~ 15 Mei 2025: Fotokompetisie | Volgende sarsie stappe vir jou beplanning

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapsake: Hieronder is ‘n vinnige nuusbrief om die volgende paar weke se stappe te verduidelik. Sosyskloof wat uitgereën het, word vir Saterdag 28 Junie geherskeduleer en dan skuif ons Koopmanskloof uit tot in September wanneer dit blommetyd is. Die stapreëlings vir Rhebokskloof se stap is nou by Freddie Pohl (dankie, Freddie). Daar is ‘n hele paar van die klub se lede wat tans op die Camino in Spanje is – Buon Camino!
  • Fotokompetisie vir lede – wen ‘n geskenkbewys! Ons hou ‘n kompetisie vir die voorblad van 2026 se boekieprogram. Die foto’s wat jy inskryf moet in 2025 deur jou geneem word. Landskap-formaat (dwars); goeie gehalte foto’s; 2 inskrywings per persoon; foto’s geneem op klubstappe. Dit sal in wit-en-swart gebruik word. (As daar mense op jou foto is, moet hulle verkieslik nie herkenbaar wees nie. Neem hulle byvoorbeeld van agter af.) Hanna Jacobs, ‘n professionele fotograaf, sal met die beoordeling help. Daar is ‘n geskenkbewys vir die wenfoto. Ons stuur later meer besonderhede, maar hou die kompetisie in gedagte wanneer jy foto’s op stappe neem! Sluitingsdatum: 9 Januarie 2026. Jou inskrywings kan gestuur word na Gerna Hough by gernah81@gmail.com.
  • Weet jy van nuwe staproetes? As jy op jou sosiale media platforms of op ander plekke nuwe staproetes sien wat vir jou lekker lyk, laat weet vir Wynand Krause by wynand@nautical4u.co.za. Ons gebruik dit dan as insette vir volgende jaar se stapprogram.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 17 MEI 2025

Bespreek nou

Beginpunt: 08:00 vanaf Suikerbossie se parkeerarea naby Ruyterplaats. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 4C, veeleisend, 12 km met 1000m+ klimhoogte. Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons begin om 08:00 te stap vanaf Suikerbossie se parkeerarea in Houtbaai naby Ruyterplaats. Ons stap dan na Llundudno Ravine, maar voor ons daar kom, neem ons  ‘n minder gebruikte paadjie na Judasgrot en vertoef ‘n rukkie daar. Ons klim dan op in Llundudno Ravine en stap bo-op die berg. Ons mik eers na Grootkopgrot en klim dan tot op Grootkop, die hoogste piek van die 12 Apostels, waar ons dan middagete geniet. Ons stap met dieselfde paadjie terug en stop by Judaspiek voor ons afsak terug na die motors toe. Fiksheid en ‘n kop vir hoogtes is ‘n moet vir die stap. Maak reg vir ‘n lekker dag van klim, klouter en verken.

TAFELBERG: KABELKAR NA MACCLEAR’S BAKEN EN TERUG: SATERDAG 24 MEI 2025

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 13:00 by onderste kabelkarstasie op Tafelbergpad (die kabelkarretjie se kaartjies is goedkoper vanaf 13:00). Besprekings: Freddie en Susan Pohl by 074 304 7678. Graad: 1B (redelik gelyk, sowat 10 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Retoerkaartjies vanaf 13:00: R420 vir volwassenes / R130 vir mense bo 60 / R210 vir kinders 4-17. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Koop kaartjies aanlyn by https://www.tablemountain.net/plan-your-visit/ticket-prices/. Interessante inligting oor Tafelberg: https://cms.tablemountain.net/uploads/documents/TMAC_Info_Guide_2019.pdf

Amanda en Freddie sê: Hierdie stap is onderhewig aan die weer. Teen Mei het ons gewoonlik pragtige windstil dae. Kom ons maak of ons toeriste is en ry met die kabelkarretjie tot op Tafelberg – dit is altyd ‘n ondervinding. Ons begin by die boonste kabelkarstasie en stap al op die voorste tafel langs, deur Platteklipkloof se dippie tot by MacClear’s Baken. Bring broodjies en koffie saam om hier saam met die uitsigte te geniet. Dan stap ons weer terug. Die roete is 10 km altesaam (2 uur se stap + tyd vir koffie by baken). Terug by die kabelkarstasie kan ons by die winkeltjie inloer en dalk koffie by die restaurant drink voor ons weer met die kabelkarretjie terugry.

ARANGIESKOP, ROBERTSON – VRYDAGMIDDAG 30 MEI TOT SONDAG 1 JUNIE

Volbespreek

Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 8. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R273 + Arangieskop se hut R246 + stappermit R86 = R605. Sowat R10 vir hout by Dassieshoek se hut. Brandstofdonasie (2 x 170 km = 340 km) R430 (met 2 betalende passasiers per voertuig, of reël self onderling).Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Dit is dus belangrik om te sorg dat jy fiks en voorbereid is. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in Suid-Afrika is, is Arangieskop die prins.

BERGRIVIER – FRANKRYKRIVIERSKLOOF, FRANSCHHOEK – SATERDAG 7 JUNIE 2025

Bespreek vanaf Maandag 26 Mei

Beginpunt- en tyd: 08:00 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 17 km). Groepgrootte:Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R80. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier (Snake Alley Loop). Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors. Swem en voete in die water sit is hier ‘n goeie opsie.

RHEBOKSKLOOF-DAGSTAP – SATEREDAG 14 JUNIE 2025

Bespreek vanaf Maandag 2 Junie by Freddie Pohl by 074 304 7678

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Rhebokskloof. Stapleiers: Freddie en Susan Pohl by 074 304 7678. Graad: 2A (stapafstand 10 km; klimhoogte: 270 m). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R100 vir volwassenes of R80 vir kinders / pensioentrekkers. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Ons gaan vra dat elkeen sy / haar eie permit aanlyn koop by https://paarltrails.com/purchase-day-permit/ (nadat ons seker gemaak het van die weer). Kaart om by Rhebokskloof uit te kom: https://www.rhebokskloof.co.za/about/ (kyk onderaan die bladsy).

Freddie en Susan sê: Ons stap die nuwe 10 km roete by Rhebokskloof op die Noord Agter-Paarlpad. Die paadjie neem ons tot by Flat Rock met mooi uitsigte oor die omringende berge. Net reg vir ‘n wintersdag. Daar is wyne te koop. Ons kan ook na die tyd by die pizzeria op die plaas ‘n draai maak.

TAFELBERG: PLATTEKLIPKLOOF – SATERDAG 21 JUNIE 2025

Bespreek vanaf Maandag 9 Junie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by houthuisie by stapbeginpunt op Tafelbergpad. Stapleier:Abrie Marais by 082 578 3046. Graad: 2B (5 km; 650 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste:Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Abrie sê: Dit is een van daardie roetes wat hoër voel as wat dit lank is. Maar as jy bestendig stap, sal jy bo uitkom. Die idee van warm koffie op die berg by die kabelstasie se restaurant is ook aanloklik. Die uitsigte vanaf Tafelberg se voorste tafel en vanaf die boonste rotsagtige deel van Platteklipkloof bly prentjiemooi. Goeie oefening vir die Visrivier Canyon.

SOSYSKLOOF IN JONKERSHOEK, STELLENBOSCH – SATERDAG 28 JUNIE 2025

Bespreek vanaf Dinsdag 17 Junie

Beginpunt- en tyd: Jonkershoek-reservaat se hek om 08:00. Stapleier: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (redelik, sowat 8 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R60. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker). Koop jou permit aanlyn by https://www.mtotrails.com/jonkershoek-permits – kliek op Sosyskloof (nadat ons oor die weer besluit het).

Mariette sê: Hierdie skilderagtige sirkelroete in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch klim deur ‘n kloof tot noord van Swartboskloof en loop deur kolle inheemse woud. Van daar loop dit oor ‘n kontoer na Sosyskloof en dan na die uitkykpunt, en dan weer terug tot by die motors. Ongelooflike mooi uitsigte oor die berge. (Lekker koffie by die ingang van die natuurreservaat te koop.)

VISRIVIER CANYON, NAMIBIË – VRYDAG 4 – VRYDAG 11 JULIE 2025 (rydatums ingesluit)

Volbespreek

Reëlingskomitee: Abrie Marais by 082 578 3046 (stapleier en reëlings), Joubert Matthee (stapleier en reëlings), Amanda Matthee by 082 570 3895 (reëlings). Ryreëlings: Sal met stappers gereël word. Graad: 2B (veeleisend, sowat 78 km oor 5 dae): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap in wildernisgebied, met tent (opsioneel), matrassie, stofie, kos, windjekker, sonbeskerming, ens. Maak gereed vir enige soort weer – dit reën wel in die Canyon. GELDIGE PASPOORT en mediese sertifikaat is noodsaaklik. Koste: R1850 (Permit R545 + Adminheffing R25 + Kamp by Ai-Ais R780 vir Sondagaand 5 Julie en Donderdagaand 10 Julie + Shuttle na Hobas R500) + R230 vir kamp by Amanzi + Brandstofkoste R1950 (1100 km x 2 = 2200 km; bereken met 3 betalende passasiers per voertuig. Werklike bedrag behoort minder te wees.) + R100 hekgeld by Hobas + Padgebruikbelasting by grens (elke voertuig verdeel koste onderling).

Abrie en Joubert sê: Die Visrivier Canyon in Namibië is een van die stappe wat jy in jou leeftyd moet stap. Hoogtepunte is die canyon se wind- en waterverweerde rotsformasies, die warmwaterbron, wildernisatmosfeer, elke sonsopkoms en sonsondergang, en die totale afgesonderdheid van alles. Jy kan ‘n tentjie saamdra of buite slaap. Ons vertrek die Vrydag en ry met die N7 tot by Vioolsdrif waar ons deur die grens gaan en by die Amanzi by die Oranjerivier oorslaap. Ons ry die Saterdag na Ai-Ais in Namibië. Ons slaan ons tentjies op, kry ons rugsakke reg, swem in die warmwaterswembad en braai die aand. Sondagoggend neem ons die pendelbussie na Hobas waar ons hekgeld van sowat R100 per persoon moet betaal en ons mediese vorms ingee.

Die 5-dag roete: Dag 1 begin ons begin by die hoofuitkykpunt by Hobas en sak sowat 800 meter af na die canyonvloer. Daarna stap ons nog ‘n ent voor ons kamp opslaan vir die aand. Dag 2 probeer ons gewoonlik by die Swawelbronne uitkom. Dag 3 begin die Cayon wyer raak en vat ons die eerste kortpaaie. Dag 4 stap ons verby Viervingerrots en slaap ons gewoonlik anderkant die laagwaterbruggie (en begin al uitsien na die bier op Ai-Ais se stoep). Dag 5 is die dag waarop ons klaar maak. Deesdae lui hulle ‘n groot koperklok op die restaurant se stoep vir elke groep wat klaarmaak. Die tradisie is dan om ‘n bier (of twee) op die stoep te drink en slap chips / toast broodjies te eet. Ons kamp die aand na die stap weer by Ai-Ais en kan die aand in die restaurant eet. Ons ry dan Vrydag 11 Julie terug Kaap toe.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2025

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

It’s the possibility of having a dream come true that makes life interesting. – Paulo Coehle

Reis maak jou wys.

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna