~ 10 Maart 2022: Plek oop op Oudekraal Ravine | Muratie-volmaan Woens 16 Mrt | Rooiheuwel 19 Mrt

Dagsê

NUUS EN STAPSAKE

  • Wysigings aan die stapprogram: Die Muratie-volmaanstap is nou op Woensdagaand 16 Maart (en nie Vrydagaand 18 Maart soos ons aanvanklik beplan het nie). Muratie het die datum vroeër geskuif sodat ons nie so lank hoef te wag tussen sonsak en maanopkoms nie. Dit is heerlik om op die koppie te sit en kyk hoe die son sak en die maan opkom – ‘n stukkie vrede in die middel van die week. Kry die besonderhede hieronder en bespreek by Amanda Matthee by 0825703895 voor 12:00 op Maandag 14 Maart sodat ons die permitte (R100 pp) kan koop. Let ook daarop dat Rooiheuwelpiek nou na Saterdag 19 Maart toe skuif, wat beteken jy kan nou reeds jou plek by Niel en Sharon Visser by 076 992 3375 bespreek.
  • Nuwe bestuur se portefeuljes: Hier is 2022 se bestuurslede met hul portefeuljes: Amanda Matthee (voorsitter, stapprogramkoördineerder, nuusbrief), Steph du Toit (ondervoorsitter, sekretaris, lidmaatskap, lojaliteitsprogram), André Venter (tesourier), Werner Dalziel (programnavorsing, statistiek), Ilse Marais (klubfunksies), Niel Visser (programnavorsing) en Wynand Krause (programnavorsing). Ons het ook gekoöpteerde bestuurslede, soos Abrie Marais wat ons webwerf hanteer, Sharon Visser wat stapklub se WhatsApp-groep administreer, en Mariana du Toit wat ons noodhulpsakkies gereeld nagaan.
  • Weet jy van nuwe stappe? As jy deur die loop van die jaar van nuwe stappe hoor, laat weet gerus vir Niel Visser by nielvisser@mweb.co.za. Dit sal ons help met die beplanning van volgende jaar se stapprogram.
  • Ons simpatie: Ons innige meegevoel aan ons ondervoorsitter, Steph du Toit, wie se suster wat op Moorreesburg gewoon het, Dinsdag onverwags oorlede is. Ons wens Steph en sy familie baie sterkte toe in hierdie hartseer tyd.
  • Covid-19 reëls: Covid-19 reëls geld op al ons stappe – afstandhouding, maskers en hande ontsmet; moenie kom stap as jy siek voel of in kontak was met mense wat Covid-19 het nie.
  • Stapverslae: Kry stapverslae vir Kleinmond, die Danie Miller-staproete, Leeukop-kontoerpad, Klipspringerroete, Tafelberg Disas (moeilike roete), Tafelberg Disas (maklike stap), Bergrivierdam by Franschhoek, Franskraal-naweek, Banhoek (Volstruiskloof, Eikenhofkloof en Dragoon Buttress), en Grotto Bay (Weskus) hieronder.

VOLGENDE SARSIE STAPPE

OUDEKRAAL RAVINE, TAFELBERG – SATERDAG 12 MAART 2022

Bespreek nou – nog 3 plekke oop

Beginpunt- en tyd: 07:30 by die Theresa Avenue jeep track in Bakoven – sien  https://goo.gl/maps/jsiotDDBhj12. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 2B (veeleisend, 12 km): Groepgrootte: 15. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens.Maak seker jy het genoeg warm klere en maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R80. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste.

Werner sê: Ons begin in Theresaweg en stap met die Pipetrack langs verby Corridor Ravine se afdraai totdat ons by Oudekraal Ravine se afdraai kom. Dan stap ons met hierdie steil maar baie mooi ravyn op tot bo-op Tafelberg se agterste tafel. (Ons het ‘n vorige keer hier ‘n enorme groot Himalaja tahr gesien.) Ons stap ‘n ent op die agterste tafel en dan met Corridor Ravine af tot weer op die Pipetrack en dan terug tot by die motors. ʼn Baie mooi en moeite-werd dagstap.

MURATIE, VOLMAANSTAP – WOENSDAGMIDDAG LAAT OP 16 MAART 2022

Bespreek voor 12:00 op Maandag 14 Maart (sodat ons die permitte kan koop)

Beginpunt- en tyd: 17:30 by die Dirtopia Trail Centre op die plaas Muratiebuite Stellenbosch. Stapleier: Amanda Matthee by 0825703895. Graad: 2A (maklik, geleidelike opdraand en afdraand; 4 km): Groepgrootte: 20. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, FLITSLIG, ens. Ook iets soos piekniekkombers om op te sit. Koste: Permit R100 per persoon. Brandstofdonasie R60. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). (Daar was laas wyn te koop bo-op die koppie teen R30 per glas.)

Amanda sê: Die son sak om 19:00 en die maan kom teen 19:26 op (maar verskyn eers ‘n rukkie later agter Simonsberg). Hier is nog inligting: This hiking trail has been constructed by Dirtopia, and runs from the Trail Centre at Muratie wine farm to a look-out point with spectacular views of the Winelands. See the sunset over Table Mountain in the distance and the moon rise on Simonsberg side, while enjoying a wonderful adventure with friends and family. The circle route is approximately 3.5 km, and it can take you 30 to 45 minutes to reach the top, so do not arrive later than 18:45 to ensure that you have the full experience. Bring a blanket to sit on while you wait for the sunset / moonrise under the watchful eye of Simonsberg. The look-out point is called Gilloolys where you can enjoy your packed picnic. Snacks & drinks for sale at the Trail Centre where you collect you permit on arrival. You can be back at the Trail Centre between 20h00/20h30, depending on your walking speed and the time you start going down. Bring something warm to wear after dark and a torch, but there are also some torches available at the Trail Centre. Wear good walking / hiking shoes – you are climbing a mountain with steps and various terrain. Sien ook www.dirtopia.co.za/index.php/full-moon-a-sunset-hikes.

ROOIHEUWELPIEK, BOTRIVIER – SATERDAG 19 MAART 2022

Bespreek nou

Beginpunt- en tyd: 08:00 by Rooiheuwel Noord. Besprekings: Niel en Sharon Visser by 076 992 3375. Stapleier: Niel Visser. Graad: 2B (redelik, sowat 10 km). Groepgrootte. Onbeperk. Inpak. Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, ens. Koste.Permit R40. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Brandstofdonasie R165.

Niel en Sharon sê: Ons ry deur Botrivier na Van der Stel Pass waarvandaan ons links draai na Rooiheuwel Noord en by die gastehuisies parkeer. Ons begin stap op die paadjie agter Rooiheuwel Noord na Sentinel Hill. Na Sentinel Hill raak die paadjie steil met pragtige uitsigte in alle rigtings. Na die lekker lang opdraend bereik ons die koppie waar ons middagete geniet met uitsigte oor Houwhoek-vallei en Highlands. Na middagete neem ons dieselfde roete terug na Rooiheuwel Noord. Na die stap kan ons iets koels gaan drink by die Shunting Shed vir die wat wil.

WYNKELDERSTAP: ANTHONIJ RUPERT WYNE, FRANSCHHOEK – SATERDAG 26 MAART 2022

Bespreek vanaf Maandag 14 Maart

Beginpunt- en tyd: Terra del Capo proelokaal, Anthonij Rupert Wynlandgoed, Franschhoek, om 09:00. Besprekings: Steph du Toit by 082 851 9953. Graad: 1A (redelik)

Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, windjekker, ens. Koste: R150 per persoon (koffie by die beginpunt, ‘n bottel water, stappermit en wynproe). Brandstofdonasie R70. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Steph sê: As jy verlede jaar die wyntoer by die pragtige Anthonij Rupert Wynlandgoed buite Franschhoek gemis het, is hier nog ‘n kans om dit te doen. Ons kom om 09:00 by die Terra del Capo-proelokaal op die plaas bymekaar en begin met koffie en ‘n verwelkomingspraatjie. Daarna stap ons oor die koppie verby die Kwaaibynes-dam en deur die wingerde tot by die Terra del Capo-wynkelder. Die wynproe by die kelder begin om 10:45 en sluit die proe van 7 Cape of Good Hope-wyne in. Om 11:45 laai die trem ons op om ons terug te neem na die proelokaal. Daarna kan ons middagete by die Antipasti Bar geniet (vir eie rekening – die meeste van die antipasti-bordjies is rondom R85; ons moet vooraf laat weet hoeveel vir middagete wil bespreek). Die stap-en-wynproe-kombinasie is spesiaal vir ons gereël omdat hulle nie gewoonlik stappers op die plaas toelaat nie. Dit is regtig ‘n besonderse ervaring.

KOGELBERG BY BETTIESBAAISATERDAG 9 APRIL 2022

Bespreek vanaf Maandag 28 Maart

Beginpunt- en tyd: 07:00 by Kogelberg-Natuurreservaat. Stapleier: Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 3A, lank en redelik maar nie groot klimhoogte nie, 24 km (8 uur). Groepgrootte: 16. Inpak

Dagsakkie met eetgoed, water, windjekker, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Permit R60 / Wildcard. Brandstofdonasie R160 (110 km x 2 = 220 km). Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: Die Kogelberg-Natuurreservaat by Kleinmond lê in die hartjie van die Kaapse Blommeryk en bevat sowat 1 600 plantspesies. Kogelberg is die eerste amptelike biosfeer wat in SA geproklameer is. Die roete loop oor die hange bokant Oudebosrivier, verby Oudebosch na Platbos en ‘n kol oorblywende inheemse woud. Van Platbos volg die roete die een oorblywende spoor van ‘n viertrekpad na Louwsbos en volg dan die loop van die Louwsrivier voor ons langs die oostelike hange van Dwarsberg met die Palmietrivier-roete na die beginpunt terugkeer.

D’ARIA-WINGERDE, DURBANVILLE – SATERDAG 23 APRIL 2022

Bespreek vanaf Maandag 11 April

Beginpunt- en tyd: 07:30 by D’Aria. Stapleier: Edna en Kobus Terblanche by 082 379 3171. Graad

2A, sowat 12 km: Groepgrootte: 16. Inpak: Dagsakkie met eetgoed, water, windjekker, ens. Maak gereed vir enige weersomstandighede. Koste: Brandstofdonasie R20. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker). Geen permitkoste nie.

Kobus en Edna sê: ‘n Lekker stap tussen die wingerde deur en oor die koppies by D’Aria net buitekant Durbanville. Goeie oefening hier op ons drumpel.

ANTJIE SE PAD (tussen Kareedouw en Humansdorp) – SATERDAG 23 – VRYDAG 29 APRIL 2022 (rydatums ingesluit)

Bespreek nou

Beginpunt: Op plaas Witteklip in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof. Stapleier: Amanda Matthee by 082 570 3895. Graad: 2B, 62 km oor 5 dae, veeleisend maar nie tegnies moeilik nie. Groepgrootte: 12. Inpak: Oornagstap met hutte. Maak gereed vir enige soort weersomstandighede. Koste: Permit R1170 (permit en verblyf voor en na die stap). Brandstofdonasie R1450 (646 km x 2 = 1292 km). Adminheffing R25 (lid) / R50 (besoeker).

Amanda sê: Hierdie 5-dagroete van sowat 62 km in die Kougaberge in die oostelike deel van die Baviaanskloof (45 km vanaf Kareedouw en 55 km vanaf Humansdorp) begin op die plaas Witteklip. Die roete is bekend vir sy fynbos en proteas, aalwyne en Karoo-agtige landskappe, en ongelooflike mooi uitsigte. Die moeilikheidsgraad word as 2B aangegee. Die terrein is heuwelagtig met stewige opdraandes en afdraandes maar die klimme is almal net sowat 300 m klimhoogte op ‘n slag (Tafelberg 670m klimhoogte).

Ons vertrek vroeg die Saterdagoggend en ry na die plaas Witteklip (45 km vanaf Kareedouw – draai af op die R62 sowat 20 km oos van Kareedouw, ry 25 km verder aan op grondpad tot by Witteklip-konferensiesentrum waar ons oornag). Ons bly ook die aand na die stap hier voor ons die volgende oggend die pad terugneem Kaap toe.

Dag 1: 16.06 km – Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut) tot by Watervalhut

Dag 2: 12.5 km – Slaap weer by Watervalhut

Dag 3: 10.76 km – Watervalhut tot by Slagkamerhut

Dag 4: 11.82 km – Slaap weer by Slagkamerhut

Dag 5: 10.67 km – Slaap weer by Witteklip-konferensiesentrum (oornaghut)

Vir inpak: Soos vir ‘n 5-dagstap met oornaghutte met matrasse. Daar is spoeltoilette en ‘n warmwaterstort by al die hutte. Geen elektrisiteit by hutte nie. (Geen kerse nie as gevolg van brandgevaar.)

Meer oor Antjie se Pad: Antjie se Pad was named after a certain Antjie Stuurman who worked on the farm in the 1930s. Every day, she walked about 10 km over a hill called Blouberg to reach

the Witteklip farmstead. Antjie se Pad was started to help fund our other NGO – Living

Water Ministries. Living Water Ministries holds leadership camp for underprivileged children at no cost. Through this we wish to encourage the next generation in leadership. We believe that equipping the young with essential qualities will make all the difference in days to come. We sow into these children’s lives and know that the harvest will be bountiful. Living Water also focuses on teaching the children good

moral values. When you support Antjie se Pad, you are supporting so much more. Of course, Antjie se Pad has its own unique experience to offer. With a great workout and amazing scenes – true tranquillity.

Kry ook meer inligting oor die roete by http://www.antjiesepad.co.za/index.htm en op Facebook by Antjie Se Pad. Mooi lapwapentjies te koop teen R100 elk.

HELDERBERG: WESPIEK – SATERDAG 7 MEI 2020

Bespreek vanaf Maandag 25 April

Beginpunt: 08:00 by Helderberg Natuurreservaat, Somerset-Wes. Stapleier:Werner Dalziel by 082 579 0968. Graad: 3C (sowat 12 km / 7 uur) – veeleisend. Groepgrootte: Onbeperk. Inpak: Dagsakkie met kos, water, sonbeskerming, reënbaadjie, ens. Koste: R25 hekgeld per persoon plus R15 per voertuig. R70 brandstofdonasie. Adminheffing R5 (lid) / R10 (besoeker).

Werner sê: ‘n Stewige dagstap wat by die Helderberg Natuurreservaat begin. Ons stap eers tot op die saaltjie en dan tot op die Wespiek (1003 m) vir ‘n fantastiese uitsig oor die see tot by Kaappunt en omringende berge. Ons sal ‘n behoorlike middete bo by die piek eet om die uitsig te geniet.

GROOTVADERSBOS, HEIDELBERG – VRYDAGMIDDAG 13 – SONDAG 15 MEI 2022

Volbespreek

Besprekings: Brenda Sideratos by 072 122 5216. Stapleiers: Brenda Sideratos en Werner Booyens. Graad: 2B (kampnaweek met 2 dagstappe – 15 km en 10 km). Groepgrootte: 12. Inpak: Kamp Vrydagaand en Saterdagaand in tentjies by die Grootvadersbos-natuurreservaat. Braai albei aande. Doen 2 dagstappe. Maak gereed vir enige soort weer. Koste: Kamp en braaihout sowat R170 per persoon. Stappermitte R100 vir 2 dagstappe (of gratis as jy Wildcard het). Adminheffing R10 (lid) / R20 (besoeker). Voorgestelde brandstofdonasie R600 (2 x 267 km = 534 km) (uitgewerk vir gemiddelde voertuig met 3 mense, maar net die 2 passasiers betaal).

Werner en Brenda sê: Die Grootvadersbosch Natuurreservaat lê in die Langeberge sowat 22 km noordwes van Heidelberg. Ons ry die Vrydagmiddag met die N2 tot verby Swellendam. Net ná Buffeljags draai ons links in Suurbraak se rigting (R324). Grootvadersbosch se kampterrein is sowat 22 km vanaf hierdie afdraai. Dit is waar ons vir die naweek kamp. Braai albei aande. Saterdag: Grysbok-sirkelroete (15 km, 5 tot 6 uur): The Grysboksirkel is a tougher hike, taking you out of the forest-covered valley, up the mountainside through the fynbos area, and on to the ridge of the hills bordering the Boosmansbos Wilderness Area. The hike is a loop and will bring you back to the reserve road. Sondag: Bosbok-roete (10 km, 3 tot 4 uur): This beautiful route wanders through mountain fynbos and indigenous forest, providing a shaded and relatively easy hike for all ages. The route loops in and around the indigenous forest, affording hikers the opportunity to visit both bird hides in the forest, as well as taking them past most of the tree species in the reserve. Pak rustig op en ry terug Kaap toe.

STAPVERSLAE

Kleinmond: 8 Januarie 2022

Agt van ons kom lekker vroeg die oggend by Kleinmond se stand bymekaar. Ons is bietjie bekommered oor die weer, want dit is bietjie koud en lyk reënerig. Ons handel egter die admin af en pak die roete aan. Ons stap al seelangs, verby die hawe, tot amper by die mond van die Palmietrivier. Hier draai ons binneland toe en stap al met die oewer van die rivier langs tot by die R44 se brug. Dit begin al lekker warm word en ons soek vir ons ‘n gaatjie langs die rivier. Van ons klim in die water om ‘n bietjie af te koel. Nadat meeste van ons ‘n bietjie afgekoel het pak ons die res van die roete aan, aan die oorkantste oewer van die rivier. Ons stap tot by mond waar ons deur die diep water moet loop om tot op die strand te kom. Ons soek vir ons ‘n gaatjie op die sand en van ons druk ons voete in die seewater. Dis egter yskoud en swem is nie ‘n opsie nie. Hierna pak ons toe dieselfde roete terug aan tot by Kleinmond se strand. Ons stop egter lekker halfpad by die hawe vir ‘n koeldrank of roomys. Baie dankie aan Werner Dalziel vir al die reëlings en voor die voorloop. Klimhoogte: 61m.

Danie Miller-staproete, Gordonsbaai: 15 Januarie 2022

Altesaam 17 van ons kom om 07:30 bymekaar op die parkeerplek oorkant Talla’sTavern in Gordonsbaai. Nadat die admin en ander formaliteite afgehandel is, beginons om 7:40 te stap. Ons loop deur die dorp met Kusweg, Sir Lowrystraat, Boundaryweg (lekkersteil), Chapmanlaan en Auroraweg om by die beginpunt van die Danie Miller-staproete uit te kom. Dáár word eers foto’s geneem in die laaste skaduwee voordat ons die roete aanpak. Ons vorder goed maar beland in ‘n stadium op ‘n stukkie pad wat maar rof is voordat ons weer op die regte paadjie beland. Volgens ‘n ander stapper wat daar verby kom moes ons ‘n entjie vroeër die paadjie links van ‘n groot klip geneem het pleks van regs. Ons stop by die bekende GB (Generaal Botha) klipformasie vir ‘n versnappering. Die laaste gedeelte is redelik maklik en ons verlaat die berg by die bekende Walvis-uitkykpunt. Van daar stap ons via Bikini Beach terug na die parkeerplek by Talla’sTavern. ‘n Klompie van ons gaan eet iets lig en/of drink ietsie koel by Talla’s Tavern. Hoogte gewen: 210m. Baie dankie aan Steph en Mariana du Toit vir die stapreëlings en stapleiding!

Leeukop-kontoerpad: 22 Januarie 2022

Elf volwassenes en twee kinders het op 22 Januarie by die Kloofnekparkeerterrein bymekaar gekom. Temperature van in die hoë 30’s tot vroeë 40’s is vir die dag voorspel. Nadat die administrasie afgehandel is, doen Niel vir ons ‘n gebed. Ons begin stap met die kwik wat reeds op 30 grade Celsius staan. Die paadjie teen die eerste bult is effe steil, en ons besef vinnig ons gaan vandag moet stap om klaar te kry. Die hitte is voelbaar vanuit die grond en in die lug om ons. Gelukkig waai daar ‘n effense windjie wat help om die sweet te laat verdamp. Ons stap verby die Seinheuwel-kramat waaroor daar die volgende geskryf is: “The circle of Kramats in Cape Town is a shrine to Muslim holy men buried in Cape Town. Legend goes that it is this circle that protects Cape Town from earthquakes and national disasters. Kramats or Mazaars, the holy shrines of Islam, mark the graves of Holy Men of the Muslim faith who have died at the Cape. There are more than 20 recognised kramats in the Peninsula area, with at least another three in the outlying districts of Faure, Caledon, Rawsonville and Bains Kloof” (https://www.sahistory.org.za/place/circle-kramats-cape-town). Ons sien etlike ander grafte langs die pad soos wat ons op beweeg tot by die skermsweefarea op Seinheuwel. Hier sit ‘n paar mense lui rond en die skermsweefspan wag ongeduldig vir die wind om op te kom sodat hulle toeriste en plaaslike mense op ‘n skermsweef-avontuur kan uitneem. Ons rus vir sowat 10 minute onder die bome voordat ons die laaste deel van die roete aandurf. Dit is vinnig besig om ernstig warm te raak. Met die vele afdraaipaadjies en baie gesels mis ons toe die eerste afdraai na die kontoerpad. Ons stap toe maar weer tot by die kramat om daar die kontoerpad te kry. Ons stap tussen bloekombome bokant pragtige huise, met Robbeneiland in die verte en die wye blou see wat voor ons uitstrek. Onder ons lê Clifton se strand, vol gepak met swemmers en strandgangers wat lafenis in die koel water soek. Ons rus weer ‘n rukkie onder die bome voordat ons terugkeer na ons motors toe. Die kwik sê 38 grade Celsius, en almal is haastig om lafenis in die see of ‘n swembad te gaan vind. Baie dankie aan Estelle Smuts vir die reëlings en stapleiding, en aan Michael Smuts wat die agterstapper was, en ook aan elke stapper wat die hitte getrotseer het om saam te stap. Volgende keer durf ons die skermsweef aan! Klimhoogte: 262 m.

Klipspringerroete, Kogelbaai: 29 Januarie 2022

Die maklike kombinasie van berg en see stap begin met ‘n 50m klim en al 15 stappers is sommer vinnig bo waar ons eers asem skep met ‘n lifelike Uitsig oor Kogelbaai, met Kaappunt wat ook in die mis sigbaar is. Die paadjie loop dan kronkelend teen die voet van die berg totdat ons die jeeptrack na die dam kry. Ons draai dan regs af om by die see uit te kom. Eers moet ons die grootpad kruis en kruip ons dan om ‘n paal teen die heining en hek van Klippiesbaai waar ons op die rotse gaan sit vir ontbyt. Ons begin dan die los sand van Kogelbaai aandurf. Die verskillende bloue van die see skep ‘n pragtige prentjie. Groterige klippe sorg vir so bietjie mooi trap totdat ons anderkant by Dappat se Gat uitkom. Hier is ‘n paar dapperes wat die kruisstrome, koue water en rowwe see trotseer. Die ander kruip rond in die grotte en neem ‘n klomp foto’s. Niel vertel van die legende van Dappat se Gat, en daarna begin ons terugstap. Van ons moet rats om die rotse hardloop om die branders vry te spring wat intussen met die hooggety ingekom het. Ons loop weer oor die klippe en loop dan op na die kampterrein se pad vir die koelte. Ons was nie eerste daar nie, en moes dus hierdie stuk pad met ‘n trop bobbejane deel. Ons groet mekaar by die hoofhek van die kampterrein, en almal keer terug huis toe. Dankie aan al die stappers vir die lekker gesels en opvang met al die stories. Baie dankie aan Niel en Sharon vir al die reëlings en ook die stapleiding. Totale klimhoogte: 131 m.

Tafelberg Disas (moeilike roete): 5 Februarie 2022

Sewe van ons kom vroeg die oggend by Cecilia Forest se parkeerarea bymekaar. Nadat almal parkering gesoek het en die admin afgehandel is, val ons in die pad. Ons klim rustig tot op die kontoer voordat ons regs draai in die rigting van Skeleton Gorge. Daar aangekom klim ons stadig maar seker op in die kloof tot heel bo waar ons ‘n welverdiende ruskans vat om asem te skep en om ‘n ietsie te eet om die energievlakke te herstel. Hiervandaan stap ons met die Smuts Track tot by Window Gorge waar ons die eerste disas gewaar en foto’s word geneem. Ons stap aan tot by die akwaduk waar ons nog baie disas gewaar en nog foto’s word geneem nadat ons eers bietjie onder die waterval afgekoel het. Ons stap aan tot by die volgende waterval waar daar ‘n alternatiewe roete is oor na Echo Valley. Ons neem eers nog foto’s by die waterval en hier kom ons ook die “maklike” groep stappers teë. Ons stap aan in die rigting van Echo Valley terwyl ons nog disas langs die pad gewaar. Ons stap verder via die Valley of Isolation waar ons dan middagete geniet by die oorhangrots wat uitkyk op die damme. Hier kon ons weer die “maklike” groep sien en spioeneer so bietjie op hulle. Ons stap aan na ete in die rigting van Ash Valley voordat ons uiteindelik by Cecilia Ridge aankom en hierdie baie steil paadjie aanpak na onder. Dit gaan maar stadig en versigtig en jy moet mooi trap. Die hitte begin ook sy tol eis. By die kontoer aangekom rus ons ‘n oomblik voordat ons aanstap na Cecilia Waterval. Ons is heeltemal alleen daar en almal maak ‘n draai onder die waterval om ordentlik af te koel. Ons stap aan onder die bome tot terug by die motors. ‘n Lekker warm uitdagende stap wara die afstand en klimhoogte saam boekdele spreek. Baie dankie aan Werner Dalziel vir hierdie stapleiding. Klimhoogte: 975m.

Tafelberg Disas (maklike stap): 5 Februarie 2022

Altesaam 16 van ons het Saterdag 5 Februarie 2022 om 07:00 by Constantianek bymekaar gekom om disas te gaan kyk. Ons het in die vroegoggend koelte tot ons voordeel benut en die “trappe”-pad tot bo by die jeeppad geneem, en toe tot by die Woodhead-dam op die agterste tafel gestap waar ons onder die bome ontbyt geëet het. Van daar af het ons oor die damwal gestap en toe koers gekies in Disakloof op. Ons het sommer gou op die eerste disas afgekom. Dit maak nie saak of dit die eerste of hoeveelste keer is wat jy ‘n disa sien nie, dit bly spesiaal. ‘n Klompie het opgestap na die akwaduk (waar hulle Werner se “extreme” stappers gekry het) terwyl die res nog ‘n rukkie by die stroom gebly het en toe in die koelte van die Hely-Hutchinson-damwal gaan skuiling soek het teen Februarie se hitte. Ons is toe almal weer met dieselfde pad ondertoe. (Ons moet in die toekoms onthou dat die twee krane op die berg nie meer werk nie en dat ons genoeg water saamdra.) Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand 15 km; klimhoogte 668 meter.

Bergrivierdam, Franschhoek: 18 Februarie 2022

Altesaam 18 van ons kom by die hek by die boonste punt van die Bergrivierdam bymekaar. Na die admin afgehandel is begin ons te stap. Ons stap eers al aan die voet van Matoppie langs aan die oostelike oewer van die Bergrivierdam voordat ons links draai om onder die damwal die Bergrivier oor te steek. Hier trek paar skoene uit en ander stap sommer net deur. Ons breek vir ‘n oomblik voordat ons verder stap en eers nog ‘n tak van die rivier moet oorsteek. Ons klim aan die oorkanste oewer van die dam uit en ons begin die hitte te voel. Ons stap al langs die westelike oewer langs en soms raak die paadjie maar bietjie weg. Ons kom aan by Wolwekloof waar ons middagete geniet en bietjie in die dam swem. Die “sandmonster” (dryfsand) vang ‘n hele paar van ons uit en ons sink weg in die sand tot bo die knieë. Na middagete stap ons al langs die suidelike oewer van die dam langs tot ons uiteindelik by die keerwal (weir) uitkom. Van die stappers besluit om deur te druk tot by motors, maar die res van ons will eers weer bietjie afkoel. Ons almal gaan lê lekker in die rivier en koel af. Daarna die stap al die pad terug tot by die motors. Lank en warm, maar genotvol. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Klimhoogte: 245m.

Franskraal-naweek: 18-20 Februarie 2022

Vrydag arriveer 13 stappers by Strandskloof-woonwapark net buite Franskraal. Braaivleisvure word aangesteek en, ten spyte van stormwinde braai en gesels ons lekker om die vuur. Saterdag om 07:45 vertrek 10 stappers na ‘n splinternuwe roete wat die klub nog nooit gestap het nie. By Platbos betaal ons permitte en wandel deur die pragtige ou bos wat deur ‘n familie hervestig word. Permitgeld word gebruik vir die resourasie van die bos, asook hervestiging van die oorspronklike plantegroei. Ons kom af op ‘n houtstruktuur met 3 vlakke wat gebruik kan word om die bos se voëls te bestudeer. Ons stap verby vele Witstinkhoutbome asook ‘n paar bome waarvan die geskatte ouderdom van elk sowat 1000 jaar is. Volgende kies ons koers na die nabygeleë berg. ‘n Stywe, steil klipperige pad neem ons deur ‘n fynbosarea tot bo-op Tafelberg. Nou-ja, dit is beslis nie die “Tafelberg” wat ons almal so goed ken nie! Ons gebruik ons verbeelding en probeer verstaan waarom die omgewing se mense hierdie naam gekies het. Hier geniet ons ‘n blaaskans en ietsie te ete, terwyl ons die omgewing bewonder. Die pragtige uitsigte van berg, see, rivier, ons kampeerarea ver onder, Lomond-plaas met sy massiewe dam en ook die vars reuk van die veld. Ons stap terug, nou darem bult af! Onder volg ons die pad deur die res van Platbos tot by die motors. Nadat almal in die swembad by die kamp afgekoel het, vertrek ál 13 van ons na Lomond en geniet ‘n heerlike “plankieete”. Die middag word weer geswem en gebraai. Vrydag en Saterdagaand het ‘n paar van ons in die warmswembad ontspan. Sondag vertrek 11 stappers om 07:45 na Stanford’s Cove en stap al kuslangs in die rigting van De Kelders. Ons geniet die seebriesie en die pragtige uitsigte oor die see en rotsformasies. Ons stap verby De Kelders en Duiwelsgat in die rigting van die bekende “Stal-grotte. Net bokant die grot geniet ons ‘n blaaskans en die kosblikke word uitgehaal. Ons stap rustig terug motors toe. By Franskraal koel ons af met ‘n welverdiende draairoomys van elkeen se keuse. Dankie aan almal wat hierdie kamp bygewoon het – ek en Kobus waardeer jul samewerking. ‘n Groot dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die reëlings vir die naweek!

Banhoek (Volstruiskloof, Eikenhofkloof en Dragoon Buttress): 26 Februarie 2022

Agt van ons kom lekker vroeg in Banhoek bymekaar vir ‘n stap wat voorlê. Na die admin afgehandel is begin ons te stap in die rigting van Volstruiskloof. Na ‘n lekker opdraand en ‘n waaghalsige ketting-klou episode kom ons in die kloof aan. Party van ons swem en van ons trek skoene uit vir ‘n bietjie lafenis in die koue water. Na ‘n lekker ruskansie loop ons net om die draai tot by Eikenhofkloof. Ons besluit om eers op te klim tot bo-op Dragoon Buttress om die ergste klim agter die rug te kry voordat die dag se hitte arriveer. Die uitsigte vanaf Dragoon Buttrress is asemrowend. Mens kan die hele Kylemore en Pniel area sien en uitsigte op Simonsberg. Ons vertoef so rukkie hier. Ons stap toe terug af in Eikenhofkloof en vat die paadjie tot by die tweede waterval. Hier is van ons weer in die water in vir die laaste afkoel. Na ‘n lekker middagete stap ons met die paadjie terug tot by die motors. Uit en uit ‘n baie mooi stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en die stapleiding. Klimhoogte: 750m.

Grotto Bay, Weskus: 5 Maart 2022

Vroeg Saterdagoggend het ‘n stewige groep van 33 stappers by die Conservation Centre binne Grotto Bay Estate bymekaar gekom om die Volstruis-sirkelroete wat deur die reservaat loop, aan te durf. Ons mis eers die beginpunt met so 100 meter, maar daarna vind die nuweling-stapleiers wel hul voete (of altans die pad waarop daardie voete moet stap)! Die eerste gedeelte van die stap neem ons deur die strandveld se fynbos. In ‘n stadium hardloop ‘n volstruis so ‘n entjie voor ons in die paadjie, asof om aan te dui ons loop op sy roete! By die kurkdroë Modderrivier draai ons seewaarts, met die dikker sand wat so bietjie meer van ‘n uitdaging lewer. Ons haal die halfpadmerk waar die rivier die seemond en verpoos kortdaar naby ‘n rotsstapel vir iets te ete. ‘n Paar dapperes gaan baljaar vlugtig in die Atlantiese Oseaan se yskoue water. Met vol mae stap ons met die kuslyn af. Hierdie deel staan bekend as die Oystercatcher Trail en bied pragtige seeuitsigte met unieke rotsformasies. Die klim en klouter oor rotse verloop heel gemaklik en die eb-gety speel saam. Ons loop verby ‘n paar vissers (nie Sharon en Niel nie!) op die rotse, wat beduie dat die visse maar traag is om te byt. Daarna kom ons by ‘n “spookstrandhuis” met graffiti oral teen die mure. Hier word Esther Warnich se1,000 totale km-mylpaal, wat sy op die roete bereik het, summier met ‘n slukkie vonkelwyn gevier. Intussen speel die groep lekker saam om die geheime leuse (“Walk4joy”) te ontsyfer en op hul kaartjies in te vul –enkeles verwar ‘n 4 met ‘n 2 of Warnich met Booyens, maar feitlik almal kry dit wel op die ou ent reg. Die laaste deel draai ons weer binnelands, loop verby Grotto Bay Estate se spoghuise, verdwaal amper weer hier kort voor die eindstreep, maar bereik almal die motors met ons litte goed los. Magda Kritzinger Le Roux wen die “lucky draw” prys en ‘n houtmedalje/yskasmagneet daarmee saam. Sowat die helfte van die groep gaan nuttig daarna ‘n happie of twee by Groote Post en party beproef die landgoed se lekker wyne. Dankie aan almal – dit was vir my (Freddie) en Susan ‘n plesier om julle aan boord te hê. Gelukkig was daar meer blaf as byt in hierdie roete! 10(9.4) km is afgelê en ons het selfs 86m hoogte bygevoeg. ‘n Groot dankie aan Freddie en Susan Pohl vir hul puik reëlings, entoesiasme en stapleiding! Klimhoogte: 86 m.

HOE OM STAPGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant en tjekbetalings in die 74-rekening slegs by ‘n OTM (nie binne-in die tak nie asseblief): First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910
  • Inbetalingsbewys vir stapgeld: Stuur aan André Venter by andre@matimbers.co.za en aan die stapleier / staporganiseerder.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + die stap se naam (bv. Piet Pakstap Kaappunt)

HOE OM LEDEGELD TE BETAAL

  • Internetbetalings in die 62-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 62049730999. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Kontant per OTM en tjekbetalings in die 74-rekening: First National Bank. Rekeningnaam: Sanlam-Staptoerklub. Rekeningnommer: 74049732396. Tak: Civic Centre, Bellville. Takkode: 200910.
  • Inbetalingsbewys vir ledegeld: Stuur aan Steph du Toit by steph@essef.co.za en aan André Venter by andre@matimbers.co.za.
  • Verwysing by jou inbetaling: jou naam en van + ledegeld (bv. Piet Pakstap ledegeld)

LIDMAATSKAP VIR 2022

R100 vir die hooflid en R70 per gade en/of elke afhanklike kind bo 18. Elkeen moet ‘n lidmaatskapvorm invul. Lidmaatskap hou baie voordele in: Jy kry ’n stap-infrastruktuur met ‘n jaarprogram en stapleiers wat ervare is, voorkeur op besprekingslyste bo besoekers, ’n kleiner administratiewe heffing (R5 per dag teenoor R10 per dag vir besoekers), gereelde nuusbriewe en 10%-afslag by die Tygervallei-tak van Cape Union Mart en by die Willowbridge-tak van Outdoor Warehouse, en 20% afslag by Hi-Tec Access Park in Kuilsrivier (as jy jou ledekaartjie wys; afslag is vir alles behalwe elektroniese toerusting soos GPS’e). Die Stapklub se lidmaatskapvorm is by www.sanlamstaptoerklub.co.za.

BAIE GELUK AAN AL DIE LEDE WAT IN MAART VERJAAR

Werner Krause (4 Maart), Ina Marais (5 Maart), Estelle Britz (5 Maart), Marianne Wolstenholme (14 Maart), Selda de Lange (15 Maart), Henri Warnich (15 Maart), Gerrit Nortjé (15 Maart), Esmia Snyman (17 Maart), Anna-Yda Fourie (19 Maart), Koos Stander (21 Maart), Riana Barnard (22 Maart), Conrad Bence (22 Maart), Inge Schreve (27 Maart), George Smit (28 Maart) en André Venter (30 Maart). (Laat weet asb as ons jou naam per ongeluk uitgelaat het.)

LAAT MENS DINK

“I travel because I become uncomfortable being too comfortable.” – Salt in Your Hair

KLUB SE KONTAKBESONDERHEDE

E-pos: amandam@mweb.co.za | Selfoon: 0825703895. Web: www.sanlamstaptoerklub.co.za. Facebook: Sanlam-Staptoerklub Kaapstad. As jou kontakbesonderhede verander het, laat weet ons asseblief. (As jy nie meer ons e-nuus wil ontvang nie, Reply met “Kanselleer” in die onderwerpblokkie.) Van Sanlam-Staptoerklub se bestuur: Amanda, Steph, Ilse, André, Werner, Niel en Wynand