NUUS EN STAPSAKE
- Bespreek nou vir die winterfunksie op Woensdagaand 27 Julie. Net ‘n vinnige nuusbrief om julle daaraan te herinner om vir ons winterfunksie te bespreek. Paramedikus Werner Krause kom praat met ons oor bergreddings en wat stappers moet doen om nie in die berge in die moeilikheid te beland nie. Hoe meer gesamentlike kennis daar in die klub is, hoe beter vir ons almal. Op die spyskaart is tuisgemaakte sop (twee soorte), tuisgebakte brood en warm nagereg (R75 per kop). Die venue is NG Kerksaal, La Rochelle. Bespreek by Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za teen 14:00 op Maandag 25 Julie (vir spysenieringsdoeleindes. Dit sal goed wees om jou daar te sien!
- Ander stapsake: Daar is nog plek oop op die Kaappunt-naweekstap van 10-11 September. Die oornaghut het regtig ‘n 10-uit-10 uitsig. Kry die besonderhede hieronder en bespreek nou. Die Otter se besprekings het Maandag oopgemaak en dit is vol bespreek. Ons kon letterlik jare laas ‘n permit vir die Otter kry. Ons het nog ‘n sarsie stappe hieronder bygevoeg. Kyk gerus en kom stap saam.
- Stapverslae: Ons gee volgende keer weer stapverslae.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
MONT ROCHELLE: DU TOITSKOP: SATERDAG 23 JULIE 2022
Volbespreek
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Mont Rochelle buite Franschhoek. Stapleier: Adellethea Issel by 078 661 8126. Graad:3B (redelik, 13 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Sorg veral dat jy genoeg warm klere het. Koste: Permit R70. Brandstofdonasie: R100 (2 x 65 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Delfie sê: Ons beginpunt is die Mont Rochelle Natuurreservaat in die Franschhoekpas. Die reservaat vorm deel van die UNESCO-bewaringsgebied. Die roete neem ons via Breakfast Rock (waar ons links afdraai) in ‘n noordwestelike rigting tot op Du Toitskop Piek (1407 m). Totale klimhoogte 660 m. Fantastiese uitsigte op die Franschhoekvallei. As ons gelukkig is, stap ons in die sneeu.
WINTERFUNKSIE: WOENSDAGAAND 27 JULIE 2022 OM 19:00
Bespreek teen Maandag 25 Julie om 14:00 (vir spysenieringsdoeleindes)
Op die program: Paramedikus Werner Krause kom praat met ons oor bergreddings en wat ons moet doen om nie in die moeilikheid te beland in die berge nie. Hoe meer kennis ons tussen ons almal het, hoe beter vir ons almal.
Op die spyskaart: Tuisgemaakte sop (twee soorte), tuisgebakte brood, warm nagereg. R75 per kop, betaalbaar by die deur.
Vir saambring: Jou eie skottelgoed en drinkgoed
Venue: NG Kerksaal, La Rochelle (hoek van Meerlust- & Hadleystraat, Bellair)
Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za
ALPHEN-ROETE: SATERDAG 30 JULIE 2022
Bespreek vanaf Maandag 18 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Alphen Hotel, Constantia. Stapleier: Estelle Smuts by 082 335 3776. Graad: 1A (maklik), 14 km. Groepgrootte: Onbeperk: Inpak. Dagsakkie met kos, water, windjekker, ens. Koste: Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Kan gaan koffie drink na die tyd.
Estelle sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf). Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors.
TYGERBERG-NATUURRESERVAAT: SATERDAG 6 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 25 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R20 toegangsgeld by hek (R7 vir kinders onder 13). Brandstofdonasie R20. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.
ARANGIESKOP, ROBERTSON: VRYDAGMIDDAG 12 – SONDAG 14 AUGUSTUS 2022
Volbespreek
Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R360 (2 x 170 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.
CAVE PEAK, KALKBAAI: SATERDAG 20 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 8 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 in Godfrey Road aan die einde van Boyes Drive. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 10km, 520m klimhoogte, grot-kruip ingesluit). Groepgrootte: 15. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, STERK FLITSLIG, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitgelde nie.
Werner sê: Ons stap vanaf Godfreyweg in St James aan die einde van Boyes Drive al teen die berg op voordat ons regs draai na waar ‘n klompie grotte vir ons wag om te besoek. Van hier af stap ons ‘n sirkelroete via die Amfiteater en die Spes Bona-woud voordat ons weer by ons motors uitkom.
SOSYSKLOOF IN JONKERSHOEK: SATERDAG 27 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 15 Augustus
Beginpunt- en tyd : Jonkershoek-reservaat se hek om 08:00: Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, sowat 8 km), Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 / Wildcard. Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Hierdie skilderagtige sirkelroete in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch klim deur ‘n kloof tot noord van Swartboskloof en loop deur kolle inheemse woud. Van daar loop dit oor ‘n kontoer na Sosyskloof en dan na die uitkykpunt, en dan weer terug tot by die motors. (Ons kan op pad terug iewers stop vir lekker koffie.)
BLACKBURN RAVINE, OP CHAPMANSPIEKPAD BY HOUTBAAI – SATERDAG 3 SEPTEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 22 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 by East Fort se parkeerarea, Chapmanspeak. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, 10 km, klimhoogte 635m). Groepgrootte: 16. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R80 (50 km x 2). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitgelde nie.
Werner sê: Blackburn Ravine se stap begin bokant die oostelike fort op die Chapmanspiekpad. Ons stap rustig met die paadjie voordat ons uitdraai om die ou mangaanmyn te besoek. Ons klim en klouter aan die linkerkant van die mynskag op tot ons weer die kontoer bereik. Hier neem ons ‘n welverdiende breek. Ons stap al met die kontoer langs tot ons aan die voet van Blackburn Ravine. Ons klim met die rafyn op tot ons bo kom by die uitkyk punt oor Houtbaai. Dit is ons middagetepunt. Van daar af pak ons die paadjie aan tot onder by die motors.
KAAPPUNT-NAWEEKSTAP – SATERDAG 10 TOT SONDAG 11 SEPTEMBER 2022
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: 08:00 by die ingangshek na die Kaappunt-natuurreservaat (ons voertuie word veilig by die hek en binne die natuurreservaat parkeer). Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (redelik, 33,8 km oor 2 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met water, son- en reënbeskerming, ens. Oornag in hutte met beddens en matrasse. Koste: Permit R360 per persoon + Bewaringsfooie van R180 per persoon (tensy jy Wildcard het). (Jy kan slegs met krediet- of debietkaart by die hek betaal – hulle hanteer nie kontant by die hek nie.) Bring ook jou SA ID-dokument saam (Suid-Afrikaners betaal minder bewaringsfooie as buitelanders, maar hulle wil jou ID sien). Brandstofdonasie R120 (2 x 80 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: Die roete staan ook as die Cape of Good Hope-Roete bekend. 10,5 km oor 5 uur. Dag 1: Ons stap kloksgewys reg rondom die reservaat. Ons stap oor of om die pieke aan die Valksbaaikant van die reservaat tot ons op Kanonberg kom. Dan sak ons af na ‘n deel langs die kus wat enige dag net so mooi soos die Otter is. Die laaste end is opdraand na ons oornaghutte (Restio en Protea) by die Goldfields-opvoedingsentrum naby die punt. Ons braai die aand. Warmwaterstorte en toilette. 10 uit 10 uitsig vanaf die hut – met Valsbaai aan die een kant en die Atlantiese Oseaan aan die ander kant. Dag 2: 23,3 km oor 9 uur. Ons begin vroeg en stap af met die koppie tot by die see (Atlantiese kus) en loop dan vir ‘n lang ruk al langs die see tot ons uiteindelike binneland toe draai in die rigting van die reservaat se hoofingang. Ons loop oor interessante koppies op hierdie gedeelte. ‘n Besondere mooi stap.
GIANT’S WASHBASIN, TRAILS END, GRABOUW: SATERDAG 17 – SONDAG 18 SEPTEMBER 2022
Volbespreek
Beginpunt- en tyd: 08:00 Saterdagoggend by Trail’s End buite Grabouw. Stapleiers: Edna en Kobus Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (2 dagstappe, gelei deur stapleier van Trail’s End, elkeen sowat 10 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweekstap wat uit 2 dagstappe bestaan. Sorg vir genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Ons deel kamers in Trail’s End Hotel buite Grabouw. Koste: Verblyf (sowat R400 pp, sluit Sondag ‘n gesondheidsontbyt in) en stappermit per persoon (2 x R25). Brandstofdonasie R120 (2 x 80 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Kobus en Edna sê: Ons basis is Trail’s End buite Grabouw. Die twee dagstappe wat ons doen begin en eindig by Trail’s End. As die tyd dit toelaat, kan ons ook Elgin Railway Market en Elgin-wynroete besoek. Daar is ‘n restaurant en swembad by Trail’s End. Bring asseblief jou eie slaapsak, enkel-paslaken, kussingslope en handdoeke saam. Ons onderhandel nog vir beter pryse. Indien jy dit verkies, kan jy aandete by Trail’s End bestel (vir jou eie rekening). Daar is ook ‘n opsie om Saterdagaand te braai – elkeen bring eie vleis, slaai, ens. (Eetgerei is beskikbaar teen R50 per persoon – sluit opwas van eetgerei in.) ‘n Heerlike wegbreeknaweek hier naby ons.
WORCESTER-NATUURTUIN – SATERDAG 24 SEPTEMBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 12 September
Beginpunt- en tyd: Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin om 08:30. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 1A. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Koste: Brandstofdonasie R170 (2 x 110 km). Toegang tot die natuurtuin: R35. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Koffie en iets te ete by padstal of eetplek is vir elkeen se eie rekening.
Werner sê: Hierdie gaan oor die “toer”-gedeelte in Sanlam-Staptoerklub. Ons besoek die Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin (Karoo Desert National Botanical Garden) wat aan die voet van die Hexrivier-berge buite Worcester lê (sowat 120 km vanaf Kaapstad). Daar is verskeie kort roetes soos die Shale Trail (1 km), Grysbokkie-roete (3,5 km) en die Heuweltjie-roete (as gevolg van baie miershope op die roete). Die tuin is ook bekend vir sy baie vetplante en helderkleurige vygies wat van laat Julie tot laat September blom. Ons stap ook ‘n roete wat met ‘n groot verskeidenheid plante uit waterarm streke van die Karoo soos Boesmanland, die spekboomwoud, die Groot Karoo en die Knersvlakte. Daar is ook baie ander besienswaardighede in en om Worcester: https://www.getaway.co.za/travel-ideas/8-things-to-do-in-worcester/
BOESMANSKLOOF: GREYTON-MCGREGOR: VRYDAGMIDDAG 30 TOT SONDAG 2 OKTOBER 2022
Volbespreek (kan moontlik nog 2 plekke bykry)
Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, redelike stapfiksheid vereis, stapafstand sowat 30 km oor 2 dae. Groepgrootte: 12. Inpak: Slaap Vrydagaand op Greyton in die Echo Lodge (bring eie slaapsak en handdoek). Dan volg 2-dagstap met ‘n oornag-rugsak. Ons slaap die Saterdagaand by Die Galg buite McGregor in hut met beddens (daar is beddegoed en handdoeke). Ons dra ons eie kos, braaivleis vir die aand, ontbyt, ens. saam. Dra genoeg water saam op die roete, en sorg vir sonbeskerming, reënklere, windjekker, en swemklere. Maak gereed vir enige soort weer. Braai albei aande. Koste: Sowat R450 per stapper (verblyf Vrydagaand en Saterdagaand, hout vir braai, stappermit). Plus R350 brandstofdonasie (2 x 160 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Amanda sê: As jy 4 km voor Caledon links afdraai berge se kant toe, kom jy by Greyton uit. Ons slaap Vrydagaand oor in die Echo Lodge (backpackers) in Greyton, en braai die aand. Ons motors bly veilig by die Echo Lodge terwyl ons stap. Ons begin Saterdagoggend vroeg stap aan die 15km op in Boesmanskloof (van Greyton na Die Galg buite McGregor). Ons stop op pad by die bekende Oaks-waterval vir lafenis en ook om moed te skep vir die laaste 5 km waarvan 2 km teen ‘n lekker steil opdraand is. Saterdagaand het ‘n heerlike hut, en ons kan lekker kuier rondom vuur. Sondagoggend val ons vroeg in die pad terug Greyton toe. Ons stop weer by die Oaks-waterval om te swem en ‘n laatontbyt te geniet. Ons behoort teen middagete terug te wees in Greyton. Albei oorslaapplekke is backpackers met “dormitory-style” kamers. ‘n Mooi naweekstap met ‘n goeie paar builte, maar niks is tegnies moeilik nie.
SKYLINE RIDGE TOT BY CONTANTIABERG, SILWERMYN-WES – SATERDAG 8 OKTOBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 26 September
Beginpunt- en tyd: 08:00, Silwermyn-Wes se parkeerterrein. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (12 km, 700m+ klimhoogte, veeleisend). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Permit: R50 of Wildcard.
Werner sê: Ons stap vanaf die parkeerarea via die “Skywalk” (met uitsigte oor Houtbaai en die Sentinel). Daarna klim ons met ‘n steil paadjie tot bo-op Constantiaberg tot by die maste en radarstasie. Daarna loop ons al met die olifant se “ruggraat” langs na die Olifantsooggrot en weer terug tot by die motors. Stewige paar opdraandes en afdraandes, maar die uitsigte is die moeite werd.
PAARLBERG – SATERDAG 15 OKTOBER 2022
Bespreek vanaf Maandag 3 Oktober
Beginpunt- en tyd: 07:30. Stapleier: Brenda Sideratos by 0721225216. Graad: 1B (sowat 18 km)
Groepgrootte: Onbeperk: Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R50 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2022
R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN JULIE VERJAAR
Diana Marais (1 Julie), Jackie Stegmann (1 Julie), Alana van Rensburg (4 Julie), Dirk du Toit (5 Julie), Timothy Burdett (8 Julie), Irma Jooste (10 Julie), Amanda Matthee (17 Julie), Anneli van Zyl (18 Julie), Pieter Olivier (20 Julie), Manie Wilkin (21 Julie), Charlotte Schreve (24 Julie), Charles Brink (25 Julie), Johan Benkenstein (26 Julie), Dale Adams (26 Julie), Paul Eek (28 Julie), Coreen Fourie (28 Julie), Charmaine Garcia (28 Julie), Pieter le Roux (29 Julie), Leon Thomas (29 Julie), Malinda Wilken (30 Julie), en Werner Dalziel (30 Julie). (Laat weet asb as ons per ongeluk iemand naam uitgelaat het.)
LAAT MENS DINK
“When life gives you mountains, put on your hiking boots and hike.” – Anonymous
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.)
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand
