NUUS EN STAPSAKE
Dagsê
- Ons jaareindfunksie kom nader: Bespreek nou vir ons jaareindfunksie op Woensdagaand 22 November om 19:00 in NG Kerksaal, La Rochelle, Bellville. Kom vir die 2024-stapprogram (stewige program!), die verkoopstafels (bring al jou stapgoed wat jy nie meer gebruik nie en kom verkoop dit – sien die instruksies hieronder), die lekker kos (ons gee volgende week die spyskaart en prys deur) en die lekker gesels. Kry al die inligting hieronder en bespreek nou by Ilse Marais by 082 377 4584. Onthou van die kajakroei by Houtbaai se hawe Saterdag 25 November en die Wynkeldertoer by Babylonstoren Saterdag 2 Desember – albei se besprekings open Maandag 13 November.
- Die verkoopstafels by ons jaareindfunksie: As jy staptoerusting of stapverwante items by ons jaareindfunksie wil kom verkoop, stuur e-pos aan Madeleine Krause by madeleine@nautical4u.co.za om ‘n nommer te kry (want jy moet jou items met jou nommer en die prys merk – in R10’e). As jy kom koop, bring geld in kontant saam – alles in R10-eenhede (moenie staat maak op kleingeld nie). Die reëlings word hieronder by die Jaareindfunksie se inligting verduidelik. Daar sal ook ‘blister-free’ sokkies, kamaste (gaiters), en heuning te koop wees.
- Stapkilometers: Baie geluk aan die vier mense wat kilometer-mylpale tydens die Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Uniondale tot Mosselbaai) van 1-14 Oktober 2023 behaal het: Kobus Terblanche 1000 km, Sharon Visser 2000 km, Mariana du Toit 3000 km en Steph du Toit sy 4000 km. Al die mooi dinge wat julle oor hierdie afstand ervaar het – dit word die onthou-jy-nogs van ‘n mens se lewe.
- Meer reservate vir die Kaap: Kaapstad se metroraad het vroeg in November ingestem om nuwe natuurreservate te proklameer en ‘n hele rits bestaande natuurreservate te vergroot. Die voorgestelde nuwe reservate is Ariesfontein, Haasendal, Soetwater, Simphony Way, Van Schoorsdrif en Westlake. Die natuurreservate wat moontlik vergroot word is Blaauwberg, Valsbaai, Harmony Flats, Steenbras, Tafelbaai, Tygerberg, Witzands, Wolfgat en Zandvlei. Hopelik is daar nuwe staproetes ook. Sien www.netwerk24.com/netwerk24/Nuus/Omgewing/nuwe-natuurreservate-in-kaapstad-beplan-9-dalk-vergroot-20231031
- Stapverslae: Sien stapverslae vir Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Uniondale tot Mosselbaai), Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Nature’s Rest tot Mosselbaai), Paarlberg, en die Luiperdkamerastap hieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
YZERFONTEIN-KAMPNAWEEK, WESKUS – VRYDAGMIDDAG 10 TOT SONDAG 12 NOVEMBER 2023
2 plekke oop
Besprekings en stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Basis vir die naweek: Yzerfontein se kampterrein. Graad: 1B (redelik). Groepgrootte: 18. Inpak. Soos vir kampnaweek met tente, ens. Dagsakkies vir twee dagstappe. Koste: Kampplek en hout: R150 pp. Brandstofdonasie R220 (2 x 90 km = 180 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.
Wynand en Madeleine sê: Kom geniet ‘n Weskus-naweek by Yzerfontein om asem te skep vir die laaste gedeelte van die jaar. Ons doen twee dagstappe: Die Schaapeneilandroete (so 5 km) langs die see en die Bokbaaivygieroete. Die Schaapeneilandroete loop verby baaitjies en plekke met name soos Blaasgat, Hoëbank, Gladdebank, Skuimgat en Kreefgat. Ons loop ook verby ’n kalkbrander. Die Nederlanders het sedert die vroegste tye aan die Kaap kalkbranders opgerig en mossels gebrand om “bindmateriaal” vir bouwerk te verkry. Ons behoort ook walvisse te sien. Die res van die naweek kuier ons en verken die Weskus.
BERGRIVIER – FRANKRYKRIVIERSKLOOF, FRANSCHHOEK – SATERDAG 18 NOVEMBER 2023
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 08:00 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 17 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R50. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier. Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors. Swem en voete in die water sit is hier ‘n goeie opsie.
JAAREINDFUNKSIE – WOENSDAGAAND 22 NOVEMBER 2023 OM 19:00
Bespreek teen Maandag 20 November om 13:00 (vir spysenieringsdoeleindes)
Plek: Die kerksaal van die NG Kerk La Rochelle. Hoek van Meerlust- en Hadleystraat, Bellair. Op die agenda: Bekendstelling van 2024 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), lekker eet en kuier. Ons stel die program met ‘n PowerPoint-aanbieding bekend. Verkoopstafel (kry solank jou stapklere en staptoerusting reg wat jy nie meer gebruik nie, maar nog bruikbaar is en kom ondersteun die sirkelekonomie). Bring asseblief ‘n flits saam vir ingeval van beurtkrag. Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za
HOE OM GEBRUIKTE STAPTOERUSTING BY ONS JAAREINDFUNKSIE TE KOM VERKOOP
Stuur nou e-pos aan madeleine@nautical4u.co.za om ‘n nommer te kry
Kom ons ondersteun die sirkelekonomie en verkoop die toerusting wat ons nie meer gebruik nie in plaas daarvan dat dit net plek in ‘n kas opneem of, nog erger, op ‘n vullishoop beland en ons koolstofvoetspoor vergroot. Dit gaan oor hergebruik, herwinning en herverwerking. As ons sien dit werk goed, kan ons dit elke jaareinde herhaal.
Wat kan jy kom verkoop? Dit kan enigiets wees van bruikbare stapklere (wat te groot of te klein is, of verkeerd gekoop is) en ‘n slaapsak (wat jy nie meer nodig het nie) tot vol gaskannetjies (omdat jy ‘n ander soort stofie gekoop het).
As jy ‘n verkoper is:
- Stuur e-pos aan Madeleine Krause by madeleine@nautical4u.co.za om ‘n nommer te kry.
- Merk jou items met die prys (in eenhede van R10) en jou nommer. (As daar nie ‘n prys of nommer op is nie, is dit ‘n skenking 😊 )
- Sorg dat al jou items bruikbaar, skoon en heel is.
- Bring jou items vooraf (tussen 18:00 en 18:30) na die verkoopstafel by die jaareindfunksie.
- Na die funksie kan jy jou geld kom afhaal en jou item(s) wat nie verkoop het nie kom kry. (Items wat nie afgehaal word nie, sal vir ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk word.)
As jy kom koop
- Kom snuffel en vul jou staptoerusting aan.
- Bring asseblief kontant in klein note saam om te koop (R10’e) want daar gaan verkieslik nie kleingeld gegee word nie.
KAJAK-ROEI BY HOUTBAAI – SATERDAG 25 NOVEMBER 2023
Bespreek vanaf Maandag 13 November
Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:30 by Houtbaai. Graad: 1A (maklik). Groepgrootte: 12. Inpak: Swemklere, sonbeskerming. Koste: R475 per persoon.Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Ons doen ‘n slag iets anders. Ons roei saam met Brent Thomas van Karbonkelberg Toerisme. Hulle voorsien die kajakke en reddingsbaadjies. Ons leer ook meer oor die plaaslike geskiedenis en kultuur terwyl ons verby vissersbote, seilbote, die “glowing green room” en ‘n kolonie beskermde robbe roei. Groot pret! Dalk vis-en-chips parcels by Fish on the Rocks by die hawe agterna?
WYNKELDERSTAP BY BABYLONSTOREN – SATERDAG 2 DESEMBER 2023
Bespreek vanaf Maandag 13 November
Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: Om 09:00 by Babylonstoren naby Franschhoek.Kry die aanwysings by https://babylonstoren.com/map-directions. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R120 vir wynproe met 4 wyne plus vonkelwyn, of R140 vir 7 wyne. Albei sluit peuselgoed plus die toegangsgeld tot Babylonstoren in. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 16de wyntoer wees. Ons kom om 09:00 by die toegangskantoor by Babylonstoren bymekaar en gaan almal as ‘n groep deur. Ons dwaal vir 75 minute deur die pragtige tuine en meld om 10:30 by die proelokaal aan. Ná die wynproe kan elkeen op eie koste iets by die verskeie plekkies op die landgoed eet of in die winkeltjies rondkyk. “Babylonstoren is one of the oldest Cape Dutch farms, set at the foot of Simonsberg in the Franschhoek wine valley. It has a fruit and vegetable garden of beauty and diversity, unique accommodation, fine food and wine, and evokes a sense of wellbeing.”
STAPVERSLAE
Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Uniondale tot Mosselbaai): 1-14 Oktober 2023
Ons pelgrimstog word voorafgegaan deur n besoek aan Pinnacle Point se unieke mosaïektonnel waar Amos, voorsitter van die kultuurvereniging, ons verwelkom met ‘n skyfievertoning en toer deur die tonnel. Ons begin ons Pelgrimstog vanaf Uniondale se kerk waar ons koffie, beskuit en ‘n pakkie ontvang wat bestaan uit ‘n rooi hoed, pelgrimspaspoort en roetegids. Met die uitstap uit die kerk, lui die kerkklokke totdat ons om die eerste draai stap. Elke herbergier op die roete het ons met soveel gasvryheid ontvang. Die verblyf op die roete was werklik ‘n luuksheid en die kos heeltemal te veel en baie smaaklik. Hoewel die pad baie hard was, is die natuurskoon van die Karoo, deur die Langkloof en seelangs net mooi. Sommige van ons het blase op die voete gehad, maar die lekkerte het geen einde gehad nie. Vier van die stappers het mylpale behaal met hul kilometers: Kobus Terblanche 1000 km, Sharon Visser 2000 km, Mariana du Toit 3000 km en Steph du Toit sy 4000 km. Dit is natuurlik behoorlik gevier met vonkelwyn en luide toejuiging. Die rooi hoede word oral erken en motors toet en mense waai en stop om met ons te gesels. Soms kry ons ‘n kospakkie vir die dag en ander dae word piekniektafels langs die pad deur gasvroue opgeslaan. Dan verwys ons na onsself as rawe, want die kos en drinkgoed verdwyn voordat jy jou oog kan knip. Ander kere word ons ontvang in ‘n klein huisie met soveel liefde en ‘n vuurtjie wat brand terwyl daar in eenvoud roosterkoeke, konfyt en kaas uitgehaal word. By Holgate moet ons 4 km trollie trap op die spoor wat gesorg het vir groot pret. Op Dag 14 word ons deur ds Gerrie, Irma en Zurika op Diasstrand ingewag. Hulle stap die laaste 14 km saam met ons deur Mosselbaai. Ons ontvang nagmaal by die Klipkerk en stap dan aan tot by die St Blaze Lighuis waar ons klaar maak. Ons ontvang sertifikate en weer vonkelwyn. Van tolbosse in die Karoo tot walvisvinne in die tuinroete – ons sal hierdie stap baie lank onthou asook die samesyn van hierdie agt medestappers. Dit is voorwaar ‘n hoogs aanbevole ervaring vir almal. Die Pelgrimstog van Hoop was vir ons meer as net ‘n stap. ‘n GROOT dankie aan Niel en Sharon vir al die reëlings, onderhandelings en omgee – ons waardeer dit. Stapafstand: 274 km. Klimhoogte: 3864 m.
Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Nature’s Rest tot Mosselbaai): 30 September tot 6 Oktober 2023
Agt pelgrims het uit verskeie oorde na Pinnacle Point vertrek en oorgeslaap by Niel en Sharon Visser se pragtige huis. Op Dag 1 laai die pendeldiens ons om 05:30 op en ons vertrek na ons beginpunt by Heimersrivier. Eduard gee ons rooi staphoede en pelgrimspaspoorte en ons word afgesien. Die brunch etes deur die Pelgrimsroete is ruim porsies en ons word oral bederf. Saans slaap ons in skoon, goedversorgde geriewe. Oral is ‘n ” honesty bar” met wyn, koeldrank en koue water of bier. Sommige van die oorblyplekke het selfs lekkers of pakkies chips beskikbaar gehad. Dag 2 was opwindend met die treintrollie wat ons moes trap tot by die Holgate-padstal. Dit was baie pret maar nie so maklik as wat dit lyk nie. Ons groep het by die Padstal ‘n boom geplant as teken van Hoop. Die teetuin by ons eindbestemming was heerlik en die volgende oggend het die kerkklokke van Herold saam met ds Gert ons weer afgesien, ná ‘n kersaansteek-sermonie en die voorlees van Psalm 130. Die Montagupas was pragtig maar baie warm. Gelukkig was daar oral waterstroompies en koeltes vir ‘n lafenis. Die Tolhuis Museum was ons middagetestop waar ons heeltemal te veel geëet het. Elke dag het een van ons stappers die geleentheid gehad om ‘n boodskap te lewer wat ons met ons kon saamneem vir die dag. Die herbergiers is hartsmense wat baie moeite doen en lekker gesels voor ete. Dit dra alles by tot die wonder van hierdie besonderse stap. Die weer was iets van alles – van warm tot reën. Seelangs is nie moeilik nie, maar ons moes met tye skoene uittrek. Ons het ‘n ongelooflike walvisopvoering gehad. Daarna is die natweer met warm Spur-tjippies afgesluk. Jy stap jouself fiks en aan die einde van die stap word jy beloon met nagmaal by die plaaslike gemeente, vonkelwyn en ‘n opsionele besoek aan die vuurtoring van St Blaize. Die kuier by Delfinos met die R100 geskenkbewys was baie emosioneel. Ons pendeldiens tel ons weer op en neem ons terug na Pinnacle Point. Na ‘n lekker stort het ons gesit en besin oor die afgelope paar dae. Die hele Pelgrimstog was ‘n ongelooflike ondervinding en ons pelgrims sal vir lank daaroor droom. ‘n GROOT dankie aan Niel en Sharon vir al die reëlings, en aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapleiding. Stapafstand: 139 km. Klimhoogte: 1458 meter.
Paarlberg – 28 Oktober 2023
Saterdagoggend het 13 van ons by Meulwater bymekaargekom. Admin is gou-gou afgehandel en die weer was perfek vir die stap. Ons is eers na die waterval en toe op met die paadjie tot by Oukraal. Hier het ons ‘n vinnige ruskans geneem terwyl Beulagh ons meer vertel het van die geskiedenis rondom Oukraal. Ons het teetyd by Betheldam vertoef – die dam is propvol! By Krismiskamp het ons weer ‘n vinnig breek geneem en is van daar af met die paadjie na Bretagne- en Gordonklip. Ons stap rustig die 365 trappies na bo en ‘n paar van ons is op met die paadjie en ketting na Bretagneklip. Die wind het egter so erg gewaai dat ons bo omgedraai het (het daar probeer eet) maar die wind het gewen! Toe het ons eerder onder gaan eet. As gevolg van die wind wou niemand opgaan met Paarlrots nie. Ons is deur die tuin terug na ons motors (13:20 klaar gestap). Almal was opgewonde om nog klaar te gaan maak vir die Wêreldbeker Rugby wat 21:00 die aand uitgesaai sou word. Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en dankie aan Brenda Sideratos vir die reelings. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 533 meter.
Luiperdkamerastap – 4 November 2023
Agt van ons is stiptelik om 08:00 in digte mis by Eerste Tol. Ná die admin afgehandel is begin ons om 08:10 te stap. Die paadjie is redelik oopgetrap en ons vorder gemaklik. Ons kom om 10:20 by die kameras aan. Daar is twee luiperdfoto’s op die nuwe Kamera A en die ou kamera het slegs ‘n gedeelte van die tydperk gewerk en daarop is een luiperdfoto. Ek monteer die nuutste kamera (2) (aangekoop deur die klub) in die plek van die oue en nadat ek die foto’s van kamera A afgelaai het monteer ek dit weer. Dit neem ongeveer ‘n uur waartydens Org die terrein voor die kameras skoon knip. Ons begin ons terugtog om 11:30. Die weer is deurgaans gunstig en om 13:30 is ons terug by die motors. Ons drink almal ‘n bier by The Bell Inn voordat ons uitmekaar gaan. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 meter.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2023
R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
ALGEMENE STAPREËLS
- Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
- Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
- Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
- Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)
LAAT MENS DINK
‘Hiking is a portal to discover the things in the world that fascinate you, while caring for your mental and physical health without you even noticing.’ – Quintin Lake
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie
