~ 9 Oktober 2023: Stuur voorstelle vir 2024-program | Volgende sarsie stappe | Stapverslae

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapdinge: Dit lyk of die lente nou uiteindelik in die Kaap uitgekom het. Ons eerste groep stappers het die 7-dae Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (138.5 km) voltooi. (Ons hoor hulle het “luuks geslaap en hewig baie geëet”). Die tweede groep wat die 14-dag roete doen, maak op 14 Oktober klaar.
  • Bo-Kaaptoer word Kajakroei by Houtbaai Saterdag 25 November: Ons het verskillende opsies vir die Bo-Kaaptoer ondersoek, maar dit is net te duur. Ons het toe besluit om dit met ‘n kajakvaart by Houtbaai se hawe te vervang. Kajakke en reddingsbaadjies word voorsien (R475 pp). Ons roei saam met Karbonkelberg Toerisme se Brent Thomas wat ons ook meer van die geskiedenis en kultuur van die omgewing sal vertel. Groot pret! Ons kan agterna vis en chips by die hawe gaan eet. Al die inligting is hieronder.
  • Wat is op jou wenslys vir 2024 se stapprogram? Ons eerste beplanningsvergadering vir 2024 se stapprogram is Dinsdagaand 10 Oktober. Jy kan dus nog jou voorstelle vir ons stuur na amandam@mweb.co.za. Dit kan voorstelle wees vir langstappe, dagstappe, kampnaweke en/of ander interessante verkenningstogte.
  • Verkoopstafel by ons jaareindfunksie Woensdagaand 22 November: Onthou om solank stapklere en staptoerusting wat niks makeer nie maar wat jy nie meer gebruik eenkant te sit vir ons verkoopstafel by die jaareindfunksie. Al die items wat jy wil verkoop, kry ‘n nommer (jy weet dus nie wie se stapgoed jy koop nie). Almal koop met kontant (alles in R10’e). Aan die einde van die aand kry die verkopers hul geld in kontant en die kopers kry hul inkopies. So ondersteun ons die ‘circular economy’ en help ons om ons koolstofvoetspoor te verminder. Ons stuur binnekort meer inligting uit oor hoe presies dit gaan werk.
  • Wat moet jy altyd in jou rugsak hê? Carla Khouri, ‘n gekwalifiseerde stapgids van Engeland, sê jy moet bo en behalwe die regte klere en skoene ook water, peuselkos, ‘n noodhulpsakkie, persoonlike medikasie, kopflits, noodkombers (survival blanket), kragbank (power bank) en noodkontaknommers byderhand hê. Oor selfone sê sy die volgende: “Charge your phone. Be aware that the battery will drain faster in areas where there is a poor signal and in cooler temperatures. Consider putting your phone into aeroplane mode to save the battery for when you need it. A waterproof phone case is a handy accessory, as is a small, fully-charged power bank.” Sien ook https://www.countryliving.com/uk/wildlife/countryside/a44588119/hiking-safety-tips/
  • AR Gaiters: Mariette Nortjé gaan mini AR Gaiters by https://argaiters.co.za/products/gaiters-mini bestel en na ons jaareindfunksie toe bring. As jy ook daarvan wil hê (R270 per paar, posgeld uitgesluit), stuur vir haar ‘n WhatsApp na 082 929 8493 teen Woensdag 1 November 2023. As ons een bestelling plaas, betaal ons minder posgeld.
  • Plek oop op Looprivier: Elza Geldenhuys by 083 231 5156 lei ‘n kampnaweek by Looprivier in die Sederberge die naweek van 27-29 Oktober 2023. Looprivier is sowat 200 km van die Kaap in die Westelike Sederberge, wes van die N7 tussen Citrusdal en Clanwilliam. Sien https://www.goldensunset.co.za/.
  • Hoe werk ‘n reënmeter? Sommer vir die interessantheid vir die wat nie weet nie:1 mm reën verwys na die “diepte” van die reën op ‘n oppervlakte van 1 vierkante meter. 1 mm reën = 1 liter water op 1 vierkante meter. Hierdie liter water weeg 1 kg. As jy 25 mm reën op jou 1000 vierkante meter erf kry, is dit 25 ton water. As jy 25 mm reën op jou 1 hektaar grond kry, is dit 250 ton water.
  • Hi-Tec in Tygervallei: Daar is ‘n nuwe Hi-Tec-winkel in Tygervallei. Winkel 554 op die boonste vlak.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Babylonstoren, Klein Roosboom, Tafelberg-damme, Du Toitskop, Landdroskop by Nuweberg, Koringberg-naweek, Luiperdkamerastap, Durbanville-meander, Meerendal-volmaanstap, en Tygerberg-natuurreservaat hieronder. Stapverslae vir Matoppie (Franschhoek) en Blouberg-bewaringsgebied volg in volgende nuusbrief.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

LEOPARD’S LOOP, HELDERBERG, SOMERSET-WES – SATERDAG 21 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 9 Oktober

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt- en tyd: 08:00 by Helderberg-natuurreservaat se hek. Graad: 2A (sowat 10 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: Hekgeld R20 per persoon en R20 per voertuig. R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: ‘n Lekker vroegoggendstap sirkelroete eers tot bo in Disakloof en dan terug net sodat ons “in oefening bly”. Ons stap op die jeeppad op, eet iets bo by die omdraaipunt in die inheemse woud, en stap dan met voetpaadjie terug. Die roete het baie mooi uitsigte oor die Helderbergkom.

PAARLBERG – SATERDAG 28 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 16 Oktober

Besprekings en stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Paarlberg-natuurreservaat. Graad: 1B (sowat 18 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

KAAPPUNT-DAGSTAP: PAULSBERG – SATERDAG 4 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 23 Oktober

Beginpunt: 08:00 by die hek by Kaappunt-natuurreservaat. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (9 km, redelik). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: R94 hekgeld / Wildcard (bring jou ID-kaart saam). Brandstofdonasie R100 (85 km x 2 = 170 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Paulsberg (367 m) is die hoogste piek in die Kaappunt-natuurreservaat. Ons begin by die Buffelsbaai-parkeerterrein en stap op na Kanonkop en agterom Paulsberg tot ons die paadjie na die piek van Paulsberg kry. Die uitsigte oor Valsbaai is indrukwekkend. Ons loop deels met dieselfde pad terug en kan in die getypoel by Bordjiesdrif gaan swem voor ons terugkeer huis toe.

YZERFONTEIN-KAMPNAWEEK, WESKUS – VRYDAGMIDDAG 10 TOT SONDAG 12 NOVEMBER 2023

Volbespreek

Besprekings en stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Basis vir die naweek: Yzerfontein se kampterrein. Graad: 1B (redelik). Groepgrootte: 18. Inpak. Soos vir kampnaweek met tente, ens. Dagsakkies vir twee dagstappe. Koste: Kampplek en hout: R150 pp. Brandstofdonasie R220 (2 x 90 km = 180 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.

Wynand en Madeleine sê: Kom geniet ‘n Weskus-naweek by Yzerfontein om asem te skep vir die laaste gedeelte van die jaar. Ons doen twee dagstappe: Die Schaapeneilandroete (so 5 km) langs die see en die Bokbaaivygieroete. Die Schaapeneilandroete loop verby baaitjies en plekke met name soos Blaasgat, Hoëbank, Gladdebank, Skuimgat en Kreefgat. Ons loop ook verby ’n kalkbrander. Die Nederlanders het sedert die vroegste tye aan die Kaap kalkbranders opgerig en mossels gebrand om “bindmateriaal” vir bouwerk te verkry. Ons behoort ook walvisse te sien. Die res van die naweek kuier ons en verken die Weskus.

BERGRIVIER – FRANKRYKRIVIERSKLOOF, FRANSCHHOEK – SATERDAG 18 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 6 November

Beginpunt- en tyd: 08:00 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 17 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R50. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier. Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors. Swem en voete in die water sit is hier ‘n goeie opsie.

JAAREINDFUNKSIE – WOENSDAGAAND 22 NOVEMBER 2023 OM 19:00

Bespreek vanaf Maandag 23 Oktober

Plek: Die kerksaal van die NG Kerk La Rochelle. Hoek van Meerlust- en Hadleystraat, Bellair. Op die agenda: Bekendstelling van 2024 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), lekker eet en kuier. Ons stel die program met ‘n PowerPoint-aanbieding bekend. Verkoopstafel (kry solank jou stapklere en staptoerusting reg wat jy nie meer gebruik nie, maar nog bruikbaar is en kom ondersteun die ‘circular economy’). Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za

KAJAK-ROEI BY HOUTBAAI – SATERDAG 25 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 13 November

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:30 by Houtbaai. Graad: 1A (maklik). Groepgrootte: 12. Inpak: Swemklere, sonbeskerming. Koste: R475 per persoon.Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Ons doen ‘n slag iets anders. Ons roei saam met Brent Thomas van Karbonkelberg Toerisme. Hulle voorsien die kajakke en reddingsbaadjies. Ons leer ook meer oor die plaaslike geskiedenis en kultuur terwyl ons verby vissersbote, seilbote, die “glowing green room” en ‘n kolonie beskermde robbe roei. Groot pret! Dalk vis-en-chips parcels by Fish on the Rocks by die hawe agterna?

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 2 DESEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 20 November

Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Graad

1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 16de wyntoer wees. Ons gee later die presiese roete en kelder aan. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

STAPVERSLAE

Babylonstoren – 1 Julie 2023

Altesaam 15 stappers ontmoet om 09:30 by die ingang. Ons betaal vinnig toegang en kiers koers deur die tuin tot by die teerpad wat in die rigting van die koppie op die plaas lei. Na ‘n stewige bult draai ons links en stap na die hoogste punt op die plaas. Ons klim die rotsagtige koppie uit en geniet ‘n heerlike blaaskans en koffie. Die plaas se naam spruit voort uit hierdie koppie – dit het die eienaar aan die Toring van Babel (uit die Bybel) laat dink – vandaar dus Babylonstoren. Ons vind ook hier ‘n kanon wat dateer uit die vroeë 1687 – 1806. Die kanon was deel van die VOC se verdediging teen vreemde skepe wat in Tafelbaai arriveer het. Die waarskuwing is met behulp van die kanonne aangestuur om burgers bewus te maak van moontlike gevaar en bedreiging. Na die breek stap ons deur laventel-, “Dragon-fruit-“, lemoen- en naartjieboorde. Ons loop op houtpaadjies deur ‘n moerasagtige gedeelte totdat ons by die dam op die plaas kom. Hier geniet ons iets te ete en drink weer koffie. Op pad terug na die motors pluk on ‘n paar naartjies en stap rustig deur die tuin. Ons groet mekaar. Sommige stapmaats ry huistoe terwyl ander nog bietjie in die tuin kuier en middagete geniet. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 150 m.

Klein Roosboom – 15 Julie 2023

Almal kom om 08:15 in die parkeerarea by Klein Roosboom byeen. Die plaas is in die hartjie van Durbanville-wynroete wat reeds 300 jaar bestaan. Altesaam 15 stappers, wat 6 besoekers insluit, doen ‘n kombinasie van twee kort roetes wat ‘n gesamentlike afstand van 5 km voltooi en is beloon met mooi uitsigte. Na die stap en gesels het party stappers huis toe gehaas om die laaste paar minute van die rugby te geniet. Die res het hulself verlustig aan die koffie en koek by die restaurant. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 5 km. Klimhoogte: 146 m.

Tafelberg-damme – 22 Julie 2023

Ons het hierdie roete op die program gesit om weer aan die gang te kom ná al die stappe wat uitgereën het. Altesaam 12 mense het die Saterdagoggend by Constantianek bymekaar gekom om met die jeeppad tot op die agterste tafel te stap sodat ons kon sien hoe vol die vyf damme is ná al die reën. Ons het nie die trappies gevat nie want daar was skade aan die paadjie weens die modderstortings en die reën. Toe ons in Februarie vanjaar oor die damwal van die Hely-Hutchinson gestap het om die disas te gaan kyk, was die dam heeltemal leeg – net wit sand waar jy kyk. Hierdie keer was dit ‘n heel ander prentjie. Ons eerste stop was by die De Villiers-dam (1907) waar ons op die muurtjie by die Overseers Cottage ‘n broodjie geëet het en bietjie gerus het. Die Alexandra-dam (1903) en Victoria-dam (1903) was oorloop-vol. Hier was dit bitterlik koud maar ons het tot op die damwal gestap om al die water te aanskou. Daarna het ons verby die Woodhead-dam (1897) geloop en oor die Hely-Hutchinson se damwal (1905) gestap, verby die museum en toe via die Woodhead-damwal terug. Al die water gee mens ‘n gevoel van oorvloed en dankbaarheid, veral na die droogte wat ons van 2015 tot 2018 beleef het. Van ons het agterna koffie gedrink by die koffiewaentjie by Constantianek. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en Beulagh Keulder vir die stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 569 m.

Du Toitskop, Mont Rochelle, Franschhoek – 12 Augustus 2023

Saterdagoggend 07:45 het 8 van ons by die Mont Rochelle-reservaat in Franschhoek bymekaar gekom. Die mis was baie dik maar gelukkig nie te koud nie. Na ‘n koue, nat winter het almal uitgesien om te stap. Ons het 08:00 in die pad geval en binne 30 min was ons by Breakfast Rock. Daar is ‘n bruggie gebou net voor die laaste klim na Breakfast Rock – die reservaat het goed deurgeloop met die onlangse vloedskade. Ons het nie die keer by die Wemmershoek Uitkykpunt gestop nie as gevolg van die dik mis. Ons het by die kruising links afgedraai (regs is die paadjie na Perdekop) en berg op met die kronkelpaaidjie – die eerste lekker sitplek was ons teestop. Op pad na die baken het ons gereeld gestop en die mooiste foto’s in die mis geneem. ‘n Paar meter voor die baken (1418 bo seevlak) het die mis effe weggetrek en ons kon vinnig vertoef vir foto’s – ander jare was dit so koud daarbo. Dit was te vroeg vir ete en ons het besluit om laer af iets te eet. Ons stop was toe by die Saaltjie. Die terugstap was nie so veeleisend nie. Ons het met die afstap die Vista Trail geneem tot by die aansluit van die oorspronklike paadjie. Ons was 13:30 terug by die motors. By die hek het ons die permitte betaal en iets gaan drink en eet in Franschhoek. Dankie aan Werner wat die stap gelei het en dankie aan Brenda vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 709 m.

Landdroskop by Nuweberg – 19-20 Augustus 2023

Altesaam 19 van ons kom die oggend by die Nuweberg-bosboustasie aan – gereed vir die sirkelroete van twee dae. Maar by die hek verneem ons dat die hut toe is en dat ons nie kan stap nie, en niemand het ons laat weet nie. Dit was ‘n baie groot teleurstelling. Maar ons maak ‘n plan en besluit om dan ten minste die dagstap na die Palmietpoele (‘mierpoele’) te doen sodat ons darem iets van die naweek het. Ons maak eers ons sakke ligter deur die slaapsakke en ‘n paar ander goed uit te haal. Ons vertrek 08:30 en neem die grondpad en draai af met die bergpaadjie wat oorspronklik vir blinde stappers gemaak is – van die braille bordjies is steeds daar. Aan die einde van die bergpaadjie eet ons ontbyt langs die riviertjie. Ons stap verder op die jeeppad tot by die ‘Smiley’-rots met die tande (waar ons eers foto’s neem) en draai af na die poele waar ons lekker middagete geniet. Die water was koud en niemand was braaf genoeg om te swem nie. Ná middagete stap ons weer terug en volg die jeeptrack tot by die motors. Dis was ‘n heerlike kort stap, sonskynweer en die veld was mooi na die reën. Wynand en Madeleine bied toe aan dat dié wat wou ná die stap saam met hulle na hul strandhuis by Struisbaai kon gaan en daar verder kuier en stap – wat regtig baie gaaf was van hulle. Terug by die motors het ‘n klompie teruggekeer Kaap toe terwyl die ander Struisbaai toe is. Ons het die saak met CapeNature opgeneem en ons het ons geld teruggekry. Baie dankie aan almal wat gehelp het om die naweek lekker te maak – Abrie Marais, Amanda Matthee, en Wynand en Madeleine Krause. Ons sal Landdroskop op ‘n ander geleentheid aandurf. Stapafstand vir Saterdag: 10 km. Klimhoogte 300 m. Stapafstand vir Sondag: 12 km. Klimhoogte 50 m.

Koringberg-naweek – 25-27 Augustus 2023

Altesaam 18 mense het die Vrydagmiddag by Die Ark Backpackers op die plaas Hooggeleë so 7 km noord van Moorreesburg bymekaar gekom (afdraai by Desert Rose-padstal). Dit was ons basis vir die Koringberg-naweek wat deur Esther Warnich, Helen Kriel en Magda Kritzinger gereël is. Ons slaapplek was drie ‘dormitory’-styl kamers wat eens op ‘n tyd melkstalle was, en ons kuierplek was ‘n groot nuwe kombuis met ‘n ingeboude braai en sitplek vir ons almal. Ons begin die Vrydagaand met ‘n braai, nagereg (Esther het koek en cupcakes gebring) en lekker gesels. ‘n Klompie ernstige rugbykykers het so staan-staan op Werner se selfoon rugby gekyk (ons het darem gewen). Saterdagoggend vroeg vertrek ons na die Retreat Guest Farm bo-op die berg by Piketberg waar ons eers die plaasmark besoek. Die mark is elke laaste Saterdag van die maand oop (kyk by Piket-Bo-Berg Farmers Market op Facebook). Hier het ons heerlike roosterkoek, pannekoek, koffie en soetgoed geëet, en allerhande ingelegde souse en konfyte gekoop. Daarna pak ons ‘n pragtige sirkelroete van so 10 km. Wat die roete besonders gemaak het, is al die geure van die boegoe en ander bossies – veral aan die begin toe dit liggies gereën het. Ons het by die omdraaipunt op ‘n koppie iets geëet en die uitsig geniet voor ons die terugtog aangepak het. Ons toer toe terug via die Org de Rac-wynplaas (waar party van ons wyn geproe en oesters geëet het) en Nieuwedrift buite Piketberg (waar party van ons wyn geproe en pizzas geëet het). Ons braai weer die aand (asof ons nog nie genoeg geëet het vir die dag nie). Sondagoggend pak ons die Koringbergkoppies aan – ‘n goeie 14 km wat in Koringberg self begin weer by Die Ark eindig. Daar is ‘n paar stewige bulte, maar die blomme en die uitsigte maak dit die moeite werd. Terug by Die Ark pak ons op, groet, en vat die pad terug Kaap toe. Ons sê ‘n GROOT dankie aan veral Esther en Helen. Ons sou dit nie sonder jul inisiatief, plaaslike kennis, uitvindwerk en kontakte kon doen nie. Stapafstand: 24 km. Klimhoogte: 400 m.

Luiperdkamerastap – 2 September 2023

Nege stappers is almal stiptelik om 08:00 by Eerste Tol op ‘n dag wat die weer belowe om heerlik saam te speel. Nadat die admin en gebed afgehandel is val ons in die pad. By ons het ons ook ‘n nuwe kamera wat goedgunstiglik deur ‘n klublid, Org Nieuwoudt, gefasiliteer is om ‘n tweede kamera te kan opstel om luiperds van twee kante te kan afneem. Ons is aangenaam verras deur die feit dat die paadjie, wat met ons vorige uitstappie erg toegegroei was, redelik oopgetrap is. By die kamera aangekom word die foto’s agelaai. Daar is twee foto’s met ‘n luiperd op asook foto’s met ander fauna soos bv. ‘n muskeljaatkat. Die nuwe kamera word in die plek van die oue gemonteer en die oue, wat reeds baie gehawend is, word aan die oorkant opgestel. In hierdie stadium waai daar ‘n koue wind en ons vertoef nie te lank voor ons vertrek nie. Ons is om 13:30 terug by die motors. ‘n Paar van ons stop oppad huistoe vir ‘n verversing by The Bell Inn. Baie dankie aan Steph du Toit vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 405 m.

Durbanville-meander – 9 September 2023

Dit is ‘n lekker koel oggend in Durbanville en 12 stappers begin die staproete by die Doordekraal-dam. Welkom aan Ryan, EJ en Joyce wat vir die eerste keer saam met Sanlam-Staptoerklub stap. Ons volg die voetpad om die dam en stap verby die Protea Hotel waar ‘n lekker styl bult vir ons wag. Gelukkig hou die pragtige uitsig oor die omliggende plase ons gedagtes besig. Die roete lei ons met ‘n jeeptrack teen nog ‘n lekker lang, styl bult uit tot ons die hoogste punt op die roete binne-in Majik Forest bereik. Hier neem ons ‘n welverdiende tee-breek en geniet die rustigheid van die natuurtuin. Die veld is oortrek met varklelies, gousblommetjies en ander lenteblommetjies. Ons vind ook ‘n skaars groen moederkappie! Sommige van die plante het ‘n eienaardige, abnormale breë stam. Google help met alles en verduidelik dat die verskynsel bekend staan as “fasciation”. ‘n Ongewenste toestand in plante waar die stam breed en plat groei (dit lyk asof ‘n klomp stammetjies vas aanmekaar gegroei het, maar is eintlik net een stam). Ons stap terug met ‘n heerlike afdraande paadjie en geniet Majik Forest se voetpaadjie deur die woud. Van hier volg ons die teerpad tot terug by die motors. Ons groet en vertrek terug huis toe. Baie dankie vir almal se bydrae om die stap lekker gemaklik te maak en ook lekker saam te gesels! Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 100 m.

Meerendal-volmaanstap – 30 September 2023

Altesaam agt van ons kom die Saterdag om 18:30 op die plaas Meerendal net buite Durbanville bymekaar vir dié volmaanstap van 5 km. Dit was ‘n heerlike windstil aand. Die Saterdagoggend het dit nog gereën, maar dit het gelukkig teen die middag begin ooptrek. Mens kan wonder of so ‘n kort stap die moeite werd is, maar almal het genoem dat dit goed was om uit te kom na al die storms van die vorige twee weke. (Al die ander mense op die roete het duidelik dieselfde idee gehad.) Die roete loop al om die koppies met pragtige uitsigte oor die plase. So halfpad op die roete word dit donker en moes ons ons flitse uithaal. Terug by die beginpunt het party van ons span op ‘n muurtjie gaan gesit en hul koffie gedrink (ons het nie langs die pad gestop nie) terwyl drie van ons by die restaurant op die plaas gaan koffie drink het. Dit was een van daardie goed-voel stappe. Stapafstand: 5 km. Klimhoogte: 50 m.

Tygerberg-natuurreservaat – 7 Oktober 2023

Altesaam 12 van ons kom Saterdagoggend om 08:00 by die hek van Tygerberg-Natuurreservaat bymekaar. Die sterk wind van die vorige nag en die Saterdag het niemand afgeskrik nie. Party van die roetes (soos die een na die dam) is toe omdat die paadjies te glad is na al die reën. Ons besluit toe om kloksgewys die lang roete (Golden Mole) aan te pak, met die rusbankie en sitklippe aan die Kaapse kant ons eerste stopplek. Hier drink ons koffie en eet iets terwyl ons die uitsigte geniet. Die veld is besonder groen en oortrek van die mooiste blommetjies. Ons kry die laaste bult agter die rug en stop bo by die torings om die res van ons kos te eet en weer eens die uitsig te geniet. Daarna is dit afdraand terug na die motors. Almal stem saam dat die goeie oefening, lekker gesels en mooi uitsigte die dag die moeite werd gemaak het. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Beulagh Keulder en Deon Arp vir die stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 300 m.

 

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2023

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

Gesien op ‘n bordjie by ‘n natuurreservaat: “Please do not feed the wild animals. They become reliant and will soon want cell phones.”

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie