~ 4 Julie 2023: Neem mooier foto’s: selfoon-fotografie werkwinkel 12 Julie om 18:00

NUUS EN STAPSAKE

  • Stapdinge: Dit is die natste winter in 47 jaar in die Wes-Kaap en ons voel dit aan ons stapprogram omdat ons net een Saterdag in Junie kon stap. Tans is talle roetes toe – soos Mont Rochelle, Jonkershoek, sommige roetes op Tafelberg, en South Hill by Elgin – sodat die skade aan die stappaadjies en toegangspaaie herstel kan word. Dit beteken dat ons stappe moet herskeduleer en by tye ook heeltemal ander roetes moet voorstel. Ons hou julle ingelig soos dinge verander. Die besprekings vir die twee Tuinroete Pelgrimstogte van Hoop het Maandagoggend 3 Julie geopen en dit is blitsvinnig volbespreek. Hierdie Saterdag (8 Julie) se Du Toitskop in die Mont Rochelle-Natuurreservaat word vervang met Matoppie by die Bergrivierdam buite Franschhoek. Ons skuif Suther Peak (Karbonkelberg) by Houtbaai (wat op 17 Junie uitgereën het) na Saterdag 29 Julie. Kyk gerus na die stappe hieronder, bespreek en kom stap saam!
  • Woon ons selfoon-fotografiewerkwinkel Woensdagaand 12 Julie om 18:00 by: Ons stap op van die mooiste plekke in die land en ons wil graag ons foto’s en ervarings met ander deel. Maar dit is nie altyd maklik om die mooi op jou kamera vas te vang nie. Hierdie werkwinkel sal jou wys hoe om beter foto’s met jou selfoon te neem. R120 pp. Kry meer inligting hieronder en bespreek by Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za teen Woensdag 5 Julie om 12:00.
  • Soek jy ‘n slaapsak? Twee slaapsakke in baie goeie toestand te koop. Die een is ‘n K-Way Chamonix 850 Eco met mikroveselvulsel (3 tot 15 grade Celsius; 850 gram). Die ander een is ‘n K-Way Otter met mikroveselvulsel (3 tot 9 grade Celsius; 0,85 kg; grys en pienk) – baie nuut. Prys onderhandelbaar. Skakel Brenda Sideratos by 072 122 5216.
  • Simpatie: Ons simpatie gaan aan Sharon Visser (sharondeb@mweb.co.za) wie se ma op 24 Junie oorlede is. Ons dink aan haar en haar familie in hierdie hartseer tyd.
  • Ledegeld: Ons ledegeld vir 2023 bly R100 per persoon en R170 vir twee mense (gade of kind bo 18). Lidmaatskap bied voordele soos ‘n veilige infrastruktuur vir stap, ‘n vooruitbeplande jaarprogram, voorkeur op besprekingslyse, ‘n lojaliteitsprogram (die kilometer-wapentjies), gereelde e-nuusbriewe, ‘n kleiner administratiewe heffing, en 10% afslag by Cape Union Mart in Tygervallei. Die inskryfvorm vir lidmaatskap is op ons webwerf by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir die Elgin-naweek, Tygerbergkoppie-dagstap, Antjie se Pad, Luiperdkamerastap, St Helenabaai-naweek, Zevenwacht-dagstap, en Muratie hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

WERKWINKEL: NEEM BETER FOTO’S MET JOU SELFOON – WOENSDAGAAND 12 JULIE 2023 OM 18:00

Bespreek teen Woensdag 5 Julie om 12:00

Werkwinkel om beter foto’s met jou selfoon te neem: Omtrent almal van ons neem stapfoto’s met ons selfone. Ons kom op plekke en sien landskappe wat bitter min ander mense sien. Dit is die foto’s wat ons met ander mense deel en wat die onthou-jy-nogs van ons lewe word. Maar dit wat ons sien kry ons nie altyd op ons kamera vasgevang nie. Wat moet ons doen om beter foto’s te neem?

Kom woon ons werkwinel oor selfoon-fotografie by, aangebied deur professionele fotograaf Hanna Jacobs. Hierdie werkwinkel sal jou wys hoe om die komposisie van jou foto’s te verbeter, foto’s te redigeer, en beter foto’s van mense, plantegroei, uitsigte en landskappe te neem. Dit sluit talle wenke in oor hoe om jou selfoon se kamera beter te benut. Sien ook https://hannajacobs.co.za/courses/.

Op die program: Ons begin 18:00 met die werkwinkel (daar sal roosterkoek op die tafels wees, bring gerus iets om te drink). Mense met dieselfde soort selfone (soos Apple, Samsung, ens.) sal bymekaar sit vir die werkwinkel. Daarna is daar heerlike vleis-en-groentesop, broodjies en nagereg terwyl jy nog vrae vir Hannah kan vra.

Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za

Plek: Kerksaal van die NG Kerk La Rochelle. Hoek van Meerlust- en Hadleystraat, Bellair.

Vir saambring: Eie skottelgoed en drinkgoed, aantekeningboekie en pen, en ook ‘n flits vir in geval van beurtkrag.

Koste: R120 per kop. Sluit in fotografie-werkwinkel, sop, roosterkoeke met kaas en konfyt, en koffie en soethappie. Yoco-kaartmasjien by die deur.

BERGRIVIERDAM: MATOPPIE – SATERDAG 8 JULIE 2022

Nog 1 plek oop

Besprekings: Brenda Sideratos by 072 122 5216. Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos. Beginpunt- en tyd: 08:00 by die Bergrivierdam buite Franschhoek. Graad: 2B (redelik, 17 km; klimhoogte 609 m). Groepgrootte: 16. Inpak: Reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede en sorg veral dat jy genoeg warm klere het. Koste               :Permit:R50.Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons begin by die Bergrivier se damwal te stap: https://goo.gl/maps/8TTD9p1J2npqSYA29.  Ons stap dan antikloksgewys om Matoppie-berg. Na so twee derdes se stap klim neem ons die paadjie na die piek uit waar ons ‘n 360 grade uitsig oor die dam en Franschhoek-vallei sal hê. Ons stap meestal op ‘n jeeppad.

KLEIN ROOSBOOM-STAPROETE – SATERDAG 15 JULIE 2023

Bespreek nou

Stapleier en besprekings: Wynand Krause by 084 573 4376. Beginpunt- en tyd: 08:30 by Klein Roosboom op die Tygervalleipad. Graad: 1A (5 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit (word later aangegee). Brandstofdonasie R50. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Wynand sê: Klein Roosboom vorm deel van die Durbanville Wynroete. Ons doen ‘n lekker winteroggend stap deur twee roetes aan mekaar te las – een van 2,3 km en een van 3 km deur die wingerde met pragtige uitsigte oor die vallei. Ons kan agterna koffie drink en die winkeltjie besoek. Daar is ook die opsie van ‘n wynproe. Sien ook https://kleinroosboom.co.za/.

TAFELBERG: OP MET 3 FIRS RAVINE EN AF VIA GROOTKOP EN OUDEKRAAL RAVINE – SATERDAG 22 JULIE 2023

Bespreek vanaf Maandag 10 Julie

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 07:30 by die Theresa Avenue jeep track in Bakoven – sien https://goo.gl/maps/jsiotDDBhj12. Graad: 3C (veeleisend; 12 km, 1000 m klim). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin in Theresaweg en stap met die Pipetrack langs totdat ons by 3 Firs Ravine se afdraai kom. Dan stap ons met hierdie steil maar baie mooi ravyn op tot bo-op Tafelberg se agterste tafel. ‘n Kop vir hoogtes is hier belangrik. Ons stap ‘n ent op die agterste tafel aan tot by Grootkop, waar ons dan tot op die hoogste punt van die 12 Apostels klim.  Ons sak dan weer af tot op die Pipe Track via Oudekraal Ravine en volg dan die roete terug tot by die motors. ʼn Baie mooi en moeite-werd dagstap.

KARBONKELBERG (CAMP COLLINS, SUTHER PEAK, KAPTEINSKLIP), HOUTBAAI – SATERDAG 29 JULIE 2023

Enkele plekke oop (as jy vir die stap van 17 Junie bespreek het, is jou naam steeds op die lys)

Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Beginpunt- en tyd: 08:30 by Fish on the Rocks, Houtbaai. Stapleier: Brent Thomas van Karbonkelberg Toerisme (plaaslike gids). Graad: 2B (12 km; 350 m klimhoogte). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Stappermit en gids: R150 (bring saam in kontant na stapbeginpunt). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Ons maak van ‘n plaaslike gids gebruik om hierdie roete van sowat 12 km te stap. Ons begin op ‘n jeeppad met uitsigte wat al mooier word soos wat ons hoër klim. Ons stop by interessante rotsformasies en stap tot by Kamp Collins waar die ou radarstasie is. Ons kyk af op die wrak van die BOS 400 (The BOS 400 is a French Derrick/Lay Barge that ran aground while being towed by the Russian tugboat Tigr on June 26, 1994.) Dan meem ons die afdraai na Suther Peak. Ons stap verby ‘n dam en teen die kop uit na die baken bo-op Suther Peak). Met die terugtog stap ons via die Kapteinsklip-uitkykpunt op Karbonkelberg en dan stap ons verder met ‘n veldpaadjie terug tot by die motors. Hierdie roete se uitsigte is fantasties. Ons kan agterna vis en chips by die hawe gaan eet.

TAFELBERG: HOLE IN THE WALL AND CAVEMAN’S OVERHANG – SATERDAG 5 AUGUSTUS 2023

Bespreek vanaf Maandag 24 Julie

Besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Contantianek. Graad:

2B (veeleisend; 8 km; 6 uur). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin by Constantianek, en stap op tot by die Overseer’s Cottage op die agterste tafel. Ons neem die paadjie oorkant die kraan wat in die rigting van De Villiers-dam loop. Ons volg dan die paadjie verby Camel Rock en dan af na De Villiers-dam waar ons dan links uitswaai na Caveman’s Overhang en Hole in the Wall (ons moet deur die gat kruip). Die paadjie bo-op die rif het mooi uitsigte oor die Victoria-dam en die agterste tafel van Tafelberg. Ons kom weer via die jeeppad terug.

MIASPOORT – SATERDAG 12 AUGUSTUS 2023

Bespreek vanaf Maandag 31 Julie

Besprekings en stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: 08:00 net voor Du Toitskloofpas (Paarl se kant van Du Toitskloofpas) op die R101 (7 km buite die Paarl). Graad: 2B (veeleisend, 8 km waarin jy 877 m oor 3 km klim, 7 uur). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. ʼn Stapstok is ʼn goeie idee om saam te bring. Dra ten minste 2 liter water saam. Koste: Stappermit: R50 of Wildcard. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons pak ‘n lang, steil klim aan na die kruis wat in 1945 opgerig is deur die Italiaanse krygsgevangenes wat Dutoitskloofpas gebou het. Die berglandskappe hier is indrukwekkend mooi. Ons klim eers tot op die nekkie waar ons ʼn bietjie sal rus. Dan volg daar nog ʼn stewige klim (maar meer geleidelik) tot by ons omdraaipunt by die kruis. Mens kan die kruis van Du Toitskloofpas sien as jy weet waar om te kyk (en as jy ná die stap weer deur die pas ry sal jy met verwondering kyk na hoe hoog jy geklim het). Sien https://www.hikingsouthafrica.co.za/miaspoort-trail-italian-cross/.

LANDDROSKOP, NUWEBERG BUITE GRABOUW – SATERDAG 19 TOT SONDAG 20 AUGUSTUS 2023

Volbespreek

Besprekings en stapleier: Abrie Marais by 082 578 3046. Beginpunt- en tyd: 08:00 by Nuweberg-bosboustasie buite Grabouw. Graad: 2A (redelik; 21 km oor 2 dae; 700 m klimhoogte): Dag 1: 12 km (sowat 6 uur). Dag 2: 9 km (sowat 4 uur). Groepgrootte: 16. Inpak: Oornag-rugsak met slaapsak, kos, water, windjekker, ens. Slaap in oornaghutte met matrasse. Wees voorbereid op enige weersomstandighede. Braai die aand. Koste: Permit sowat R380 (sonder Wildcard in berekening gebring). Brandstofdonasie R200 (90 km x 2 = 180 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Abrie sê: Hierdie naweekstap begin by die Nuweberg-natuurreservaat buite Grabouw en loop deur pragtige berglandskappe en fynbos. Dag 1: Ons loop vanaf die reservaat se kantoor rustig via die Sphinx-roete na Landdroskop se hut (12 km, 5 tot 6 uur). Ons klim ‘n hele ent, maar dit is baie geleidelik. Ons is gewoonlik vroeg genoeg by die hut sodat mens lekker daar kan kuier. Ons braai die aand. Ons stap die volgende dag met die jeeppad terug (9 km, 4 tot 5 uur).

KORINGBERG-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 25 TOT SONDAG 27 AUGUSTUS 2023

Volbespreek

Besprekings: Amanda Matthee by 082 5703 895. Organiseerder: Esther Warnich en Helen Kriel.

Basiskamp vir die naweek: Die Ark Backpackers by Hooggeleë, Koringberg (Die Ark Campsite & Backpackers is on N7 between Moorreesburg and Piketberg. When driving from Cape town on N7, pass Malmesbury, pass Moorreesburg. Turn left at Koringberg (Desert Rose farmstall). First farm on the left (1.5 km). Graad: 2A (redelik; 10 km + 14 km = 19 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweek wat uit twee dagstappe bestaan. Bring slaapsak, handdoeke, kos, ens. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Verblyf vir 2 aande: R400. Brandstofdonasie R390 (117 km + 42 km x 2 = 318 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Esther sê: Ons kom Vrydagaand by Die Ark bymekaar – dit is ons basis vir die naweek. Ons slaap op beddens in ‘n ou stal en braai die aand. Saterdagoggend ry ons na die berg bokant Piketberg (42 km) – daar is elke laaste Saterdag van die maand ‘n plaasmark van 09:00 tot 12:00 (kyk by Piket-Bo-Berg Farmers Market op Facebook). Daar is ook ‘n staproete van 10 km. Ons braai weer die aand by Die Ark. Sondag stap ons ‘n roete van 14 km by Koringberg en ry daana rustig terug Kaap toe. Ons kan ook op pad terug by die Desert Rose padstal koffie drink.

BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SATERDAG 2 SEPTEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 21 Augustus

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt- en tyd: 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en in watter kondisie hulle is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.

BLOUBERG-BEWARINGSGEBIED: FYNBOS – SATERDAG 9 SEPTEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 28 Augustus

Besprekings: Edna Terblanche by 082 379 3171. Stapleier: Sjirk Geerts, dosent by Universiteit van Kaapstad. Beginpunt- en tyd: 08:00. Graad: 2A (redelik maklik). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Edna sê: Kom leer meer van die fynbos in ons omgewing. Die Kaapse Blommeryk het 8 500 soorte fynbos waarvan 6 000 spesies net hier voorkom en nêrens anders in die wêreld nie. Hierdie stap skuif na die Blouberg-bewaringsgebied. Ons stap saam met ‘n fynboskenner wat ons meer sal vertel oor wat ons plantegroei uniek maak en hoe om dit uit te ken.

ELANDSRIVIERKLOOF – SATERDAG 16 SEPTEMBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 4 September

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: 08:00 by parkeerplek regs nes jy uit die Hugenote-tonnel kom. Graad: 2B (redelilk; 8 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 of Wildcard. Brandstofdonasie R100 + tolhekgeld (R44.50). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Die Elandrivierkloof lê in die Du Toitskloof-berge aan Worcester se kant van die tonnel (regs soos jy uit die tonnel kom). Die paadjie is soms steil op en af, maar oor die algemeen maklik. Na sowat 4 km kry ons die Vissermansgrot en hier is een van die mooiste swemplekke in dié berge. Ons kronkel al met die rivier langs tot by die middageteplek en stap dan met dieselfde roete terug.

LANGNAWEEK IN SEPTEMBER – VRYDAG 22 TOT MAANDAG 25 SEPTEMBER 2023 (Maandag = vakansiedag)

Ons kyk na ‘n ander stap vir hierdie tydgleuf.

TUINROETE PELGRIMSTOG VAN HOOP – UNIONDALE TOT MOSSELBAAI (14 dae): 1 – 14 OKTOBER 2023 (rydatums uitgesluit)

Besprekings open Maandag 3 Julie 2023 om 07:00

Besprekings: Niel Visser by 076 992 3375. Graad: 2A (270 km). Groepgrootte: 8. Inpak: Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke, maar sonder kos want maaltye word voorsien. Wees voorbereid op enige soort weersomstandighede. Koste: R8600 pp. Koste sluit in 3 maaltye per dag en oornagverblyfop die roete, en ‘n verwelkomingspakkie. Wat nog moet bykom:Verblyf in Mosselbaaivoor en na die stap en vervoer na die stapbeginpunt.Adminheffing R70 (lid) / R140 (besoeker). Brandstofkoste na Mosselbaai: R1250. Elke stapper ontvang ná die stap ‘n koopbewys vir middagete by Delfino’s by die Punt op Mosselbaai. (Opsioneel ekstra: Vervoer van sakke R100 per persoon per dag.)

Niel en Sharon sê: Kom stap saam met ons tussen kerke en herberge in die natuurskoon van die Tuinroete in ons eie land. Die 14-dag pelgrimstog is ‘n geestelike en fisiese avontuur waar daar gereis word in tyd en ruimte, tussen mite en legende, geskiedenis en tradisie, natuur en kultuur. Ons stap vanaf Uniondale oor drie bergpasse, deur die Karoo, oor plase, deur woude, strandlangs en eindig by die St Blaze-vuurtoring in Mosselbaai. Elke stapper ontvang voor die stap ‘n pakkie wat bestaan uit ‘n stapgids, rooi hoed, paspoort en sleutelhouer. Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke. Afstande per dag wissel tussen 14 en 24 km. Op die roete trap ons selfs ‘n treintrollie. Stappers wat reeds hierdie stap gedoen het is absoluut in ekstase en beveel dit hoog aan.  

TUINROETE PELGRIMSTOG VAN HOOP – NATURE’S REST TOT MOSSELBAAI (7 DAE): 30 SEPTEMBER – 6 OKTOBER (rydatums uitgesluit)

Besprekings open Maandag 3 Julie 2023 om 07:00

Besprekings: Niel Visser by 076 992 3375. Graad: 2A (132 km). Groepgrootte: 8. Inpak: Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke, maar sonder kos want maaltye word voorsien. Wees voorbereid op enige soort weersomstandighede. Koste: R4500 pp. Koste sluit in 3 maaltye per dag en oornagverblyfop die roete, en ‘n verwelkomingspakkie. Wat nog moet bykom:Verblyf in Mosselbaaivoor en na die stap en vervoer na die stapbeginpunt.Adminheffing R35 (lid) / R70 (besoeker). Brandstofkoste na Mosselbaai: R1250. Elke stapper ontvang ná die stap ‘n koopbewys vir middagete by Delfino’s by die Punt op Mosselbaai. (Opsioneel ekstra: Vervoer van sakke R100 per persoon per dag.)

Niel en Sharon sê: Kom stap saam tussen kerke en herberge in die natuurskoon van die Tuinroete in ons eie land. Die 7-dag pelgrimstog is ‘n geestelike en fisiese avontuur waar daar gereis word in tyd en ruimte, tussen mite en legende, geskiedenis en tradisie, natuur en kultuur. Ons stap vanaf Nature’s Rest oor twee bergpasse, deur die Karoo, oor plase, deur woude, strandlangs en eindig by die St Blaze-vuurtoring in Mosselbaai. Elke stapper ontvang voor die stap ‘n pakkie wat bestaan uit ‘n stapgids, rooi hoed, paspoort en sleutelhouer. Ons stap met oornag-rugsakke met slaapsakke. Afstande per dag wissel tussen 14 en 24 km. Op die roete trap ons selfs ‘n treintrollie. Stappers wat reeds hierdie stap gedoen het is absoluut in ekstase en beveel dit hoog aan.  

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT – SATERDAG 7 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 25 September

Stapleier: Chrisna Swart by 083 450 6682. Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R20 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R25. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Chrisna sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.

LEOPARD’S LOOP, HELDERBERG, SOMERSET-WES – SATERDAG 21 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 9 Oktober

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Helderberg-natuurreservaat. Graad: 2A (sowat 10 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: Hekgeld R20 per persoon en R20 per voertuig. R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: ‘n Lekker vroegoggendstap sirkelroete eers tot bo in Disakloof en dan terug net sodat ons “in oefening bly”. Ons stap op die jeeppad op, eet iets bo by die omdraaipunt in die inheemse woud, en stap dan met voetpaadjie terug. Die roete het baie mooi uitsigte oor die Helderbergkom.

PAARLBERG – SATERDAG 28 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 16 Oktober

Besprekings en stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos by 072 122 5216. Beginpunt- en tyd: 07:30 by Paarlberg-natuurreservaat. Graad: 1B (sowat 18 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 28 OKTOBER 2023

Bespreek vanaf Maandag 16 Oktober

Stapleier en besprekings: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Graad: 4C, veeleisend, 22 km, 1300 m klimhoogte. Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Ons klim eers rustig tot by Cecilia waterval en klim dan verder tot ons by Cecilia Rif aankom. Hier klouter ons dan op teen die kant van die berg tot ons by die Overseers Cottage aankom. Ons neem dan die Smuts Track tot ons by die hoogste punt van Tafelberg, Maclear Beacon, aankom. Ons stap dan reg oor die voorste tafel en sak dan af met die lere by Valley of the Red Gods om ‘n draai te maak by Grotto grot.  Ons stap dan aan via Echo Valley en oor met Valley of Isolation tot ons by die damme aankom. Ons stap dan oor die damwal en volg die paadjie tot by De Villliers-dam waar ons die paadjie vat in die rigting van Klaasenskop, die Kameel-rots en Bel Ombre. Ons sak af met Constantia Corner, verby Eagles Nest, en neem dan die jeep track al die pad terug tot by die motors. Seker die uitdagendste Tafelberg Extreme stap nog en wat ‘n hoë graad van fiksheid vereis. Bring asb kopliggies en bietjie ektra kos saam, net vir ingeval.

STAPVERSLAE

Elgin-naweek: 1-2 April 2023

Saterdag 1 April: Altesaam 20 stappers vergader Saterdagoggend by die Elgin Fiets Hotel (Trail’s End Bike Hotel). Ons vertrek 08:00 saam met Brenda Silberbauer en drie van haar stapmaats na die begin van ons staproete. Ons klim oor ‘n houtleer en stap al met ‘n grondpad in die rigting van die berge. Die paadjie slinger tussen natuurlike plantegroei en verby die Eikenhofdam in die rigting van die Valleiberg. Van hier stap ons deur denneplantasies om uiteindelik die pragtige waterval te bereik. ‘n Pragtige waterval stort neer in ‘n reuserotskom – vandaar Giant’s Washbasin! Die water is yskoud en niemand is braaf genoeg om te swem nie. Ons geniet koffie, eet ons stapkos, neem foto’s en pak die pad terug motors toe aan. Die res van die middag is daar vrye tyd wat elkeen na wense kan benut. Sommige stappers besoek die Elginmark, sommige neem ‘n heerlike middagslapie en ander sit net luilekker op die stoep. Brenda, Gerna en Michelle swem. Alrese, Caire en Kobus speel tafeltennis en Alrese wen ‘n bottel rooiwyn nadat sy Kobus verslaan het. Die braaivleisvure is 18:00 gereed en almal braai saam. Sondag 2 April: Vandag ry ons na Elgin River Lodge. Hier is pragtige grasperke, ‘n restaurant, oornaghutte en hope watersport om te geniet. Ons teken in as dagbesoekers en verdeel in twee groepe vir ‘n 45-minute bootrit op die Palmietrivierdam. Die eerste groep vertrek na die bootrit huiswaarts om ander verpligtinge na te kom. Die tweede groep kuier bietjie saam onder die bome, eet pizza en drink koffie en vertrek dan huis toe. Baie dankie aan almal se lekker gesels, samewerking en heerlike saamkuier. ‘n Groot dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die reëlings. Hoogte gewen: 315 meter.

Tygerberg-Natuurreservaat: 15 April 2023

Altesaam 9 mense het die Saterdagoggend om 08:00 by Tygerberg-Natuurreservaat bymekaar gekom vir ‘n lekker dagstap wat net ‘n ander gehalte aan ‘n mens se naweek gee. Ons het almal saamgestem dat ons gelukkig is om so ‘n lekker stap hier op ons drumpel te hê. Mens hoef nie ‘n perd op te saal om hier te kom stap nie (al het party mense van ver af gekom) en jy kry goeie oefening in. Ons het anti-kloksgewys begin stap en eers by die twee damme gaan draai voor ons die bult uitgestap het tot by die piekniekplek naby die kanon waar ons ontbyt geëet het en die uitsig geniet het. Daarna het ons aan die Kaapstad-kant van die koppie omgestap met nóg ‘n behoorlike bult tot weer bo by ‘n ander piekniekplek waar ons middagete geniet het voor ons weer die laaste afdraand na die motors toe afgestap het. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 414 m.

Antjie se Pad: 24-28 April 2023

Altesaam 11 mense het Sondagoggend 23 April uit die Kaap na die Langkloof vertrek (Ons sou 12 gewees het, maar toe moet Koos Stander ‘n knie-operasie kry). Omtrent 15 km buite Kareedouw draai ons by Onverwagslaagte links af berge se kant toe vir die laaste 25 km grondpad (plek-plek baie sleg) tot by ons basiskamp in die oostelike Baviaanskloofberge – ‘n goed toegeruste plaashuis (met waterfilterprobleme) by Witteklip. Ons word deur die roete-eienaar verwelkom en hy verduidelik die roete aan die hand van ‘n paar Google Earth-drukstukke. Ons braai die aand lekker en skrop en skarrel om alles vir die 5-dag stap gereed te kry. Ons val vroeg die Maandagoggend in die pad. Die roete het só gewerk: Ons het Dag 1 (16 km) en Dag 2 (11,1 km) by dieselfde hut geslaap (Watervalhut – bietjie beknop maar lekker lapa) en Dag 3 (10,41 km) en Dag 4 (11,83 km) by dieselfde hut geslaap (Slagkamerhut – ‘n warm sinkhut; die hut se naam het ons bietjie afgesit). Dag 5 (10,63 km) kom jy weer by Witteklip uit. Ons het dus ons swaar goed op Dag 2 en Dag 4 by die hut gelos en met ligter sakke gestap. Die roete is nie tegnies moeilik nie, maar daar is ‘n hele paar kuit-rekker-bulte en skerp afdraande met los rolklippe waar jy versigtig moes trap. Die roete was oral goed gemerk en het seker 95% van die tyd op jeeppad geloop. Dit beteken nie dit was gelykpad nie – ons het altesaam 2695 m oor die 5 dae geklim! Die veld was ongelooflik mooi met fynbos en proteas en mooi uitsigte op die Baviaanskloofberge. Op Dag 1 het ons die middag deur die pragtige Trekkloof (in 1964 deur ene HK du Plessis gebou) gestap, en op Dag 4 het ons vir middagete op ‘n koppie met derduisende proteas gestop. Wat onlekker was, was die gebrek aan ‘n goeie kaart met roetebeskrywings, die waterprobleme by die hutte (gelukkig het Werner en Magda soos MacGyvers geweet hoe om waterpype te koppel en filters ‘om te swaai’, anders was ons in diep moeilikheid), en die ‘droewige’ Slagkamerhut (ons het amper gemuit en die volgende terug geloop Witteklip toe). Maar ons glo die roete kan met goeie bestuur verbeter word. Daar is ‘n behoefte aan nuwe roetes in die land en ons moet erkenning gee aan mense wat die inisiatief neem om nuwe roetes te open. Ons het veilig gestap en mooi dinge gesien. ‘n Klomp van ons het die Saterdag op pad terug by Île de Païn op Knysna ontbyt geëet. Baie dankie aan almal wat stapleiers en agterstappers was. Saam het ons dinge gemaak werk. Stapafstand: 60 km. Klimhoogte: 2695 m.

Luiperdkamerastap – 6 Mei 2023

Nadat die weervoorspelling aanvanklik reën voorspel het, het dit einde ten laaste slegs bewolkte weer voorspel en die 11 van ons, wat stiptelik om 07:45 by Eerste Tol bymekaar gekom het, het heerlike weer vir die uitstappie ervaar. Ons vertrek om 08:00 en stap rustig op die baie toegegroeide paadjie om 2 uur later by die kamera aan te kom. Die kamera se batterye het reeds ongeveer 3 weke vroeër die gees gegee maar ons het darem steeds 7 foto’s met luiperds op gekry. Die kamera word gediens en ons vertrek ná 45 minute weer terug na die motors. Ons stap voorspoedig tot byna op die einde waar die uwe 400 m vóór die motors met ‘n sierlike duikslag ‘n stuk grond koop. ‘n Paar skrapies was al skade behalwe vir die ego wat ‘n knou gekry het maar darem nie gebloei het nie! Ons neem die gebruiklike groepfoto waarna 7 van ons ‘n koel dingetjie geniet by die Bell Inn voordat ons huiswaarts keer. Baie dankie aan Steph du Toit vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte gewen: 405m.

St Helenabaai: 12-14 Mei 2023

Altesaam sewe mense het die Vrydagmiddag na St Helenabaai gereis vir ‘n heerlike naweek by Desiree Timmet en haar suster Esmay Josephs. Ons basis vir die naweek was ‘Es en Des’ se ruim strandhuis in St Helenabaai. Ons het die naweek met ‘n egte Weskus-snoekbraai ingewy. Saterdagoggend sluit nog twee stappers by ons aan en ons stap die 11 km van Stompneusbaai na Paternoster strandlangs. Ons kry hulp met vervoer van die twee dagstappers se familie wat ons voertuie vir ons Paternoster toe gebring het. Ons kuier eers by die Voorstrandt Restaurant met sy rooi dak en verken toe Paternoster se winkeltjies en waterfront voor ons die pad terug huis toe neem. Ons braai weer die aand en gaan kruip vroeg in want die stap op die los sand het ons lekker kapoet gemaak. Sondag is dit Moedersdag en Esmay deel ‘n mooi boodskap van samesyn en omgee met ons. Ons stap seelangs tot by die deftige Shelley Point Hotel waar ons lekker op die rusbanke agteroor sit en cappuccino’s drink. Daarna stap ons terug, maak skoon en pak op om weer terug te ry Kaap toe waar baie van ons nog Moedersdagvieringe gehad het. ‘n Groot dankie aan Esmay en Desiree vir hul gasvryheid. Dit was ‘n baie spesiale naweek. Stapafstand: 25 km. Klimhoogte: 25 m.

Zevenwacht: 27 Mei 2023

Altesaam 18 mense het Saterdagoggend om 08:00 by die Zevenwacht-wynlandgoed se parkeerarea bymekaar gekom vir hierdie mooi dagstap met uitsigte wat strek van Tafelberg tot by Gordonsbaai. Ons het gesels-gesels deur die veld gestap en toe die ‘lang bult’ tot by die dammetjie aangepak. Gewoonlik rus ons hier ‘n bietjie, maar die gras was te nat. Van daar af het ons verby die spa tot by ‘n lapa op ‘n koppie gestap waar ons ‘n laatontbyt geniet het. Dit was nogals koud op die koppie. Ons het toe via die wynproelokaal teruggestap tot by ons motors waar party huiswaarts gekeer het en die ander teruggery het wynproelokaal toe vir ‘n wynproe en/of heerlike kaas-en-kouevleisbord en lekker gesels. Ons is elkeen daar weg met ‘n gratis bottel wyn (by die dagpermit ingesluit). Dit is ‘n mooi stap wat mens elke jaar kan stap. Baie dankie aan Chrisna Swart vir die reëlings en Amanda Matthee vir die stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 277 m.

Muratie: 24 Junie 2023

Volgens ons program sou ons in Sosyskloof gaan stap het, maar die Jonkershoek-reservaat is steeds gesluit na afloop van die onlangse vloede. Ons maak nuwe planne om by Muratie, tussen Klapmuts en Stellenbosch, te gaan stap, want almal is gretig om ’n slag in die veld te kom. 12 stappers arriveer by die pragtige plaas wat uit 1699 dateer. Die Simonsberg-roete is bekend vir die volmaanstap, maar is ook elke dag oop vir stappers. Benewens die 3.5km gemaklike staproete wat pragtige uitsige oor die vallei bied, is daar ook verskeie bergfietsroetes. Die uitleg is slim gedoen sodat die stappers en fietsryers nie vir mekaar ’n gevaar is nie. Ons hou lekker piekniek na ’n uur se stap en keer dan met die sirkelroete terug na die Dirtopia-kantoor. Almal geniet ’n lekker warm koppie koffie in die wynproelokaal. Sommiges sien selfs kans vir soetwyn. Alhoewel dit nie ’n uitdagende stap was nie, het almal die vars lug, pragtige veld en die samesyn geniet. Baie dankie vir Gerrit en Mariette Nortjé vir die reëlings en stapleiding, en die ekstra werk om ’n alternatiewe roete te kry. Afstand: 3.5km. Klimhoogte: 150m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2023

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“Travel is still the most intense mode of learning.” – Kevin Kelly

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.