~ 15 Augustus 2022: Volgende sarsie stappe – Cape Peak, Sosyskloof, ens. | Stapverslae

NUUS EN STAPSAKE

  • Stapsake: Ons het die afgelope naweek se Arangieskop geskuif na Vrydagaand 2 tot Sondag 4 Desember as gevolg van die reën en koue weer die naweek. Die Desember-datum was die eerste oop datum wat ons vir Arangieskop kon kry. Die besluit om ‘n stap te kanselleer of te herskeduleer word nooit ligtelik geneem nie. Ons kyk onder meer na die weer, die aanvoelbare temperatuur (windspoed en die windafkoelingseffek – “wind chill”), klimhoogte (die temperatuur daal met 1 graad Celsius vir elke 100 meter wat jy klim), die ure se blootstelling aan die koue, die moeilikheidsgraad van die stap en die afgesondheidheid van die stap, en neem dan ‘n besluit met veiligheid as eerste prioriteit. Besprekings vir Sosyskloof op Saterdag 27 Augustus moet asseblief op teen Donderdag 25 Augustus om 12:00 gedoen word sodat ons die permitte aanlyn kan koop (die inligting is hieronder). Ons gaan twee stappe omruil: Kirstenbosch is nou op Saterdag 15 Oktober en Paarlberg op Saterdag 29 Oktober. Bly warm in hierdie koue weer!
  • Winterfunksie: Dit was goed om almal weer in lewende lywe by ons winterfunksie te sien. Ons sê weer baie dankie aan Werner Krause wat sy kennis met ons gedeel het oor bergreddings en wat stappers moet doen in ‘n noodgeval. Dit gee mens insig in wat alles agter die skerms nodig is om ‘n bergredding moontlik te maak en hoe lewensreddend (en dikwels ook gevaarlik) die werk is wat die reddingspanne  doen. Sorg dat jy altyd Wilderness Search & Rescue (WSAR) se telefoonnommer – 021 937 0300 – op jou selfoon het. Baie dankie ook aan almal wat gehelp het om die aand moontlik te maak – van Ilse Marais en Abrie en Ina Marais tot by Steph du Toit.
  • Voorstelle vir 2023 se stapprogram: Wat wil jy op volgende jaar se stapprogram sien? Stuur jou wenslysie vir Niel Visser by nielvisser@mweb.co.za. Jou insette en idees is vir ons belangrik want ons wil graag ‘n goeie program vir volgende jaar saamstel. Een van ons langstappe sal uiteraand Antjie se Pad wees wat ons van 2022 uitgeskuif het na 2023. Antjie se Pad is ‘n baie mooi 5-dagstap tussen Kareedouw en Humansdorp (kyk solank by “Antjie se Pad” op Facebook).
  • Tulbagh Disa Trail: Hierdie 4-dagroete van 80 km word ten bate van Huis Disa op Tulbagh gehou. Die stap begin op 15 September 2022. Die koste per persoon is R6000. Luukse verblyf op Raptor Rise Farm en alles etes is ingesluit. Oor die roete: “The four-day route that the group of hikers traverses during the fundraising event consists of various types of terrain. There are sections of sandy roads, and hard fynbos trails. The route courses through the mountains with orchards of white and pink blossoms and past clear mountain streams. It includes hiking through wine farms and visiting historic venues, The hikers experience the magnificent natural surroundings as well as friendly Boland hospitality.” Kry meer inligting by Maggie Nagel by 082 577 7711 (WhatsApp). Sien ook www.facebook.com./Tulbagh-Disa-Trail-411874222713682/?
  • Five stages of grief while hiking: Denial – “This is going to be easy!”; Anger – “This was the stupidist idea ever”; Bargaining – “We could just turn around and grab a beer … I won’t tell if you won’t”; Depression – “How are we not there yet …”; Acceptance – “Okay, this wasn’t such a bad idea …”; Parking lot bliss – “Same time next week?!”
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Jonkershoek Circuit, Durbanville Meander, die twee Walvisroetes, Bergrivierdam (Frankrykrivierkloof), Duiwelspiek, Du Toitskop (Mont Rochelle), die Alphen-groengordelstap, en Tygerberg-natuurreservaat hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

CAVE PEAK, KALKBAAI: SATERDAG 20 AUGUSTUS 2022

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 in Godfrey Road aan die einde van Boyes Drive. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 10km, 520m klimhoogte, grot-kruip ingesluit). Groepgrootte: 15. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, STERK FLITSLIG, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitgelde nie.

Werner sê: Ons stap vanaf Godfreyweg in St James aan die einde van Boyes Drive al teen die berg op voordat ons regs draai na waar ‘n klompie grotte vir ons wag om te besoek. Van hier af stap ons ‘n sirkelroete via die Amfiteater en die Spes Bona-woud voordat ons weer by ons motors uitkom.

SOSYSKLOOF IN JONKERSHOEK: SATERDAG 27 AUGUSTUS 2022

Bespreek voor Donderdag 25 Augustus om 12:00 (sodat ons die permitte aanlyn kan koop)

Beginpunt- en tyd : Jonkershoek-reservaat se hek om 08:00: Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, sowat 8 km), Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 / Wildcard. Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie skilderagtige sirkelroete in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch klim deur ‘n kloof tot noord van Swartboskloof en loop deur kolle inheemse woud. Van daar loop dit oor ‘n kontoer na Sosyskloof en dan na die uitkykpunt, en dan weer terug tot by die motors. (Ons kan op pad terug iewers stop vir lekker koffie.)

BLACKBURN RAVINE, OP CHAPMANSPIEKPAD BY HOUTBAAI – SATERDAG 3 SEPTEMBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 22 Augustus

Beginpunt- en tyd: 08:00 by East Fort se parkeerarea, Chapmanspeak. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, 10 km, klimhoogte 635m). Groepgrootte: 16. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: Brandstofdonasie R80 (50 km x 2). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitgelde nie.

Werner sê: Blackburn Ravine se stap begin bokant die oostelike fort op die Chapmanspiekpad. Ons stap rustig met die paadjie voordat ons uitdraai om die ou mangaanmyn te besoek. Ons klim en klouter aan die linkerkant van die mynskag op tot ons weer die kontoer bereik. Hier neem ons ‘n welverdiende breek. Ons stap al met die kontoer langs tot ons aan die voet van Blackburn Ravine. Ons klim met die rafyn op tot ons bo kom by die uitkyk punt oor Houtbaai. Dit is ons middagetepunt. Van daar af pak ons die paadjie aan tot onder by die motors. 

KAAPPUNT-NAWEEKSTAP – SATERDAG 10 TOT SONDAG 11 SEPTEMBER 2022

Nog 1 plek oop

Beginpunt- en tyd: 08:00 by die ingangshek na die Kaappunt-natuurreservaat (ons voertuie word veilig by die hek en binne die natuurreservaat parkeer). Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B (redelik, 33,8 km oor 2 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met water, son- en reënbeskerming, ens. Oornag in hutte met beddens en matrasse. Koste: Permit R360 per persoon + Bewaringsfooie van R180 per persoon (tensy jy Wildcard het). (Jy kan slegs met krediet- of debietkaart by die hek betaal – hulle hanteer nie kontant by die hek nie.) Bring ook jou SA ID-dokument saam (Suid-Afrikaners betaal minder bewaringsfooie as buitelanders, maar hulle wil jou ID sien). Brandstofdonasie R120 (2 x 80 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê: Die roete staan ook as die Cape of Good Hope-Roete bekend. 10,5 km oor 5 uur. Dag 1: Ons stap kloksgewys reg rondom die reservaat. Ons stap oor of om die pieke aan die Valksbaaikant van die reservaat tot ons op Kanonberg kom. Dan sak ons af na ‘n deel langs die kus wat enige dag net so mooi soos die Otter is. Die laaste end is opdraand na ons oornaghutte (Restio en Protea) by die Goldfields-opvoedingsentrum naby die punt. Ons braai die aand. Warmwaterstorte en toilette. 10 uit 10 uitsig vanaf die hut – met Valsbaai aan die een kant en die Atlantiese Oseaan aan die ander kant. Dag 2: 23,3 km oor 9 uur. Ons begin vroeg en stap af met die koppie tot by die see (Atlantiese kus) en loop dan vir ‘n lang ruk al langs die see tot ons uiteindelike binneland toe draai in die rigting van die reservaat se hoofingang. Ons loop oor interessante koppies op hierdie gedeelte. ‘n Besondere mooi stap.

GIANT’S WASHBASIN, TRAILS END, GRABOUW: SATERDAG 17 – SONDAG 18 SEPTEMBER 2022

Volbespreek

Beginpunt- en tyd: 08:00 Saterdagoggend by Trail’s End buite Grabouw. Stapleiers: Edna en Kobus Terblanche by 082 379 3171. Graad: 2B (2 dagstappe, gelei deur stapleier van Trail’s End, elkeen sowat 10 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir naweekstap wat uit 2 dagstappe bestaan. Sorg vir genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Ons deel kamers in  Trail’s End Hotel buite Grabouw. Koste: Verblyf (sowat R400 pp, sluit Sondag ‘n gesondheidsontbyt in) en stappermit per persoon (2 x R25). Brandstofdonasie R120 (2 x 80 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons basis is Trail’s End buite Grabouw. Die twee dagstappe wat ons doen begin en eindig by Trail’s End. As die tyd dit toelaat, kan ons ook Elgin Railway Market en Elgin-wynroete besoek. Daar is ‘n restaurant en swembad by Trail’s End. Bring asseblief jou eie slaapsak, enkel-paslaken, kussingslope en handdoeke saam. Ons onderhandel nog vir beter pryse. Indien jy dit verkies, kan jy aandete by Trail’s End bestel (vir jou eie rekening). Daar is ook ‘n opsie om Saterdagaand te braai – elkeen bring eie vleis, slaai, ens. (Eetgerei is beskikbaar teen R50 per persoon – sluit opwas van eetgerei in.) ‘n Heerlike wegbreeknaweek hier naby ons.

WORCESTER-NATUURTUIN – SATERDAG 24 SEPTEMBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 12 September

Beginpunt- en tyd: Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin om 08:30. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 1A. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Soos vir dagstap met genoeg water, son- en reënbeskerming, ens. Koste: Brandstofdonasie R170 (2 x 110 km). Toegang tot die natuurtuin: R35. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Koffie en iets te ete by padstal of eetplek is vir elkeen se eie rekening.

Werner sê: Hierdie gaan oor die “toer”-gedeelte in Sanlam-Staptoerklub. Ons besoek die Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin (Karoo Desert National Botanical Garden) wat aan die voet van die Hexrivier-berge buite Worcester lê (sowat 120 km vanaf Kaapstad). Daar is verskeie kort roetes soos die Shale Trail (1 km), Grysbokkie-roete (3,5 km) en die Heuweltjie-roete (as gevolg van baie miershope op die roete). Die tuin is ook bekend vir sy baie vetplante en helderkleurige vygies wat van laat Julie tot laat September blom. Ons stap ook ‘n roete wat met ‘n groot verskeidenheid plante uit waterarm streke van die Karoo soos Boesmanland, die spekboomwoud, die Groot Karoo en die Knersvlakte. Daar is ook baie ander besienswaardighede in en om Worcester: https://www.getaway.co.za/travel-ideas/8-things-to-do-in-worcester/

BOESMANSKLOOF: GREYTON-MCGREGOR: VRYDAGMIDDAG 30 TOT SONDAG 2 OKTOBER 2022

Volbespreek

Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, redelike stapfiksheid vereis, stapafstand sowat 30 km oor 2 dae. Groepgrootte: 12. Inpak: Slaap Vrydagaand op Greyton in die Echo Lodge (bring eie slaapsak en handdoek). Dan volg 2-dagstap met ‘n oornag-rugsak. Ons slaap die Saterdagaand by Die Galg buite McGregor in hut met beddens (daar is beddegoed en handdoeke). Ons dra ons eie kos, braaivleis vir die aand, ontbyt, ens. saam. Dra genoeg water saam op die roete, en sorg vir sonbeskerming, reënklere, windjekker, en swemklere. Maak gereed vir enige soort weer. Braai albei aande. Koste: Sowat R450 per stapper (verblyf Vrydagaand en Saterdagaand, hout vir braai, stappermit). Plus R350 brandstofdonasie (2 x 160 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Amanda sê:  As jy 4 km voor Caledon links afdraai berge se kant toe, kom jy by Greyton uit. Ons slaap Vrydagaand oor in die Echo Lodge (backpackers) in Greyton, en braai die aand. Ons motors bly veilig by die Echo Lodge terwyl ons stap. Ons begin Saterdagoggend vroeg stap aan die 15km op in Boesmanskloof (van Greyton na Die Galg buite McGregor). Ons stop op pad by die bekende Oaks-waterval vir lafenis en ook om moed te skep vir die laaste 5 km waarvan 2 km teen ‘n lekker steil opdraand is. Saterdagaand het ‘n heerlike hut, en ons kan lekker kuier rondom vuur. Sondagoggend val ons vroeg in die pad terug Greyton toe. Ons stop weer by die Oaks-waterval om te swem en ‘n laatontbyt te geniet. Ons behoort teen middagete terug te wees in Greyton. Albei oorslaapplekke is backpackers met “dormitory-style” kamers. ‘n Mooi naweekstap met ‘n goeie paar builte, maar niks is tegnies moeilik nie.

SKYLINE RIDGE TOT BY CONTANTIABERG, SILWERMYN-WES – SATERDAG 8 OKTOBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 26 September

Beginpunt- en tyd: 08:00, Silwermyn-Wes se parkeerterrein. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (12 km, 700m+ klimhoogte, veeleisend). Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Permit: R50 of Wildcard.

Werner sê: Ons stap vanaf die parkeerarea via die “Skywalk” (met uitsigte oor Houtbaai en die Sentinel). Daarna klim ons met ‘n steil paadjie tot bo-op Constantiaberg tot by die maste en radarstasie. Daarna loop ons al met die olifant se “ruggraat” langs na die Olifantsooggrot en weer terug tot by die motors. Stewige paar opdraandes en afdraandes, maar die uitsigte is die moeite werd.

KIRSTENBOSCH-DAGSTAP – SATERDAG 15 OKTOBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 3 Oktober

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Kirstenbosch. Stapleier: Amanda Matthee by 0825703895. Graad

1A. Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.

Koste: Brandstofdonasie R80. Toegangsgeld by Kirstenbosch R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Amanda sê: Kirstenbosch – met meer as 8 800 verskillende plantsoorte en 96 tuiniers – is Afrika se mooiste tuin. Kirstenbosch vorm deel van die Kaapse Blommeryk wat in 2004 tot ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied verklaar is. Ons stap saam met ‘n professionele gids een van die roetes in die tuin en besoek ook die Geuretuin en ander uitstallings. Kirstenbosch is die eerste botaniese tuin in die wêreld wat hom op ‘n land se inheemse flora toespits. Ons stap ook die Boomslang-roete. Hierdie boomtop-paadjie van 130 meter is by die 2016 Design Indaba in Kaapstad as die Mooiste Voorwerp in Suid-Afrika aangewys. Die loopweg, wat van staal en padoekhout uit Afrika gemaak is, is deur ‘n slang se vorm geïnspireer. Die konstruksie is drie verdiepings hoog op sy hoogste punt. Ons kan agterna koffie drink by die Kirstenbosch Tea Room. Sien http://www.sanbi.org/gardens/kirstenbosch.

PAARLBERG – SATERDAG 29 OKTOBER 2022

Bespreek vanaf Maandag 17 Oktober

Beginpunt- en tyd: 07:30. Stapleier: Brenda Sideratos by 0721225216. Graad: 1B (sowat 18 km)

Groepgrootte: Onbeperk: Inpak: Dagsakkie met water, sonbeskerming, kos, windjekker. Koste: R50 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Brenda sê: Ons stap ‘n lekker lang roete die Paarlberg-natuurreservaat wat ons verby al die hoogtepunte en uitkykpunte neem. Paarlberg staan 654 m bo seespieël en is bekend vir die drie reuse granietrotse wat omtrent 50 miljoen jaar oud is: Paarl-, Bretagne- en Gordonrots. Die kanon wat die aankoms van die handelsvaarders in die Kaap aangekondig het, is nog op Paarlrots. Die klim teen Bretagnerots is steil, maar daar is ‘n ketting waaraan jy kan vashou. Op ‘n helder dag sien jy Valsbaai en Tafelbaai, met Tafelberg en Leeukop in die verte. Paarlberg is in 1963 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

ARANGIESKOP, ROBERTSON: VRYDAGMIDDAG 2 – SONDAG 4 DESEMBER 2022

Nuwe tydgleuf van hierdie stap

Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R360 (2 x 170 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.

STAPVERSLAE

Jonkershoek Circuit, Stellenbosch, 21 Mei 2022

Agt van ons kom lekker vroeg in die donker by die hek van die Jonkershoek-reservaat bymekaar. Dis om te verseker ons is een van die motors wat kan inry. Ons handel die admin en die permitte af wat ek vroeër deur MTO se webtuiste gekoop het en ry na die begin van die roete by Witbrug. Ons stap met die jeeptrack langs terug tot by die begin van Swartboskloof, waar ons dan opgaan. Dit is ‘n lekker klim, maar die uitsigte en die watervalle langs die pad maak op daarvoor.  o gekom kies ons eers pad na die uitkykpunt wat afkyk op die Helderbergkom. Dit is ‘n lieflike dag en ons kan tot in die verte sien. Van daar stap ons aan oor die plato en stop plek plek vir foto’s. By die bokant van Kurktrekkernek stop ons weer vir ‘n breek. Ons kies weer pad vir Bergriviernek. Die paadjie tussen Kurktrekkernek en Bergriviernek is bietjie rowwer as gewoonlik, veral die op net na Kurktrekkernek en die af net voor Bergriviernek. Ons geniet middagete op Bergriviernek. Van hier kies ons koers terug na die motor by Witbrug. Dis af, kontoer en weer af.  ‘n Lekker lang uitdagende stap met die mooiste uitsigte. Baie dankie aan Werner Dalziel vir al die reëlings en die stapleiding. Klim 1262m.

Durbanville Meander, 11 Junie 2022

Altesaam 21 stappers vergader vroegoggend by die Doordekraaldam. Ons stap langs Doordekraaldam in die rigting van Majic Forest. By Majic Forest is alles pragtig groen en rustig. Ons neem die paadjie deur die bos tot aan die einde van die park en draai dan regs met ‘n steil grond pad wat ons verby Van Riebeeckshof-woonbuurt neem. Ons volg die steil voetpaadjies tot aan die bopunt van die koppie onder die bome. Hier skrop ons elkeen ‘n sitplek en geniet ons kospakkies. Die pad terug motors toe bied pragtige uitsigte oor die Bolandse berge en is boonop heelpad afdraand. Om 11h30 is ons almal veilig terug by die motors, groet en verdaag. Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir die stapreëlings en die stapleiding. Goeie stap wat ons gerus kan herhaal. Klimhoogte: 150 m.

