Stapverslae 2024

Muratie-volmaanstap: 14 Desember 2024

Altesaam ses van ons (‘n paar mense het gekanselleer) het laatmiddag op die plaas Muratie buite Stellenbosch opgedaag om hierdie maklike maar mooi stap aan te pak. Ons het die bult rustig uitgestap en bo-op die koppie vir ons sitplek gekry om die son te sien sak (“and the sun dropped into the ocean like a penny into the pocket of the night”) en die maan agter Simonsberg te sien opkom. Almal pak lekkerder-as-gewoonlik kos in want daar is mos tyd vir piekniek op die berg. Daar was ook ‘n wynstalletjie en van ons het ‘n glasie Muratie-wyn geniet. Dit was lekker om tyd te he om net te sit en die wêreld te bekyk want die uitsig vanaf die koppie is baie mooi. Ons het die terug tog aangepak net Nadat die volmaan opgekom het en kon nog sonder flitse onder kom. Party van ons het eers koffie gedrink voor ons huiswaarts gekeer het – daar is koffiestalletjie met goeie koffie by die eindpunt.
Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en stapleiding.
Klimhoogte 150 m.

Treinrit 2024 – 7 Desember 2024

Altesaam nege van ons het vroegoggend op die Kaapse stasie bymekaargekom – heel opgewonde om weer ‘n slag trein te ry. Ons plan van aksie: Ry met die blou Metrorail trein Kalkbaai toe (R9 per persoon), verken die wêreld daar, en kom weer terug (R5.50 per persoon). ‘n Hele klompie van ons was in ons studentejare laas op die Kaapse stasie. Die rit tussen Kaapstad en Kalkbaai neem net meer as 1 uur. Ons het die 08:00 trein soontoe geneem, sowat 3uur tyd gehad om die inheemse en boheemse winkeltjies in Kalkbaai te verken (mens moet van alles weet in die lewe) en iets te eet, en toe die 12:19 trein teruggeneem. Ons het almal saamgestem – dit was die beste R14.50 (treinkaartjie) wat ons in ‘n lang tyd uitgegee het.

Inside Guide sê die volgende oor Kalkbaai: “It was named one of The 12 Coolest Neighbourhoods Around The World by Forbes magazine, among international hotspots like Barcelona’s Sants, Washington’s Navy Yard and Amsterdam’s Noord, and outranking London’s Soho and NewYork’s Greenpoint in the process. After one visit to the quirky seaside village of Kalk Bay, it’s easy to understand why.” Mens sou ook by St James kon afklim, in die getypoel swem en Kalkbaai toe stap. Of op ‘n warm dag in die getypoel by die Brass Bell swem – daar is baie opsies. Dit is ‘n toer wat ons in die toekoms kan herhaal.(Die meeste van ons het in die Strandstraat-parkade geparkeer. Dit was duur, maar dan weet mens ten minste jou motor is veilig.) Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Klimhoogte: 3 m.

Ayama – stap en wynproe: 30 November 2024

Altesaam 16 van ons kom om 09:00 by Ayama se parkeerterrein bymekaar. Die finale reëlings vir die wynproe word bevestig en nadat die admin en vrywaringsvorms voltooi is, val ons in die pad. Ons stap ‘n sirkelroete van 3 km tussen die wingerde, olyfboorde en proteabosse op die plaas. Dit sluit ook ‘n draai by ‘n dam in. Ons geniet die pragtige uitsigte oor die Kaapse wynlande – van Wellington tot by Tafelberg. Die span het egter só gesels dat ek wonder of hulle dit raakgesien het! Terug by die motors trek die meeste eers gemakliker skoene aan voordat ons om 10:45 aansit vir ‘n 6-wyn wynproe (dit sou amptelik net 4 wyne wees) saam met heerlike kaas-en-wyn-borde. Dit was ‘n baie gesellige langtafel. Ná die wynproe is daar heelwat wyn en olyfolie gekoop. Vier mense het agter gebly en disse vanaf hul besonderse Italiaans-geïnspireerde spyskaart geniet en nog vyf dames het by hulle aangesluit. Almal het die uitstappie baie geniet. Ayama, wat in ‘n vallei tussen Durbanville en die Paarl lê, en wat “someone to lean on” beteken, is werklik meer as een besoek werd. Baie dankie aan Steph en Mariana du Toit vir al die uitvindwerk en reëlings. Stapafstand: 3 km. Klimhoogte: 95 m.

Olive Glen, Paarl: 15 tot 17 November 2024

Elf van ons het die Vrydagmiddag na die plaas Olive Glen aan die begin van die ou Du Toitskloofpas buite die Paarl vertrek. (Die 2 km plaaspad wat mens moet ry om daar uit te kom was rof en kon nogals die passiewe woordeskat van mense met klein motors soos ‘n Volkswagen Polo lelik aktiveer.) Maar die geriewe het opgemaak daarvoor. Ons het die River House-kampterrein gekry – ‘n “huis” met ‘n kombuis, genoeg ruimte vir almal om te kuier, en ‘n wonderlike stoep wat op die rivier uitgekyk het. Die kampplek is op terrasse rondom die huis. Later die aand het die volmaan agter die berg uitgekom en dit was sprokiesmooi saam met die naggeluide van honderde paddatjies en nagdiertjies wat opgestaan het uit die strook bos waardeur die rivier vloei. Michael het ‘n behoorlike vuur gemaak en ons het lekker gebraai. Die plan vir Saterdag was om tot op die nekkie te klim en dan tot by ‘n uitkykpunt te stap waar mens oor die Wemmershoekdam uitkyk, maar die span het iewers verkeerd geloop en ‘n korter roete geneem. Na die stap, het Michael sy boog en pyle vir ‘n bietjie skyfskiet uitgehaal. Party het in die rivier geswem. Saterdagaand het ons weer gebraai. Sondag het net vier van die groep ‘n kort roete gedoen, waarna almal weer huiswaarts gekeer het. Dit is ‘n naweek wat ons in die herfs of lente kan herhaal. Op die ou end was dit ‘n luilekker naweek sonder om staprekords te breek. Baie dankie aan Amanda Matthee en Gerna Hough vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 673 m.

Strandstap (Paardevlei, stand jetty en terug): 9 November 2024

Altesaam 14 stappers ontmoet mekaar in ‘n tierende wind by die Paardevlei-parkeerterrein. Die admin word afgehandel en ‘n paar draaie geloop waarna Steph, as gevolg van ogesteldheid, die stapleiding oorgee aan Mariana en Danie. Die roete om die vlei is ten spyte van die tipiese Strand Suid-Oos ‘n aangename stap. Met die sirkel om die vlei voltooi, word daar koers gekies deur die Paardevleikompleks na die Strand “boardwalk”. Die wind van vooraf is egter so erg dat daar op die sypaadjie voor die geboue gestap word om die waaisand te vermy. Danie lig kort-kort die groep in oor interessante feite uit die geskiedenis van die Strand – hy is uit die aard van die saak die skrywer van die nuutste boek oor die geskiedenis van die Strand. By die jetty en Strand Pavilion word daar omgedraai en met die wind nou van agter stap hulle op die boardwalk. Terug by Paardevlei gaan geniet 11 stappers ietsie om te eet en drink by die Lorenzo Marx restaurant. Baie dankie aan Steph en Mariana du Toit en Danie Pienaar wat hierdie stap moontlik gemaak het. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 2m.

