die Sondag doen ons ‘n kort dagstap. Saterdag (24 km, 8 uur): Die roete loop oor die berghange bokant Oudebosrivier, verby Oudebosch na Platbos en ‘n kol oorblywende inheemse woud. Van Platbos volg die roete die een oorblywende spoor van ‘n viertrekpad na Louwsbos en volg dan die loop van die Louwsrivier voor ons langs die oostelike hange van Dwarsberg na die beginpunt terugkeer. Hierdie roete is bekend vir sy fynbos (die reservaat lê in die hartjie van die Kaapse Blommeryk en bevat sowat 1 600 plantspesies) en uitsig oor die berge. Sondag: ‘n Kort stap waarna ons oppak en rustig terugry Kaap toe.

TAFELBERG: DUIWELSPIEK – SATERDAG 11 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 29 September

Beginpunt- en tyd: 08:00 op Tafelbergbergpad naby begin van Duiwelspiekroete. Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 600 m), 10 km Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons ry met die Tafelberg-pad tot so 3 km anderkant die kabelkarretjie se onderste stasie. Dit is waar ons parkeer en waar die stap begin. Dit is ‘n stewige klim met ‘n sig-sag-paadjie tot bo-op Duiwelspiek. Maar die ongewone uitsig op Tafelberg, Leeukop, die stadskom en Robbeneiland maak dit die moeite werd en gee jou nogals ‘n “sense of achievement”.

KLOOVENBURG, RIEBEEK-KASTEEL – SATERDAG 18 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 6 Oktober

Staporganiseerder: Freddie Pohl by 074 304 7678. Graad: 2B (redelik, 10 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Toegangsgeld: R60 (dit is ‘n vrywillige donasie om die staproetes verder te ontwikkel). Brandstofdonasie R120 (80 km x 2). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Freddie sê: Kloovenburg is ‘n wynlangoed in ‘n vrugbare vallei aan die voet van die Kasteelberg net buite Riebeeck-Kasteel. Die plaas het ‘n ryk geskiedenis en is die eiendom van Pieter du Toit, wie se pa en seun albei Springbok-rugbyspelers was/is. Ons begin en eindig by die Kloovenburg-wynkelder. Die eerste deel van die nuut-ontwikkelde roete loop met ‘n redelike steilte teen die voet van die berg op, deur bosse op na ‘n grot en ‘n oopte met uitsig oor die hele Riebeeck-vallei, voordat mens die draai onder toe aanpak. Van daar af stap ons met ‘n sirkelroete deur wingerde en olyfboorde, ‘n uitsonderlike rots-olyfboom-kombinasie. Die laaste deel stap ons neffens die Malmesbury-pad terug na die beginpunt. Na die stap kan ons ontspan met ‘n opsionele wyn- of olyfproe. Daar is ook oulike eetplekke wat ons kan verken.

HEXRIVIERVALLEI, WORCESTER: FONTEINTJIESBERG – SATERDAG 18 TOT SONDAG 19 OKTOBER 2025

Volbespreek

Vertrek: 07:00 Saterdagoggend. Staporganiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (veeleisend): 12,5 km x 2, klimhoogte 943 m. Groepgrootte: 8. Inpak: Soos vir oornagstap met hut. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Permit: R150 pp. Brandstofdonasie (89 km x 2 = 178 km) R225 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem). Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).

Amanda sê: Ons stap hierdie roete met die vriendelike vergunning van die Bergklub van Suid-Afrika. Ons vertrek die Saterdagoggend om 07:00 na die Fairy Glen-landgoed in die Hexriviervallei sowat 5 km buite Worcester waar ons aanmeld en ons voertuie parkeer. Die stap is veeleisend, maar ons doen dit oor 2 dae. Sowat 6 uur se rustige stap per dag. Ons slaap Saterdagaand in die Thomas-hut op ’n hoogte van sowat 1992 meter. Asemrowende uitsigte en ’n moeite-werd stap want daar is geen ander manier om hierdie mooi klowe te sien nie.

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 25 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 13 Oktober

Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R30 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Mariette sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.

BERGRIVIER: AFRIKAKOP, FRANSCHHOEK – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Beginpunt- en tyd: 07:30 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, 19 km, 1108 m klimhoogte). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, swemklere, windjekker, ens. Koste: Permit R80 (kontant of Zapper / Snapscan). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Hierdie stap begin by die Bergrivierdam buite Franschhoek en loop deur die Banhoekberge tussen Stellenbosch en Franschhoek. ‘n Asemrowende stap – letterlik en figuurlik – maar die uitsigte is die moeite werd. Sien video by https://www.youtube.com/watch?v=oSRFmb7BaUE.

GROTTO BAY, MELKBOSSTRAND – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die Grotto Bay private natuurreservaat langs die Weskus. Stapleier: Freddie Pohl by074 304 7678. Graad: 2A (9 km): Groepgrootte: 24. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie (68 km x 2 = 136 km) R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.

