NUUS EN STAPSAKE
- Stapsake: Hierdie is ‘n vinnige nuusbrief sodat ons almal weer op dieselfde bladsy is. Daar is nog plek op môre (Saterdag 24 September) se stap by Worcester. Ons hoor altyd van Worcester se natuurtuin in die voetheuwels van die Hexrivierberge. Nou gaan ons ‘n slag kyk hoe dit regtig daar lyk. Ons stap ‘n roete van 8 km en eet dan iets by die restaurant daarna. Kry al die inligting hieronder en bespreek by Werner Dalziel by 082 579 0968. Ons jaareindfunksie skuif na Woensdagaand 30 November in die kerksaal by La Rochelle. Dit is waar ons die stapprogram vir 2023 bekend stel. Ons gaan die Sederberge uitskuif na volgende jaar, en sal ‘n lekker dagstap in hierdie tydgleuf insit. Ons het ‘n ekstra dagstap op Saterdag 1 Oktober – die Luiperdkamerastap in Bainskloof. As jy wil saam stap om ons luiperdkamera in die Bainskloofberge te gaan diens, kontak gerus vir Steph du Toit by 082 851 9953. Die inligting is hieronder.
- Voorstelle vir 2023 se stapprogram: Hierdie is jou laaste kans om voorstelle te stuur vir die 2023-stapprogram want ons vergader binnekort om die program bymekaar te sit. Stuur jou wenslysie vir Niel Visser by nielvisser@mweb.co.za. Een van ons langstappe sal uiteraand Antjie se Pad wees wat ons van 2022 uitgeskuif het na 23-28 April 2023. Antjie se Pad is ‘n baie mooi 5-dagstap tussen Kareedouw en Humansdorp (kyk by “Antjie se Pad” op Facebook).
- 20% af by Hi-Tec SA, Access Park, Kuilsrivier: Ons het koopbewyse (vouchers) van Hi-Tec SA gekry vir 20% afslag op aankope by hulle. Hi-Tec SA is by B24 en B25, Access Park, Van Riebeeckweg 1, Kuilsrivier. Die koopbewyse, wat spesiaal vir Sanlam-Staptoerklub gedruk is, kan verkry word by Amanda Matthee by 0825703895. Ons sal ook van die koopbewyse saambring na die stappe.
- Tandepasta-tablette: ‘n Idee vir lig pak op langstappe: “The first hydroxyapatite toothpaste tablet in South Africa. Natural, yet scientific and completely plastic free. Simply pop a tablet in your mouth, bite and chew, wet your toothbrush and brush for 2 minutes. To get the maximum benefit simply spit, don’t rinse – smile!” http://thekindbrush.com/product/bitebrush-toothpaste-tablets/
- Ligte tent: Vir die interessantheid – hierdie superligte (750 g) en duur (R4599.00) Black Diamond-tent vir twee persone gebruik twee stapstokke as deel van die tent se paaltjies. https://blackdiamondequipment.co.za/product/distance-tent-w-adapter/
- Stapverslae: Ons gee weer stapverslae in die volgende uitgawe.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
WORCESTER-NATUURTUIN – SATERDAG 24 SEPTEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 12 September
Beginpunt- en tyd: Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin om 08:30. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 1A. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Koste: Brandstofdonasie R170 (2 x 110 km). Toegang tot die natuurtuin: R35. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Koffie en iets te ete by padstal of eetplek is vir elkeen se eie rekening.
Werner sê: Hierdie gaan oor die “toer”-gedeelte in Sanlam-Staptoerklub. Ons besoek die Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin (Karoo Desert National Botanical Garden) wat aan die voet van die Hexrivier-berge buite Worcester lê (sowat 120 km vanaf Kaapstad). Daar is verskeie kort roetes soos die Shale Trail (1 km), Grysbokkie-roete (3,5 km) en die Heuweltjie-roete (as gevolg van baie miershope op die roete). Die tuin is ook bekend vir sy baie vetplante en helderkleurige vygies wat van laat Julie tot laat September blom. Ons stap ook ‘n roete wat met ‘n groot verskeidenheid plante uit waterarm streke van die Karoo soos Boesmanland, die spekboomwoud, die Groot Karoo en die Knersvlakte. Daar is ook baie ander besienswaardighede in en om Worcester: https://www.getaway.co.za/travel-ideas/8-things-to-do-in-worcester/
BAINSKLOOF-STAP: DIENS LUIPERDKAMERA: SATERDAG 1 OKTOBER 2022
Bespreek nou
Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: 07:15 by Eerste Tol, Bainskloofpas. Graad: 2A (500 m klimhoogte), 4 km tot by kamera (9 km in totaal). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Steph sê: Die Kaapse Luiperdtrust gebruik navorsing oor luiperds in die Kaapse berge vir die bewaring van luiperds. Sanlam-Staptoerklub ondersteun hierdie inisiatief deur ’n luiperdkamera te borg. Die kamera is in Februarie 2015 in Bainskloofberge geïnstalleer. Ons diens die kamera elke paar maande. Die Luiperdtrust kan baie inligting uit die foto’s op die kamera aflei – soos hoeveel luiperds daar is (elke luiperd se kolle is uniek) en in watter kondisie hulle is. Sien http://capeleopard.org.za/research/leopard/boland.
BOESMANSKLOOF: GREYTON-MCGREGOR: VRYDAGMIDDAG 30 TOT SONDAG 2 OKTOBER 2022
Volbespreek
Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, redelike stapfiksheid vereis, stapafstand sowat 30 km oor 2 dae. Groepgrootte: 12. Inpak: Slaap Vrydagaand op Greyton in die Echo Lodge (bring eie slaapsak en handdoek). Dan volg 2-dagstap met ‘n oornag-rugsak. Ons slaap die Saterdagaand by Die Galg buite McGregor in hut met beddens (daar is beddegoed en handdoeke). Ons dra ons eie kos, braaivleis vir die aand, ontbyt, ens. saam. Dra genoeg water saam op die roete, en sorg vir sonbeskerming, reënklere, windjekker, en swemklere. Maak gereed vir enige soort weer. Braai albei aande. Koste: Sowat R450 per stapper (verblyf Vrydagaand en Saterdagaand, hout vir braai, stappermit). Plus R350 brandstofdonasie (2 x 160 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: As jy 4 km voor Caledon links afdraai berge se kant toe, kom jy by Greyton uit. Ons slaap Vrydagaand oor in die Echo Lodge (backpackers) in Greyton, en braai die aand. Ons motors bly veilig by die Echo Lodge terwyl ons stap. Ons begin Saterdagoggend vroeg stap aan die 15km op in Boesmanskloof (van Greyton na Die Galg buite McGregor). Ons stop op pad by die bekende Oaks-waterval vir lafenis en ook om moed te skep vir die laaste 5 km waarvan 2 km teen ‘n lekker steil opdraand is. Saterdagaand het ‘n heerlike hut, en ons kan lekker kuier rondom vuur. Sondagoggend val ons vroeg in die pad terug Greyton toe. Ons stop weer by die Oaks-waterval om te swem en ‘n laatontbyt te geniet. Ons behoort teen middagete terug te wees in Greyton. Albei oorslaapplekke is backpackers met “dormitory-style” kamers. ‘n Mooi naweekstap met ‘n goeie paar builte, maar niks is tegnies moeilik nie.
SKYLINE RIDGE TOT BY CONTANTIABERG, SILWERMYN-WES – SATERDAG 8 OKTOBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 26 September
Beginpunt- en tyd: 08:00, Silwermyn-Wes se parkeerterrein. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (12 km, 700m+ klimhoogte, veeleisend). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Permit: R50 of Wildcard.
Werner sê: Ons stap vanaf die parkeerarea via die “Skywalk” (met uitsigte oor Houtbaai en die Sentinel). Daarna klim ons met ‘n steil paadjie tot bo-op Constantiaberg tot by die maste en radarstasie. Daarna loop ons al met die olifant se “ruggraat” langs na die Olifantsooggrot en weer terug tot by die motors. Stewige paar opdraandes en afdraandes, maar die uitsigte is die moeite werd.
KIRSTENBOSCH-DAGSTAP – SATERDAG 15 OKTOBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 3 Oktober
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Kirstenbosch. Stapleier: Amanda Matthee by 0825703895. Graad
1A. Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.
Koste: Brandstofdonasie R80. Toegangsgeld by Kirstenbosch R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Kirstenbosch – met meer as 8 800 verskillende plantsoorte en 96 tuiniers – is Afrika se mooiste tuin. Kirstenbosch vorm deel van die Kaapse Blommeryk wat in 2004 tot ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied verklaar is. Ons stap saam met ‘n professionele gids een van die roetes in die tuin en besoek ook die Geuretuin en ander uitstallings. Kirstenbosch is die eerste botaniese tuin in die wêreld wat hom op ‘n land se inheemse flora toespits. Ons stap ook die Boomslang-roete. Hierdie boomtop-paadjie van 130 meter is by die 2016 Design Indaba in Kaapstad as die Mooiste Voorwerp in Suid-Afrika aangewys. Die loopweg, wat van staal en padoekhout uit Afrika gemaak is, is deur ‘n slang se vorm geïnspireer. Die konstruksie is drie verdiepings hoog op sy hoogste punt. Ons kan agterna koffie drink by die Kirstenbosch Tea Room. Sien http://www.sanbi.org/gardens/kirstenbosch.
OTTER-VOETSLAANROETE – WOENSDAG 19 TOT DINSDAG 25 OKTOBER 2022 (rydatums ingesluit)
Volbespreek
Stapreëlings : Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad 2B (veeleisend, 41 km oor 5 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir 5-dag stap met oornaghutte met beddens en matrasse. Survival bag en tou vir rivierkruisings. Slegs bio-afbreekbare seep. SA ID. Wees voorbereid op enige soort weer. Koste: Otter-permit R1465 per persoon. Plus daaglikse bewaringsfooie van R68 per dag (maar as jy Wildcard het betaal jy geen bewaringsfooie nie; bring egter jou Wildcard en SA ID saam). Vervoerkoste (shuttle) na beginpunt: + R200. Oornagverblyf voor en na die stap (2 aande): + R450. Brandstofdonasie R1400 (615 km x 2 = 1 230 km). Adminheffing R25 per lid / R50 per besoeker.
Amanda sê: Ons vertrek vroeg die Woensoggend en ry tot by Nature’s Valley. Ons reël blyplek vir die Woensdagaand voor die stap, en die Maandag na die stap. Ons stap van Donderdag 20 tot Maandag 24 Oktober. Ons ry rustig die Dinsdag terug Kaap toe. Die Otter-voetslaanpad in die Tsitsikamma Nasionale Park is die eerste amptelike voetslaanroete in Suid-Afrika. Dit is in 1968 geopen, en loop van die Stormsriviermond weswaarts tot by Nature’s Valley (De Vasselot-kampterrein). Dit is een van die skouspelagtigste kusstroke in die land en is bekend vir sy kuswoude, reusebranders, afgesonderde baaie en ‘n kusplato bedek met heide en proteas.
- Dag 1: 4,6 km – sowat 3 uur. Vanaf Stormsrivier-kampeerterrein tot by Ngubu se hutte. Stap verby mooi waterval waar ons kan swem.
- Dag 2: 7,9 km – sowat 6 uur. Van Ngubu se hutte – Scott se hutte. Kruis Kleinbosrivier, stap verby Bloubaai en Skilderkrans.
- Dag 3: 7,7 km – sowat 4 uur. Van Scott se hutte na Oakhurst se hutte. Kruis Geelhoutbosrivier, Elandsbosrivier, Lotteringrivier (survival bags soms hier nodig).
- Dag 4: 13,8 km – sowat 8 uur. Van Oakhurst se hutte na André se hutte. Kruis Witelsrivier, Bloukransrivier (net voor 10 km merk) (survival bags nodig vir ingeval). Dit is sowat 4 uur se stap van Oakhurst na Bloukransrivier. Dit is sowat 2 uur se stap van Bloukransrivier na die oornaghut.
- Dag 5: 6,8 km – sowat 3 uur. André se hutte na Nature’s Valley. Kruis die Kliprivier en klim tot op die rand van die koppies. Loop op die plato tot jy uiteindelik weer by die strand uitkom, en loop dan seelangs tot by Nature’s Valley.
Belangrik: Slegs bio-afbreekbare seep op roete toegelaat. Onthou jou ID-boek. Ons sal nader aan die tyd inligting oor die getye bekend maak vir die rivierkruisings. Jy moet ten minste een keer in jou lewe die Otter stap!
PAARLBERG – SATERDAG 29 OKTOBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 17 Oktober
Beginpunt- en tyd: 07:30. Stapleier: Brenda Sideratos by 0721225216. Graad: 1B (sowat 18 km)
Groepgrootte: Onbeperk: Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R50 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
SEDERBERGE, CRYSTAL POOLS
Ons skuif hierdie stap uit na volgende jaar. Dagstap in hierdie tydgleuf – meer inligting volg binnekort.
TAFELBERG EXTREME DAGSTAP – SATERDAG 12 NOVEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 31 Oktober
Beginpunt: 06:00 vanaf Cecilia Forest se parkeerarea. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 4C (veeleisend, 17 km met 1100m+ klimhoogte). Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie met kos, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Werner sê: Ons begin reeds om 06:00 vanaf Kloofnek se parkeerarea. Ons stap met die paadjie op tot by Kloof Corner voordat ons die kontoerpaadjie volg tot by die begin van India Venster. Ons klim met India Venster op tot by die bo-kant van Platteklip Gorge voordat ons die voorste roete bo-op die berg aanpak na Maclears baken. Ons volg dan die Smuts Track en Echo Valley tot by Valley of the Red Gods. Ons stap verby Kasteelspoort met ‘n vinnige stop by die ou kabelkarretjie en duikplank, asook Rendezvous Cave. Ons stap dan aan tot by Woody Ravine waar ons afsak tot op die Pipe Track. Die volg ons dan tot terug by die motors by Kloofnek.
TAFELBERG: ORANGEKLOOF – SATERDAG 26 NOVEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 14 November
Beginpunt: Constantianek om 07:30. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (redelik), 8 km. Groepgrootte: 12. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, eetgoed, windjekker. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.
Amanda sê: Dié roete word as een van Tafelberg se bes bewaarde geheime beskou. Dit is die enigste permitstap op Tafelberg omdat dit deur beskermde gebied loop. Ons stap onder meer deur die grootste inheemse woudgebied in die Kaapse Skiereiland (geen brand die afgelope 30 jaar) en stap af na die ou tonnelstelsel se ingang. Ons omdraaipunt is die Woodhead-damwal.
MOSSELBAAI-NAWEEK: VRYDAGMIDDAG 25 TOT SONDAG 27 NOVEMBER 2022
Volbespreek
Besprekings: Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Stapleier: Niel Visser. Graad: 2A (redelik: 10 km + 16 km + 4 km), kampnaweek met 2 dagstappe en ekstras. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir kampnaweek met 2 dagstappe. Koste: Sowat R785 wat verblyf, hout en zipline oor die see insluit. Brandstofdonasie R850 (390 km x 2 = 780 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Niel en Sharon sê: Ons vertrek Vrydagoggend vroeg uit die Kaap uit en slaan kamp op by die ATKV-kampterrein in Hartenbos en stap die middag vanaf Hartenbos na Diaz-strand en terug (10 km). Saterdag stap ons die St Blaze roete vanaf Mosselbaai tot Danabaai (16 km) en Sondag stap ons in Pinnacle Point ‘n kort stappie af met ‘n lang trap tot onder by Eden Bay, en daarna eet ons iets by die klubhuis (eie koste) en ry dan terug huis toe. Ons braai Vrydagaand en Saterdagaand (eie koste).
JAAREINDFUNKSIE – WOENSDAGAAND 30 NOVEMBER 2022 OM 19:00
Bespreek vanaf Maandag 31 Oktober
Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za. Op die program: Kort dagstap, uitdeel van 2023 se stapprogram, braai en kuier
WYNKELDERSTAP: SATERDAG 3 DESEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 28 November
Beginpunt : Tyd en plek sal later deurgegee word. Stapleier: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 15de wyntoer wees. Ons gee later die presiese roete en kelder aan. Dit is die ideale geleentheid om meer van ons omgewing se wynroetes uit te vind en om interessante nuwe wyne te proe en aan te koop.
ARANGIESKOP, ROBERTSON: VRYDAGMIDDAG 2 – SONDAG 4 DESEMBER 2022
Nuwe tydgleuf van hierdie stap
Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R360 (2 x 170 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.
ROOIBUSTOER – KAAPSTAD: SATERDAG 10 DESEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 28 November
Vertrektyd- en plek: 08:00 in middestad van Kaapstad: Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 1A (1 km stap!). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, windjekker, ens. Koste: Sowat R225 per persoon (afhangend van watter roete ons neem). Brandstofdonasie R60. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Ons maak of ons toeriste is en doen ‘n rooibustoer wat ons verby al die Kaap se toeristeplekke neem – van die V&A Waterfront en Tafelberg tot by Houtbaai (Blue Mini Peninsula Tour). Kry meer inligting by https://www.citysightseeing.co.za/cape-town/products/cape-town-open-top-bus-tours/classic-package.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2022
R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN SEPTEMBER VERJAAR
Carine Krige (2 Sept), Rudi Burger (3 Sept), Marius le Roux (4 Sept), John Fraser (7 Sept), Dirk Kotze (10 Sept), Niel Visser (12 Sept), Francois Oosthuizen (14 Sept), Marlene Jonker (14 Sept), Estelle Smuts (17 Sept), Chantelle du Toit (17 Sept), Mariana du Toit (18 Sept), Riaan Louw (22 Sept), Yvonne Olivier (27 Sept), Estelle Zietsman (28 Sept) en Hennie du Toit (29 Sept). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)
LAAT MENS DINK
“I hike to burn off the crazy.” – Unknown
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.)
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand
