Dagsê
- Boekieprogram met die details van 2025 se stappe: Hierdie is net ‘n vinnige nuusbrief om die boekieprogram met al die detail van die stappe deur te stuur. Kyk gerus na al die stappe sodat jy jou jaar kan beplan. Mens moet altyd iets hê om voor te oefen en na uit te sien.
Boekieprogram 2025 - Ons algemene jaarvergadering by Kaapzicht – Saterdag 15 Februarie 2025: Baie dankie aan almal wat Saterdag ons algemene jaarvergadering by Kaapzicht bygewoon het. Dit was ‘n vrolike affêre met soveel welwillendheid, omgee en nuwe idees – met heerlike pizzas, kaasborde en wyn op die koop toe. Dit was goed om julle te sien.

- Baie geluk aan die langasems! Kilometer-wapentjies – vir mylpale soos die 500 km, 1000 km, 2000 km, ens. saam met die klub gestap – is toegeken aan Ari van Eck (500 km), Arina van Eck (500 km), Ulla Esterhuizen (500 km), Gerna Hough (500 km), Mariette Nortjé (500 km), Brenda Sideratos (3000 km) en Amanda Matthee (7000 km).

- Baie geluk met die nuwe bestuur wat verkies is: Amanda Matthee (voorsitter), Steph du Toit, André Venter, Werner Dalziel, Wynand Krause, Santie Kies, Freddie Pohl en Gerna Hough. Volgens ons reglement moet ons binne 3 weke vergader en sal dan die portefeuljes toeken. Daar is opwindende nuwe voorstelle op die tafel!
VOLGENDE SARSIE STAPPE VAN DIE JAAR
PLAISIR DE MERLE, SIMONDIUM-PAD – SATERDAG 22 FEBRUARIE 2025
Bespreek nou
Stapleiers en besprekings: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Stapbeginpunt: 08:00 by die proelokaal. Graad: 2B (14 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Stappermit: R100. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Kobus en Edna sê: Ons stap ‘n roete op die Plaisir de Merle wynlandgoed op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek. Die roete teen die hange van Simonsberg word gekenmerk deur ‘n groot verskeidenheid fynbos, talle voëlsoorte en selfs kleiner boksoorte. Mooi uitsigte. Die roete vorm deel van die Banhoek-bewaringsarea.
LEOPARD’S LOOP, HELDERBERG, SOMERSET-WES – SATERDAG 1 MAART 2025
Bespreek nou
Stapleier en besprekings: Gerna Hough by 082 978 8611. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Helderberg-natuurreservaat. Graad: 2B (sowat 11 km; 533 m klimhoogte). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: Hekgeld R30 per persoon (R20 pensioentrekkers) en R20 per voertuig. R120 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Gerna sê: ‘n Lekker vroegoggendstap sirkelroete wat in die Helderberg-natuurreservaat begin met Disakloof se inheemse woud as omdraaipunt. Ons stap op die jeeppad op, eet iets bo langs die stroompie in die kol inheemse woud, en stap dan met voetpaadjie terug. Die roete het baie mooi uitsigte oor die Helderbergkom.
MONTAGU-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 7 TOT SONDAG 9 MAART 2025
Volbespreek
Stapleier en besprekings: Freddie Pohl by 074 304 7678. Begintyd: 07:30 stiptelik ter wille van die hitte-faktor op die Murludi-vrugteplaas buite Tulbagh. Moeilikheidsgraad: 2A (10,5km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n kampnaweek met 2 dagstappe. Bring dus jou kamptoerusting en ‘n dagsakkie vir die dagstappe. Bring ook genoeg waterbottels vir die dagstappe, en goeie sonbeskerming. Wees voorbereid vir enige weer. Koste: R460 pp vir kamp-, admin- en permitgeld. R390 brandstofdonasie (162 km x 2; 2 betalende passasiers per motor). Admingelde = R10 (lede) / R40 (nie-lede).
Freddie sê: Hierdie is ‘n sosiale naweek met die Montagu-karavaanpark as basis. Hier kan jy kamp, of in ‘n karavaan of chalet bly. Ons doen twee dagstappe en braai elke aand. Die een dag stap ons ‘n kombinasie van die Aasvoelkransroete en Badskloofroete (sowat 11 km) en die volgende dag stap ons die Cogmanskloofroete (sowat 12km). Tussendeur verken ons Montagu.
VOLMAANSTAP – BOSCHENDAL TUSSEN PAARL EN FRANSCHHOEK – DONDERDAG-LAATMIDDAG 13 MAART 2025
Bespreek vanaf Maandag 3 Maart
Beginpunt- en tyd: 18:45 by Boschendal (aan regterkant van pad). Stapleier: Gerrit enMariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (maklik, 9 km, klimhoogte 200 m). Groepgrootte: 10. Inpak: Dagsakkie met piekniekkos, water, sonbeskerming, windjekker, FLITSLIG, stapstok, ens. Koste: Permit R150 per persoon. Brandstofdonasie (38 km x 2) R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Gerrit en Mariette sê: Hierdie nuwe volmaanroete by Boschendal bied die mooiste uitsigte oor die berge by Franschhoek. Die sirkelroete begin by Boschendal (veilige parkeerplek) en klim baie geleidelik tot op ‘n koppie met bome vol feetjieliggies. Dit neem sowat 1 uur om die 4 km tot by die uitkykpunt te bereik. Hier kry jy ‘n glasie Boschendal-vonkelwyn en geniet jou piekniekkos terwyl jy wag vir die maan om op te kom. Daarna stap ons die sowat 4 km terug na waar die motors geparkeer is. Die roete is onlangs oopgestel en die organiseerders is baie vriendelike en behulpsaam – daar is selfs “plastiekgras” om op te sit op die koppie.
GROOT WINTERHOEK – VRYDAG 21 (OPENBARE VAKANSIEDAG) – SONDAG 23 MAART 2025
Volbespreek
Stapleier: Santie Kies by 082 299 1753. Graad: 2B (36 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Hierdie is ‘n wildernis-stap en alles moet saamgedra word, soos vir ‘n oornagstap, met tent, kos, water, reenjas, sonskerm, ens. Bring ook swemklere vir al die lekker poele langs die pad. ‘n Soort van dagsakkie sal ook handig te pas kom vir ons dag-uitstappie na “Die Hel” se poel. Koste: Stappermit: Sowat R360 (met Wildcard) / R500 (sonder Wildcard) – finale bedrag sal deurgegee word. Brandstofdonasie R400 (160 km x 2 = 320 km; bereken op 2 betalende passasiers per motor; anders reël self onderling). Adminheffing R15 (lid) / R60 (besoeker).
Santie sê: Dag 1 (14 km): Ons vertrek Vrydagoggend vroeg uit die Kaap na die Groot Winterhoek-natuurreservaat buite Porterville. Ons volg vir ‘n paar kilometer die loop van die Groot Kliphuisrivier tot by “Die tronk”. Daarna is dit nog 1 km na ons oornagplek onder die groot akkerbome naby ‘n waterstroom. Ons slaan daar tent op en dit dien dan as ons basis vir die twee nagte. Dag 2 (8 km): Ons pak dagsakkies met ons piekniek-kos en swemklere en stap sowat 4 km (ongeveer I uur) na “Die Hel”, die grootste (en mooiste) bergpoel in die Wes-Kaap. Dit is ‘n “moet-sien”-ervaring. Ons kan daar kuier, swem en rondsit vir solank dit lekker is. Ons kan ook die rotstekeninge soek wat glo daar in ‘n oorhang te siene is. Dan pak ons weer die pad aan kampplek toe en kan dan daar verder rustig verkeer. Dag 3 (14 km): Ons stap dieselfde roete weer terug na die motors. Daar is genoeg tyd om te vertoef by die twee groot mooi poele langs die pad. Dan ry ons rugstig terug Kaap toe.
JONKERSHOEK: JEEPPAD-SIRKELROETE – SATERDAG 29 MAART 2025
Bespreek vanaf Maandag 17 Maart
Beginpunt- en tyd: 08:00 by hek van natuurreservaat. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1A (11 km, klimhoogte 156 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R60. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: Ons parkeer by die ingang van die Jonkershoek-natuurreservaat en stap antikloksgewys al met die jeeppad langs tot weer by die hek. Ons halfpadmerk is die Witbrug – bring lekker koffie en broodjies. Dit is ‘n maklike en toeganklike roete omring met pragtige berge. ‘n Lekker herfsoggendstap.
STELLENBOSCH: DEVONVALE PLAASSTAP – SATERDAG 5 APRIL 2025
Bespreek vanaf Maandag 24 Maart
Beginpunt- en tyd: Word later bevestig. Besprekings: Freddie Pohl by 074 304 7678. Stapleier
Christel Liebenberg, plaaslike gids en komiteelid van die Bavaria in die Devonvale-omgewing. Graad
2A (redelik, 10 km): Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: R50 pp ten behoewe van die Bavaria en hul plaaslike skooltjie vir plaaslike inwoners. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Freddie en Susan sê: Ons stap onder leiding van Christel, wat ‘n kenner is van die hele Bottelary Heuwels en Devonvallei se geskiedenis en plantegroei. Deur haar medewerking kan ons op privaatgrond van die wynplase stap, wat nie vir die algemene publiek beskikbaar is nie. Die roete kronkel deur die vallei met uitsigte oor wingerde en die sonderlinge Renosterveld wat onder beheer van ‘n Bavaria is. Daar sal ook tyd wees vir ‘n halfweghuis-stop by een van die plase in die omgewing. Wees gereed vir lekker klim, maar die pad is meestal jeep track en die omgewing asemrowend.
CHAPMANSPIEK – SATERDAG 12 APRIL 2025
Bespreek vanaf Maandag 31 Maart
Beginpunt- en tyd: 07:00 by parkeerarea vir Chapmanspiek in Noordhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 551 m, 7 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir dagstap met sonbeskerming, kos, water, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: As jy ‘n roete met fantastiese uitsigte oor die see en berge soek, sal jy dit op hierdie roete kry. Ons begin by Noordhoekstrand en stap tot by die eerste uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Dan pak ons die roete tot by die piek aan, en af tot by ‘n nekkie. Op pad terug stop ons weer by die uitkykpunt. Ons kan agterna ‘n welverdiende bier by ‘n restaurant daar naby gaan drink.
BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SATERDAG 19 APRIL 2025
Bespreek vanaf Maandag 7 April
Beginpunt- en tyd: 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal): Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Geen permitkoste nie. Brandstofdonasie: R120. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).
Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en wat hul kondisie is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.
TSITSIKAMMA, OOS-KAAP – DINSDAG 29 TOT MAANDAG 5 MEI 2025 (ry ingesluit)
Bespreek nou
Besprekings en stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2A (redelik, 62 km oor 6 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap, groot rugsakke. Slaap oor in hutte met matrasse. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Permit R1500 pp. Pendeldiens van sowat R200 pp. Plus tolhekgeld van R67.50 per motor. Brandstofdonasie: Rxxx (550 km x 2 = 1100 km). Oornagverblyf by Harkerville Forest Lodge na die stap: Rxxx. Adminheffing R25 (lid) / R100 (besoeker).
Werner sê: Die roete het lang afstande en knaende bulte maar dit is nie tegnies moeilik nie. Dit is ook ideaal vir mense wat vir lang oornagstappe wil oefen, of van naweekstappe na langstappe wil vorder. Die Tsitsikamma is ‘n eenrigtingroete van 61 km oor 6 dae (5 nagte) deur inheemse woude en bergfynbos. Die hutte en die roete is opgeknap en is regtig baie lekker. Daar is heerlike swemplek in rotspoele en riviere. Ons vertrek vroeg die Dinsdagoggend uit die Kaap en ry tot by Nature’s Valley (De Vasselot-natuurreservaat) waar ons ons voertuie parkeer. Dan stap ons nog deur na die eerste oornaghut. Dag 1 – Dinsdag 29 April 2025: Nature’s Valley – Kalanderhut: 3,6 km – sowat 1 uur 30 min. Ons braai die aand. Dag 2 – Woensdag 30 April 2025: Kalanderhut – Blaauwkranshut: 13,5 km – sowat 6 uur. Ons begin met ‘n stywe klim om bo-op Douwurmkop te kom, swem in Tolbosrivier, Trappevalle. Die hut is op ‘n afgrond gebou en het ‘n 10-uit-10 uitsig. Dag 3 – Donderdag 1 Mei 2025: Blaauwkranshut – Keurboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Swem lekker in Waterwitelsgat. Loop deur Benebos. Dag 4 – Vrydag 2 Mei 2025: Keurboshut – Heuningboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Die paadjie neem ons deur Rusher Pass (rietepas) en Elandsbosrivier. Dag 5 – Saterdag 3 Mei 2025: Heuningboshut – Sleepkloofhut: 13,9 km – sowat 7 uur (langste dag). Dag met die lang opdraand – Nademaalsnek. Dag 6 – Sondag 6 Mei 2025: Sleepkloofhut – Stormsrivierbrug (Paul Sauerbrug): 3,2 km – 1 uur. Ons stap vroegoggend terug na ons motors. Ons bly die Sondagaand by die Harkerville Forest Lodge (13 km wes van Plettenbergbaai) oor en ry dan die Maandag terug Kaap toe.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2025
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
“The vision must be followed by the venture. It is not enough to stare up the steps – we must step up the stairs. Fun is one of the most important – and underrated – ingredients in any successful venture.”
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand, Santie, Freddie en Gerna
