~ 20 Februarie 2023: Boekieprogram met al die inligting oor jaar se stappe aangeheg

NUUS EN STAPSAKE

  • Algemene Jaarvergadering: Baie dankie aan almal wat Woensdagaand 15 Februarie ons Algemene Jaarvergadering bygewoon het. Dit was ons eerste AJV wat deur beurtkrag geraak is, maar gelukkig was die vergadering-gedeelte afgehandel toe die krag om 20:00 afgaan en almal het flitse, kerse of lampies gehad (die saal het bietjie soos ‘n tweede Valentynsdag gelyk). Ons het die boekieprogram uitgedeel en ook die kilometer-wapentjies uitgedeel. Ons sê weer eens baie geluk aan Beulagh Keulder wat haar 8000 km-wapentjie ontvang het (sien foto – Steph het die oorhandiging aan Beulagh gedoen).
  • 2023 se bestuur: Die nuwe bestuur bestaan uit Amanda Matthee, Steph du Toit, Werner Dalziel, Werner Krause, André Venter, Ilse Marais en Santie Kies. Niel Visser was nie weer verkiesbaar nie omdat hulle Mosselbaai toe getrek het (maar hulle sal steeds vir ons stappe in die toekoms lei). Ons sê vir Niel en Sharon ‘n GROOT dankie vir hul bydrae tot die sukses die stapklub – veral wat die saamstel van die jaarlikse program betref. Ons moet volgens ons reglement binne 3 weke vergader en dan sal ons die portefeuljes toeken. Baie dankie vir jul vertroue in ons. Die bestuurspan en stapleiers het op 2 Maart ‘n werksessie saam met ‘n prokureur wat in die POPI-wet spesialiseer sodat ons seker kan maak dat ons ons lede se persoonlike inligting reg hanteer.
  • Boekieprogram: Die boekieprogram en kortprogram (opsomming van boekieprogram) vir die jaar is hierby aangeheg. Kyk gerus en beplan jou stappe sodat jy iets het om na uit te sien en só die land saam met ons kan verken. Onthou dat die nuusbriewe altyd die jongste stapinligting bevat.
  • Brandstofkoste: Moenie skrik vir die brandstofkoste in die boekieprogram nie. Die brandstofkoste vir ‘ver’ stappe (naweekstappe en langstappe) in die boekieprogram is uitgewerk volgens ‘n formule wat daarop neerkom dat twee betalende passasiers per motor al die brandstofkoste van daardie motor dek. Die bestuurder betaal nie omdat hy/sy die voertuig verskaf en die risiko van bestuur dra. Dit is uitgewerk op ‘n brandstofkoste van 21.38 per liter en dit is gewoonlik die meeste wat dit kan kos. In die praktyk werk dit goedkoper uit. Soms kan ‘n voertuig 3 passasiers neem. ‘n Voorbeeld: Vir ‘n stap soos die Otter verlede jaar het ons die werklike brandstofverbruik van die drie voertuie geneem en die brandstofkoste daarvolgens uitgewerk. Ons het dan hierdie bedrag tussen 9 passasiers verdeel sodat elke passasier dieselfde betaal, ongeag saam met wie die persoon ry. Die werklike koste van langstappe word eers ‘n maand voor die tyd bereken (want dan weet ons wie kan ry en met watter voetuie).
  • Algemeen: Ons het nog 1 plek oop op Antjie se Pad by Kareedouw. Ons het die (moeiliker) Oudebosch Traverse by Kogelberg vir eers met die (makliker) Welvanpas-roete by Wellington vervang omdat daar ‘n opeenhoping van moeilike stappe was. Ons hou die Oudebosch Traverse op ons staplys om dit moontlik later vanjaar in te werk. Sterkte aan almal vir die Kaapstad Fietstoer voorberei.
  • Stapreëls vir veiligheid: Veiligheid op ‘n staproete is ons belangrikste prioriteit. Daarom stap ons altyd in groepverband met ‘n stapleier en ‘n agterstapper. Niemand stap voor die stapleier nie en niemand stap agter die ‘sweeper’ nie. Stap in groepverband word ten sterkste onderskryf deur Wilderness Search and Rescue (WSAR), CapeNature en Sanparke. Dit staan ook in Sanlam-Staptoerklub se reglement. Wanneer jy aansoek doen om lidmaatskap of jou lidmaatskap hernu, onderteken jy dat jy by die reëls sal hou.
  • Kansellasies: Ons vra dat stappers nie ‘n gewoonte daarvan maak om op die nippertjie te kanselleer nie. Dit verg baie reëlings om ‘n stap moontlik te maak. Jy kan ook iemand anders van ‘n plek op ‘n stap ontneem as jy op die elfde uur kanselleer. Indien koste aangegaan is en jy kanselleer op die nippertjie (met of sonder ‘n geldige verskoning) is jy vir jou koste van daardie stap verantwoordelik. By oornagstappe (langstappe en naweekstappe) kan jy tydens die eerste ses weke nadat die besprekings geopen het, kanselleer sonder aanspreeklikheid vir koste. Ses weke voor die stapdatum is die volle bedrag betaalbaar. As jy binne een maand voor die stapdatum kanselleer, verbeur jy die volle bedrag tensy daar ’n persoon op die waglys is of jy iemand in jou plek kry wat vir die bestuur en stapleier aanvaarbaar is.
  • Ledegeld: Ons ledegeld vir 2023 bly R100 per persoon en R170 vir twee mense (gade of kind bo 18). Lidmaatskap bied voordele soos ‘n veilige infrastruktuur vir stap, ‘n vooruitbeplande jaarprogram, voorkeur op besprekingslyse, ‘n lojaliteitsprogram (die kilometer-wapentjies), gereelde e-nuusbriewe, ‘n kleiner administratiewe heffing, en 10% afslag by Cape Union Mart in Tygervallei. Die inskryfvorm vir lidmaatskap is op ons webwerf by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
  • Stapverslae: Sien die stapverslae vir Strand-stap (Strandpawiljoen-Paardevlei), Kelpbaai-Big Bay, Tafelberg (voorste kontoerpad), Luiperd-kamerastap, Kirstenbosch (Silvertree), Chapmanspiek, en Tafelberg (Disas) hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

BAINSKLOOF: BOBBEJAANSRIVIER – SATERDAG 25 FEBRUARIE 2023

Bespreek nou – nog 4 plekke oop

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Eerste Tol in Bainskloof. Stapleiers: Werner Booyens en Brenda Sideratos 072 122 5216. Graad: 2A, redelik, 8 km (6 uur). Groepgrootte: 12. Inpak. Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 (of Wildcard). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner en Brenda sê: Die roete begin en eindig by Eerste Tol in Bainskloof. Die stap begin met die kruising van die Bobbejaansrivier, wat ‘n sytak van die Witterivier is. Daar is heerlike swemplek na sowat 3.5 km. Die laaste gedeelte is steil en eindig met ‘n pragtige waterval en swemgat – ons omdraaipunt van die dag.

WELLINGTON: WELVANPAS-ROETE – SATERDAG 4 MAART 2023

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 07:30 by Welvanpas-plaas op die Bovlei-pad buite Wellington. Stapleier:

Mariette Nortjé by 082 929 8493. Graad: 2A, redelik, 7 km, klimhoogte 190 m. Groepgrootte:

15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker)

Mariette sê: Ons stap ‘n roete van 7 km op die Welvanpas-plaas op die Bovlei-pad buite Wellington. Die plaas lê tussen Groenberg en die Hawequa-berge. Hierdie roete het mooi uitsigte op die wingerde en berge rondom Wellington. Daar is ‘n koffiewinkel waar ons aan die einde iets kan gaan drink. Daar is ook die opsie om drie wyne vir R30 te proe.

SILWERMYN: DASSIESKASTEEL – SATERDAG 11 MAART 2023

Bespreek vanaf Maandag 27 Februarie

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Silwermyn-Oos (Hek 2). Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968

Graad: 2B redelik, 13 km (5 uur). Groepgrootte: 16. Inpak:Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 (of Wildcard). Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: ‘n Heerlike dagstap in Kalkbaaipiek se rigting waar ons uitsigte, grotte en watervalle verken. Interessante rotsformasies (dit is waar die ‘kasteel’ vandaan kom) en fantastiese uitsigte oor Muizenberg, Kalkbaai, Vishoek en Valsbaai.

CEDERBERGE: ZOORIDGE (BUITE CERES) – VRYDAG 17 TOT DINSDAG 21 MAART 2023 (21 MAART = VAKANSIEDAG)

Volbespreek

Besprekings :Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Stapleier: Wouter Jordaan. Graad: 2A, drie dagstappe: Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweek wat uit dagstappe bestaan. Oornaggoed (ons slaap in plaashuis as basis), kos, en dagsakkie met kos, water, windjekker, sonbeskerming, ens. Kan elke aand braai. Koste:    R1235 lede en R1250 vir nie-lede vir die 4 aande se verblyf. Brandstofdonasie: R490 (vir motor met 2 betalende passasiers; 200 km x 2). Adminheffing R20 (lid) / R40 (besoeker).

Niel en Sharon sê: Ons basis is ‘n goed toegeruste plaashuis op ‘n pragtige plaas in die Cederberge sowat 80 km buite Ceres. Die plaashuis het 2 yskaste, ‘n swembad, skottelgoed en genoeg braaiplek. Beddegoed en handdoeke is ingesluit. Die staproete word Zooridge genoem na aanleiding van die rotsformasies wat diere uitbeeld. Ons stapleier vir die naweek is Wouter Jordaan. Ons doen 3 dagstappe. Dit is nie vaste roetes nie maar eerder ‘n lekker ontdekkingsreis op soek na rotstekeninge en rotsformasies. Ons sal die welbekende kameelperd, man op die perd en die boog te siene kry.  Ons glo die weer gaan ons toelaat om in die middae te swem. Dit gaan nie moeilike of lang stappe wees nie. Ons stap elke dag met ‘n dagsakkie. Daar is geen water op die roetes nie en elkeen moet dus sy eie water saamdra. Sien ook https://ralphpina.com/2019/09/a-weekend-at-zoo-ridge/

KLOOVENBURG, RIEBEEK-KASTEEL – SATERDAG 25 MAART 2023

Bespreek vanaf Maandag 13 Maart

Besprekings: Freddie en Susan Pohl by 074 304 7678. Graad: 2B (redelik tot veeleisend, 9 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste:           Toegangsgeld: R60 (dit is ‘n vrywillige donasie om die staproetes verder te ontwikkel). Brandstofdonasie R120 (80 km x 2). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Freddie sê: Kloovenburg is ‘n wynlangoed in ‘n vrugbare vallei aan die voet van die Kasteelberg net buite Riebeeck-Kasteel. Die plaas het ‘n ryk geskiedenis en is die eiendom van Pieter du Toit, wie se pa en seun albei Springbok-rugbyspelers was/is, en wat sy name, Pieter Stephanus, deel (klaarblyklik nie direkte familie van ons klub se eie Stef du Toit nie!). Ons begin en eindig by die Kloovenburg-wynkelder. Die eerste deel van die nuut-ontwikkelde roete loop met ‘n redelike steilte teen die voet van die berg op, deur bosse op na ‘n grot en ‘n oopte met uitsig oor die hele Riebeeck-vallei, voordat mens die draai onder toe aanpak. Van daar af stap ons met ‘n sirkelroete deur wingerde en olyfboorde, verby die Eight Feet Village Restaurant (wat in die Covid-tyd as ‘n ‘pit-stop’ vir moeë reisigers gebore is) en ‘n uitsonderlike rots-olyfboom-kombinasie. Die laaste deel stap ons neffens die Malmesbury-pad terug na die beginpunt. Na die stap kan ons ontspan met ‘n opsionele wyn- of olyfproe. Vir die hongeres is daar ook heerlike ‘toasties’ en pizza beskikbaar by die Kringe-Inni-Bos (!) opelug-eetplek.

GIANT’S WASHBASIN, TRAILS END, GRABOUW – SATERDAG 1 – SONDAG 2 APRIL 2023

Bespreek vanaf Maandag 9 Januarie

Beginpunt- en tyd: 08:00 Saterdagoggend by Trail’s End buite Grabouw. Stapleiers: Edna en Kobus Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (2 dagstappe, gelei deur stapleier van Trail’s End, elkeen sowat 10 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Soos vir naweekstap wat uit 2 dagstappe bestaan. Sorg vir genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Ons deel kamers in  Trail’s End Hotel buite Grabouw. Koste   :Sowat R400 pp (sluit in stapppermitte van 2 x R25 en ‘n gesondheidsontbyt Sondagoggend). Brandstofdonasie R120 (2 x 80 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons basis is Trail’s End buite Grabouw. Die twee dagstappe wat ons doen begin en eindig by Trail’s End. As die tyd dit toelaat, is daar ‘n opsie om Elgin Railway Market en Elgin-wynroete te besoek. Daar is ‘n restaurant en swembad by Trail’s End. ‘n Heerlike wegbreeknaweek hier naby ons. Bring asb eie slaapsak, enkel paslaken, kussingslope en handdoeke saam. Indien jy dit verkies, kan jy aandete by Trail’s End bestel (eie rekening). Daar is ook ‘n opsie om Saterdag aand te braai – elkeen bring eie vleis, slaai, ens. Eetgerei is beskikbaar teen R50 per persoon – sluit opwas van eetgerei in.

DUIWELSKLOOF, BANHOEK, STELLENBOSCH – SATERDAG 15 APRIL 2023

Bespreek vanaf Maandag 3 April

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die parkeerarea van die Banhoek Concervancy. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968: Graad: 3C (moeilik, sowat 8 km; klimhoogte 600m). Groepgrootte: 15. Inpak:          Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Hierdie roete in die Banhoek-bewaringsgebied buite Stellenbosch begin by Kylemore en bied mooi uitsigte op die berge in hierdie vallei. Mooi watervalle, en ‘n kans om elande en gemsbokke te sien. Daar is ‘n klim en klouter oor rotse, en ‘n kop vir hoogtes is nodig.

ANTJIE SE PAD (tussen Kareedouw en Humansdorp) – SONDAG 23 – VRYDAG 29 APRIL 2023 (RYDATUMS INGESLUIT)

Nog 1 plek oop

Beginpunt: Op plaas Witteklip in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof. Stapleier     : Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, 62 km oor 5 dae, veeleisend. Groepgrootte: 12. Inpak: Oornagstap met hutte. Maak gereed vir enige soort weersomstandighede. Koste: Permit R1170 (permit en verblyf voor en na die stap; daar kan prysaanpassing wees). Brandstofdonasie R1580 (646 km x 2 = 1292 km). Adminheffing R25 (lid) / R50 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie 5-dagroete van sowat 62 km in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof (45 km vanaf Kareedouw en 55 km vanaf Humansdorp) begin op die plaas Witteklip. Die roete is bekend vir sy fynbos en proteas, aalwyne en Karoo-agtige landskappe, en ongelooflike mooi uitsigte en berge. Die moeilikheidsgraad word as 2B aangegee. Die terrein is heuwelagtig met stewige opdraandes en afdraandes maar die klimme is almal net sowat 300 m klimhoogte op ‘n slag (Tafelberg 670m klimhoogte).

Ons vertrek vroeg die Sondagoggend en ry na die plaas Witteklip (45 km vanaf Kareedouw – draai af op die R62 sowat 20 km oos van Kareedouw, ry 25 km verder aan op grondpad tot by Witteklip-konferensiesentrum). Ons slaap die aand vóór die stap en die aand ná die stap by die Witteklip-basishut.

Dag 1: 16.06 km – Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut) tot by Watervalhut

Dag 2: 12.5 km – Slaap weer by Watervalhut

Dag 3: 10.76 km – Watervalhut tot by Slagkamerhut

Dag 4: 11.82 km – Slaap weer by Slagkamerhut

Dag 5: 10.67 km – Slaap weer by Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut)

Vir inpak: Soos vir ‘n 5-dagstap met oornaghutte met matrasse. Daar is spoeltoilette en ‘n warmwaterstort by al die hutte. Geen elektrisiteit by hutte nie. (Geen kerse nie as gevolg van brandgevaar.)

Meer oor Antjie se Pad: The route was named after a certain Antjie Stuurman who worked on the farm in the 1930s. Every day, she walked about 10 km over a hill called Blouberg to reach the Witteklip farmstead. Antjie se Pad was started to help fund our other NGO – Living Water Ministries. Living Water Ministries holds leadership camp for underprivileged children at no cost. Through this we wish to encourage the next generation in leadership. We believe that equipping the young with essential qualities will make all the difference in days to come. We sow into these children’s lives and know that the harvest will be bountiful. Living Water also focuses on teaching the children good moral values. When you support Antjie se Pad, you are supporting so much more. Of course, Antjie se Pad has its own unique experience to offer. With a great workout and amazing scenes – true tranquillity.

Kry ook meer inligting oor die roete by http://www.antjiesepad.co.za/index.htm en op Facebook by Antjie Se Pad. Mooi lapwapentjies te koop teen R100 elk.

BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SONDAG 7 MEI 2023

Bespreek vanaf Maandag 24 April

Beginpunt- en tyd 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad:    2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak            Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en in watter kondisie hulle is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.

ST HELENABAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 12 TOT SONDAG 14 MEI 2023

Nog 1 plek oop

Basis vir die naweek: Desiree Timmet-hulle se strandhuis op St Helenabaai. Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Stapleiers: Desiree Timmet en Esmay Josephs. Graad         2A (twee dagstappe). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweek wat uit twee dagstappe bestaan. Bring eie slaapsak, handdoeke, oornaggoed, kos, en dagsakkie met kos, water, windjekker, sonbeskerming, swemklere, ens. Koste     R200 pp (om uitgawes van naweek te dek, hout, ens.). Brandstofdonasie R400 (in motor met 2 betalende passasiers; 160 km x 2). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Desiree en Esmay sê: Ons sien saam met julle uit na ‘n heerlike Weskus-kuiernaweek by St Helenabaai. Dit is so 2 uur se ry vanaf Bellville. Ons doen twee dagstappe by die see – ‘n langer stap by Paternoster en ‘n korter een by Shelley Point. Ons braai albei aande (maar gaan nader aan die tyd kyk vir lekker vars vis om die een aand te braai.)

BERGRIVIERDAM – ENGELSE FORT, FRANSCHHOEK – SATERDAG 20 MEI 2023

Bespreek vanaf Maandag 8 Mei

Beginpunt- en tyd :07:00 by Robertsvleipad se hek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend; 21 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste       :Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin die stap op ‘n jeeppad met mooi uitsigte oor die Bergrivierdam. Ons moet dan ‘n rivier kruis waar ons partykeer skoene moet uittrek. Ons kan ook afdraai na die waterval toe vir ‘n lekker teebreek. Van hier af pak ons toe die roete aan na die Engelse fort. Ons klim op in die kloof en kruis nog ‘n paar stroompies en riviertjies. Ons klim die laaste deel in die kloof op tot by die nekkie waar ons ‘n welverdiende middagete by die Engelse fort sal geniet. Ons kan ook verder stap tot by die volgende uitkykpunt. Ons kom met dieselfde roete terug. ‘n Lekker vol dag se stap in die berge buite Franschhoek.

ARANGIESKOP, ROBERTSON – VRYDAGMIDDAG 26 TOT SONDAG 28 MEI 2023

Bespreek nou

Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R400 (2 x 170 km = 340 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.

STAPVERSLAE

Strand-stap (Strandpawiljoen – Paardevlei) – 7 Januarie 2023

Altesaam 11 stappers ontmoet mekaar om 07:30 op die parkeerplek by die Strand-jetty. Ons handel die admin af en Steph stel voor dat ons nie op die sand na Rheinmittal se grens en terug stap nie maar eerder na Paardevlei weens die onaangename wind. Ons stap op die sypaadjie terwyl die strand begin vol loop van mense. Ons stap via Busamed en Cheetah Outreach tot by Paardevlei en dan rondom Paardevlei met sy baie voëls –’n pragtige stuk natuur in die middel van beboude gebied. Ons stop by Atma-koffiewinkel vir heerlike koffie voordat ons die laaste 3 km terug na die jetty aanpak. Op die strand is daar nou al heelwat mense. By die jetty groet ons en keer huiswaarts. Dit was net die regte stap om die jaar op die pad te kry. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Hoogte gestyg: 2m.

Kelpbaai – Big Bay – 14 Januarie 2023

Altesaam 12 lede en 1 besoeker begin die winderige oggend net ná 08:00 by Eerste Steen Natuurresevaat se kantore te stap. Merkwaardig is ons net ‘n paar meter van die pad in die Blaauwberg Bewaringsgebied in die veld en tussen die duine waar ons die golwe hoor en die uitsig op Tafelberg en Robbeneiland geniet. Die sirkelroete neem ons tussen strand-, renoster- en fynbos-veld. Dit is die tuiste van 45 soogdiere, 600 plantspesies, slange en reptiele. Die roete is 4,5 km lank en neem 1 uur om te voltooi. Terug by die voertuie breek ons vir ‘n halfuur vir toebroodjies, koffie en tee. Ons stap toe strandlangs in ‘n suidelike rigting na Big Bay en verby honderde vlieërbranderplank wat in die golwe saam die suidooster baljaar. Ons stap ook verby medestrandstappers wat op soek is na fosielhaaitande. By Blue Peter, ‘n bekende baken, rus ons ‘n rukkie op die strandmuurtjie om dan saam die wind terug te stap tot by ons beginpunt. Ons totale tyd was 3 uur en 15 minute, en ons voltooi 10 km. Ons sluit die dag af met ‘n heerlike soet waatlemoen. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en die stapleiding.

Tafelberg – voorste kontoerpad – 21 Januarie 2023

Altesaam 17 stappers arriveer vroegoggend by vroegoggend by die Duiwelspiek-parkeerarea. Ons handel gou die admin af en begin om 07:00 te stap. Ons stap met die zig-zag op tot by die kontoerpad se bord. Hier kan jy links of regs draai. Ons draai dus regs en stap die kontoerpad tot by Kloof Corner. Hier eet ons ‘n lekker brunch en neem foto’s van die mooi uitsigte. Dit is ‘n baie warm dag en die Kaap is op haar mooiste! Met die terugkom besluit ons om by die kontoerpad se bord so ‘n entjie op te stap om ekstra oefening in te kry. Drie van die lede het egter hier afgedraai en dieselfde pad terug gestap. Ons klim ‘n lekker ent to bo en geniet steeds die uitsigte. Teen 12:00 is ons veilig terug by ons motors. Dankie aan Werner B vir die lei van die stap en ook ‘n groot dankie aan Mahanda wat agter gestap het en omgesien het na die groep. Totale klimhoogte: 245m.

Luiperd-kamerastapverslag – 22 Januarie 2023

Vyf van ons arriveer stiptelik by Eerste Tol in Bainskloof en val om 06:15 in die pad. Ons wou juis vroeg begin om die hitte vry te spring aangesien die vordering op die oorgroeide paadjie maar stadig is. Ons neem 2h15 minute tot by die kamera en dit het die laaste stukkie reeds begin warm raak. Ons vertoef ‘n uur by die kamera. Steph laai die foto’s af waarvan ses van die foto’s ‘n luiperd op het. Die kamera word opgestel en die grasse in die omgewing daarvan geknip voordat ons die terugtog aanpak. Dit neem ons nét meer as 2 uur tot by die motors. Dit was redelik warm teen die einde en ons is bly om teen 11:40 reeds klaar te wees. Ons stop by The Bell Inn vir iets lekker koud en tjips. Die oorgroeide paadjie maak dit werklik ‘n moeilike stap en ons het ondermekaar gewonder of die klub nie ‘n projek daarvan kan maak om dele te gaan oopkap/oopknip nie. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Hoogte gestyg: 280m.

Kirstenbosch: Silvertree – 28 Januarie 2023

Altesaam 11 mense het om 08:00 by die Rycroft-hek van Kirstenbosch bymekaar gekom om die Silvertree-roete aan te pak. Dit wil-wil reën, maar gelukkig is dit net ‘n paar los druppels. En eintlik is ons dankbaar vir die koelte. Die Silvertree-roete is een van die langer roetes wat in Kirstenbosch begin en eindig, met ‘n stywe paar opdraandes op die koop toe. Ons begin die roete met ‘n goeie klim (via die damwal, want ons het nie die afdraaipad gesien nie) tot op die kontoerpad. Ons loop verby Nursery Ravine en Skeleton Gorge se afdraaibordjies en verder tot by die ‘scree belt’ waar ons lekker honger ‘n welverdiende blaaskans neem en op die klippe middagete geniet. Daarna volg ‘n stewige klim met trappies tot ons weer hoër op in die berg die ‘scree belt’ kry. Dan begin die afsak terug na Kirstenbosch toe. Halfpad af sê die een stapper: “Ek het nou load-shedding. My krag is op.” Net daarna val daar weer ‘n bietjie reën. Toe ons uiteindelik onder kom, loop ons eers deur die tuin en stap via die Boomslang (ons is dan nou hier) terug na die Rycroft-hek. ‘n Paar van ons ry met ons motors om na Hek 1 en 2 om by Mojo of die Tearoom iets te gaan eet en drink. Wat die roete ideaal maak vir hierdie tyd van die jaar is dat dit aan die oostelike kant van Tafelberg is waar daar baie skaduwee en koelte is. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 453 m.

Chapmanspiek – 4 Februarie 2023

Altesaam 8 van ons kom om 07:00 die oggend by Noordhoek se parkeerarea by die see bymekaar om Chapmanspiek aan te pak. Gelukkig was dit ‘n paar grade koeler by die see as in die noordelike woongebiede. Ons vorder fluks tot by die uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Die uitsigte oor Noordhoek se strand en Karbonkelberg by Houtbaai is ongelooflik mooi. Dan volg ‘n stewige opdraand waar mens plek-plek jou hande uit jou broeksak moet haal om op te klouter. So vorder ons tot ons uiteindelik by die baken op Chapmanspiek aankom. Ons neem ‘n welverdiende breek en neem baie foto’s want die 360 grade uitsig van hier af maak die stap die moeite werd. Ons kry stappers van Nederland, die VSA en Duitsland hier bo en wonder waar hulle van hierdie stap hoor. Dan pak ons die terugtog aan en kom lekker moeg by die voertuie aan. Ons gaan drink tot iets koels by Limoncello daar naby (want ons het baie gesweet). Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 7 km. Klimhoogte: 520 m.

Tafelberg: Disas – 11 Februarie 2023

Altesaam 17 mense het Saterdagoggend om 07:00 by Constantianek bymekaar gekom. Met wysheid agterna kon ons eintlik vroeër begin het, want dit was BAIE warm (34 tot 36 grade Celsius). Ons begin met die “twee stelle trappe” wat ons tot bo by die jeeppad neem. (Die drie mense wat Constantianek met Kloofnek verwar het, het ons by die trappies ingehaal.) Die jeeppad begin met ‘n lekker “kuit-rekker”-opdraand tot ons meer gelykpad kry. Gelukkig waai daar ‘n afkoel-briesie bo-op die berg. Ons sien ‘n hele paar van die skaars blou disas, sommer so langs die pad. Ons stop by die bome by die Woodhead-dam om iets te eet – dankbaar vir die skaduwee. Daarna stap ons oor die Hely-Hutchinson se damwal (die dam is feitlik leeg – dit lyk soos ‘n maanlandskap) en op in Disakloof waar ons die eerste disas kry. Die disas is nie so baie soos in die vorige jare nie, maar hulle is groot en pragtig. Dit laat mens elke keer in verwondering staan. Dit laat mens ook dink aan die Oosterse gesegde: “Better to see something once than to hear about it a thousand times.” Ons deel die groep in twee en 13 stap aan akwaduk toe waar hulle nóg disas kry, en toe via Nuweland se afdraai terugstap tot op die jeeppad en met die trappiespad afkom. Die ander vier het via die Woodhead-damwal en jeeppad teruggestap na Constantianek. Die waterkraan by die Overseers’ Hut werk weer en ons was bly dat ons ons waterbottels in die hitte kon volmaak. ‘n Paar van ons het agterna by La Parada by Constantianek iets koels gaan drink. Baie dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding, en aan Brenda Sideratos en Werner Booyens vir die agterstap. Dankie ook aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand vir die wat tot by akwaduk geklim het: 16 km, met klimhoogte 669 m. Stapafstand vir die wat in Disakloof omgedraai het: 15 km, met klimhoogte: 569 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2023

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN FEBRUARIE VERJAAR

Chris Kies (1 Feb), Org Nieuwoudt (8 Feb), Angie Basson (11 Feb), Belinda Burdett (19 Feb), Jean Pienaar (20 Feb), Louis Nel (22 Feb), Maureen Kolles (24 Feb), Pieter Smith (24 Feb), Madeleine Krause (28 Feb). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

LAAT MENS DINK

Hiking Life Lessons

  • You can’t just give up in the middle.
  • There will always be a voice in your head that says ‘can’t’. Accept it, then stuff it into a tiny box that you banish to a corner of your brain.
  • You are only as strong as your weakest link.
  • A positive attitude will see you through.
  • You will be a burden to others if you are not prepared.
  • There’s no need to rush things.
  • Every minute spent suffering and leaning into that suffering will build your character immensely.
  • The view at the end is beautiful but, in reality, so is the entire journey.

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.) Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie