~ 2 November 2022: Bespreek nou vir jaareindfunksie | Stapverslae

Dagsê

NUUS EN STAPSAKE

  • Bespreek nou vir ons jaareindfunksie op Woensdagaand 30 November om 19:00: Ons het baie moeite gedoen met die opstel van 2023 se stapprogram (baie dankie Niel en Sharon Visser en span). Bespreek nou vir ons jaareindfunksie – dit is waar ons volgende jaar se stapprogram met ‘n PowerPoint-aanbieding bekend stel. Hierdie keer vra ons dat elkeen sy “eie piekniekmandjie met kos en drinkgoed” bring en dan eet ons terwyl ons die program met foto’s en inligting bekend stel. Agterna gee ons nagereg en koffie. Die funksie word by La Rochelle NG Kerk se kerksaal gehou. Ons gee later die koste deur (om saal se huur en nagereg te dek). Bespreek by Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za. Ons sal jou graag daar wil hê.
  • Met simpatie: In hierdie nuusbrief deel ons julle die hartseer nuus mee dat Hilda Tredoux, wat jare lank ‘n lid van ons klub was, op Donderdag 27 Oktober oorlede is na ‘n lang stryd met kanker. Ons sal haar onthou vir haar lojaliteit aan die klub en die talle wonderlike staproetes wat ons saamgedoen het. Ons dink aan haar familie (dogter Nicolette en seun Frederik) in hierdie hartseer tyd. ‘n Gedenkdiens word vir 10 November beplan. Ons dink ook aan Wynand Krause (wat op ons bestuur is) wie se broer Martin vroeg in Oktober oorlede is.
  • 20% af by Hi-Tec SA, Access Park, Kuilsrivier: Ons het koopbewyse (vouchers) van Hi-Tec SA gekry vir 20% afslag op aankope by hulle. Hi-Tec SA is by B24 en B25, Access Park, Van Riebeeckweg 1, Kuilsrivier. Die koopbewyse, wat spesiaal vir Sanlam-Staptoerklub gedruk is, kan verkry word by Amanda Matthee by 0825703895. Ons sal ook van die koopbewyse saambring na die jaareindfunksie.
  • Stapverslae: Kry die stapverslae vir Cave Peak (Kalkbaai), Sosyskloof, Kaappunt-naweekstap, Giant’s Basin (Grabouw), Worcester-natuurtuin, Greyton-McGregor, Skyline Ridge (Silwermyn), Kirstenbosch, die Otter-voetslaanpad en Paarlberg hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 12 NOVEMBER 2022

Bespreek nou

Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 4C (veeleisend, 17 km met 1100m+ klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Kloofnek se parkeerarea. Ons stap met die paadjie op tot by Kloof Corner voordat ons die kontoerpaadjie volg tot by die begin van India Venster. Ons klim met India Venster op tot by die bo-kant van Platteklip Gorge voordat ons die voorste roete bo-op die berg aanpak na Maclears baken. Ons volg dan die Smuts Track en Echo Valley tot by Valley of the Red Gods. Ons stap verby Kasteelspoort met ‘n vinnige stop by die ou kabelkarretjie en duikplank, asook Rendezvous Cave. Ons stap dan aan tot by Woody Ravine waar ons afsak tot op die Pipe Track. Die volg ons dan tot terug by die motors by Kloofnek.

TAFELBERG: ORANGEKLOOF – SATERDAG 26 NOVEMBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 14 November (bespreek via WhatsApp)

Beginpunt: Constantianek om 07:30. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (redelik), 8 km. Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Amanda sê: Dié roete word as een van Tafelberg se bes bewaarde geheime beskou. Dit is die enigste permitstap op Tafelberg omdat dit deur beskermde gebied loop. Ons stap onder meer deur die grootste inheemse woudgebied in die Kaapse Skiereiland (geen brand die afgelope 30 jaar) en stap af na die ou tonnelstelsel se ingang. Ons omdraaipunt is die Woodhead-damwal.

MOSSELBAAI-NAWEEK: VRYDAGMIDDAG 25 TOT SONDAG 27 NOVEMBER 2022

Volbespreek

Besprekings: Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Stapleier: Niel Visser. Graad: 2A (redelik: 10 km + 16 km + 4 km), kampnaweek met 2 dagstappe en ekstras. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir kampnaweek met 2 dagstappe. Koste: Sowat R785 wat verblyf, hout en zipline oor die see insluit. Brandstofdonasie R850 (390 km x 2 = 780 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Niel en Sharon sê: Ons vertrek Vrydagoggend vroeg uit die Kaap uit en slaan kamp op by die ATKV-kampterrein in Hartenbos en stap die middag vanaf Hartenbos na Diaz-strand en terug (10 km). Saterdag stap ons die St Blaze roete vanaf Mosselbaai tot Danabaai (16 km) en Sondag stap ons in Pinnacle Point ‘n kort stappie af met ‘n lang trap tot onder by Eden Bay, en daarna eet ons iets by die klubhuis (eie koste) en ry dan terug huis toe. Ons braai Vrydagaand en Saterdagaand (eie koste).

JAAREINDFUNKSIE – WOENSDAGAAND 30 NOVEMBER 2022 OM 19:00

Bespreek nou

Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za. Op die program: Bekendstelling van 2023 se stapprogram, lekker eet (elkeen bring eie “piekniekmandjie / platter” en ons gee nagereg) en kuier. Ons gee binnekort die koste en ander reëlings deur.

WYNKELDERSTAP: SATERDAG 3 DESEMBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 21 November

Beginpunt en -tyd : Om 08:00 op Boschendal (by die parkeerterrein by die Trail Office). Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik, 5 km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Koste vir die wynproe en stappermit  is R150 vir lede of R155 vir nie-lede Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 15de wyntoer wees. Ons doen ‘n gemaklike 5km staproete voordat ons om 11:00 aansit vir ‘n 6-wyn wynproe. Daarna is elkeen vry om iets te eet by die deli (± R150) of by die markie (± R50).

ARANGIESKOP, ROBERTSON: VRYDAGMIDDAG 2 – SONDAG 4 DESEMBER 2022

Nuwe tydgleuf van hierdie stap

Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R360 (2 x 170 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.

ROOIBUSTOER – KAAPSTAD: SATERDAG 10 DESEMBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 28 November

Vertrektyd- en plek: 08:00 in middestad van Kaapstad: Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1A (1 km stap!). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, windjekker, ens. Koste: Sowat R225 per persoon (afhangend van watter roete ons neem). Brandstofdonasie R60. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Ons maak of ons toeriste is en doen ‘n rooibustoer wat ons verby al die Kaap se toeristeplekke neem – van die V&A Waterfront en Tafelberg tot by Houtbaai (Blue Mini Peninsula Tour). Kry meer inligting by https://www.citysightseeing.co.za/cape-town/products/cape-town-open-top-bus-tours/classic-package.

STAPVERSLAE

Cave Peak, Kalkbaai: 20 Augustus 2022

Agt van ons kom die oggend aan die einde van Boyes Drive bymekaar. Ons neem die roete in die rigting van Elsiespiek voordat ons regs uitdraai en Noord mik. Net voor die ergste klim begin, draai ons links uit en geniet ‘n lekker brekvis. Hiervandaan verken ons die grotte en skeure aan die kant van die berg. Daar is ‘n hele paar grotte en van ons seil op ons mae deur tot aan die anderkant. Nodeloos om te sê ons kom vuil anderkant uit. Van die ander grotte is groter en mens kan lekker regop staan. Aan die einde draai die paadjie op teen die berg enons klim tot bo waar ons ‘n wonderlike uitsig het oor die suidelike skiereiland. Ons stap aan tot by die amfiteater en toe verder in die rigting van die Spes Bona woud. Ons neem die paadjie af tot amper weer by Boyes Drive. Ons vind ‘n min gebruikte paadjie en loop terug tot by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die reëlings. Klimhoogte: 616m.

Sosyskloof: 27 Augustus 2022

Ons het met 28 besprekings begin, maar dit was een van daardie weke wat mens nie geweet het wat die weer wou maak nie. Op die ou end besluit die 13  van ons wat nie kop uit getrek het nie om tot by die beginpunt van die roete in Jonkershoek te ry en dan ‘n besluit te neem. Dit sous behoorlik toe ons daar aankom en ons drink eers koffie. Ons besluit toe om die sirkelroete op die grondpad te doen want ons is dan nou daar en dit mens kan dit maklik in die reën stap. Die omgewing is mooi en die kleure is helder. Die reën drup-drup nog by tye maar ons kry darem ‘n kans om by die riviertjie by die Witbrug te stop en iets te eet. Daarna stap ons terug na die beginpunt toe. Dit was ‘n dag van lekker gesels, ‘n flink stap en lekker uitkom in die natuur. Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 156 m.

Kaappunt-naweekstap: 10-11 September 2022

Ons was agt mense wat die Saterdagoggend by die hek van die Kaappunt-natuurreservaat bymekaar gekom het om te begin stap aan hierdie mooi twee-dagroete. Nadat ons by die hek ‘ingeboek’ het en die hut se sleutels gekry het, val ons in die pad om die roete kloksgewys om te stap. Die paadjie kronkel agterom of bo-oor die koppe (Judaspiek, De Boer en Paulsberg) aan die Valsbaai kant van die reservaat met fantastiese uitsigte oor Smitswinkelbaar en die see. Ons stop by die kanon op Kanonkop vir ‘n ruskans en stap dan af tot by die see by Bordjiesdrif en Buffelsbaai (bietjie koud vir swem) waar ons vir middagete stop. Daarna volg ‘n mooi stuk langs die kus en dan die laaste klim na die oornaghutte (Protea en Restio) met ‘n ongelooflike uitsig oor Valsbaai en die Atlantiese Oseaan. (Dit is heerlike hutte. Dit is jammer hulle kan nie die geboue rondom die hutte by die punt opknap en weer benut nie.) Ons braai die aand lekker (dankie aan Abrie en almal wat help dra het aan die charcoal) en kuier gesellig in die kombuis terwyl dit buite koud en reënerig is. Die volgende oggend verdeel ons in twee groepe: Amanda en Helen wat vroeër moes klaar maak omdat hulle ander verpligtinge aangehad het en Lieneke wat haar arm op dag 1 seergemaak het toe sy geval het (haar arm moes die volgende week in ‘n operasie reggestel word) en wat die teerpad gevat het, en die ander groep saam met Abrie wat die 19 km langs die Atlantiese Oseaan  aangepak het (met Estelle Zietsman wat toe ook val en haar arm kraak). Dit was ‘n naweek met baie dinge – die ongelooflike mooi natuur, twee mense wat arms breek, samesyn, lekker kuier en goeie oefening. Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 26 km of 35 km. Klimhoogte: 831 m.

Giant’s Basin, Grabouw: 17-18 September 2022

Die Saterdagoggend vergader 24 Sanlamstapmaats by die pragtige Trail’s End Bike Hotel. Kamers word uitgedeel en bagasie afgepak. Ons vergader in die eetsaal en stel almal voor aan Brenda Silberbauer, mede-eienaar van Trail’s End en ook ons stapgids vir die naweek, asook nog x3 dames van Elgin wat saamstap. Ons stap met ‘n baie gemaklike paadjie in die rigting van die Hottentots Holland-berge. Met ‘n effe nouer klipperige paadjie kies ons koers tussen kleinerige denneboompies deur in die rigting van Wessel’s Gat. Ons neem ‘n kort tee/waterbreek en stap dan verder om uiteindelik Wessel’s Gat te bereik. Voor ons is ‘n pragtige ou damwal – beslis gebou in die dae toe langtermynbehoud nog belangrik was! Die dam is tot oorlopens toe vol – d dus geniet ons die klanke van ‘n pragtige Waterval wat oor die damwal na benede stort. Kosblikke word uitgehaal en ons klink ook ‘n glasie Muscadel op Estelle Smuts se verjaarsdag. Michael toets sy “drone” uit. Ons begin ons terugtog na Trail’s End. Saterdagmiddag besoek ons Paul Wallace vir “Wine and Chocolate paring”. Terug by ons blyplek wag daar ‘n gesellige braaivleisvuur en ons kuier lekker saam. Laataand kyk ‘n paar van ons hoe die Springbokke Argentinië kafdraf. Sondagoggend neem Brenda Silberbauer 18 van ons na “The Rocky Garden”-roete. Ons stap weer in die rigting van die Hottentots Holland-berge, maar kies ‘n roete in die rigting van interessante rotsformasies. Ons geniet ook pragtige uitsigte oor die Elginvallei en omliggende plaasdamme. Ons geniet ‘n welverdiende breek en stap rustig terug na Trail’s End. Daar is ook ‘n interessante fietsmuseum by die hotel. Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die reëlings en aan Michael Smuts vir die mooi video van die naweek! Totale hoogte gewen: 420m.

Worcester-natuurtuin: 24 September 2022

Sewe van ons vat die pad uit die Kaap uit in die rigting van Worcester. By die Natuurtuin aangekom betaal ons die toegang, parkeer en handel die admin af. Ons begin te stap en ons begin sommer met ‘n stewige klim op teen die heuwel agter die tuin. Daarvandaan sak ons eers weer af tot in die tuin waar ons ‘n lekker koffie geniet. Ons pak weer die roete aan en begin eers weer met ‘n lekker klim om bo-op die heuwel te kom. Ons stap al op die heuwel langs en geniet die mooi veldblomme en uitsigte langs die pad. Na nog ‘n breek, sak ons af. Hier moet daar met ‘n tou opgeklim word en 2 van ons besluit liewer nie. Ons stap verder af tot on uiteindelik weer in die tuin aankom. Ons wandel in die tuin rond en verwonder ons aan die blomme en bome. Aandie einde geniet ons ‘n lekker ietsie te ete en drink in die restaurant. Baie dankie aan Werner Dalziel vir alles wat met hierdie stap gepaard gegaan het. Klimhoogte: 268m.

Greyton-McGregor: 1-2 Oktober 2022

Altesaam 16 van ons kom die Vrydagaand by die Ecolodge (ou skoolkoshuis wat in backpackers omskep is) bymekaar om die Saterdag te begin stap aan die Greyton-McGregor tweedagstap. ‘n Klompie van ons gaan verken die dorp en eet heerlike pizzas by Fiore terwyl die ander kos maak in die backpackers se kombuis. Daarna is dit ‘n geskarrel om alles reg te kry vir die volgende dag se stap. Net voor ons begin stap, kry Elana Swart nuus dat dit baie sleg gaan met haar pa se gesondheid en sy besluit om liewer van die stap te onttrek. Ons pak toe die lang-lang opdraand aan tot by Breakfast Rock waar ons iets een voor ons die laaste deel van die bult aanpak. Soos mens afsak in Boesmanskloof sien jy ook die bome in die verte wat die oornagpunt aandui en jy weet daar lê baie swoeg en sweet voor tussen die nekkie waarop ons staan en die een waar ons later moet uit. Ons stap aan tot by die swemgat waar ons vir middagete stop en waar ‘n paar dapperes swem. Na die swemgat bly die paadjie deur die kloof kronkel tot waar ons links met trappies begin opklim om weer uit die kloof te kom (eish, bietjie meer trappies as wat ons onthou het van die vorige keer). Dan kom mens uit op die ou pas wat van McGregor tot by Greyton sou loop maar nooit voltooi is nie. Ons bly in drie goed toegeruste en pragtige huisies op die Oosthuizens se plaas en ons braai lekker. Ons besluit om die volgende oggend vroeg in die pad te val want daar is warm weer voorspel (gelukkig het daar ‘n bietjie wind gewaai wat ons afgekoel het). Die vorige dag se afdraande is vandag se bulte, maar uiteindelik is ons weer op die nekkie en toe is dit afdraand al die pad tot onder in die dorp waar Abrie vir ons inwag met yskoue Coke. Ons stap terug tot by die Ecolodge en vat die pad Kaap toe. Baie dankie aan Abrie Marais en Werner Booyens vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 32 km. Klimhoogte: 917 m.

Skyline Ridge, Constantiaberg: Saterdag 8 Oktober 2022

Altesaam 11 van ons kom die oggend by die dam in Silwermyn Natuurreservaat bymekaar. Nadat die admin afgehandel is, vat ons pad in die rigting van Noordhoekpiek. Na ‘n lekker stewige klim, vat ons die eerste blaaskans en ‘n welverdiende breek. Na ons almal ge-koffie is, wat ons verder koers na Noordhoekpiek waar ons ‘n asemrowende uitsig het oor Houtbaai. Ons stap aan al met Skyline Ridge langs en stop vir foto’s by Eagles Nest. Die paadjie is lekker op en af, en net voor ons die laaste 300m klim van Constantiapiek aandurf, wat ons nog ‘n blaaskans. Bo-op die piek is dit tyd vir middagete. Na ‘n lekker rus pak ons die roete terug aan, al met die olifant se rug langs tot by die oog. Nog ‘n rus voordat ons rigting kies terug na die motors. Net na ons die rivier oorsteek draai ons links met die Steenberg Ridge langs en finaal af na die motors. ‘n Lekker uitdagende stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die beplanning. Klimhoogte: 692m.

Kirstenbosch: 15 Oktober 2022

Kirstenbosch, wat in 1913 gestig is en 96 tuiniers in diens het, is een van die groot botaniese tuine van die wêreld. Altesaam 12 mense het Saterdagoggend by Kirstenbosch bymekaar gekom vir ‘n luilekker stap via die Kamferboomlaning wat in 1898 deur Cecil Rhodes aangeplant is en Van Riebeeck se heining wat in 1660 aangeplant is. Die paadjie neem ons na die “boomslang” (Centenary Tree Canopy Walkway) met wonderlike uitsigte oor die botaniese tuin. Ons stop by ‘n stroompie om iets te eet en te drink. Ons loop verby die afdraai na Skeleton Gorge weer terug na die broodbome en Kolonel Bird se Bad en toe na die Tea Room vir iets te eet en te drink. Daarna gedra ons ons soos toeriste en besoek die twee winkeltjies en die tuinsentrum. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 4 km. Klimhoogte: 180 m.

Otter-voetslaanpad: 20-24 Oktober 2022

Die Otter is een van die “groot roetes” wat jy in jou lewe moet doen. Dit is dus met groot opgewondenheid dat 11 van ons die Woensdagoggend na Nature’s Valley vertrek het om hierdie wonderlike en wilde stuk kuslyn vir vyf dae net vir onsself te hê. Ons het ‘n huis gereël vir verblyf voor en na die stap en dit het baie bygedra tot die lekkerte van alles. Ons braai die aand en almal skarrel om kry hul rugsakke reg te kry vir die stap waarna ons so lank uitgesien het. Die volgende oggend net voor 09:00 daag Burton Mlandu (pendeldiens) op om ons na die beginpunt by Stormsrivier te neem. Die papierwerk hier het nogals tyd geneem (almal moet inteken by die hek EN by die kantoor, mediese vorms ingee, en vrywaringsvorms invul). Dan volg die “briefing” met die hoofboodskap dat ons moet uitkyk vir die gety by die Lotteringrivier (Dag 3) en Bloukransrivier (Dag 4). Ons begin dus met drie dae se “gewone stap” en die wete (lees: “worry”) dat Dag 4 die dag is wat ons gaan toets. Dag 1 se stap neem ons vanaf die kantoor deur kuswoud tot by die see waar ons by die waterval vir middagete stop. Dit was bietjie koud vir swem. Dagbesoekers mag tot hier stap. Dan stap ons rustig verder tot by Ngubu se twee hutte – heel tevrede dat die eerste dag goed verloop het. Op Dag 2 begin die op- en afdraandes met mening, maar gelukkig is die klimme nooit baie hoog nie (behalwe die een na Bloubaai). Een stapper gesê het: “Ek sweet dan nou op die afdraandes ook.” Ons kruis Kleinbosrivier en stap verby Skilderkrans. ‘n Klomp los hul rugsakke op die paadjie en stap af na Bloubaai. Net toe ons weer aan die stap is, val daar ‘n vinnige bui reën. Scott se hutte is letterlik op die strand en ons het oorgenoeg tyd om op die hut se stoep te sit en kyk vir die see. Op Dag 3 moet ons eers oor die Geelhoutbosrivier en toe oor die Elandsbosrivier (waar party oor ‘n rotsrif geklouter het en ander liewer skoene uitgetrek het en deur die water geloop het). Ons kry toe die Lotteringrivier, wat ‘n halfuur se stap vanaf die hut is, op hoogwater. Werner toets die water, wat vir die meeste van ons (behalwe Abrie) hoër as middellyf diep is en baie sterk trek soos die gety begin sak. Ons plak toe langs die rivier en eet middagete, maar ná ‘n uur begin die mense kriewel en ons besluit om met survival bags oor die rivier te kom – ‘n goeie oefenlopie vir die volgende dag se Bloukrans. Die aand by Oakhurst se hutte het ons vroeg gaan slaap (dit was nog nie heeltemal donker nie) sodat ons 03:00 kon opstaan en 04:00 met flitse kon begin stap om die Bloukrans net na 08:00 op laagwater te kry. Die 10 km tot by die rivier sluit lekker stapbare paadjies in maar ook ‘n rotsagtige stuk langs die kus waar jy jou hande uit jou broeksakke moet haal en ‘n paar rotse moet omhels. Ons deel later die groep in twee sodat die vinnige groep ten minste oor die rivier kon kom (en die agterstappers desnoods die ontsnaproete neem). Op die ou end was daar ook ‘n middelgroep. Mens loop nog so deur die bos en dan skielik sien jy die magtige Bloukrans voor jou. Maar daar is nie tyd vir bewe of bang wees nie – ons moes deurdruk om oor die rivier te kom. Ons kon sien dat 2 mense reeds deur is en dat die middelgroep besig was om te begin oorstap. Die laaste groep het vinnig gereed gemaak vir die rivierkruising (trek skoene uit, sit alles in ‘n survival bag en maak dit met kabelbinders toe, en begin oorstap terwyl jy koes vir die branders wat inkom). Op die ou end is almal veilig oor (via die sandsloep) en almal het ‘n storie gehad om te vertel. Daarna volg die rotslysies (daar is nou ‘n tou waaraan jy kan vashou). Ons stap rustig verder en kom moeg en dankbaar by André se hutte aan. Laatmiddag het ‘n groot rooikat rustig op die strand voor die hut verby gedraf – nie iets wat mens aldag sien nie. Op Dag 5 stap ons oor die Kliprivier en klim weer die koppe uit tot op die eskarp met wonderlike uitsigte oor die see en die walvisse wat “ons die hele tyd gevolg het”. Ons stop vir iets te ete by die Helpmekaarrivier en toe weer voor die laaste klipperige afdraand na die strand by Nature’s Valley om “net te sit en uitkyk oor die see” want die Otter is groot. Die laaste deel van die Otter sluit by Dag 1 van die Tsitsikamma-roete aan en ons loop die laaste paar kilometer deur die bos tot by De Vasselot-natuurreservaat waar ons almal uitteken en foto’s neem. Ons eet die aand met “vyf dae se honger in ons” by die Blue Rocks restaurant op Nature’s Valley. ‘n Groot dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 45 km. Klimhoogte: 903 m.

Paarlberg: 29 Oktober 2022

Saterdagoggend het 13 van ons by Meulwater bymekaargekom. Admin is gou-gou afgehandel en die weer was perfek vir die stap. Ons is eers na die waterval en toe op met die paadjie tot by Oukraal. Hier het ons ‘n ruskans geneem. Dit was nogal warm! Ons het by Oukraal regs gedraai met die pad en weer links net voor die Telkom-toring. Ons is bult op en bult af tot by ‘n heerlike rotsoorhang waar ons teetyd geniet het. Vandaar is ons tot by die agterste baken met uitsigte van Tafelberg, Ruitersvlei en as jy baie skerp links kyk en jou kop effe tilt kan jy amper vir Spice Route sien. By Krismiskamp het ons besluit om n vroeer middagete te neem aangesien ons hier in die koelte kon vertoef. Vandaar is toe met die paadjie na Bretagne- en Gordonklip.  Ons stap rustig die 365 trappies na bo en agv die hitte wou niemand opgaan na Bretagneklip. Vandaar is ons na Paarlrots en het die mooi uitsigte geniet. Hulle het ook onlangs die kanon bo-op Paarlrots geskuif en dit is nou meer toeganklik. Vandaar is ons toe deur die tuin terug na ons motors – dit het ons ‘n volle 40 minute geneem. Ons was teen 14:00 terug by die motors en baie bly om uit te son te kom. Oktobermaand word nie verniet die mooiste maand genoem nie – dit is oral opvallend in Paarl-natuurreservaat.  11 van die 13  stappers het na die tyd koue bier gaan drink by Copper Club. Die weer en pragtige veld met geelblomme het beslis ons dag gemaak en ons het ‘n volle 18 km gestap. Ons totale klimhoogte vir die dag 585m. Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en dankie aan Brenda vir die reëlings.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2022

R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN OKTOBER VERJAAR

Esta Koegelenberg (5 Okt), Frikkie Koegelenberg (5 Okt), Delfie Issel (5 Okt), Dirk Kuhn (5 Okt), Mahanda Bence (7 Okt), Pat de Beer (9 Okt), Janine Hitchinson (9 Okt), Rene Hodgson (10 Okt), Madelein Nortjé (10 Okt), Belinda Miller (15 Okt), Reline du Toit (16 Okt), Eugene du Plessis (16 Okt), Karien Fourie (18 Okt), Susal Pohl (19 Okt), Esther Warnich (20 Okt), Cluette Cloete (20 Okt), Jakkie Barnard (23 Okt), Isme Wentzel (25 Okt), Yvonne Odendal (26 Okt), Ryno van Niekerk (27 Okt), André Engelbrecht (27 Okt), Marica Fourie (27 Okt), Manie Blom (29 Okt), Theo Marais (29 Okt), Archie Winterbach (30 Okt) en James Wendel (31 Okt). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN NOVEMBER VERJAAR

Beulagh Keulder (4 Nov), Linda de Villiers (5 Nov), Karien Barnard (5 Nov), Jane Hitchinson (8 Nov), Brenda Sideratos (10 Nov), Erica Benkenstein (12 Nov), Esmay Albertyn (12 Nov), Carin Duminy (14 Nov), Lewonia Thompson (14 Nov), Jasper van Breda (15 Nov), Elizabeth Bester (16 Nov), Anita Smit (16 Nov), Liezl Swart (18 Nov), Susan Pienaar (19 Nov), Joubert Matthee (20 Nov), Louis Conradie (22 Nov), Lindi Koen (24 Nov), Fanie Coetzee (25 Nov), Mathilda Claassen (25 Nov), Paula Bester (26 Nov), Noeks Foreman (28 Nov). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

LAAT MENS DINK

“You never forget a person who came to you with a torch in the dark.” – M Rose

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.) Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand