~ 19 Januarie 2025: MURLUDI, TULBAGH

MURLUDI, TULBAGH: STAP EN VRUGTE KOOP – Saterdag 8 Februarie 2025.
Bespreek vanaf Maandag 27 Januarie by Freddie Pohl by 074 304 7678.
Begintyd: 07:30 stiptelik ter wille van die hitte-faktor op die Murludi-vrugteplaas buite Tulbagh. Moeilikheidsgraad: 2A (10,5km). Groepgrootte: 20. Inpak: Eetgoed, genoeg water, sonbeskerming. Wees voorbereid vir enige weer. Koste: R150 brandstofdonasie (115 km x 2). Toegangsgelde: R45 per persoon. Admingelde = R5 (lede) / R20 (nie-lede).
Freddie sê: Die Murludi-vrugteplaas is 20 minute se ry noord van Tulbagh, in die vallei aan die voet van die Witzenberge. Die plaas verbou onder meer perskes, appelkose en pere. Die Elsbos-roete van 10,5 km sluit die korter Rivier-roete in en loop in die vorm van die syfer 8, eers deur die vrugteboorde met uitsigte oor die besproeiingsdam. Daarna klim ons gaandeweg en stap deur ‘n welige fynbos-area, met mooi uitsigte oor die vallei. Wanneer ons weer by die Rivier-roete aansluit, beweeg ons met plek-plek ligte klouter oor klippe ondervoet, langs die riviertjie af, terug aan die beginpunt.
Die stap vind plaas tydens vrugte-oestyd. Murludi sal ‘n week voor die stap bevestig welke vrugte dan te koop gaan wees op bestelling en teen watter pryse. (Bestellings moet ‘n paar dae voor die stap geplaas word om die logistiek by Murludi te vergemaklik.) Ons behoort ongeveer 3,5 ure lank te stap, met ‘n goeie eet- en rusbreek ingereken. Daarna sal die bestelde vrugte opgetel kan word. ‘n Opsionele stop agterna by Montpellier (vir wyn/koffie en heerlike pizza) word ook beplan.