2026
Zevenwacht-stap – 20 Junie 2026
’n Groep van 5 stappers het op ’n heerlike wintersoggend by Zevenwacht ontmoet en om 08:00 begin stap. Ons was min in getal, maar dit het geen afbreuk gedoen aan ons geesdrif en genot van die stap nie. Die lug was mooi skoon en ons het pragtige uitsigte gehad op Tafelberg, Tafelbaai en Valsbaai tot by Rooiels se bekende baken. Die Helderberg was prentjiemooi en so ook die Swartland. Na ‘n lekker warm koffie en eetdingetjie by Mooiplaas se Lapa het ons verder gestap. Die keer meer heuwel af as op en afgesluit met ‘n heerlike warm drankie by die proelokaal. Almal was dit eens, dit was meer as die moeite werd en ‘n sonde om op so ‘n wonderlike dag nie buite in die natuur te stap nie. Baie dankie aan Arie en Arina van Eck vir die reëlings en stapleiding – en ook die variasie in die roete. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 354 m.
Durbanville Heuwels – 13 Junie 2026
‘n Groep van 11 stapmaats ontmoet 07:30 by Sportman’s Warehouse in Bellville. Ons verwelkom 4 nuwe stappers en stel onsself voor aanmekaar. Die stap begin met 83 trappies op pad na die Tygerberg Waterfront. Hier swenk ons regs en stap verby die meer en restaurante op pad na die veldpaadjie verby die ou tronk terrasse. Doordekraaldam is propvol water en lyk pragtig in die oggendlig. Ons kruis Jip de Jager-rylaan en stap deur Majikwoud 1 verby die nuwe waterkanale. Aan die bopunt swaai ons regs en stap ‘n lekker bult uit tot dat ons Majikwoud 2 bereik. Nog ‘n stewige lang bult bring ons by die draaipunt en ons span uit vir ‘n lekker breek en verfrissings. Na ‘n lekker rustige kuier pak ons die terugtog aan. Die uitsigte oor die Bolandse berge is pragtig, asook die varkblomme wat begin kop uitsteek. Ons stap deur die bos-gedeelte van Majikwoud en bereik weer Doordekraaldam en Tygerberg Waterfront. Teen ongeveer 11:30 is ons veilig terug by die motors. ‘n Groot dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die reëlings en stapleiding. Stafafstand: 15 km. Klimhoogte: 100 m.
Koringberg – 6 Junie 2026
Altesaam 13 stappers het op ‘n baie koue Saterdagoggend, maar met die mooiste sonsopkoms, die staproete begin om bo-op Koringberg in die Swartland te kan staan. Ons het flink die pad gevat na Klein-Swartberg en vandaar die klim begin. Die dag het in ‘n perfekte windstil en helder sonskyndag ontwikkel en ons kon baie ver sien. Kobus, die eienaar van die plaas, het saamgestap en interessante inligting oor die omgewing gedeel. Dit is die laaste oorblywende deel van die rhenosterveld, en tot dusver darem nog ongeskonde. Navorsers het aan die suidekant ‘n nuwe spesie skoenlapper ontdek, en bo het hulle ‘n blommetjie gekry wat almal al gedink het uitgeroei is. Amper bo kon ons Tafelberg al baie duidelik sien, asook die see in die verte en verskeie dorpe. Bo het ons ‘n blaaskans geneem. Onder ons het die dorpie Koringberg gelê, met koringvariëteite as straatname, en met al die groen koringlande rondom. In die verte kon ons verskeie bergreekse sien, met Kobus wat vir ons die name daarvan uitgelig het. Ons het nog ‘n paar kilometer geklim, en halfpad vir ‘n rukkie by die lapa vertoef om versterkings vir die res van die stap in te neem. Ons het met ‘n klipperige paadjie begin afdaal na ‘n nekkie toe, en toe ‘n steil paadjie af tot heel onder geneem, waar ons by Albert se vakansiehuisie, Onbekend, ingeloer het. Daarna het ons so amper ‘n kilometer al langs die koring (en nie in die koring nie) geloop om by ons volgende ruspunt uit te kom. Ons het heerlik op die groen gras gesit en tee gedrink. Hierna het ons die laaste 5 km in lieflike weer gestap na waar ons motors geparkeer is. Langs die pad het Kobus het ons vertel van die rooikatte wat baie pla omdat hul habitat, die berg-area, teenaan die plaas is. As die rooikatte egter geleer het om tarentale en ander voëls en klein diertjies as hoofvoedselbron te vang, vang hulle nie die lammers nie. ‘n Groot dankie aan Esther Warnicht en Magda Kritzinger wat die roete vooraf gerecce het en alles van die dag vir ons moontlik gemaak het. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 462 m.
Kirstenbosch Silvertree-roete – 30 Mei 2026
Nege van ons kom die Saterdagoggend om 08:00 by Kirstenbosch se Rycroft-hek (Hek 3) bymekaar om die Silvertree-roete te stap. Die roete kombineer die mooiste van Kirstenbosch met skaduryke kontoerpad aan die oostekant van Tafelberg (wat dit ook geskik maak vir die somer). Ons loop links om die besproeiingsdam en volg dan die trappies tot op die kontoerpad. Ons loop verby mooi inhamme met watervalle, mos-bedekte rotswande en die afdraaipaadjies na Nursery Ravine en Skeleton Gorge. Dan volg ‘n stewige opdraand (400 trappies) tot op die 300-meter kontoerpad. Ons stop vir iets te ete by die “scree belt” (strook klippe), wat fantastiese uitsigte oor die Skiereiland bied. Dit is ons hoogste punt vir die dag. ‘n Houtkapper kom sit in een van die bome vlak by ons en gee ‘n hele houtkap-vertoning. Ons stap nog ‘n kort entjie op die hoër kontoerpad en draai dan regs af en volg ‘n lang kuite-strekker afdraand tot ons weer regs draai en later ‘n grondpad volg tot ons uiteindelik links afdraai tot terug in Kirstenbosch. Ons werk ons pad verby Lady Anne Barnard se bad tot by die Boomslang-roete en dan weer tot by die Rycroft-hek. Party van ons ry om tot by Hek 2 vir koffie by die Tea Room terwyl ander deur die tuin soontoe stap. Dit is ‘n mooi en moeite-werd stap wat goeie oefening bied. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 471 m.
Helderberg-natuurreservaat: Woody’s Walk – 23 Mei 2026
Met die Tafelberg naweek wat weer eens in die slag gebly het weens weersomstandighede, besluit 9 van ons om bietjie by Helderbergnattuurreservaat die Woodies Walk roete te gaan stap. Ons kom by die parkeerarea bymekaar en spring weg, al teen die kant van die berg op. Ons vat ‘n bietjie van ‘n ander paadjie en sluit uiteindelik aan by die nuwe Waboom-roete. Hierdie nuwe roete tot in Disakloof maak dat mens ‘n groot deel van die jeeptrack misstap, en is ons nie bly nie. Na ‘n lekker rus in Disakloof, klim ons verder op in die kloof tot ons links uitdraai op Woodies Walk se kontoer. Hier is nog so bietjie op en op voordat ons uiteindelik by die draaipunt kom en begin sak terug. Die uitsigte vanaf die roete maak egter al die gesukkel tot daar bo die moeite werd. Ons vat nog ‘n onderdentlike breek en toe is dit voorwaarts tot ons weer terug is by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 673 m.
Gantouw-ossewaroete – 11 April 2026
Altesaam 19 van ons plus 1 “accidental tourist” (Pieter Lombaard van Natal, wat voëls kom kyk het maar toe by ons aangesluit het) het die Saterdagoggend 07:30 voor die ingang van die Steenbrasrivierdam op Sir Lowryspas bymekaar gekom. (Die afdraai is na regs nes jy oor die hoogste punt van die pas is, daar waar die dubbelbaanpad in een baan verander. Daar is sekuriteit by die ingang na die dam.) Ons het vinnig en versigtig oor die pad gehardloop en toe die paadjie oor die spoorlyn geneem en met die “teerpad” (wat later grondpad word) gestap tot ons links afgedraai het en opgeklim het na die Gantouwpas se nekkie. Op die nekkie het ons die paadjie links na die twee kanonne geneem en daar koffie en broodjies geniet. Dit was bitter koud, maar die mistigheid het vir mooi foto’s gesorg. Terug by die nekkie volg ons die afdraand met die gleuwe wat die ossewaens se wiele in die 17de eeu in die rotse ingekerf het want dit was vroeër die hoofroete tussen die Kaap en die Overberg. Hierdie deel van die roete is nederigmakend want dit gee mens ‘n idee van die absolute deursettingsvermoë van die mense wat hier met spanne osse en swaar waens deur is. Die vroegste aangetekende tog deur die pas was in 1662 deur Hendrik Lacus, ‘n landmeter van die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy. Teen 1821 is meer as 4 500 ossewaens elke jaar deur die Gantouwpas (Hottentots-Holland Kloof). Die Khoi-veewagters het na hierdie roete as Gantouw (“eland”) verwys. Die ossewaspore in die sandsteen is in 1958 tot Nasionale Monument verklaar. Onder by die treinspoor draai ons links en volg die spoorlyn tot by die 100 m lange tonnel wat onder die N2 deur loop (die middelste deel is pikdonker omdat die tonnel om ‘n draai loop). So 200 m na die tonnel kry ons weer die paadjie na regs wat ons terugneem na ons motors. Ons sê vir mekaar dat elke keer as ons opkyk na hierdie nekkie wanneer ons oor Sir Lowryspas ry, ons anders sal kyk na die mense wat hier met osse en waens oor is om die Kaap van vars groente en vrugte te voorsien. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings.
Stapafstand: 7 km. Klimhoogte: 450 m.




Jonkershoek: Yellowwood en Twin Peaks Contour – 21 Maart 2026
Nege van ons kom lekker vroeg by die hek van Jonkershoek bymekaar. Ons handel die permitte en admin af en begin te stap. Sommer dadelik begin die gelydelike klim op in die kloof op die Yellowwood roete. Toe ons amper bo is, stop ons in ‘n rivierloop vir ‘n koffie. Ons klim die laaste bietjie tot op die Twin Peak kontoer. Hiervandaan is dit ‘n gemaklike en gelyke roete tot ons weer by die jeeptrack aansluit. Hier draai ons links en mik vir die Langrivierkloof. Ons stap verby die helikopter landingsplek tot ons in die kloof aankom. Hier sit ons onder die bome in die skadu, langs die Landrivier. Na ‘n lekker rus vat ons die pad terug na die motors. ‘n Lekker maklike stap met die mooiste uitsigte.
Kilometers gestap: 16, Meters geklim: 709




Luiperdkamerastap: Limietberg / Bainskloof – 21 Maart 2026
Ons poging om om 7:00 te begin stap word in die wiele gery deur ‘n GPS misverstand maar ons kom darem om 7:29 aan die gang. Ons vorder goed en bereik die kameraligging twee uur later. Steph monteer en stel die nuwe kameras in terwyl Org en Mariana die gras en bossies snoei. Ons vertrek weer om 10:15 en bereik die motors om 12:40. Genadiglik was dit nog nie ondraaglik warm nie. Ons almal gaan eet en drink iets by die Ou Looiery.
Kilometers gestap: 9, Meters geklim: 405




Meerendal: Sirkelroete op die landgoed – 7 Maart 2026
Op ’n koelerige Saterdagoggend, het 11 stappers om 07:00, by die beginpunt by Meerendal bymekaargekom. Nadat die nodige gedoen is, het ons met ’n koue windjie in ons gesigte, begin stap. Die pad het ons rondom ’n paar blokke wingerde gelei en daarna om ’n koppie, begin kronkel. Ons het pragtige uitsigte van Tafelberg, Tafelbaai en Bloubergstrand geniet. In die voorgrond het wingerde die uitsigte volmaak afgerond. Na 4.5 km het ons die bree weg verlaat om teen Dorstkoppie uit te stap. Bo-op die koppie en ietwat uitasem het ons in die koel windjie ons lekker warm koppie koffie geniet. Na ons binneste warm was het ons op dieselfde paadjie teen die koppie afgestap. Die bree pad het ons rondom ‘n paar blokke wingerd geneem, voordat ons weer by die begin aangekom het. Almal was dit eens dat dit ‘n heerlike stap was. Dit het vir ons elkeeen van ons, goeie oefening gebied en die uitsigte het alles die moeite werd gemaak.
Kilometers gestap: 10, Meters geklim: 441
Hermanus-Kusroete: Grotto-Strand na Nuwe Hawe – 28 Februarie 2026
Ons was 11 mense wat Saterdagoggend 08:00 by die Rock-restaurant by Hermanus se Nuwe Hawe bymekaar gekom het. Ons los ‘n paar motors hier en ry almal saam in die ander voertuie na Grotto-strand waar ons begin stap. Die weer is mooi ten spyte van gerugte van sterk wind en reën later die dag. Die melkhoutbome op die eerste deel sorg vir baie foto-stoppe. Toe ons weer in die oopte kom, stop vir iets te ete by bankies met ‘n pragtige uitsig oor Walkerbaai. Soms is ons hoog bo die branders en ander kere onder by die wonderlikste getypoele of strandjies. In die verlede is ‘n deel van die roete langs die hoofpad herlei omdat die Poole-baai gedeelte te rotsagtig is. Nou loop die hele pad kuslangs danksy die nuwe Poole-baai verlenging (amper 1 km) met sy bruggies en loopvlakke wat op pilare gestut is. (The Poole’s Bay link of the Hermanus Cliff Path has been awarded gold at the SA Institute of Civil Engineering (SAICE) annual awards … noting the dedication of the team … to overcome challenges posed by wave action. This award is a testament to the community’s commitment to enhancing local infrastructure.) By Poole-baai se getypoel het twee van ons geswem (terwyl die res spyt was hulle het nie swemklere gebring nie). Hierna stap ons tot by die Ou Hawe waar ons ‘n uur uitsit vir koffie drink, roomys eet, by die winkeltjies rondsnuffel en/of na die see staar. Toe pak ons die laaste 3 km tot by die Nuwe Hawe aan. Hierdie deel is ook nuut. Daar is interessante beeldhouwerke van brons soos mens met die paadjie aanstap – ‘n goeie idee omdat dit kuns vir meer mense toeganklik maak. By die Nuwe Hawe word die bestuurders van die motors teruggeneem Grotto-strand toe sodat hulle hul voertuie kon gaan haal. Toe gaan eet ons lekker vis en tjips by die Quayside Cabin voor ons groet. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Arie en Arina van Eck vir die “sweeper”-dienste. Dit is ‘n stap wat ons elke jaar kan herhaal.
Kilometers gestap: 10, Meters geklim: 151
Majik Forest: Lang Roete – 21 Februarie 2026
Altesaam 21 mense (na ‘n paar kansellasies) het Saterdagoggend om 07:00 by die Majik Forest winkelsentrum bymekaar gekom vir ‘n vroegoggend-stap voor die beloofde 33 grade Celsius op ons neerdaal. Ons begin met die Majik Forest “sirkelroete” en stap verby die Renosterveld-tuin en die gedenkbome en geniet die skaduwee op die deel oorkant die riviertjie. Aan die einde van die sirkelroete draai ons regs en kom uit op ‘n jeeppad uit wat bult-op loop tot by ‘n baken op Koppie 1. Daarna volg ‘n entjie gelykpad tot by die volgende stewige bult wat ons na Koppie 2 neem – ons “brekfis-koppie”. Hier het ons onder die bome gesit en iets geëet, met mooi uitsigte oor wynplase soos Maastricht en Nitida en die Durbanville-omgewing. Daarna was dit amper heel pad afdraand “al langs die drade” en verby die kampie met die springbokkies en dansende volstruise tot terug by ons motors. Baie van ons het nie geweet van hierdie langer Majic Forest wat oor die koppies loop en die roete die moeite werd maak nie. Baie dankie aan Estelle Zietsman vir die recce en stapleiding.
Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 352 m.
Seepunt stap: Queen’s Beach na Oranjezicht Mark en terug. – 7 Februarie 2026
n Groep van 18 stapmaats ontmoet 06h45 by Queen’s Beach parkering. Admin word afgehandel en algemene verwagtinge van die roete word bespreek. Ons is gelukkig om ‘n paar nuwe stappers te ontmoet, asook 2 lede wat na ‘n baie lang rusperiode weer kom saamstap, te verwelkom. Dit is ‘n heerlike koel, bewolkte oggend! 07h00 Vertrek ons en stap al geselsend in die rigting van die V&A Waterfront. Die see en berg is pragtig! Die Promenade is pragtig opgeknap, die paadjies netjies herstel en die grasperke is besig om pragtig groen te raak. Meeste van ons is baie opgewonde om die nuwe Oranjezigt plaasmark vir die eerste keer te besoek en is aangenaam verras om te sien hoe pragtig en gerieflik die nuwe geboue se uitleg is. Alle handelsware is van topgehalte en die kosstalletjies laat mens se mond behoorlik water! Ons kuier daar vir 40 minute. Net om die draai van die mark sien ons ‘n paar dolfyne wat heerlik tussen die kajakroeiers in die baai baljaar – klap hul sterte en spat die roeiers sopnat! Pragtige interaksie tussen
die roeiers en dolfyne!! Oppad terug motors toe vertoef ons ‘n wyle om die Orms & Canon uitstalling te bewonder. Amanda wys vir ons die wenfoto (geneem deur haar vriend Marc Degenaar). Swem was ongelukkig uit, aangesien die getypoel met laagwater net kniediep is. Ons stap flink en bereik die motors teen ongeveer 10h15 – net betys, want die son begin nou steek! Dankie aan al die stapmaats wat die oggend met ons gedeel het!
Kilometers gestap: 12, Meters geklim: 10
Plaisir wynplaas: Volmaan-stap – 1 Februarie 2026
Mariette, Amanda, Brenda en Hanna het die volmaanstap by Plaisir gaan recce in November 2025. Soos die vorige volmaanstappe wat deur Hike the Vine aangebied is, was die reëlings baie goed. Mariette en Amanda het besluit dat elke stapper self sy bespreking en vrywaring aanlyn doen en ICE kontakbesonderhede verskaf. Ek moes net namens twee stappers hulle bespreking en betaling doen omdat hulle nie aanlyn kon regkom nie. Elke stapper het dan net ook ons klub se vrywaring voltooi. Hike the Vines se besprekings en betalings word aanlyn gedoen en bevestiging word onmiddellik per epos ontvang. Teen R250 is dit ‘n baie duur stap, maar steeds die moeite werd. (Dit is duurder as die vorige seisoen se Boschendal stap @ R150). Pensionarisse geniet egter 50% afslag en betaal dus net R125 vir die stap en ‘n proeglasie wyn by die piekniekplek. Teen 17:45 het 11 stappers bymekaargekom by die gras parkeerterrein net buite die Plaisir wynplaas se proelokaal. Spesiale toilette is deur Hike the Vines beskikbaar gestel. Ons het die stywe klim aangepak en binne 90 minute by die piekniekplek uitgekom. Die 5.7km roete is duidelik aangedui. By die piekniekterrein is ons begroet deur ‘n glasie Sauvignon of Chenin om saam met ons kos te geniet. Danksy die plastiekgras en piekniektafels kon ons lekker ontspan en wag vir die maan om oor die berge op te kom. Die uitsigte oor die vallei is onverbeterlik. Teen 21:30 het ons die 5.4km roete af aangepak en is telkens verras met klein liggies in die bos of oor ‘n bruggie of om ‘n paal. Die woud en nabyheid van die kabbelende rivierwater maak die stap ‘n spesiale uitstappie. Teen 22:00 was almal veilig by die motors. Februarie het ons ‘n pragtige aand gegun met wolklose nag en geen nodigheid vir baadjies nie, maar ons het baie warm gekry. Dit was 34 grade toe ons begin stap het en 26 grade daarna. Dit was die regte besluit om op ‘n naweeksaand te stap. ‘n Naweekstap in Maart sal dalk koeler wees as dit so kon uitwerk. Ons hou ons oë oop om te sien watter wynplaas Hike the Vines vir die 2026/2027 seisoen kies.
www.entryninja.com/events
Kilometers gestap: 11, Meters geklim: 300
Blouberg Seestap: Ons Huisie na Kreeftebaai – 17 Januarie 2026
Tien stappers het die ideale somerweer met pratige uitsigte oor die see en na Tafelberg geniet. Die stap het die beplande Almenkerk-stap inderhaas vervang. Ons moes improviseer as gevolg van die Blouberg Park Run wat parkering by die Eden-on-Bay sentrum bemoeilik het. Nietemin kon die stappers uit twee windrigtings begin, mekaar onderweg ontmoet en so is bewys dat ‘n boer steeds ‘n plan kan maak. Dit was ‘n goeie geleentheid om die litte los te kry en die prag van ‘n seestap te kon deel. Dankie aan die stappers vir hul geduld en aanpasbaarheid.
Kilometers gestap: 10, Meters geklim: NVT
Strandstap: Rondom Paardevlei na Hibernain en terug – 10 Januarie 2026
Ses van ons ontmoet mekaar om 7:15 in erge wind by die Paardevlei parkeerplek. Steph noem dat as jy in die Strand stap sonder wind is jy op die vekeerde plek! Ons vetrek om 7:30 en stap deur die Oostelike hek anti-kloksgewys om die vlei. Daar is heelwat voëls wat flaminke insluit. Ons stap by die westelik uitgang uit en maak ‘n vinnige stop by die motors voordat ons die Suid-Oostewind trompop aanpak. Ons stap by Busamed en Checkers verby en oor die Lourensrivier. Ons hou vir die eerste 800m aan die geboue se kant van Kusweg waarna ons oorgaan na die seekant. Ons draai by Hibernian Towers om, waar die wind só erg waai dat party bang is hulle waai om. Met die wind van agter gaan dit makliker en ons hou aan die seekant terug na die motors wat ons om 10:30 bereik. Ons gaan almal na Lorenzo Marx restaurant vir iets om te drink en “brunch”.
Kilometers gestap: 11, Meters geklim: 3
2025
Klein Roosboom “Party bike” – 6 Desember 2025
Soms in die lewe, veral hier na die einde van die jaar se kant toe, het ‘n mens lekker “saamdans-musiek”, ‘n glasie wyn en ‘n “party bike” nodig om ‘n slag te lag en die dinge van die jaar af te skud. En dit is wat 13 van ons (ons was meer, maar daar was ‘n paar wat as gevolg van siekte moes kanselleer) op Saterdag 6 Desember gedoen het toe ons om 10:30 op Klein Roosboom net buite Durbanville bymekaar gekom het. Eers bestel jy jou wyn en eetgoed, en dan is dit tyd vir fiets trap – nie dat ons vreeslik hoef te getrap het nie, want die “fietse” werk met batterye en eintlik help elkeen se getrap maar net om die battery te laai. Die party bikes, wat ‘n topspoed van 8 km per uur kan haal, het plek vir jou selfoon, wyn en eetgoed. Die bestuurder – met ‘n hemp waarop staan “High-performance driver – www.partybike.co.za” – dui aan wanneer jy moet vashou op ‘n afdraand en wanneer daar vir ‘n groepfoto gestop word. So het ons vir ten minste 2 uur lank deur die wingerde en oor die koppies gelag, getrap en gesels. Groot-groot pret! Agterna het ‘n groepie van ons nog oor ‘n koppie koffie of glas wyn gekuier. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en recce voor die tyd.
Vergelegen Wynproe-stap: Sirkelroete op die landgoed – 29 November 2025
Ag van ons kom om 8:45 op die parkeerplek van die wynproelokaal bymekaar. Daar is ‘n groot verkeersoponthoud in Stellenbosch agv ‘n padwedloop. Miranda maak dit betyds maar Amanda sluit eers ná die staptog by ons aan. Ons handel die admin af en val in die pad. Die persone wat nog nooit op Vergelegen was nie verkyk hulle aan die pragtige natuur en tuine. Om hulle te akkommodeer stap ons rustig en verkort die roete effens. Ons wat gereeld hier stap is eintlik bederf en gewoond daaraan. Gelukkig is Amanda by die wynproelokaal en ek bel haar om te reël dat ons so 15min gaan laat wees vir ons bespreking. Ons sit aan vir die proe van 3 wyne en is beïndruk met die gehalte. Ons word bederf met ‘n 4de wyn wat op promosie is. Daar word op die ou-end heelwat wyn gekoop. Die groep neem afskeid van mekaar behalwe vir vyf van ons wat na die Lourensfordmark gaan vir iets te ete en te drinke. Hierdie omgewing met sy mooiheid en aktiewiteite kan maar gereeld op ons stapprogram oorweeg word.
Nota: Almal het R105 vooruit inbetaal. R100 vir wynproe en R5 adminfooi. Steph betaal met kaart en word later vergoed.
Kilometers gestap: 4, Meters geklim: 24
Seepuntstap: Queen’s Beach parkering na Bantry Bay en terug – 15 November 2025
Stapmaats ontmoet om 07:00 by Queen’s Beach parkering. Kobus deel ‘n bietjie statistieke omtrent die omgewing, asook die astronomiese bedrae wat hier aan eiendom spandeer word. Ons begin stap met redelike sterk wind, maar almal is vrolik, want die uitsigte oor die see regs en die berge links is pragtig. Boonop droom ons om lywe soos die verbygaande drawwers te mag kry! Kampsbaai strand is pragtig en is vanoggend, bo verwagting, ook pragtig skoon. Orals langs die pad is daar hope luukse motors waaraan ons ons verkyk. By Bantry Baai kies ons koers rotse toe en elkeen vind ‘n lekker sitplek om ons piekniekkos te geniet, foto’s te neem en te gesels. Swem is vandag nie ‘n opsie nie, want die weer is koelerig. Ons begin stadig terugstap motors toe en sien die omgewing nou weer uit ‘n ander hoek. Alles spreek van rykdom en weelde, maar in ons harte is ons tevrede – ons is gesond, ons kan stap, ons kan die
mooi van die natuur geniet en ons het mekaar om die wereld op te vrolik!!
Kilometers gestap: 11, Meters geklim: 50
Tafelberg: Ceceliabos, Rooikatkloof en Kurkwoud – 8 November 2025
Stappers ontmoet 06h30 by Ceceliabos parkering. Ons stap met die bospaadjie in die rigting van Kirstenbosch en neem die Skeleton kloof voetpad berg-op. Van hierdie roete draai ons links af op die Rooikat kloof roete. Die volgende kilometer is trappe op en af en sorg vir goeie been oefening! Ons stop by die Cecelia waterval waar die stappers teetyd geniet en sommige sommer lekker afloel onder die waterval se stroompies water. Ons pak die volgende kilometer se trappe aan totdat ons by die grondpad kom vanwaar ons regs swenk om kKurkwoud toe te stap. Die woud bied lekker koelte lafenis en ons geniet ons piekniekkos by ‘n waterstroompie. Hierna stap ons al geselsend en bereik die motors so teen 10h45. Heerlike stap met genoeg oefening vir die bene, maar ook genoeg gelyk oppervlakte om lekker te kan gesels.
Kilometers gestap: 8, Meters geklim: 430
Grotto Bay, Duineroete – 1 November 2025
Lekker koel weer, na reën deur die nag, het ons die Saterdag-oggend by Grotto Bay natuurreservaat begroet. Die wind was matig en al dertien stappers was bly dat die sand ondervoet ietwat gekompakteer is deur die vooraf reën. Die roete het byval gevind as gevolg van sy diversiteit – eers stap mens deur die fynbosarea neffens die R27 waar skilpaaie, bokkies en talle slakke teëgekom is, dan na die rivierkruising met bietjie klimwerk op en af oor die duine, tot by die see waar die etebreek geniet is. Die laaste 5-6km loop langs die oseaan via billike en goed-onderhoude voetpaadjies. Daar was ‘n alternatief van ‘n matige rotsklouter-roete, maar die hooggety het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Rotse en seeklippe maak dat die seepad-gedeelte (ook genoem die Oystercatcher Trail – ons het ‘n paar van die swart tobies gesien) heel skouspelagtig is. Daar het ook hordes jellievisse uitgespoel wat vir unieke fotomateriaal gesorg het. Die stap het, breke ingesluit, byna 5 uur geduur en kan beskou word as ‘n gemaklike 2A-stap, met die sandfaktor waarskynlik die grootste uitdaging, alhoewel beslis haalbaar vir ‘n matige fiks stapper. Die stap word aanbeveel om gereeld op die program te kom, omdat dit bietjie ‘n ander landskap bied en ‘n goeie vullerstap sal wees op ‘n naweek wanneer daar graad 3 + stappe aangebied word.
Tygerberg sirkelroete – 25 Oktober 2025
Op ‘n lieflike koel lente-oggend kom 9 stappers bymekaar. Ons word verras met gratis toegang, omdat dit die naweek is van die Great Southern BioBlitz . Net soos in Oktober 2024, was die veld nog baie klam, groen en vol blomme. Ons sien voels, skoenlappers en selfs ‘n skilpad langs die pad. Ons het die sirkelroete kloksgewys aangepak vanaf die hek en die Ukhetshe-, Honey Badger-, Watsonia-, Tortoise-, en Duiker roetes gestap. Ons het rustig gestap en telkens gestop om die vergesigte na Robbeneiland, Tafelberg en later die Boland te geniet. 10 km met ‘n klimhoogte van 390m tydens die 4.5 ure uitstappie. Die onlangse toevoeging van ‘n kiosk by die ingang is ‘n aanwins. Die kiosk bied koffie, koeldranke, water, sjokolades, muffins en koekies. Tygerberg Natuurreservaat bly ‘n heerlike ontsnapping van die stadsgewoel terwyl dit uiters toeganklik en veilig is en boonop is jy teen middagete weer tuis.
Otterstaproete – 24 tot 28 Oktober 2025
Fonteintjiesberg, Thomas-hut – 18 tot 19 Oktober 2025
Ons is 8 stappers wat die stap meemaak. Ons vertrek in 2 motors. 1 groep moet eers aangaan Worcester toe om die sleutel van die hut op te tel. Soos Murphy dit wil hê is die dame laat en ons moet maar rustig verkeer en geduldig wag. Gelukkig is daar geen admin om af te handel en ons kon na 9:00 in die pad val en begin stap. Ons het reggemaak vir koue, maar die weer was ongelooflik lekker en ons groep van 8 dames klets en stap en geniet die pragtige uitsigte. Teen 14:30 kom ons by die hut aan. Daar is ‘n groep mense vd bergklub wat reeds die vorige dag gearriveer het. Ons sit rond, drink iets en van ons stappers stap af na die waterpoel en maak voete en bene nat. Ons deel stories met die ander stappers en party skrop en maak kos. Die volgende oggend is die bergklub lede vroeg op en ons besluit om ook maar op te staan en begin met ontbyt. Ons wens die groep wat die Traverse gaan doen ‘n lekker stap toe en begin
regmaak om self terug te stap. Die weer tel weer eens in ons guns. Ons stap teen ‘n lekker spoed af en geniet n laaste ruskans by ‘n waterpoel voordat ons by die motors aankom. Dit was ‘n heerlike 2-dag stap en ons is baie dankbaar dat ons die hut met die bergklub stappers kon deel. Dankie vir Brenda wat gehelp het met die naweek se reëlings en seker gemaak het die sleutel van die hut is veilig terugbesorg in Worcester.
Kloovenburg, Riebeek-Kasteel – 18 Oktober 2025
Die stap op hierdie roete het in 2022 uitgereen, maar hierdie rondte was die weer perfek – wolkskadu vir die eerste 2 ure en daarna gesellige sonskyn met die temperatuur darem laer as 30 grade. Twaalf stappers het die stap aangepak, waaronder 4 stappers wat die oggend 5-uur al uit Hermanus vertrek het (Petro Schlemmer is Pieter Du Toit, die eienaar van Kloovenburg, se suster en kon ons interessanthede vertel rondom haar grootwordjare op die plaas). Die stap kan van enige een van 2 beginpunte af aangedurf word en ons het by die Eight Feet Village begin – om ‘n vroeer begintyd te akkommodeer – Eight Feet is van 8-uur af oop, terwyl Kloovenburg se hekke eers 9-uur oopgaan. Die roete self het ons om wingerde en olyfboorde geneem, met ‘n paar gesonde bultjies en afdraendes, voordat ons na 1,5km die paadjie op met Kasteelberg na die grot-draaipunt geneem het. Hierdie deel is baie mooi en kronkel op deur bosse,
met ‘n baie matige hoeveelheid “rock-hopping”. Van die grot wat ongeveer 50% teen die berg uit is, kry mens ‘n uitsig oor die hele vallei en die dorpie Riebeek-Kasteel. Die af-pad is redelik aanhoudend en het konsentrasie geverg agv los grond plek-plek. Een val van ‘n besoeker was darem nie ernstig nie en teen 11:00 het ons Kloovenburg bereik, waar die brunch-breek geleentheid gelaat het om iets koels by Kringe-Inni-Bos aan te skaf (en ‘n soetigheid vir Mariette), asook ‘n vinnige gaan kyk na Kloovenburg se olyf- en wyn-aanbiedinge. Die laaste skof het ons, met nog twee klimme, teruggeneem na Eight Feet, waar feitlik almal die sosiale sy van die dag met pizza, sap en bier ondersteun het. Die konsensus was dat dit ‘n mooi en verbasend uitdagende graad 2 stap is wat herhaal kan word, maar dat ‘n herhaling beslis weer die bergpaadjie moet insluit (daarsonder sal dit dalk ietwat te elementêr wees).
Duiwelspiek – 11 Oktober 2025
14 van ons kom om 7:30 by die Duiwelspiek roete op Tafelbergpad bymekaar. Na die admin uitgesorteer is, begin ons met die sig-sag paadjie teen die berg uit stap to by die kontoerpad. Daar draai ons links en stap rustig voort. Die hele kaap is onder mis en ons het geen uitsigte van die stad. Ons neem n teebreek voordat ons die volgende steil pad aanvat na die saaltjie (Saddle Rock). Die wind is ysig maar ons besluit om tot bo te gaan. Dit is n baie steil 300m na die baken. Ons kry n beskutte deel waar ons weer iets eet terwyl ons stuk stuk fotos neem by die baken. Die hoogste baken is 1001m hoog wat net 85m laer as Tafelberg se 1086m is. Na n lekker rus begin ons weer versigtig met die steil paadjie af. Ons besluit om middagete by die uitkykpunt op Oppelskop te geniet. Na n lekker ruskans neem ons die steil paadjie vanaf Oppelskop Fire Lookout af tot by die teerpad en draai daar links in Tafelbergpad en stap terug na die motors. Die mis het weggetrek en ons kon darem so iets van die stad, Leeukop en ook Tafelberg sien. Dankie aan Werner Booysens vir die lei van die stap. Voorwaar n lieflike stap en almal het ingestem dat dit lekker was on weer op Tafelberg te stap.
Jonkershoek, Sosyskloof – 4 Oktober 2025
Ons was 8 dames wat gestap het. Ons het die admin teen 08:30 afgehandel en was reg om te begin stap. Dit was effe koel maar daar was geen wind nie. Dit was eintlik ‘n baie mooi dag. Ons aanvanklike plan was om Sosyskloof kloksgewys te stap (op in Swartboskloof tot by die afdraai op die kontoerpad en dan na Sosyskloof) maar ons het vanaf die hek ‘n vroeë afdraai op ‘n dienspad na regs gevat en toe regs opgedraai op ‘n stappaadjie wat ons na die ‘fire lookout’ geneem het (waar ons aanvanklik middagete beplan het). Ons besef toe dat ons besig was om die roete anti-kloksgewys te stap. Met die meeste van die klim toe agter die rug, neem ons ‘n 10 min breek want dit was nog te vroeg vir ontbyt. Ons het vanaf die groen huisie die laaste stukkie opgeklim tot op die kontoerpad, waarvan die eerste deel van die paadjie baie nou was met steil afgronde. Om 11:40 stop ons vir brunch by die inheemse bome met lekker sitplek, koeltebome reg rondom ons. Ons het iets geëet, lekker gelag vir stories en sommer 5 min by rustyd bygesit. Ons het verder gestap tot waar die Sosyskloofroete by die Swartbosroete aansluit en hier links op die Swartbosroete afgedraai en die paadjie tot onder by die jeeptrack en toe terug hek toe gevolg. Ons het omtrent 8 koggelmanders gesien, en een swart slang wat blitsvinnig voor Gerna (stapleier) verby geseil in die pad. So 10m later het ons vars bobbejaan ‘bollie’ in die pad gesien en so 8m verder ons die eerste bobbejaan gesien. Ons was rustig en het aangestap. ‘n Paar meter verder het ‘n klein bobbejaantjie op die klip gesit en vir ons gekyk. Die res het in die gras geskarrel. Ons is veilig daar verby. Ons het mooi blomme gesien. Ons het ervaar dat dit baie beter is om die roete anti-kloksgewys te stap en sal dit in die toekoms weer so stap. Wildcard is geldig vir Swartboskloof/Sosyskloof roete. Dankie vir elkeen wat saam kom stap het. Baie dankie aan Gerna Hough vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte 355m.
Koopmanskloof, Bottelaryheuwels – 27 September 2025
Die stap is gelei deur Madeleine Krause en Keenan wat in die area woonagtig is en die roete goed ken. Altesaam 26 stappers met heelwat besoekers het die oggend saam gestap in perfekte weer. Die stap is geskuif sodat ons beter blomme kon sien en ons was nie teleurgesteld nie. Ons asems het goed gejaag met die opdraande en ons kon gereeld stop om ie pragtige uitsigte oor die Skiereiland te besigtig. Die staproete is goed instand gehou en ons het op die koppie gebreek vir tee, waarna ons weer terug gestap het. Tydsduur was 2 uur 54 minute. Baie dankie aan Madeleine en Wynand Krause vir al die reëlings. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 285 m.
Sederberge – 20 tot 24 September 2025
DAG 1: Ons vertrek na Sederberge, parkeer die motors op Driehoek-plaas onder die eikebome en begin stap net na middagete. Dis ‘n stywe opdraand met die swaar sakke tot by “Die Rif”, waar ons wil oornag. Dis ‘n lekker kampplek in ‘n Sederboom-woud naby water. Dis koud en na kosmaaktyd en bietjie gesels, kruip ons in. DAG 2: Dis weer ‘n lieflike sonskyndag en ons val in die pad, net met dagsakkies, na Wolfbergboog, via Gabrielspas. Dis ‘n stewige klim, maar “Die Boog” is altyd ‘n besondere baken. Middagetetyd is ons terug by die kamp, opgewarm en reg vir die volgende 5 km na ons oornag plek by die Panorama-grot. Dit begin lyk na reën, soos voorspel vir die nag, en ons raak haastig. Nadat die Welbedacht-grot bekyk is, klouter ons verder na ons oornag-grot. Daar is gelukkig ook water naby. ‘n Paar brawes slaan tent op. Ons maak kos en kuier lekker knus in die grot, met pragtige uitsigte. Die weer versleg, dit begin reën en die wind waai verwoed. Die tentbewoners se tentjies klou vas deur die nag, met ‘n natterigheid wat hier en daar deurslaan, maar almal oorleef. Die wind gaan lê deur die nag en ons word beloon met ‘n volmaakte sonskynoggend. DAG 3: Ons stap terug tot by die Sleeppad en bly vir lank nog in Tafelberg en die “Spout” se skaduwee. Net verby Sleeppad-hut draai ons uit in Sneeukop se rigting. Ons volg die Eselsbank-rivier tot by die Twin Peaks, waar ons kamp opslaan. Dis nog vroeg-middag en ons kan lekker die waterval daar naby bekyk, vir ‘n slag ‘n “bad” vat, klere was en nat goed laat uitdroog. Ná ‘n lekker kuier en kosmaak, sak die son en dis koud. Tyd vir die warm slaapsak. DAG 4: Ons begin met ‘n effense opdraand, bewonder die verskeie mooi watervalle, wat sterk loop na die goeie reëns en die kameras klik aanhoudend. Ons stap verby Lauries Hell (‘n gedeelte van Sneeukop), bekyk Sneeukop-hut en neem weer die Sleeppad, wat net daar by die hut begin. Ons vorder tot by die bo-punt van Engelsmanskloof en bewonder die pragtige uitsig terwyl ons middagete geniet. Ons daal verder met die Sleeppad, draai af by Sleeppad-hut en sak ernstig af al met Jan Dissels-rivier langs tot onder by Grootmansvlakte, waar ons tente staanmaak, tussen die beskutte rotse. Ons verkeer uiters gesellig en maak aandkos vir oulaas. Dis ‘n pragtige koue windstil aand en die sterre skyn ekstra helder. DAG 5: Begin die dag met ‘n baie koue windjie. Vandag is dit net al die pad afdraand na die motors. Ons raak ontslae van al ons orige kos vir middagete langs ‘n lekker stroompie. Almal het nou stal geruik en ons is teen 12:00 terug by die motors. Werner verras ons met koue biere wat hy daar in sy bakkie op die ys gehou het. Heeeerlikk!!!
Dit was ‘n wonderlike 5 dae in die besondere atmosfeer van die Sederberge. Ons is dankbaar vir die geseënde tyd saam met lekker mense. ‘n GROOT dankie aan Santie Kies vir al die toutjies bymekaar hou en al die reelings. Stapafstand: 58 km. Klimhoogte: 1509 m.
Tafelberg: 5 damme en ‘n duikplank – 13 September 2025
Altesaam 12 stappers het vroegoggend by Constantianek bymekaar gekom om tot op die agterste tafel van Tafelberg te klim om te gaan kyk hoe lyk die vyf damme na die winterreën. Die damme met hul indrukwekkende damwalle is tussen 1896 en 1907 gebou om Kaapstad van water te voorsien. Ons het die “twee stelle trappies” tot op die jeeppad hoër op geneem. Die rotswande met die fynbosblommetjies op hierdie deel is altyd mooi. Hoe hoër ons geklim het, hoe meer mistig het dit geword. Ons het dus nie veel van ‘n uitsig gehad nie, maar die mistigheid sorg weer vir mooi foto’s. Ons eerste stop was die De Villiers-dam waar ons op die klippe gesit en ontbyt geëet het. Hier kon ons glad nie die damwal aan die oorkant sien nie, so dig was die mis. Ons gaan aan by die Alexandra-dam en Victoria-dam en stap tot by die indrukwekkende Hely-Hutchinson-dam waar ons met die leertjie tot op die damwal klim. Ook hier kon ons nie die ander kant van die 582 meter lange damwal sien nie. Op pad na die Woodhead-dam stel een van die stappers voor dat ons tot by die “duikplank” stap – ‘n oorhangrots aan die Kasteelpoort-kant van die berg so ‘n kilometer verder. Dit het vir fantastiese uitsigte en baie foto’s gesorg. Hierdie ekstra stukkie kan ons gerus op toekomstige soortgelyke stappe inwerk. Ons stap terug tot by die Woodhead-dam en rus ‘n rukkie aan die einde van die damwal voor ons die jeeppad terug na ons motors aanpak. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Gerna en Edna vir die voorstap. Stapafstand: 17 km. Klimhoogte: 590 m.
Sterretjieskop, Bergrivier, Franschhoek – 6 September 2025
Vyf van ons kom die oggend 08:00 by die Robertsvlei-hek van die Bergrivierdam bymekaar. Na die admin afgehandel is en die permit met Zapper betaal is, vat ons pad in die rigting van die berg aan linkerkant. Ons klim tot op die eerste kontoerlyn en draai regs. Ons stap lekker op die kontoer en oral is daar stroompies met lekker vars water. Na ‘n paar kilometers draai ons links om die boonste kontoer te vat. Ons klim maklik en geleideilk op en op. Die uitsigte oor Robertsvlei en die Bergrivierdam is asemrowend. Uiteindelik kom ons by die eindpunt/draaipunt aan, Sterretjieskop. Hier lê die hele Franschhoek-vallei en dorp voor ons. Ons geniet middagete en neem dan dieselfde roete terug tot by die laer kontoer, waar ons dan die pad reguit af vat tot weer op die jeeppad. ‘n Groot dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 537 m.
Elandsbaai stap- en kampnaweek – 29 Augustus tot 1 September 2025
Ons is 17 stappers wat die naweek kamp – ons staan op die Elandsbaai Hotel se kampterrein met mooi uitsigte oor die see. Ons kom stuk-stuk die aand daar aan, ons braai, kuier en party mense eet sommer iets by die hotel. Die volgende oggend stap ons ‘n goeie 10 km deur die dorp – ons neem foto’s en sien pragtige blomme. Ons drink tee en geniet ietsie langs die see. Vandaar besoek ons die Elandsbaai grot met tekeninge. Ons stap rustig seelangs terug. Party stappers geniet ‘n ligte ete by die hotel. Brenda en Werner bederf die groep met vars gebakte brood en jam asook ‘n lekker Cacktus Jack shooter. Die aand word daar weer gebraai. Almal braai saam met ‘n lekker blomhoed/hemp om sommer die lente te vier. Sondagoggend kry ons die gids om 10:00 voor die hotel en ons ry met ons motors na die Diepwal-grotte. Dit is ‘n stewige klim van 1 km tot bo. Die geskiendenis van die grotte word met ons gedeel. Teen 12:30 is ons terug by die motors en elkeen vat die pad huis toe. Party het egter nog ‘n paar dae gekamp en blomme gaan kyk. Ons was baie dankbaar dat daar geen reën geval het die naweek nie. Baie dankie aan Brenda en Werner vir die naweek se reelings. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 223 m.
Tafelberg, 12 Apostels – 23 Augustus 2025
Hierdie stap word byna gekanselleer weens slegte weer en reënvooruitsigte. Gelukkig is daar 12 stappers wat bereid is om te stap. Ons vervroeg die begintyd om sodoende die beste van die saak te maak. Stappers teken in en ons begin die roete anti-kloksgewys stap vanaf Oudekraal se parkeerarea. Die eerste paar honderd meter is redelik klipperig, maar daarna is die paadjies gerieflik begaanbaar. Die omgewing is pragtig met uitsigte op die 12 Apostelspieke bokant ons en die see regs van ons. Die koel weer sorg dat ons, sonder te veel sweet, die gemaklike opdraande hier en daar kan hanteer. Na 6 km begin die weer vinnig verander en ons besluit om te stop vir koffie en iets te ete. ‘n Lekker rëenbui sak oor ons uit en ons begin die terugtog motors toe. Hierdie is nou regtig ‘n mooi roete wat deur al Sanlam se staplede geniet kan word. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 350 m.
Papkuilsvlei – 16 tot 17 Augustus 2025
Ons val Saterdagoggend dou-voor-dag in die pad Redelinghuys toe. Die bestemming is Papkuilsvlei plaas. Soos altyd, word ons gasvry ontvang deur Gys en Brenda, die plaasmense. Nadat ons ons kieste en sakke vol soet naartjies gestop het, word die groepfoto geneem en val ons in die pad, darem net met dagsakkies. Magda, wat een van die argitekte van die roete was, vat voor. Dis ‘n heerlike vars oggend en ons kry kans om op te warm op die gelyk grondpad vir ongeveer 2 kilometer, maar toe begin die pret en moet ons ons lywe bobbejaan hou. Ons klim en klouter en kruip deur skeure en wurm onsself deur gaatjies. Maar ons sien interessante rotsformasies, spelonke en wereldwye uitsigte. Die kameras klik-klik. Ons is nie haastig nie, dag 1 is mos nét 9 kilometer. Almal “lyk” fiks en almal hou mooi bymekaar. En so, met al die baie konsentrasie om voete op die regte plekke te sit, is dag 1 amper verby toe ons die
oornagplek daar onder die kranse raaksien. Vir oulaas word ons moeë lywe getoets met die laaaaaang leer, wat ons tot by ons “luukse” (in stapterme) verblyf vat. Elkeen soek ‘n lêplek, die terrein word verken, ‘n paar flukses stook die donkie en verjaarsdag-kolwyntjies word geëet. Gaan koue bier en cup-cakes saam? Ons word deur die plaasmense bederf met lekker vars plaasbrood vir voorgereg. Die buite- en binnebraai se vure word aangesteek en dit raak lekker gesellig. Party van ons kyk selfs op die selfoon hoe die Bokke verloor!
Sondagoggend staan ons vars en vol nuwe moed op. Dag 2 se “maklike” 9 kilometer is ‘n mis-persepsie. In die mis moet ons weer die lang leer uitklim. Vandaar is dit toe weereens die ene “klein Oorlogskloof”. Ons klouter ook af in Rehan se grot en bekyk die wêreld van daar bo af. Dis so ‘n mooi helder dag dat ons die blou seewaters kan sien in die verte. Die veld vergoed ons met pragtige blomme, interessante plante en selfs ‘n slang. Teen 15:00 is ons weer terug by die motors. Ja, dit was ‘n uitdagende stap, maar ‘n goedvoel ervaring met baie goeie herinneringe. Dankie aan Santie Kies vir die leiding. Stapafstand: 18km. Klimhoogte: 682m.
Paarlberg – 2 Augustus 2025
Saterdag het 13 van ons die roete teen Paarlberg aangedurf met die hoofdoel om die dag te geniet. Ons het vanaf die veldblomtuin by Meulwater met die Jan Phillips-bergpad in ‘n noordelike rigting gestap, by ‘n pragtige waterval en kol inheemse woud afgedraai en toe tot by Oukraal opgeklim. Oukraal was vroeër een van die drie kampplekke waar daar in die Kerstyd uitgekamp is. Dit is ook hier waar die “Oukraal-liedjie” geskryf is. Ons stap toe al met die tweespoorpaadjie langs in die rigting van Betheldam waar ons tee gedrink het. Ons is toe verby Krismiskamp na die twee groot granietrotse Bretagne- en Gordon-klip wat 50 miljoen jaar oud is. ‘n Paar van ons het tot bo by die baken geklim terwyl die res onder gewag het. Na ‘n lekker koppie koffie en broodjies vat ons die pad na Paarlrots met sy kanon en daarvandaan terug na Meulwater. Dit was ‘n pragtige windstil sonskyndag met lekker gesels saam met stapvriende. Ons soek dikwels die mooi op ver plekke terwyl die “pêrels” hier op ons voorstoep is. ‘n Groot dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding. Stapafstand: 17 km. Klimhoogte: 533 m.
Zewenwacht-damme – 26 Julie 2025
Op ’n koelerige Saterdagoggend was 19 lede om 08:00 gereed om die roete van 12 km verby die plaas se damme aan te durf. Die eerste skof van 4 km het ons tot op die hoogste punt van die stap geneem. Ons het Mooiplaas se Lapa met sy 360-grade uitsig ’n warm dingetjie geniet. Daarvandaan het ons 2 km gestap tot by die hoogste dam op die plaas. Na ‘n vinnige stop om die skoonheid van die Skiereiland en die uitsig oor die plaas te geniet, het ‘n afdraand van 2 km gevolg tot by nog twee damme. Ons het toe ‘n entjie op ‘n openbare pad gestap en toe weer op die plaaspad afgedraai na die laaste dam. Hier het almal ‘n oomblik gesoek vir ‘n goeie ruskans, wat sou gebeur na nog ‘n draai deur die wingerde en ‘n kort bult. Ons het by die proelokaal gestop vir die allerheerlikste croissants en cappuccino. Hierna het ons die laaste stukkie na die parkeerplek gestap voordat ons mekaar gegroet en huiswaarts gekeer het. Ons is dankbaar dat daar geen beserings was nie en almal het die heerlike geselsskap en mooi natuurtonele geniet. ‘n Groot dankie aan Arie en Arina van Eck vir al die uitvindwerk, reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 357 m.
Perdekop, Mont Rochelle-natuurreservaat – 19 Julie 2025
Saterdagoggend het vier van ons by die Mont Rochelle-reservaat in Franschhoek bymekaar gekom. Gelukkig was dit darem nie te koud soos ander jare nie. Ons het 07:30 begin stap. Ons het ‘n vinnige 3 minute stop by Breakfast Rock geneem. Die uitsigte was pragtig omdat daar geen mis was nie. Daarna stap ons tot bo-op die nek waar ons rustig tee gedrink het. Perdekop lê 1575 m bo seevlak en is die hoogste piek in die reservaat. Ons het geen sneeu op pad gekry nie – net water wat ge-ys het. Ons het lekker foto’s geneem en heerlik gelag. Ons het die piek teen middagete bereik. Ongelukkig was daar ook geen sneeu nie. Die afstap neem sowat 3 ure tot by die bruggie wat oor die DuToits-rivierkloof strek. Dit was nogal veeleisend! Teen 15:50 was ons by die motors. Heerlike stap en goeie oefening. Beulagh sê: “Vandag weer besef, dat om stapfiks te wees, moet mens maar net gereeld in die berg stap.” Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap eersteklas gelei het en aan Brenda Sideratos vir die reëlings en ondersteuning. Stapafstand: 15 km. Klimhoogte: 1036 m.
Visrivier Canyon, Namibië – 6-10 Julie 2025
Altesaam 14 stappers het die Visrivier Canyon van 6 tot 10 Julie 2025 aangepak. Die groep van die staptoerklub het die vorige aand by Amanzi langs die Oranjerivier gekamp. Die Overbergers het die Saterdagby Ai-Ais aangesluit. Ons was groep 135. Sondag 6 Julie – afstand 6.08km: Dis vroeg opstaan en oppak. Ons neem die 07:00 shuttle vanaf Ai-Ais na Hobas. By Hobas handel ons die papierwerk af en drink ‘n laaste koffie. Na ‘n vinnige stop by die uitkykpunt ry ons tot by die stapbeginpunt. Na die verpligte groepfoto begin ons om 09:40 met die groot afklim na onder. Teen 12:00 is ons onder by die rivier. Na ‘n ruskans stap ons oor klipplate, rotse en sandbanke na ons slaapplek. Maandag 7 Julie – Afstand 13.7km: Ons begin so net voor 08:00 te stap. Die mikpunt is Palm Springs of ‘n slaapplek sowat 1 km daarna. Die dag se stap loop oor klipplate, rotse en sand. Ons sien onder meer luiperdspore, en natuurlik baie bobbejaanspore. Ons stop vir foto’s by die Vespa, wat die jaar mooi swart geverf is met wit blommetjies. Ons bereik Palm Springs teen ongeveer 15:00 en ontspan in die warm modderwater. Op pad na ons slaapplek sien ons wilde perde. Dinsdag 8 Julie – afstand 19.7km: Dis ‘n lang stapdag en ons begin weer so net voor 08:00 te stap. Die canyon begin oopmaak en daar is lang stukke gruispaadjies, baie “pebbles” en natuurlik sand. Ons slaap net na die 40 km merk. Woensdag 9 Julie – afstand 16.7km: Ons begin weer voor 08:00 stap. Vandag is lang afstand, met kortpaaie. Vorige stappers het aanbeveel dat ons nie die eerste kortpad doen nie, maar om die draai stap. Dis ‘n effense soektog om die pad te kry verby die begin van die kortpad, en ‘n paar stappers klim soos bergbokke teen die koppie uit. Die res van ons kry uiteindelik die regte roete en stap om die draai van die rivier. Daar wag ons vir die bergbokke voor ons verder stap. Die tweede kortpad is makliker en ons stap verby Viervingerrots, die Duitser se graf en oor die vlakte tot by ons slaapplek by die laagwaterbrug. Pink Palace is toe, so daar is nie burgers en bier nie – stapkos moet maar doen vir aandete. Donderdag 10 Julie – afstand 15.96km: Ons begin lekker vroeg sodat ons Bandage Pass kan aanvat voor dit te warm raak. Ons stap verby Pink Palace. Muggies, sand, dis warm, nog sand – dis hoe die dag verloop .Ons kom net na 13:00 in Ai-Ais aan. Dankbaar, nederig, moeg, dors en honger. Baie dankie aan Vlam vir jou uitstekende leiding, deeglike navorsing en beplanning. Dankie aan elkeen wat saamgestap het, wat op sy/haar eie manier ‘n bygedra het om die stap spesiaal te maak. Dit was ‘n besonderse stap-ervaring. Ons is dankbaar vir ‘n goeie en veilige stap. Die stappers sê:
Magda: Elke rots, elke rivierklip, elke blom en die maan se weerkaatsing in die water – wat meer kan ‘n mens vra. Alles net genade vir ons as nietige mense, ‘n geskenk uit God se hand.
Elsie: Om die Visrivier Canyon te stap was ‘n ongelooflike ervaring – fantasmogories in elke opsig. Die maanlig wat op die water weerkaats het, het die aande magies gemaak terwyl heldergeel blommetjies onverwags tussen klipstreke deurgebreek het. Die kranse het met elke draai nuwe vorms aangeneem, en my verbeelding het vlerke gekry. Die groepie se samehorigheid, Tertius se sang, sy tydige grappies en lekkers, en Vlam se inspirerende leierskap het alles saamgesnoer tot ’n onvergeetlike avontuur. Ek is dankbaar dat ek hierdie wonderlike reis saam met julle kon beleef.
Elza: Die wonderlike dorre landskap na en van Ai-Ais en in die Canyon self. Die baie kranse, klippe en waterpoele en die laaste aand se groot vuur met Vlam se vermaaklike stories. Die ongelooflike weer. Die hitte is klaar weer vergete.
Ulla: Die steil afgrond is ‘n klein opoffering vir die natuurskouspel wat daar onder vir jou wag. Soveel mooi elke dag, van die mooiste van blommetjies, rotsformasies en waterweerspiëelings. Ons was so ‘n lekker klomp saam. Ons het saam swaar gekry maar ook baie gelag. My kop is skoon en my hart loop oor van al die lekker. My eerste maar hopelik nie die laaste Vis nie.
Facebook-kommentaar vanaf ‘n ander groep. Ons was group 134 en hierdie groep was vol jokes en pragtige mense. Vlam julle groep rock, hoor! Hulle het regte spanbou bly hou en hulle kan stap, hoor! Dit was so lekker om julle te ontmoet. Julle spangees was merkbaar. Julle het ons lekker gemotiveer.
Abrie: Die Visrivier is nooit dieselfde nie, en elke keer wat jy dit stap, is dit ‘n nuwe ervaring. Jy vergeet die swaarkry en onthou die mooi, die rustigheid, die saamwees met stappers wat vriende word. ‘n Enorme groot dankie aan Abrie Marais en Joubert Matthee (Vlam) vir al die reëlings (en daar was baie) en die stapleiding (wat ‘n groot verantwoordelikheid in die afgeleë wildernisgebied is). Stapafstand: 72 km. Klimhoogte: 755 m.
Tafelberg, Platteklipkloof – 21 Junie 2025
Sewe stappers kom om 08:00 by Platteklipkloof se beginpunt op die Tafelberg-pad bymekaar en begin in mistige weer te stap. Die berg is mooi na die vorige dag se reën. Later die oggend trek die wolke weg en dit is heerlik sonnig, met ‘n koel wind. Ons sit en eet in die son by die kabelkarstasie bo-op die berg en durf die pad af aan. Platteklip is soos gewoonlik steil, maar goeie oefening vir die bene! Baie dankie aan Abrie Marais vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 714 m.
Rhebokskloof – 14 Junie 2025
Ons was 16 stappers wat die relatief nuwe staproete van Paarl Trails by Rhebokskloof aangedurf het. Die wintersdag was beslis ‘n goeie tyd van die jaar om in die Paarl-omgewing te stap. (Met Mei se recce-stap het die sweet ons nog afgeloop!) Die roete self bied skouspelagtige uitsigte oor die Paarl-vallei, wingerde en bos. Op die plaas self is enorme aanbouings onderweg wat die landgoed waarskynlik meer eksklusief in die toekoms kan maak. Flat Rock (‘n groot klipplaat) was ‘n mooi baken onderweg en het net bietjie laat gekom vir die “brunch break”. Plek-plek moes mens konsentreer by steil afdraandes wat duidelik daar vir bergfietsryers was. ‘n Tougly-opsie was groot pret – Katinka (Kobus en Edna se kleindogter) het dit veral geniet! Algeheel was dit ‘n aangename maar stewige 2A-stap en almal het saamgestem dat die natuurskoon dit die moeite werd maak. ‘n Punt van kritiek: as gevolg van die verskeidenheid roete-opsies is padmerkers en -aanwysings (hoewel daar baie is) by tye verwarrend. Ons moes teen die einde improviseer en weg van die pyle beweeg om ons eindpunt te bereik. Die roete-organiseerder Darren van Paarl Trails (nie deel van die Rhebokskloof-opset nie) was vriendelik en het vooraf en tydens die stap telefonies probeer help met verwarrende roete-aanwysings. Die verwarring het daarmee te doen dat die roetes hoofsaaklik vir fietsryers ontwikkel is. Dit is dus belangrik dat die stapleier die roete vooraf gaan recce. Maar eind goed, alles goed! Baie dankie aan Freddie Pohl vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 312 m.
Arangieskop – 31 Mei tot 1 Junie 2025
Sewe van ons kom die Vrydagaand by Dassiehoek se hut bymekaar en slaap daar oor. Ons deel die huis met nog ‘n groep stappers wat tot laataand skrop en gesels. Ons begin vroeg te stap en pak die roete teen die berg uit aan. Eers is daar ‘n lang jeeptrack, dan sien jy die bordjie vir Arangieskop, en dis net op en op en op. Ons klim stadig en geleidelik op. Die weer is absoluut perfek en jy kan vir kilometers en kilometers ver sien. Ons moet af klouter na die rivier, waar ons bietjie ‘n ruskans vat. Van daar begin die laaste aanhoudende op tot bo. Die uitsigte raak net beter en beter. Ons hou middagete net voordat ons die laaste stuk pad aanpak wat voel of dit nooit ophou nie. Aangekom by een van die beste hutte, kry ons groep ‘n kamer en elkeen skrop en doen sy ding. Die ander groep is reeds daar en het vuur gemaak vir braai en ook vir die donkie. Ons rus lekker en geniet die asemrowende uitsigte oor die Koo-vallei. Die volgende oggend 07:30 begin met ‘n stewig 200 m klim van die hut tot bo-op die piek. Op die piek met ‘n hoogte van 1696 m het jy 360-grade uitsigte. Ons neem foto’s by die baken met die Suid-Afrikaanse vlag wat in ‘n trommeltjie gehou word onder die baken. Na die fotosessie – DAN SAK JY AF. Eers is dit rustig en stadig af met die leer, en daarvandaan sak jy 600 m oor net minder as 3 km. Uiteindelik kom ons in die rivierloop aan waar daar so bietjie rock hopping en scrambling gedoen word voordat ons uiteindelik op die kontoerpad beland. Hiervandaan is dit voorwaarts voordat ons nog een laaste kloof moet af en op. Hiervandaan is dit net af en af en af en aanhoudend tot weer by die einde. Maak seker jy is fiks en reg vir hierdie uitdagende stap wat nie verniet die “Kilimanjaro of the Cape” genoem word nie. ‘n GROOT dankie aan Werner Booyens vir sy uitstekende leiding en omgee vir mense. Hy verdien ‘n medalje! Baie dankie ook aan Brenda Sideratos vir die stapreëlings. Stapafstand: 25 km. Klimhoogte: 1784 m.
Tafelberg Kabelkar-McClearsbaken – 24 Mei 2025
As jy naby aan Kaapstad bly moet jy so dan en wan met die kabelkar opry teen Tafelberg en dit was vir tien van ons weer op nuut ‘n aangename belewenis. Na die reën vroeër in die week was Saterdagmiddag se weer perfek en almal was oorgehaal om na McClear’s Beacon (die hoogste punt op die berg) te stap. Ons kon nie gevra het vir ‘n beter stapleier as Beulagh nie – sy is werklik ‘n fontein van kennis oor die berg en sy geskiedenis (onder meer oor oud-premier Jan Smuts se staptogte en oor die Portugese seevaarder Saldana). Die konvensionele roete na die baken het ons so sewentig minute geneem om te voltooi en daar kon almal smul aan hul padkos. Die uitsigte na Houtbaai en Kalkbaai se kant, oor die hawe en na Duiwelspiek (met net sy boonste spits sigbaar) bly fenomenaal. Almal het ingestem met Beulagh se voorstel om ‘n effe meer “avontuurlike” roete – met ‘n deel daarvan min of meer op die rand van die bergplato – terug te volg. Dit was ‘n interessante afwisseling en ons het by die Platteklipkloof-afdraai se leer weer by die tradisionele roete aangesluit. Teen 16:30 was ons terug by die kabelstasie en kon almal ontspan met ‘n bier of koffie by die restaurant. Meeste moes onder nog ‘n hele ent loop na hul voertuie, maar ons het dit maar nie ingetel in die statistieke nie! Baie dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding en baie dankie aan Freddie Pohl vir die stapreëlings. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 149 m.
Tafelberg Extreme – 17 Mei 2025
Sewe van ons kom die Saterdagoggend by die Ryterplaats-hek bymekaar. Ons handel die admin af en begin stap. Dit is heelpad ‘n steil opdraand en dit sukkel maar. Toe ons by die eerste stel “staples” aankom, volg ons die minder gebruikte paadjie na Judasgrot. Dit sukkel maar en daar is ‘n bietjie bundu bashing en baie los klippe. Uiteindelik kom ons by die grot uit waar ons ‘n welverdiende breek neem. Ons pak die paadjie terug aan tot by die eerste stel “staples” en klim verder. Ons mik opwaarts en voorwaarts tot ons uiteindelik by Judaspiek aankom waar ons vir middagete stop. Na ‘n ordentlike rus neem ons dieselfde paadjie terug. ‘n Lekker uitdagende stap met baie klouterwerk. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 770 m.
Knorhoek-wynplaas – 3 Mei 2025
‘n Groep van 19 dapper stappers het om 08:00 bymekaar gekom. Die opgewondenheid om mekaar weer te sien was gekenmerk met lag en gesels, soveel so dat ons stil gemaak moes word omrede ons naby die gastehuis ontmoet het. In ligte luim het ons die eerste skof van 6 km begin stap. Die uitsigte is werklik mooi en genoeg van ‘n opdraande net vir ‘n asembreek en warm klere uit te trek. Madeleine en Wynand was voor terwyl Steph die agter-beskerming behartig het. Daar was nie ‘n teebreek nie omdat die stap kort was. Madie het die ekstra Bosroete van 2 km saam 14 stappers gedoen. Die roete het pragtige bome en skaduwee met ‘n pofadder wat rustig langs die pad gelê het. Drie stappers is verby toe Gerna die slang met haar fotografiese oog oplet en eers ‘n paar foto’s geneem het. By die proekamer het die tweede groep by die ander vyf lede aangesluit en koffie en Italiaanse brood geniet, oftewel wynproe-en-pizza. Dankie aan almal. Dit was ‘n eerste stap op die wynplaas en ook ‘n heerlike stap. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 226 m.
Tsitsikamma – 29 April tot 5 Mei 2025
Dag 1: Ses van ons pak die Tsitsikamma aan. Ons ry lekker vroeg op Dag 1 vanuit die Kaap tot in Nature’s Valley. Daar aangekom, sorteer ons die admin by die kantoor uit en kry die goeie nuus dat die riviermond toe is. Dit het beteken dat ons die korter roete seelangs kon stap om by Kalanderhuit uit te kom. Dag 2: Ons begin om 08:00 te stap en sommer met die eerste voet by die deur uit reën dit lekker. Ons stap basies die hele oggend in die reën maar stop darem onder die brug onder die N2 vir ‘n bietjie droogheid. Ons kom uiteindelik by die Bloukranshut aan. Dag 3: Daar is eers ‘n lekker klim op na die plato van waar ons ook die Bloukransbrug kon sien. Ons sak later af na die Bloukransrivier waar ons met behulp van ‘n tou die rivier oorsteek. Die klim aan die anderkant van die rivier tap ‘n mens se energie maar ons maak dit. Ons stap verder op ‘n relatiewe plato na Keurboshut. Dag 4: Vandag se stap is redelik gelyk behalwe vir een groot klim na die Lotteringrivier. Daar is vandag drie rivierkruisings en elkeen kruis maar die riviere op die manier wat vir hulle gemaklik is. Na ‘n laaste rivierkruising (of twee) kom ons by Heuningboshut uit. Dag 5: Vandag is die twee groot klimme op die roete. Ons begin ‘n bietjie vroeër stap en mik eers om oor Rushes Pass te stap. Dit is ‘n ordentlike klim tot bo en ons sak weer af aan die ander kant na ‘n rivier wat op geen kaart aangedui is nie. Gelukkig is die maklik om oor te steek en ons mik vir die tweede groot klim – Nademaalsnek. Dit is nog ‘n ordentlike klim totdat ons bo by die klipstapel uitkom wat die hoogste punt aandui. Ons sak aan die ander kant af en loop al op die rif langs tot ons die Stormsrivier bereik waar die paadjie dan terugdraai en suid na Sleepkloofhut mik. Dag 6: Ons stap die laaste paar kilometer tot by die Petroport waar ons aan roosterbroodjies, muffins, koffie en dies meer smul. Ons ry dieselfde dag nog terug Kaap toe. Hoewel ons groot dele van die roete in die reën gestap het, was dit nog steeds bitter mooi – die berglandskappe, woude en alles tussenin. Al die hutte was in ‘n goeie toestand en ons kon elke aand warm stort, mits die donkie gestook is. ‘n GROOT dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 58 km. Klimhoogte: 2774 m.
Orangekloof, Tafelberg – 27 April 2025
Altesaam 11 stappers het by Constantianek parkeer en om 08:00 begin stap nadat die admin afgehandel is. Daar was drie paadjies wat nie een gemerk is nie. Ongelukkig het ons die derde pad gevat, daarna die twee en laaste die eerste afdraai – “Tented Camp – no entry”. Ons het in die mooi woud gestap en ontbyt by die waterstroom geëet. Ek het ent verder gestap om te kyk waarheen die pad gaan. Ons moes terugdraai en weer op hoofpad kom en het verder gestap. By die damwal het dit gelyk hier is die pad. Die paadjies was egter toegegroei en ons kon ook geen pad verder sien nie. Daarna het ons weer teruggedraai na die hoofpad wat ons tot by die ou kampeerterrein gelei het. Daar het ons met meerderheid stemme gegaan en besluit om terug te stap op die pad soos ons ingekom het. Ons het vermoed daar was ‘n afdraaipad wat lyk of dit klim na die kloof. Tyd het ons effe gevang – ons het gestap en in koelte gesit en middagete gehou. Soos dit die tradisie is, hou ons ‘n kompetisie op hierdie roete. Vraag 1: Noem die name van die 5 damme op Tafelberg. Estelle Havenga was die wenner van die pakkie kasjoeneute. Vraag 2: In watter jaar is Woodhead-dam gebou? Hanneke Pienaar was die naaste reg aan 1897 wat die antwoord was. Sy ontvang ‘n paaseier. Daarna het ons terug gestap. Die roete was steeds mooi, maar ons kon ongelukkig nie die Hell’s Gate roete vind nie. Baie dankie aan Gerna Hough vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 256 m.
Luiperdkamerastap – 19 April 2025
Die 11 stappers is almal betyds by Eerste Tol en ná die admin afgehandel is begin ons om 07:00 stap nét toe dit lig raak. Ons vorder goed in perfekte weersomstandighede. Ons stop vir ‘n wyle op die saaltjie. Behalwe vir die heerlike koel weer is die paadjie ook wonderlik begaanbaar. Ons is kort ná 09:00 by die kameras. Almal vlei hulle neer op die graspolle terwyl Steph die kameras afhaal. Cape Leopard Trust het laat weet dat hulle kontrakteurs gaan gebruik om vir die volgende 6 maande regoor die Wes-Kaap oral kameras op te stel vir ‘n opnameprojek. Ons neem dus die kameras huistoe en sal dit weer in September gaan opstel. Ons begin om ongeveer 09:40 ons terugtog, steeds in ideale omstandighede. Nege van ons gaan geniet ‘n bier met tjips by The Bell Inn. Ons het darem 5 foto’s elk met ‘n luiperd daarop vasgevang. Dit was beslis die aangenaamste stap op hierdie roete oor die laaste 10 jaar! Baie dankie aan Steph du Toit vir al die reëlings wat hierdie stap moontlik gemaak het. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 m.
Matoppie, Bergrivierdam, Franschhoek – 12 April 2025
Nadat die weer glad nie wou saamspeel met die Chapmanspiek-roete nie, besluit Werner ons moet steeds gaan stap. Hy bied toe Matoppie in die Bergriviervallei by Franschhoek as alternatief aan – ‘n gemaklike stap wat selfs in die reën gestap kan word. Sewe van ons kom by die damwal van die Bergrivierdam bymekaar en begin stap nadat die admin afgehandel is. Ons stap teen ‘n gemaklike pas en neem die dag ‘n bietjie van ‘n ander paadjie. Ons stop vir koffie en iets om te peusel, maar dit is nie lank nie of die reën begin uitsak. Ons stap verder in die reën tot terug by ons motors. Ons geniet na die tyd iets te drinke voor ons terugry huis toe. Baie dankie aan Werner Dalziel vir sy inisiatief om die beste van die Saterdag te maak. Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 321 m.
Devonvale-sirkelroete vanaf Clos Malverne – 5 April 2025
Altesaam 20 stappers het opgedaag om onder leiding van Christel Liebenberg – plaaslike inwoner en ‘n komiteelid van die Discover Rhenosterveld-bewaringsinisiatief – die stap mee te maak. Die dag was lekker sonnig en het toenemend warmer geword. Die eerste 1,5 km was teerpad langs totdat ons kort duskant die Devon Valley Hotel regs geswenk het en langs boorde en stukke renosterveld begin stap het. ‘n Stewige bult (sonder enige afplatting vir die volgende kilometer of wat) het die minder fikses se asemhaling goed opgejaag. Tussendeur het Christel haar kennis oor die veld en die omgewing gedeel. Almal het iets geleer, ook dat die optimale tyd van die jaar om in die omgewing te stap Augustus tot Oktober is, wanneer die veld sy blomryke jas aantrek. By Kunjani Wynplaas se proelokaal (halfpad op die roete) kon die stappers yskoue vrugtesap en ‘n ontbyt-wrap geniet en dit was nogal luuks om op rusbanke bedien te word teenoor die normale sit in die veld. Die tweede helfte van die stap, meestal met jeeptrack en plaaspaadjies, het deur die boorde en landskap van plase soos Hartenberg, Grand Domaine, Domaine Coutelier, JC Le Roux en Louisvale gestrek. Die pragtige vallei met Stellenboschberge op die horizon het skouspel verleen en mooi foto’s kon geneem word. Die stap is afgesluit met pizza, wyn en roomys vir sommiges by Clos Malverne. Spesiale dank aan Christel vir haar kundigheid en vriendelikheid, sonder daar enige rekening van haar was en bloot ‘n donasie aan Discover Rhenosterveld gevra is. Elke stapper het ook ‘n mooi drasak van die inisiatief ontvangs ter wille van bewusmaking van die bewaringsgebied. Baie dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 261 m.




Jonkershoek Perdeskoen-roete – 29 Maart 2025
Altesaam 14 van ons het vroegoggend by Jonkershoek se hek bymekaar gekom. Sommige het hulle “caffeine fix” ingekry deur die koffiewinkeltjie by die hek te ondersteun. Ons het die permitte aanlyn gekoop wat beteken dat die aanmeldproses heel vlot verloop het. Met Werner Dalziel as stapleier het ons vanaf die hek die “circuit”-roete anti-kloksgewys gestap, met drie ekstra draaie om die stap die moeite werd te maak. Die vroegoggend se mistigheid het vir koelte, ‘n tikkie mistiek en mooi foto’s gesorg. Ons stop vir koffie by die waterwerke en kies koers in Eerste Waterval se rigting – ons omdraaipunt en middagete-stop vir die dag. Dit is ongelooflik mooi hier. Party het sowaar geswem. Ons val weer in die pad en na ‘n paar kilometer draai ons regs op ‘n bosboupad wat parallel maar bietjie hoër op as die jeeppad loop. Daar was die dag ‘n “downhill bike race” in Jonkershoek aan die gang en ons stop om te sien hoe die deelnemers met ‘n hengse spoed via ‘n platform “oor die pad spring”. Indrukwekkend. (Downhill bike = primarily intended for high-speed descents.) Na die stap het ‘n klompie van ons by Postcard Café iets gaan drink en eet. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en Werner Dalziel vir die stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 340 m.




Bobbejaansrivier, Bainskloof – 15 Maart 2025
Altesaam 8 stappers kom 07:30 by die Eerste Tol/De Nek parkeerarea bymekaar. Ons handel die admin af en stap af na die beginpunt. Daar is baie min water in die Witterivier en ons kon maklik oorsteek. Die voetpaadjie loop aan die oorkant en is redelik maklik om te sien. Om en by 09:30 neem ons ‘n teebreek waar ons dan ook ‘n pragtige disa sien. Ons bereik die pragtige waterval sommer vroegoggend en vier van ons klim op teen die klip waar ‘n groot swemgat met waterval ons verras! Drie van ons het ‘n vinnige dip in die water geneem. Na ‘n rukkie stap ons terug na die groot swempoel waar ons middagete geniet en heerlik swem. Teen 15:15 is ons terug by die motors. Dit is nie ‘n moeilike stap nie maar ook nie vir die “minder fikses” nie . Dit was ‘n baie warm dag en ons het die swem geniet en die poel ten volle benut. Dankie aan Werner Booyens vir die lei van die stap en dankie aan Brenda Sideratos vir die reelings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 549 m.





Montagu-naweek (Drie Watervalle (8/3) en Aasvoëlkrans (9/3)) – 8-9 Maart 2025
Altesaam 20 stappers het Vrydag in Montagu se karavaanpark byeengekom en verrigtinge is met ‘n gesellige braai afgeskop. Almal se vleis het min of meer eetbaar anderkant uitgekom (hopelik). Teen 21:00 se kant het moegheid, die ligfaktor en die wete dat ons vroeg sou begin die volgende dag (met wesenlike hitte voorspel) gelei tot ‘n besluit om die “Montagu Spanspel” eerder na die Saterdagmiddag te skuif. Teen 07:00 Saterdagoggend was almal slaggereed en het ons van die oord af te voet vertrek na waar die Bloupunt-roete begin. Op pad het ‘n blou huis se omstrede naam gelei tot enkele opmerkings. Ons is ook verby die Eyssen Huys wat ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid is. Die wolkskadu het gehelp vir die eerste helfte van hierdie stap, wat sowat 30% van Bloupunt behels. Ons is talle kere kruis en dwars oor die rivierstroompies. Die kloof met majestueuse berge alom het almal op nuut verstom. ‘n Paar bokkies teen die rotse op het bygedra tot die wete dat jy in die hart van die natuur is. By die eerste waterval is vlugtig gestop maar daarna het hindernisse (veroorsaak deur November se groot reëns) ons verhoed om af te draai na die tweede waterval genaamd die Vlermuis-valle. Net 10 van die 20 het kans gesien om op te klouter na die Silver Stream waterval en die ander groepie het gaan uitspan by die eerste waterval. Een enkele dapper stapper (Suza) het in die poel gaan afkoel! Toe die groep weer konsolideer, was die son met mening uit en enige skadu langs die pad welkom. Ons het naastenby 12:30 weer die oord bereik, almal meer as reg vir afkoel in die swembad. Na uur of twee se eietyd het die Montagu Spanspel toe plaasgevind. Moere (die staal soort) is gestapel, balletjies is na ‘n emmer gehop, water is met ‘n vergiettes vervoer en die langasems moes Skittels met ‘n strooitjie rondbeweeg. Laastens moes al vyf spanne ‘n Wes-Kaapse dorp ontsyfer deur letters te skommel. Drie spanlede werk dalk beter as vier (of dit help om die jongste en “mees volwasse” stapper in jou geledere te hê) want die Divas (Beulagh, Netarie en Gerna) het gewen. Teen laatmiddag is ons te voet deur Montagu se strate en het die argitektuur van die dorpie geniet. Die Divas het hul prys ontvang by die Country Hotel – ‘n 1956 Cadillac-rit met toergids/chauffeur en sjampanje op die huis! Die minder gelukkiges het ontspan met ‘n drankie by die hotel se Flatcaps & Feathers, waarna party gaan braai het en die ander het iets gaan nuttig by Route 62 Brewing Company. Die sosiale sy van aktiwiteite het dalk bygedra daartoe dat net 12 van die 20 kans gesien het vir Sondagoggend se 5 km stap. Aasvoëlkrans, die koppie op regterhand net soos mens Montagu binnekom van Ashton af, is uitgeklim en die 400 m plus se oppe en affe het ons genoeg laat sweet. Ons was nietemin teen 09:30 klaar en kon almal gaan op pak en die pad huiswaarts (of ooswaarts vir Kobus en Edna) aandurf. Dankie aan almal vir saamloop, saamkamp en saamkuier. ‘n GROOT dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings en al die ekstras. Stapafstand: 19 km. Klimhoogte: 886 m (vir die stappers wat die volle roetes gedoen het).




Leopard’s Loop, Helderberg – 1 Maart 2025
Ons oggend het mooi uitgedraai en daar was geen reën nie. Ons begin op die Bats-roete met gelyk pad. Ons volg daarna die jeeppad wat ons redelik laat klim het. Daar was redelik los klippe. Net voor ons die single track paadjie op vat na Leopard’s Loop, neem ons ‘n breek en eet iets en aanskou die pragtige uitsig oor Somerset-Wes, die Strand en die see. Na die 10-minute breek het ons begin klim. Nadat ons ons hoogte bereik het, het ons steeds op single track gestap en paar houtbruggies oorgesteek. Ons was teen 11:00 by die kruising van Woody’s/Leopard’s Loop waar ons brunch gehou het en langer gerus het en net die koelte en mooi bome om ons geniet het. Ons het verder gestap en daarna was dit net reguit pad en afdraandes. Ons het die Kaapse suikervoël op ons roete gesien. Die roete is goeie oefening vir naweekstappe, met los klippe en heelwat klimhoogte. Baie dankie aan Gerna Hough vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 570 m.



Plaisir de Merle, Simondium – 22 Februarie 2025
Ons besoek ‘n plaas in die Groot Drakenstein-distrik. Hierdie plaas se geskiedenis begin meer as 300 jaar gelede – om presies te wees dateer die plaas uit 1693. Charles Marais vlug uit sy vaderland, Frankryk, en kom vestig homself hier in Suid-Afrika. Simon van der Stel ken die stuk grond toe aan Charles en hy vernoem die plaas na sy geboortedorp in Frankryk: “Le Plessis Marly”. Die plaas het ‘n ryk geskiedenis van wingerdboerdery, natuurbewaring en harmonie met die natuur. Die plaas se huidige eienaar is Michael Jordaan en staan tans as Plaisir de Merle bekend wat “Pleasure of the Blackbird” beteken. Ons verwag ‘n redelike warm dag en ontmoet al reeds 06h45 by die hek, betaal ons permitte en parkeer by die restaurant. Altesaam 26 gewillige stappers begin die dag se roete. Ons stap verby ‘n stroom waar daar welige Lotusblomme groei en kronkel dan deur die wingerde op pad na die Simonsberge aan ons regterkant. Hier en daar geniet ons die koelte van ‘n bospaadjie wat slinger teen die opdraand uit. Ons klim ‘n redelike steilte uit en vind ‘n lekker sitplek vir oggendkoffie. Hier het ons pragtige uitsigte oor die plaas en Paarlberg in die verte. Ons stap al met die kontoerpaadjie tot by die fotoraam op die plaas waar Werner vir ons ‘n groepfoto neem. Nou kronkel ons met ‘n redelike steil paadjie af terug na die plaasopstal toe. Almal het flink gestap en ons is teen 11:15 terug by die opstal. Ons vind ‘n lekker sitplek onder die bome en bestel koeldrankies en iets te ete. Na ‘n lekker gesellige kuier vertrek almal huis toe. Baie dankie aan almal wat saam met ons gestap het. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir al die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 13 km. Klimhoogte: 382 m.
Murludi (Elsbosroete), Tulbagh – 8 Februarie 2025
Altesaam 18 stappers het die vroeë begin van die Elsbosroete by Murludi Vrugteplaas Noord van Tulbagh aangedurf. Hoewel Wynand nie kon saamstap nie, het hy ons per fiets gemonitor (of altans totdat die hitte hom van die toneel laat verdwyn het). Die son was ons aanvanklik genadig en die eerste 2 tot 3 km deur die vrugteboorde het gemaklik verloop, veral danksy bewolktheid bo alhoewel ons toe reeds hoogte begin wen het. In die middel van die syfer 8 vorm roete het ons deur die fynbosgedeelte begin stap en vandaar was die roete steiler. Die belonging was ‘n Uitsig oor die hele Tulbagh-vallei na die suide, oor damme en plase heen met die dorp in die verte. Ons etebreek was vroegerig by ‘n mooi waterstroom en boomryke skadukol. Die besluit om daar te stop was goed, want daarna was die 30 grade plus sonskyn van bo af terug en skadu so skaars soos hoendertande. Die rotsklip onder voet het ons stadig maar seker laat vorder en ‘n paar glye en valle op die los grond-gedeeltes ten spyt het almal in een stuk weer die afdraai na die rivier-roete (laaste 2k m) bereik. Teen sowat 13:00 was ons terug by Murludi se ontvangs en almal wou vir ‘n rukkie daarna nie weer oor groot klippe klouter nie. Heerlike taaipitperskes en tamaties was teen billike pryse te koop en van die stappers was al teen die aand besig om konfyt te kook! Montpellier ses prokiesbos waar ons afterna sou vertoef, was met die lank stap toe ongelukkig al vir ‘n privaat funksie gesluit maar hul pizza en drankies by die Bouval-restaurant langsaan was nog steeds ‘n treffer (toe ons eers almal die plek opgespoor het)! Dit was baie spesiaal dat al 18 stappers en ons fietsmaat agterna nog lekker kon saamkuier – ‘nvolhuis dus behaal vir die stap- en die toerkomponent! Dankie aan almal vir die meelewing. En ‘n GROOT dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings, ekstras en stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 475 m.
Houwhoek-dagstap – 1 Februarie 2025
Die weer-apps het ‘n baie warm dag voorspel en dit is waarom ons groep van 24 reeds om 07:30 by die Houwhoek Hotel bymekaar gekom het om die sirkelroete in die berge agter die hotel te stap. Die “inboek” het ‘n tydjie geneem want ons moes admin doen, ‘n kaart by Ontvangs kry, en hoor waar die nuwe beginpunt is terwyl party koffie koop en die hotel verken. Uiteindelik kies ons koers na die nuwe hangbrug (die ou een het verspoel) naby die spa wat ons oor die rivier neem en waar ons links draai om die roete kloksgewys te stap. Ons klim geleidelik tot ons by ‘n jeeppad uitkom en stap ‘n ent daarop tot ons regs op die veldpaadjie afdraai wat steilerig en klipperig tot op ‘n plato klim. Net nadat ons bo gekom het, stop ons vir iets te ete. Hierna stap ons seker so 3 km op ‘n gelyk paadjie tussen die mooiste fynbos en ons is verwonderd oor hoe groen dit in die middel van somer is. Met die afsak terug na die beginpunt voel ons die hitte en is ons dankbaar ons het die moeilikste deel eerste gedoen toe dit nog koeler was. Party van ons gaan sit welgeluksalig buite op die hotel se stoep om iets koels te drink voor ons die pad huis toe aanpak (via die Houwhoek-padstal en ‘n pastei of twee). Dit is ‘n roete wat mens ook in die winter kan stap. Geen permitgeld word gevra nie. Goeie idee om die roete kloksgewys te stap. Baie dankie aan Werner Booyens vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 440 m.




Bergrivier: 25 Januarie 2025
6 Van ons kom lekker vroeg by die boonste hek van die Bergrivierdam bymekaar. Ons handel die administrasie af en begin te stap. Ons begin met ‘n nuwe paadjie en stap eers reguit in die rigting van die berg en op na die kontoer. Ons stap kontoer-langs en drink ‘n koffetjie langs die pad. Uiteindelik draai ons terug af na die jeep track. Ons eerste swem is by die ou stukkende brug. Die water is lekker koel. Ons stap toe bietjie verder na die nuwe keerwal waar ons toe weer lekker swem, eet en geniet. Nadat ons lekker baljaar het, stap ons weer die laaste paar kilometers terug na die motors. Ná die tyd geniet ons ‘n lekker drankie by die Franschoek Beer Company. Meters geklim: 320m





Durbanville Meander: 18 Januarie 2025
20 Stappers ontmoet by Doordekraaldam. Ons groet, teken in en begin die dag se roete al langs die teerpad tot by die Protea Hotel. Hiers kuif ons oor die pad en neem die voetpad wat rondom die hotel loop en begin met ons eerste stywe bult vir die dag. Die asems jaag ‘n bietjie, maar almal is gewillig. Met aan koms in die natuurtuin, neem ons ‘n draai na regs en loop met ‘n gemaklike grondpad tot naby die kragstasie in die park. Ons loop oor na die tweede gedeelte van Majik Forest en pak die volgende steil bult aan. Na ‘n lekker stewige klim neem ons ‘n 15 minute breuk vir iets te ete en drinke onder die koeltebome. Ná ete pak ons die res van die roete aan – gelukkig nou afdraend op pad terug. By die onderste gedeelte van Majik Forest neem ons die bos paadjie wat heerlike koelte bied. Ons besoek vlugtig die Renosterveldtuin wat so jaar of twee vroëer hier aangeplant is. Die ywerige fotograwe gebruik die geleentheid vir die neem van ‘n paar mooi fotos op die bankies tussen die plantegroei. Ons pak die laaste gedeelte van die roete aan tot terug by die motors. ‘n Paar van die stappers benut die geleentheid om by die Kenridge Deli verder te kuier en hul heerlike eetgoed te geniet. Afstand: 12km. Hoogte geklim: 300m.




Blaauwberg Seestap: 11 Januarie 2025
Ons ontmoet by Ons Huisie in Blaauwberg mooi vroeg, sodat ons laagwater na die eiland kan oorstap, die see was nog bietjie rof met die komende volmaan maar met baie pret is ons op die eiland voor Blue Peter Hotel. Pragtige uitsig van Blaauwberg en Tafelberg. Terug op die strand loop ons in ‘n Noordelike rigting verby BigBay en gaan kyk op die strand waar daar vroeër haaitande uitgespoel het. Ons bereik ons omdraai punt en stap vir ‘n heerlike koffie en “pastries” na On The Rocks eetplek. Hartseer moes ek “Wynand” aan Amanda oorgee weens siekte. Ek en Michelle is toe na 4km klaar gestap maar die res van die groep en die foto’s vertoon ‘n pragtige dag langs die see. Afstand=10km, Klimhoogte=39m




