~ 12 April 2023: 2 stappe Saterdag – Duiwelskloof in Banhoekvallei, STB | Tygerberg-Natuurreservaat~ 12 April 2023:

NUUS EN STAPSAKE

  • Algemeen: Dit voel of ons lanklaas gestap het omdat ons gewoonlik nie stappe oor Paasnaweek het nie. Hierdie naweek (ideale stapweer Saterdag) is daar twee dagstappeDuiwelskloof in die Banhoekvallei buite Stellenbosch (veeleisende roete, bespreek by Werner Dalziel by 082 579 0968) en Tygerberg-Natuurreservaat (goeie 11 km, bespreek by Amanda Matthee by 082 570 3895). Ons het die makliker Tygerberg-Natuurreservaat hier ingevoeg vir die mense wat vir Antjie se Pad wil oefen of net ‘n makliker opsie soek (al het ons Tygerbergkoppie weer later vanjaar op die program).
  • Antjie se Pad: Daar is weer een plek oop op Antjie se Pad. Dit is ‘n BAIE mooi roete van 62 km oor 5 dae, veeleisend maar nie tegnies moeilik nie (klimme nie meer as 300 m op ‘n slag nie) in die oostelike deel van die Baviaanskloof – ‘n deel van die land waar ons nie baie kom nie. Kontak Amanda Matthee by 082 570 3895.
  • POPIA-wet: Die bestuurspan en stapleiers het op 2 Maart ‘n werksessie saam met ‘n prokureur gehad wat in die POPI-wet spesialiseer. Volgens NovCon doen ons alles redelik reg, maar ons verander hier en daar aan ons bewoording. Nakoming van die POPI-wet kom daarop neer dat ons jou inligting slegs sal gebruik om stapverwante inligting aan jou te stuur. Ons sal geen besonderhede aan derde partye verskaf nie, en ons sal alle inligting veilig bewaar. Ons is nog besig om deur die aanbevelings en inligting te werk, en sal julle op hoogte hiervan hou.
  • Two Oceans Marathon: Sterkte aan almal wat hierdie Saterdag die Two Oceans Marathon hardloop. (Dit is Matilda le Roux se 29ste Two Oceans. Wie neem almal deel?)
  • Simpatie: Ons innige simpatie aan Louis Conradie van Wellington wie se vrou Ilze op 15 Maart oorlede is. Louis het al in die verlede vir ons as stapleier opgetree.
  • Hi-Tec afslagbewyse: Daar is nog Hi-Tec afslag bewyse beskikbaar – die bewyse is geldig tot 31 Mei 2023. Jy kan dit gebruik vir 20% afslag by enige Hi-Tec winkel in die Wes-Kaap. Kyk gerus by https://hi-tec.co.za/. As jy nog nie ‘n Hi-Tec-afslagkaartjie het nie, kontak Amanda Matthee by 082 570 3895.
  • Aardedag / Earth Day: Aardedag – die wêreld se grootste omgewingsbewustheidsbeweging – is vanjaar op Saterdag 22 April. Vanjaar word die klem gelê op klimaatgeletterdheid, die beëindiging van plastiekbesoedeling, die aanplant van bome, hoe om jou stem te laat tel wat omgewingskwessies betref, wêreldwye skoonmaakveldtogte, en volhoubare modepraktyke (fight fast fashion). Daar is goeie inligting beskikbaar by https://www.earthday.org/earth-day-2023/.
  • Hiking trail closures unjustified: Lees gerus die artikel in die DistriksPos getiteld Hiking trail closures ‘unjustified’. Hier is ‘n uittreksel uit die artikel: “The closure of a significant number of hiking trails, including iconic routes rich in history along the Hottentots-Holland Mountain range and immediate surrounds, is a baffling exercise that is increasingly frustrating hikers, mountaineers, members of Protected Area Advisory Committees (PAACs) and even tourism bodies that strongly advocate meaningful dialogue with CapeNature so they can better understand why such drastic steps are necessary – whether it be for rehabilitation, safety or another purpose. And while this drags on, stakeholders have expressed concern that trails are being lost to nature as some have been closed for decades, no new trails are being opened, and the outdoor loving public is losing out on some of the most beautiful hikes and lookout points right on its doorstep. A total of at least 18 trails are closed between Jonkershoek and the Hottentots-Holland Mountain range of at least 29, and these include two trails that lead up to Sneeukop, which at 1 590 m is the highest peak in the Hottentots-Holland Mountain Rim and dominates the Helderberg bowl. Others include the trail from Bergrivier Nek to Assegaaiboschkloof, the ascent of Haelkop from Assegaaiboch and the Jonkershoek and Nuweberg link trails, among others. “CMTP has always taken a conciliatory stance and would like to move forward in cooperation with CapeNature,” Chadwick said. “I recently gave a chat on the current situation regarding trail access to one of our local hiking clubs. Interesting that it is often the conservative older members who support more action. Their point is that they would love to take their grandchildren on hikes that they enjoyed as youths and are very much afraid that if they wait for CapeNature, they will be dead before trails are reopened, and that they will never be able to share the delights of what they enjoyed with their grandchildren.” He is adamant that among interested parties are experienced and expert professionals who can assist with surveys, restoration plans and advice on how to best go about re-opening a trail. “But for some reason we are struggling to get a meaningful dialogue going and we’re seeing no progress on action taking place towards reopening of any of the closed trails. As far as I can remember, once CapeNature closes a trail, it’s never reopened.” Members of hiking clubs also expressed frustration, stating that trail after trail is being formally closed and they are being barred from the mountains they love.
  • Ledegeld: Ons ledegeld vir 2023 bly R100 per persoon en R170 vir twee mense (gade of kind bo 18). Lidmaatskap bied voordele soos ‘n veilige infrastruktuur vir stap, ‘n vooruitbeplande jaarprogram, voorkeur op besprekingslyse, ‘n lojaliteitsprogram (die kilometer-wapentjies), gereelde e-nuusbriewe, ‘n kleiner administratiewe heffing, en 10% afslag by Cape Union Mart in Tygervallei. Die inskryfvorm vir lidmaatskap is op ons webwerf by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
  • Stapverslae: Sien die stapverslae vir Chapmanspiek, Struisbaai-naweek, Bobbejaansrivier, Welvanpas-roete, Dassieskasteel by Silvermyn Oos, Zoo Ridge in die Sederberge, en Kloovenburg hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

DUIWELSKLOOF, BANHOEK, STELLENBOSCH – SATERDAG 15 APRIL 2023

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die parkeerarea van die Banhoek Concervancy. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968: Graad: 3C (moeilik, sowat 8 km; klimhoogte 600m). Groepgrootte: 15. Inpak:          Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Hierdie roete in die Banhoek-bewaringsgebied buite Stellenbosch begin by Kylemore en bied mooi uitsigte op die berge in hierdie vallei. Mooi watervalle, en ‘n kans om elande en gemsbokke te sien. Daar is ‘n klim en klouter oor rotse, en ‘n kop vir hoogtes is nodig.

TYGERBERG-NATUURRESERVAAT: SATERDAG 15 APRIL 2023

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R20 toegangsgeld by hek. Brandstofdonasie R20. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Pak lekker piekniekkos in – ons gaan twee keer stop vir tee.

ANTJIE SE PAD (tussen Kareedouw en Humansdorp) – SONDAG 23 – VRYDAG 29 APRIL 2023 (RYDATUMS INGESLUIT)

Nog 1 plek oop

Beginpunt: Op plaas Witteklip in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof. Stapleier     : Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, 62 km oor 5 dae, veeleisend maar nie tegnies moeilik nie (klimme nie meer as 300 m op ‘n slag nie). Groepgrootte: 12. Inpak: Oornagstap met hutte. Maak gereed vir enige soort weersomstandighede. Koste: Permit R1170 (permit en verblyf voor en na die stap; daar kan prysaanpassing wees). Brandstofdonasie R1580 (646 km x 2 = 1292 km). Adminheffing R25 (lid) / R50 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie 5-dagroete van sowat 62 km in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof (45 km vanaf Kareedouw en 55 km vanaf Humansdorp) begin op die plaas Witteklip. Die roete is bekend vir sy fynbos en proteas, aalwyne en Karoo-agtige landskappe, en ongelooflike mooi uitsigte en berge. Die moeilikheidsgraad word as 2B aangegee. Die terrein is heuwelagtig met stewige opdraandes en afdraandes maar die klimme is almal net sowat 300 m klimhoogte op ‘n slag (Tafelberg 670m klimhoogte).

Ons vertrek vroeg die Sondagoggend en ry na die plaas Witteklip (45 km vanaf Kareedouw – draai af op die R62 sowat 20 km oos van Kareedouw, ry 25 km verder aan op grondpad tot by Witteklip-konferensiesentrum). Ons slaap die aand vóór die stap en die aand ná die stap by die Witteklip-basishut.

Dag 1: 16.06 km – Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut) tot by Watervalhut

Dag 2: 12.5 km – Slaap weer by Watervalhut

Dag 3: 10.76 km – Watervalhut tot by Slagkamerhut

Dag 4: 11.82 km – Slaap weer by Slagkamerhut

Dag 5: 10.67 km – Slaap weer by Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut)

Vir inpak: Soos vir ‘n 5-dagstap met oornaghutte met matrasse. Daar is spoeltoilette en ‘n warmwaterstort by al die hutte. Geen elektrisiteit by hutte nie. (Geen kerse nie as gevolg van brandgevaar.)

Meer oor Antjie se Pad: The route was named after a certain Antjie Stuurman who worked on the farm in the 1930s. Every day, she walked about 10 km over a hill called Blouberg to reach

the Witteklip farmstead. Antjie se Pad was started to help fund our other NGO – Living

Water Ministries. Living Water Ministries holds leadership camp for underprivileged children at no cost. Through this we wish to encourage the next generation in leadership. We believe that equipping the young with essential qualities will make all the difference in days to come. We sow into these children’s lives and know that the harvest will be bountiful. Living Water also focuses on teaching the children good moral values. When you support Antjie se Pad, you are supporting so much more. Of course, Antjie se Pad has its own unique experience to offer. With a great workout and amazing scenes – true tranquillity.

Kry ook meer inligting oor die roete by http://www.antjiesepad.co.za/index.htm en op Facebook by Antjie Se Pad. Mooi lapwapentjies te koop teen R100 elk.

BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA – SONDAG 7 MEI 2023

Bespreek vanaf Maandag 24 April

Beginpunt- en tyd 07:00 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad:    2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (8 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak            Soos vir dagstap met reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie: R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en in watter kondisie hulle is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.

ST HELENABAAI-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 12 TOT SONDAG 14 MEI 2023

Volbespreek

Basis vir die naweek: Desiree Timmet-hulle se strandhuis op St Helenabaai. Besprekings: Amanda Matthee by 082 570 3895. Stapleiers: Desiree Timmet en Esmay Josephs. Graad         2A (twee dagstappe). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweek wat uit twee dagstappe bestaan. Bring eie slaapsak, handdoeke, oornaggoed, kos, en dagsakkie met kos, water, windjekker, sonbeskerming, swemklere, ens. Koste     R200 pp (om uitgawes van naweek te dek, hout, ens.). Brandstofdonasie R400 (in motor met 2 betalende passasiers; 160 km x 2). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Desiree en Esmay sê: Ons sien saam met julle uit na ‘n heerlike Weskus-kuiernaweek by St Helenabaai. Dit is so 2 uur se ry vanaf Bellville. Ons doen twee dagstappe by die see – ‘n langer stap by Paternoster en ‘n korter een by Shelley Point. Ons braai albei aande (maar gaan nader aan die tyd kyk vir lekker vars vis om die een aand te braai.)

BERGRIVIERDAM – ENGELSE FORT, FRANSCHHOEK – SATERDAG 20 MEI 2023

Bespreek vanaf Maandag 8 Mei

Beginpunt- en tyd :07:00 by Robertsvleipad se hek. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend; 21 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste       :Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin die stap op ‘n jeeppad met mooi uitsigte oor die Bergrivierdam. Ons moet dan ‘n rivier kruis waar ons partykeer skoene moet uittrek. Ons kan ook afdraai na die waterval toe vir ‘n lekker teebreek. Van hier af pak ons toe die roete aan na die Engelse fort. Ons klim op in die kloof en kruis nog ‘n paar stroompies en riviertjies. Ons klim die laaste deel in die kloof op tot by die nekkie waar ons ‘n welverdiende middagete by die Engelse fort sal geniet. Ons kan ook verder stap tot by die volgende uitkykpunt. Ons kom met dieselfde roete terug. ‘n Lekker vol dag se stap in die berge buite Franschhoek.

ARANGIESKOP, ROBERTSON – VRYDAGMIDDAG 26 TOT SONDAG 28 MEI 2023

Bespreek nou

Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R400 (2 x 170 km = 340 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.

STAPVERSLAE

Chapmanspiek – 4 Februarie 2023

Sewe van ons kom lekker vroeg by die begin van die stap bymekaar by Noordhoekstrand se parkeerarea. Ons handel die admin af en begin te stap, van die begin is dit net op en op. Ons stop plek-plek om die uitsigte en ‘n koffie te geniet. By die piek aangekom neem ons ‘n ordentlike breek en geniet die uitsigte oor Houtbaai. Ons besef ons Kersfeeskos sit nog op die heupe en die plan om af te stap na die nekkie en terug word laat vaar. Ons mik toe maar weer af na die begin en stop so dan en wan weer om die uitsigte te geniet. Na die tyd geniet ons ‘n welverdiende iets te drinke by Limoncello. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 7 km. Klimhoogte: 593 m.

Struisbaai-naweek – 17 tot 19 Februarie 2023

Op 17 Februarie vertrek sewe lede in storms en reën na Struisbaai. Soos ons nader ry, word reënwolke net bewolk en die wind bedaar. Een lid het ter elfder ure gekanselleer. Ons begin ons stapnaweek met ‘n sirkelroete van ons basis langs die see, verby die hawe en terug na die basis. Ons steek die vuur aan en Belinda en Werner sluit veilig by ons aan. Na heerlike boereworsrolle en kuier gaan ons vroeg inkruip. Saterdagoggend om 07:30 vertrek ons na Suiderstrand. Ons stap langs die see verby die dorpie tot in die Aghulas-bewaringsgebied waar ons teetyd geniet en stap die roete terug tot by die voertuie. Ons ry na die suidste punt in Afrika waar ons die voertuie parkeer en verder stap op die “boardwalk” tot by die tweede oudste vuurtoring in die land. Ons neem dieselfde roete oor die plankpaadjie tot by die suidste punt en daar word foto’s geneem. Ons volgende stop is vir middagete by die beste seekoseetplek op L’Agulhas waar ons lekker vis en chips geniet. Ons is geseënd met die beste weer en goeie geselskap. Hiervandaan het elkeen sy eie tyd waar sommige boekwinkels, snuisterywinkels of lekker swem langs die hawe geniet! Die opwinding was hoog toe ‘n paar brawe stappers ook aan die pylsterte kon vat. As gevolg van die beurtkrag kon ons ongelukkig nie roomys koop nie. Hierna was ‘n heerlike blinde wynproe met kaas en wyn sonder krag onder groot gelag aan die orde van die dag. Sondagoggend om 08:00 het almal weer gereed gestaan om die laaste skof van ons strandstap aan te durf. Pragtige weer het ons weer beloon en ons het sowat 3km uit gestap en weer terug op een van ons langste strande in ons omgewing. Almal het opgepak, paar roomyse is verorber en daarna het elkeen weer kuier-kuier terug huiswaarts gekeer. ‘n Groot dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 21 km. Klimhoogte: 50 m.

Bobbejaansrivier, Bainskloofpas – 25 Februarie 2023

Altesaam 11 stappers kom om 07:30 by die Eerste Tol / De Nek-parkeerarea in Bainskloof bymekaar. Ons handel die admin af en stap af na die beginpunt. Daar is geel geverfde voetjies op die rotse en mens moet mooi kyk sodat jy die Witterivier op die beste plek kan oorsteek. Die paadjie loop aan die oorkant en is redelik maklik. Om en by 09:30 neem ons ‘n teebreek en na nog ‘n hele rukkie se stap besluit drie van die stappers hulle gaan vir ons by ‘n waterpunt wag terwyl ons opstap na die boonste deel van die roete. Die boonste deel is dan ook aan die onderkant van die pragtige waterval. Dit is redelik koud daarbo en ons vertoef ‘n rukkie en neem baie foto’s. Ons sluit weer aan by die drie stappers en besluit om ‘n lekker breek en middagete by die groot swempoel te neem. ‘n Paar van ons swem – die water is toe nie so koud soos ons gedink het nie. Teen 14:30 is ons terug by die motors. Dit is nie ‘n moeilike stap nie maar ook nie vir die “minder fikses” nie. Dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en altyd besorg is oor die lede en aan Brenda Sideratos wat die stapreëlings hanteer het. Klimhoogte: 458m (vir die wat tot voor die water gestap het) of 528 m (vir die wat opgeklim het na die waterval).

Welvanpas-roete – 4 Maart 2023

Op ’n pragtige koel oggend kom 16 stappers bymekaar op die Retiefs se plaas, Welvanpas, op die Blouvleipad, net buite Wellington. Ons stap deur ’n stukkie bos met Maartlelies en die klank van die rivier langs ons. Na ’n kort steiltetjie kruis ons ’n grondpad en stap deur die koel woud voor dit oopmaak op ’n wingerd. Ons verkyk ons aan die uitsigte van Bainskloof,  Paarlberg, en Simonsberg in die verte. ’n Paar proe aan die natrossies. Die roete neem ons deur ’n dennebos met varings tot ons weer by die rivier aansluit en ’n ruskans kan geniet by die waterval. Net ’n halfuur later bereik ons die plaas se koffiewinkel, voor die eerste reënbuie neerval. Na ons stap van 6 km met ’n klimhoogte van 190 m, smul ons lekker aan Dan se boereworsrolle en Retha se wortelkoek en kuier gesellig saam. Buiten vir die staproete, is die plaas se bergfietsroetes ook baie gewild. Daar was selfs ’n paar gaste wat kom skilder het op die plaas waar Piet Retief eens gewoon het. Dan en Retha is die tiende geslag Retiefs wat al vir bykans 280 jaar op Welvanpas boer. Baie dankie aan Gerrit en Mariette Nortjé vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 190 m.

Dassieskasteel, Silvermyn Oos – 11 Maart 2023

Altesaam 11 van ons kom 08:00 die oggend by Silvermyn 2 se hek bymekaar. Ons moet nog so paar minute wag voordat hulle kom oopsluit. Nadat die admin afgehandel is, begin ons te stap. Eers mik ons vir die nekkie tussen Wolfkop en Steenbergpieke. Na ‘n lekker klim, stop ons hier om die uitsigte te geniet. Hierna mik ons afwaarts totdat ons weer by die jeeptrack aansluit. Intussen stop ons vir ‘n koffie en geniet nie net die uitsigte nie maar ook die mooiste rotsformasies. Ons volg die jeeptrack tot ons weer links uitdraai in die rigting van Bertie’s Balcony. Hier neem ons nog ‘n breek voordat ons die pad aanpak tot by Klein Tuinkop. Hier geniet ons die 360 grade uitsigte voordat ons terugdraai en stop by die rotsformasies van die “Dassiekasteel”. Van hier pak ons die paadjie terug al die pad tot by die begin met ‘n vinnige stop by die Silwermyn-waterval. Aangesien dit maar effe loop, wil niemand afklim tot onder en weer op nie. ‘n Lekker dag uit met ‘n lekker nuwe begin aan die roete. ‘n Groot dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte 425m.

Sederberge, Zoo Ridge – 17 tot 21 Maart 2023

Ons langnaweek op Zoo Ridge was ‘n lekker ontspannende kuiernaweek. Ons basis vir die naweek was Jonkershoekhuis op die plaas sowat 80 km noord van Ceres. Ons het elke dag uitgery tot op ‘n punt vanwaar ons dan begin stap het. Almal het reeds Vrydagmiddag gearriveer en is ingedeel in kamers, waarna die vuur opgesteek word onder ‘n akkerboom wat sowat 100 jaar oud is. Saterdagoggend begin ons verkenningstogte. Ons ry tot op ‘n punt en begin dan stap en verken. Daar is nie definitiewe roetes nie en het ons rotstekeninge gesoek en baie gevind onderkant oorhange. Daar is geklouter oor rotse, binne-in grotte en bo-op rotsboë, net vir ‘n goeie foto. Elkeen se kindwees het uitgekom. Op ‘n groot los rots word daar wipplank gery. Ons vind dan die wel-bekende kameelrotsformasie en word van alle kante besigtig. Die rotse beeld verskeie diere uit en word dit ‘n speletjie van wie sien wat. Ons kies koers na onder die rif (waar Zoo Ridge sy naam vandaan kry) en verdwaal lekker. Elke keer loop ons ons vas in hoë rotse of afgronde. Na die derde poging om weer uit die kloof te kom, besluit ons om eerder op ons spoor terug te loop. Alles in goeie gees. Sondag ry ons in ‘n ander rigting en al die klippe en rotse lyk soos oer-monsters. Ons vergaap ons weer aan die mooi rotsformasies. Ons soek dan die rotstekening van die groot man en kry dit ook sommer gou. Ons ry verder en los weer die bakkies op ‘n punt waar ons nie nader kon ry as gevolg van sandpad nie, en stap dan tot by die verdiepinggrotte wat so hoog is dat ‘n mens klein voel. Maandag reën dit en ons besluit om rond te ry en die omgewing verder te verken. Ons kom op ‘n plaat kroonkandelare af en vertoef ‘n rukkie daar om dit op kamera vas te vang. Ons stop vir koffie by die Oasis Backpackers (R10 vir ‘n beker koffie) en sommige eet weer ontbyt. Ons ry ook aan by Mount Ceder wat vir hul olywe en olyfprodukte bekend is. Dan ry ons deur na Dwarsrivier waar Pieter Arno du Toit van die Cederberg Private Wynkelder ‘n wynproe vir ons aanbied. Dit is waar ons vir die res van die dag kuier. Ons besluit om nog een draai te ry om vir Lot se Vrou te gaan “loer”. Sy staan nog steeds doodstil. Dinsdagoggend beweeg ons almal uit die sprokiemooie Sederberge terug na die werklikheid. Dankie aan Wouter Jordaan vir die stapleiding en Niel en Sharon Visser vir al die ander reëllings. Dit verg ‘n ernorme klomp reëlings om so ‘n naweek moontlik te maak. Klimhoogte: 564m.

Kloovenburg – 25 Maart 2023

Altesaam 18 dapperes het die Swartland se weerelemente kom trotseer op ‘n grou Saterdagmôre. Na baie koukus vooraf en ‘n proefstap of twee was die konsensus om eerder nie die plaas se kleigrond (en veral die steiler bergroete) in die gietende reën aan te pak nie. Derhalwe het ons gemik na Riebeek-Kasteel en om die skilderagtige dorpie gestap. Strate waarin mens selde ry was te sien, ‘n mooi kerk, historiese geboue, Jacques Pauw se Tin Roof Guest House en selfs ‘n dam net buite die woondeel. Plek-plek het die reën kans gegee vir ‘n oomblik se litte rek. Oppad terug na Kloovenburg toe het ons by The Barn ingeval vir koffie maar Eskom en loadshedding wou uiteraard nie saamspeel nie. Finaliste vir die skattejag is bepaal met die Smuts ma-en-seun kombinasie en Beulagh wat Steph, Arina en Sinmarie sou aandurf. Terug by Kloovenburg het die skattejagters besluit hulle sien kans vir so 3 km se gly-gly stap deur Kloovenburg se wingerde, so ons kon toe by ‘n deeltjie van die roete uitkom. By ‘n reuse rots omsingel deur ‘n olyfboom het Arina in ‘n kits die “skat” opgespoor. So kon sy en haar twee spanmaats deel in ‘n pakkie van Kloovenburg se keurprodukte. Meeste stappers was honger en dors genoeg om die Kringe-restaurant en wynkelderproeë te ondersteun. Sommige het ‘n stewige wyle vertoef by die kaggel saam met die Labrador “gasheer”. Dit was beslis ‘n dag waar “toer” meer as “stap” op die radar was. Nietemin is 10 km afgelê en is daar ook so 120 m se hoogte verwerf. Dankie aan almal wat die grys weer met humor en geesdrif aangedurf het. Dalk stap ons êrens in die toekoms die ware Jakob roete! Baie dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings, al die ekstras en die stapleiding. (Om besluite oor die weer te neem is nooit maklik nie – dankie dat julle die beste van die dag gemaak het.) Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 120 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2023

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R10 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

‘Camping: The art of getting closer to nature while getting farther away from the nearest cold beverage, hot shower, and flush toilet.’ – Anonymous

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Wynand en Santie