Walvisroete (Groep 1), 22-27 Junie 2022

Terwyl die Visarend roep in die agtergrond sit ons op die vooraand van die Walvisroete by ons eerste oornaghut, Potberg, rondom ‘n vuur en gesels oor ons avontuur wat môreoggend begin. Almal was betyds vir ons “briefing” deur CapeNature. Dag1 stap ons vanaf Potberg na Cupidoskraal. Ons wil vroeg begin om die rëen te probeer vryspring maar na 10 minute begin die rëen val. Ons stap oor die heuwels in ysrëen wat ons wange klap. Dit het die hele dag gerëen en was almal bly om ontslae te raak van sopnat klere en skoene en vir die warm storte by die 2de hut. Dag 2 begin ons met nat skoene te stap van Cupidoskraal na Noetsie. Dit is weer eens op en af en vanaf die laaste krans kyk ons af op Noetsiehut. Ons klim vinnig af en oor die los sand, waarna die boulders ons bene weer toets voordat ons wydsbeen op die lekker stoep in die son kan gaan sit. Die aand maak ons lekker vuur in die onderste braai-area en word baie stories vertel. Dag 3 stap ons vanaf Noetsie na Hamerkop toe. Ons pak met klippe ‘n boodskap uit vir Werner se groep wat die volgende dag daar sou arriveer. DIt is die eerste dag wat ons kilometers minder is en ons geniet die son en die see. Dag 3 is egter meer uitdagend omdat dit die hele tyd ‘n wipplankroete is. Op en af. Ons bereik die nuwe staaltrap waarmee ons kon afstap na Stilgat toe waar ons ‘n lekker koffiebreek neem en verken toe ook die grotte voordat ons verder stap. Ons klouter oor die rotse by die Blow Holes en is ons asem weggeslaan deur hierdie natuurwonder. Ons sien met groot opwinding ons eerste drie walvisse wat lui in die water verby gly en net so nou en dan blaas. Ons stap verby die Window Rocks en weet ons hut is nou naby. Dag 4 stap ons vanaf Hamerkop seelangs tot by Vaalkrans. Ons sien weer ‘n walvis en ook dolfyne. Ons loop verby Lekkerwater-gastehuis wat net bedoel is vir mense met ‘n goeie bankbalans. By Vaalkrans sit ons hut bo-op ‘n grot waar die water onderdeur spoel en kan mens blykbaar die trillings voel. Dalk was ons te moeg. Dag 5 stap ons van Vaalkrans na Koppie Alleen. Die lang houtpaadjie tot bo waar die bussie vir ons wag aan die einde van hierdie fantastiese stap, word stadig geklim om die laaste bietjie lekkerte te geniet. Dit voel vir my asof Chariots of Fire nou moet begin speel soos ons opstap. Die Walvis-roete was nie sonder die nodige mediese toestande nie. Van diaree tot hande wat opswel van insekbyte, naarheid en braking, seer knieë en neus wat net nie wou ophou bloei nie, asook sommiges wat griepsimptome begin ontwikkel het, maar die span het soos een saamgestaan en almal het mekaar gehelp tot by die volgende hut en verder. Die kos is elke aand ingedeel tussen die stappers wat moes bykos en nagereg voorsien, hulle moes dit voorberei en na die ete ook die kombuis opruim. Koos en Lieneke het selfs vir ons ‘n tafel gedek met groot klip, groenigheid en skulpe met blou servette as versiering. Dankie aan almal wat so mooi saamgewerk het en mekaar ondersteun het. Dit het die lei van groep vir seker baie vergemaklik. Wat ‘n wonderlike voorreg om met so ‘n lekker groep te kon stap. Baie dankie aan Niel en Sharon vir die rëelings en leiding. ‘n Ekstra dankie aan Niel vir die reël van die permitte. Klimhoogte: 1830m.

Walvisroete (Groep 2), 23-28 Junie 2022

Elf van ons kom by die Potberg-hut bymekaar by die Potberg Natuurreservaat, hoewel ‘n paar van ons op pad bietjie verdwaal het.  Ons gaan deur die inligtingsessie en mik hut toe. Ons begin om ons kratte te pak en daar is baie gewonder of ons alles gaan inkry. Almal kom darem reg. Dit reën ook verskriklik en ons wonder hoe gaan dit met die groepie wat die dag voor ons begin het. Dag 1: Ons begin lekker vroeg die oggend te stap. Ons klim rustig op totdat ons uiteindelik Potbergpiek bereik.  Ons stap verder en die Kaapse aasvoël vlieg laag oor ons koppe. Die uitsigte oor die Breederivier is ook asemrowend. Ons kom uiteindelik by Cupido’skraal se huisie aan waar ons lekker rustig vertoef.  Dag 2: Ons stap weer met ‘n op tot bo-op die berg voordat ons met die plato langs stap. Ons stap rustig oor die vlaktes en deur die proteas voordat ons uiteindelik by die kus aankom en Noetsie se huisie gewaar. Ons verkeer weer lekker rustig die aand is gesellig om die vuur. Dag 3: Ons stap van Noetsie se huisie al langs die kus terug in die rigting van De Hoop. Ons sien walvisse en dolfyne baljaar in die branders. By Stilgat geniet ons ons ‘n lekker breek en verken die grotte in die area.  ‘n Paar van ons sien kans om in die yskoue water te swem. Ons kom by Hamerkophut aan en kuier weer lekker rustig die aand. Dag 4: Van Hamerkophut stap ons seelangs op die strand. Ons stap verby Lekkerwaterlodge, waar ons nie vir hulle mag kyk nie. Na die strand stap ons aan met die paadjie en dis toe waar ons ‘n lekker groot pofadder raakloop. Ons sien nog walvisse en dolfyne ook.  Uiteindelik kom ons by Vaalkrans aan. Dag 4 is omtrent ‘n km langer as die aangeduide km. Ons verkeer weer gesellig. Dag 5:  Ons staan lekker vroeg op en pak die roete aan. Ons stap lekker rustig met die paadjie langs. By een van die strande stop ons en die wat waaghalsig genoeg is swem so bietjie in die see.  Van daar is dit die laaste stap tot by die Koppiealeen se parkeerarea. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 1830m.

Bergrivierdam – Frankrykrivierkloof (Snake Alley): 9 Julie 2022

Agt van ons kom lekker vroeg die oggend by die hek van die Begrivierdam bymekaar. Ons handel die admin af en betaal die permitte via Snapscan. Ons val in die pad en stap met die jeeptrack langs vir omtrent ‘n kilometer voordat ons links uit draai om die boonste kontoer pad te vind. Ons stap met die boonste kontoer langs waar ons ‘n hele paar watervalle teekom. By die een stop ons ook sommer vir ietsie te ete. Ons stap terg tot by die jeeptrack en aan tot by die wier/brug waar ons die Bergrivier oorsteek. Ons stap aan en in die kloof van die Frankrykrivier in. Ons moet ‘n tweede maal klim tot op ‘n kontoer, maar dit gaan voor die wind. Ons volg dan die kontoer en stap in die drie vertakkings van die Frankrykrivier in. Weer eens sien ons ‘n paar watervalle en die rivierstrome loop lekker sterk.  Ons sluit by die sementpad aan en steek weer die Bergrivier by die brug oor voordat ons die jeeptrack volg al die pad terug tot by die motors. ‘n Lekker vol dag se stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die reëlings – dit was ‘n besondere mooi stap wat ons gerus kan herhaal. Total klim 539m.

Duiwelspiek, 16 Julie 2022

Altesaam 12 van ons het die pragtige Duiwelspiekroete gestap. Ons handel die admin af en begin net voor 08:00 te stap. Die San-woord vir wind is ‘duive’ en Duiwelspiek het aanvanklik as ‘Windberg’ bekend gestaan, voor die klank van die San-woord hiervoor tot ‘Duivepieken’ Duiwelspiek’ vervorm het. Die volksverhaal oor Jan van Hunks en die duiwel se gerokery is dus nie verantwoordelik vir Duiwelspiek se naam nie, maar dat hul gerokery gereeld as ‘n tafeldoek oor Tafelberg gesien word is ‘n feit! Ons het ons motors sowat 1 km anderkant die Platteklipparkeerterrein in Tafelbergweg parkeer. Die paadjie sig-sag teen die berg uit tot op die saaltjie en dan daarvandaan ‘n verdere baie steil 300 m na die bakens van waar ‘n mens ‘n ongelooflike mooi 360 grade uitsig in allerigtings het. Die hoogste baken is 1001m hoog wat net 85m laer as Tafelberg se 1086m is. Amanda deel heerlike soetgoedjies uit ter viering van haar verjaarsdag. Teen 12:30 was ons terug by die motors. Baie dankie aan Werner Booyens en Brenda Sideratos vir al die reëlings en die stapleiding. Dit was ‘n goeie en mooi stap. Klimhoogte: 569m.

Du Toitskop, Mont Rochelle, 23 Julie 2022

Elf stappers was om 08:00 by Mont Rochelle. Volgens YR sou die laaste reën dan net verby wees. Ons het in digte mis begin stap. Ongelukkig het die eerste druppels geval net na Breakfast Rock. Ek het besluit om eers die stap tot by die uitkykpunt en dan daar links te draai teen Du Toitskop op. Ongelukkig het daar ‘n bui reën uitgesak. Ons het tot by die uitkykpunt gestap en was toe reeds sopnat. Ons het ‘n koffiebreek gevat van 30 minute, waarna almal yskoud was en ons het besluit om terug te draai. Ons het geen uitsigte gehad nie. Ons het wel op pad terug besluit om die Vista Trail te doen, wat ons toe die mooiste uitsigte oor Franschhoek gegee het. Hier het ons weer ‘n lang breek gevat voor ons teruggestap het na die motors toe. Fantastiese gees onder die stappers, ‘n paar van ons het toe gery vir ‘n glasie wyn by ‘n plaaslike kroeg. Baie dankie aan Delfie Issel vir die stapreëlings en verantwoordlike stapleiding op een van daardie stapdae wat mens by die weer moet aanpas. Klimhoogte: 300 m.

Alphen-groengordelstap, 30 Julie 2022

Altesaam 18 dapper stappers ontmoet om 07:30 by die parkeerarea net voor die Alphen Hotel in Constantia. Almal is lekker warm aangetrek en moes vinnig reënbaadjies en rugsak-reënjassies aantrek toe ‘n reënbui ons so in die bymekaarkom oorval. Om 08:00 begin ons stap. Die reënbui was kortstondig en die skoon lug en pragtige groen omgewing sorg dat almal gou in ‘n vrolike luim is. Gewoonlik stap ons die Alphen roete anti-kloksgewys. Hierdie keer het ons dit kloksgewys gestap. Ons stap dus links op in die Alphen groengordel tot by Southern Cross Drive. Vanuit Southerncross Drive gaan ons Die Hel binne en kom weer uit by die ingang in Constantia Main Road. Die Hel is ‘n pragtige boomryke kom waar daar jare gelede vrugtebome aangeplant was om skeepvaarders van vars voorraad te voorsien. Op die 7 km merk geniet ons ‘n beker warm koffie. Ons stap dan vanuit Die Hel se ingang ‘n hele ent op met die pad tot by La Parada restaurant waar personeel welkome badkamergeriewe aan ons beskikbaar stel. Na ‘n kort ruskansie stap ons op die kontoerpad net onder Cecilia-woud. Ons kruis Rhodes Drive en stap ‘n entjie af met Hohenhort Laan tot by die Klaasenbosch voetpad. In hierdie pragtige omgewing met boomhoogte varings en waterstrome vind ons ‘n lekker sonnige kol en geniet ‘n ligte middagete. Daar word vrolik gesels en stomende drankies verseker ‘n lekker gesellige atmosfeer. Na ete stap ons verder en sluit weer by die Alphen-roete se wandelpad aan. Om 13:00 is ons by die motors, dankbaar dat ons ‘n heelike oggend in ‘n pragtige omgewing, sonder reën, kon geniet. Vir sommige is dit tyd om huiswaarts te keer terwyl van die ander lekker koffie en ‘n soetigheid geniet by die Alphen Hotel geniet. Dankie aan al die stappers wat hierdie ‘n heelike avontuur en sielsverkwikkende oggend gemaak het. Baie dankie aan Estelle Smuts vir die stapreëlings en stapleiding – dit bly ‘n mooi stap. Klimhoogte: 200 m.

Tygerberg-natuurreservaat, 6 Augustus 2022

Altesaam 17 mense het die Saterdagoggend 08:00 by die Tygerberg-natuurreservaat se hek bymekaar gekom vir hierdie lekker dagstap met sy mooi uitsigte oor die Boland se berge aan die een kant en Tafelberg en die see aan die ander kant. Ons het eers by twee van die damme verby gestap en toe ‘n stukkie geklim en ‘n koppie afgestap tot by ‘n piekniekplek waar ons teetyd gehou het. Daarna stap ons oor die koppie tot aan die Kaapse kant van reservaat en dan vir die laaste lang bult tot bo-op die koppie. Ons hou die lekkerste vir laaste want ons eindig weer by piekniektafeltjies, eet ons laaste kos en hou ‘n wen-‘n-pakkie-Winegums-vasvra (Vraag: Hoeveel soorte skoenlappers is daar in die reservaat? Antwoord: 40). Van daar af is dit ‘n kort entjie tot by die hek – al die pad afdraand. Maar ons maak eers ‘n draai by die Christo Pienaar-sentrum om na ‘n uitstalling van diere en voëls te kyk wat in die reservaat voorkom (en wonder hoekom hier nie ‘n “coffee shoppie” is nie). Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 396 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2022

R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN AUGUSTUS VERJAAR

Waldemar Smuts (1 Aug), Magda Kritzinger (5 Aug), Pieter Wentzel (5 Aug), Altina Lottring (6 Aug), Loisnita Eek (7 Aug), Gerrit van Zyl (10 Aug), Willemien le Roux (11 Aug), Abrie Marais (12 Aug), Santie Kies (15 Aug), Joos Bester (18 Aug), Christina Paterson (19 Aug), Nick Sideratos (21 Aug), Werner Booyens (28 Aug) en Deon Arp (28 Aug). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

LAAT MENS DINK

“Pilgrimage is a powerful metaphor for any journey with the purpose of finding something that matters deeply to the traveller.” – Phil Cousineasu

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.)

Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand