Dagsê
NUUS EN STAPSAKE
- Walvisroete: Groot opwinding – die eerste groep van 12 mense (Niel Visser se groep) vertrek vandag vir die Walvisroete by De Hoop naby Bredasdorp terwyl die tweede groep (Werner Dalziel se groep) môre vertrek. Dit is een van CapeNature se vlagskip-stappe met oornaghutte wat luuks is wat stapstandaarde betref (jy kan elke aand braai en warm stort, en jou oornaggoed word van hut tot hut aangery, ens.). Vir ‘n paar van die stappers is dit hul eerste multidag-stap. Veilig stap, geniet elke oomblik geniet en kom vertel wanneer julle terug is! (Daar is 1 plek oop op groep wat môre vertrek – een van die stappers het griep gekry. Kontak Werner Dalziel by 082 579 0968 as jy wil saamstap.)
- Stapdinge: Verlede week se Alphenroete het uitgereën en dit word nou geherskeduleer vir Saterdag 30 Julie 2022. Kry die inligting hieronder en bespreek by Estelle Smuts by 082 335 3776 vanaf Maandag 18 Julie. Ons het ‘n ekstra dagstap gereël vir Saterdag 2 Julie – dit is Frankrykrivierkloof by die Bergrivierdam buite Franschhoek. Kry die inligting hieronder en bespreek by Werner Dalziel by 082 579 0968. Steph (die klub se ondervoorsitter) en Mariana du Toit maak vandag klaar met die Camino Frances in Spanje – hulle sal vandag in Santiago aankom. Die volgende sarsie stappe verskyn hieronder.
- Winterfunksie skuif na Woensdagaand 27 Julie. Paramedikus Werner Krause kom praat met ons oor bergreddings en wat stappers moet doen om nie in die berge in die moeilikheid te beland nie. Tuisgemaakte sop en brood op die spyskaart. Die venue is NG Kerksaal, La Rochelle. Bespreek by Ilse Marais by by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za.
- Covid-19 reëls: Covid-19 reëls geld op al ons stappe – afstandhouding, maskers en hande ontsmet; moenie kom stap as jy siek voel of in kontak was met mense wat Covid het nie.
- Stapverslae: Kry die stapverslae vir Oudekraal Ravine, Muratie-volmaanstap, Rooiheuwel-Noord by Botrivier, die Anthonij Rupert-stap en wynproe, Dolphin Beach (Milnerton-vuurtoring tot by Blouberg en terug), Kogelberg, Bakoven-Seepunt, Landdroskop, en Olive Glen hieronder.
VOLGENDE SARSIE STAPPE
WALVISROETES (DE HOOP, BREDASDORP)
Volbespreek
Besprekings: Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Graad: 2B, 57 km oor 5 dae. Oor die roete: Ideaal vir mense wat hul eerste langstap wil doen omdat ons met dagsakkies stap. Ons oornaggoed word van hut tot hut vervoer. Elkeen kry ‘n krat waarin hulle hul oornaggoed kan pak. Daar is ook 2 koelhouer-kratte vir vleis en bederfbare kos. Koste: Permit R2530 (permit, verblyf voor die stap, vervoer van oornaggoed, pendeldiens vanaf eindpunt terug na motors). Brandstofdonasie R420 (230 km x 2 = 460 km). Adminheffing R25 (lid) / R50 (besoeker).
WALVISROETE 1: WOENSDAGMIDDAG 22 TOT MAANDAG 27 JUNIE 2022 (rydatums ingesluit)
Beginpunt- en tyd: Aankoms by De Hoop-natuurreservaat tussen 14: en 15:00 die Woensdagmiddag (die reservaat se hekke word dan gesluit). Daar is ook ‘n oriënteringspraatjie deur CapeNature.
Groepgrootte: 12. Inpak: Oornagstap met luukse hutte, waar ons oornaggoed van hut tot hut vervoer word sodat ons met dagsakkies kan stap. Maak gereed vir enige soort weersomstandighede.
WALVISROETE 2: DONDERDAGMIDDAG 23 TOT DINSDAG 28 JUNIE 2022 (rydatums ingesluit)
Beginpunt- en tyd: Aankoms by De Hoop-natuurreservaat tussen 14: en 15:00 die Donderdagmiddag (die reservaat se hekke word dan gesluit). Daar is ook ‘n oriënteringspraatjie deur CapeNature. Groepgrootte: 12. Inpak: Oornagstap met luukse hutte, waar ons oornaggoed van hut tot hut vervoer word sodat ons met dagsakkies kan stap. Maak gereed vir enige soort weersomstandighede.
Niel en Sharon sê: Hierdie roete bied die perfekte kombinasie van stap en vakansie hou by die see. Ons stap met dagsakkies omdat ons swaar oornaggoed en kos van hut tot hut vervoer word. Daar is ‘n hut by die beginpunt waar ons die aand voor die tyd slaap (onthou jy moet voor 15:00 die middag voor die stap daar wees want hulle sluit die reservaat se hek en hulle hou nog ‘n oriënteringspraatjie). Ons motors bly dus veilig in die reservaat terwyl ons stap. Die eerste dag is die moeilikste (met ‘n klimhoogte van sowat 400 m tot op Potberg). Van daar af is dit kusheuwels of seelangs. Ons kom aan die einde van dag 2 by die see uit. Die drie hutte by die see (Noetsie, Hamerkop en Vaalkrans) het wonderlike uitsigte oor die kuslyn. Die hutte is luuks wat stapstandaarde betref – warm storte, spoeltoilette, yskaste, ketels, skottelgoed, en ruim en gesellige kuierplek. Ons kan elke aand vuur maak. Die roete is nie ‘n sirkelroete nie. Daar is ‘n busdiens vanaf die stap se eindpunt terug na ons motors toe (ingesluit by die prys).
- Dag 1: Potberg to Cupidoskraal (15.5 km – difficult ±8 hours): This is the toughest stretch and an early start is recommended. You ascend the Potberg under the watchful eyes of gliding Cape vultures and climb up to the highest point of the trail where you are rewarded with spectacular views. The trail descends along the watershed above Grootkloof where you will find erica and protea species that grow only here and nowhere else in the world!
- Day 2: Cupidoskraal to Noetsie (15.2 km – moderate ±8 hours): The trail follows the crest of the Potberg through mountain fynbos with unequalled views of the Indian Ocean and the Breede River. The route finally exits Potberg and leads onto limestone hills with strikingly different fynbos, then descends to the enchanting bay of Noetsie at the coast.
- Day 3: Noetsie to Hamerkop (8,5 km – difficult ±4 hours of actual walking with 6 hours suggested for several break periods): There is ample time for exploring the coastline on this stretch. Stilgat is a most enjoyable stop. Several vantage points lie ahead until you reach a beach stretching a short distance to Hamerkop Cottage.
- Day 4: Hamerkop to Vaalkrans (10,5 km – moderate ±7 hours): The long beachwalk can be quite strenuous. Allowtime to rest. On the way you pass LekkerwaterLodge. Please respect the privacy of the guests.Look out for the shy oystercatchers andwhitebreasted cormorants basking in the sun. Theintertidal pools on the wave-cut rock platforms andcoral reefs are remarkable sights. The last stretch toVaalkrans ambles through diverse coastalvegetation.
- Day 5: Vaalkrans to Koppie Alleen (7 km – easy ± 3 hours of actual walking, with 6 hours suggested for several break periods): This is a short hike through coastal thickets with ample time to soak up the last of the scenic landscapes. There are two alternative routes for high and low tide. Hippo Pools offers great swimming before the path leads up to Koppie Alleen where the trail ends.
FRANKRYKRIVIERKLOOF: SATERDAG 2 JULIE 2022
Bespreek nou
Beginpunt- en tyd: Robertsvlei-pad buite Franschhoek om 08:00. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad. 2B, redelik, 17 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 (bring saam in kontant). Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Werner sê: Ons stap vanaf die hek by die Bergrivierdam en draai eers links om die boonste kontoer te vind. Hiervandaan loop ons dieper in voordag ons terugdraai tot by die wier. Hier steek ons die rivier oor voordat ons die roete aan die oorkant aanpak. Ons stap dan deur die drie klowe van die drie vertakkings van die Frankrykrivier. Daar is ook ‘n opsie van ‘n bietjie rock-hopping vir dié wat daarvoor kan sien. Ons steek weer die Bergrivier oor en stap terug na ons motors.
TAFELBERG: DUIWELSPIEK: SATERDAG 16 JULIE 2022
Bespreek vanaf Maandag 4 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 op Tafelbergbergpad naby begin van Duiwelspiekroete. Besprekings: Brenda Sideratos by 072 122 5216. Stapleiers: Brenda Sideratos en Werner Booyens. Graad: 2B (veeleisend, klimhoogte 600 m), 10 km. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie, genoeg water, sonbeskerming, reënbaadjie, eetgoed. Koste: Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Werner en Brenda sê: Ons ry met die Tafelberg-pad tot so 3 km anderkant die kabelkarretjie se onderste stasie. Dit is waar ons parkeer en waar die stap begin. Dit is ‘n stewige klim met ‘n sig-sag-paadjie tot bo-op Duiwelspiek. Maar die ongewone uitsig op Tafelberg, Leeukop, die stadskom en Robbeneiland maak dit die moeite werd.
MONT ROCHELLE: DU TOITSKOP: SATERDAG 23 JULIE 2022
Bespreek vanaf Maandag 11 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Mont Rochelle buite Franschhoek. Stapleier: Adellethea Issel by 078 661 8126. Graad:3B (redelik, 13 km). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Reën-, wind- en sonbeskerming, water, kos, ens. Sorg veral dat jy genoeg warm klere het. Koste: Permit R70. Brandstofdonasie: R100 (2 x 65 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Delfie sê: Ons beginpunt is die Mont Rochelle Natuurreservaat in die Franschhoekpas. Die reservaat vorm deel van die UNESCO-bewaringsgebied. Die roete neem ons via Breakfast Rock (waar ons links afdraai) in ‘n noordwestelike rigting tot op Du Toitskop Piek (1407 m). Totale klimhoogte 660 m. Fantastiese uitsigte op die Franschhoekvallei. As ons gelukkig is, stap ons in die sneeu.
WINTERFUNKSIE: WOENSDAGAAND 27 JULIE 2022 OM 19:00
Bespreek nou
Besprekings: Ilse Marais by 082 377 4584 / ilse.marais@sanlam.co.za. Op die program: Paramedikus Werner Krause kom praat met ons oor bergreddings en wat ons moet doen om nie in die moeilikheid te beland in die berge nie. Op die spyskaart: Tuisgemaakte brood en sop. Venue: NG Kerksaal, La Rochelle.
ALPHEN-ROETE: SATERDAG 30 JULIE 2022
Bespreek vanaf Maandag 18 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by Alphen Hotel, Constantia. Stapleier: Estelle Smuts by 082 335 3776. Graad: 1A (maklik), 14 km. Groepgrootte: Onbeperk: Inpak. Dagsakkie met kos, water, windjekker, ens. Koste: Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Kan gaan koffie drink na die tyd.
Estelle sê: Die 14 km stap in die Constantia-vallei se groen gordel begin by die Alphen Hotel (Alphen Drive, Constantia http://www.alphen.co.za/pdf/Alphen_Directions.pdf). Ons begin met die Alphen Trail (parkeer motors – “most people park their cars on the bend of Alphen Drive that leads off Constantia Main Road to the Alphen Hotel”). Die roete loop langs die Dieprivier tot by Constantiaberg (met ‘n paar bruggies oor die rivier) tot by Le Sueur Avenue in die rigting van Hohenort. Dan stap ons op die Klaasenbosch-roete (stap verby Hohenort Hotel) deur ‘n deel van Kirstenbosch tot by Cecelia Forest, De Hel Nature Area via die Dieprivierroete terug na ons motors.
TYGERBERG-NATUURRESERVAAT: SATERDAG 6 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 25 Julie
Beginpunt- en tyd: 08:00 by reservaat se hek. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, paar geleidelike opdraande, 11 km / 4 uur). Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, ens. Koste: R20 toegangsgeld by hek (R7 vir kinders onder 13). Brandstofdonasie R20. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Die 67-hektaar Tygerberg Natuurreservaat op ons drumpel bied mooi uitsigte, 158 voëlsoorte, 40 soorte skoenlappers, wildsbokkies, hasies, bergskilpaaie, en mooi renosterveld. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Goeie stap vir gesinne.
ARANGIESKOP, ROBERTSON: VRYDAGMIDDAG 12 – SONDAG 14 AUGUSTUS 2022
Volbespreek
Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Beginpunt- en tyd: Vrydagmiddag by Dassieshoek se hut (6 km buite Robertson). Graad: 3C, veeleisend, 21 km, steil opdraandes, nimmereindigende afdraandes. Groepgrootte: 12. Inpak: Soos vir oornagstap met oorslaap in hutte met matrasse. Kan albei aande braai. Maak gereed vir enige soort weer en pak alles waterdig. Koste: Dassieshoek se hut R232 + Arangieskop se hut R195 + stappermit R72 + vuurmaakhout R10 = R509 (pryse word in Julie elke jaar verhoog – hierdie is dus nog nie finale bedrag nie). Brandstofdonasie: R360 (2 x 170 km). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker).
Werner sê: Dié sirkelroete is in die Langeberge noord van Robertson. Ons slaap die Vrydagaand by Dassieshoek se hut – sowat 6 km buite Robertson. Dag 1 (10 km, 6,5 uur) is byna heelpad opdraand tot by ‘n 5-ster hut. Dag 2 (11 km, 6 uur) is afdraand in ongelooflike klowe af. Hierdie is beslis een van die mooiste en taaiste roetes in die Wes-Kaap. Arangieskop kry ook 10 uit 10 vir uitsigte – jy kyk af op berge. Pakstapfundi Mike Lundy sê as die Otter die koning van alle roetes in SA is, is Arangieskop die prins.
CAVE PEAK, KALKBAAI: SATERDAG 20 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 8 Augustus
Beginpunt- en tyd: 08:00 in Godfrey Road aan die einde van Boyes Drive. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (redelik, 10km, 520m klimhoogte, grot-kruip ingesluit). Groepgrootte: 15. Inpak: water, sonbeskerming, reënbaadjie, kos, STERK FLITSLIG, ens. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitgelde nie.
Werner sê: Ons stap vanaf Godfreyweg in St James aan die einde van Boyes Drive al teen die berg op voordat ons regs draai na waar ‘n klompie grotte vir ons wag om te besoek. Van hier af stap ons ‘n sirkelroete via die Amfiteater en die Spes Bona-woud voordat ons weer by ons motors uitkom.
SOSYSKLOOF IN JONKERSHOEK: SATERDAG 27 AUGUSTUS 2022
Bespreek vanaf Maandag 15 Augustus
Beginpunt- en tyd : Jonkershoek-reservaat se hek om 08:00: Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2A (redelik, sowat 8 km), Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: Permit R50 / Wildcard. Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).
Amanda sê: Hierdie skilderagtige sirkelroete in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch klim deur ‘n kloof tot noord van Swartboskloof en loop deur kolle inheemse woud. Van daar loop dit oor ‘n kontoer na Sosyskloof en dan na die uitkykpunt, en dan weer terug tot by die motors. (Ons kan op pad terug iewers stop vir lekker koffie.)
STAPVERSLAE
Oudekraal Ravine, Tafelberg: 12 Maart 2022
Altesaam 11 van ons kom vroeg die oggend in Theresalaan in Bakoven bymekaar. Ons handel die admin af en pak die roete aan. Die eerste klim tot op die kontoer laat die hart lekker vinnig klop. Ons volg die pipe track tot by die grot/oorhang waar ons lekker ietsie te ete en drinke geniet. Hierna soek ons die afdraai na Oudekraal Ravine. Ons volg die paadjie en ons geniet die interesante rotsformasies en die uitsigte oor die Atlantiese Oseaan. Ons kom aan die onderkant van Oudekraal Ravine aan en klim op in die kloof. Dit swoeg maar lekker, maar kort voor lank is ons bo. Aan die voet van Grootkop wat ons ‘n welverdiende ruskans. Hiervandaan gaan maak ons eers ‘n draai by Tranquility Cracks, maar slegte weer kom in op die berg en ons kan nie lank vertoef nie. Ons vat toe die paadjie af met Corridor Ravine en volg die Pipe Track al die pad terug tot by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 1090m
Muratie-volmaanstap: 16 Maart 2022
Altesaam 22 van ons het laatmiddag op die plaas Muratie buite Stellenbosch opgedaag om hierdie maklike maar baie mooi en plesierige stap aan te pak. Ons het die bult rustig uitgestap en bo-op die koppie vir ons sitplek gekry om die son te sien sak en die maan agter Simonsberg te sien opkom. Almal pak lekkerder-as-gewoonlik kos in want daar is mos tyd vir piekniek op die berg. Daar was ook ‘n wynstalletjie en van ons het ‘n glasie Muratie-wyn geniet. Dirk en Reline het ‘n spesiale huweliksherdenking gevier. Dit was lekker om tyd te hê om net te sit en die wêreld te bekyk want die uitsig vanaf die koppie is baie mooi. Ons het so net na 20:00 die terugtog met ons flitsies aangepak. Dit was nogal mooi om die ry flitsliggies in die donker te sien. Toe ons onder kom, het party van ons eers koffie gedrink (daar is koffiestalletjie met barista en goeie koffie) voor ons huiswaarts gekeer het. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand 4 km. Klimhoogte 150 m.
Rooiheuwel-Noord, Botrivier: 19 Maart 2022
Ons was 9 stappers wat hierdie mooi roete op die plaas in Botrivier gaan stap het. Na die admin afgehandel is, klim ons oor heinings om die paadjie berg op te volg. Die weer is heerlik koel en almal gesels lekker saam. Die steil paadjie, wat gelukkig zig-zag, is aanhoudend en flous jou op die eerste hoogte, want agter die bult is nog ‘n opdraand. Ons stop vir ‘n vinnige koffie by die laaste skuiling agter rotse waarna ons die laaste bult gryp. Met die wind onder ons blaaie is ons sommer vinnig bo en word rugsakke afgegooi en sit ons sommer plat op die grond agter rotse vir ‘n ordentlike ruskans, om die innerlike te voed en weer krag te kry vir die aanhoudende af. Wat op gaan moet weer af. Ons het 360 grade uitsigte wat tot doer in die toekoms kyk. Ons sien Constantiaberg, Theewaterskloof, Caledon en Botrivier soos ons in die rondte draai, en dit is net mooi. Ons begin lui lui die afdraande aan te pak en halfpad af begin ons bene te bewe en los klippe maak dat ons mooi moet konsentreer. Ons is bly om onder te kom en speel bietjie met die plaas hond wat ons vriendelik inwag. Ons gaan drink ietsie koel onder in Botrivier by die Shunting Shed waarna ons groet en almal terug keer huiswaarts. Dankie aan almal wat saamgestap het, lekker gesels, lekker lag en ook vir Niel Visser se stapleiding. Klimhoogte 653m.
Anthonij Rupert – stap en wynproe: Saterdag 26 Maart 2022
Veertien van die 16 stappers daag betyds op ten spyte van ‘n verkeersprobleem op die N1, betyds vir ons uitstappie om 9:00. Gidi, ons gasvrou, was self 10 min laat as gevolg van die verkeer. Ons drink koffie en ontvang elkeen ‘n bottelwater. Een stapper het onttrek. Amanda was so ‘n halfuur laat maar ons het sonder haar begin stap en die trem het haar gebring tot by ons by die halfpadpunt. Ons het heerlik rustig gestap terwyl Gidi vir ons baie vertel oor die landgoed. Ná 4km kom ons by die witwynkelder aan waar ons sewe van hul Good Hope reeks wyne proe. Uitstekend! Ná hierdie gesellige wynproe neem die trem/bus ons weer terug na die beginpunt. Dáár eet 13 van ons heerlik onder die bome buite die proelokaal. Ons was weer eens beïndruk deur die netheid van die landgoed, die atmosfeer van die proelokaal, die vriendelikheid en hulpvaardigheid van die personeel. Hierdie instansie is ‘n sieraad vir die Bolandsetoerisme. Baie dankie aan Steph du Toit vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 100m.
Dolphin Beach (Milnerton-vuurtoring tot by Blouberg en terug): Saterdag 2 April 2022
Ons was 14 stappers wat die Saterdagoggend by Woodbridge-eiland by die vuurtoring bymekaar gekom het. Wynand vertel ons meer van die hoogte en ander interessante feite van die vuurtoring. Om 07:40 begin die stap strandlangs met ‘n ligte wind wat in ‘n noordelike rigting waai, lekker van agter teen die rug. Wynand stap voor en Madie agter met Pippa, ‘n 4-maande-oue Great Dane. Oorkan KFC in Tableview stop ons vir teetyd en iets om te eet geniet. Daarna stap ons tussen “kite surfers” op die strand tot Blaauwberg net voor Ons Huisie. Ons hou middagete op die rotse en koop lekker koffie by die plaaslike winkeltjies. Madie en Pippa verlaat die groep met die bakkie wat gelos was vroeër die oggend. Daar was wel ‘n versoek met die wind wat opkom om van die bestuurders per voertuig terug Milnerton toe te neem maar na ons dit met die groep stappers bespreek was het almal ingestem hulle stap eerder terug – die brawe groep mense. Ons het wel langs die pad gestap tot by Dolphin Beach Hotel en daarna af op die strand. Teen hierdie tyd het die wind goed opgetel en die laaste 3km het stadig verbygegaan. Alana het pyn beleef met blase en Wynand het gehelp om haar rugsak te dra. Beulagh het saam agter gestap. Niel, Sharon, Amanda en Gerna het saam gewag vir die laaste stappers van die span. Ons arriveer 13:15 terug by die voertuie na ‘n lekker veeleisende stap danksy die Kaapste dokter! Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir ‘n heerlike stapdag. Klimhoogte: 20 m.
Kogelberg: 9 April 2022
Ons kom almal lekker vroeg by die Kogelberg-nattuurreservaat buite Kleinmond bymekaar. Ons handel vinnig die administrasie af en pak die lang roete aan. Ons stap eers in die rigting van Oudeboskloof, waar die moeilikste klim van die dag vir ons voorlê. Ons stap op in die kloof en dit is immer groen en ons verwonder ons aan die natuur. Na die klim draai ons regs op die Kogelberg roete. Ons stap aan verby die mooiste landskappe, al om Platberg, voordat ons weer by die jeeptrack aansluit. Net voor ons afsak na die jeeptrack, geniet ons middagete met asemrownde uitsigte oor Louwsbos en die Lousrivier. Ons volg die jeeptrack al langs die Louwsrivier langs tot ons uiteindelik by die Palmiet roete aansluit. Ons het so fluks gestap dat ons ‘n lekker 30 minute by die Palmiet-strand langs die Palmietrivier kan deurbring. Ons pak die laaste paar kilometers aan terug tot by die begin. Hierdie is ‘n lekker langs stap, maar bitter mooi en het ‘n ietsie van alles vir almal. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Klimhoogte: 706m
Bakoven, Seepunt: 23 April 2022
Altesaam 19 stappers ontmoet mekaar op ‘n heerlike koel oggend by Queen’s parkeerarea in Seepunt. Kobus deel ‘n paar statistieke oor die eiendomme in hierdie area. Die duurste woning in Suid-Afrika, gedoop”Casablanca”, is tans gelys vir R545000000 (35 miljoen dollar). Dit is geleë in Kampsbaai. Die area is bekend vir luukse eiendomme en is veral gewild onder huiskopers van Gauteng. Ons begin 08:00 stap en volg die roete padlangs van waar ons die pragtige seeuitsig te geniet, asook so ‘n bietjie droom oor al die mooi huise langs die pad. By Bakoven draai ons af see se kant toe en nuttig ontbyt op die groot rotse oorkant die Nasionale Seereddingsinstituut. Ons gesels lekker en neem ‘n paar foto’s. Desire vermaak ons op pad terug na die motors met ‘n demonstrasierit op ‘n geleende elektroniese skopfiets! Ongelukkig het niemand kans gesien vir die yskoue water nie en het die swembroeke in die rugsakke gebly. Ongeveer 11h35 is almal veilig terug by die motors. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 60 m.
Landdroskop: 1-2 Mei 2022
Altesaam 12 van ons het die Saterdagoggend by die Nuweberg-natuurreservaat buite Grabouw bymekaar gekom vir die Landdroskop-naweekstap. Vir baie van ons was dit die eerste oornagstap met ‘n groot rugsak vir die jaar (maar op die ou end pak mens net so swaar vir ‘n naweekstap as vir ‘n vyfdagstap oor al die ‘creature comforts’ wat ook moet saam, wat in hierdie geval vleis vir die aand se braai ingesluit het). Die eerste deel van die stap is opdraand met ‘n jeeppad tot by ‘n kol bome waar ons ontbyt geëet het. Dan draai ons af op die stappaadjie en klim ons geleidelik tot by ‘n punt waar jy die hut kan sien as jy weet waar om te kyk. Ons eet middagete in een van die klipklofies en pak dan die laaste deel op die kontoer tot by die hut aan (wat altyd verder is as wat dit lyk). Ons kom vroegmiddag by die hut aan en sit buite rond in die son met sop, tee, koffie of iets dergliks. Die aand maak ons ‘n groot vuur in die hut, en braai en kuier lekker. Die volgende oggend is dit meestal afdraand. Ons stop by die ‘Smiley Face’ rots vir foto’s en drink agterna koffie by die Zipline-mense se koffie shoppie. Die voordele van hierdie stap is dat dit mooi en naby aan die Kaap is, goeie oefening bied sonder om ekstreem te wees, en ‘n gesellige oornaghut het. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en aan Beulagh Keulder vir die stapleiding. Klimhoogte: 700 m.
Olive Glen: Saterdag 28 Mei 2022
Die groep van 20 kom om 07:30 bymekaar en ons handel die admin af. Dis koelerig en reën word eers vir die middag voorspel. Ons is gewapen met reënbaadjies en een stapper het selfs ‘n sambreel! Dis ‘n stywe klim tot by die nek – ons vorder goed en neem gereeld ‘n 5-minute staan-breek. Ons kry druppels reën maar niks wat ons keer om voort te stap. Ons hou ‘n kort teetyd en teen ongeveer 11:00 is ons by Castle Rock wat dan ook ons draaipunt is. Die uitsig na die Wemmershoek-dam is pragtig. Toe ons egter opstaan na ons breek begin dit toetrek en ons besluit om maar vinnig te stap want niemand wil regtig natreën nie. Ons het goeie uitsigte gehad met die afkom. Ons het weer ‘n kort middagete op pad af gehad en toe ons onder by die motors aankom, staan Avril (eienaar) en wag vir ons met heerlike warm HOT CHOCOLATE. Avril vertel ons bietjie meer van die plaas se geskiedenis. Teen 13:30 is ons klaar en almal het net begin groet en toe sak reën uit! Baie dankie aan Brenda Sideratos en Werner Booyens vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte = 510m.
HOE OM STAPGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant en tjekbetalings in die “74-rekening” slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
- Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)
HOE OM LEDEGELD TE BETAAL
- Internetbetalings in die “62-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Kontant per OTM en tjekbetalings in die “74-rekening”: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
- Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
- Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)
LIDMAATSKAP VIR 2022
R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.
BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN JUNIE VERJAAR
Gerhard Koen (2 Junie), Carlo Eek (3 Junie), Madré Conradie (5 Junie), Emil Boeke (8 Junie), Carina Liebenberg (9 Junie), Mariëtte van Wyk (13 Junie), Marius le Grange (13 Junie), Shireen Swain (14 Junie), Elana Swart (14 Junie), Elisma Maree (15 Junie), Melanie Coetzee (16 Junie), Danie Pienaar (19 Junie), Marlene van Deventer (20 Junie), Amber Zandberg (21 Junie), Hannes Hough (21 Junie), Chantelle Smit (22 Junie), Deon Meyer (23 Junie), Jobet le Riche (25 Junie), Angela de Roubaix (26 Junie), Maresa Kriel (28 Junie) en Christine McIntosh (30 Junie). (Laat weet asb as ons per ongeluk iemand se naam uitgelaat het.)
LAAT MENS DINK
“To travel, to experience and to learn: that is to live.” – Tenzing Norgay
KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE
E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.)
Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand
