NUUS EN STAPSAKE
Dagsê
- En só kom nog ‘n stapjaar tot ‘n einde: Die Stapklub se bestuur het verlede Sondag ons bestuursete gehad. Dit is ons gebruik om, terwyl ons vir die kos wag, vir elkeen te vra wat vir hom of haar uitgestaan het van die jaar – dit kan enigiets wees, nie noodwendig stapverwant nie. Die oorkoepelende tema was dankbaarheid te midde van groot uitdagings wat oorkom is, en dankbaarheid vir die mense in ons lewe (wat die Stapklub insluit), groot oorgange in mense se lewe, en dan die uitsien-dinge – oorsese reise, tyd vir jouself en selfsorg, en groot stappe wat voorlê. Elkeen van julle – lede en besoekers – het ‘n aandeel hierin gehad. Ons sê vir julle dankie vir hierdie jaar. Geniet jul vakansie, reis veilig, en as julle op interessante nuwe stappe afkom, laat weet ons. Volgende jaar maak ons ‘n nuwe begin.
- Stapprogram vir 2024: Ons Stapprogram vir 2024 is hierby aangeheg – kyk solank en beplan jou jaar sodat jy iets groots het om na uit te sien. Ons groot stappe is die Outeniqua en Harkerville, die Transkaroo en Kompasberg, die Mosselbaai-Jongensfontein Pelgrimstog, die Klipspringer by Augrabies, en talle ander dag- en naweekstappe tussenin. Ons heg ook die lidmaatskapvorm aan. As jy reeds ‘n lid is, hoef jy nie weer die vorm in te vul nie – jy kan net jou R100 lidmaatskapgeld betaal (sien bankbesonderhede hier onder) en die inbetalingsbewys aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za te stuur (as al jou besonderhede dieselfde gebly het). ‘n Groot dankie aan almal wat insette gelewer het en gehelp het om ons stapprogram werkbaar te maak. Ons stuur vroeg volgende jaar die eerste nuusbrief uit met die besonderhede van die eerste sarsie stappe.
- Ons jaareindfunksie: Baie dankie aan almal wat dit bygewoon het – dit was goed om almal weer te sien. Dankie aan Madeleine Krause vir haar inisiatief met die verkoopstafel en aan Ilse Marais, Santie en Chris Kies vir die heerlike hamburgers en slaaie, en aan Steph du Toit en almal wat gehelp het om alles vlot te laat verloop.
- Iemand om op ons sosiale komitee in 2024 te dien: Ilse Marais, wat vir baie jare op ons sosiale komitee gedien het en vir die heerlike etes by ons funksies gesorg het, is nie volgende jaar weer beskikbaar in om hierdie komitee te dien nie. Ilse, ons kan nie genoeg dankie sê vir alles wat jy deur die jare vir ons gedoen het nie. Ons gaan jou verskriklik mis, maar ons is bly jy gaan nog kom saamstap. Enigiemand wat bereid is om hier te help met ons funksies (3 funksies per jaar)? Laat weet gerus vir Amanda Matthee by amandam@mweb.co.za of 0825703895.
- Stapverslae: Sien stapverslae vir Bergrivierdam (Matoppie), Bergrivierdam (Frankrykrivierkloof), Kaappunt (Paulsberg), Houtbaai – roei, en Babylonstoren Wynproe hieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
Ons stuur vroeg volgende jaar die eerste nuusbrief met die detail van die eerste sarsie stappe uit. Kyk intussen na die aangehegte program.
STAPVERSLAE
Bergrivierdam – Matoppie: 9 Augustus 2023
Sewe van ons het besluit om op Vrouedag ‘n bietjie te gaan stap weer by die Bergrivierdam. Ons het daar aangekom om anti-kloksgewys om Matoppie te stap. Ons stap al langs die dam, wat lekker vol is, en stop ook sommer vir ‘n lekker koffietjie. Ons stap verder met die kontoer pad aan tot ons die aftdraai kry wat gaan tot op bo-op die berg. Dis ‘n gemaklike maar stewige klim tot op die piek. Ons neem paar foto’s en mik vir ‘n lekker uitkykpunt oor die dam waar ons middagete geniet. Ons sak toe af aan die teenoorgestelde kant van die koppie. Plek-plek het die pad lekker verspoel en moet ons mooi kyk waar jy loop. Lekker dag in die veld. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 19 km. Klimhoogte: 634 meter.
Bergrivierdam – Frankrykrivierkloof: 18 November 2023
Altesaam 16 van ons kom by die boonste hek van die Bergrivierdam bymekaar. Na al die admin afgehandel is, begin ons stap en draai eers links uit na die boonste kontoerpad. Ons stop by die waterval vir ‘n koffie voordat ons aanbeweeg. Ons sak af terug na die jeepppad en mik terug na die brug oor die rivier. Ons neem dan die Snake Alley Loop se paadjie. Ons rus weer by ‘n rivierkruising en stap toe aan in die drie klowe van die Frankrykrivier. Terug op die jeeppad sak ons weer af na die brug. Hier spandeer ons lekker ‘n uur sodat ons lekker kan eet en swem. Lekker gemaklike en baie mooi stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 17 km. Klimhoogte: 463 meter.
Kaappunt – Paulsberg: 4 November 2023
Altesaam 14 van ons daag lekker vroeg op by Kaappunt en parkeer ons motors by Booi se Skerm. Ons begin te stap, eers op in die kloof tot by Kanonkop. Hier vat ons ‘n breek voor ons die roete aanpak tot bo-op Paulsberg. Dis ‘n stewige maar maklike klim tot bo waar ons 360 grade uitsigte het oor Kaappunt en Valsbaai. Hiervandaan sak ons af na die Da Gama monument voordat ons seelang mik na die Venus Pools. Hier spandeer ons bietjie tyd vir middagete en om voete in die water te sit. Daarna terug na die motors. ‘n Groot dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 378 meter.
Houtbaai – roei: 25 November 2023
Agt van ons kom die oggend om 11:30 by Cape Town Kayaking se kiosk by Houtbaai se hawe bymekaar om in die baai op kajakke te gaan roei. Ons word toegerus met “bangbaadjies” en klim twee-twee in die kajakke onder leiding ons gids, Bieber. Ons roei eers deur die “groen tonnel” en ‘n kolonie robbe om van die hawe tot in die baai te kom. Die wind is ietwat sterker as wat ons verwag het en die deinings is nogal hoog, maar die kajakke is verbasend stabiel. Van hier af kan ons die berge by Silwermyn sien waar ons altyd uitkyk op Houtbaai se hawe en Karbonkelberg. Ons raak lekker nat van die water wat inspat van al die roeiery. Ons besluit om nader aan die strand terug te roei waar die deinings bietjie minder is. Terug op land, kan jy voel jou arms (en bene om een of ander rede) het nogal gewerk. Ons eet heerlike vis en tjips by die Mariner’s Wharf voordat ons huiswaart vertrek. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Roei-afstand: 3 km. Klimhoogte: 5 meter (die branders was hoog).
Babylonstoren Wynproe: 2 Desember 2023
Altesaam 16 van ons is almal om 09:00 by die ontvangs van Babylonstoren. Ons handel die admin af en ná ‘n effense misverstand (Liesl van die wynproelokaal sorteer dit later uit) gaan ons almal in. Ons dwaal in groepies in die tuin rond en verken verskillende dele van die wynlandgoed. Om 10:30 sit ons almal aan by ‘n lang tafel in die proelokaal. Daar is peuselgoedjies (neute, biltong en droëwors) en ons proe ‘n vonkelwyn (MCC) en drie wyne. Veral die rosé is besonder lekker. Dit is ook hul beste verkoper. Ná wynproe (en vir party nog ‘n draai by die deli vir hul heerlike gebak) vertrek almal huis toe. Baie dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings en logistiek. Stapafstand: 3 km. Klimhoogte: 20 meter.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2024
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
‘You haven’t lived until you’ve lived with only what you can carry under your own power.’ – J Kline
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie
