NUUS EN STAPSAKE
Dagsê
- Welkom in die nuwe stapjaar! Hierdie is ons eerste nuusbrief van die jaar – ons vra om verskoning vir die wag, maar met al die brande en herskedulerings moes ons eers ‘n paar dinge uitsorteer. Ons het al ‘n paar stewige stappe agter die rug en ons boekieprogram is byna gereed (dit word by ons Algemene Jaarvergadering op Saterdag 17 Februarie uitgedeel). Belangrik om nou te weet: Ons Algemene Jaarvergadering skuif van Zevenwacht na Capaia. Ons volmaanstap skuif van Tygerberg-Natuurreservaat (toe oor die brande) na Muratie buite Stellenbosch en vind nou op Vrydagaand 23 Februarie plaas. Die Pelgrimstog van Hoop tussen Mosselbaai en Jongensfontein se nuwe begindatum is 2 September. Onthou dat ons nuusbrief (enigeen kan vra om op ons verspreidingslys te kom) en die WhatsApp-groep (SSWAG) (net vir lede) altyd die jongste nuus bevat. Ons sien saam met julle uit na ‘n stapjaar wat ons lewe op soveel maniere verryk.
- Kom na ons jaarvergadering op die wynplaas Capaia op die N7 tussen Melkbosstrand en Philadephia op Saterdag 17 Februarie: Ons kom die oggend 08:00 op die wynplaas Capaia bymekaar vir ‘n staproete tot by ‘n uitkykpunt en terug (sowat 6 km in totaal, lekker bult ingesluit). Ná die stap drink ons koffie (of warm sjokolade) en eet roosterbroodjies (hoender mayo of kaas-en-ham) en kolwyntjies terwyl ons piekniekstyl jaarvergadering hou en die boekieprogram en die kilometer-wapentjies uitdeel en die nuwe bestuur verkies. R90 per persoon vir stappermit en eetgoed. Betaal by die beginpunt. Kry meer inligting hieronder en bespreek nou by Amanda Matthee by 0825703895. Baie belangrik: Stuur asseblief jou nominasies vir die bestuur vir 2024 aan amandam@mweb.co.za. Dit is die bestuur wat vanjaar na jou stapbelange moet omsien.
- Pelgrimstog van Hoop vanaf Mosselbaai tot by Jongensfontein (116 km) se nuwe datum: Hierdie stap se begindatum skuif na Maandag 2 September (ons kom Sondag 1 September op Mosselbaai bymekaar) en dit eindig Sondag 8 September (7 dae se stap en 8 aande se oorslaap). Belangrik: Die besprekings open Maandag 4 Maart by Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Koste per persoon: R5600. Dit sluit in verblyf, aandetes en kospakkie vir elke dag. Jy hoef dus net jou rugsak met jou klere, toiletware, ekstra peuselkos en water saam te dra.
- Vier veiligheidswenke op ‘n staptog: Stap in ‘n groep; moenie waardevolle items soos selfone, kameras en juweliersware saamdra en/of ten toon stel nie; wees bewus van wat om jou aangaan; en vertrou jou instink. Kry meer inligting hier.
- 43 common hiking mistakes even experts make – and what to do instead: Dit is die moeite werd om hierdie te lees. Die foute wat stappers kan maak, wissel van te veel selfvertroue en versuim om ‘n omdraaityd vas te maak of die weer dop te hou tot by afdwaal van die groep en te veel stres op jou knieë sit omdat jou stapstok die verkeerde lengte is. Bly weg van sokkies wat nat is of skoene wat te klein is. Moenie jou watersak (bladder) te diep in jou rugsak pak nie, en moenie dink ‘n reënskerm sal alles in jou rugsak droog hou nie. Sien: https://avocadoposts.com/43-common-hiking-mistakes-even-experts-make-theres-no-excuse/
- Plek ook op Namib100 van 11–15 Maart 2024: Marie-Louise Kriel soek iemand om haar bespreking op die Namib100 oor te neem. Hierdie 100-km stap oor 5 dae in die Namibwoestyn begin 60 km suid van Walvisbaai en dit is ‘n unieke ervaring. Kontak haar by Marielouisekriel@gmail.com of 08455228973.
- Ons simpatie: Ons simpatie gaan aan Werner Booyens wie se moeder op 21 Desember 2023 oorlede is. Ons dink aan jou en jou familie, Werner.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
TAFELBERG – DISAS: SATERDAG 10 FEBRUARIE 2024
Bespreek nou
Bymekaarkomplek- en tyd: Constantianek om 06:30. Stapleier en besprekings: Amanda Matthee by 0825703895. Graad: 2A (geleidelike opdraand waarvan deel op jeeppad is, sowat 15 km, klimhoogte 569 m). Groepgrootte: onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, windjekker, sonbeskerming, ens. Koste: Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Om regte disas in die natuur te sien, is die eerste prys. Ons begin by Constantianek en stap met trappies op na die jeeppad tot op die agterste tafel by die damme. Ons ontbytstop is onder die bome by die Woodhead-dam. Dan stap ons op in Disakloof tot by die akwaduk waar die disas groei. Ons hoop om ook die skaars blou disas te sien. Ons kom met dieselfde roete terug. Dit lyk in hierdie stadium of Saterdag se weer koeler gaan wees voor die volgende hittegolf ons tref.
ALGEMENE JAARVERADERING: SATERDAG 17 FEBRUARIE 2024 OM 08:00
Bespreek voor Donderdag 15 Februarie
Op die agenda: Ons hou vanjaar ons algemene jaarvergadering op ‘n Saterdag. Ons begin met ‘n lekker vroegoggendstap van sowat 6 km met ‘n wonderlike uitsigpunt op ‘n koppie. Terug by die deli op die plaas gee hulle vir ons koffie (of warm sjokolade) en roosterbroodjies (hoender mayonnaise of kaas-en-ham). Daar is ook kolwyntjies. Dan hou ons piekniekstyl jaarvergadering en gee ‘n kort verslag oor die jaar wat verby is, kies die nuwe bestuur, en deel van boekie-program (met stappe se roetebeskrywings, afstande, koste, ens.), en kilometer-wapentjies uit.
Plek: Capaia-wynplaas op die Botterbergpad tussen Melkbos en Philadephia (35 km vanaf Bellville). (Travelling on the N7 from Cape Town, head north on the N7 towards Malmesbury. Turn left at Exit 31 (Melkbosstrand). At the junction, immediately turn right and pass underneath the N7 bridge. Continue straight until you reach a T-junction. Turn left onto the Botterberg gravel road.) (Ons sal WhatsApp-groepie maak sodat ons saamry-geleenthede kan benut.)
Koste: R90 per persoon. Betaalbaar by die beginpunt.
Belangrik: Stuur asseblief jou nominasies vir die bestuur vir 2024 aan amandam@mweb.co.za.
Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895 of amandam@mweb.co.za.
MURATIE-VOLMAANSTAP – VRYDAG LAATMIDDAG, 23 FEBRUARIE 2024
Bespreek vanaf Maandag 12 Februarie
Beginpunt- en tyd: 17:30 by die Dirtopia Trail Centre op die plaas Muratiebuite Stellenbosch. Stapleier en besprekings: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (maklik, geleidelike opdraand en afdraand; sirkelroete van 4 km): Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, FLITSLIG, ens. Ook iets soos piekniekkombers om op te sit. Koste: Permit R120 per persoon. Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). (Daar is wyn per glas bo-op die koppie te koop. Daar is ook lekker koffie te koop by die eindpunt voor ons terugry huis toe.)
Mariette sê: Wanneer laas het jy tyd gehad om op ‘n koppie te sit en kyk hoe die son sak en die maan opkom? Ons kom om 17:30 by die Dirtopia-kantoor op die plaas Muratie bymekaar. Ons stap rustig tot by die uitkykpunt, kry sitplek en hou piekniek terwyl ons uitkyk oor die wynlande, Simonsberg en ook Tafelberg in die verte. Die son sak om 19:28 en die maan kom 19:17 op en sal teen 19:50 by die uitkykpunt te sien wees. Ons sal dan net na 20:00 die terugtog aanpak. Onthou jou flits vir die terugstap. ‘n Stapstok is ook ‘n goeie idee. (Daar is nogals video’s op YouTube wat wys hoe om die maan met jou selfoon af te neem.)
KOGELBAAI-UITKYKPUNT: SATERDAG 2 MAART 2024
Bespreek vanaf Maandag 19 Februarie
Besprekings: Amanda Matthee by 0825703895. Beginpunt:08:00 by Kogelberg-kampterrein buite Gordonsbaai. Graad: 2.5A (6 uur se stap, maklike paadjie, maar plek-plek steil, klimhoogte 650 m). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Ons beginpunt is by die Stad Kaapstad se kantoor oorkant die ingang na die Kogelberg-kampterrein buite Gordonsbaai. Ons stap die eerste end op die Klipspringer-roete wat ons na die hoë bergreeks agter die vallei neem. Net voor die voetbruggie oor die eerste stroom neem ons die afdraaipaadjie na links. Dan volg ‘n geleidelike en genadige “zig-zag” klim met heelwat “blaaskansies”, en ook ‘n paar steiler stukke, om ons uiteindelik by die bo-op die berg (650 m) uit te bring. Ons hou middagete by ‘n dammetjie op die berg en kom dan met dieselfde pad terug. Die uitsigte oor Valksbaai en die kuslyn is asemrowend.
CHAPMANSPIEK: SATERDAG 9 MAART 2024
Bespreek vanaf Maandag 26 Februarie
Bymekaarkomplek en -tyd: 07:00 by parkeerarea vir Chapmanspiek in Noordhoek. Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 551 m, 7 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Werner sê: As jy ‘n roete met fantastiese uitsigte oor die see en berge soek, sal jy dit op hierdie roete kry. Ons begin by Noordhoekstrand en stap tot by die eerste uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Dan pak ons die roete tot by die piek aan, en af tot by ‘n nekkie. Op pad terug stop ons weer by die uitkykpunt. Ons kan agterna ‘n welverdiende bier by ‘n restaurant daar naby gaan drink.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2024
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
“This is what I like about photographs. They’re proof that once, even if just for a heartbeat, everything was perfect.” – Random Midnight Musings
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand
