Stapverslae 2023

Yzerfontein – kamp- en stapnaweek: 10 tot 11 November 2023

Ons groep kom Vrydagmiddag so stuk-stuk by Yzerfontein se karavaanpark aan en almal slaan vinnig hul tent-tuiste vir die naweek op – van klein inkruip-staptentjies tot behoorlike kamptente met al die toerusting wat kamp huislik maak. Die see se gedruis op die effense briesie bring ons almal in ‘n vakansieluim. Daar word saam gekuier op een staanplek wat as die basis vir die naweek dien. Ons het vooraf bespreek om saam kos te maak en elkeen het ‘n bedrag bygedra. Die vure word aangesteek en ons kuier lekker saam en bewonder die sonsondergang net duskant ons. Saterdagoggend spring ons om 08:00 weg na Schaapeiland. Dis laagwater met heerlike weer. Die eiland is so 4,35 km waar ons gelukkig as gevolg van die laagwater kan oorstap en ‘n breek met voete in die mooi poele kan geniet. Die terugstap is mooi tussen al die verskillende poele en rotsformasies. Die res van die middag is almal vry. Party gaan besoek die Rosemead-bakkery, Beaches-restaurant, en/of Blake Family Wines. Drie dapper dames trotseer die yskoue see vir ‘n vinnige swem. Teen 17:00 het die kring op ons basis-staanplek al groter begin raak en is die vure weer aangesteek vir ‘n lekker hoenderbredie. ‘n Groepie wat weer na die sonsondergang oorkant die duin gaan kyk, word verras met ‘n klompie sangers wat die oomblik magies saamvat. Sondag begin ons weer 08:00 stap vir ‘n totale afstand van 10 km al langs die see. Ons draai by die 5 km merk om na ‘n kort breek en besigtiging van ‘n galjoen-seilskip se mas wat jare gelede daar uitgespoel het. Vier perde met ruiters kom verby ons op die strand. Die wind van voor word ‘n bietjie frisser, maar niemand kla nie en ons stap geselsend tot by die kampterrein waar ons oppak, groet en elkeen in ons eie rigting vertrek. ‘n Groot dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die verkenning vooraf, al die reëlings, Vrydagaand se boereworsrolle en Saterdagaand se heerlike hoenderkerriepot met al die ekstras. Stapafstand: 19 km. Klimhoogte: 175m.

Luiperdkamerastap – 4 November 2023

Agt van ons is stiptelik om 08:00 in digte mis by Eerste Tol. Ná die admin afgehandel is begin ons om 08:10 te stap. Die paadjie is redelik oopgetrap en ons vorder gemaklik. Ons kom om 10:20 by die kameras aan. Daar is twee luiperdfoto’s op die nuwe Kamera A en die ou kamera het slegs ‘n gedeelte van die tydperk gewerk en daarop is een luiperdfoto. Ek monteer die nuutste kamera (2) (aangekoop deur die klub) in die plek van die oue en nadat ek die foto’s van kamera A afgelaai het monteer ek dit weer. Dit neem ongeveer ‘n uur waartydens Org die terrein voor die kameras skoon knip. Ons begin ons terugtog om 11:30. Die weer is deurgaans gunstig en om 13:30 is ons terug by die motors. Ons drink almal ‘n bier by The Bell Inn voordat ons uitmekaar gaan. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 405 meter.

Paarlberg – 28 Oktober 2023

Saterdagoggend het 13 van ons by Meulwater bymekaargekom. Admin is gou-gou afgehandel en die weer was perfek vir die stap. Ons is eers na die waterval en toe op met die paadjie tot by Oukraal. Hier het ons ‘n vinnige ruskans geneem terwyl Beulagh ons meer vertel het van die geskiedenis rondom Oukraal. Ons het teetyd by Betheldam vertoef – die dam is propvol! By Krismiskamp het ons weer ‘n vinnig breek geneem en is van daar af met die paadjie na Bretagne- en Gordonklip.  Ons stap rustig die 365 trappies na bo en ‘n paar van ons is op met die paadjie en ketting na Bretagneklip. Die wind het egter so erg gewaai dat ons bo omgedraai het (het daar probeer eet) maar die wind het gewen! Toe het ons eerder onder gaan eet. As gevolg van die wind wou niemand opgaan met Paarlrots nie. Ons is deur die tuin terug na ons motors (13:20 klaar gestap). Almal was opgewonde om nog klaar te gaan maak vir die Wêreldbeker Rugby wat 21:00 die aand uitgesaai sou word. Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en dankie aan Brenda Sideratos vir die reelings.       Stapafstand: 12 km. Klimhoogte: 533 meter.

Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Nature’s Rest tot Mosselbaai): 30 September tot 6 Oktober 2023

Agt pelgrims het uit verskeie oorde na Pinnacle Point vertrek en oorgeslaap by Niel en Sharon Visser se pragtige huis. Op Dag 1 laai die pendeldiens ons om 05:30 op en ons vertrek na ons beginpunt by Heimersrivier. Eduard gee ons rooi staphoede en pelgrimspaspoorte en ons word afgesien. Die brunch etes deur die Pelgrimsroete is ruim porsies en ons word oral bederf. Saans slaap ons in skoon, goedversorgde geriewe. Oral is ‘n ” honesty bar” met wyn, koeldrank en koue water of bier. Sommige van die oorblyplekke het selfs lekkers of pakkies chips beskikbaar gehad. Dag 2 was opwindend met die treintrollie wat ons moes trap tot by die Holgate-padstal. Dit was baie pret maar nie so maklik as wat dit lyk nie. Ons groep het by die Padstal ‘n boom geplant as teken van Hoop. Die teetuin by ons eindbestemming was heerlik en die volgende oggend het die kerkklokke van Herold saam met ds Gert ons weer afgesien, ná ‘n kersaansteek-sermonie en die voorlees van Psalm 130. Die Montagupas was pragtig maar baie warm. Gelukkig was daar oral waterstroompies en koeltes vir ‘n lafenis. Die Tolhuis Museum was ons middagetestop waar ons heeltemal te veel geëet het. Elke dag het een van ons stappers die geleentheid gehad om ‘n boodskap te lewer wat ons met ons kon saamneem vir die dag. Die herbergiers is hartsmense wat baie moeite doen en lekker gesels voor ete. Dit dra alles by tot die wonder van hierdie besonderse stap. Die weer was iets van alles – van warm tot reën. Seelangs is nie moeilik nie, maar ons moes met tye skoene uittrek. Ons het ‘n ongelooflike walvisopvoering gehad. Daarna is die natweer met warm Spur-tjippies afgesluk. Jy stap jouself fiks en aan die einde van die stap word jy beloon met nagmaal by die plaaslike gemeente, vonkelwyn en ‘n opsionele besoek aan die vuurtoring van St Blaize. Die kuier by Delfinos met die R100 geskenkbewys was baie emosioneel. Ons pendeldiens tel ons weer op en neem ons terug na Pinnacle Point. Na ‘n lekker stort het ons gesit en besin oor die afgelope paar dae. Die hele Pelgrimstog was ‘n ongelooflike ondervinding en ons pelgrims sal vir lank daaroor droom. ‘n GROOT dankie aan Niel en Sharon vir al die reëlings, en aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapleiding. Stapafstand: 139 km. Klimhoogte: 1458 meter.

Tuinroete Pelgrimstog van Hoop (Uniondale tot Mosselbaai): 1-14 Oktober 2023

Ons pelgrimstog word voorafgegaan deur n besoek aan Pinnacle Point se unieke mosaïektonnel waar Amos, voorsitter van die kultuurvereniging, ons verwelkom met ‘n skyfievertoning en toer deur die tonnel. Ons begin ons Pelgrimstog vanaf Uniondale se kerk waar ons koffie, beskuit en ‘n pakkie ontvang wat bestaan uit ‘n rooi hoed, pelgrimspaspoort en roetegids. Met die uitstap uit die kerk, lui die kerkklokke totdat ons om die eerste draai stap. Elke herbergier op die roete het ons met soveel gasvryheid ontvang. Die verblyf op die roete was werklik ‘n luuksheid en die kos heeltemal te veel en baie smaaklik. Hoewel die pad baie hard was, is die natuurskoon van die Karoo, deur die Langkloof en seelangs net mooi. Sommige van ons het blase op die voete gehad, maar die lekkerte het geen einde gehad nie. Vier van die stappers het mylpale behaal met hul kilometers: Kobus Terblanche 1000 km, Sharon Visser 2000 km, Mariana du Toit 3000 km en Steph du Toit sy 4000 km. Dit is natuurlik behoorlik gevier met vonkelwyn en luide toejuiging. Die rooi hoede word oral erken en motors toet en mense waai en stop om met ons te gesels. Soms kry ons ‘n kospakkie vir die dag en ander dae word piekniektafels langs die pad deur gasvroue opgeslaan. Dan verwys ons na onsself as rawe, want die kos en drinkgoed verdwyn voordat jy jou oog kan knip. Ander kere word ons ontvang in ‘n klein huisie met soveel liefde en ‘n vuurtjie wat brand terwyl daar in eenvoud roosterkoeke, konfyt en kaas uitgehaal word. By Holgate moet ons 4 km trollie trap op die spoor wat gesorg  het vir groot pret. Op Dag 14 word ons deur ds Gerrie, Irma en Zurika op Diasstrand ingewag. Hulle stap die laaste 14 km saam met ons deur Mosselbaai. Ons ontvang nagmaal by die Klipkerk en stap dan aan tot by die St Blaze Lighuis waar ons klaar maak. Ons ontvang sertifikate en weer vonkelwyn. Van tolbosse in die Karoo tot walvisvinne in die tuinroete – ons sal hierdie stap baie lank onthou asook die samesyn van hierdie agt medestappers. Dit is voorwaar ‘n hoogs aanbevole ervaring vir almal. Die Pelgrimstog van Hoop was vir ons meer as net ‘n stap. ‘n GROOT dankie aan Niel en Sharon vir al die reëlings, onderhandelings en omgee – ons waardeer dit. Stapafstand: 274 km. Klimhoogte: 3864 m.

Tygerberg-natuurreservaat – 7 Oktober 2023

Altesaam 12 van ons kom Saterdagoggend om 08:00 by die hek van Tygerberg-Natuurreservaat bymekaar. Die sterk wind van die vorige nag en die Saterdag het niemand afgeskrik nie. Party van die roetes (soos die een na die dam) is toe omdat die paadjies te glad is na al die reën. Ons besluit toe om kloksgewys die lang roete (Golden Mole) aan te pak, met die rusbankie en sitklippe aan die Kaapse kant ons eerste stopplek. Hier drink ons koffie en eet iets terwyl ons die uitsigte geniet. Die veld is besonder groen en oortrek van die mooiste blommetjies. Ons kry die laaste bult agter die rug en stop bo by die torings om die res van ons kos te eet en weer eens die uitsig te geniet. Daarna is dit afdraand terug na die motors. Almal stem saam dat die goeie oefening, lekker gesels en mooi uitsigte die dag die moeite werd gemaak het. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en Beulagh Keulder en Deon Arp vir die stapleiding. Stapafstand: 9 km. Klimhoogte: 300 m.

Meerendal-volmaanstap – 30 September 2023

Altesaam agt van ons kom die Saterdag om 18:30 op die plaas Meerendal net buite Durbanville bymekaar vir dié volmaanstap van 5 km. Dit was ‘n heerlike windstil aand. Die Saterdagoggend het dit nog gereën, maar dit het gelukkig teen die middag begin ooptrek. Mens kan wonder of so ‘n kort stap die moeite werd is, maar almal het genoem dat dit goed was om uit te kom na al die storms van die vorige twee weke. (Al die ander mense op die roete het duidelik dieselfde idee gehad.) Die roete loop al om die koppies met pragtige uitsigte oor die plase. So halfpad op die roete word dit donker en moes ons ons flitse uithaal. Terug by die beginpunt het party van ons span op ‘n muurtjie gaan gesit en hul koffie gedrink (ons het nie langs die pad gestop nie) terwyl drie van ons by die restaurant op die plaas gaan koffie drink het. Dit was een van daardie goed-voel stappe. Stapafstand: 5 km. Klimhoogte: 50 m.

Durbanville-meander – 9 September 2023

Dit is ‘n lekker koel oggend in Durbanville en 12 stappers begin die staproete by die Doordekraal-dam. Welkom aan Ryan, EJ en Joyce wat vir die eerste keer saam met Sanlam-Staptoerklub stap. Ons volg die voetpad om die dam en stap verby die Protea Hotel waar ‘n lekker styl bult vir ons wag. Gelukkig hou die pragtige uitsig oor die omliggende plase ons gedagtes besig. Die roete lei ons met ‘n jeeptrack teen nog ‘n lekker lang, styl bult uit tot ons die hoogste punt op die roete binne-in Majik Forest bereik. Hier neem ons ‘n welverdiende tee-breek en geniet die rustigheid van die natuurtuin. Die veld is oortrek met varklelies, gousblommetjies en ander lenteblommetjies. Ons vind ook ‘n skaars groen moederkappie! Sommige van die plante het ‘n eienaardige, abnormale breë stam. Google help met alles en verduidelik dat die verskynsel bekend staan as “fasciation”. ‘n Ongewenste toestand in plante waar die stam breed en plat groei (dit lyk asof ‘n klomp stammetjies vas aanmekaar gegroei het, maar is eintlik net een stam). Ons stap terug met ‘n heerlike afdraande paadjie en geniet Majik Forest se voetpaadjie deur die woud. Van hier volg ons die teerpad tot terug by die motors. Ons groet en vertrek terug huis toe. Baie dankie vir almal se bydrae om die stap lekker gemaklik te maak en ook lekker saam te gesels! Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 100 m.

Luiperdkamerastap – 2 September 2023

Nege stappers is almal stiptelik om 08:00 by Eerste Tol op ‘n dag wat die weer belowe om heerlik saam te speel. Nadat die admin en gebed afgehandel is val ons in die pad. By ons het ons ook ‘n nuwe kamera wat goedgunstiglik deur ‘n klublid, Org Nieuwoudt, gefasiliteer is om ‘n tweede kamera te kan opstel om luiperds van twee kante te kan afneem. Ons is aangenaam verras deur die feit dat die paadjie, wat met ons vorige uitstappie erg toegegroei was, redelik oopgetrap is. By die kamera aangekom word die foto’s agelaai. Daar is twee foto’s met ‘n luiperd op asook foto’s met ander fauna soos bv. ‘n muskeljaatkat. Die nuwe kamera word in die plek van die oue gemonteer en die oue, wat reeds baie gehawend is, word aan die oorkant opgestel. In hierdie stadium waai daar ‘n koue wind en ons vertoef nie te lank voor ons vertrek nie. Ons is om 13:30 terug by die motors. ‘n Paar van ons stop oppad huistoe vir ‘n verversing by The Bell Inn. Baie dankie aan Steph du Toit vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 405 m.

Koringberg-naweek – 25-27 Augustus 2023

Altesaam 18 mense het die Vrydagmiddag by Die Ark Backpackers op die plaas Hooggeleë so 7 km noord van Moorreesburg bymekaar gekom (afdraai by Desert Rose-padstal). Dit was ons basis vir die Koringberg-naweek wat deur Esther Warnich, Helen Kriel en Magda Kritzinger gereël is. Ons slaapplek was drie ‘dormitory’-styl kamers wat eens op ‘n tyd melkstalle was, en ons kuierplek was ‘n groot nuwe kombuis met ‘n ingeboude braai en sitplek vir ons almal. Ons begin die Vrydagaand met ‘n braai, nagereg (Esther het koek en cupcakes gebring) en lekker gesels. ‘n Klompie ernstige rugbykykers het so staan-staan op Werner se selfoon rugby gekyk (ons het darem gewen). Saterdagoggend vroeg vertrek ons na die Retreat Guest Farm bo-op die berg by Piketberg waar ons eers die plaasmark besoek. Die mark is elke laaste Saterdag van die maand oop (kyk by Piket-Bo-Berg Farmers Market op Facebook). Hier het ons heerlike roosterkoek, pannekoek, koffie en soetgoed geëet, en allerhande ingelegde souse en konfyte gekoop. Daarna pak ons ‘n pragtige sirkelroete van so 10 km. Wat die roete besonders gemaak het, is al die geure van die boegoe en ander bossies – veral aan die begin toe dit liggies gereën het. Ons het by die omdraaipunt op ‘n koppie iets geëet en die uitsig geniet voor ons die terugtog aangepak het. Ons toer toe terug via die Org de Rac-wynplaas (waar party van ons wyn geproe en oesters geëet het) en Nieuwedrift buite Piketberg (waar party van ons wyn geproe en pizzas geëet het). Ons braai weer die aand (asof ons nog nie genoeg geëet het vir die dag nie). Sondagoggend pak ons die Koringbergkoppies aan – ‘n goeie 14 km wat in Koringberg self begin weer by Die Ark eindig. Daar is ‘n paar stewige bulte, maar die blomme en die uitsigte maak dit die moeite werd. Terug by Die Ark pak ons op, groet, en vat die pad terug Kaap toe. Ons sê ‘n GROOT dankie aan veral Esther en Helen. Ons sou dit nie sonder jul inisiatief, plaaslike kennis, uitvindwerk en kontakte kon doen nie. Stapafstand: 24 km. Klimhoogte: 400 m.

Landdroskop by Nuweberg – 19-20 Augustus 2023

Altesaam 19 van ons kom die oggend by die Nuweberg-bosboustasie aan – gereed vir die sirkelroete van twee dae. Maar by die hek verneem ons dat die hut toe is en dat ons nie kan stap nie, en niemand het ons laat weet nie. Dit was ‘n baie groot teleurstelling. Maar ons maak ‘n plan en besluit om dan ten minste die dagstap na die Palmietpoele (‘mierpoele’) te doen sodat ons darem iets van die naweek het. Ons maak eers ons sakke ligter deur die slaapsakke en ‘n paar ander goed uit te haal. Ons vertrek 08:30 en neem die grondpad en draai af met die bergpaadjie wat oorspronklik vir blinde stappers gemaak is – van die braille bordjies is steeds daar. Aan die einde van die bergpaadjie eet ons ontbyt langs die riviertjie. Ons stap verder op die jeeppad tot by die ‘Smiley’-rots met die tande (waar ons eers foto’s neem) en draai af na die poele waar ons lekker middagete geniet. Die water was koud en niemand was braaf genoeg om te swem nie. Ná middagete stap ons weer terug en volg die jeeptrack tot by die motors. Dis was ‘n heerlike kort stap, sonskynweer en die veld was mooi na die reën. Wynand en Madeleine bied toe aan dat dié wat wou ná die stap saam met hulle na hul strandhuis by Struisbaai kon gaan en daar verder kuier en stap – wat regtig baie gaaf was van hulle. Terug by die motors het ‘n klompie teruggekeer Kaap toe terwyl die ander Struisbaai toe is. Ons het die saak met CapeNature opgeneem en ons het ons geld teruggekry. Baie dankie aan almal wat gehelp het om die naweek lekker te maak – Abrie Marais, Amanda Matthee, en Wynand en Madeleine Krause. Ons sal Landdroskop op ‘n ander geleentheid aandurf. Stapafstand vir Saterdag: 10 km. Klimhoogte 300 m. Stapafstand vir Sondag: 12 km. Klimhoogte 50 m.

Du Toitskop, Mont Rochelle, Franschhoek – 12 Augustus 2023

Saterdagoggend 07:45 het 8 van ons by die Mont Rochelle-reservaat in Franschhoek bymekaar gekom. Die mis was baie dik maar gelukkig nie te koud nie. Na ‘n koue, nat winter het almal uitgesien om te stap. Ons het 08:00 in die pad geval en binne 30 min was ons by Breakfast Rock. Daar is ‘n bruggie gebou net voor die laaste klim na Breakfast Rock – die reservaat het goed deurgeloop met die onlangse vloedskade. Ons het nie die keer by die Wemmershoek Uitkykpunt gestop nie as gevolg van die dik mis. Ons het by die kruising links afgedraai (regs is die paadjie na Perdekop) en berg op met die kronkelpaaidjie – die eerste lekker sitplek was ons teestop. Op pad na die baken het ons gereeld gestop en die mooiste foto’s in die mis geneem. ‘n Paar meter voor die baken (1418 bo seevlak) het die mis effe weggetrek en ons kon vinnig vertoef vir foto’s – ander jare was dit so koud daarbo. Dit was te vroeg vir ete en ons het besluit om laer af iets te eet. Ons stop was toe by die Saaltjie. Die terugstap was nie so veeleisend nie. Ons het met die afstap die Vista Trail geneem tot by die aansluit van die oorspronklike paadjie. Ons was 13:30 terug by die motors. By die hek het ons die permitte betaal en iets gaan drink en eet in Franschhoek. Dankie aan Werner wat die stap gelei het en dankie aan Brenda vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 709 m.

Tafelberg-damme – 22 Julie 2023

Ons het hierdie roete op die program gesit om weer aan die gang te kom ná al die stappe wat uitgereën het. Altesaam 12 mense het die Saterdagoggend by Constantianek bymekaar gekom om met die jeeppad tot op die agterste tafel te stap sodat ons kon sien hoe vol die vyf damme is ná al die reën. Ons het nie die trappies gevat nie want daar was skade aan die paadjie weens die modderstortings en die reën. Toe ons in Februarie vanjaar oor die damwal van die Hely-Hutchinson gestap het om die disas te gaan kyk, was die dam heeltemal leeg – net wit sand waar jy kyk. Hierdie keer was dit ‘n heel ander prentjie. Ons eerste stop was by die De Villiers-dam (1907) waar ons op die muurtjie by die Overseers Cottage ‘n broodjie geëet het en bietjie gerus het. Die Alexandra-dam (1903) en Victoria-dam (1903) was oorloop-vol. Hier was dit bitterlik koud maar ons het tot op die damwal gestap om al die water te aanskou. Daarna het ons verby die Woodhead-dam (1897) geloop en oor die Hely-Hutchinson se damwal (1905) gestap, verby die museum en toe via die Woodhead-damwal terug. Al die water gee mens ‘n gevoel van oorvloed en dankbaarheid, veral na die droogte wat ons van 2015 tot 2018 beleef het. Van ons het agterna koffie gedrink by die koffiewaentjie by Constantianek. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en Beulagh Keulder vir die stapleiding. Stapafstand: 14 km. Klimhoogte: 569 m.

Klein Roosboom – 15 Julie 2023

Almal kom om 08:15 in die parkeerarea by Klein Roosboom byeen. Die plaas is in die hartjie van Durbanville-wynroete wat reeds 300 jaar bestaan. Altesaam 15 stappers, wat 6 besoekers insluit, doen ‘n kombinasie van twee kort roetes wat ‘n gesamentlike afstand van 5 km voltooi en is beloon met mooi uitsigte. Na die stap en gesels het party stappers huis toe gehaas om die laaste paar minute van die rugby te geniet. Die res het hulself verlustig aan die koffie en koek by die restaurant. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 5 km. Klimhoogte: 146 m.

Babylonstoren – 1 Julie 2023

Altesaam 15 stappers ontmoet om 09:30 by die ingang. Ons betaal vinnig toegang en kiers koers deur die tuin tot by die teerpad wat in die rigting van die koppie op die plaas lei. Na ‘n stewige bult draai ons links en stap na die hoogste punt op die plaas. Ons klim die rotsagtige koppie uit en geniet ‘n heerlike blaaskans en koffie. Die plaas se naam spruit voort uit hierdie koppie – dit het die eienaar aan die Toring van Babel (uit die Bybel) laat dink – vandaar dus Babylonstoren. Ons vind ook hier ‘n kanon wat dateer uit die vroeë 1687 – 1806. Die kanon was deel van die VOC se verdediging teen vreemde skepe wat in Tafelbaai arriveer het. Die waarskuwing is met behulp van die kanonne aangestuur om burgers bewus te maak van moontlike gevaar en bedreiging. Na die breek stap ons deur laventel-, “Dragon-fruit-“, lemoen- en naartjieboorde. Ons loop op houtpaadjies deur ‘n moerasagtige gedeelte totdat ons by die dam op die plaas kom. Hier geniet ons iets te ete en drink weer koffie. Op pad terug na die motors pluk on ‘n paar naartjies en stap rustig deur die tuin. Ons groet mekaar. Sommige stapmaats ry huistoe terwyl ander nog bietjie in die tuin kuier en middagete geniet. Stapafstand: 8 km. Klimhoogte: 150 m.

Muratie: 24 Junie 2023

Volgens ons program sou ons in Sosyskloof gaan stap het, maar die Jonkershoek-reservaat is steeds gesluit na afloop van die onlangse vloede. Ons maak nuwe planne om by Muratie, tussen Klapmuts en Stellenbosch, te gaan stap, want almal is gretig om ’n slag in die veld te kom. 12 stappers arriveer by die pragtige plaas wat uit 1699 dateer. Die Simonsberg-roete is bekend vir die volmaanstap, maar is ook elke dag oop vir stappers. Benewens die 3.5km gemaklike staproete wat pragtige uitsige oor die vallei bied, is daar ook verskeie bergfietsroetes. Die uitleg is slim gedoen sodat die stappers en fietsryers nie vir mekaar ’n gevaar is nie. Ons hou lekker piekniek na ’n uur se stap en keer dan met die sirkelroete terug na die Dirtopia-kantoor. Almal geniet ’n lekker warm koppie koffie in die wynproelokaal. Sommiges sien selfs kans vir soetwyn. Alhoewel dit nie ’n uitdagende stap was nie, het almal die vars lug, pragtige veld en die samesyn geniet. Baie dankie vir Gerrit en Mariette Nortjé vir die reëlings en stapleiding, en die ekstra werk om ’n alternatiewe roete te kry. Afstand: 3.5km. Klimhoogte: 150m.

Zevenwacht: 27 Mei 2023

Altesaam 18 mense het Saterdagoggend om 08:00 by die Zevenwacht-wynlandgoed se parkeerarea bymekaar gekom vir hierdie mooi dagstap met uitsigte wat strek van Tafelberg tot by Gordonsbaai. Ons het gesels-gesels deur die veld gestap en toe die ‘lang bult’ tot by die dammetjie aangepak. Gewoonlik rus ons hier ‘n bietjie, maar die gras was te nat. Van daar af het ons verby die spa tot by ‘n lapa op ‘n koppie gestap waar ons ‘n laatontbyt geniet het. Dit was nogals koud op die koppie. Ons het toe via die wynproelokaal teruggestap tot by ons motors waar party huiswaarts gekeer het en die ander teruggery het wynproelokaal toe vir ‘n wynproe en/of heerlike kaas-en-kouevleisbord en lekker gesels. Ons is elkeen daar weg met ‘n gratis bottel wyn (by die dagpermit ingesluit). Dit is ‘n mooi stap wat mens elke jaar kan stap. Baie dankie aan Chrisna Swart vir die reëlings en Amanda Matthee vir die stapleiding. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 277 m.

St Helenabaai: 12-14 Mei 2023

Altesaam sewe mense het die Vrydagmiddag na St Helenabaai gereis vir ‘n heerlike naweek by Desiree Timmet en haar suster Esmay Josephs. Ons basis vir die naweek was ‘Es en Des’ se ruim strandhuis in St Helenabaai. Ons het die naweek met ‘n egte Weskus-snoekbraai ingewy. Saterdagoggend sluit nog twee stappers by ons aan en ons stap die 11 km van Stompneusbaai na Paternoster strandlangs. Ons kry hulp met vervoer van die twee dagstappers se familie wat ons voertuie vir ons Paternoster toe gebring het. Ons kuier eers by die Voorstrandt Restaurant met sy rooi dak en verken toe Paternoster se winkeltjies en waterfront voor ons die pad terug huis toe neem. Ons braai weer die aand en gaan kruip vroeg in want die stap op die los sand het ons lekker kapoet gemaak. Sondag is dit Moedersdag en Esmay deel ‘n mooi boodskap van samesyn en omgee met ons. Ons stap seelangs tot by die deftige Shelley Point Hotel waar ons lekker op die rusbanke agteroor sit en cappuccino’s drink. Daarna stap ons terug, maak skoon en pak op om weer terug te ry Kaap toe waar baie van ons nog Moedersdagvieringe gehad het. ‘n Groot dankie aan Esmay en Desiree vir hul gasvryheid. Dit was ‘n baie spesiale naweek. Stapafstand: 25 km. Klimhoogte: 25 m.

Luiperdkamerastap – 6 Mei 2023

Nadat die weervoorspelling aanvanklik reën voorspel het, het dit einde ten laaste slegs bewolkte weer voorspel en die 11 van ons, wat stiptelik om 07:45 by Eerste Tol bymekaar gekom het, het heerlike weer vir die uitstappie ervaar. Ons vertrek om 08:00 en stap rustig op die baie toegegroeide paadjie om 2 uur later by die kamera aan te kom. Die kamera se batterye het reeds ongeveer 3 weke vroeër die gees gegee maar ons het darem steeds 7 foto’s met luiperds op gekry. Die kamera word gediens en ons vertrek ná 45 minute weer terug na die motors. Ons stap voorspoedig tot byna op die einde waar die uwe 400 m vóór die motors met ‘n sierlike duikslag ‘n stuk grond koop. ‘n Paar skrapies was al skade behalwe vir die ego wat ‘n knou gekry het maar darem nie gebloei het nie! Ons neem die gebruiklike groepfoto waarna 7 van ons ‘n koel dingetjie geniet by die Bell Inn voordat ons huiswaarts keer. Baie dankie aan Steph du Toit vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte gewen: 405m.

Antjie se Pad: 24-28 April 2023

Altesaam 11 mense het Sondagoggend 23 April uit die Kaap na die Langkloof vertrek (Ons sou 12 gewees het, maar toe moet Koos Stander ‘n knie-operasie kry). Omtrent 15 km buite Kareedouw draai ons by Onverwagslaagte links af berge se kant toe vir die laaste 25 km grondpad (plek-plek baie sleg) tot by ons basiskamp in die oostelike Baviaanskloofberge – ‘n goed toegeruste plaashuis (met waterfilterprobleme) by Witteklip. Ons word deur die roete-eienaar verwelkom en hy verduidelik die roete aan die hand van ‘n paar Google Earth-drukstukke. Ons braai die aand lekker en skrop en skarrel om alles vir die 5-dag stap gereed te kry. Ons val vroeg die Maandagoggend in die pad. Die roete het só gewerk: Ons het Dag 1 (16 km) en Dag 2 (11,1 km) by dieselfde hut geslaap (Watervalhut – bietjie beknop maar lekker lapa) en Dag 3 (10,41 km) en Dag 4 (11,83 km) by dieselfde hut geslaap (Slagkamerhut – ‘n warm sinkhut; die hut se naam het ons bietjie afgesit). Dag 5 (10,63 km) kom jy weer by Witteklip uit. Ons het dus ons swaar goed op Dag 2 en Dag 4 by die hut gelos en met ligter sakke gestap. Die roete is nie tegnies moeilik nie, maar daar is ‘n hele paar kuit-rekker-bulte en skerp afdraande met los rolklippe waar jy versigtig moes trap. Die roete was oral goed gemerk en het seker 95% van die tyd op jeeppad geloop. Dit beteken nie dit was gelykpad nie – ons het altesaam 2695 m oor die 5 dae geklim! Die veld was ongelooflik mooi met fynbos en proteas en mooi uitsigte op die Baviaanskloofberge. Op Dag 1 het ons die middag deur die pragtige Trekkloof (in 1964 deur ene HK du Plessis gebou) gestap, en op Dag 4 het ons vir middagete op ‘n koppie met derduisende proteas gestop. Wat onlekker was, was die gebrek aan ‘n goeie kaart met roetebeskrywings, die waterprobleme by die hutte (gelukkig het Werner en Magda soos MacGyvers geweet hoe om waterpype te koppel en filters ‘om te swaai’, anders was ons in diep moeilikheid), en die ‘droewige’ Slagkamerhut (ons het amper gemuit en die volgende terug geloop Witteklip toe). Maar ons glo die roete kan met goeie bestuur verbeter word. Daar is ‘n behoefte aan nuwe roetes in die land en ons moet erkenning gee aan mense wat die inisiatief neem om nuwe roetes te open. Ons het veilig gestap en mooi dinge gesien. ‘n Klomp van ons het die Saterdag op pad terug by Île de Païn op Knysna ontbyt geëet. Baie dankie aan almal wat stapleiers en agterstappers was. Saam het ons dinge gemaak werk. Stapafstand: 60 km. Klimhoogte: 2695 m.

Tygerberg-Natuurreservaat: 15 April 2023

Altesaam 9 mense het die Saterdagoggend om 08:00 by Tygerberg-Natuurreservaat bymekaar gekom vir ‘n lekker dagstap wat net ‘n ander gehalte aan ‘n mens se naweek gee. Ons het almal saamgestem dat ons gelukkig is om so ‘n lekker stap hier op ons drumpel te hê. Mens hoef nie ‘n perd op te saal om hier te kom stap nie (al het party mense van ver af gekom) en jy kry goeie oefening in. Ons het anti-kloksgewys begin stap en eers by die twee damme gaan draai voor ons die bult uitgestap het tot by die piekniekplek naby die kanon waar ons ontbyt geëet het en die uitsig geniet het. Daarna het ons aan die Kaapstad-kant van die koppie omgestap met nóg ‘n behoorlike bult tot weer bo by ‘n ander piekniekplek waar ons middagete geniet het voor ons weer die laaste afdraand na die motors toe afgestap het. Die ‘tyger’ in die naam kom van die Nederlands vir luiperd. Kolle vaalbruin gras word met grys-groen fynbos afgewissel – wat maak dat die plantegroei op die heuwels van ver af soos die kolle op ‘n luiperd lyk. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 414 m.

Elgin-naweek: Giant’s Washbasin en Bootrit: 1-2 April 2023

20 Stappers vergader Saterdagoggend by die Elgin Fiets Hotel. Ons vertrek 08h00 saam met Brenda Silberbauer en 3 van haar stapmaats na die begin van ons staproete. Ons klim oor ‘n houtleer en stap al met ‘n grondpad in die rigting van die berge. Die paadjie slinger tussen natuurlike plantegroei en verby die Eikenhof dam in die rigting van die Valleiberg. Van hier stap ons deur denneplantasies om uiteindelik die pragtige waterval te bereik. ‘n Pragtige waterval stort neer in ‘n reuse rotskom – vandaar Giant’s Washbasin! Die water is yskoud en niemand is braaf genoeg om te swem nie. Ons geniet koffie, eet ons stapkos, neem fotos en pak die pad terug motors toe aan. Die res van die middag is daar vrye tyd wat elkeen na wense kan benut. Sommige stappers besoek die Elgin mark, sommige neem ‘n heerlike middag slapie en ander sit net luilekker op die stoep. Brenda, Gerna en Michelle swem. Alrese, Caire en Kobus speeltafeltennis en Alrese wen ‘n bottel rooiwyn nadat sy Kobus verslaan. Die braaivleis vure is 18h00 gereed en almal braai saam. Sondag 2 April: Vandag ry ons na Elgin River Lodge. Hier is pragtige grasperke, ‘n restaurant, oornag hutte en hope watersport om te geniet. Ons teken in as dagbesoekers en verdeel in 2 groepe vir ‘n 45 minute bootrit op die Palmietrivier dam. Die 1ste groep vertrek na die bootrit huiswaarts om verpligtinge na te kom. Die 2de groep kuier bietjie saam onder die bome, eet pizza en drink koffie en vertrek dan huistoe. Baie dankie aan almal se lekker gesels, samewerking en heerlike saamkuier. Afstand: 14km. Hoogte gewen: 315 meter

Kloovenburg – 25 Maart 2023

Altesaam 18 dapperes het die Swartland se weerelemente kom trotseer op ‘n grou Saterdagmôre. Na baie koukus vooraf en ‘n proefstap of twee was die konsensus om eerder nie die plaas se kleigrond (en veral die steiler bergroete) in die gietende reën aan te pak nie. Derhalwe het ons gemik na Riebeek-Kasteel en om die skilderagtige dorpie gestap. Strate waarin mens selde ry was te sien, ‘n mooi kerk, historiese geboue, Jacques Pauw se Tin Roof Guest House en selfs ‘n dam net buite die woondeel. Plek-plek het die reën kans gegee vir ‘n oomblik se litte rek. Oppad terug na Kloovenburg toe het ons by The Barn ingeval vir koffie maar Eskom en loadshedding wou uiteraard nie saamspeel nie. Finaliste vir die skattejag is bepaal met die Smuts ma-en-seun kombinasie en Beulagh wat Steph, Arina en Sinmarie sou aandurf. Terug by Kloovenburg het die skattejagters besluit hulle sien kans vir so 3 km se gly-gly stap deur Kloovenburg se wingerde, so ons kon toe by ‘n deeltjie van die roete uitkom. By ‘n reuse rots omsingel deur ‘n olyfboom het Arina in ‘n kits die “skat” opgespoor. So kon sy en haar twee spanmaats deel in ‘n pakkie van Kloovenburg se keurprodukte. Meeste stappers was honger en dors genoeg om die Kringe-restaurant en wynkelderproeë te ondersteun. Sommige het ‘n stewige wyle vertoef by die kaggel saam met die Labrador “gasheer”. Dit was beslis ‘n dag waar “toer” meer as “stap” op die radar was. Nietemin is 10 km afgelê en is daar ook so 120 m se hoogte verwerf. Dankie aan almal wat die grys weer met humor en geesdrif aangedurf het. Dalk stap ons êrens in die toekoms die ware Jakob roete! Baie dankie aan Freddie en Susan Pohl vir die reëlings, al die ekstras en die stapleiding. (Om besluite oor die weer te neem is nooit maklik nie – dankie dat julle die beste van die dag gemaak het.) Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 120 m.

Sederberge, Zoo Ridge – 17 tot 21 Maart 2023

Ons langnaweek op Zoo Ridge was ‘n lekker ontspannende kuiernaweek. Ons basis vir die naweek was Jonkershoekhuis op die plaas sowat 80 km noord van Ceres. Ons het elke dag uitgery tot op ‘n punt vanwaar ons dan begin stap het. Almal het reeds Vrydagmiddag gearriveer en is ingedeel in kamers, waarna die vuur opgesteek word onder ‘n akkerboom wat sowat 100 jaar oud is. Saterdagoggend begin ons verkenningstogte. Ons ry tot op ‘n punt en begin dan stap en verken. Daar is nie definitiewe roetes nie en het ons rotstekeninge gesoek en baie gevind onderkant oorhange. Daar is geklouter oor rotse, binne-in grotte en bo-op rotsboë, net vir ‘n goeie foto. Elkeen se kindwees het uitgekom. Op ‘n groot los rots word daar wipplank gery. Ons vind dan die wel-bekende kameelrotsformasie en word van alle kante besigtig. Die rotse beeld verskeie diere uit en word dit ‘n speletjie van wie sien wat. Ons kies koers na onder die rif (waar Zoo Ridge sy naam vandaan kry) en verdwaal lekker. Elke keer loop ons ons vas in hoë rotse of afgronde. Na die derde poging om weer uit die kloof te kom, besluit ons om eerder op ons spoor terug te loop. Alles in goeie gees. Sondag ry ons in ‘n ander rigting en al die klippe en rotse lyk soos oer-monsters. Ons vergaap ons weer aan die mooi rotsformasies. Ons soek dan die rotstekening van die groot man en kry dit ook sommer gou. Ons ry verder en los weer die bakkies op ‘n punt waar ons nie nader kon ry as gevolg van sandpad nie, en stap dan tot by die verdiepinggrotte wat so hoog is dat ‘n mens klein voel. Maandag reën dit en ons besluit om rond te ry en die omgewing verder te verken. Ons kom op ‘n plaat kroonkandelare af en vertoef ‘n rukkie daar om dit op kamera vas te vang. Ons stop vir koffie by die Oasis Backpackers (R10 vir ‘n beker koffie) en sommige eet weer ontbyt. Ons ry ook aan by Mount Ceder wat vir hul olywe en olyfprodukte bekend is. Dan ry ons deur na Dwarsrivier waar Pieter Arno du Toit van die Cederberg Private Wynkelder ‘n wynproe vir ons aanbied. Dit is waar ons vir die res van die dag kuier. Ons besluit om nog een draai te ry om vir Lot se Vrou te gaan “loer”. Sy staan nog steeds doodstil. Dinsdagoggend beweeg ons almal uit die sprokiemooie Sederberge terug na die werklikheid. Dankie aan Wouter Jordaan vir die stapleiding en Niel en Sharon Visser vir al die ander reëllings. Dit verg ‘n ernorme klomp reëlings om so ‘n naweek moontlik te maak. Klimhoogte: 564m.

Dassieskasteel, Silvermyn Oos – 11 Maart 2023

Altesaam 11 van ons kom 08:00 die oggend by Silvermyn 2 se hek bymekaar. Ons moet nog so paar minute wag voordat hulle kom oopsluit. Nadat die admin afgehandel is, begin ons te stap. Eers mik ons vir die nekkie tussen Wolfkop en Steenbergpieke. Na ‘n lekker klim, stop ons hier om die uitsigte te geniet. Hierna mik ons afwaarts totdat ons weer by die jeeptrack aansluit. Intussen stop ons vir ‘n koffie en geniet nie net die uitsigte nie maar ook die mooiste rotsformasies. Ons volg die jeeptrack tot ons weer links uitdraai in die rigting van Bertie’s Balcony. Hier neem ons nog ‘n breek voordat ons die pad aanpak tot by Klein Tuinkop. Hier geniet ons die 360 grade uitsigte voordat ons terugdraai en stop by die rotsformasies van die “Dassiekasteel”. Van hier pak ons die paadjie terug al die pad tot by die begin met ‘n vinnige stop by die Silwermyn-waterval. Aangesien dit maar effe loop, wil niemand afklim tot onder en weer op nie. ‘n Lekker dag uit met ‘n lekker nuwe begin aan die roete. ‘n Groot dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte 425m.

Welvanpas-roete – 4 Maart 2023

Op ’n pragtige koel oggend kom 16 stappers bymekaar op die Retiefs se plaas, Welvanpas, op die Blouvleipad, net buite Wellington. Ons stap deur ’n stukkie bos met Maartlelies en die klank van die rivier langs ons. Na ’n kort steiltetjie kruis ons ’n grondpad en stap deur die koel woud voor dit oopmaak op ’n wingerd. Ons verkyk ons aan die uitsigte van Bainskloof,  Paarlberg, en Simonsberg in die verte. ’n Paar proe aan die natrossies. Die roete neem ons deur ’n dennebos met varings tot ons weer by die rivier aansluit en ’n ruskans kan geniet by die waterval. Net ’n halfuur later bereik ons die plaas se koffiewinkel, voor die eerste reënbuie neerval. Na ons stap van 6 km met ’n klimhoogte van 190 m, smul ons lekker aan Dan se boereworsrolle en Retha se wortelkoek en kuier gesellig saam. Buiten vir die staproete, is die plaas se bergfietsroetes ook baie gewild. Daar was selfs ’n paar gaste wat kom skilder het op die plaas waar Piet Retief eens gewoon het. Dan en Retha is die tiende geslag Retiefs wat al vir bykans 280 jaar op Welvanpas boer. Baie dankie aan Gerrit en Mariette Nortjé vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 6 km. Klimhoogte: 190 m.

Bobbejaansrivier, Bainskloofpas – 25 Februarie 2023

Altesaam 11 stappers kom om 07:30 by die Eerste Tol / De Nek-parkeerarea in Bainskloof bymekaar. Ons handel die admin af en stap af na die beginpunt. Daar is geel geverfde voetjies op die rotse en mens moet mooi kyk sodat jy die Witterivier op die beste plek kan oorsteek. Die paadjie loop aan die oorkant en is redelik maklik. Om en by 09:30 neem ons ‘n teebreek en na nog ‘n hele rukkie se stap besluit drie van die stappers hulle gaan vir ons by ‘n waterpunt wag terwyl ons opstap na die boonste deel van die roete. Die boonste deel is dan ook aan die onderkant van die pragtige waterval. Dit is redelik koud daarbo en ons vertoef ‘n rukkie en neem baie foto’s. Ons sluit weer aan by die drie stappers en besluit om ‘n lekker breek en middagete by die groot swempoel te neem. ‘n Paar van ons swem – die water is toe nie so koud soos ons gedink het nie. Teen 14:30 is ons terug by die motors. Dit is nie ‘n moeilike stap nie maar ook nie vir die “minder fikses” nie. Dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en altyd besorg is oor die lede en aan Brenda Sideratos wat die stapreëlings hanteer het. Klimhoogte: 458m (vir die wat tot voor die water gestap het) of 528 m (vir die wat opgeklim het na die waterval).

Struisbaai-naweek – 17 tot 19 Februarie 2023

Op 17 Februarie vertrek sewe lede in storms en reën na Struisbaai. Soos ons nader ry, word reënwolke net bewolk en die wind bedaar. Een lid het ter elfder ure gekanselleer. Ons begin ons stapnaweek met ‘n sirkelroete van ons basis langs die see, verby die hawe en terug na die basis. Ons steek die vuur aan en Belinda en Werner sluit veilig by ons aan. Na heerlike boereworsrolle en kuier gaan ons vroeg inkruip. Saterdagoggend om 07:30 vertrek ons na Suiderstrand. Ons stap langs die see verby die dorpie tot in die Aghulas-bewaringsgebied waar ons teetyd geniet en stap die roete terug tot by die voertuie. Ons ry na die suidste punt in Afrika waar ons die voertuie parkeer en verder stap op die “boardwalk” tot by die tweede oudste vuurtoring in die land. Ons neem dieselfde roete oor die plankpaadjie tot by die suidste punt en daar word foto’s geneem. Ons volgende stop is vir middagete by die beste seekoseetplek op L’Agulhas waar ons lekker vis en chips geniet. Ons is geseënd met die beste weer en goeie geselskap. Hiervandaan het elkeen sy eie tyd waar sommige boekwinkels, snuisterywinkels of lekker swem langs die hawe geniet! Die opwinding was hoog toe ‘n paar brawe stappers ook aan die pylsterte kon vat. As gevolg van die beurtkrag kon ons ongelukkig nie roomys koop nie. Hierna was ‘n heerlike blinde wynproe met kaas en wyn sonder krag onder groot gelag aan die orde van die dag. Sondagoggend om 08:00 het almal weer gereed gestaan om die laaste skof van ons strandstap aan te durf. Pragtige weer het ons weer beloon en ons het sowat 3km uit gestap en weer terug op een van ons langste strande in ons omgewing. Almal het opgepak, paar roomyse is verorber en daarna het elkeen weer kuier-kuier terug huiswaarts gekeer. ‘n Groot dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en stapleiding. Stapafstand: 21 km. Klimhoogte: 50 m.

Tafelberg: Disas – 11 Februarie 2023

Altesaam 17 mense het Saterdagoggend om 07:00 by Constantianek bymekaar gekom. Met wysheid agterna kon ons eintlik vroeër begin het, want dit was BAIE warm (34 tot 36 grade Celsius). Ons begin met die “twee stelle trappe” wat ons tot bo by die jeeppad neem. (Die drie mense wat Constantianek met Kloofnek verwar het, het ons by die trappies ingehaal.) Die jeeppad begin met ‘n lekker “kuit-rekker”-opdraand tot ons meer gelykpad kry. Gelukkig waai daar ‘n afkoel-briesie bo-op die berg. Ons sien ‘n hele paar van die skaars blou disas, sommer so langs die pad. Ons stop by die bome by die Woodhead-dam om iets te eet – dankbaar vir die skaduwee. Daarna stap ons oor die Hely-Hutchinson se damwal (die dam is feitlik leeg – dit lyk soos ‘n maanlandskap) en op in Disakloof waar ons die eerste disas kry. Die disas is nie so baie soos in die vorige jare nie, maar hulle is groot en pragtig. Dit laat mens elke keer in verwondering staan. Dit laat mens ook dink aan die Oosterse gesegde: “Better to see something once than to hear about it a thousand times.” Ons deel die groep in twee en 13 stap aan akwaduk toe waar hulle nóg disas kry, en toe via Nuweland se afdraai terugstap tot op die jeeppad en met die trappiespad afkom. Die ander vier het via die Woodhead-damwal en jeeppad teruggestap na Constantianek. Die waterkraan by die Overseers’ Hut werk weer en ons was bly dat ons ons waterbottels in die hitte kon volmaak. ‘n Paar van ons het agterna by La Parada by Constantianek iets koels gaan drink. Baie dankie aan Beulagh Keulder vir die stapleiding, en aan Brenda Sideratos en Werner Booyens vir die agterstap. Dankie ook aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand vir die wat tot by akwaduk geklim het: 16 km, met klimhoogte 669 m. Stapafstand vir die wat in Disakloof omgedraai het: 15 km, met klimhoogte: 569 m.

Chapmanspiek – 4 Februarie 2023

Werner vertel:
Sewe van ons kom lekker vroeg by die begin van die stap bymekaar by Noordhoekstrand se parkeerarea. Ons handel die admin af en begin te stap, van die begin is dit net op en op. Ons stop plek-plek om die uitsigte en ‘n koffie te geniet. By die piek aangekom neem ons ‘n ordentlike breek en geniet die uitsigte oor Houtbaai. Ons besef ons Kersfeeskos sit nog op die heupe en die plan om af te stap na die nekkie en terug word laat vaar. Ons mik toe maar weer af na die begin en stop so dan-en-wan weer om die uitsigte te geniet. Na die tyd geniet ons ‘n welverdiende iets te drinke.
Amanda vertel:
Altesaam 7 van ons kom om 07:00 die oggend by Noordhoek se parkeerarea by die see bymekaar om
Chapmanspiek aan te pak. Gelukkig was dit ‘n paar grade koeler by die see as in die noordelike woongebiede. Ons vorder fluks tot by die uitkykpunt waar ons ontbyt eet. Die uitsigte oor Noordhoek se strand en Karbonkelberg by Houtbaai is ongelooflik mooi. Dan volg ‘n stewige opdraand waar mens plek-plek jou hande uit jou broeksak moet haal om op te klouter. So vorder ons tot ons uiteindelik by die baken op Chapmanspiek aankom. Ons neem ‘n welverdiende breek en neem baie foto’s want die 360 grade uitsig van hier af maak die stap die moeite werd. Ons kry stappers van Nederland, die VSA en Duitsland hier bo en wonder waar hulle van hierdie stap hoor. Dan pak ons die terugtog aan en kom lekker moeg by die voertuie aan. Ons gaan drink tot iets koels by Limoncello daar naby
(want ons het baie gesweet). Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding.
Klimhoogte 593m

Kirstenbosch: Silvertree – 28 Januarie 2023

Altesaam 11 mense het om 08:00 by die Rycroft-hek van Kirstenbosch bymekaar gekom om die Silvertree-roete aan te pak. Dit wil-wil reën, maar gelukkig is dit net ‘n paar los druppels. En eintlik is ons dankbaar vir die koelte. Die Silvertree-roete is een van die langer roetes wat in Kirstenbosch begin en eindig, met ‘n stywe paar opdraandes op die koop toe. Ons begin die roete met ‘n goeie klim (via die damwal, want ons het nie die afdraaipad gesien nie) tot op die kontoerpad. Ons loop verby Nursery Ravine en Skeleton Gorge se afdraaibordjies en verder tot by die ‘scree belt’ waar ons lekker honger ‘n welverdiende blaaskans neem en op die klippe middagete geniet. Daarna volg ‘n stewige klim met trappies tot ons weer hoër op in die berg die ‘scree belt’ kry. Dan begin die afsak terug na Kirstenbosch toe. Halfpad af sê die een stapper: “Ek het nou load-shedding. My krag is op.” Net daarna val daar weer ‘n bietjie reën. Toe ons uiteindelik onder kom, loop ons eers deur die tuin en stap via die Boomslang (ons is dan nou hier) terug na die Rycroft-hek. ‘n Paar van ons ry met ons motors om na Hek 1 en 2 om by Mojo of die Tearoom iets te gaan eet en drink. Wat die roete ideaal maak vir hierdie tyd van die jaar is dat dit aan die oostelike kant van Tafelberg is waar daar baie skaduwee en koelte is. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die stapreëlings en stapleiding. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 453 m.

Luiperd-kamerastapverslag – 22 Januarie 2023

Vyf van ons arriveer stiptelik by Eerste Tol in Bainskloof en val om 06:15 in die pad. Ons wou juis vroeg begin om die hitte vry te spring aangesien die vordering op die oorgroeide paadjie maar stadig is. Ons neem 2h15 minute tot by die kamera en dit het die laaste stukkie reeds begin warm raak. Ons vertoef ‘n uur by die kamera. Steph laai die foto’s af waarvan ses van die foto’s ‘n luiperd op het. Die kamera word opgestel en die grasse in die omgewing daarvan geknip voordat ons die terugtog aanpak. Dit neem ons nét meer as 2 uur tot by die motors. Dit was redelik warm teen die einde en ons is bly om teen 11:40 reeds klaar te wees. Ons stop by The Bell Inn vir iets lekker koud en tjips. Die oorgroeide paadjie maak dit werklik ‘n moeilike stap en ons het ondermekaar gewonder of die klub nie ‘n projek daarvan kan maak om dele te gaan oopkap/oopknip nie. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Hoogte gestyg: 280m.

Tafelberg – voorste kontoerpad – 21 Januarie 2023

Altesaam 17 stappers arriveer vroegoggend by vroegoggend by die Duiwelspiek-parkeerarea. Ons handel gou die admin af en begin om 07:00 te stap. Ons stap met die zig-zag op tot by die kontoerpad se bord. Hier kan jy links of regs draai. Ons draai dus regs en stap die kontoerpad tot by Kloof Corner. Hier eet ons ‘n lekker brunch en neem foto’s van die mooi uitsigte. Dit is ‘n baie warm dag en die Kaap is op haar mooiste! Met die terugkom besluit ons om by die kontoerpad se bord so ‘n entjie op te stap om ekstra oefening in te kry. Drie van die lede het egter hier afgedraai en dieselfde pad terug gestap. Ons klim ‘n lekker ent to bo en geniet steeds die uitsigte. Teen 12:00 is ons veilig terug by ons motors. Dankie aan Werner B vir die lei van die stap en ook ‘n groot dankie aan Mahanda wat agter gestap het en omgesien het na die groep. Totale klimhoogte: 245m.

Kelpbaai – Big Bay – 14 Januarie 2023

Altesaam 12 lede en 1 besoeker begin die winderige oggend net ná 08:00 by Eerste Steen Natuurresevaat se kantore te stap. Merkwaardig is ons net ‘n paar meter van die pad in die Blaauwberg Bewaringsgebied in die veld en tussen die duine waar ons die golwe hoor en die uitsig op Tafelberg en Robbeneiland geniet. Die sirkelroete neem ons tussen strand-, renoster- en fynbos-veld. Dit is die tuiste van 45 soogdiere, 600 plantspesies, slange en reptiele. Die roete is 4,5 km lank en neem 1 uur om te voltooi. Terug by die voertuie breek ons vir ‘n halfuur vir toebroodjies, koffie en tee. Ons stap toe strandlangs in ‘n suidelike rigting na Big Bay en verby honderde vlieërbranderplank wat in die golwe saam die suidooster baljaar. Ons stap ook verby medestrandstappers wat op soek is na fosielhaaitande. By Blue Peter, ‘n bekende baken, rus ons ‘n rukkie op die strandmuurtjie om dan saam die wind terug te stap tot by ons beginpunt. Ons totale tyd was 3 uur en 15 minute, en ons voltooi 10 km. Ons sluit die dag af met ‘n heerlike soet waatlemoen. Baie dankie aan Wynand en Madeleine Krause vir die reëlings en die stapleiding.

Strand-stap (Strandpawiljoen – Paardevlei) – 7 Januarie 2023

Altesaam 11 stappers ontmoet mekaar om 07:30 op die parkeerplek by die Strand-jetty. Ons handel die admin af en Steph stel voor dat ons nie op die sand na Rheinmittal se grens en terug stap nie maar eerder na Paardevlei weens die onaangename wind. Ons stap op die sypaadjie terwyl die strand begin vol loop van mense. Ons stap via Busamed en Cheetah Outreach tot by Paardevlei en dan rondom Paardevlei met sy baie voëls –’n pragtige stuk natuur in die middel van beboude gebied. Ons stop by Atma-koffiewinkel vir heerlike koffie voordat ons die laaste 3 km terug na die jetty aanpak. Op die strand is daar nou al heelwat mense. By die jetty groet ons en keer huiswaarts. Dit was net die regte stap om die jaar op die pad te kry. Baie dankie aan Steph du Toit vir die reëlings en stapleiding. Hoogte gestyg: 2m.