~ 23 Julie 2025: Stapprogram vir res van 2025

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapsake: Dit is goed om die son te sien na die bibberkoue van die afgelope weke. Die 16 stappers wat die Visrivier Canyon in Namibië met Abrie Marais en Vlam Matthee as stapleiers gestap het, is heelhuids terug na hierdie eiesoortige stap wat jy ten minste een keer in jou lewe moet doen. Tot ander groepe het op die Facebook-blad “I hiked the Fish River Canyon” kommentaar gelewer oor watse gawe mense ons is. Terugskouend was dit die regte besluit om nie verlede jaar met die waterskaarste in die canyon te stap nie. Ons moes ‘n paar stappe skuif oor verskillende redes. Paarlberg en Papkuilsvlei is omgeruil. Ons is besig met reëlings vir die winterfunksie en sal binnekort inligting deurgee. Die Bainskloofstap om ons twee nuwe luiperdkameras te installeer, was oorspronklik vir 23 Augustus geskeduleer maar dit sal nou iewers in September of Oktober plaasvind sodra ons die datums van die Cape Leopard Trust af kry. Sien die jongste weergawe van die stapprogram hieronder en kom stap saam!
  • Outdoor Warehouse se jaarlikse uitverkoping: Moet jy jou staptoerusting aanvul of iets vervang? Onthou van Outdoor Warehouse by Willowbridge (oorkant Tygervallei-winkelsentrum) se groot uitverkoping wat Donderdag 31 Julie begin.
  • Fotokompetisie vir 2026-boekieprogram se voorblad: Hou hierdie in gedagte op jou stappe. Die foto’s wat jy inskryf moet in 2025 deur jou geneem word. Landskap-formaat (dwars); goeie gehalte foto’s; 2 inskrywings per persoon; foto’s geneem op klubstappe. Dit sal in wit-en-swart gebruik word. (As daar mense op jou foto is, moet hulle verkieslik nie herkenbaar wees nie. Neem hulle byvoorbeeld van agter af.) Sluitingsdatum: 9 Januarie 2026. Jou inskrywings kan gestuur word na Gerna Hough by gernah81@gmail.com.
  • Sommer vir die interessantheid: Extreme Ironing is ‘n ding. “Extreme Ironing is an unusual adventure sport that combines the mundane task of ironing with extreme outdoor activities. Participants take ironing boards to remote, dangerous, or adventurous locations—such as mountain cliffs, forests, or underwater—and iron clothes while engaging in the thrill of the environment. It originated in the UK in 1997 and has since gained international attention for its bizarre yet entertaining blend of domesticity and adrenaline.” Tik “Extreme Ironing” in op Facebook of google dit.
  • Asics trail running skoene te koop: Nr 9 (black and sandstorm gel-Trabuco 11 mesh lace-up trainers) nog nooit gebruik nie (te groot gekoop), R1385 (was R2800). Kontak Gerna Hough by 082 978 8611.
  • Stapverslae: Ons gee hierdie weer in die volgende nuusbrief.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

ZEVENWACHT-DAMME, KUILSRIVIER – SATERDAG 26 JULIE 2025

Nog 2 plekke oop

Beginpunt: 07:45 by Zevenwacht – http://zevenwacht.co.za/map/ (parkeerplek regs van die ingang, net voor die “boom”). Stapleiers: Ari en Arina van Eck by 084 626 3301. Graad: 2B (redelik; 12 km) Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Sorg dat jy genoeg warm klere het. Bring koffie of iets warms en broodjie om bo by Tielman se Lapa te geniet. Koste: Stappermit R50. Brandstofdonasie R60 (afhangend van hoe ver jy moet ry). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Opsioneel vir na die stap (maar jy moet hierdie teen Donderdag by Ari bespreek): Wynproe R72 (hierdie is ‘n spesiale prys om 2025 se 3 kampioenwyne te proe – Z Collection Chenin Blanc, Tin Mine Red 2022, Estate Syrah 2022 – die wyne het 97% op Trophy Wine Show gekry) OF Cappuccino + croissant R55. Bring jou permitgeld en wynproegeld / cappuccino+croissant geld in kontant saam na die beginpunt toe want ons moet as groep betaal. Daar is ook kouevleis-en-kaasborde en pizzas.

Ari en Arina sê: Die roete loop deur die wingerde en verby die damme op die Zevenwacht-landgoed by Kuilsrivier en bied pragtige uitsigte oor Tafelberg, Valsbaai, Gordonsbaai en Tafelbaai. Ons omdraaipunt is ‘n klein lapa bo-op ‘n koppie. Die 12 km in die buitelug is net wat jy nodig het om uit jou gewone naweekpatroon te kom.

PAARLBERG – SATERDAG 2 AUGUSTUS 2025

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Paarlberg-natuurreservaat by Meulwater. Staporganiseerder: Amanda Matthee by 0825703895. Graad: 2B (18 km; 585 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

KIRSTENBOSCH: SILVERTREE-ROETE – SATERDAG 9 AUGUSTUS 2025

Bespreek vanaf Maandag 28 Julie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Kirstenbosch se Rycroft-hek (Hek 3). Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (11 km, 453 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met sonbeskerming, kos, water, ens. Koste: Toegang by Kirstenbosch R100. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Ons kom om 08:00 by die Rycroft-hek (Hek 3) bymekaar. Daar is parkeerplek aan die linkerkant van die pad – sien kaart hier: https://www.sanbi.org/wp-content/uploads/2018/11/Kirstenbosch-Garden-Map-2018-W.pdf. Die Silvertree-roete kombineer die mooiste van Kirstenbosch met ‘n redelike klim tot op die 300-meter kontoerpad en dan ‘n stewige afdraand tot weer in Kirstenbosch – ‘n goeie 11 km se stap. Ons eet middagete by die “scree belt” (strook klippe), wat fantastiese uitsigte oor die Skiereiland bied. Sien: https://www.sanbi.org/gardens/kirstenboch/safety-on-the-mountain/nursery-ravine/silvertree-trail/. Ons kan agterna by die Tea Room gaan koffie drink.

PAPKUILSVLEI, SANDVELD, REDELINGHUYS – SATERDAG 16 TOT SONDAG 17 AUGUSTUS 2025

Volbespreek

Beginpunt: 08:00 op die plaas Papkuilsvlei van Gys van Lill (1 km buite Redelinghuys). Organiseerder: Santie Kies by 082 299 1753. Graad: 2B (veeleisend, 16 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweekstap wat uit slenterstap bestaan. Slaap oor in hut met beddens en matrasse. Koste: Stappermit, oornagverblyf en hout sowat R440. Brandstofdonasie (2 x 185 km = 370 km) R330 (met 3 betalende passasiers per voertuig / of reël self). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Santie sê: Ons ry Saterdagoggend vroeg Sandveld en aartappelwêreld toe en kom op die plaas Papkuilsvlei naby Redelinghuys bymekaar. Ons begin die Saterdagoggend te stap. Die roete lyk aanvanklik maklik, maar dit klouter oor rotse en deur skeure en grotte om jou die mooiste van die gebied te wys. Party stappers noem dit “Klein Oorlogskloof”. Die Sandveld is ook baie mooi in die blommetyd. Ons bly die Saterdagaaand oor by ‘n gesellige kamp (met kamers, badkamers en ‘n heerlike kuier-“sitkamer”). Ons kan die aand braai. Daar is warmwaterstorte. Die ligte en yskas werk met ‘n kragopwekker.

BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SATERDAG 23 AUGUSTUS 2025

Hierdie stap word vir iewers in September of Oktober geherskeduleer om ons twee nuwe luiperdkameras te installeer. Ons gee die nuwe datum deur sodra ons van die Cape Leopard Trust hoor.

TAFELBERG: TWAALF APOSTELS – SATERDAG 23 AUGUSTUS 2025

Bespreek vanaf Maandag 11 Augustus

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Oudekraalweg 37, Kampsbaai. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (redelik), 14 km. Groepgrootte           Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, genoeg water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Kobus en Edna sê: Hierdie sirkelroete bied ongelooflike mooi uitsigte oor die Atlantiese kus bokant Oudekraalbaai en Cosy-baai. Die roete loop naby die Twaalf Apostels Hotel verby, deur pragtige fynbos en kolle inheemse woud, en verby reusagtige granietrotse met uitsigte oor Llundudno en Klein Leeukop. Dit is ‘n onthoubare mooi stap.

ELANDSBAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 29 TOT SONDAG 31 AUGUSTUS 2025

Volbespreek

Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Graad: 2B (redelik, 1 lang dagstap, 1 korter dagstap). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n naweekstap waar ons kamp en dagstappe doen. Koste:                 Permitkoste van dagstappe: Finale bedrag sal deurgegee word. Kamp en hout: R225 pp (sluit adminheffing vir lede in). Brandstofdonasie (220 km x 2 = 440 km) R550 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit).

Werner en Brenda sê: Elandsbaai is ‘n vriendelike vissersdorpie aan die Weskus, sowat 220 km noord van Kaapstad. Ons kuier hier in die blommetyd wat dit baie spesiaal maak. Elandsbaai is bekend vir sy strande en surfers, en vir Verlorenvlei – een van die grootste riviermondings in die streek, met 232 verskillende voëlspesies, onder meer flaminke en pelikane. Ons kamp by die Elandsbaai Hotel (hulle het kampeergeriewe), doen twee dagstappe en verken die omgewing.

FRANSCHHOEK – BERGRIVIERDAM, ASSEGAAIBOSKLOOF – SATERDAG 6 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 25 Augustus

Beginpunt: 08:00 by Bergrivierdam. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, sowat 25 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R80. Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Hierdie roete begin by die Bergrivierdam net voor Franschhoek en loop op in Assegaaiboskloof tot by ‘n waterval (ons klim nie op tot by die Bergriviernek nie), voordat ons met dieselfde roete terugkom. Die roete is lank (goeie oefening as jy vir die Sederberge of Otter oefen) en indrukwekkend (omring deur Jonkershoek se berge). Jy sal die aand weet hoe fiks / onfiks jy was.

TAFELBERG: 5 DAMME – SATERDAG 13 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 1 September

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Constantianek. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (trappiespad tot op jeeppad is, 15 km, klimhoogte 569 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos en iets warms om te drink, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Kom ons gaan kyk hoe lyk die damme op Tafelberg in die winter. Ons stap op met die trappiespad en jeeppad tot op die agterste tafel en kyk hoe lyk die vyf damme op ons pad. Lekker dagstap om jou naweek die moeite werd te maak.

SEDERBERGE – LANGSTAP SATERDAG 20 TOT WOENSDAG 24 SEPTEMBER 2025 (24 SEPT = VAKANSIEDAG)

Volbespreek

Stapleier: Santie Kies by 082 299 1753. Graad: 2B (44 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dit is ‘n wildernis-stap en alles moet saamgedra word – ook ‘n tent, tensy jy verkies om onder die sterre te slaap. Dit is ook nog lekker koud in September in die Sederberge, so bring genoeg warm klere en ‘n warm slaapsak. Die beplande roete en slaapplekke kan aangepas word afhangend van die weersomstandighede. Koste: Stappermit: R680 (R170 x 4) (met Wildcard) / R1030 (sonder Wildcard) – presiese bedrag sal deurgegee word. Brandstofdonasie (235 km x 2 = 470 km) R600 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit). Adminheffing R50 (lid) / R100 (besoeker).

Santie sê: Ons verken van die mooiste dele van die Sederberge met hierdie roete van 5 dae – met genoeg tyd om hierdie wildernisgebied te waardeer. Dag 1 (5.5 km): Ons vertrek Saterdagoggend vroeg uit die Kaap na Driehoek-plaas in die Sederberge, waar ons die motors onder die akkerbome parkeer. Stap vanaf parkeerarea bergop via  Welbedacht, en kamp by die Panorama-grot. Daar is geen water naby nie. Sorg dus vir eie water vir die aand. Dag 2 (10.1 km): Stap vanaf Panorama-grot op na Sleeppad jeeppad. Stap tot by Sleeppadhut. Draai weg met voetpad na Eselbank se Hoek (Lauries Hell omgewing) en kamp daar naby rivier. Dag 3   (10.6 km): Stap vanaf Eselbank se Hoek, verby Sneeukophut. Volg dan die sleeppad tot by Engelsmanskloof en klouter daar af. Stap na “The Anvil” en kamp by die swempoel daar naby. Dag 4 (8.4 km): Stap vanaf die swempoel-kampplek terug, dan verby Crystal Pool hut en Crystal pools, af met Groot-Hartseer na Grootlandsvlakte. Kamp naby Muller se water. Dag 5 (9.4 km): Stap met jeeppad verby Middelberg-Suid terug na motors by Welbedacht.

BOTTELARYHEUWELS: KOOPMANSKLOOF – SATERDAG 27 SEPTEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 15 September

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Koopmanskloof. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 2A (redelik, 13 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste         Permit: R50 pp. Brandstofdonasie afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand en Madeleine sê: Die roete in die Bottelary-bewaringsgebied begin en eindig op die plaas Koopmanskloof. Ons het hierdie roete na September geskuif omdat die veld dan op sy mooiste is in die blommetyd. Die roete neem ons na die hoogste punt (476 m) in die bewaringsgebied met pragtige uitsigte vanaf Tafelberg tot by Paarlberg. ‘n Heerlike dagstap hier op ons drumpel.

BETTEYSBAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 3 TOT SONDAG 5 OKTOBER 2025

Volbespreek

Staporganiseerder: Gerna Hough by 082 978 8611. Graad: Saterdag: 3A (lank en redelik maar nie groot klimhoogte nie, 24 km, 8 uur) + Sondag: kort stap (1A). Groepgrootte: 12. Inpak: Ons basis vir die naweek is ‘n gerieflike huis in Bettysbaai. Pak in soos vir 2 dagstappe met braai elke aand. Bring eie slaapsakke en handdoeke. Koste: Verblyf R417 + R20 hout. Brandstofdonasie (84 km x 2 = 168 km) R210 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem / sorteer onderling uit). Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).

Gerna sê: Ons basis in Bettysbaai maak dit vir ons moontlik om die Saterdag een van die mooiste roetes in die Kogelberg-natuurreservaat te stap sonder om nog terug te ry Kaap toe die aand (hierdie roete word deur Werner Dalziel gelei). Die Sondag doen ons ‘n kort dagstap. Saterdag (24 km, 8 uur): Die roete loop oor die berghange bokant Oudebosrivier, verby Oudebosch na Platbos en ‘n kol oorblywende inheemse woud. Van Platbos volg die roete die een oorblywende spoor van ‘n viertrekpad na Louwsbos en volg dan die loop van die Louwsrivier voor ons langs die oostelike hange van Dwarsberg na die beginpunt terugkeer. Hierdie roete is bekend vir sy fynbos (die reservaat lê in die hartjie van die Kaapse Blommeryk en bevat sowat 1 600 plantspesies) en uitsig oor die berge. Sondag: ‘n Kort stap waarna ons oppak en rustig terugry Kaap toe.

TAFELBERG: DUIWELSPIEK – SATERDAG 11 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 29 September

Beginpunt- en tyd: 08:00 op Tafelbergbergpad naby begin van Duiwelspiekroete. Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 600 m), 10 km Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons ry met die Tafelberg-pad tot so 3 km anderkant die kabelkarretjie se onderste stasie. Dit is waar ons parkeer en waar die stap begin. Dit is ‘n stewige klim met ‘n sig-sag-paadjie tot bo-op Duiwelspiek. Maar die ongewone uitsig op Tafelberg, Leeukop, die stadskom en Robbeneiland maak dit die moeite werd en gee jou nogals ‘n “sense of achievement”.

KLOOVENBURG, RIEBEEK-KASTEEL – SATERDAG 18 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 6 Oktober

Staporganiseerder: Freddie Pohl by 074 304 7678. Graad: 2B (redelik, 10 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Toegangsgeld: R60 (dit is ‘n vrywillige donasie om die staproetes verder te ontwikkel). Brandstofdonasie R120 (80 km x 2). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Freddie sê: Kloovenburg is ‘n wynlangoed in ‘n vrugbare vallei aan die voet van die Kasteelberg net buite Riebeeck-Kasteel. Die plaas het ‘n ryk geskiedenis en is die eiendom van Pieter du Toit, wie se pa en seun albei Springbok-rugbyspelers was/is. Ons begin en eindig by die Kloovenburg-wynkelder. Die eerste deel van die nuut-ontwikkelde roete loop met ‘n redelike steilte teen die voet van die berg op, deur bosse op na ‘n grot en ‘n oopte met uitsig oor die hele Riebeeck-vallei, voordat mens die draai onder toe aanpak. Van daar af stap ons met ‘n sirkelroete deur wingerde en olyfboorde, ‘n uitsonderlike rots-olyfboom-kombinasie. Die laaste deel stap ons neffens die Malmesbury-pad terug na die beginpunt. Na die stap kan ons ontspan met ‘n opsionele wyn- of olyfproe. Daar is ook oulike eetplekke wat ons kan verken.

HEXRIVIERVALLEI, WORCESTER: FONTEINTJIESBERG – SATERDAG 18 TOT SONDAG 19 OKTOBER 2025

Volbespreek

Vertrek: 07:00 Saterdagoggend. Staporganiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (veeleisend): 12,5 km x 2, klimhoogte 943 m. Groepgrootte: 8. Inpak: Soos vir oornagstap met hut. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Permit: R150 pp. Brandstofdonasie (89 km x 2 = 178 km) R225 (vir voertuig met 2 betalende passiers / sal minder uitwerk indien voertuig meer passasiers kan neem). Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).

Amanda sê: Ons stap hierdie roete met die vriendelike vergunning van die Bergklub van Suid-Afrika. Ons vertrek die Saterdagoggend om 07:00 na die Fairy Glen-landgoed in die Hexriviervallei sowat 5 km buite Worcester waar ons aanmeld en ons voertuie parkeer. Die stap is veeleisend, maar ons doen dit oor 2 dae. Sowat 6 uur se rustige stap per dag. Ons slaap Saterdagaand in die Thomas-hut op ’n hoogte van sowat 1992 meter. Asemrowende uitsigte en ’n moeite-werd stap want daar is geen ander manier om hierdie mooi klowe te sien nie.

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 25 OKTOBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 13 Oktober

Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R30 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Mariette sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.

BERGRIVIER: AFRIKAKOP, FRANSCHHOEK – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Beginpunt- en tyd: 07:30 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, 19 km, 1108 m klimhoogte). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, swemklere, windjekker, ens. Koste: Permit R80 (kontant of Zapper / Snapscan). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Hierdie stap begin by die Bergrivierdam buite Franschhoek en loop deur die Banhoekberge tussen Stellenbosch en Franschhoek. ‘n Asemrowende stap – letterlik en figuurlik – maar die uitsigte is die moeite werd. Sien video by https://www.youtube.com/watch?v=oSRFmb7BaUE.

GROTTO BAY, MELKBOSSTRAND – SATERDAG 1 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die Grotto Bay private natuurreservaat langs die Weskus. Stapleier: Freddie Pohl by074 304 7678. Graad: 2A (9 km): Groepgrootte: 24. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie (68 km x 2 = 136 km) R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.

Freddie en Susan sê: Ons stap ‘n sirkelroete van 9 km in die Grotto Bay private natuurreservaat sowat 60 km noord van Kaapstad (28 km noord van Melkbosstrand) (moenie Grotto Bay verwar met Grotto Beach by Hermanus nie). Grotto Bay vorm deel van die Kaapse Weskus-biosfeer wat in 2000 deur UNESCO tot bewaringsgebied verklaar is. Ons stap ook ‘n deel langs die see. Vir dié wat lus het – daar is ‘n oulike eetplek by die Groote Post-wynplaas so 9 km verder. Ons kan agterna soontoe gaan vir iets te ete. Heerlike en besondere mooi dagstap langs die Weskus.

TAFELBERG: ROOIKAT RAVINE EN KURKWOUD – SATERDAG 8 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 27 Oktober

Beginpunt: 07:30 by Cecilia Forest se parkeerarea by https://goo.gl/maps/9JGQRNWCAFpMNPwa8. Stapleier: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A, gemaklike 8 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons begin om 08:00 te stap vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons stap eers op tot by die kontoerpaadjie en dan aan tot by die afdraaipaadjie na Kirstenbosch. Hier draai ons egter links en klim met ‘n hele paar trappe die berg uit totdat ons weer begin afdaal na Cecilia-waterval. Ons stap dan voort tot by Constantianek voordat ons weer terugdraai. Ons stap deur die Kurkwoud tot terug by die begin. Dit is ‘n gemaklike 8 km.

SEEPUNT-STAP – SATERDAG 15 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 3 November

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Queen’s Beach parkeerarea, Seepunt. Stapleiers: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Graad: 1A (redelik, 11 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Jy kan met tekkies of goeie plakkies ook stap. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Kobus en Edna sê: ‘n Lekker stap langs die see met mooi uitsigte oor die Twaalf Apostels-berge en die Atlantiese Oseaan (en van die duurste huise in die land). By Bakoven eet ons ontbyt op die groot plat rotse en stap dan rustig met dieselfde paadjie terug. (Daar is geleentheid vir swem langs die pad vir diegene wat kouewaterterapie beoefen!) Ons behoort teen 13:00 terug te wees by die motors.

JAAREINDFUNKSIE – SATERDAG 22 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 20 Oktober

Plek: Word later bekend gemaak. Op die agenda: Bekendstelling van 2026 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), lekker eet en kuier. Meer besonderhede word later deurgegee. Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895

OTTER-VOETSLAANROETE, SUID-KAAP – MAANDAG 24 – VRYDAG 28 NOVEMBER 2025 (stapdatums)

Bespreek vanaf Maandag 18 Augustus

Stapreëlings: Elvin en Carine van Zyl. Graad: 2B (veeleisend, 41 km oor 5 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir 5-dag stap met oornaghutte met beddens en matrasse. Survival bag en tou vir rivierkruisings. Slegs bio-afbreekbare seep. SA ID-dokument. Wees voorbereid op enige soort weer. Koste: Otter-permit R2118 per persoon. Plus daaglikse bewaringsfooie van R82 per dag (maar as jy Wildcard het, betaal jy geen bewaringsfooie nie; bring egter jou Wildcard en SA ID saam). Vervoerkoste (shuttle) na beginpunt: + R200. Oornagverblyf voor en na die stap (2 aande): + R500. Brandstofdonasie R1400 (615 km x 2 = 1 230 km). Adminheffing R25 per lid / R100 per besoeker.

Elvin en Carine sê: Jy moet ten minste een keer in jou lewe die Otter stap! Ons vertrek vroeg die Sondagoggend (23 November) en ry tot by Nature’s Valley. Ons reël blyplek vir die aand voor die stap, en die Vrydagaand na die stap. Ons stap van Maandag 24 tot Vrydag 28 November. Ons ry rustig Saterdag 29 November terug Kaap toe. Die Otter-voetslaanpad in die Tsitsikamma Nasionale Park is die eerste amptelike voetslaanroete in Suid-Afrika. Dit is in 1968 geopen, en loop van die Stormsriviermond weswaarts tot by Nature’s Valley (De Vasselot-kampterrein). Dit is een van die skouspelagtigste kusstroke in die land en is bekend vir sy kuswoude, reusebranders, afgesonderde baaie en ‘n kusplato bedek met heide en proteas.

  • Dag 1: 4,6 km – sowat 3 uur. Vanaf Stormsrivier-kampeerterrein tot by Ngubu se hutte. Stap verby mooi waterval waar ons kan swem.
  • Dag 2: 7,9 km – sowat 6 uur. Van Ngubu se hutte – Scott se hutte. Kruis Kleinbosrivier, stap verby Bloubaai en Skilderkrans.
  • Dag 3: 7,7 km – sowat 4 uur. Van Scott se hutte na Oakhurst se hutte. Kruis Geelhoutbosrivier, Elandsbosrivier, Lotteringrivier (survival bags soms hier nodig).
  • Dag 4: 13,8 km – sowat 8 uur. Van Oakhurst se hutte na André se hutte. Kruis Witelsrivier, Bloukransrivier (net voor 10 km merk) (survival bags nodig vir ingeval). Dit is sowat 4 uur se stap van Oakhurst na Bloukransrivier. Dit is sowat 2 uur se stap van Bloukransrivier na die oornaghut.
  • Dag 5: 6,8 km – sowat 3 uur. André se hutte na Nature’s Valley. Kruis die Kliprivier en klim tot op die rand van die koppies. Loop op die plato tot jy uiteindelik weer by die strand uitkom, en loop dan seelangs tot by Nature’s Valley.

Belangrik: Onthou jou ID-boek. Slegs bio-afbreekbare seep op roete toegelaat. Ons sal nader aan die tyd inligting oor die getye bekend maak vir die rivierkruisings.

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 29 NOVEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 10 November

Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 18de wyntoer wees. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

KLEIN ROOSBOOM: “PARTY BIKE” – SATERDAG 6 DESEMBER 2025

Bespreek vanaf Maandag 24 November

Beginpunt: Tyd en plek word later deurgegee. Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (“fietsry” deur die wingerde). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R250 pp. Brandstofdonasie – afhangend van hoe ver jy moet ry. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Wynand sê: Hierdie is ‘n heerlike sosiale “fietsrit” op ‘n “party bike” (maksimum spoed 8 km per uur!) waarop 12 mense vir 2 uur lank deur die wingerde op die wynplaas Klein Roosboom kan ry, met wyn en musiek (en plek vir jou selfoon) daarby. Ons kan agterna by Klein Roosboom gaan koffie drink.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2025

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

Moving your body will do more for your brain that any riddle, math equation, mystery book, or even thinking itself. – David Perlmutter, MD

Top definisies: Skarminkel – “a guy who brings frozen wors to a braai and ends up eating your prime steak instead”.

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna