~ 27 September 2023: Volmaanstap hierdie Saterdag | Volgende sarsie stappe

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • Stapdinge: Ons hoop almal is veilig na die afgelope naweek se storm. (Volgens Landwater op Facebook het daar die naweek 340 mm reën by Dwarsberg in Jonkershoek geval.) Dit beteken talle natuurreservate is tans weer toe. Ons het nog nooit so ‘n nat winter beleef en soveel stappe geherskeduleer nie. Kom ons hou duim vas dat die lente nou hier is. Ons het nog ‘n hele klomp lekker stappe voor die einde van die jaar.
  • Tuinroete Pelgrimstog van Hoop: Twee groepe vertrek die naweek om die Tuinroete Pelgrimstog van Hoop te gaan stap. Die groep wat die 14-dae roete van Uniondale tot Mosselbaai stap word deur Niel en Sharon Visser gelei terwyl die groep wat die 7-dae roete van Nature’s Rest tot Mosselbaai stap deur Wynand en Madeleine Krause gelei word. Ons sê by voorbaat dankie vir al die reëlings (daar was baie) wat Niel en Sharon Visser getref het om alles moontlik te maak. Geniet dit en kom vertel!
  • Wat is op jou wenslys vir volgende jaar se program? Ons begin volgende week met die beplanning van 2024 se stapprogram. Stuur jou voorstelle – van langstappe en kampnaweke tot dagstappe en ander interessante uitstappies – na amandam@mweb.co.za.
  • Verkoopstafel by ons jaareindfunksie: As jy stapklere en staptoerusting het wat jy nie meer gebruik nie en wat niks makeer nie (dit moet skoon en heel wees), kom verkoop dit by ons jaareindfunksie. Al die items wat jy wil verkoop, kry ‘n nommer (jy weet dus nie wie se stapgoed jy koop nie). Almal koop met kontant (alles in R10’e). Aan die einde van die aand kry die verkopers hul geld in kontant en die kopers kry hul inkopies. So ondersteun ons die ‘circular economy’ en help ons om ons koolstofvoetspoor te verminder. Ons stuur binnekort meer inligting uit oor hoe presies dit gaan werk en waar jy moet aanmeld om deel te neem.
  • Wenke om ‘n rivier in vloed te kruis: Steve Chadwick gee die volgende raad vir rivierkruisings: “If you have no choice but to cross a water course in spate, there are several options. (1) If you must cross by yourself, a hiking pole is invaluable to make up a triangle of stability, your two legs and the pole. Only use one pole and hold with both hands. Enter the water facing DOWN STREAM with the pole held against the river bottom below you down stream. The reason being that if you face up stream and you lose balance and slip, the water will push you over and you will fall into the water. If you face down stream and slip, the water force will be behind you, pushing you onto your hike pole, giving you a much better chance of staying upright. (2) It is far safer to ‘raft up’ with your mate. Presumably you will not be alone in the wilderness. Sack you hike pole and put your arms around each other’s shoulders. This makes a very stable unit. Then slowly shuffle across the river holding tight to each other. If one person slips, the other will invariably hold them up. Even better if you can form up into a three-person unit. (3) There is a technique using a safety rope to protect the crossing, but this must be taught by a wilderness instructor or guide. Stay safe out there.”
  • Geen afslag meer by Cape Union Mart nie: Sanlam-Staptoerklub kry al vir baie jare 10% afslag by Cape Union Mart, maar hulle het dit nou gestop (sonder om ons in kennis te stel). CUM het ‘n nuwe puntestelsel wat só werk: Jy kry 1 punt vir elke R20 wat jy daar uitgee. As jy 100 punte het, kry jy R100 af (wat op 5% neerkom). Sien https://www.capeunionmart.co.za/friends-and-family.html.
  • Hi-Tec in Tygervallei: Daar maak op 6 Oktober ‘n nuwe Hi-Tec-winkel in Tygervallei oop. Daar sal openingswinskopies wees.
  • Stapverslae: Die volgende nuusbrief sal weer stapverslae bevat.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

MEERENDAL VOLMAANSTAP – SATERDAG 30 OKTOBER 2023 OM 18:45

Bespreek voor Donderdag 28 Sept om 14:00 sodat ons kaartjies kan koop

Besprekings: Amanda Matthee by 0825703895. Beginpunt- en tyd: 18:30 by Meerendal. Graad: 2A (redelik, 5 km). Groepgrootte: 12. Inpak: water, warm klere, reënbaadjie, kos, ens. BRING ‘N FLITS SAAM. Koste: R50 per persoon (R20 vir studente en pensioenarisse). Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: ‘n Kort maar mooi stap van 5 km in die volmaan by Meerendal op die Vissershokpad buite Durbanville. Reën Vrydagnag maar oopgetrek Saterdagaand – bring warm klere. (Bossa Winelands and LaRomantica is oop as iemand agterna iets wil gaan eet of drink.)

TUINROETE PELGRIMSTOG VAN HOOP – UNIONDALE TOT MOSSELBAAI (14 dae): 1 – 14 OKTOBER 2023 (rydatums uitgesluit)

Volbespreek

Besprekings: Niel Visser by 076 992 3375. Graad: 2A (270 km). Groepgrootte: 8. Inpak: Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke, maar sonder kos want maaltye word voorsien. Wees voorbereid op enige soort weersomstandighede. Koste: R8600 pp. Koste sluit in 3 maaltye per dag en oornagverblyfop die roete, en ‘n verwelkomingspakkie. Wat nog moet bykom:Verblyf in Mosselbaaivoor en na die stap en vervoer na die stapbeginpunt.Adminheffing R70 (lid) / R140 (besoeker). Brandstofkoste na Mosselbaai: R1250. Elke stapper ontvang ná die stap ‘n koopbewys vir middagete by Delfino’s by die Punt op Mosselbaai. (Opsioneel ekstra: Vervoer van sakke R100 pp per dag.)

Niel en Sharon sê: Kom stap saam met ons tussen kerke en herberge in die natuurskoon van die Tuinroete in ons eie land. Die 14-dag pelgrimstog is ‘n geestelike en fisiese avontuur waar daar gereis word in tyd en ruimte, tussen mite en legende, geskiedenis en tradisie, natuur en kultuur. Ons stap vanaf Uniondale oor drie bergpasse, deur die Karoo, oor plase, deur woude, strandlangs en eindig by die St Blaze-vuurtoring in Mosselbaai. Elke stapper ontvang voor die stap ‘n pakkie wat bestaan uit ‘n stapgids, rooi hoed, paspoort en sleutelhouer. Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke. Afstande per dag wissel tussen 14 en 24 km. Op die roete trap ons selfs ‘n treintrollie. Stappers wat reeds hierdie stap gedoen het is absoluut in ekstase en beveel dit hoog aan.  

TUINROETE PELGRIMSTOG VAN HOOP – NATURE’S REST TOT MOSSELBAAI (7 DAE): 30 SEPTEMBER – 6 OKTOBER (rydatums uitgesluit)

Volbespreek

Besprekings: Niel Visser by 076 992 3375. Graad: 2A (132 km). Groepgrootte: 8. Inpak: Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke, maar sonder kos want maaltye word voorsien. Wees voorbereid op enige soort weersomstandighede. Koste: R4500 pp. Koste sluit in 3 maaltye per dag en oornagverblyfop die roete, en ‘n verwelkomingspakkie. Wat nog moet bykom:Verblyf in Mosselbaaivoor en na die stap en vervoer na die stapbeginpunt.Adminheffing R35 (lid) / R70 (besoeker). Brandstofkoste na Mosselbaai: R1250. Elke stapper ontvang ná die stap ‘n koopbewys vir middagete by Delfino’s by die Punt op Mosselbaai. (Opsioneel ekstra: Vervoer van sakke R100 pp per dag.)

Niel en Sharon sê: Kom stap saam tussen kerke en herberge in die natuurskoon van die Tuinroete in ons eie land. Die 7-dag pelgrimstog is ‘n geestelike en fisiese avontuur waar daar gereis word in tyd en ruimte, tussen mite en legende, geskiedenis en tradisie, natuur en kultuur. Ons stap vanaf Nature’s Rest oor twee bergpasse, deur die Karoo, oor plase, deur woude, strandlangs en eindig by die St Blaze-vuurtoring in Mosselbaai. Elke stapper ontvang voor die stap ‘n pakkie wat bestaan uit ‘n stapgids, rooi hoed, paspoort en sleutelhouer. Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke. Afstande per dag wissel tussen 14 en 24 km. Op die roete trap ons selfs ‘n treintrollie. Stappers wat reeds hierdie stap gedoen het is absoluut in ekstase en beveel dit hoog aan.  

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 7 OKTOBER 2023

Bespreek nou

Stapleier: Amanda Matthee by 0825703895. Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R20 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: ‘n Lekker stap om weer aan die gang te kom na al die reën. Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk.

LEOPARD’S LOOP, HELDERBERG, SOMERSET-WES – SATERDAG 21 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 9 Oktober

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Helderberg-natuurreservaat. Graad: 2A (sowat 10 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: Hekgeld R20 per persoon en R20 per voertuig. R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: ‘n Lekker vroegoggendstap sirkelroete eers tot bo in Disakloof en dan terug net sodat ons “in oefening bly”. Ons stap op die jeeppad op, eet iets bo by die omdraaipunt in die inheemse woud, en stap dan met voetpaadjie terug. Die roete het baie mooi uitsigte oor die Helderbergkom.

PAARLBERG – SATERDAG 28 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 16 Oktober

Besprekings en stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Paarlberg-natuurreservaat. Graad: 1B (sowat 18 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 28 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 16 Oktober

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Graad: 4C, veeleisend, 22 km, 1300 m klimhoogte. Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons klim eers rustig tot by Cecilia waterval en klim dan verder tot ons by Cecilia Rif aankom. Hier klouter ons dan op teen die kant van die berg tot ons by die Overseers Cottage aankom. Ons neem dan die Smuts Track tot ons by die hoogste punt van Tafelberg, Maclear Beacon, aankom. Ons stap dan reg oor die voorste tafel en sak dan af met die lere by Valley of the Red Gods om ‘n draai te maak by Grotto grot.  Ons stap dan aan via Echo Valley en oor met Valley of Isolation tot ons by die damme aankom. Ons stap dan oor die damwal en volg die paadjie tot by De Villliers-dam waar ons die paadjie vat in die rigting van Klaasenskop, die Kameel-rots en Bel Ombre. Ons sak af met Constantia Corner, verby Eagles Nest, en neem dan die jeep track al die pad terug tot by die motors. Seker die uitdagendste Tafelberg Extreme stap nog en wat ‘n hoë graad van fiksheid vereis. Bring asb kopliggies en bietjie ektra kos saam, net vir ingeval.

KAAPPUNT-DAGSTAP: PAULSBERG – SATERDAG 4 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 23 Oktober

Beginpunt: 08:00 by die hek by Kaappunt-natuurreservaat. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (9 km, redelik). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: R94 hekgeld / Wildcard (bring jou ID-kaart saam). Brandstofdonasie R100 (85 km x 2 = 170 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Paulsberg (367 m) is die hoogste piek in die Kaappunt-natuurreservaat. Ons begin by die Buffelsbaai-parkeerterrein en stap op na Kanonkop en agterom Paulsberg tot ons die paadjie na die piek van Paulsberg kry. Die uitsigte oor Valsbaai is indrukwekkend. Ons loop deels met dieselfde pad terug en kan in die getypoel by Bordjiesdrif gaan swem voor ons terugkeer huis toe.

YZERFONTEIN-KAMPNAWEEK, WESKUS – VRYDAGMIDDAG 10 TOT SONDAG 12 NOVEMBER 2023

Volbespreek

Besprekings en stapleiers: Wynand en Madeleine Krause by 084 573 4376. Basis vir die naweek: Yzerfontein se kampterrein. Graad: 1B (redelik). Groepgrootte: 18. Inpak. Soos vir kampnaweek met tente, ens. Dagsakkies vir twee dagstappe. Koste: Kampplek en hout: R150 pp. Brandstofdonasie R220 (2 x 90 km = 180 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Geen permitkoste.

Wynand en Madeleine sê: Kom geniet ‘n Weskus-naweek by Yzerfontein om asem te skep vir die laaste gedeelte van die jaar. Ons doen twee dagstappe: Die Schaapeneilandroete (so 5 km) langs die see en die Bokbaaivygieroete. Die Schaapeneilandroete loop verby baaitjies en plekke met name soos Blaasgat, Hoëbank, Gladdebank, Skuimgat en Kreefgat. Ons loop ook verby ’n kalkbrander. Die Nederlanders het sedert die vroegste tye aan die Kaap kalkbranders opgerig en mossels gebrand om “bindmateriaal” vir bouwerk te verkry. Ons behoort ook walvisse te sien. Die res van die naweek kuier ons en verken die Weskus.

BERGRIVIER – FRANKRYKRIVIERSKLOOF, FRANSCHHOEK – SATERDAG 18 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 6 November

Beginpunt- en tyd: 08:00 op Robertsvlei-pad buite Franschhoek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 17 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R50. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier. Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors. Swem en voete in die water sit is hier ‘n goeie opsie.

JAAREINDFUNKSIE – WOENSDAGAAND 22 NOVEMBER 2023 OM 19:00

Bespreek vanaf Maandag 23 Oktober

Plek: Die kerksaal van die NG Kerk La Rochelle. Hoek van Meerlust- en Hadleystraat, Bellair. Op die agenda: Bekendstelling van 2024 se stapprogram (sodat jy volgende jaar se stappe kan beplan), lekker eet en kuier. Ons stel die program met ‘n PowerPoint-aanbieding bekend. Verkoopstafel.

Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za

BO-KAAP KULTUUR-TOER – SATERDAG 25 NOVEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 13 November

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: Sal nader aan die tyd bekend gemaak word. Graad: 1A (maklik). Groepgrootte: 12. Inpak. Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Presiese koste sal later deurgegee word. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Ons doen ‘n toer van die Bo-Kaap saam met ‘n professionele gids. Die Bo-Kaap met sy helderkleurige huisies is een van die oudste woongebiede in die stad – die eerste ontwikkelings was reeds in die 1760’s. Die toer sluit ‘n Kaaps-Maleise ete in met alles van kerrie en roti’s tot by koesisters.

WYNKELDERSTAP – SATERDAG 2 DESEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 20 November

Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: Tyd en plek sal later deurgegee word. Graad

1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 16de wyntoer wees. Ons gee later die presiese roete en kelder aan. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.

 

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2023

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe. Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

10 reasons to travel: (1) to learn, (2) to have adventures, (3) to be anonymous, (4) because life is short, (5) to meet people, (6) to feel alive, (7) to know yourself, (8) to challenge yourself, (9) to experience cultures, and (10) to not look back and wonder ‘What if?’

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie