NUUS EN STAPSAKE
Dagsê
- Stapsake: Ons is sterk aan die stap. Ons moes enkele stappe skuif of kanselleer oor die weer of ander onvoorsiene omstandighede. Die volmaanstap van 13 Maart is oor sterk wind deur die roete-eienaars gekanselleer (dit vind nou op 12 April plaas) en Groot Winterhoek is deur CapeNature as gevolg van reën gekanselleer (ons gaan kyk om dit later vanjaar weer op die program te sit). Die bestuurspan hou op Sondag 13 Maart ‘n werkwinkel om te kyk waar ons dinge kan verbeter, vernuwe en meer vaartbelyn kan maak. Die Visrivier Canyon se besprekings het Maandag 31 Maart geopen en lys was binne 6 minute volbespreek, met ‘n waglys! Die volgende sarsie stappe verskyn hieronder – kyk gerus en kom stap saam.
- Overseer’s Cottage, Tafelberg (20-22 Junie 2025): Dit was vir ons ‘n groot teleurstelling dat die Tafelberg-naweek met die Overseer’s Cottage as basis gekanselleer moes word. Ons het hierdie bespreking op 15 November 2024 via Lekkeslaap en Sanparke gemaak en onmiddellik betaal. Sowat 3 maande later, op 20 Februarie 2025, laat weet Lekkeslaap dat Sanparke ‘n dubbelbespreking gemaak het en dus ons bespreking gekanselleer het – 3 maande NADAT ons bespreek en betaal het. Daar is ook geen ander oop naweek vir die Overseer’s Cottage op Tafelberg vir die res van die jaar nie. Nodeloos om te sê, ons is uiters teleurgesteld in Lekkeslaap en Sanparke.
- Kaapstad Fietstoer (Argus): Baie geluk aan almal wat die fietstoer voltooi het – Steph du Toit, Wynand Krause, Estelle Zietsman en nog ander.
- Weet jy van nuwe staproetes? As jy op jou sosiale media platforms of op ander plekke nuwe staproetes sien wat vir jou lekker lyk, laat weet vir Wynand Krause by wynand@nautical4u.co.za. Ons gebruik dit dan as insette vir volgende jaar se stapprogram.
- Nuwe inheemse irisblommetjies by Botmaskop, Stellenbosch, ontdek: Die nuwe iris-spesie, wat nou Moraea Anastasia genoem word, is ontdek toe ‘n ou denneplantasie einde verlede jaar teen die hange van Botmaskop op die Helshoogtepas afgekap is. Dit is ontdek deur die botanist dr Brian du Preez van die Universiteit van Kaapstad wat die hange van Botmaskop monitor. Die formele wetenskaplike beskrywing van die spesie sal daartoe lei dat dit deur die wet as ‘n krities bedreigde “rooilys”-plantsoort beskerm kan word. Sien ook https://groundup.org.za/article/new-plant-discovered-in-stellenbosch/
- Sommer vir die interessantheid: Die meeste van ons kom op oornagroetes en kampnaweke goed klaar met die blou Bluet-gasstofies. Maar as jy iets meer gesofistikeerd soek, teen R10,599.00 (‘n halwe vliegkaartjie oorsee!), kyk na hierdie kompakte Jetboil-stofie waarop jy twee kastrolletjies kan sit. https://www.edgeza.co.za/shop/gnsy-eu-jetboil-genesis-basecamp-system-10301#attr=
- Simpatie: Ons innige simpatie aan Niel Visser wie se moeder op 7 Maart vanjaar oorlede is. Ons dink aan hom en sy familie in hierdie hartseer tyd.
- Stapverslae: Sien stapverslae vir Blaauwberg-seestap (11 Jan), Durbanville Meander (18 Jan), Houwhoek-dagstap (1 Feb), Murludi, Tulbagh (8 Feb), Plaisir de Merle, Simondium (22 Feb), Leopard’s Loop, Helderberg (1 Mrt), Montagu-naweek (8-9 Mrt), Bobbejaansrivier, Bainskloof (15 Mrt) en Jonkershoek Perdeskoen (29 Mrt) hieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
CHAPMANSPIEK – SATERDAG 12 APRIL 2025
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 07:00 by parkeerarea vir Chapmanspiek in Noordhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 551 m, 7 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met sonbeskerming, kos, water, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: As jy ‘n roete met fantastiese uitsigte oor die see en berge soek, sal jy dit op hierdie roete kry. Ons begin by Noordhoekstrand en stap tot by die eerste uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Dan pak ons die roete tot by die piek aan, en af tot by ‘n nekkie. Op pad terug stop ons weer by die uitkykpunt. Ons kan agterna ‘n welverdiende bier by ‘n restaurant daar naby gaan drink.
VOLMAANSTAP – BOSCHENDAL TUSSEN PAARL EN FRANSCHHOEK – SATERDAG 12 APRIL 2025
Volbespreek
Beginpunt- en tyd: 16:30 by Boschendal (aan regterkant van pad). Stapleier: Gerrit enMariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (maklik, 9 km, klimhoogte 200 m). Groepgrootte: 10. Inpak: Dagsakkie met piekniekkos, water, sonbeskerming, windjekker, FLITSLIG, stapstok, ens. Koste: Permit R150 per persoon. Brandstofdonasie (38 km x 2) R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Gerrit en Mariette sê: Hierdie nuwe volmaanroete by Boschendal bied die mooiste uitsigte oor die berge by Franschhoek. Die sirkelroete begin by Boschendal (veilige parkeerplek) en klim baie geleidelik tot op ‘n koppie met bome vol feetjieliggies. Dit neem sowat 1 uur om die 4 km tot by die uitkykpunt te bereik. Hier kry jy ‘n glasie Boschendal-vonkelwyn en geniet jou piekniekkos terwyl jy wag vir die maan om op te kom. Daarna stap ons die sowat 4 km terug na waar die motors geparkeer is. Die roete is onlangs oopgestel en die organiseerders is baie vriendelike en behulpsaam – daar is selfs “plastiekgras” om op te sit op die koppie.
BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SATERDAG 19 APRIL 2025
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Geen permitkoste nie. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en wat hul kondisie is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.
TAFELBERG: ORANGEKLOOF – SONDAG 27 APRIL 2025
Bespreek vanaf Maandag 14 April
Beginpunt: Constantianek om 07:30. Stapleier: Gerna Hough by 082 978 8611 (slegs WhatsApp teks-boodskappe). Graad: 2A (redelik), 8 km. Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Gerna sê: Dié roete word as een van Tafelberg se bes bewaarde geheime beskou. Dit is die enigste permitstap op Tafelberg omdat dit deur beskermde gebied loop. Ons stap onder meer deur die grootste inheemse woudgebied in die Kaapse Skiereiland (geen brand die afgelope 30 jaar) en stap af na die ou tonnelstelsel se ingang. Ons omdraaipunt is die Woodhead-damwal.
TSITSIKAMMA, OOS-KAAP – DINSDAG 29 TOT SONDAG 4 MEI 2025 (ry ingesluit)
Ons het nog plek
Besprekings en stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2A (redelik, 62 km oor 6 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap, groot rugsakke. Slaap oor in hutte met matrasse. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Permit R1500 pp. Pendeldiens van sowat R200 pp. Plus tolhekgeld van R67.50 per motor. Brandstofdonasie: Rxxx (550 km x 2 = 1100 km). Adminheffing R25 (lid) / R100 (besoeker).
Werner sê: Die roete het lang afstande en knaende bulte maar dit is nie tegnies moeilik nie. Dit is ook ideaal vir mense wat vir lang oornagstappe wil oefen, of van naweekstappe na langstappe wil vorder. Die Tsitsikamma is ‘n eenrigtingroete van 61 km oor 6 dae (5 nagte) deur inheemse woude en bergfynbos. Die hutte en die roete is opgeknap en is regtig baie lekker. Daar is heerlike swemplek in rotspoele en riviere. Ons vertrek vroeg die Dinsdagoggend uit die Kaap en ry tot by Nature’s Valley (De Vasselot-natuurreservaat) waar ons ons voertuie parkeer. Dan stap ons nog deur na die eerste oornaghut. Dag 1 – Dinsdag 29 April 2025: Nature’s Valley – Kalanderhut: 3,6 km – sowat 1 uur 30 min. Ons braai die aand. Dag 2 – Woensdag 30 April 2025: Kalanderhut – Blaauwkranshut: 13,5 km – sowat 6 uur. Ons begin met ‘n stywe klim om bo-op Douwurmkop te kom, swem in Tolbosrivier, Trappevalle. Die hut is op ‘n afgrond gebou en het ‘n 10-uit-10 uitsig. Dag 3 – Donderdag 1 Mei 2025: Blaauwkranshut – Keurboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Swem lekker in Waterwitelsgat. Loop deur Benebos. Dag 4 – Vrydag 2 Mei 2025: Keurboshut – Heuningboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Die paadjie neem ons deur Rusher Pass (rietepas) en Elandsbosrivier. Dag 5 – Saterdag 3 Mei 2025: Heuningboshut – Sleepkloofhut: 13,9 km – sowat 7 uur (langste dag). Dag met die lang opdraand – Nademaalsnek. Dag 6 – Sondag 6 Mei 2025: Sleepkloofhut – Stormsrivierbrug (Paul Sauerbrug): 3,2 km – 1 uur. Ons kry ‘n shuttle terug na ons motors en ry terug Kaap toe.
POLKADRAAIPAD: ASARA-WYNLANDGOED – SATERDAG 3 MEI 2025
Bespreek vanaf Dinsdag 22 April
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Asara: Stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Graad: 1A (redelik, 8 km). Groepgrootte: Onbeperk: Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofkoste R50 (afhangend van hoe ver jy moet ry). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Wynand sê: ‘n Lekker dagstap tussen die wingende deur met pragtige uitsigte oor Valsbaai en die Stellenbosch-berge. Meimaand het baie lekker stapweer.
SOSYSKLOOF IN JONKERSHOEK, STELLENBOSCH – SATERDAG 10 MEI 2025
Bespreek vanaf Maandag 29 April
Beginpunt- en tyd: Jonkershoek-reservaat se hek om 08:00. Stapleier: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (redelik, sowat 8 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R60. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Mariette sê: Hierdie skilderagtige sirkelroete in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch klim deur ‘n kloof tot noord van Swartboskloof en loop deur kolle inheemse woud. Van daar loop dit oor ‘n kontoer na Sosyskloof en dan na die uitkykpunt, en dan weer terug tot by die motors. (Baie lekker koffie te koop by die ingang van die natuurreservaat.)
TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 17 MEI 2025
Bespreek vanaf: Maandag 5 Mei
Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 4C, veeleisend, 17 km met 1100m+ klimhoogte. Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Kloofnek se parkeerarea. Ons stap met die paadjie op tot by Kloof Corner voordat ons die kontoerpaadjie volg tot by die begin van India Venster. Ons klim met India Venster op tot by die bo-kant van Platteklip Gorge voordat ons die voorste roete bo-op die berg aanpak na Maclearsbaken. Ons volg dan die Smuts Track en Echo Valley tot by Valley of the Red Gods. Ons stap verby Kasteelspoort met ‘n vinnige stop by die ou kabelkarretjie en duikplank, asook Rendezvous Cave. Ons stap dan aan tot by Woody Ravine waar ons afsak tot op die Pipe Track. Die volg ons dan tot terug by die motors by Kloofnek.
TAFELBERG: KABELKAR NA MACCLEAR’S BAKEN EN TERUG: SATERDAG 24 MEI 2025
Bespreek vanaf Maandag 12 Mei
Beginpunt- en tyd: 13:00 by onderste kabelkarstasie op Tafelbergpad (die kabelkarretjie se kaartjies is R60 goedkoper pp vanaf 13:00). Staporganiseerder: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1B (redelik gelyk, sowat 10 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Kabelkar-kaartjie (retoer) R370 vir volwassenes (of R130 vir pensioentrekkers). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: Hierdie stap is onderhewig aan die weer. Teen Mei het ons gewoonlik pragtige windstil dae. Kom ons maak of ons toeriste is en ry met die kabelkarretjie tot op Tafelberg – dit is altyd ‘n ondervinding. Ons begin by die boonste kabelkarstasie en stap al op die voorste tafel langs, deur Platteklipkloof se dippie tot by MacClear’s Baken. Bring broodjies en koffie saam om hier saam met die uitsigte te geniet. Dan stap ons weer terug. Die roete is 10 km altesaam (2 uur se stap + tyd vir koffie by baken). Terug by die kabelkarstasie kan ons by die winkeltjie inloer en dalk koffie by die restaurant drink voor ons weer met die kabelkarretjie terugry.
ARANGIESKOP, ROBERTSON – VRYDAGMIDDAG 30 MEI TOT SONDAG 1 JUNIE
Volbespreek
Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 8. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R273 + Arangieskop se hut R246 + stappermit R86 = R605. Sowat R10 vir hout by Dassieshoek se hut. Brandstofdonasie (2 x 170 km = 340 km) R430 (met 2 betalende passasiers per voertuig, of reël self onderling).Adminheffing R10 (lid) / R40 (besoeker).
Werner en Brenda sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Dit is dus belangrik om te sorg dat jy fiks en voorbereid is. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in Suid-Afrika is, is Arangieskop die prins.
BERGRIVIER – FRANKRYKRIVIERSKLOOF, FRANSCHHOEK – SATERDAG 7 JUNIE 2025
Bespreek vanaf Maandag 26 Mei
Beginpunt- en tyd: 08:00 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 17 km). Groepgrootte:Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R80. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier (Snake Alley Loop). Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors. Swem en voete in die water sit is hier ‘n goeie opsie.
RHEBOKSKLOOF – SATERDAG 14 JUNIE 2025
Bespreek vanaf Maandag 2 Junie
Beginpunt- en tyd: Word later deurgegee. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895 (net WhatsApp-boodskappe). Graad: 2A (redelik, 10 km / 270 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R100 (R80 vir pensioentrekkers). Brandstofdonasie R80 (44 km x 2 = 88 km). Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: Hierdie lekker dagstap op Rhebokskloof op die Noord Agter-Paarlpad bied ‘n goeie 10 km-roete met mooi uitsigte oor die omringende berge. Net reg vir ‘n wintersdag. Daar is wyne te koop. Ons kan ook na die tyd by die pizzeria op die plaas ‘n draai maak.
TAFELBERG: PLATTEKLIPKLOOF – SATERDAG 21 JUNIE 2025
Bespreek vanaf Maandag 9 Junie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by houthuisie by stapbeginpunt op Tafelbergpad. Stapleier:Abrie Marais by 082 578 3046. Graad: 2B (5 km; 650 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste:Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Abrie sê: Dit is een van daardie roetes wat hoër voel as wat dit lank is. Maar as jy bestendig stap, sal jy bo uitkom. Die idee van warm koffie op die berg by die kabelstasie se restaurant is ook aanloklik. Die uitsigte vanaf Tafelberg se voorste tafel en vanaf die boonste rotsagtige deel van Platteklipkloof bly prentjiemooi. Goeie oefening vir die Visrivier Canyon.
STAPVERSLAE
Blaauwberg-seestap – 11 Januarie 2025
Ons ontmoet mooi vroeg by Ons Huisie in Blaauwberg sodat ons laagwater na die eiland kan oorstap. Die see was nog bietjie rof met die komende volmaan maar met baie pret is ons op die eiland voor Blue Peter Hotel. Pragtige uitsig van Blaauwberg en Tafelberg. Terug op die strand loop ons in ‘n Noordelike rigting verby BigBay en gaan kyk op die strand waar daar vroeër haaitande uitgespoel het. Ons bereik ons omdraaipunt en stop vir ‘n heerlike koffie en “pastries” na On The Rocks se eetplek. Hartseer moes ek, Wynand, aan Amanda oorgee weens siekte. Ek en Michelle is toe na 4km klaar gestap maar die res van die groep en die foto’s vertoon ‘n pragtige dag langs die see. Baie dankie aan Wynand Krause vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 39 m.
Durbanville Meander – 18 Janaurie 2025
Altesaam 20 stappers ontmoet by die Doordekraaldam. Ons groet, teken in en begin die dag se roete al langs die teerpad tot by die Protea Hotel. Hier skuif ons oor die pad en neem die Voetpad wat rondom die hotel loop en begin met ons eerste stywe bult vir die dag. Die asems jaag ‘n bietjie, maar almal is gewillig. Met aankoms in die natuurtuin neem ons ‘n draai na regs en loop met ‘n gemaklike grondpad tot naby die kragstasie in die park. Ons loop oor na die tweede gedeelte van Majik Forest en pak die volgende steil bult aan. Na ‘n lekker stewige klim neem ons ‘n 1-minute breek vir iets te ete en drinke onder die koeltebome. Ná ete pak ons die res van die roete aan – gelukkig nou afdraand op pad terug. By die onderste gedeelte van Majik Forest neem ons die bospaadjie wat heerlike koelte bied. Ons besoek vlugtig die Renosterveldtuin wat so jaar of twee vroëer hier aangeplant is. Die ywerige fotograwe gebruik die geleentheid vir die neem van ‘n paar mooi foto’s op die bankies tussen die plantegroei. Ons pak die laaste gedeelte van die roete aan tot terug by die motors. ‘n Paar van die stappers benut die geleentheid om by die Kenridge Deli verder te kuier en hul heerlike eetgoed te geniet. ‘n Groot dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 300 m.
Houwhoek-dagstap – 1 Februarie 2025
Die weer-apps het ‘n baie warm dag voorspel en dit is waarom ons groep van 24 reeds om 07:30 by die Houwhoek Hotel bymekaar gekom het om die sirkelroete in die berge agter die hotel te stap. Die “inboek” het ‘n tydjie geneem want ons moes admin doen, ‘n kaart by Ontvangs kry, en hoor waar die nuwe beginpunt is terwyl party koffie koop en die hotel verken. Uiteindelik kies ons koers na die nuwe hangbrug (die ou een het verspoel) naby die spa wat ons oor die rivier neem en waar ons links draai om die roete kloksgewys te stap. Ons klim geleidelik tot ons by ‘n jeeppad uitkom en stap ‘n ent daarop tot ons regs op die veldpaadjie afdraai wat steilerig en klipperig tot op ‘n plato klim. Net nadat ons bo gekom het, stop ons vir iets te ete. Hierna stap ons seker so 3 km op ‘n gelyk paadjie tussen die mooiste fynbos en ons is verwonderd oor hoe groen dit in die middel van somer is. Met die afsak terug na die beginpunt voel ons die hitte en is ons dankbaar ons het die moeilikste deel eerste gedoen toe dit nog koeler was. Party van ons gaan sit welgeluksalig buite op die hotel se stoep om iets koels te drink voor ons die pad huis toe aanpak (via die Houwhoek-padstal en ‘n pastei of twee). Dit is ‘n roete wat mens ook in die winter kan stap. Geen permitgeld word gevra nie. Goeie idee om die roete kloksgewys te stap. Baie dankie aan Werner Booyens vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 440 m.
Murludi (Elsbosroete), Tulbagh – 8 Februarie 2025
Altesaam 18 stappers het die vroeë begin van die Elsbosroete by Murludi Vrugteplaas Noord van Tulbagh aangedurf. Hoewel Wynand nie kon saamstap nie, het hy ons per fiets gemonitor (of altans totdat die hitte hom van die toneel laat verdwyn het). Die son was ons aanvanklik genadig en die eerste 2 tot 3 km deur die vrugteboorde het gemaklik verloop, veral danksy bewolktheid bo alhoewel ons toe reeds hoogte begin wen het. In die middel van die syfer 8 vorm roete het ons deur die fynbosgedeelte begin stap en vandaar was die roete steiler. Die belonging was ‘n Uitsig oor die hele Tulbagh-vallei na die suide, oor damme en plase heen met die dorp in die verte. Ons etebreek was vroegerig by ‘n mooi waterstroom en boomryke skadukol. Die besluit om daar te stop was goed, want daarna was die 30 grade plus sonskyn van bo af terug en skadu so skaars soos hoendertande. Die rotsklip onder voet het ons stadig maar seker laat vorder en ‘n paar glye en valle op die los grond-gedeeltes ten spyt het almal in een stuk weer die afdraai na die rivier-roete (laaste 2k m) bereik. Teen sowat 13:00 was ons terug by Murludi se ontvangs en almal wou vir ‘n rukkie daarna nie weer oor groot klippe klouter nie. Heerlike taaipitperskes en tamaties was teen billike pryse te koop en van die stappers was al teen die aand besig om konfyt te kook! Montpellier ses prokiesbos waar ons afterna sou vertoef, was met die lank stap toe ongelukkig al vir ‘n privaat funksie gesluit maar hul pizza en drankies by die Bouval-restaurant langsaan was nog steeds ‘n treffer (toe ons eers almal die plek opgespoor het)! Dit was baie spesiaal dat al 18 stappers en ons fietsmaat agterna nog lekker kon saamkuier – ‘nvolhuis dus behaal vir die stap- en die toerkomponent! Dankie aan almal vir die meelewing. En ‘n GROOT dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings, ekstras en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 475 m.
Plaisir de Merle, Simondium – 22 Februarie 2025
Ons besoek ‘n plaas in die Groot Drakenstein-distrik. Hierdie plaas se geskiedenis begin meer as 300 jaar gelede – om presies te wees dateer die plaas uit 1693. Charles Marais vlug uit sy vaderland, Frankryk, en kom vestig homself hier in Suid-Afrika. Simon van der Stel ken die stuk grond toe aan Charles en hy vernoem die plaas na sy geboortedorp in Frankryk: “Le Plessis Marly”. Die plaas het ‘n ryk geskiedenis van wingerdboerdery, natuurbewaring en harmonie met die natuur. Die plaas se huidige eienaar is Michael Jordaan en staan tans as Plaisir de Merle bekend wat “Pleasure of the Blackbird” beteken. Ons verwag ‘n redelike warm dag en ontmoet al reeds 06h45 by die hek, betaal ons permitte en parkeer by die restaurant. Altesaam 26 gewillige stappers begin die dag se roete. Ons stap verby ‘n stroom waar daar welige Lotusblomme groei en kronkel dan deur die wingerde op pad na die Simonsberge aan ons regterkant. Hier en daar geniet ons die koelte van ‘n bospaadjie wat slinger teen die opdraand uit. Ons klim ‘n redelike steilte uit en vind ‘n lekker sitplek vir oggendkoffie. Hier het ons pragtige uitsigte oor die plaas en Paarlberg in die verte. Ons stap al met die kontoerpaadjie tot by die fotoraam op die plaas waar Werner vir ons ‘n groepfoto neem. Nou kronkel ons met ‘n redelike steil paadjie af terug na die plaasopstal toe. Almal het flink gestap en ons is teen 11:15 terug by die opstal. Ons vind ‘n lekker sitplek onder die bome en bestel koeldrankies en iets te ete. Na ‘n lekker gesellige kuier vertrek almal huis toe. Baie dankie aan almal wat saam met ons gestap het. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 382 m.
Leopard’s Loop, Helderberg – 1 Maart 2025
Ons oggend het mooi uitgedraai en daar was geen reën nie. Ons begin op die Bats-roete met gelyk pad. Ons volg daarna die jeeppad wat ons redelik laat klim het. Daar was redelik los klippe. Net voor ons die single track paadjie op vat na Leopard’s Loop, neem ons ‘n breek en eet iets en aanskou die pragtige uitsig oor Somerset-Wes, die Strand en die see. Na die 10-minute breek het ons begin klim. Nadat ons ons hoogte bereik het, het ons steeds op single track gestap en paar houtbruggies oorgesteek. Ons was teen 11:00 by die kruising van Woody’s/Leopard’s Loop waar ons brunch gehou het en langer gerus het en net die koelte en mooi bome om ons geniet het. Ons het verder gestap en daarna was dit net reguit pad en afdraandes. Ons het die Kaapse suikervoël op ons roete gesien. Die roete is goeie oefening vir naweekstappe, met los klippe en heelwat klimhoogte. Baie dankie aan Gerna Hough vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 570 m.
Montagu-naweek (Drie Watervalle (8/3) en Aasvoëlkrans (9/3)) – 8-9 Maart 2025
Atesaam 20 stappers het Vrydag in Montagu se karavaanpark byeengekom en verrigtinge is met ‘n gesellige braai afgeskop. Almal se vleis het min of meer eetbaar anderkant uitgekom (hopelik). Teen 21:00 se kant het moegheid, die ligfaktor en die wete dat ons vroeg sou begin die volgende dag (met wesenlike hitte voorspel) gelei tot ‘n besluit om die “Montagu Spanspel” eerder na die Saterdagmiddag te skuif. Teen 07:00 Saterdagoggend was almal slaggereed en het ons van die oord af te voet vertrek na waar die Bloupunt-roete begin. Op pad het ‘n blou huis se omstrede naam gelei tot enkele opmerkings. Ons is ook verby die Eyssen Huys wat ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid is. Die wolkskadu het gehelp vir die eerste helfte van hierdie stap, wat sowat 30% van Bloupunt behels. Ons is talle kere kruis en dwars oor die rivierstroompies. Die kloof met majestueuse berge alom het almal op nuut verstom. ‘n Paar bokkies teen die rotse op het bygedra tot die wete dat jy in die hart van die natuur is. By die eerste waterval is vlugtig gestop maar daarna het hindernisse (veroorsaak deur November se groot reëns) ons verhoed om af te draai na die tweede waterval genaamd die Vlermuis-valle. Net 10 van die 20 het kans gesien om op te klouter na die Silver Stream waterval en die ander groepie het gaan uitspan by die eerste waterval. Een enkele dapper stapper (Suza) het in die poel gaan afkoel! Toe die groep weer konsolideer, was die son met mening uit en enige skadu langs die pad welkom. Ons het naastenby 12:30 weer die oord bereik, almal meer as reg vir afkoel in die swembad. Na uur of twee se eietyd het die Montagu Spanspel toe plaasgevind. Moere (die staal soort) is gestapel, balletjies is na ‘n emmer gehop, water is met ‘n vergiettes vervoer en die langasems moes Skittels met ‘n strooitjie rondbeweeg. Laastens moes al vyf spanne ‘n Wes-Kaapse dorp ontsyfer deur letters te skommel. Drie spanlede werk dalk beter as vier (of dit help om die jongste en “mees volwasse” stapper in jou geledere te hê) want die Divas (Beulagh, Netarie en Gerna) het gewen. Teen laatmiddag is ons te voet deur Montagu se strate en het die argitektuur van die dorpie geniet. Die Divas het hul prys ontvang by die Country Hotel – ‘n 1956 Cadillac-rit met toergids/chauffeur en sjampanje op die huis! Die minder gelukkiges het ontspan met ‘n drankie by die hotel se Flatcaps & Feathers, waarna party gaan braai het en die ander het iets gaan nuttig by Route 62 Brewing Company. Die sosiale sy van aktiwiteite het dalk bygedra daartoe dat net 12 van die 20 kans gesien het vir Sondagoggend se 5 km stap. Aasvoëlkrans, die koppie op regterhand net soos mens Montagu binnekom van Ashton af, is uitgeklim en die 400 m plus se oppe en affe het ons genoeg laat sweet. Ons was nietemin teen 09:30 klaar en kon almal gaan op pak en die pad huiswaarts (of ooswaarts vir Kobus en Edna) aandurf. Dankie aan almal vir saamloop, saamkamp en saamkuier. ‘n GROOT dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings en al die ekstras. Stapafstand: 19 km. Klimhoogte: 886 m (vir die stappers wat die volle roetes gedoen het).
Bobbejaansrivier, Bainskloof – 15 Maart 2025
Altesaam 8 stappers kom 07:30 by die Eerste Tol/De Nek parkeerarea bymekaar. Ons handel die admin af en stap af na die beginpunt. Daar is baie min water in die Witterivier en ons kon maklik oorsteek. Die voetpaadjie loop aan die oorkant en is redelik maklik om te sien. Om en by 09:30 neem ons ‘n teebreek waar ons dan ook ‘n pragtige disa sien. Ons bereik die pragtige waterval sommer vroegoggend en vier van ons klim op teen die klip waar ‘n groot swemgat met waterval ons verras! Drie van ons het ‘n vinnige dip in die water geneem. Na ‘n rukkie stap ons terug na die groot swempoel waar ons middagete geniet en heerlik swem. Teen 15:15 is ons terug by die motors. Dit is nie ‘n moeilike stap nie maar ook nie vir die “minder fikses” nie . Dit was ‘n baie warm dag en ons het die swem geniet en die poel ten volle benut. Dankie aan Werner Booyens vir die lei van die stap en dankie aan Brenda Sideratos vir die reelings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 549 m.
Jonkershoek Perdeskoen-roete – 29 Maart 2025
Altesaam 14 van ons het vroegoggend by Jonkershoek se hek bymekaar gekom. Sommige het hulle “caffeine fix” ingekry deur die koffiewinkeltjie by die hek te ondersteun. Ons het die permitte aanlyn gekoop wat beteken dat die aanmeldproses heel vlot verloop het. Met Werner Dalziel as stapleier het ons vanaf die hek die “circuit”-roete anti-kloksgewys gestap, met drie ekstra draaie om die stap die moeite werd te maak. Die vroegoggend se mistigheid het vir koelte, ‘n tikkie mistiek en mooi foto’s gesorg. Ons stop vir koffie by die waterwerke en kies koers in Eerste Waterval se rigting – ons omdraaipunt en middagete-stop vir die dag. Dit is ongelooflik mooi hier. Party het sowaar geswem. Ons val weer in die pad en na ‘n paar kilometer draai ons regs op ‘n bosboupad wat parallel maar bietjie hoër op as die jeeppad loop. Daar was die dag ‘n “downhill bike race” in Jonkershoek aan die gang en ons stop om te sien hoe die deelnemers met ‘n hengse spoed via ‘n platform “oor die pad spring”. Indrukwekkend. (Downhill bike = primarily intended for high-speed descents.) Na die stap het ‘n klompie van ons by Postcard Café iets gaan drink en eet. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en Werner Dalziel vir die stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 340 m.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2025
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
Hiking life lessons
- You can’t just give up in the middle.
- There will always be a voice in your head that says “can’t”. Accept it. Then stuff it into a tiny box that you banish to a corner of your brain.
- A positive attitude will see you through.
- You are only as strong as your weakest link.
- You’ll be a burden to others if you are not prepared.
- There is no need to rush things.
- Every minute spent suffering and leaning into that suffering will build your character immensely.
- The view at the end is beautiful, but in reality so is the entire journey.
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna
