~ 3 Desember 2021 – Sanlam-Staptoerklub: Hier is ons jaarprogram vir 2022

Dagsê

NUUS EN STAPSAKE

  • Die eerste wenners van die Bergbok Wisseltrofee! Ons stapklub het in Januarie 1998 met ‘n lojaliteitsprogram begin waar elke kilometer wat jy as ingeskrewe lid saam met die klub stap vir ‘n wapentjie tel (beginnende by 500 km, dan 1000 km, 2000 km, 3000 km, ens.). MAAR – alle kilometers is nie gelyk nie. Dit voel altyd of stappe soos Chapmanspiek en Platteklipkloof hoër is as wat hulle lank is. Een van ons bestuurslede – Niel Visser – stel toe voor dat ons ook die klimhoogte van elke stap begin aanteken. Dit is waarom ons vanjaar die eerste wenners van die Bergbok Wisseltrofee aankondig: Werner Booyens en Brenda Sideratos met ‘n totale klimhoogte van 15 670 meter elk vir die jaar (amper twee keer Mount Everest; die Amatola se klimhoogte was 4900 m). Werner en Brenda het elkeen 13 stappe gedoen met ‘n totale afstand van 335 km per persoon). Die stappers op die Top 10 Lys vir Klimhoogte: Werner Booyens, Brenda Sideratos, Delfie Issel, Amanda Matthee, Elza Geldenhuys, Elisma Maree, Werner Dalziel, Sharon Visser, Abrie Marais, en Niel Visser. Die stappers op die Top 10 Lys vir Kilometers Gestap: Delfie Issel, Brenda Sideratos, Werner Booyens, Amanda Matthee, Elza Geldenhuys, Sharon Visser, Elisma Maree, Miranda Myburgh, Niel Visser, en Werner Dalziel. Baie geluk aan almal!
  • Ons jaarprogram vir 2022: Ons jaarprogram vir volgende jaar is hierby aangeheg. Dit bestaan uit 37 dagstappe, 8 naweekstappe, 4 langstappe en 3 klubfunksies. Die naweekstappe is Franskraal na Gansbaai, Kaappunt-naweekstap, Sederberge (Crystal Pools), Grootvadersbos (Heidelberg), Greyton-McGregor, Giant’s Basin, Trails End (Grabouw), Arangieskop (Robertson), en Mosselbaai-naweek. Die langstappe is Antjie-se-Pad (5-dagstap tussen Kareedouw en Humansdorp; permitkost is R1670 pp; volg gerus vir Antjie se Pad op Facebook); 2 permitte vir die Walvisroete by De Hoop, Bredasdorp (bederf jouself met hierdie kombinasie van ‘n seestap en vakansie. Die hutte is luuks wat stapstandaarde betref, met warm storte elke aand, en ‘n hut met ‘n fantastiese see-uitsig vir 4 van die 5 aande. Die ideale stap vir mense wat hul eerste 5-dag stap wil doen – nie tegnies moeilik nie; permitkoste R2000 pp), en die Otter-voetslaanpad (5-dagstap by Nature’s Valley; permitkoste R1500 pp). Ons eindig die jaar af met die gebruiklike wynkeldertoer en die week daarna met ‘n Rooibustoer. Die inskryfvorm vir lidmaatskap is hierby aangeheg. Die lidmaatskap is R100 pp vir die jaar.
  • Die einde van die jaar is op ons: Dit was ‘n groot jaar vir ons – die jaar van die Amatola-roete (“the toughest 6-day hutted trail in South Africa”). Ons het verlede jaar ervaar hoe dit voel om nie ‘n langstap (met ‘n ‘road trip’ daarby) te hê nie as gevolg van Covid. Maar hierdie jaar die roetes soos die Swellendam en die Amatola weer vir ons iets gegee om voor te oefen – iets om na uit te sien. Baie dankie aan almal wat verlede Saterdag ons jaareindfunksie in Somerset-Wes bygewoon het. Dit was lekker om weer ‘n regte byeenkoms te hê. ‘n Groot dankie aan almal wat gehelp het om die funksie moontlik te maak – Ilse Marais vir die reëlings en die spyseniering (heerlike hoenderpastei, slaaie en kaaskoek), en die subkomitee wat die stapprogram saamgestel het (Niel Visser, Brenda Sideratos, Werner Booyens, Werner Dalziel en Amanda Matthee), en almal wat op een of ander manier gehelp het (inteken en betaal by die deur, opruim, skottelgoed was, admin, ens.). Ons sien dit raak en ons waardeer dit. Dankie vir jou ondersteuning hierdie jaar. Ons wens vir jou ‘n veilige en sinvolle feestyd toe saam met jou omgee-mense. Volgende jaar maak ons ‘n nuwe begin.
  • Covid-19 reëls: Covid-19 reëls geld op al ons stappe – afstandhouding, maskers en hande ontsmet; moenie kom stap as jy siek voel of in kontak was met mense wat Covid-19 het nie. Hierdie bly ‘n ernstige saak en dit gaan samewerking en verantwoordelikheid van almal van ons vra om ons stappe veilig te hou.
  • Stapverslae: Sien stapverslae vir Blackburn Ravine (Tafelberg), Groot Winterhoek, Tygerberg-natuurreservaat, Slanghoeknaweek, Bel Omre (Tafelberg), Zevenwacht, Betteysbaai, en Paulsberg hieronder.

LAASTE STAP VAN DIE JAAR

WYNKELDERSTAP – ANTHONIJ RUPERT WYNE, FRANSCHHOEK: SATERDAG 4 DESEMBER 2021

Volbespreek

Stapleier en besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Beginpunt: Terra del Capo proelokaal, Anthonij Rupert Wynlandgoed, Franschhoek, om  09:00. Graad: 1A (redelik). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n dagstap met water, sonbeskerming, kos, ens. Koste: R150 per persoon (koffie by die beginpunt, ‘n bottel water, die stappermit en die wynproe). Brandstofdonasie R60. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: Hierdie toer is baie gewild en dit sal ons 14de wyntoer wees. Vanjaar besoek ons die Anthonij Rupert Wynlandgoed buite Franschhoek. Ons kom 09:00 by die Terra del Capo-proelokaal op die plaas bymekaar en begin met koffie en ‘n verwelkomingspraatjie. Daarna stap ons oor die koppie verby die Kwaaibynes-dam en deur die wingerde tot by die Terra del Capo-wynkelder. Die wynproe by die kelder begin om 10:45 en sluit die proe van 7 Cape of Good Hope-wyne in. Om 11:45 laai die trem ons op om ons terug te neem na die proelokaal. Daarna kan ons middagete by die Antipasti Bar geniet (vir eie rekening – die meeste van die antipasti-bordjies is rondom R85; ons moet vooraf laat weet hoeveel vir middagete wil bespreek). Die stap-en-wynproe-kombinasie is spesiaal vir ons gereël omdat hulle nie gewoonlik stappers op die plaas toelaat nie.

STAPVERSLAE

Blackburn Ravine: Saterdag 2 Oktober

Vier van ons kom die Saterdagoggend by die hek van die Suikerbossie-gedeelte van Tafelberg bymekaar in die hoop om Llandudno Ravine se roete te stap tot by Grootkop. Dit stortreën egter lekker en ons besluit om eerder ‘n koppie koffie te gaan drink en ‘n plan te maak. Ons besluit toe om Blackburn Ravine te stap wat bokant die oostelike fort op die Chapmanspiekpad is. Ons stap rustig met die paadjie voordat ons uitdraai om die ou mangaanmyn te soek. By die myn aangekom neem ons foto’s in die myn voodat ons weer die paadjie aanpak. Ons klim en klouter aan die linkerkant van die mynskag op tot ons weer die kontoer bereik. Hier neem ons ‘n welverdiende breek. Ons stap al met die kontoer langs, plek-plek in die reën, tot ons die voet van Blackburn Ravine bereik. Ons klim met die rafyn op tot ons bo kom by die uitkyk punt oor Houtbaai. Hier geniet ons toe middagete en ‘n lekker rus.  Van daar pak ons toe weer die paadjie aan tot onder by die motors.  Goeie plan gewees om eerder ‘n alternatiewe roete te neem as om net huis toe te gaan. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en plan maak. Klimhoogte: 635m

Groot Winterhoek: 9-10 Oktober 2021

Saterdagoggend vroeg het ons 6-stuks (lees: geen manne) mekaar by die parkeerterrein van CapeNature-natuurbewaring ontmoet. Na die nodige administrasie gedoen is, was ons verplig om eers al die nodige reëntoerusting uit te krap, want dit begin liggies reën. Na ‘n vals begin, was ons spoedig op stryk, die reëntjie het gewyk en ons kon die pragtige oggend waardeer. Daar is gereeld gestop om ‘n blommetjie te bekyk of om die interessante klipformasies vas te lê. Nie lank na teetyd word ons gestuit, waar die paadjie eenvoudig doodloop in amper knie-diepte water, tussen hoë riete, sonder enige tekens dat daar ‘n “oorkant” is, waar die pad weer opgetel kan word. Ons het rondgemaal, alternatiewe paaie gesoek, klipstapels bestudeer en toe maar wel skoene uitgetrek, vorentoe gebeur deur die riete-tonnel. En sowaar, daar lê die droë roete voor ons. Ons het verby twee groot mooi swempoele geloop en onsself belowe om Sondag, op pad terug, daar tyd te spandeer en te swem. Tyd het begin uitloop, want ons plan was nog om die hoogtepunt (spreekwoordelik), Die Hel te haal. By die laagwaterbrug moes ons weer skoene uittrek en het toe sommer ook middag-kos daar geniet. Die laaste ent pad na De Tronk het begin lank raak, want dit was lekker warm. Een kilometer anderkant De Tronk het ons kamp gemaak onder die gewilde groot akkerbome, teen ‘n waterstroom. Vandaar is ons met klein rugsakkies na die grootste waterpoel in die Wes-Kaap (lyk eerder soos grootste in SA), genaamd Die Hel. Dis ‘n asemrowende natuur-belewenis en moet op elke stapper se emmerskop-lys wees. Na verkenning, voete natmaak en baie foto’s is ons haastig terug kamp toe, want voor die son sak, moes ons darem nog ietsie afsluk ook. Daar is gesellig kos gemaak, sterre gekyk en ou stapstories afgestof.  Dit was ‘n volmaakte slaap-inni-veld aand en die twee Moorreesburg meisies het toe sommer onder die sterre geslaap. Sondag kon ons rustig terugstap en by die groot Mos-poel is vroeë middag-ete gemaak. Die yskoue swem was ‘n welkome lafenis. Die res van die pad is veilig afgelê. ‘n Onvergeetlike mooi stap, saam met lekker mense! Baie dankie aan Santie Kies wat die stap gelei het. Klimhoogte: 260 m.

Tygerberg-Natuurreservaat (3 damme): 16 Oktober 2021

Die hele week word die weer dopgehou en by Vrydag besef ons dat Swartkop by Simonstad nie aangenaam sal wees met reën en stormsterkte wind wat voorspel word. Almal is nog lus vir stap want dit is die derde Saterdag in ‘n ry wat dit reën. Daar word besluit dat ons sommer Tygerberg-koppie gaan stap, want dit is naby die huis en ons kan gou uitstap as die weer baie sleg raak. Ons kom 07.30 by die hek bymekaar en ons besluit ons stap die roete soos die weer dit toelaat. Ons stap om die eerste dam en op tot by die kanon, neem ‘n groepfoto en stap aan. ‘n Lekker reënbui sak uit en ons neem sommer ‘n tee stop onder ‘n skuiling tot die reën bietjie bedaar. Ons stap af na die dam by die Van Riebeeckshofhek en dan teen die steil bultjie uit. Daar val weer ‘n reënbui en almal trek reënbaadjies aan. Ten spyte van die reën het ons nog mooi uitsigte en die veld is pragtig. Ons stap af na die dam by die Plattekloofhek wat op die oomblik mooi vol is en stap dan verder die steil bultjie uit tot by die mas. By die piekniekarea eet ons gou iets onder die skuiling en toe sak daar weer ‘n harde reënbui uit. Almal stap af na die ingangshek en groet na ‘n heerlike oggend. Ons tydsberekening was perfek, want vir die res van die dag het dit hard gereën. Baie dankie aan Belinda Burdett vir die stapreëlings en stapleiding. Hoogte bereik: 446 m.

Slanghoek-naweek: 22-24 Oktober 2021

Daar is een ding waarvan ons nou seker is, niks blus ‘n stapper se lus nie, veral nie reën nie. Altesaam 25 stappers het die naweek na Slanghoek vertrek. Sommiges het in huisies skuiling gesoek het, ander in karavane en ‘n paar dapperes het tente opgeslaan – met ‘n weervoorspelling wat niks goed voorspel het nie. Vrydagnag tref ‘n erge storm ons, maar almal is droog en veilig die Saterdagoggend. Niel en Sharon het aktiwiteite en beplande stappe aangepas volgens die weer en Saterdagoggend het ons geskiedenis gemaak. Sanlam-Staptoerklub het die eerste keer eers gaan wyn proe en plankie geëet voordat daar gestap word. Daar is ‘n kompetisie van wie eerste die ouman se gesig in die berg kan raaksien. Danie en Susan het as wenners uitgetree. Die eerste stap begin in die Slanghoek Resort en gaan ons een-een oor ‘n brug en begin ‘n lang opdraande op sementpad. Ons stap dan deur ‘n olyfboord tot op die kontoer van die Badsberg, op dieselfde pad as die Cape Epic fietryers twee dae tevore. Ons volg dan die pad langs die Slanghoek Kelders tot in die hoofpad en stap dan pad langs terug tot by die kamp. Saterdagaand word daar pot gemaak wat amper die hele Slanghoek sou kon voed, met lemon squares as nagereg. Sondagoggend begin ons lekker vroeg stap. Ons ry tot by die dam by Platbos en begin dan die stadige opdraandes tot bo by die waterval. Die pad op is vol omgevalle bome en boulders wat ons lekker laat rek en strek. Edna bind toiletpapier soos ons loop want elke klip en boom lyk dieselfde. Dit het ons terug stap net soveel makliker gemaak. Toe ons oor die laaste rots klouter gee sommiges ‘n gil van verwondering oor die mooi voor ons. Ons gaan lê op ‘n plat klip op ons rug en kyk dan op na die waterval met die sproei wat ons lekker natmaak. Jy kyk amper tot in die hemel. Ons geniet middagete en foto’s word geneem waarna ons dan weer afstap. Ons volg ‘n ander pad deur die sprokieswoud en groot ronde klippe is almal bedek met groen mos en takke wat oor jou kop deurmekaar vleg. Dit is doodsil in die woud en vat ons eers weer ‘n waterbreek om dit te geniet. Die laaste gedeelte is weer boulders en trap ons versigtig. Die uitsigte is fantasties. Dit is verder meestal afdraandes en gelykpad tot onder waar die motors parkeer is. Ons vertrek daarna vir die hoogtepunt van die naweek: die kleiduif skiet. Ons ontdek dat daar hele paar goeie skuts in die klub is en onder luide toejuiging vir ‘n raakskoot kry almal 5 skote. Die naweek is op sy rug en almal vertrek stuk-stuk terug Kaap toe. Niel en Sharon wil graag aan elke stapper groot dankie se vir hulle gemaklikheid. Julle was ‘n ongelooflike groep mense. Baie dankie aan Niel en Sharon vir hierdie fantastiese naweek – en die al die moeite van skeduleer en herskeduleer daarby. Hoogte geklim Saterdag 150m en Sondag 321meter = 471m

Bel Omre, Tafelberg: Saterdag 30 Oktober

Altesaam 13 van ons kom lekker vroeg die oggend by Constantianek se parkeerarea bymekaar. Ons handel die admin af en val in die pad. Eers klim ons met die bergpaadjie op tot aan die voet van Eagles Nest voordat ons regs uitdraai na Constantia Corner. Ons klim al teen die kant van die berg op.  Die paadjie is styl en plek-plek word daar hande-viervoet geklouter. Bo gekom, stop ons eers by Bel Ombre Piek vir ‘n welverdiende breek. Ons stap dan aan tot by die Kameelrots waar daar weer foto’s geneem word. Ons stap aan tot by Klaasenskop. Hier moet ons oor ‘n skeur in die berg klouter deur van ‘n boom gebruik te maak om reg tot op die punt te kom. Hier is asemrowende uitsigte oor De Villiers-dam en die Opsigtershuisie. Ons stap aan en loop oor die De Villiers damwal en swenk links na die Wynberggrotte. Ons klim en klouter af tot onder, en weer tot bo-op die berg waar ons ‘n goeie uitsig het oor die ander damme op Tafelberg. Hier geniet ons middagete. Ons klim weer af en dan weer op en mik na die jeeppad. Hier besluit twee stappers om ons te verlaat, maar die res van ons kies koers na Ash Valley.  Ons stap al in die mooi vallei af waar uitsigte oor die Kaapse Vlaktes voor jou lê. Ons sluit weer aan by die jeeppad en hiervandaan kies ons koers na die einde. Almal is lekker moeg, ‘n goeie dag se stap. Baie dankie Werner Dalziel vir die stapleiding en ook die moeite wat jy gedoen het om die roete vooraf te gaan recce. Klimhoogte: 540m

Zevenwacht: Saterdag 6 November 2021

Altesaam 28 mense het die Saterdagoggend by Zevenwacht buite Kuilsrivier bymekaar gekom vir ‘n heerlike stap van 11 km, ‘n wynproe met kaas-en-kouevleis-borde (en ‘n bottel wyn om saam te neem huis toe op die koop toe), en sommer net ‘n lekker kuier. Nadat almal ingeteken het, het ons die sirkelroete aangepak. Die roete loop meestal deur wingerde. Ons het verby ‘n tinmyn se ou toerusting geloop en ook verby die landgoed se dag-spa. Ons omdraaipunt was bo-op ‘n koppie waar ons ‘n laatontbyt geëet het. Dit is verbasend wat mens alles van die koppie af kan sien sonder om vreeslik hoog te klim – vanaf Stellenbosch se berge tot by Gordonsbaai en Tafelberg. Ons het ook mooi proteas langs die pad gesien. Na die stap het ons eers ons motors gaan haal en toe na die proelokaal gegaan waar die wynproe en kaasbord-ete was. Alles was baie mooi voorberei en allerheerlik. Baie dankie aan Chrisna Swart vir al die reëlings (en daar was baie – baie mense, baie keuses van kaasborde, ens.) Dit is ‘nstap wat ons elke jaar kan herhaal. Klimhoogte: 277m meter.

Bettysbaai – Sea Farm: Saterdag 13 November 2021

Altesaam 18 stappers het Saterdagoggend by die Sand Boarding parkeerterrein in Bettysbaai in Watsoniastraat bymekaar gekom. Die groep het bestaan uit 10 lede en 9 besoekers. Dit was ‘n pragtige sonskyndag en ons kon afstap strand toe en al langs die kus stap in die rigting van Pringlebaai.  Die roete loop op die strand  langs die see … party plekke loop mens oor die rotse en ander tye deur die strandveld.  Die paadjie is duidelik en mens loop voor die Seafarm privaat natuurreservaat maar altyd tussen die water en die hoogwaterlyn. Die mense van Seafarm het ‘n duidelike paadjie gebou wat verseker dat mens nie hul privaat eiendom betree nie. Dit was ‘n baie rustige stap en ons heerlik op die rotse uitgespan en tee gedrink. Na 6.75 km het party besluit dat hulle gaan terugdraai om 13.30 by die motors terug te wees om of rugby te kyk of omdat hulle ander afsprake gehad het. Hulle (11) het as ‘n groep teruggekeer en 7 stappers het gestap tot by die Hangklip se vuurtoring. 8km. Die pragtige windlose weer het die dag baie spesiaal gemaak. Dit is ‘n plat stap met min elevasie (25 m) maar redelik baie sand stap. ‘n Groot dankie aan Pat de Beer vir die stapreëlings en die stapleiding – ons waardeer dit. Klimhoogte: 25 meter.

Paulsberg, Kaappunt-Natuurreservaat: Saterdag 20 November 2021

Nege van ons kom 08:00 die oggend aan die voet van Paulsberg by Booi se Skerm in Kaappunt bymekaar. Daar was baie bespiegelinge oor die wind, maar ons is dapper stappers. Ons begin met ‘n klim in die kloof op tot by Kanonkop voordat ons regs uitdraai na Paulsberg. In hierdie deel is die wind besonders erg en ons sukkel om op ons voete te bly. Ons vind die redelike maklike paadjie wat al teen die agterkant van die berg opgaan tot bo-op die piek. Hier het ons 360 grade uitsigte oor die hele Kaappunt, Paulsberg is mos die hoogste punt in die reservaat. Ons geniet ‘n lekker rustige brekvis voordat ons weer die paadjie aanpak terug tot by Kanonkop. Ons swenk regs en volg die paadjie binneland langs tot ons by die Dias-monument aankom. Van daar volg ons die paadjie seelangs tot terug by die motors. Op die punt besluit die leier om op sy eie die finale deel van die roete te voltooi met ‘n stappie seelangs tot by die Venus Pools waar middagete geniet word.  Uiteindelik ‘n lekker dag uit langs die see, al het die wind ‘n bietjie gesukkel van tyd-tot-tyd. Baie dankie Werner Dalziel, en ook dat jy die roete vooraf gaan recce het. Klimhoogte: 349m

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2021

R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ’n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN DESEMBER VERJAAR

Mari Warnich (1 Des), Leon de Roubaix (4 Des), Paul Ackermann (5 Des), Arie van Eck (6 Des), Ronel Thiart (6 Des), Kobus Terblanche (7 Des), Michael Smuts (9 Des), Marina Kuhn (13 Des), Willmaine Wedderspoon (14 Des), Ilse Conradie (21 Des), Nannette Hassenstein (22 Des), Hans Kolles (22 Des), Jade Barnard (22 Des), Coenie Thiart (23 Des), Chrisna Swart (24 Des), Michelle Smit (26 Des), Paula Bester (26 Des), Sue Blomerus (27 Des), Elaine Borman (28 Des), Tony du Toit (29 Des), Anita du Plessis (30 Des), Leon Basson (31 Des), en Freddie Pohl (31 Des). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

LAAT MENS DINK

Afrika-spreekwoord: “Takke in ‘n bondel is onbreekbaar.”

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.) Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner en Niel