~ 21 Februarie 2024: Hier is ons volledige stapprogram vir die jaar

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Hier is ons volledige stapprogram – nou kan jy planne maak: Hierdie is net ‘n vinnige nuusbrief om ons boekieprogram vir julle te stuur. Dit bevat die roetebeskrywings, koste en afstande. Alles begin by ‘n plan. Mens moet iets hê om na uit te sien in die lewe.
    Sanlam-Staptoerklub Boekieprogram 2024
  • Brandstofpryse: Julle sal ‘n voorgestelde brandstofdonasie by elke stap in die boekie sien. Dit is uitgewerk volgens ‘n formule wat uit die kilometer-afstand, brandstofprys (R22,92 per liter in Feb 2024) en die getal passasiers bestaan (2 passasiers by oornagstappe, 3 passasiers by dagstappe, die bestuurder betaal nie). Moenie skrik vir die brandstofbedrag by die langstappe nie. By langstappe is hierdie bedrag feitlik altyd MINDER omdat ons die werklike brandstofverbruik van die voertuie in ag neem, en soms meer passasiers per voertuig kan neem. Ons deel van die totale koste van al die voertuie se brandstof vir daardie stap gelyk op tussen al die passasiers.
  • Jaarvergadering op die wynplaas Capaia: Dit was die eerste keer dat ons ons algemene jaarveradering op ‘n  Saterdag in die dag gehou het en volgens al die terugvoer wat ons gekry het, het die baie goed uitgewerk. Dit maak die funksie ook meer toeganklik vir stappers wat ver moet ry. Die kombinasie van ‘n mooi stap (die weer was ons baie genadig), iets te ete, ‘n kort en kragtige vergadering en lekker gesels het baie goed gewerk. (Soos die een stapper gesê het: “Omdat die vergadering ‘n stap ingesluit het, het almal soos stappers gelyk – mens kon almal herken!” Dankie vir elkeen wat daar was en almal wat met die reëlings gehelp het – veral Wynand en Madeleine Krause, Steph du Toit en André Venter.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

MURATIE-VOLMAANSTAP – VRYDAG LAATMIDDAG, 23 FEBRUARIE 2024

Bespreek voor Donderdag 22 Februarie om 14:00 sodat ons permitte kan kry

Beginpunt- en tyd: 17:30 by die Dirtopia Trail Centre op die plaas Muratiebuite Stellenbosch. Stapleier en besprekings: Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A (maklik, geleidelike opdraand en afdraand; sirkelroete van 4 km): Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, FLITSLIG, stapstok, ens. Ook iets soos piekniekkombers om op te sit. Koste: Permit R120 per persoon. Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). (Daar is wyn per glas bo-op die koppie te koop. Daar is ook lekker koffie te koop by die eindpunt voor ons terugry huis toe.)

Mariette sê: Wanneer laas het jy tyd gehad om op ‘n koppie te sit en kyk hoe die son sak en die maan opkom? Ons kom om 17:30 by die Dirtopia-kantoor op die plaas Muratie bymekaar. Ons stap rustig tot by die uitkykpunt, kry sitplek en hou piekniek terwyl ons uitkyk oor die wynlande, Simonsberg en ook Tafelberg in die verte. Die son sak om 19:28 en die maan kom 19:17 op en sal teen 19:50 by die uitkykpunt te sien wees. Ons sal dan net na 20:00 die terugtog aanpak. Onthou jou flits vir die terugstap. ‘n Stapstok is ook ‘n goeie idee. (Daar is nogals video’s op YouTube wat wys hoe om die maan met jou selfoon af te neem.)

KOGELBAAI-UITKYKPUNT: SATERDAG 2 MAART 2024

Bespreek vanaf Maandag 19 Februarie

Besprekings: Amanda Matthee by 0825703895. Beginpunt:08:00 by Kogelberg-kampterrein buite Gordonsbaai. Graad: 2.5A (6 uur se stap, maklike paadjie, maar plek-plek steil, klimhoogte 650 m). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Ons beginpunt is by die Stad Kaapstad se kantoor oorkant die ingang na die Kogelberg-kampterrein buite Gordonsbaai. Ons stap die eerste end op die Klipspringer-roete wat ons na die hoë bergreeks agter die vallei neem. Net voor die voetbruggie oor die eerste stroom neem ons die afdraaipaadjie na links. Dan volg ‘n geleidelike en genadige “zig-zag” klim met heelwat “blaaskansies”, en ook ‘n paar steiler stukke, om ons uiteindelik by die bo-op die berg (650 m) uit te bring. Ons hou middagete by ‘n dammetjie op die berg en kom dan met dieselfde pad terug. Die uitsigte oor Valksbaai en die kuslyn is asemrowend.

CHAPMANSPIEK: SATERDAG 9 MAART 2024

Bespreek vanaf Maandag 26 Februarie

Bymekaarkomplek en -tyd:  07:00 by parkeerarea vir Chapmanspiek in Noordhoek. Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 551 m, 7 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, ens. Koste: Brandstofdonasie R120. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: As jy ‘n roete met fantastiese uitsigte oor die see en berge soek, sal jy dit op hierdie roete kry. Ons begin by Noordhoekstrand en stap tot by die eerste uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Dan pak ons die roete tot by die piek aan, en af tot by ‘n nekkie. Op pad terug stop ons weer by die uitkykpunt. Ons kan agterna ‘n welverdiende bier by ‘n restaurant daar naby gaan drink.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2024

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“A good plan permits you to frame your life so that, at some time in the future, fact and your dreams will meet.”

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner en Wynand