~ 5 Februarie 2025: Bespreek vir AJV 15 Feb by Kaapzicht | Volgende sarsie stappe

NUUS EN STAPSAKE

Dagsê

  • ‘n Nuwe stapjaar vir ons almal: Ons het reeds ‘n paar stappe agter die rug wat ons gehelp het om die spreekwoordelike jaar op die pad te kry en te begin fiks word vir die stappe wat wag. Mag dit vir ons almal ‘n moeite-werd stapjaar wees – nuwe plekke om te verken, die natuur op sy mooiste, lekker gesels, veilig stap, en stories om te vertel. Een van die langstappe waarvoor jy nou al kan bespreek, is die Tsitsikamma van Dinsdag 29 tot Maandag 5 Mei (ry ingesluit). Dit is die ideale stap vir mense wat van naweekstappe na langstappe wil vorder. Die Tsitsikamma loop deur inheemse woud. Die hutte is almal oorgedoen. Daar is ‘n paar knaende opdraandes of afdraandes, maar die roete is nie tegnies moeilik nie. Al die inligting is hieronder.
  • Kom na ons algemene jaarvergadering by Kaapzicht – Saterdag 15 Februarie om 11:00: Dit is waar ons ‘n oorsig van 2024 gee, die boekieprogram (met al die koste, roetebeskrywings, moeilikheidsgraad, ens.) uitdeel, die kilometer-wapentjies uitdeel vir almal wat kwalifiseer, die nuwe bestuur kies. Daarna volg kaasborde, pizzas en iets te drinke. Al die besonderhede is hieronder. Ons moet voor Maandag 10 Februarie om 14:00 vir Kaapzicht die getalle laat weet. Besprekings by Amanda by 082 570 3895 of amandam@mweb.co.za. Sien jou daar!
  • Stapprogram vir 2025: Ons heg die jongste weergawe van die stapprogram en ook die lidmaatskapvorm aan. Die lidmaatskapgeld is R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). As jy reeds ‘n lid is, hoef jy nie weer ‘n lidmaaatskapvorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Sien hieronder hoe om lidmaatskapgeld in te betaal. Die voordele van lidmaatskap: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.
  • Bergbok-wisseltrofee 2024 – belangrike regstelling: Nadat ‘n fluitjieblaser die OB in kennis gestel het dat Die Vissers wel ‘n sopie Rooi Muskadel geneem het ten tye van die samestelling van die Bergbok-verslag, het SARS ‘n ondersoek gelas en wel ongeruimdhede opgetel. Die huidige verslag beweer dat Werner B meer kms as Brenda S gestap het, wat die wenkbroue laat lig het. Hoe dit ook al sy, nadat die Ouditeur Generaal die verslag onderhande geneem het, is Brenda nou deel van die Top 10 stappers van 2024. Die Vissers glo ná die regstelling is die Bergbok-verslag ‘n ware weergawe van al die betrokke stappers se “stap-efforts” in 2024.

Top 10 vir klimhoogte, 2024: Gerna Hough (13 869 m), Amanda Matthee (11 344 m), Brenda Sideratos (9 424 m), Ulla Esterhuyzen (9 246 m), Werner Dalziel (8 699 m), Elza Geldenhuys (8 295 m), Arina van Eck (8 275 m), Ari van Eck (8 275 m), Miranda Myburgh (7 960 m), en Werner Booyens (7 257 m).

Top 10 wat die meeste stappe gedoen het, 2024: Gerna Hough (24), Amanda Matthee (20), Arina van Eck (17), Ari van Eck (17), Miranda Myburgh (17), Brenda Sideratos (16), Elisma Maree (16), Edna Terblanche (16), Kobus Terblanche (13), en Werner Booyens (12).

Top 10 vir kilometers gestap, 2024: Amanda Matthee (362 km), Gerna Hough (349 km), Estelle Zietsman (281 km), Ulla Esterhuyzen (248 km), Miranda Myburgh (241 km), Arina van Eck (239 km), Ari van Eck (239 km), Brenda Sideratos (231 km), Elza Geldenhuys (210 km), Werner Dalziel (201 km), en Werner Booyens (197 km).

  • Luiperd-kameras: Die Stapklub se luiperdkameras in Bainskloof moes albei afgehaal word vir herstelwerk na ‘n brand einde verlede jaar. Baie dankie aan Steph du Toit wat al die reëlings hiervoor getref het en weer die kameras op 16 Januarie gaan installeer het. Die foto’s wat deur hierdie kameras geneem word, vorm ‘n belangrike deel van die Cape Leopard Trust se navorsing oor luiperds.
  • Nuwe rugsak te koop: Ongebruikte K-Way Pioneer oornagrugsak van 85 liter (75 l + 10 l), Expedition Series, rooi met grys insetsels. Prys: R1900 (onderhandelbaar). Kontak Freddie Pohl by 074 304 7678.
  • Ons simpatie: Ons innige meegevoel gaan aan die familie van Danie Steytler van die plaas Kaapzicht wat op 5 Januarie 2025 oorlede is, en aan die familie van Erica Benkenstein wat op 30 Desember 2024 oorlede is. Dit is ‘n verlies vir almal wat vir hulle omgegee het.
  • Stapverslae: Sien stapverslae virPaulsberg, Kaappunt (2 Nov 2024), Kalkbaai treinrit (7 Des 2024) en Muratie-volmaanstap (14 Des 2024) hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE VAN DIE JAAR

MURLUDI, TULBAGH: STAP EN VRUGTE KOOP – SATERDAG 8 FEBRUARIE 2025

Volbespreek

Stapleier en besprekings: Freddie Pohl by 074 304 7678. Begintyd: 07:30 stiptelik ter wille van die hitte-faktor op die Murludi-vrugteplaas buite Tulbagh. Moeilikheidsgraad: 2A (10,5km). Groepgrootte: 20. Inpak: Eetgoed, genoeg water, sonbeskerming. Wees voorbereid vir enige weer. Koste: R195 brandstofdonasie (115 km x 2; 3 betalende passasiers per motor). Toegangsgelde: R45 per persoon. Admingelde = R5 (lede) / R20 (nie-lede).

Freddie : Die Murludi-vrugteplaas is 20 minute se ry noord van Tulbagh, in die vallei aan die voet van die Witzenberge. Die plaas verbou onder meer perskes, appelkose en pere. Die Elsbos-roete van 10,5 km sluit die korter Rivier-roete in en loop in die vorm van die syfer 8, eers deur die vrugteboorde met uitsigte oor die besproeiingsdam. Daarna klim ons gaandeweg en stap deur ‘n welige fynbos-area, met mooi uitsigte oor die vallei. Wanneer ons weer by die Rivier-roete aansluit, beweeg ons met plek-plek ligte klouter oor klippe ondervoet, langs die riviertjie af, terug aan die beginpunt. Die stap vind plaas tydens vrugte-oestyd. Murludi sal ‘n week voor die stap bevestig welke vrugte dan te koop gaan wees op bestelling en teen watter pryse. Ons behoort ongeveer 3,5 ure lank te stap, met ‘n goeie eet- en rusbreek ingereken. Daarna tel ons die vrugte op wat ons bestel het. ‘n Opsionele stop agterna by Montpellier (vir wyn/koffie en heerlike pizza) word ook beplan.

ALGEMENE JAARVERGADERING SAT 15 FEB 2025 om 11:00 BY KAAPZICHT

Bespreek teen Maandag 10 Februarie om 14:00

Kom kry jou boekieprogram met al die stapinligting (koste, roetebeskrywings, moeilikheidsgraad, ens.), help om die nuwe bestuur te kies, en kuier lekker oor kaasborde, pizzas en ‘n glasie wyn of vrugtesap.

Op die agenda: Ons gee ‘n kort verslag oor die jaar wat verby is, kies die nuwe bestuur, deel van boekie-program (met stappe se roetebeskrywings, afstande, koste, ens.) uit, deel die kilometer-wapentjies en -geskenkbewyse uit vir die stappers wat kwalifiseer, en verduidelik ‘n paar van die langstappe en ander spesiale stappe.

Plek: Kaapzicht-wynplaas op die Bottelarypad (dieselfde afdraai as Mooiplaas). Hier is die aanwysings. Hulle het ‘n lekker breë stoep waar ons by lang tafels sit.

Spyskaart: Kaasborde, pizzas, wyn en druiwesap

Koste: R150 per persoon. Betaalbaar by die venue. Yoco-kaartmasjien beskikbaar.

Wie wil jy op 2025 se bestuur sien? Stuur asb jou nominasies aan amandam@mweb.co.za.

Besprekings: Bespreek voor Maandag 17 Feb om 14:00 by Amanda Matthee by 082 570 3895 of amandam@mweb.co.za.

PLAISIR DE MERLE, SIMONDIUM-PAD – SATERDAG 22 FEBRUARIE 2025

Bespreek vanag Maandag 10 Februarie

Stapleiers en besprekings: Kobus en Edna Terblanche by 082 379 3171. Stapbeginpunt: 08:00 by die proelokaal. Graad: 2B (14 km). Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Stappermit: R100. Brandstofdonasie R100. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Kobus en Edna sê: Ons stap ‘n roete op die Plaisir de Merle wynlandgoed op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek. Die roete teen die hange van Simonsberg word gekenmerk deur ‘n groot verskeidenheid fynbos, talle voëlsoorte en selfs kleiner boksoorte. Mooi uitsigte. Die roete vorm deel van die Banhoek-bewaringsarea.

HELDERBERG: WESPIEK – SATERDAG 1 MAART 2025

Bespreek vanaf Maandag 17 Februarie

Stapleier en besprekings:Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt: 08:00 by Helderberg Natuurreservaat, Somerset-Wes. Graad: 3C (sowat 12 km / 7 uur) – veeleisend. Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: R30 hekgeld per persoon plus R20 per voertuig. R100 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R20 (besoeker).

Werner sê: ‘n Stewige dagstap wat by die Helderberg Natuurreservaat begin. Ons stap eers tot op die saaltjie en dan tot op die Wespiek (1003 m) vir ‘n fantastiese uitsig oor die see tot by Kaappunt en omringende berge. Ons sal ‘n behoorlike middete bo by die piek eet om die uitsig te geniet.

MONTAGU-NAWEEK – VRYDAGMIDDAG 7 TOT SONDAG 9 MAART 2025

Volbespreek

Stapleier en besprekings: Freddie Pohl by 074 304 7678. Begintyd: 07:30 stiptelik ter wille van die hitte-faktor op die Murludi-vrugteplaas buite Tulbagh. Moeilikheidsgraad: 2A (10,5km). Groepgrootte: 16. Inpak: Soos vir ‘n kampnaweek met 2 dagstappe. Bring dus jou kamptoerusting en ‘n dagsakkie vir die dagstappe. Bring ook genoeg waterbottels vir die dagstappe, en goeie sonbeskerming. Wees voorbereid vir enige weer. Koste: R460 pp vir kamp-, admin- en permitgeld. R390 brandstofdonasie (162 km x 2; 2 betalende passasiers per motor). Admingelde = R10 (lede) / R40 (nie-lede).

Freddie : Hierdie is ‘n sosiale naweek met die Montagu-karavaanpark as basis. Hier kan jy kamp, of in ‘n karavaan of chalet bly. Ons doen twee dagstappe en braai elke aand. Die een dag stap ons ‘n kombinasie van die Aasvoelkransroete en Badskloofroete (sowat 11 km) en die volgende dag stap ons die Cogmanskloofroete (sowat 12km). Tussendeur verken ons Montagu.

TSITSIKAMMA, OOS-KAAP – DINSDAG 29 TOT MAANDAG 5 MEI 2025 (ry ingesluit)

Bespreek nou

Besprekings en stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2A (redelik, 62 km oor 6 dae). Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap, groot rugsakke. Slaap oor in hutte met matrasse. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Permit R1500 pp. Pendeldiens van sowat R200 pp. Plus tolhekgeld van R67.50 per motor. Brandstofdonasie: Rxxx (550 km x 2 = 1100 km). Oornagverblyf by Harkerville Forest Lodge na die stap: Rxxx. Adminheffing R25 (lid) / R100 (besoeker).

Werner sê: Dit is ‘n veeleisende roete met lang afstande per dag maar dit is nie tegnies moeilik nie. Dit is ook ideaal vir mense wat vir lang oornagstappe wil oefen, of van naweekstappe na langstappe wil vorder. Die Tsitsikamma is ‘n eenrigtingroete van 61 km oor 6 dae (5 nagte) deur inheemse woude en bergfynbos. Die hutte en die roete is opgeknap en is regtig baie lekker. Daar is heerlike swemplek in rotspoele en riviere. Ons vertrek vroeg die Dinsdagoggend uit die Kaap en ry tot by Nature’s Valley (De Vasselot-natuurreservaat) waar ons ons voertuie parkeer. Dan stap ons nog deur na die eerste oornaghut. Dag 1 – Dinsdag 29 April 2025: Nature’s Valley – Kalanderhut: 3,6 km – sowat 1 uur 30 min. Ons braai die aand. Dag 2 – Woensdag 30 April 2025: Kalanderhut – Blaauwkranshut: 13,5 km – sowat 6 uur. Ons begin met ‘n stywe klim om bo-op Douwurmkop te kom, swem in Tolbosrivier, Trappevalle. Die hut is op ‘n afgrond gebou en het ‘n 10-uit-10 uitsig. Dag 3 – Donderdag 1 Mei 2025: Blaauwkranshut – Keurboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Swem lekker in Waterwitelsgat. Loop deur Benebos. Dag 4 – Vrydag 2 Mei 2025: Keurboshut – Heuningboshut: 13,4 km – sowat 6 uur. Die paadjie neem ons deur Rusher Pass (rietepas) en Elandsbosrivier. Dag 5 – Saterdag 3 Mei 2025: Heuningboshut – Sleepkloofhut: 13,9 km – sowat 7 uur (langste dag). Dag met die lang opdraand – Nademaalsnek. Dag 6 – Sondag 6 Mei 2025: Sleepkloofhut – Stormsrivierbrug (Paul Sauerbrug): 3,2 km – 1 uur. Ons stap vroegoggend terug na ons motors. Ons bly die Sondagaand by die Harkerville Forest Lodge (13 km wes van Plettenbergbaai) oor en ry dan die Maandag terug Kaap toe.

STAPVERSLAE

Kaappunt – Paulsberg: 2 November 2024

Agt van ons kom lekker vroeg by Kaappunt bymekaar. Ons handel die admin vinnig af en begin te stap. Ons klim eers in die kloof op tot by Kanonkop waar ons stop vir ‘n lekker koffie. Hiervandaan mik ons noord na Judaspiek. Ons stap aan die voet van Paulsberg verby. DIe oppe en affe is bietjie rof, maar uiteindelik sien ons die eindpunt, Judaspiek. Twee besluit om nie die laaste deel na die piek te doen nie en wag vir ons. Ons neem ‘n rusbreek op die piek en geniet die uitsigte. Die vlieë is bietjie lastig. Ons stap terug na Kanonkop en tel ons maters langs die pad op. By Kanonkop mik ons meer binneland toe voordat ons weer terugdraai see toe. Ons stap verby die historiese kalkoond tot weer by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 583 m.

Kaapstad – Kalkbaai treinrit: 7 Desember 2024

Altesaam nege van ons het vroegoggend op die Kaapse stasie bymekaar gekom – heel opgewonde om weer ‘n slag trein te ry. Ons plan van aksie: Ry met die blou Metrorail-trein Kalkbaai toe (R9 per persoon), verken die wêreld daar, en kom weer terug (R5.50 per persoon). ‘n Hele klompie van ons was in ons studentejare laas op die Kaapse stasie. Die rit tussen Kaapstad en Kalkbaai neem net meer as 1 uur. Ons het die 08:00 trein soontoe geneem, sowat 3 uur tyd gehad om die inheemse en boheemse winkeltjies in Kalkbaai te verken (mens moet van alles weet in die lewe) en iets te eet, en toe die 12:19 trein teruggeneem. Ons het almal saamgestem – dit was die beste R14.50 (treinkaartjie) wat ons in ‘n lang tyd uitgegee het. Inside Guide sê die volgende oor Kalkbaai: “It was named one of The 12 Coolest Neighbourhoods Around The World by Forbes magazine, among international hotspots like Barcelona’s Sants, Washington’s Navy Yard and Amsterdam’s Noord, and outranking London’s Soho and New York’s Greenpoint in the process. After one visit to the quirky seaside village of Kalk Bay, it’s easy to understand why.” Mens sou ook by St James kon afklim, in die getypoel swem en Kalkbaai toe stap. Of op ‘n warm dag in die getypoel by die Brass Bell swem – daar is baie opsies. Almal het saamgestem: Dit is ‘n toer wat ons in die toekoms kan herhaal. (Die meeste van ons het in die Strandstraat-parkade geparkeer. Dit was duur, maar dan weet mens ten minste jou motor is veilig.) Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 2 km. Klimhoogte: 3 m.

Muratie-volmaanstap: 14 Desember 2024

Altesaam ses van ons (‘n paar mense het gekanselleer) het laatmiddag op die plaas Muratie buite Stellenbosch opgedaag om hierdie maklike maar mooi en prettige stap aan te pak. Ons het die bult rustig uitgestap en bo-op die koppie vir ons sitplek gekry om die son te sien sak (“and the sun dropped into the ocean like a penny into the pocket of the night”) en die maan agter Simonsberg te sien opkom. Almal pak lekkerder-as-gewoonlik kos in want daar is mos tyd vir piekniek op die berg. Daar was ook ‘n wynstalletjie en van ons het ‘n glasie Muratie-wyn geniet. Dit was lekker om tyd te hê om net te sit en die wêreld te bekyk want die uitsig vanaf die koppie is baie mooi. Ons het die terugtog aangepak net nadat die volmaan opgekom het en kon nog sonder flitse onder kom. Party van ons het eers koffie gedrink voor ons huiswaarts gekeer het – daar is koffiestalletjie met goeie koffie by die eindpunt. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand 4 km. Klimhoogte 150 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2025

R100 vir die hooflid en R170 per paar (hooflid + gade of kind bo 18). Bestaande lede hoef nie weer ‘n vorm in te vul nie (tensy jou besonderhede verander het). Nuwe lede kan ons vorm by www.sanlamstaptoerklub.co.za kry. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ‘n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ‘n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R20 per dag vir besoekers) en gereelde nuusbriewe.

ALGEMENE STAPREËLS

  • Vrywillige deelname: Deelname aan enige stap of aktiwiteit van Sanlam-Staptoerklub (ongeag die stapleier of verteenwoordiger) is geheel en al op eie risiko.
  • Kies jou stappe volgens jou fiksheidsvlak: Dit is wenslik om met ‘n makliker stap te begin en geleidelik al moeiliker stappe te doen.
  • Noodhulp: Stappers moet hul eie noodhulp-items saambring. Die volgende word as minimum aanbeveel: 1) Rehydrate (of iets vir krampe), pleisters en verbande. 2) Persoonlike medikasie. 3) ‘n Beskrywing, op ‘n stukkie papier, van enige bestaande mediese toestand wat jy het, en wat ‘n derde party kan help as jy tydens ‘n staptog iets oorkom.
  • Besoekers: Besoekers is welkom om saam te stap as dit stappermit en/of groepgrootte dit toelaat. (Adminheffing van R20 per persoon per dag bo en behalwe die gewone koste van die stap.)

LAAT MENS DINK

“Don’t be afraid to take the unfamiliar or difficult path. Sometimes they’re the ones that take you to the best places.” – Positivity

“Africa really needs to invent a shazam for spiders so I can tell if this thing on the wall is a daddy longlegs or a bitey deathmaker 3000.” – Big City Life

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief.

Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy ‘n lid van Sanlam-Staptoerklub is of omdat jy toestemming gegee het dat ons jou naam op die nuusbrief se verspreidingslys kan sit. As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie. Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, André, Werner, Wynand en Santie