Helderberg-Natuurreservaat – 26 Oktober 2024 Agt stappers ontmoet mekaar om 07:20 buitekant die Helderberg-natuurreservaat se hek. Ons handel die admin af en toe die hekke om 07:30 oopmaak val ons ook in die ry van besoekers om te betaal. Ons stap met die jeepspoor op tot by die afdraai van die Watsoniaroete. Die watsonias is ongelukkig reeds verby hul beste maar steeds pragtig. Ons besluit daar om nie die hele roete te voltooi nie maar eerder die Rooikatroete ook aan te pak. Om almal te akkommodeer, stap ons rustig aangesien die eerste deel baie steil is. Ons maak dit almal tot by die “eerste bankie” waar ons ‘n rukkie rus. Die Rooikatroete is gelyk en daarna is dit weer afdraand op die jeepspoor. Ons aanskou op twee plekke die erge skade wat deur die onlangse vloede veroorsaak is. Ons neem ‘n peuselbreek onder ‘n koelteboom voordat ons verder stap en die laaste deel via die Siskinroete voltooi. Ses van ons gaan geniet ietsie om te eet en drink by die Lourensfordmark. Baie dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings en die stapleiding. Stapafstand 9 km. Klimhoogte 274m.

Sederberge – Maltese Kruis: 19 en 20 Oktober 2024 Ons ry vroeg (net na 04:30) uit die Kaap. Van ons ontmoet mekaar langs die pad en ry saam in na die Eikeboom waar die stappers afgelaai word. Die bestuurders gaan los die karre aan die eindpunt van die Maltese Kruis. Chris en Santie Kies wag daar en bring die bestuurders terug. Ons begin so net na 10:00 te stap. Gelukkig is dit nie te warm nie. Ons eerste stop is by die waterpoel. Vandaar 1km na die Sneeuberg-hut en dan nog sowat 5km na ons oornagpunt by die Maltese Kruis. Daar is water oral langs die pad en selfs lopende water by die Maltese Kruis. Ons kry ‘n plekkie vir ons tente en ons skrop en werkskaf soos hoendertjies. Die windjie is koud en geniepsig. Daar word lekker stories uitgeruil en “iets wat mense nie van jou weet”! Teen 20:00 is almal in hul tente en die wind het bedaar. Maar die nag was bitter YSIG koud. Die volgende oggend maak ons spek en eiers en almal praat oor die koue nag maar ons siele is gevoed en teen 09:00 val ons die pad. Oral opad terug is waterstrome en watervalle – tog te mooi. Teen 11:45 is ons terug by die motors en elkeen slaan sy eie koers in huis toe. ‘n Paar van ons het by Die Tol-padstal pizza en bier gaan geniet. Ons harte is vol van dankbaarheid vir ‘n naweek in die berge. ‘n BAIE groot dankie aan Werner Booyens se stapleiding en aan Brenda vir die reëlings. Beslis een vir die boeke. Stapafstand: 15 km. Klimhoogte: 688m.

Luiperdkamerastap – 12 Oktober 2024 Ses van ons kom om 07:15 by Eerste Tol bymekaar om die 4 km na die kamersa aan te pak. Ons stap vir die eerste 1,5 km in digte mis voordat ons bo die mis uitstyg. Selfs in die son is dit steeds aangenaam koel en ons bereik die kameras na 2uur. Steph ondersoek die kameras en ontdek dat altwee se batterystelle reeds die gees gegee het (Lithium-6 uit die 16 batterye was steeds sterk). Op die linkerkantste kamera is daar 62 foto’s waarvan een ‘n luiperd op het. Die laaste klomp foto’s is egter weer agv ‘n tegniese probleem. Op die regtekantste kamera is daar slegs twee foto’s wat geneem is gedurende die toetsperiode, maw van ons skoene. Ons besluit om die kameras saam te neem vir toetsing en moontlike herstel. Op pad af raak dit ‘n bietjie warmer maar ons is reeds om 12:09 terug by die motors. Ons stop by The Bell Inn vir drankies en slaptjips. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405m.

Paarlberg – 5 Oktober 2024

Saterdagoggend het 10 van ons by Meulwater bymekaargekom. Admin is gou-gou afgehandel en die weer was perfek vir die stap – dit was vroeg oggend al baie warm. Ons is eers na die waterval en toe op met die paadjie tot by Oukraal. Hier het ons ‘n ruskans geneem. Ons het by Oukraal regs gedraai met die pad en weer links net voor die Telkom-toring. Ons is bult op en bult af tot by ‘n heerlike rots oorhang waar ons teetyd geniet het. Vandaar is ons tot by die agterste baken met uitsigte van Tafelberg, Ruitersvlei en as jy baie skerp links kyk en jou kop effe tilt kan jy amper vir Spice Route sien. By Krismiskamp het ons besluit om n vroeër middagete te neem aangesien ons hier in die koelte kon vertoef. Vandaar is toe met die paadjie na Bretagne- en Gordonklip. Ons stap rustig die 365 trappies na bo en as gevolg van die hitte wou niemand opgaan na Bretagneklip. Vandaar is ons na Paarlrots en het die mooi uitsigte geniet. Ons neem ook lekker foto’s by die kanon bo op Paarlrots. Vandaar is toe deur die tuin terug na ons motors. Ons was teen 14.30 terug by die motors en baie bly om uit te son te kom. Oktober-maand word nie verniet die mooiste maand genoem nie – dit is oral opvallend in Paarl-natuurreservaat. Meeste van ons het na die tyd koue bier gaan drink by Diaz Tavern. Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en dankie aan Brenda vir die reelings. Stapafstand: 18 km. Klimhoogte: 608m.

Karoo-toer (Transkaroo, Kompasberg, Eerstefontein) – 21 – 28 September 2024

  • Saterdag 21 Sept: Ons vertrek vroegoggend uit die Kaap om die 3-dag Transkaroo (Transkaroo Adventures) tussen Hanover en Middelburg, Oos-Kaap, te gaan stap. Ons ry met die N1 via Beaufort-Wes en ontmoet mekaar op Hanover. Hier draai ons op die N10 af (rigting Middelburg) en ry tot op die plaas Bovlei waar Transkaroo Adventures se kantoor is. Nadat die admin op die plaas afgehandel is en seker gemaak is dat al die voertuie die pad na die beginpunt sal oorleef, ry ons die ‘4×4-plaaspad’ tot by Wilgefontein, waar ons die eerste aand oorbly. Ons stook die donkie vir warm water, en braai en kuier lekker.
  • Sondag 22 Sept – Transkaroo Dag 1: Die stap begin by Wilgefontein-plaashuis en ons loop op in Visserskloof. Daar is interessante rotsformasies en ons loop deur die klipwoestyn, sien Goliat se voet en Kompasberg in die verte. Dan stap ons af in Kristalkloof tot by ons slaapplek vir die aand, Uitsig Skuur.
  • Maandag 23 Sept – Transkaroo Dag 2: Ons stap verby Driekop se kraal, sien ossewaspore in die rotse, stap hoog tot by Gerhard se Paal (trigonometriese baken) (1924m bo seespieël) en hou dan middagete by die Windpomp-veekraal. Hier verdeel die groep – die een roete loop deur Kanferkloof en die ander ‘n korter roete na Weltevrede-plaashuis. Die konstruksie van die windturbines in die omgewing maak dit met tye moeilik om die roete te volg, want die merkers is nie altyd duidelik nie, maar almal bereik die plaashuis veilig. Ons braai en kuier lekker saam die aand.
  • Dinsdag 24 Sept – Transkaroo Dag 3: Die dag se roete neem ons verby rotskuns, die Korsmorsparadys, die Rooivoetpad op die kranse langs en dan af in die kloof tot ons weer by Wilgefontein aankom, waar ons motors staan. Ons vertrek na Nieu-Bethesda waar ons vir twee aande in die Aandster-gastehuis oorbly. Ons eet die aand lekker pizza by Zalig.
  • Woensdag 25 Sept – Kompasberg: Ons staan vroegoggend op en probeer Google se aanwysings volg om Kompasberg te vind. Ongelukkig is die plaas heelwat verder as wat die kaart aandui en ons kom net na 8am daar aan. Brenda James verduidelik ons in watter rigting om te stap – so op ‘n verbleikte foto van die berg. Maar eers moet ons ‘n stukkie 4×4 aflê om by die beginpunt te kom. Die roete is glad nie gemerk nie en ons besluit om so ver moontlik te kom in 2 uur, en daarna om te draai. Dit is ‘n steil klim en ongelukkig is die wind nie in ons guns nie. Vir veiligheid moes ons omdraai sonder om die kruin te bereik. Op pad terug besoek ons die Stonefolk-uitstalling. Terug op Nieu-Bethesda besoek ‘n klompie van ons Boetie se Pub en eet die aand by die Village Inn terwyl ‘n paar self kos maak.
  • Donderdag 26 Sept – Nieu-Bethesda/Graaff-Reinet: Ons verken Nieu-Bethesda met sy winkeltjies, die Dustcovers-boekwinkel, Uilhuis, labirint, en bierbrouery. Ons ry die middag Graaff-Reinet toe, bly sentraal in die dorp by die KarooRus-selfsorghuisies (vir twee aande), en eet die aand by Hello You restaurant (tuiste van Afrikanis-rum).
  • Vrydag 27 Sept – Graaff-Reinet – Eerstefontein-staproete: Vandag stap ons die Eerstefontein-roete. Volgens Sanparke is die roete in ‘n swak toestand en nadat ons permitte gekry het, ry ons tot by die beginpunt. Die roete loop tussen Spandaukop en die uitkykpunt by Vallei van Verlatenheid. Die paadjie is duidelik en gelukkig nie so swak nie. Ons eet middagete onder die bome naby Agterstefontein en pak dan die terugtog aan in die middagson. Ons ry laatmiddag na die Vallei van Verlatenheid en geniet sundowners by die uitkykpunt. Ons eet die aand by die Coldstream-restaurant.
  • Saterdag 28 Sept: Vroeg opstaan en die langpad aandurf terug Kaap toe via Aberdeen, Willowmore en die R62. ‘n GROOT dankie aan Abrie Marais vir al die reëlings, uitvindwerk en stapleiding. Dit was ‘n moeite-werd toer.
  • Wat sê die stappers:
    • “Die toer was fantasties! Heerlike samesyn met stapvriende en lekker om almal se stories te hoor en die lag uit die maag! Ons het rum geproe, berge uitgeklim, vuur gemaak, koue storte geneem en baie geëet! Beslis ‘n hoogtepunt vir 2024.”
    • “Die Karootoer was ‘n paar eerstes vir my: 1ste stap daar, 1ste keer op Nieu-Bethesda en Uilhuis, 1ste keer by die Vallei van Verlatenheid. Ongelukkig gaan die windturbines wat hulle op die plaas bou afbreek doen aan die stap.”
    • “Daar was baie vir-altyd-onthou-ervarings! Ons het gestap op pragtige plekke met lekker ligte sakke. Ons het gesweet, veral teen Kompasberg, maar die uitsig was elke druppel werd. Baie gelag, verspot gewees, en dan ook nog die verdagte “vibrasie” in Elza se bagasie! Gesmul om die vuur en uitgehang in kroeë en eetplekke. En selfs ge-fô-by-fô op onverwagse plekke.”
    • “Pragtige stap. Die natuur is baie mooi en die waterpoele is ‘n blessing om in te swem.”
    • “Die stap het my, saam met wonderlike stapmense, laat verwonder aan die asemrowende mooi van die Oos-Kaapse natuurskoon, maar ook die groot prys van vooruitgang. (Ek praat nie net van die ontsagwekkende groot van die windturbines nie, maar as jy kilos in natuurskoon gestap het en dan is daar skielik plastieksakke in die waterpoele. Of jy gaan soek die stilte van ‘n sonsak en iemand beduiwel dit met ‘n drone.)”
    • “Karoo-toer: Dit was goed om ‘n nuwe omgewing te verken (al het ons 23 jaar gelede ook hier gestap). Wat uitstaan, was die stilte, afgesonderdheid, en die anderste koppies, rotsformasies, berge (die indrukwekkende Kompasberg en die Sneeuberge) en die plantegroei. En natuurlik die mense. Dit was lekker om Nieu-Bethesda (Uilhuis, labirint, eetplekkies, winkeltjies) en Graaff-Reinet (die “rum” en die Vallei van Verlatenheid) te kon verken. En wat is ‘n road trip sonder die koffie drink langs die pad en die stop by die al padstalletjies?”
    • “Die natuurskoon van die Transkaroo was vir my ‘n nuwe tafereel nog nie vantevore gestap nie. Dit was baie rustig met ‘n gevoel van vrede en saligheid terwyl ons gestap het. Kompasberg vanaf ‘n sekere hoek lyk regop en indrukwekkend steil. Dit was gelukkig nie so erg nie, maar die wind wat om ons geswiep het, het min plek gelos vir ‘n stil hoekie vir teetyd. Graaff-Reinet se ouwêreldse wit netjiese huise is aantreklik, so dat mens selfs daar sal kan woon. Samesyn met vriende en lekker slaap plekke het dit ‘n besondere lekker stap gemaak.”
    • “Amazing avontuur met great mense!!

Tafelberg: Oudekraal Ravine – 14 September 2024

Altesaam 9 van ons kom vroeg die oggend in Theresalaan te Bakoven bymekaar. Ons handel die admin af en pak die roete aan. Die eerste klim tot op die kontoer laat die hart lekker vinnig klop.  Ons volg die Pipe Track tot by die grot/oorhang waar ons lekker ietsie te ete en drinke geniet. Hierna soek ons die afdraai na Oudekraal Ravine. Ons volg die paadjie en ons geniet die interessante rotsformasies en die uitsigte oor die Atlantiese Oseaan. Ons kom aan die onderkant van Oudekraal Ravine aan en klim op in die kloof. Dit swoeg maar lekker, maar kort voor lank is ons bo. Aan die voet van Grootkop wat ons ‘n welverdiende ruskans. Ons vat toe die paadjie af met Corridor Ravine en volg die Pipe Track al die pad terug tot by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en inisiatief. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 970m.

Ligtoring – Pelgrimstog van Hoop (St Blaize Mosselbaai tot Jongensfontein) – 2-8 September 2024

Hierdie pelgrimstog begin soos die liedjie 99 bottles of beer. 6 little pilgrims went on a pilgrimage, Day 1 one got sick, only 5 little pilgrims continued their pilgrimage. Day 4, Five little pilgrims went on a pilgrimage, one got blisters, only 4 little pilgrims continued their pilgrimage. Day 5, Four little pilgrims went on a pilgrimage, one had family emergency, 3 little pilgrims continued their pilgrimage. 3 little pilgrims finished this pilgrimage. Party stappers word aangetrek deur ‘n Pelgrimstog, ander word afgesit deur Pelgrimstog en ander wil net die omgewing kom verken. By die St Blaze-vuurtoring word stappers op die pad gesit met ‘n boodskap en gebed. Dag 1 stap hulle die St Blaze-roete, deur Pinnacle Point tot by Danabaai, en dan Vleesbaai, Gourits, die Gourikwa-natuurreservaat, Die Vleie, Stilbaai en maak op Dag 7 in Jongensfontein klaar. Hierdie mooi Ligtoring Pelgrimstog van Hoop roete stap jy deur twee omgewings, seelangs met ongelooflike uitsigte, deur Fransmanshoek-natuurreservaat en verby twee werkende vuurtorings, deur fynbosstreke met speldekussings wat oral pronk in helder kleure. Hulle ontmoet interessante mense en oulike gidse op die roete, proe die borrels by Borrelfontein, groet die Gouritzrivier-hond, en vaar met ‘n boot oor die Gouritzrivier wat vir baie pret sorg omdat mens met ‘n leer hande viervoet moet opklim. Dan wag die MASSIEWE duin wat hulle moes uitklim en anderkant af met ‘n leer wat nie tot onder gaan nie, maar gelukkig is daar ‘n tou om vas te klou totdat voete die seesand vind. Die natuurskoon van hierdie kuslyn het hierdie pelgrims verstom. Jy verken die gebied te voet en jy beleef die area uit ‘n ander hoek. Niel en Sharon het sakke aangery vir die eerste 4 dae waarna Dirk oorgeneem het. As jy loop het jy HOOP. ‘n Groot dankie aan die Ligtoring Pelgrimskomitee en Sharon en Niel Visser vir die uitstekend gereelde stap en lekker bederf. Stapafstand: 121 km. Klimhoogte: 860m.

Mooiplaas: 7 September 2024

Tielman Roos het ons ontmoet op die plaas, die man het ‘n ongelooflike passie vir die natuur en die biodiversiteit van die omgewing. Ons was 13 lede wat die kort maar baie mooi stap voltooi het. Dit het die vorige week gereën en hier en daar was ons deur modder, maar die blomme wat geblom het, het alles die moeite werd gemaak. Die roete het ons ná ‘n ruskans teen die berg wat gevolg het tot bo by die lapa waar ons tee en broodjies geniet het. Amanda het saam aangesluit na ons die stap voltooi het waarna die groep verdeel het tussen Mooiplaas en Kaapzicht waar tussen heerlike wyne and kaasborde ons die dag afgesluit het. Baie dankie aan Wynand Krause vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 250 m.

Suther Peak, Houtbaai – 31 Augustus 2024

Drie van ons het Saterdag Suther Peak vanaf Sandy Bay se parkeerarea in Eustegiaweg, Kronenzicht, Houtbaai, aangepak. Die roete begin met sagte wit duinsand met effense opdraandes. Dan kry ons los klippe en ons klim geleidelik. Ons stap op ‘n single track paadjie en dit raak moeiliker want op sekere plekke moes ons bene rek om op te klim en op een plek aan kettings vashou. Daar is egter ‘n geheime paadjie wat ons gestap het. Die uitsig is besonders. Ons moes teen ‘n boom afklim om deur ‘n rotsskeur te stap. Daarna moes ons sonder rugsakke onsself teen ‘n rots optrek om deur ‘n nou rotsgleuf op ons knieë deur te kruip. Daarna het ons met ‘n houtleer tot by die baken opgeklim. Dis ‘n pragtige uitsig na Leeukop en klein Leeukop en aan die ander kant pragtige uitsigte oor Chapmans Peak en Kleinbaai. Dis ‘n besonderse mooi roete en ‘n aanbeveling vir die wat meer van ‘n uitdagende roete hou. Daar is op party plekke redelike blootstelling van hoogtes. Kom stap gerus volgende keer saam! Baie dankie aan Hein Gericke vir die stapleiding en aan Gerna Hough vir die verslag. Stapafstand: 5 km. Klimhoogte: 527meter. 

Zevenwacht, Kuilsrivier – 31 Augustus 2024

Die lente is in die lug en 19 mense kom die Saterdagoggend bymekaar vir hierdie lekker dagstap buite Kuilsrivier. Almal is bly om die son – en mekaar – weer te sien. Ons begin by Zevenwacht se parkeerplek en stap deur die veld (die paadjies is vol spoelslote na die winterreën) na die pad wat ons na ‘n damwal neem met wonderlike uitsigte wat van Tafelberg tot by Gordonsbaai strek. Ons stop hier vir ‘n rukkie om die uitsig te geniet en foto’s te neem. Dan stap ons verby die Bakwena Spa tot by ‘n lapa op die volgende koppie waar ons omdraaipunt is. Dit is tyd vir koffie, broodjies, groot gesels en foto’s. Ons stap dan met ‘n sirkelroete tot by Zevenwacht se wynproelokaal waar ons aansit vir cappuccinos en croissants voor ons die laaste stuk terugstap tot by die motors. ‘n Goedvoelstap beslis. Baie dankie aan Arie van Eck vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 277m meter.

Bergrivier, Matoppie, Franschhoek – 17 Augustus 2024

Altesaam 9 van ons kom die oggend vroeg by die parkeerarea van die Bergrivierdam bymekaar. Dit is koud, mistig en reënerig maar ons besluit om Voort te gaan om te stap. Weens die Bergrivier wat lekker sterk vloei, kan ons ongelukkig nie die rivier oorsteek om die Afrikaskop-roete te doen nie. Die erosie om Matoppie is ook so dat ons maar besluit om onderom te loop. Ons stap lekker, gesels, drink koffie en eet ietsie. Nie ‘n moeilike stap nie, maar tog die moeite werd om te doen. Ons kan sien dat die Bergrivierdam lekker vol is en dis oral nat. Net voor die ergste reën uitsak is ons terug by die motors. Baie dankie vir hierdie een, Werner Dalziel! Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 306m.

Luiperdkamera-stap, Bainskloof – 17 Augustus 2024

Ons is uiteindelik slegs drie brawes wat die bewolkte koue staptog aanpak. Ons vorder makliker as die laaste paar keer aangesien die paadjie as gevolg van die brand in Januarie nie meer oorgroei is nie. Toe ons die kameras bereik, is ons teleurgesteld dat die een kamera op die grond lê. Dit blyk later op die foto’s dat dit ‘n bobbejaan is wat die kamera afgeruk het. Die vervang van die batterye en opstel van die kameras raak ‘n pynlike proses as gevolg van yskoue hande! Ek sien nie kans om die foto’s af te laai nie en vervang die karate met ander. Ons pak toe so gou as moontlik die terugtog in digte mis aan. Daar was darem so 8 foto’s met luiperds op. Baie dankie aan Steph du Toit vir die verantwoordelikheid wat jy vir die luiperdkameras neem as deel van die Cape Leopard Trust se navorsing oor luiperds. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 m.

Klipspringer, Augrabies – 10-12 Augustus 2024

Elf van ons het 9 Augustus vroeg uit die Kaap vertrek om via Springbok na Augrabies te ry om die Klipspringer te stap. Dit is ‘n omtrent ‘n “roadtrip” tot daar – die beste deel van 10 uur op die pad. Die landskap verander van die groen berge van die Kaap tot by vlaktes en uiteindelik die bruin rotspoorte by Augrabies. Ons was lekker bang vir die koue omdat die meeste van ons gekies het om voor en na die stap te kamp om koste te spaar. ‘n Paar het in die chalets gebly. Gelukkig was dit toe nie so bibberkoud nie. By Augrabies aangekom, gaan kyk ons eerste na die indrukwekkende waterval (mens kan net staar en staar na die ontsaglike massa water wat by die kranse aftuimel), slaan tente op, skarrel en pak rugsakke reg, en braai die aand lekker. Dag 1 (12,5 km): Die roete, wat oral goed gemerk is, neem ons op en af deur ruwe klowe en klippoorte aan die suide kant van die Oranjerivier. Dit is nie dat die klimme so hoog was nie, maar so knaend. Ons moes gou leer om ons skoene se “friction footholds” te vertrou want ons moes dikwels teen skuins rotse uitklouter. Ons kon by uitkykpunte soos Ararat afkyk na die magtige Oranjerivier. By die Oranjekom-uitkykpunt het ons ‘n rukkie gerus voor ons die laaste kilometer of twee ‘n jeeppad tot by die Visarend-hut gevolg het. Jeremy het groot vuur gemaak, ons het lekker op die stoep gesit en kuier, en redelik vroeg ingekruip. Dag 2 (11,5 km): Die paadjie neem ons af tot onder by die Oranjerivier. Dit is Sondag en ‘n groep van ons hou nagmaal met sjerrie en brood – dit was baie spesiaal. Dan volg ‘n paar kilometer van boulder hopping (sommige van ons moes ‘n paar rotse omhels) en stukke plat stap al langs die rivier. Middagete stop ons by ‘n klipplaat en swem of sit met ons voete in die water. Uiteindelik draai ons links in ‘n droë rivierloop op vir die laaste 4 km na die Berghut. Hierdie stuk was warm met los sand. Ons was bly om die hut te sien. Jeremy maak weer woes vuur en ons sit of lê op die hut se stoep. Drinkwater is in 3 groot kanne by elke hut voorsien. Elke hut het ‘n buitekraan (in die oopte) vir stort en was. Dag 3 (12 km): ‘n Makliker maar baie mooi dag. Ons stap oor vlaktes en koppies (een met ‘n besonderse kokerboom) tot ons uiteindelik die Maanrots sien en dan uitklim. Mens voel of jy ‘n oertyd betree as jy op hierdie rots loop. Dan volg die laaste paar kilometer tot by die ruskamp waar ons eers op die stoep gaan sit het vir ‘n lafenis. Ons eet almal die aand in die restaurant en elkeen sê wat vir hom of haar spesiaal was aan die stap. Ons ry die volgende dag terug via die Nieuwoudtville-waterval en interessante padstalletjies en kom almal veilig terug in die Kaap. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 36 km. Klimhoogte: 812 meter.

Silwermyn-Wes – 3 Augustus 2024

13 van ons kom by die dam binne Silvermyn bymekaar. Ons handel die admin vinnig af en begin te stap, eers oor die damwal en toe op aan die suidekant tot ons by die uitkyk oor Noordhoek kom. Hier drink ons lekker koffie. Ons stap aan tot by Noordhoekpiek en geniet die uitsigte voordat ons die paadjie verder aanpak na die Sentinel-uitkykpunt. Hier neem ons weer ‘n breek en ‘n koffie. Van ons moet ongelukkig hiervandaan terugmik na die motors, maar die res van ons pak die klim teen Constantiaberg op aan. Na ‘n lekker sukkel en sweet kom ons bo by die radarkoepel bo-op die berg uit. Hier geniet ons middagete. Ons pak verder die roete terug aan al op die “olifant” se rug langs voordat ons nog ‘n stop maak by die “olifant” se oog. Hiervandaan mik ons terug na die motors, maar swaai links voor ons die jeeppad bereik en stap al met Steenberg-rif langs. Seker een van die roetes met die mooiste uitsigte oor die suidelike voorstede. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 734m.

Tafelberg: 5 damme – 20 Julie 2024

Tien van ons kom by die Constantianek-parkering bymekaar. Ons begin sommer met ‘n stewige stap om eers die trappies en toe die jeeppad te vat. Sommer gou-gou is ons bo-op die berg. Oral is die skade na die storm nog sigbaar. Dis lekker koud en nat en ons gaan kyk hoe elkeen van die damme oorvloei. Ons geniet kort-kort bietjie koffie en iets te ete. Daarna pak ons weer die paadjie aan en stap heelpad met die jeeppad tot terug by die motors. ‘n Heerlike en tog uitdagende stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 15 km. Hoogte geklim: 630m.

Tygerberg-Natuurreservaat – 29 Junie 2024

Ses van ons het die koue weer trotseer en 08:00 by die Tygerberg-natuurreservaat se hek bymekaar gekom “vir ‘n bietjie uitkom tussen al die kouefronte deur”.  Ons het kloksgewys om die koppie gestap en is eers op die Ukhetshe-roete af en toe met die Watsonia-roete op tot by die piekniekplek waar ons vir koffie en broodjies gestop het. Ons het foto’s by die kanon en baken geneem, en is toe weer af na die dam voor ons weer by die hek uitgekom het. Dit bly ‘n mooi stap met mooi uitsigte en goeie oefening hier op ons drumpel. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 403 meter.

Leeukop-kontoerpad – 15 Junie 2024

Dit is ‘n lieflike wintersdag hier in Kaapstad en 13 stappers staan gereed om te stap. Ons groet en verwelkom Hazel, Marco, Minnie en Maletha-Grace as nuwe stappers. Ons begin stap padlangs tot by die grondpad waar die roete begin. Hier besluit Minnie om liefs om te draai en in die motor te wag vir haar gesin. Ons jongste stapper is 3 jaar oud en is gelukkig om meeste van die roete op haar pa se arm te sit. Ons volg die Voetpad verby die Kramat en dan die klipperige kronkelpad wat na Seinheuwel toe lei. Hier drink ons vinnig ietsie, bewonder die pragtige uitsigte en stap dan weer verder. Ons swenk regs en sluit aan by die Voetpad wat ons onder om Leeukop neem verby al die luukse huise van Seepunt. Nadat ons ‘n redelike styl opdraand met ‘n paar trappe geklim het, kom ons by die dennebome uit waar ons behoorlik breek en kosblikke en koffie/tee geniet. Hazel, Marco en Maletha-Grace stap verder aangesien hulle haastig is. Marco bevestig dat hulle veilig by hul motor is. Die res van ons kuier nog ‘n rukkie en stap dan rustig terug tot by ons motors, groet en verdaag. Baie dankie Arie en Arina dat julle ons agterhoede gedek het! Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 262 m.

Jonkershoek: Swartboskloof – 8 Junie 2024

Altesaam agt van ons kom lekker vroeg by die hek by Jonkershoek bymekaar. Ons handel die admin af en sorteer ons permitte uit. Ons begin te stap al met die jeeppad langs totdat ons by die begin van Swartboskloof/Sosyskloof aankom. Na ‘n vinnige breek stap ons op in Swartboskloof. Ons klim al die pad en verwonder ons aan die watervalle wat in die berg loop. Ons kom uiteindelik by ons omdraaipunt Pic-sans-nom waar ons ‘n asemrowende uitsig oor die Helderberg kom het. Hiervandaan stap ons terug met dieselfde roete maar mik links om die Sosyskloof-kontoer te volg tot by die huisie by die branduitkykpunt. Ons sak terug na die jeeppad en mik terug na die hek. ‘n Lekker uitdagende 19 km vir die dag. Baie dankie Werner Dalziel vir hierdie een! Stapafstand: 19 km. Klimhoogte: 950 m.

Tafelberg, Platteklipkloof – 1 Junie 2024

Altesaam 9 stappers het aangemeld vir hierdie stap. Ons het met die kloof opgestap, by die kabelkarretjie-area geëet (yskoue wind!) en toe weer die pad af aangedurf. Om bietjie meer tree in te kry vir die dag, het ons die kontoerpad geneem tot by die onderste kabelkarretjie-stasie. Daarna was dit teerpad terug tot by die motors. Baie dankie aan Abrie Marais vir die stap! Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 967m.

Paradyskloof, Stellenbosch – 18 Mei 2024

Altesaam 9 van ons kom op ‘n koelerige oggend by Paradyskloof se hek bymekaar. Ons hanteer die admin en begin te stap. Ons sukkel maar so bietjie deur die woud want baie van die bome het met die vorige storm omgewaai. Ons vind die jeeppad en mik regs voordat ons die afdraai vind eers na die Bloukliprivier se waterval. Van ons klouter tot bo-op die waterval, maar ‘n trop bobbejane laat ons ons uit ons voete maak. Hiervandaan mik ons na Paradyskloof se Waterval wat ons na ‘n lekker stewige klim bereik. Hierna mik ons terug na die begin, maar stop eers vir foto’s. ‘n Lekker gemaklike stap, maar wat jou oefening gee. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en voorstap. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 540 m.

Tafelberg – kabelkar na MacClear se baken en terug: 11 Mei 2024

Dit het die oggend nog in die Kaap gereën, maar die weer was oopgetrek toe 13 van ons teen 13:00 by die onderste sweefspoor bymekaar kom (die kaartjies is R60 goedkoper vanaf 13:00; ons het almal aanlynkaartjies gekoop). Ons het soos toeriste gevoel om die kabelkarretjie tot op die berg te neem. Ons begin by die boonste kabelkarstasie stap al op die voorste tafel langs, deur Platteklipkloof se dippie tot by MacClear’s Baken – dit neem net mooi 1 uur. Daar was oral stroompies en paddas wat klik-klik-klik ná die reën. By die baken neem ons foto’s, klets, drink koffie en eet iets voor ons terugstap. Met die terugstap sien ons ‘n skermswewer (paraglider) wat die stygende warm lug gebruik om van die kant van die berg af te sweef. Dit was nogals indrukwekkend. Dit is regtig ‘n toeganklike en baie mooi stap wat ons weer op die program kan sit, al is dit bietjie duurder oor die kabelkarretjie. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 170 m.

Sosyskloof, Jonkershoek – 4 Mei 2024

As gevolg van die erge storms in April moes ons die stap met ‘n paar weke uitstel. Uiteindelik kon ons Jonkershoek beleef! Al was dit eers “third time lucky” soos die spreekwoord sê. Jonkershoek se ligging bly ‘n uitdaging in die winter aangesien dit dikwels meer daar as in die dorp reën. Teenstrydige en onseker weervoorspellings ten spyt het 24 dapper stappers in die sifreën opgedaag. Ons het besluit om wel die roete aan te pak maar nie êrens tyd te spandeer vir piekniek langs die pad nie. Ons het ook nie die gladde kloof aangedurf nie, maar steeds byna 12km vir die dag afgelê in 3 ure 15 minute. Almal was dit eens dat die stap in die reën beslis die moeite werd was. Ons beleef pragtige proteas, fynbos, die Eersterivier, Jonkershoekdam en selfs ‘n paarbobbejane op ons pad. Die vinnige pas en lekker gesels het ook sommer die koue verdryf. Ons is ekstra dankbaar aan MTO vir die Balance Coffee Roastery langs die hek. Ons kon hulle goed ondersteun en heerlike cappuccinos saam met ons padkos geniet. Jonkershoek op ‘n sonskyndag sal ‘n heeltemal nuwe ervaring wees. (Wildcard of kaartbetalings by die hek; geen kontant nie.) Baie dankie aan Mariette Nortjé vir die stapreëlings (en al die herskedulerings) en die stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 237 m.

Tuinroete: Outeniqua en Harkerville – 27 April tot 4 Mei 2024

Agt van ons pak die pad aan na die suidkus om die Outeniqua en Harkerville roetes te gaan stap.  Ons sien almal lekker uit, en na al die admin afgehandel is neem ons pendeldiens ons na die begin by Millwood-hut.  Dag 1: Ons bespiegel oor hoe die roete is maar val vroeg die volgende oggend in die pad.  Ons stap tot by die kruising van die Knysnarivier waar ons bietjie sukkel-sukkel oor gaan.  Daarna volg nog ‘n bietjie van ‘n gymkana soos ons oor rotse klouter. Ons klim uit die kloof en stap aan na Rondebossie-hut. Dag 2: Ons begin te stap vanaf Rondebossie en mik vir die Diepwalle-hut. Van ons besluit om die makliker jeeppad te vat, maar die res van ons klim tot bo-op Jonkersberg met wonderlike uitsigte oor die Outeniquaberge. Na ‘n stap deur die woud kom ons uiteindelik aan by die Diepwalle-hut. Dag 3: Ons mik vir Fisantehoek-hut wat onder reperasie is ons wonder hoe hulle gaan weet om ons te kom haal sodat ons die aand in die Harkerville-hut kan gaan oornag. Uiteindelik daar aangekom kry ons die nodige mense in die hande en word vervoer terug na die Harkerville-hut vir die aand. Ons eet die aand heerlike pizza by ‘n plek langs die N2. Dag 4: Ons word weer terug vervoer na die Fisantehoek-hut en begin te stap. Ons mik vir die Harkerville-hut. Vandag is redelik gelyk en ‘n maklike stap. Ons is sommer gou-gou terug by die Harkerville-hut. Dag 5: Ons begin te stap in die rigting van die Sinclair-hut. Dis ‘n gemaklike en gelyk stap deur die woud. Ons groepie split op in die wat nie seelangs wil stap nie en die wat kuslangs wil gaan. Ons sak af na die see en die paadjie is nie in ‘n goeie toestand nie. Onder gekom vat ons ‘n breek voordat ons begin met die klim en klouter en lysies en kettings. Hoewel dit ‘n kort afstand is, vat dit ‘n halwe dag. Ons klouter die kranse weer aan die anderkant uit en kom skemer by die Sinclair-hut aan. Dag 6: Weer verdeel ons groepie in twee. Van ons volg die roete seelangs tot ons weer by ‘n krans aankom waar ons baie versigtig moet afsak tot onder. Hierna begin die klim en klouter en lysies en kettings wat ons ‘n halwe dag besig hou. Ons klim weer aan die anderkant uit en stap die laaste kilometers deur die woud. Ons slaap die laaste aand in ‘n gerieflike backpackers – die Harkerville Forest Lodge – en eet groot bokse vis en chips wat ons op Plettenbergbaai gaan koop het. ‘n GROOT dankie aan Werner Dalziel vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 92 km. Klimhoogte 3234 m.

Clara Anna Fontein, Durbanville – 20 April 2024

Ons was ‘n mooi groot groep van 28 mense met lede wat onder meer uit Melkbos en die Paarl gery het om saam te stap. Nadat die admin afgehandel is, het ons die nodige vrywaringsdokumente tussen die stapklub en Clara Anna Fontein oorhandig. Dis ‘n besonderse stuk veld in Durbanville. Die mis het die dag die Kaap donker gelê. Ons het die 9km roete tussen die diere begin stap al was die mis dik, tussen seebras, elande, springbokke, blouwildebeeste en volstruise was as spookbeelde mooi naby aanskou kom word. Tog ‘n jammerte was die berge om die Skiereiland en natuurlik Tafelberg nie die dag bedoel om waardeer te word nie. Ons het ‘n 20-minute teetyd geniet en die groep was vroeg klaar. Daar was versoeke dat ons asseblief ‘n tweede stap later moet reël sodat ons die uitsigte kan geniet. Baie dankie aan Wynand Krause vir al die uitvindwerk, reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 105 m.

Kleinmond-naweek – 13-14 April 2024

Altesaam 18 stappers het Vrydagaand in Kleinmond by die karavaanpark byeen gekom en verrigtinge is met ‘n sosatie-braai afgeskop. Tente is opgeslaan, met die mense wat nog Vrydag laat moes werk wat bietjie in die halfdonker moes woeker.  Saterdagoggend is ‘n twee-fase stap aangepak. Eers is 4,5km afgelê met die “boardwalk” wat ons van die lagune se see-inloop na die hoofstrand oos van Kleinmond geneem het. Dit bly ‘n asemrowende mooi seestap met Kleinmond se rotsformasies in die see wat veral baie spesiaal is. Van die hoofstrand het ons met vier voertuie gery na die dam oorkant Iona Wynplaas op die Highlands-pad tussen Arabella en Grabouw. Die staproete vanaf die dam na Cape Nature se ooshek loop met ‘n (redelik vervalle) jeeppad, wat matig klim en val en jou deur by digte denneplantasies verbyneem. In die verte is die seelyn en Botrivier-lagune skouspelagtig sigbaar. Hierdie stap van 8,3km het die dag se totale stap op 12,8km te staan gebring en die slimhorlosies het 204m se hoogte verwerf aangedui. Na ‘n middagdraai by Kabel Joe’s waar vars seekos geniet is, het almal die aand darem nog kans gesien vir ‘n Meksikaanse maaltyd. Danie se nommerpas musiek het atmosfeer verskaf en daar was ‘n paar sombrero’s en Meksikaanse versnapperinge om verrigtinge verder op te vrolik. Sondag het meeste stappers vroeg opgepak en is ons na die Kogelberg-reservaat net buite Kleinmond. Bietjie warmer weer het ons begroet en die Palmietrivier-roete van 11 km (met 225m klimhoogte) is deur al 18 aangepak en voltooi. As gevolg van die groot reën enkele dae tevore moes die roete hier en daar aangepas word en het die strandjie-oase ons ontwyk. Nietemin was daar by die nuwe blaaskansplek (op die brug naby halfpad) kans vir ‘n paar opgewarmde stappers om lyf nat te maak. Die terugstap was vinniger en net na 13:00 kon ons groet en elk huiswaarts vertrek. Dankie aan almal vir saamloop, saamkamp en saamlag. En ‘n GROOT dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die deeglike reëlings vir die naweek! Stapafstand: 24 km. Klimhoogte: 429 m.

Nuweberg Landdroskop – 23-24 Maart 2024

Dit het die hele week gelyk of dit die naweek sou reën, maar uiteindelik skuif die kouefronte so dat dit moontlik lyk om te stap – al reën ons ‘n bietjie nat. So kom 12 van ons die oggend vroeg by die Nuweberg-Natuurreservaat se hek aan, gereed om te stap. Maar die mense by die hek sê daar is nie water by die hut nie. Ons sê ons het die vorige dag die reservaat EN die besprekingskantoor gebel om seker te maak die roete is oop en geen woord is oor die water gesê nie. Op die ou end het hulle een 25 liter kan water opgery na die hut toe (wat net-net genoeg was vir 12 mense). Die begin van die roete is verander sedert die vorige jaar en dit is nou baie mooier. Ons stap al hoër op teen die berg en dit begin motreën. Ons het geen uitsig nie, maar die mistigheid het ‘n bekoring van sy eie. As dit oopgetrek is, sien mens in ‘n stadium die hut as jy oor ‘n nekkie kom en jy weet waar om te kyk. Maar vanaf die nekkie tot by die hut is nog ‘n hele paar kilometer. Met die mistigheid was ons letterlik 100 meter voor die hut toe ons dit vir die eerste keer sien – baie bly om uit die koue en reën te kom. Die hut het gelukkig ‘n binnebraai en Koos maak ‘n vuur wat vir niks skrik nie. Ons braai, maak klere en skoene by die vuur droog, en kuier heerlik. Die volgende oggend neem ons die jeeppad af tot by die riviertjie en neem die veldpaadjie oor die koppies tot ons uiteindelik by die motors uitkom. Ons gaan drink koffie by die Cape Canopy Tour Zipline se koffiewinkeltjie voor ons huiswaarts keer. Dit is ‘n mooi roete, nie ver om te ry nie, en goeie oefening vir moeiliker stappe wat volg. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 21 km. Klimhoogte: 700 m.

Kirstenbosch Silver Tree-roete – 16 Maart 2024

Altesaam 11 mense het om 08:00 by die Rycroft-hek (R100 toegang) van Kirstenbosch bymekaar gekom om die Silvertree-roete aan te pak. Die Silvertree-roete is een van die langer roetes wat in Kirstenbosch begin en eindig, met ‘n stywe paar opdraandes op die koop toe. Ons begin die roete met ‘n goeie klim tot op die kontoerpad. Ons loop verby Nursery Ravine en Skeleton Gorge se afdraaibordjies en verder tot by die ‘scree belt’ waar ons ‘n welverdiende blaaskans neem en op die klippe middagete geniet. Daarna volg ‘n stewige klim met trappies tot ons weer hoër op in die berg die ‘scree belt’ kry. Dan begin die afsak terug na Kirstenbosch toe. Toe ons uiteindelik onder kom, loop ons eers deur die tuin (waar ons ‘n groot uil op ‘n stomp sien sit) en stap via die Boomslang (ons is dan nou hier) terug na die Rycroft-hek. ‘n Paar van ons ry met ons motors om na Hek 2 om by die Tearoom iets te gaan eet en drink (koffie / bier, skons). Wat die roete ideaal maak vir hierdie tyd van die jaar is dat dit aan die oostelike kant van Tafelberg is waar daar baie skaduwee en koelte is. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 453 m.

Chapmanspiek, Noordhoek – 9 Maart 2024

Altesaam 5 van ons kom by die parkeerterrein by Noordhoek-strand bymekaar. Ons handel die admin vinnig af en neem die roete, eers seelangs voordat ons draai in die rigting van die berg. Van hier is dit net heeltyd op en op. Ons stop plek-plek vir lekker ruskansies en om die asemrowende uitsigte te geniet. Dis nie lank voor ons op die piek is nie en ons neem ‘n ordentlike ruskans. Toe is dit af, en af, en af tot terug by die motors. Altyd ‘n lekker uitdagende stap met die beste uitsigte. Baie dankie vir die reëlings en voorstap, Werner Dalziel. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 590m.

Kogelberg Uitkyk-roete – 2 Maart 2024

Ons beginpunt is by die Stad Kaapstad se kantoor oorkant die ingang na die Kogelberg-kampterrein (aan die berg se kant oorkant Kogel Bay Resort) buite Gordonsbaai. Ons stap die eerste end op die Klipspringer-roete wat ons na die hoë bergreeks agter die vallei neem. Net voor die voetbruggie oor die eerste stroom neem ons die afdraaipaadjie na links. Dan volg ‘n geleidelike en genadige “zig-zag” klim – klipperig maar nie so steil nie – tot jy amper bo is waar dit heelwat steiler word om ons uiteindelik by die bo-op die berg (650 m) uit te bring. Dit is ‘n lang stap. Jy klim hoog, maar die uitsigte oor Valksbaai en die kuslyn is asemrowend – letterlik en figuurlik. Die voorste groep stap tot by die dammetjie bo-op die berg terwyl nog ‘n groepie op die boonste rif net voor die laaste steil bult stop, die uitsig geniet en iets eet vir die lang pad terug. Na die stap stop ‘n paar van ons by Pitstop net voor Gordonsbaai vir allerhande vloeibare verversings. Ons het moeg maar tevrede by ons huise aangekom. Baie dankie aan al die stapleiers: Kobus en Edna Terblanche en Werner Booyens en Brenda Sideratos, en Amanda Matthee vir al die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 650 m.

Muratie-volmaanstap – Vrydagaand 23 Februarie 2024

Tygerberg-Natuurreservaat was vir ‘n tydperk gesluit weens die brande in Januarie. Ons besluit toe om die beplande volmaanstap te skuif na Muratie-wynplaas. Anders as ons stappe by Murarie in die verlede, het Dirtopia ‘n amptelike volmaanstap aangebied op die Vrydagaand en ‘n wynstalletjie bo op die koppie behartig. Die weer was ons genadig met ‘n pragtige soel somersaand van 26 grade en ‘n ligte briesie. 15 volwassenes en een kind het die stap saam met ons klub meegemaak. Dit is skaars ‘n uur se stap aan die 2km tot by die piekniekplek. Die uitsigte is ‘n groot beloning vir die 133m klimhoogte – ons kon die son in die weste sien sak langs Tafelberg en die maan aan die ooste sien opkom oor die berge. ‘n Heerlike ontspanne begin tot die naweek. Danksy Dirtopia se hantering van die administrasie, roete-aanwysings en veilige parkering, is hierdie stappie beslis aan te beveel vir enigeen wat dit weer wil doen. Ons was deel van bykans 170 mense wat die aand geniet het en in ‘n liggie-trein die berg af is met ‘n sirkelroete tot by die Dirtopia-kantoor. Die heerlike koffie en warm sjokolade wat by ‘n stalletjie langs die kantoor te koop aangebied word was ‘n bonus. Baie dankie aan Mariette Nortjé vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 4 km. Klimhoogte: 150 m.

Capaia-stap (Algemene Jaarvergadering) – 17 Februarie 2024

Altesaam 34 mense woon ons Algemene Jaarvergadering by op Saterdag 17 Februarie 2024 by Capaia op die Botterbergpad naby Philadelphia. Ons begin met ‘n gemaklike roete van 6 km wat ons teen ‘n koppie uit neem met mooi uitsigte oor die heuwels en wingerde in die omgewing. Na die stap kom ons buite op die gras bymekaar, geniet cappuccinos en roosterbroodjies, hou vergadering en stel ons boekieprogram vir 2024 bekend. Ons het goeie terugvoer gekry van die AJV op ‘n Saterdag te hou – niemand hoef in die nag te ry nie, dit het ‘n stap ingesluit, en almal kon lekker kuier. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 170 meter. (Die stappermit van R50 het cappuccinos en broodjies ingesluit. Ons het geen admingelde vir die stap gevra nie.)

Tafelberg – Disas – 10 Februarie 2024

Altesaam 22 mense het vroeg die Saterdagoggend by Constantianek opgedaag om die disas “in lewende lywe” te sien. Ons eerste ruspunt was die muurtjie by die kraan by die Overseer’s Cottage en toe weer ‘n stop onder die bome by die Woodhead-dam. Dan loop ons oor die Hely Hutchinson-dam se wal (582 meter lank; in 1904 voltooi) tot by die museum en draai noordoos af op die paadjie wat in Disakloof oploop. Dit was nie ver nie of ons sien die eerste rooi disas langs die stroompie – definitief meer en “varser” as die vorige jaar se disas. Ons loop verder aan tot by die afdraaipaadjie na die akwaduk. ‘n Groepie klim die koppie uit soontoe terwyl ‘n ander groepie nog ‘n bietjie by die stroom kuier en dan die terugtog aanpak. ‘n Paar van ons wag vir die groep wat die koppie uit is en dan stap ons almal tot by die museum se skaduwee waar ons rus en iets eet voor ons die terugtog aanpak. Daar is ‘n Oosterse spreuk wat sê: “It is better to see something once than to hear about it a thousand times.” Dit is hoe jy voel as jy die disas met jou eie oë gesien het. Stapafstand: 16 km. Klimhoogte: 569 m.

Bergrivierdam, Franschhoek – swemstap – 3 Februarie 2024

Altesaam 18 van ons kom lekker vroeg die oggend by die Robertsvlei-hek van die Bergrivierdam bymekaar om te probeer om die dag se voorspelde hitte te mis. Ons handel die admin af en begin te stap. Ons neem ‘n alternatiewe roete om tot op die kontoerpad te kom waar daar op een plek so lekker bietjie klouter is. Ons stap op die kontoerpad langs en sak weer af na die jeeptrack. Hier haal ons die eerste rivierkruising en sit so bietjie om af te koel. Ons kruis die rivier en soek daarna die afdraai na die Bergrivier. Ons moet bietjie bundu bash, maar kom gou by die rivier aan. Hier lê/val ons almal lekker in die koel water vir die eerste ordentlike swem. Ons loop verder met die rivier langs tot ons by die ou stukkende brug kom. Hier eet ons middagete en swem weer lekker. Daarna pak ons die finale roete aan na die motors, en geniet ons ‘n biertjie na die tyd om lekker af te koel. Baie dankie vir hierdie heerlike dag, Werner Dalziel! Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 292m.

Almenkerk – 27 Januarie 2024

‘n Aansienlike groep van 24 stappers het 9-uur die Saterdag by Almenkerk wynlandgoed in die pragtige Elgin-vallei bymekaar gekom. Die gees was lughartig want net 8km se stap het voorgelê. Ook was daar die belofte van ‘n paar oefeningstasies wat bedoel was om die “fun” in die fun walk te sit!  Hoewel daar twee verrassend steil bulte in die eerste gedeelte aangedurf moes word, het die plaas se pragtige uitsig oor die damme en die vallei, asook die veelkleurige rose by die appelboorde meer as genoeg vergoed vir sweet en inspanning. Die windstil hittedag het wel vir afkoel gevra – die waterkanon (vierde oefenstasie) het gesorg daarvoor asook vir heelwat lag en aksie. Min stappers was nie sopnat na’n waterstraal of twee hul getref het nie, maar die son het almal gou weer “afgedroog”. Die ander stasies met aktiwiteite soos “tyre flips”, balanseerbalk en sit-ups het gesorg dat meeste hul oefening inkry – dis by wyse van ‘n trekking bepaal wie wat doen en skugter oefen-kandidate moes vermaak verskaf by wyse van rympies opsê en dies meer. Werner het ‘n uitstekende illustrasie van leeu-bekruip gedoen en Steph het ‘n bottel wyn per trekking ingepalm.Almal het iets uit die dag gekry en agterna is deur meeste by Almenkerk se lang tafels ontspan met iets te drinke. ‘n Groot dankie aan Freddie en Susan Pohl vir al die reëlings en uitvindwerk. Stapafstand: 8 prettige km. Klimhoogte: 195m.

Blaauwberg Natuurreservaat en strandstap tot by Blaauwberg – 6 Januarie 2024 Altesaam 16 lede begin die oggend net na 08:00 vanaf die Eerste Steen Natuurresevaat se kantore te stap. Dit is merkwaardig dat mens net ‘n paar meter vanaf die pad in die veld en tussen die duine kan stap terwyl jy net die golwe hoor en ‘n uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland het. Die sirkelroete neem ons tussen strand-, renoster- en fynbosveld – die tuiste van 45 soogdiere, 600 plantspesies, slange en reptiele. Die roete is 4,6 km en neem 1 uur om te voltooi. Terug by die voertuie stop ons vir 20 minute vir toebroodjies, koffie en tee. Ons stap strandlangs in ‘n suidelike rigting na Big Bay, Blue Peter, ‘n bekende baken, en rus op die strand om dan saam met die wind terug te stap tot by ons beginpunt. Ons totale tyd was 2 ure 52 minute. Ons sluit die dag af met ‘n heerlike soet waartlemoen. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en voorstap. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 48 m.