Freddie en Susan sê: Ons stap ‘n sirkelroete van 9 km in die Grotto Bay private natuurreservaat sowat 60 km noord van Kaapstad (28 km noord van Melkbosstrand) (moenie Grotto Bay verwar met Grotto Beach by Hermanus nie). Grotto Bay vorm deel van die Kaapse Weskus-biosfeer wat in 2000 deur UNESCO tot bewaringsgebied verklaar is. Ons stap ook ‘n deel langs die see. Vir dié wat lus het – daar is ‘n oulike eetplek by die Groote Post-wynplaas so 9 km verder. Ons kan agterna soontoe gaan vir iets te ete. Heerlike en besondere mooi dagstap langs die Weskus.

TAFELBERG: ROOIKAT RAVINE EN KURKWOUD – SATERDAG 8 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 27 Oktober

Beginpunt: 07:30 by Cecilia Forest se parkeerarea by https://goo.gl/maps/9JGQRNWCAFpMNPwa8. Stapleier: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A, gemaklike 8 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons begin om 08:00 te stap vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons stap eers op tot by die kontoerpaadjie en dan aan tot by die afdraaipaadjie na Kirstenbosch. Hier draai ons egter links en klim met ‘n hele paar trappe die berg uit totdat ons weer begin afdaal na Cecilia-waterval. Ons stap dan voort tot by Constantianek voordat ons weer terugdraai. Ons stap deur die Kurkwoud tot terug by die begin. Dit is ‘n gemaklike 8 km.

SEEPUNT-STAP – SATERDAG 15 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 3 November

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Queen’s Beach parkeerarea, Seepunt. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik, 11 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Jy kan met tekkies of goeie plakkies ook stap. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Kobus en Edna sê: ‘n Lekker stap langs die see met mooi uitsigte oor die Twaalf Apostels-berge en die Atlantiese Oseaan (en van die duurste huise in die land). By Bakoven eet ons ontbyt op die groot plat rotse en stap dan rustig met dieselfde paadjie terug. (Daar is geleentheid vir swem langs die pad vir diegene wat kouewaterterapie beoefen!) Ons behoort teen 13:00 terug te wees by die motors.

JAAREINDFUNKSIE – SATERDAG 22 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Plek: Word later bekend gemaak. Op die agenda: Bekendstelling van 2026 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), lekker eet en kuier. Meer besonderhede word later deurgegee. Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895

OTTER-VOETSLAANROETE, SUID-KAAP – MAANDAG 24 – VRYDAG 28 NOVEMBER 2025 (stapdatums)

Bespreek vanaf Maandag 18 Augustus (slegs WhatsApp-boodskappe)

Stapreëlings: Elvin en Carine van Zyl by 083 456 9424 (net WhatsApp-boodskappe). Graad: 2B (veeleisend, 41 km oor 5 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir 5-dag stap met oornaghutte met beddens en matrasse. Survival bag en tou vir rivierkruisings. Slegs bio-afbreekbare seep. SA ID-dokument. Wees voorbereid op enige soort weer. Koste: Otter-permit R2118 per persoon. Plus daaglikse bewaringsfooie van R82 per dag (maar as jy Wildcard het, betaal jy geen bewaringsfooie nie; bring egter jou Wildcard en SA ID saam). Vervoerkoste (shuttle) na beginpunt: + R200. Oornagverblyf voor en na die stap (2 aande): + R500. Brandstofdonasie R1400 (615 km x 2 = 1 230 km). Adminheffing R25 per lid / R100 per besoeker.

Elvin en Carine sê: Jy moet ten minste een keer in jou lewe die Otter stap! Ons vertrek vroeg die Sondagoggend (23 November) en ry tot by Nature’s Valley. Ons reël blyplek vir die aand voor die stap, en die Vrydagaand na die stap. Ons stap van Maandag 24 tot Vrydag 28 November. Ons ry rustig Saterdag 29 November terug Kaap toe. Die Otter-voetslaanpad in die Tsitsikamma Nasionale Park is die eerste amptelike voetslaanroete in Suid-Afrika. Dit is in 1968 geopen, en loop van die Stormsriviermond weswaarts tot by Nature’s Valley (De Vasselot-kampterrein). Dit is een van die skouspelagtigste kusstroke in die land en is bekend vir sy kuswoude, reusebranders, afgesonderde baaie en ‘n kusplato bedek met heide en proteas.

  • Dag 1: 4,6 km – sowat 3 uur. Vanaf Stormsrivier-kampeerterrein tot by Ngubu se hutte. Stap verby mooi waterval waar ons kan swem.
  • Dag 2: 7,9 km – sowat 6 uur. Van Ngubu se hutte – Scott se hutte. Kruis Kleinbosrivier, stap verby Bloubaai en Skilderkrans.
  • Dag 3: 7,7 km – sowat 4 uur. Van Scott se hutte na Oakhurst se hutte. Kruis Geelhoutbosrivier, Elandsbosrivier, Lotteringrivier (survival bags soms hier nodig).
  • Dag 4: 13,8 km – sowat 8 uur. Van Oakhurst se hutte na André se hutte. Kruis Witelsrivier, Bloukransrivier (net voor 10 km merk) (survival bags nodig vir ingeval). Dit is sowat 4 uur se stap van Oakhurst na Bloukransrivier. Dit is sowat 2 uur se stap van Bloukransrivier na die oornaghut.
  • Dag 5: 6,8 km – sowat 3 uur. André se hutte na Nature’s Valley. Kruis die Kliprivier en klim tot op die rand van die koppies. Loop op die plato tot jy uiteindelik weer by die strand uitkom, en loop dan seelangs tot by Nature’s Valley.

Belangrik: Onthou jou ID-boek. Slegs bio-afbreekbare seep op roete toegelaat. Ons sal nader aan die tyd inligting oor die getye bekend maak vir die rivierkruisings.

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 29 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 10 November

Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 18de wyntoer wees. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

KLEIN ROOSBOOM: “PARTY BIKE” – SATERDAG 6 DESEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 24 November

Beginpunt: Tyd en plek word later deurgegee. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (“fietsry” deur die wingerde). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R250 pp. Brandstofdonasie – afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand sê: Hierdie is ‘n heerlike sosiale “fietsrit” op ‘n “party bike” (maksimum spoed 8 km per uur!) waarop 12 mense vir 2 uur lank deur die wingerde op die wynplaas Klein Roosboom kan ry, met wyn en musiek (en plek vir jou selfoon) daarby. Ons kan agterna by Klein Roosboom gaan koffie drink.

STAPVERSLAE

Devonvale-sirkelroete vanaf Clos Malverne – 5 April 2025

Altesaam 20 stappers het opgedaag om onder leiding van Christel Liebenberg – plaaslike inwoner en ‘n komiteelid van die Discover Rhenosterveld-bewaringsinisiatief – die stap mee te maak. Die dag was lekker sonnig en het toenemend warmer geword. Die eerste 1,5 km was teerpad langs totdat ons kort duskant die Devon Valley Hotel regs geswenk het en langs boorde en stukke renosterveld begin stap het. ‘n Stewige bult (sonder enige afplatting vir die volgende kilometer of wat) het die minder fikses se asemhaling goed opgejaag. Tussendeur het Christel haar kennis oor die veld en die omgewing gedeel. Almal het iets geleer, ook dat die optimale tyd van die jaar om in die omgewing te stap Augustus tot Oktober is, wanneer die veld sy blomryke jas aantrek. By Kunjani Wynplaas se proelokaal (halfpad op die roete) kon die stappers yskoue vrugtesap en ‘n ontbyt-wrap geniet en dit was nogal luuks om op rusbanke bedien te word teenoor die normale sit in die veld. Die tweede helfte van die stap, meestal met jeeptrack en plaaspaadjies, het deur die boorde en landskap van plase soos Hartenberg, Grand Domaine, Domaine Coutelier, JC Le Roux en Louisvale gestrek. Die pragtige vallei met Stellenboschberge op die horizon het skouspel verleen en mooi foto’s kon geneem word. Die stap is afgesluit met pizza, wyn en roomys vir sommiges by Clos Malverne. Spesiale dank aan Christel vir haar kundigheid en vriendelikheid, sonder daar enige rekening van haar was en bloot ‘n donasie aan Discover Rhenosterveld gevra is. Elke stapper het ook ‘n mooi drasak van die inisiatief ontvangs ter wille van bewusmaking van die bewaringsgebied. Baie dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 261 m.

Matoppie, Bergrivierdam, Franschhoek – 12 April 2025

Nadat die weer glad nie wou saamspeel met die Chapmanspiek-roete nie, besluit Werner ons moet steeds gaan stap. Hy bied toe Matoppie in die Bergriviervallei by Franschhoek as alternatief aan – ‘n gemaklike stap wat selfs in die reën gestap kan word. Sewe van ons kom by die damwal van die Bergrivierdam bymekaar en begin stap nadat die admin afgehandel is. Ons stap teen ‘n gemaklike pas en neem die dag ‘n bietjie van ‘n ander paadjie. Ons stop vir koffie en iets om te peusel, maar dit is nie lank nie of die reën begin uitsak. Ons stap verder in die reën tot terug by ons motors. Ons geniet na die tyd iets te drinke voor ons terugry huis toe. Baie dankie aan Werner Dalziel vir sy inisiatief om die beste van die Saterdag te maak. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 321 m.

Luiperdkamerastap – 19 April 2025

Die 11 stappers is almal betyds by Eerste Tol en ná die admin afgehandel is begin ons om 07:00 stap nét toe dit lig raak. Ons vorder goed in perfekte weersomstandighede. Ons stop vir ‘n wyle op die saaltjie. Behalwe vir die heerlike koel weer is die paadjie ook wonderlik begaanbaar. Ons is kort ná 09:00 by die kameras. Almal vlei hulle neer op die graspolle terwyl Steph die kameras afhaal. Cape Leopard Trust het laat weet dat hulle kontrakteurs gaan gebruik om vir die volgende 6 maande regoor die Wes-Kaap oral kameras op te stel vir ‘n opnameprojek. Ons neem dus die kameras huistoe en sal dit weer in September gaan opstel. Ons begin om ongeveer 09:40 ons terugtog, steeds in ideale omstandighede. Nege van ons gaan geniet ‘n bier met tjips by The Bell Inn. Ons het darem 5 foto’s elk met ‘n luiperd daarop vasgevang. Dit was beslis die aangenaamste stap op hierdie roete oor die laaste 10 jaar! Baie dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings wat hierdie stap moontlik gemaak het. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 m.

Orangekloof, Tafelberg – 27 April 2025

Altesaam 11 stappers het by Constantianek parkeer en om 08:00 begin stap nadat die admin afgehandel is. Daar was drie paadjies wat nie een gemerk is nie. Ongelukkig het ons die derde pad gevat, daarna die twee en laaste die eerste afdraai – “Tented Camp – no entry”.  Ons het in die mooi woud gestap en ontbyt by die waterstroom geëet. Ek het ent verder gestap om te kyk waarheen die pad gaan. Ons moes terugdraai en weer op hoofpad kom en het verder gestap. By die damwal het dit gelyk hier is die pad. Die paadjies was egter toegegroei en ons kon ook geen pad verder sien nie.  Daarna het ons weer teruggedraai na die hoofpad wat ons tot by die ou kampeerterrein gelei het. Daar het ons met meerderheid stemme gegaan en besluit om terug te stap op die pad soos ons ingekom het. Ons het vermoed daar was ‘n afdraaipad wat lyk of dit klim na die kloof. Tyd het ons effe gevang – ons het gestap en in koelte gesit en middagete gehou. Soos dit die tradisie is, hou ons ‘n kompetisie op hierdie roete. Vraag 1: Noem die name van die 5 damme op Tafelberg. Estelle Havenga was die wenner van die pakkie kasjoeneute.  Vraag 2:  In watter jaar is Woodhead-dam gebou? Hanneke Pienaar was die naaste reg aan 1897 wat die antwoord was. Sy ontvang ‘n paaseier. Daarna het ons terug gestap. Die roete was steeds mooi, maar ons kon ongelukkig nie die Hell’s Gate roete vind nie. Baie dankie aan Gerna Hough vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 256 m.

Tsitsikamma – 29 April tot 5 Mei 2025

Dag 1: Ses van ons pak die Tsitsikamma aan. Ons ry lekker vroeg op Dag 1 vanuit die Kaap tot in Nature’s Valley. Daar aangekom, sorteer ons die admin by die kantoor uit en kry die goeie nuus dat die riviermond toe is. Dit het beteken dat ons die korter roete seelangs kon stap om by Kalanderhuit uit te kom. Dag 2: Ons begin om 08:00 te stap en sommer met die eerste voet by die deur uit reën dit lekker. Ons stap basies die hele oggend in die reën maar stop darem onder die brug onder die N2 vir ‘n bietjie droogheid. Ons kom uiteindelik by die Bloukranshut aan. Dag 3: Daar is eers ‘n lekker klim op na die plato van waar ons ook die Bloukransbrug kon sien. Ons sak later af na die Bloukransrivier waar ons met behulp van ‘n tou die rivier oorsteek. Die klim aan die anderkant van die rivier tap ‘n mens se energie maar ons maak dit. Ons stap verder op ‘n relatiewe plato na Keurboshut. Dag 4: Vandag se stap is redelik gelyk behalwe vir een groot klim na die Lotteringrivier. Daar is vandag drie rivierkruisings en elkeen kruis maar die riviere op die manier wat vir hulle gemaklik is. Na ‘n laaste rivierkruising (of twee) kom ons by Heuningboshut uit. Dag 5: Vandag is die twee groot klimme op die roete. Ons begin ‘n bietjie vroeër stap en mik eers om oor Rushes Pass te stap. Dit is ‘n ordentlike klim tot bo en ons sak weer af aan die ander kant na ‘n rivier wat op geen kaart aangedui is nie. Gelukkig is die maklik om oor te steek en ons mik vir die tweede groot klim – Nademaalsnek. Dit is nog ‘n ordentlike klim totdat ons bo by die klipstapel uitkom wat die hoogste punt aandui. Ons sak aan die ander kant af en loop al op die rif langs tot ons die Stormsrivier bereik waar die paadjie dan terugdraai en suid na Sleepkloofhut mik. Dag 6: Ons stap die laaste paar kilometer tot by die Petroport waar ons aan roosterbroodjies, muffins, koffie en dies meer smul. Ons ry dieselfde dag nog terug Kaap toe. Hoewel ons groot dele van die roete in die reën gestap het, was dit nog steeds bitter mooi – die berglandskappe, woude en alles tussenin. Al die hutte was in ‘n goeie toestand en ons kon elke aand warm stort, mits die donkie gestook is. ‘n GROOT dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 58 km. Klimhoogte: 2774 m.

Knorhoek-wynplaas – 3 Mei 2025

‘n Groep van 19 dapper stappers het om 08:00 bymekaar gekom. Die opgewondenheid om mekaar weer te sien was gekenmerk met lag en gesels, soveel so dat ons stil gemaak moes word omrede ons naby die gastehuis ontmoet het. In ligte luim het ons die eerste skof van 6 km begin stap. Die uitsigte is werklik mooi en genoeg van ‘n opdraande net vir ‘n asembreek en warm klere uit te trek. Madeleine en Wynand was voor terwyl Steph die agter-beskerming behartig het. Daar was nie ‘n teebreek nie omdat die stap kort was. Madie het die ekstra Bosroete van 2 km saam 14 stappers gedoen. Die roete het pragtige bome en skaduwee met ‘n pofadder wat rustig langs die pad gelê het. Drie stappers is verby toe Gerna die slang met haar fotografiese oog oplet en eers ‘n paar foto’s geneem het. By die proekamer het die tweede groep by die ander vyf lede aangesluit en koffie en Italiaanse brood geniet, oftewel wynproe-en-pizza. Dankie aan almal. Dit was ‘n eerste stap op die wynplaas en ook ‘n heerlike stap. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 226 m.

Tafelberg Extreme – 17 Mei 2025

Sewe van ons kom die Saterdagoggend by die Ryterplaats-hek bymekaar. Ons handel die admin af en begin stap. Dit is heelpad ‘n steil opdraand en dit sukkel maar. Toe ons by die eerste stel “staples” aankom, volg ons die minder gebruikte paadjie na Judasgrot. Dit sukkel maar en daar is ‘n bietjie bundu bashing en baie los klippe. Uiteindelik kom ons by die grot uit waar ons ‘n welverdiende breek neem. Ons pak die paadjie terug aan tot by die eerste stel “staples” en klim verder. Ons mik opwaarts en voorwaarts tot ons uiteindelik by Judaspiek aankom waar ons vir middagete stop. Na ‘n ordentlike rus neem ons dieselfde paadjie terug. ‘n Lekker uitdagende stap met baie klouterwerk. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 770 m.

Tafelberg Kabelkar-McClearsbaken – 24 Mei 2025

As jy naby  aan Kaapstad bly moet jy so dan en wan met die kabelkar opry teen Tafelberg en dit was vir tien van ons weer op nuut ‘n aangename belewenis. Na die reën vroeër in die week was Saterdagmiddag se weer perfek en almal was oorgehaal om na McClear’s Beacon (die hoogste punt op die berg) te stap. Ons kon nie gevra het vir ‘n beter stapleier as Beulagh nie – sy is werklik ‘n fontein van kennis oor die berg en sy geskiedenis (onder meer oor oud-premier Jan Smuts se staptogte en oor die Portugese seevaarder Saldana). Die konvensionele roete na die baken het ons so sewentig minute geneem om te voltooi en daar kon almal smul aan hul padkos. Die uitsigte na Houtbaai en Kalkbaai se kant, oor die hawe en na Duiwelspiek (met net sy boonste spits sigbaar) bly fenomenaal. Almal het ingestem met Beulagh se voorstel om ‘n effe meer “avontuurlike” roete – met ‘n deel daarvan min of meer op die rand van die bergplato – terug te volg. Dit was ‘n interessante afwisseling en ons het by die Platteklipkloof-afdraai se leer weer by die tradisionele roete aangesluit. Teen 16:30 was ons terug by die kabelstasie en kon almal ontspan met ‘n bier of koffie by die restaurant. Meeste moes onder nog  ‘n hele ent loop na hul voertuie, maar ons het dit maar nie ingetel in die statistieke nie! Baie dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding en baie dankie aan Freddie Pohl vir die stapreëlings. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 149 m.

Arangieskop – 31 Mei tot 1 Junie 2025

Sewe van ons kom die Vrydagaand by Dassiehoek se hut bymekaar en slaap daar oor. Ons deel die huis met nog ‘n groep stappers wat tot laataand skrop en gesels. Ons begin vroeg te stap en pak die roete teen die berg uit aan. Eers is daar ‘n lang jeeptrack, dan sien jy die bordjie vir Arangieskop, en dis net op en op en op. Ons klim stadig en geleidelik op. Die weer is absoluut perfek en jy kan vir kilometers en kilometers ver sien. Ons moet af klouter na die rivier, waar ons bietjie ‘n ruskans vat. Van daar begin die laaste aanhoudende op tot bo. Die uitsigte raak net beter en beter. Ons hou middagete net voordat ons die laaste stuk pad aanpak wat voel of dit nooit ophou nie. Aangekom by een van die beste hutte, kry ons groep ‘n kamer en elkeen skrop en doen sy ding. Die ander groep is reeds daar en het vuur gemaak vir braai en ook vir die donkie. Ons rus lekker en geniet die asemrowende uitsigte oor die Koo-vallei. Die volgende oggend 07:30 begin met ‘n stewig 200 m klim van die hut tot bo-op die piek. Op die piek met ‘n hoogte van 1696 m het jy 360-grade uitsigte. Ons neem foto’s by die baken met die Suid-Afrikaanse vlag wat in ‘n trommeltjie gehou word onder die baken. Na die fotosessie – DAN SAK JY AF.  Eers is dit rustig en stadig af met die leer, en daarvandaan sak jy 600 m oor net minder as 3 km. Uiteindelik kom ons in die rivierloop aan waar daar so bietjie rock hopping en scrambling gedoen word voordat ons uiteindelik op die kontoerpad beland. Hiervandaan is dit voorwaarts voordat ons nog een laaste kloof moet af en op. Hiervandaan is dit net af en af en af en aanhoudend tot weer by die einde. Maak seker jy is fiks en reg vir hierdie uitdagende stap wat nie verniet die “Kilimanjaro of the Cape” genoem word nie. ‘n GROOT dankie aan Werner Booyens vir sy uitstekende leiding en omgee vir mense. Hy verdien ‘n medalje! Baie dankie ook aan Brenda Sideratos vir die stapreëlings. Stapafstand: 25 km. Klimhoogte: 1784 m.

Rhebokskloof – 14 Junie 2025

Ons was 16 stappers wat die relatief nuwe staproete van Paarl Trails by Rhebokskloof aangedurf het. Die wintersdag was beslis ‘n goeie tyd van die jaar om in die Paarl-omgewing te stap. (Met Mei se recce-stap het die sweet ons nog afgeloop!) Die roete self bied skouspelagtige uitsigte oor die Paarl-vallei, wingerde en bos. Op die plaas self is enorme aanbouings onderweg wat die landgoed waarskynlik meer eksklusief in die toekoms kan maak. Flat Rock (‘n groot klipplaat) was ‘n mooi baken onderweg en het net bietjie laat gekom vir die “brunch break”. Plek-plek moes mens konsentreer by steil afdraandes wat duidelik daar vir bergfietsryers was. ‘n Tougly-opsie was groot pret – Katinka (Kobus en Edna se kleindogter) het dit veral geniet! Algeheel was dit ‘n aangename maar stewige 2A-stap en almal het saamgestem dat die natuurskoon dit die moeite werd maak. ‘n Punt van kritiek: as gevolg van die verskeidenheid roete-opsies is padmerkers en -aanwysings (hoewel daar baie is) by tye verwarrend. Ons moes teen die einde improviseer en weg van die pyle beweeg om ons eindpunt te bereik. Die roete-organiseerder Darren van Paarl Trails (nie deel van die Rhebokskloof-opset nie) was vriendelik en het vooraf en tydens die stap telefonies probeer help met verwarrende roete-aanwysings. Die verwarring het daarmee te doen dat die roetes hoofsaaklik vir fietsryers ontwikkel is. Dit is dus belangrik dat die stapleier die roete vooraf gaan recce. Maar eind goed, alles goed! Baie dankie aan Freddie Pohl vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 312 m.

Tafelberg, Platteklipkloof – 21 Junie 2025

Sewe stappers kom om 08:00 by Platteklipkloof se beginpunt op die Tafelberg-pad bymekaar en begin in mistige weer te stap. Die berg is mooi na die vorige dag se reën. Later die oggend trek die wolke weg en dit is heerlik sonnig, met ‘n koel wind. Ons sit en eet in die son by die kabelkarstasie bo-op die berg en durf die pad af aan. Platteklip is soos gewoonlik steil, maar goeie oefening vir die bene! Baie dankie aan Abrie Marais vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 714 m.

Visrivier Canyon, Namibië – 6-10 Julie 2025

Altesaam 14 stappers het die Visrivier Canyon van 6 tot 10 Julie 2025 aangepak. Die groep van die staptoerklub het die vorige aand by Amanzi langs die Oranjerivier gekamp. Die Overbergers het die Saterdagby Ai-Ais aangesluit. Ons was groep 135. Sondag 6 Julie – afstand 6.08km: Dis vroeg opstaan en oppak. Ons neem die 07:00 shuttle vanaf Ai-Ais na Hobas. By Hobas handel ons die papierwerk af en drink ‘n laaste koffie. Na ‘n vinnige stop by die uitkykpunt ry ons tot by die stapbeginpunt. Na die verpligte groepfoto begin ons om 09:40 met die groot afklim na onder. Teen 12:00 is ons onder by die rivier. Na ‘n ruskans stap ons oor klipplate, rotse en sandbanke na ons slaapplek. Maandag 7 Julie – Afstand 13.7km: Ons begin so net voor 08:00 te stap. Die mikpunt is Palm Springs of ‘n slaapplek sowat 1 km daarna. Die dag se stap loop oor klipplate, rotse en sand. Ons sien onder meer luiperdspore, en natuurlik baie bobbejaanspore. Ons stop vir foto’s by die Vespa, wat die jaar mooi swart geverf is met wit blommetjies. Ons bereik Palm Springs teen ongeveer 15:00 en ontspan in die warm modderwater. Op pad na ons slaapplek sien ons wilde perde. Dinsdag 8 Julie – afstand 19.7km: Dis ‘n lang stapdag en ons begin weer so net voor 08:00 te stap. Die canyon begin oopmaak en daar is lang stukke gruispaadjies, baie “pebbles” en natuurlik sand. Ons slaap net na die 40 km merk. Woensdag 9 Julie – afstand 16.7km: Ons begin weer voor 08:00 stap. Vandag is lang afstand, met kortpaaie. Vorige stappers het aanbeveel dat ons nie die eerste kortpad doen nie, maar om die draai stap. Dis ‘n effense soektog om die pad te kry verby die begin van die kortpad, en ‘n paar stappers klim soos bergbokke teen die koppie uit. Die res van ons kry uiteindelik die regte roete en stap om die draai van die rivier. Daar wag ons vir die bergbokke voor ons verder stap. Die tweede kortpad is makliker en ons stap verby Viervingerrots, die Duitser se graf en oor die vlakte tot by ons slaapplek by die laagwaterbrug. Pink Palace is toe, so daar is nie burgers en bier nie – stapkos moet maar doen vir aandete. Donderdag 10 Julie – afstand 15.96km: Ons begin lekker vroeg sodat ons Bandage Pass kan aanvat voor dit te warm raak. Ons stap verby Pink Palace. Muggies, sand, dis warm, nog sand – dis hoe die dag verloop .Ons kom net na 13:00 in Ai-Ais aan. Dankbaar, nederig, moeg, dors en honger. Baie dankie aan Vlam vir jou uitstekende leiding, deeglike navorsing en beplanning. Dankie aan elkeen wat saamgestap het, wat op sy/haar eie manier ‘n bygedra het om die stap spesiaal te maak. Dit was ‘n besonderse stap-ervaring. Ons is dankbaar vir ‘n goeie en veilige stap. Die stappers sê:

Magda: Elke rots, elke rivierklip, elke blom en die maan se weerkaatsing in die water – wat meer kan ‘n mens vra. Alles net genade vir ons as nietige mense, ‘n geskenk uit God se hand.

Elsie: Om die Visrivier Canyon te stap was ‘n ongelooflike ervaring – fantasmogories in elke opsig. Die maanlig wat op die water weerkaats het, het die aande magies gemaak terwyl heldergeel blommetjies onverwags tussen klipstreke deurgebreek het. Die kranse het met elke draai nuwe vorms aangeneem, en my verbeelding het vlerke gekry. Die groepie se samehorigheid, Tertius se sang, sy tydige grappies en lekkers, en Vlam se inspirerende leierskap het alles saamgesnoer tot ’n onvergeetlike avontuur. Ek is dankbaar dat ek hierdie wonderlike reis saam met julle kon beleef.

Elza: Die wonderlike dorre landskap na en van Ai-Ais en in die Canyon self. Die baie kranse, klippe en waterpoele en die laaste aand se groot vuur met Vlam se vermaaklike stories. Die ongelooflike weer. Die hitte is klaar weer vergete.

Ulla: Die steil afgrond is ‘n klein opoffering vir die natuurskouspel wat daar onder vir jou wag. Soveel mooi elke dag, van die mooiste van blommetjies, rotsformasies en waterweerspiëelings. Ons was so ‘n lekker klomp saam. Ons het saam swaar gekry maar ook baie gelag. My kop is skoon en my hart loop oor van al die lekker. My eerste maar hopelik nie die laaste Vis nie.

Facebook-kommentaar vanaf ‘n ander groep. Ons was group 134 en hierdie groep was vol jokes en pragtige mense. Vlam julle groep rock, hoor! Hulle het regte spanbou bly hou en hulle kan stap, hoor! Dit was so lekker om julle te ontmoet. Julle spangees was merkbaar. Julle het ons lekker gemotiveer.

Abrie: Die Visrivier is nooit dieselfde nie, en elke keer wat jy dit stap, is dit ‘n nuwe ervaring. Jy vergeet die swaarkry en onthou die mooi, die rustigheid, die saamwees met stappers wat vriende word.

‘n Enorme groot dankie aan Abrie Marais en Joubert Matthee (Vlam) vir al die reëlings (en daar was baie) en die stapleiding (wat ‘n groot verantwoordelikheid in die afgeleë wildernisgebied is). Stapafstand: 72 km. Klimhoogte: 755 m.

Perdekop, Mont Rochelle-natuurreservaat – 19 Julie 2025

Saterdagoggend het vier van ons by die Mont Rochelle-reservaat in Franschhoek bymekaar gekom. Gelukkig was dit darem nie te koud soos ander jare nie. Ons het 07:30 begin stap. Ons het ‘n vinnige 3 minute stop by Breakfast Rock geneem. Die uitsigte was pragtig omdat daar geen mis was nie. Daarna stap ons tot bo-op die nek waar ons rustig tee gedrink het. Perdekop lê 1575 m bo seevlak en is die hoogste piek in die reservaat. Ons het geen sneeu op pad gekry nie – net water wat ge-ys het. Ons het lekker foto’s geneem en heerlik gelag. Ons het die piek teen middagete bereik. Ongelukkig was daar ook geen sneeu nie. Die afstap neem sowat 3 ure tot by die bruggie wat oor die DuToits-rivierkloof strek. Dit was nogal veeleisend! Teen 15:50 was ons by die motors. Heerlike stap en goeie oefening. Beulagh sê: “Vandag weer besef, dat om stapfiks te wees, moet mens maar net gereeld in die berg stap.” Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap eersteklas gelei het en aan Brenda Sideratos vir die reëlings en ondersteuning. Stapafstand: 15 km. Klimhoogte: 1036 m.

Zewenwacht-damme – 26 Julie 2025

Op ’n koelerige Saterdagoggend was 19 lede om 08:00 gereed om die roete van 12 km verby die plaas se damme aan te durf. Die eerste skof van 4 km het ons tot op die hoogste punt van die stap geneem. Ons het Mooiplaas se Lapa met sy 360-grade uitsig ’n warm dingetjie geniet. Daarvandaan het ons 2 km gestap tot by die hoogste dam op die plaas. Na ‘n vinnige stop om die skoonheid van die Skiereiland en die uitsig oor die plaas te geniet, het ‘n afdraand van 2 km gevolg tot by nog twee damme. Ons het toe ‘n entjie op ‘n openbare pad gestap en toe weer op die plaaspad afgedraai na die laaste dam. Hier het almal ‘n oomblik gesoek vir ‘n goeie ruskans, wat sou gebeur na nog ‘n draai deur die wingerde en ‘n kort bult. Ons het by die proelokaal gestop vir die allerheerlikste croissants en cappuccino. Hierna het ons die laaste stukkie na die parkeerplek gestap voordat ons mekaar gegroet en huiswaarts gekeer het. Ons is dankbaar dat daar geen beserings was nie en almal het die heerlike geselsskap en mooi natuurtonele geniet. ‘n Groot dankie aan Arie en Arina van Eck vir al die uitvindwerk, reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 357 m.

Paarlberg – 2 Augustus 2025

Saterdag het 13 van ons die roete teen Paarlberg aangedurf met die hoofdoel om die dag te geniet. Ons het vanaf die veldblomtuin by Meulwater met die Jan Phillips-bergpad in ‘n noordelike rigting gestap, by ‘n pragtige waterval en kol inheemse woud afgedraai en toe tot by Oukraal opgeklim. Oukraal was vroeër een van die drie kampplekke waar daar in die Kerstyd uitgekamp is. Dit is ook hier waar die “Oukraal-liedjie” geskryf is. Ons stap toe al met die tweespoorpaadjie langs in die rigting van Betheldam waar ons tee gedrink het. Ons is toe verby Krismiskamp na die twee groot granietrotse Bretagne- en Gordon-klip wat 50 miljoen jaar oud is. ‘n Paar van ons het tot bo by die baken geklim terwyl die res onder gewag het. Na ‘n lekker koppie koffie en broodjies vat ons die pad na Paarlrots met sy kanon en daarvandaan terug na Meulwater. Dit was ‘n pragtige windstil sonskyndag met lekker gesels saam met stapvriende. Ons soek dikwels die mooi op ver plekke terwyl die “pêrels” hier op ons voorstoep is. ‘n Groot dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding. Stapafstand: 17 km. Klimhoogte: 533 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2025

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

The goal isn’t fast cars and designer bags. It’s a regulated nervous system, free time, people you love, and waking up excited every day.

Definition of camping: Where silence, stars and simplicity meet. – Camperville

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna