Stapverslae 2022

Paarlberg: 29 Oktober 2022

Saterdagoggend het 13 van ons by Meulwater bymekaargekom. Admin is gou-gou afgehandel en die weer was perfek vir die stap. Ons is eers na die waterval en toe op met die paadjie tot by Oukraal. Hier het ons ‘n ruskans geneem. Dit was nogal warm! Ons het by Oukraal regs gedraai met die pad en weer links net voor die Telkom-toring. Ons is bult op en bult af tot by ‘n heerlike rotsoorhang waar ons teetyd geniet het. Vandaar is ons tot by die agterste baken met uitsigte van Tafelberg, Ruitersvlei en as jy baie skerp links kyk en jou kop effe tilt kan jy amper vir Spice Route sien. By Krismiskamp het ons besluit om n vroeer middagete te neem aangesien ons hier in die koelte kon vertoef. Vandaar is toe met die paadjie na Bretagne- en Gordonklip.  Ons stap rustig die 365 trappies na bo en agv die hitte wou niemand opgaan na Bretagneklip. Vandaar is ons na Paarlrots en het die mooi uitsigte geniet. Hulle het ook onlangs die kanon bo-op Paarlrots geskuif en dit is nou meer toeganklik. Vandaar is ons toe deur die tuin terug na ons motors – dit het ons ‘n volle 40 minute geneem. Ons was teen 14:00 terug by die motors en baie bly om uit te son te kom. Oktobermaand word nie verniet die mooiste maand genoem nie – dit is oral opvallend in Paarl-natuurreservaat.  11 van die 13  stappers het na die tyd koue bier gaan drink by Copper Club. Die weer en pragtige veld met geelblomme het beslis ons dag gemaak en ons het ‘n volle 18 km gestap. Ons totale klimhoogte vir die dag 585m. Baie dankie aan Werner Booyens wat die stap gelei het en dankie aan Brenda vir die reëlings.

Otter-voetslaanpad: 20-24 Oktober 2022

Die Otter is een van die “groot roetes” wat jy in jou lewe moet doen. Dit is dus met groot opgewondenheid dat 11 van ons die Woensdagoggend na Nature’s Valley vertrek het om hierdie wonderlike en wilde stuk kuslyn vir vyf dae net vir onsself te hê. Ons het ‘n huis gereël vir verblyf voor en na die stap en dit het baie bygedra tot die lekkerte van alles. Ons braai die aand en almal skarrel om kry hul rugsakke reg te kry vir die stap waarna ons so lank uitgesien het. Die volgende oggend net voor 09:00 daag Burton Mlandu (pendeldiens) op om ons na die beginpunt by Stormsrivier te neem. Die papierwerk hier het nogals tyd geneem (almal moet inteken by die hek EN by die kantoor, mediese vorms ingee, en vrywaringsvorms invul). Dan volg die “briefing” met die hoofboodskap dat ons moet uitkyk vir die gety by die Lotteringrivier (Dag 3) en Bloukransrivier (Dag 4). Ons begin dus met drie dae se “gewone stap” en die wete (lees: “worry”) dat Dag 4 die dag is wat ons gaan toets. Dag 1 se stap neem ons vanaf die kantoor deur kuswoud tot by die see waar ons by die waterval vir middagete stop. Dit was bietjie koud vir swem. Dagbesoekers mag tot hier stap. Dan stap ons rustig verder tot by Ngubu se twee hutte – heel tevrede dat die eerste dag goed verloop het. Op Dag 2 begin die op- en afdraandes met mening, maar gelukkig is die klimme nooit baie hoog nie (behalwe die een na Bloubaai). Een stapper gesê het: “Ek sweet dan nou op die afdraandes ook.” Ons kruis Kleinbosrivier en stap verby Skilderkrans. ‘n Klomp los hul rugsakke op die paadjie en stap af na Bloubaai. Net toe ons weer aan die stap is, val daar ‘n vinnige bui reën. Scott se hutte is letterlik op die strand en ons het oorgenoeg tyd om op die hut se stoep te sit en kyk vir die see. Op Dag 3 moet ons eers oor die Geelhoutbosrivier en toe oor die Elandsbosrivier (waar party oor ‘n rotsrif geklouter het en ander liewer skoene uitgetrek het en deur die water geloop het). Ons kry toe die Lotteringrivier, wat ‘n halfuur se stap vanaf die hut is, op hoogwater. Werner toets die water, wat vir die meeste van ons (behalwe Abrie) hoër as middellyf diep is en baie sterk trek soos die gety begin sak. Ons plak toe langs die rivier en eet middagete, maar ná ‘n uur begin die mense kriewel en ons besluit om met survival bags oor die rivier te kom – ‘n goeie oefenlopie vir die volgende dag se Bloukrans. Die aand by Oakhurst se hutte het ons vroeg gaan slaap (dit was nog nie heeltemal donker nie) sodat ons 03:00 kon opstaan en 04:00 met flitse kon begin stap om die Bloukrans net na 08:00 op laagwater te kry. Die 10 km tot by die rivier sluit lekker stapbare paadjies in maar ook ‘n rotsagtige stuk langs die kus waar jy jou hande uit jou broeksakke moet haal en ‘n paar rotse moet omhels. Ons deel later die groep in twee sodat die vinnige groep ten minste oor die rivier kon kom (en die agterstappers desnoods die ontsnaproete neem). Op die ou end was daar ook ‘n middelgroep. Mens loop nog so deur die bos en dan skielik sien jy die magtige Bloukrans voor jou. Maar daar is nie tyd vir bewe of bang wees nie – ons moes deurdruk om oor die rivier te kom. Ons kon sien dat 2 mense reeds deur is en dat die middelgroep besig was om te begin oorstap. Die laaste groep het vinnig gereed gemaak vir die rivierkruising (trek skoene uit, sit alles in ‘n survival bag en maak dit met kabelbinders toe, en begin oorstap terwyl jy koes vir die branders wat inkom). Op die ou end is almal veilig oor (via die sandsloep) en almal het ‘n storie gehad om te vertel. Daarna volg die rotslysies (daar is nou ‘n tou waaraan jy kan vashou). Ons stap rustig verder en kom moeg en dankbaar by André se hutte aan. Laatmiddag het ‘n groot rooikat rustig op die strand voor die hut verby gedraf – nie iets wat mens aldag sien nie. Op Dag 5 stap ons oor die Kliprivier en klim weer die koppe uit tot op die eskarp met wonderlike uitsigte oor die see en die walvisse wat “ons die hele tyd gevolg het”. Ons stop vir iets te ete by die Helpmekaarrivier en toe weer voor die laaste klipperige afdraand na die strand by Nature’s Valley om “net te sit en uitkyk oor die see” want die Otter is groot. Die laaste deel van die Otter sluit by Dag 1 van die Tsitsikamma-roete aan en ons loop die laaste paar kilometer deur die bos tot by De Vasselot-natuurreservaat waar ons almal uitteken en foto’s neem. Ons eet die aand met “vyf dae se honger in ons” by die Blue Rocks restaurant op Nature’s Valley. ‘n Groot dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 45 km. Klimhoogte: 903 m.

Kirstenbosch: 15 Oktober 2022

Kirstenbosch, wat in 1913 gestig is en 96 tuiniers in diens het, is een van die groot botaniese tuine van die wêreld. Altesaam 12 mense het Saterdagoggend by Kirstenbosch bymekaar gekom vir ‘n luilekker stap via die Kamferboomlaning wat in 1898 deur Cecil Rhodes aangeplant is en Van Riebeeck se heining wat in 1660 aangeplant is. Die paadjie neem ons na die “boomslang” (Centenary Tree Canopy Walkway) met wonderlike uitsigte oor die botaniese tuin. Ons stop by ‘n stroompie om iets te eet en te drink. Ons loop verby die afdraai na Skeleton Gorge weer terug na die broodbome en Kolonel Bird se Bad en toe na die Tea Room vir iets te eet en te drink. Daarna gedra ons ons soos toeriste en besoek die twee winkeltjies en die tuinsentrum. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 4 km. Klimhoogte: 180 m.

Skyline Ridge, Constantiaberg: Saterdag 8 Oktober 2022

Altesaam 11 van ons kom die oggend by die dam in Silwermyn Natuurreservaat bymekaar. Nadat die admin afgehandel is, vat ons pad in die rigting van Noordhoekpiek. Na ‘n lekker stewige klim, vat ons die eerste blaaskans en ‘n welverdiende breek. Na ons almal ge-koffie is, wat ons verder koers na Noordhoekpiek waar ons ‘n asemrowende uitsig het oor Houtbaai. Ons stap aan al met Skyline Ridge langs en stop vir foto’s by Eagles Nest. Die paadjie is lekker op en af, en net voor ons die laaste 300m klim van Constantiapiek aandurf, wat ons nog ‘n blaaskans. Bo-op die piek is dit tyd vir middagete. Na ‘n lekker rus pak ons die roete terug aan, al met die olifant se rug langs tot by die oog. Nog ‘n rus voordat ons rigting kies terug na die motors. Net na ons die rivier oorsteek draai ons links met die Steenberg Ridge langs en finaal af na die motors. ‘n Lekker uitdagende stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die beplanning. Klimhoogte: 692m.

Greyton-McGregor: 1-2 Oktober 2022

Altesaam 16 van ons kom die Vrydagaand by die Ecolodge (ou skoolkoshuis wat in backpackers omskep is) bymekaar om die Saterdag te begin stap aan die Greyton-McGregor tweedagstap. ‘n Klompie van ons gaan verken die dorp en eet heerlike pizzas by Fiore terwyl die ander kos maak in die backpackers se kombuis. Daarna is dit ‘n geskarrel om alles reg te kry vir die volgende dag se stap. Net voor ons begin stap, kry Elana Swart nuus dat dit baie sleg gaan met haar pa se gesondheid en sy besluit om liewer van die stap te onttrek. Ons pak toe die lang-lang opdraand aan tot by Breakfast Rock waar ons iets een voor ons die laaste deel van die bult aanpak. Soos mens afsak in Boesmanskloof sien jy ook die bome in die verte wat die oornagpunt aandui en jy weet daar lê baie swoeg en sweet voor tussen die nekkie waarop ons staan en die een waar ons later moet uit. Ons stap aan tot by die swemgat waar ons vir middagete stop en waar ‘n paar dapperes swem. Na die swemgat bly die paadjie deur die kloof kronkel tot waar ons links met trappies begin opklim om weer uit die kloof te kom (eish, bietjie meer trappies as wat ons onthou het van die vorige keer). Dan kom mens uit op die ou pas wat van McGregor tot by Greyton sou loop maar nooit voltooi is nie. Ons bly in drie goed toegeruste en pragtige huisies op die Oosthuizens se plaas en ons braai lekker. Ons besluit om die volgende oggend vroeg in die pad te val want daar is warm weer voorspel (gelukkig het daar ‘n bietjie wind gewaai wat ons afgekoel het). Die vorige dag se afdraande is vandag se bulte, maar uiteindelik is ons weer op die nekkie en toe is dit afdraand al die pad tot onder in die dorp waar Abrie vir ons inwag met yskoue Coke. Ons stap terug tot by die Ecolodge en vat die pad Kaap toe. Baie dankie aan Abrie Marais en Werner Booyens vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die stapreëlings. Stapafstand: 32 km. Klimhoogte: 917 m

Worcester-natuurtuin: 24 September 2022

Sewe van ons vat die pad uit die Kaap uit in die rigting van Worcester. By die Natuurtuin aangekom betaal ons die toegang, parkeer en handel die admin af. Ons begin te stap en ons begin sommer met ‘n stewige klim op teen die heuwel agter die tuin. Daarvandaan sak ons eers weer af tot in die tuin waar ons ‘n lekker koffie geniet. Ons pak weer die roete aan en begin eers weer met ‘n lekker klim om bo-op die heuwel te kom. Ons stap al op die heuwel langs en geniet die mooi veldblomme en uitsigte langs die pad. Na nog ‘n breek, sak ons af. Hier moet daar met ‘n tou opgeklim word en 2 van ons besluit liewer nie. Ons stap verder af tot on uiteindelik weer in die tuin aankom. Ons wandel in die tuin rond en verwonder ons aan die blomme en bome. Aandie einde geniet ons ‘n lekker ietsie te ete en drink in die restaurant. Baie dankie aan Werner Dalziel vir alles wat met hierdie stap gepaard gegaan het. Klimhoogte: 268m.

Giant’s Basin, Grabouw: 17-18 September 2022

Die Saterdagoggend vergader 24 Sanlamstapmaats by die pragtige Trail’s End Bike Hotel. Kamers word uitgedeel en bagasie afgepak. Ons vergader in die eetsaal en stel almal voor aan Brenda Silberbauer, mede-eienaar van Trail’s End en ook ons stapgids vir die naweek, asook nog x3 dames van Elgin wat saamstap. Ons stap met ‘n baie gemaklike paadjie in die rigting van die Hottentots Holland-berge. Met ‘n effe nouer klipperige paadjie kies ons koers tussen kleinerige denneboompies deur in die rigting van Wessel’s Gat. Ons neem ‘n kort tee/waterbreek en stap dan verder om uiteindelik Wessel’s Gat te bereik. Voor ons is ‘n pragtige ou damwal – beslis gebou in die dae toe langtermynbehoud nog belangrik was! Die dam is tot oorlopens toe vol – d dus geniet ons die klanke van ‘n pragtige Waterval wat oor die damwal na benede stort. Kosblikke word uitgehaal en ons klink ook ‘n glasie Muscadel op Estelle Smuts se verjaarsdag. Michael toets sy “drone” uit. Ons begin ons terugtog na Trail’s End. Saterdagmiddag besoek ons Paul Wallace vir “Wine and Chocolate paring”. Terug by ons blyplek wag daar ‘n gesellige braaivleisvuur en ons kuier lekker saam. Laataand kyk ‘n paar van ons hoe die Springbokke Argentinië kafdraf. Sondagoggend neem Brenda Silberbauer 18 van ons na “The Rocky Garden”-roete. Ons stap weer in die rigting van die Hottentots Holland-berge, maar kies ‘n roete in die rigting van interessante rotsformasies. Ons geniet ook pragtige uitsigte oor die Elginvallei en omliggende plaasdamme. Ons geniet ‘n welverdiende breek en stap rustig terug na Trail’s End. Daar is ook ‘n interessante fietsmuseum by die hotel. Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir al die reëlings en aan Michael Smuts vir die mooi video van die naweek! Totale hoogte gewen: 420m.

Kaappunt-naweekstap: 10-11 September 2022

Ons was agt mense wat die Saterdagoggend by die hek van die Kaappunt-natuurreservaat bymekaar gekom het om te begin stap aan hierdie mooi twee-dagroete. Nadat ons by die hek ‘ingeboek’ het en die hut se sleutels gekry het, val ons in die pad om die roete kloksgewys om te stap. Die paadjie kronkel agterom of bo-oor die koppe (Judaspiek, De Boer en Paulsberg) aan die Valsbaai kant van die reservaat met fantastiese uitsigte oor Smitswinkelbaar en die see. Ons stop by die kanon op Kanonkop vir ‘n ruskans en stap dan af tot by die see by Bordjiesdrif en Buffelsbaai (bietjie koud vir swem) waar ons vir middagete stop. Daarna volg ‘n mooi stuk langs die kus en dan die laaste klim na die oornaghutte (Protea en Restio) met ‘n ongelooflike uitsig oor Valsbaai en die Atlantiese Oseaan. (Dit is heerlike hutte. Dit is jammer hulle kan nie die geboue rondom die hutte by die punt opknap en weer benut nie.) Ons braai die aand lekker (dankie aan Abrie en almal wat help dra het aan die charcoal) en kuier gesellig in die kombuis terwyl dit buite koud en reënerig is. Die volgende oggend verdeel ons in twee groepe: Amanda en Helen wat vroeër moes klaar maak omdat hulle ander verpligtinge aangehad het en Lieneke wat haar arm op dag 1 seergemaak het toe sy geval het (haar arm moes die volgende week in ‘n operasie reggestel word) en wat die teerpad gevat het, en die ander groep saam met Abrie wat die 19 km langs die Atlantiese Oseaan  aangepak het (met Estelle Zietsman wat toe ook val en haar arm kraak). Dit was ‘n naweek met baie dinge – die ongelooflike mooi natuur, twee mense wat arms breek, samesyn, lekker kuier en goeie oefening. Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 26 km of 35 km. Klimhoogte: 831 m.

Sosyskloof: 27 Augustus 2022

Ons het met 28 besprekings begin, maar dit was een van daardie weke wat mens nie geweet het wat die weer wou maak nie. Op die ou end besluit die 13  van ons wat nie kop uit getrek het nie om tot by die beginpunt van die roete in Jonkershoek te ry en dan ‘n besluit te neem. Dit sous behoorlik toe ons daar aankom en ons drink eers koffie. Ons besluit toe om die sirkelroete op die grondpad te doen want ons is dan nou daar en dit mens kan dit maklik in die reën stap. Die omgewing is mooi en die kleure is helder. Die reën drup-drup nog by tye maar ons kry darem ‘n kans om by die riviertjie by die Witbrug te stop en iets te eet. Daarna stap ons terug na die beginpunt toe. Dit was ‘n dag van lekker gesels, ‘n flink stap en lekker uitkom in die natuur. Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 11 km. Klimhoogte: 156 m.

Cave Peak, Kalkbaai: 20 Augustus 2022

Agt van ons kom die oggend aan die einde van Boyes Drive bymekaar. Ons neem die roete in die rigting van Elsiespiek voordat ons regs uitdraai en Noord mik. Net voor die ergste klim begin, draai ons links uit en geniet ‘n lekker brekvis. Hiervandaan verken ons die grotte en skeure aan die kant van die berg. Daar is ‘n hele paar grotte en van ons seil op ons mae deur tot aan die anderkant. Nodeloos om te sê ons kom vuil anderkant uit. Van die ander grotte is groter en mens kan lekker regop staan. Aan die einde draai die paadjie op teen die berg enons klim tot bo waar ons ‘n wonderlike uitsig het oor die suidelike skiereiland. Ons stap aan tot by die amfiteater en toe verder in die rigting van die Spes Bona woud. Ons neem die paadjie af tot amper weer by Boyes Drive. Ons vind ‘n min gebruikte paadjie en loop terug tot by die motors. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die reëlings. Klimhoogte: 616m.

Tygerberg-natuurreservaat, 6 Augustus 2022

Altesaam 17 mense het die Saterdagoggend 08:00 by die Tygerberg-natuurreservaat se hek bymekaar gekom vir hierdie lekker dagstap met sy mooi uitsigte oor die Boland se berge aan die een kant en Tafelberg en die see aan die ander kant. Ons het eers by twee van die damme verby gestap en toe ‘n stukkie geklim en ‘n koppie afgestap tot by ‘n piekniekplek waar ons teetyd gehou het. Daarna stap ons oor die koppie tot aan die Kaapse kant van reservaat en dan vir die laaste lang bult tot bo-op die koppie. Ons hou die lekkerste vir laaste want ons eindig weer by piekniektafeltjies, eet ons laaste kos en hou ‘n wen-‘n-pakkie-Winegums-vasvra (Vraag: Hoeveel soorte skoenlappers is daar in die reservaat? Antwoord: 40). Van daar af is dit ‘n kort entjie tot by die hek – al die pad afdraand. Maar ons maak eers ‘n draai by die Christo Pienaar-sentrum om na ‘n uitstalling van diere en voëls te kyk wat in die reservaat voorkom (en wonder hoekom hier nie ‘n “coffee shoppie” is nie). Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en Amanda Matthee vir die reëlings. Stapafstand: 10 km. Klimhoogte: 396 m.

Alphen-groengordelstap, 30 Julie 2022

Altesaam 18 dapper stappers ontmoet om 07:30 by die parkeerarea net voor die Alphen Hotel in Constantia. Almal is lekker warm aangetrek en moes vinnig reënbaadjies en rugsak-reënjassies aantrek toe ‘n reënbui ons so in die bymekaarkom oorval. Om 08:00 begin ons stap. Die reënbui was kortstondig en die skoon lug en pragtige groen omgewing sorg dat almal gou in ‘n vrolike luim is. Gewoonlik stap ons die Alphen roete anti-kloksgewys. Hierdie keer het ons dit kloksgewys gestap. Ons stap dus links op in die Alphen groengordel tot by Southern Cross Drive. Vanuit Southerncross Drive gaan ons Die Hel binne en kom weer uit by die ingang in Constantia Main Road. Die Hel is ‘n pragtige boomryke kom waar daar jare gelede vrugtebome aangeplant was om skeepvaarders van vars voorraad te voorsien. Op die 7 km merk geniet ons ‘n beker warm koffie. Ons stap dan vanuit Die Hel se ingang ‘n hele ent op met die pad tot by La Parada restaurant waar personeel welkome badkamergeriewe aan ons beskikbaar stel. Na ‘n kort ruskansie stap ons op die kontoerpad net onder Cecilia-woud. Ons kruis Rhodes Drive en stap ‘n entjie af met Hohenhort Laan tot by die Klaasenbosch voetpad. In hierdie pragtige omgewing met boomhoogte varings en waterstrome vind ons ‘n lekker sonnige kol en geniet ‘n ligte middagete. Daar word vrolik gesels en stomende drankies verseker ‘n lekker gesellige atmosfeer. Na ete stap ons verder en sluit weer by die Alphen-roete se wandelpad aan. Om 13:00 is ons by die motors, dankbaar dat ons ‘n heelike oggend in ‘n pragtige omgewing, sonder reën, kon geniet. Vir sommige is dit tyd om huiswaarts te keer terwyl van die ander lekker koffie en ‘n soetigheid geniet by die Alphen Hotel geniet. Dankie aan al die stappers wat hierdie ‘n heelike avontuur en sielsverkwikkende oggend gemaak het. Baie dankie aan Estelle Smuts vir die stapreëlings en stapleiding – dit bly ‘n mooi stap. Klimhoogte: 200 m.

Du Toitskop, Mont Rochelle, 23 Julie 2022

Elf stappers was om 08:00 by Mont Rochelle. Volgens YR sou die laaste reën dan net verby wees. Ons het in digte mis begin stap. Ongelukkig het die eerste druppels geval net na Breakfast Rock. Ek het besluit om eers die stap tot by die uitkykpunt en dan daar links te draai teen Du Toitskop op. Ongelukkig het daar ‘n bui reën uitgesak. Ons het tot by die uitkykpunt gestap en was toe reeds sopnat. Ons het ‘n koffiebreek gevat van 30 minute, waarna almal yskoud was en ons het besluit om terug te draai. Ons het geen uitsigte gehad nie. Ons het wel op pad terug besluit om die Vista Trail te doen, wat ons toe die mooiste uitsigte oor Franschhoek gegee het. Hier het ons weer ‘n lang breek gevat voor ons teruggestap het na die motors toe. Fantastiese gees onder die stappers, ‘n paar van ons het toe gery vir ‘n glasie wyn by ‘n plaaslike kroeg. Baie dankie aan Delfie Issel vir die stapreëlings en verantwoordlike stapleiding op een van daardie stapdae wat mens by die weer moet aanpas. Klimhoogte: 300 m.

Duiwelspiek, 16 Julie 2022

Altesaam 12 van ons het die pragtige Duiwelspiekroete gestap. Ons handel die admin af en begin net voor 08:00 te stap. Die San-woord vir wind is ‘duive’ en Duiwelspiek het aanvanklik as ‘Windberg’ bekend gestaan, voor die klank van die San-woord hiervoor tot ‘Duivepieken’ Duiwelspiek’ vervorm het. Die volksverhaal oor Jan van Hunks en die duiwel se gerokery is dus nie verantwoordelik vir Duiwelspiek se naam nie, maar dat hul gerokery gereeld as ‘n tafeldoek oor Tafelberg gesien word is ‘n feit! Ons het ons motors sowat 1 km anderkant die Platteklipparkeerterrein in Tafelbergweg parkeer. Die paadjie sig-sag teen die berg uit tot op die saaltjie en dan daarvandaan ‘n verdere baie steil 300 m na die bakens van waar ‘n mens ‘n ongelooflike mooi 360 grade uitsig in allerigtings het. Die hoogste baken is 1001m hoog wat net 85m laer as Tafelberg se 1086m is. Amanda deel heerlike soetgoedjies uit ter viering van haar verjaarsdag. Teen 12:30 was ons terug by die motors. Baie dankie aan Werner Booyens en Brenda Sideratos vir al die reëlings en die stapleiding. Dit was ‘n goeie en mooi stap. Klimhoogte: 569m.

Bergrivierdam – Frankrykrivierkloof (Snake Alley): 9 Julie 2022

Agt van ons kom lekker vroeg die oggend by die hek van die Begrivierdam bymekaar. Ons handel die admin af en betaal die permitte via Snapscan. Ons val in die pad en stap met die jeeptrack langs vir omtrent ‘n kilometer voordat ons links uit draai om die boonste kontoer pad te vind. Ons stap met die boonste kontoer langs waar ons ‘n hele paar watervalle teekom. By die een stop ons ook sommer vir ietsie te ete. Ons stap terg tot by die jeeptrack en aan tot by die wier/brug waar ons die Bergrivier oorsteek. Ons stap aan en in die kloof van die Frankrykrivier in. Ons moet ‘n tweede maal klim tot op ‘n kontoer, maar dit gaan voor die wind. Ons volg dan die kontoer en stap in die drie vertakkings van die Frankrykrivier in. Weer eens sien ons ‘n paar watervalle en die rivierstrome loop lekker sterk.  Ons sluit by die sementpad aan en steek weer die Bergrivier by die brug oor voordat ons die jeeptrack volg al die pad terug tot by die motors. ‘n Lekker vol dag se stap. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapleiding en al die reëlings – dit was ‘n besondere mooi stap wat ons gerus kan herhaal. Total klim 539m.

Walvisroete (Groep 2), 23-28 Junie 2022

Elf van ons kom by die Potberg-hut bymekaar by die Potberg Natuurreservaat, hoewel ‘n paar van ons op pad bietjie verdwaal het.  Ons gaan deur die inligtingsessie en mik hut toe. Ons begin om ons kratte te pak en daar is baie gewonder of ons alles gaan inkry. Almal kom darem reg. Dit reën ook verskriklik en ons wonder hoe gaan dit met die groepie wat die dag voor ons begin het. Dag 1: Ons begin lekker vroeg die oggend te stap. Ons klim rustig op totdat ons uiteindelik Potbergpiek bereik.  Ons stap verder en die Kaapse aasvoël vlieg laag oor ons koppe. Die uitsigte oor die Breederivier is ook asemrowend. Ons kom uiteindelik by Cupido’skraal se huisie aan waar ons lekker rustig vertoef.  Dag 2: Ons stap weer met ‘n op tot bo-op die berg voordat ons met die plato langs stap. Ons stap rustig oor die vlaktes en deur die proteas voordat ons uiteindelik by die kus aankom en Noetsie se huisie gewaar. Ons verkeer weer lekker rustig die aand is gesellig om die vuur. Dag 3: Ons stap van Noetsie se huisie al langs die kus terug in die rigting van De Hoop. Ons sien walvisse en dolfyne baljaar in die branders. By Stilgat geniet ons ons ‘n lekker breek en verken die grotte in die area.  ‘n Paar van ons sien kans om in die yskoue water te swem. Ons kom by Hamerkophut aan en kuier weer lekker rustig die aand. Dag 4: Van Hamerkophut stap ons seelangs op die strand. Ons stap verby Lekkerwaterlodge, waar ons nie vir hulle mag kyk nie. Na die strand stap ons aan met die paadjie en dis toe waar ons ‘n lekker groot pofadder raakloop. Ons sien nog walvisse en dolfyne ook.  Uiteindelik kom ons by Vaalkrans aan. Dag 4 is omtrent ‘n km langer as die aangeduide km. Ons verkeer weer gesellig. Dag 5:  Ons staan lekker vroeg op en pak die roete aan. Ons stap lekker rustig met die paadjie langs. By een van die strande stop ons en die wat waaghalsig genoeg is swem so bietjie in die see.  Van daar is dit die laaste stap tot by die Koppiealeen se parkeerarea. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 1830m.

Walvisroete (Groep 1), 22-27 Junie 2022

Terwyl die Visarend roep in die agtergrond sit ons op die vooraand van die Walvisroete by ons eerste oornaghut, Potberg, rondom ‘n vuur en gesels oor ons avontuur wat môreoggend begin. Almal was betyds vir ons “briefing” deur CapeNature. Dag1 stap ons vanaf Potberg na Cupidoskraal. Ons wil vroeg begin om die rëen te probeer vryspring maar na 10 minute begin die rëen val. Ons stap oor die heuwels in ysrëen wat ons wange klap. Dit het die hele dag gerëen en was almal bly om ontslae te raak van sopnat klere en skoene en vir die warm storte by die 2de hut. Dag 2 begin ons met nat skoene te stap van Cupidoskraal na Noetsie. Dit is weer eens op en af en vanaf die laaste krans kyk ons af op Noetsiehut. Ons klim vinnig af en oor die los sand, waarna die boulders ons bene weer toets voordat ons wydsbeen op die lekker stoep in die son kan gaan sit. Die aand maak ons lekker vuur in die onderste braai-area en word baie stories vertel. Dag 3 stap ons vanaf Noetsie na Hamerkop toe. Ons pak met klippe ‘n boodskap uit vir Werner se groep wat die volgende dag daar sou arriveer. DIt is die eerste dag wat ons kilometers minder is en ons geniet die son en die see. Dag 3 is egter meer uitdagend omdat dit die hele tyd ‘n wipplankroete is. Op en af. Ons bereik die nuwe staaltrap waarmee ons kon afstap na Stilgat toe waar ons ‘n lekker koffiebreek neem en verken toe ook die grotte voordat ons verder stap. Ons klouter oor die rotse by die Blow Holes en is ons asem weggeslaan deur hierdie natuurwonder. Ons sien met groot opwinding ons eerste drie walvisse wat lui in die water verby gly en net so nou en dan blaas. Ons stap verby die Window Rocks en weet ons hut is nou naby. Dag 4 stap ons vanaf Hamerkop seelangs tot by Vaalkrans. Ons sien weer ‘n walvis en ook dolfyne. Ons loop verby Lekkerwater-gastehuis wat net bedoel is vir mense met ‘n goeie bankbalans. By Vaalkrans sit ons hut bo-op ‘n grot waar die water onderdeur spoel en kan mens blykbaar die trillings voel. Dalk was ons te moeg. Dag 5 stap ons van Vaalkrans na Koppie Alleen. Die lang houtpaadjie tot bo waar die bussie vir ons wag aan die einde van hierdie fantastiese stap, word stadig geklim om die laaste bietjie lekkerte te geniet. Dit voel vir my asof Chariots of Fire nou moet begin speel soos ons opstap. Die Walvis-roete was nie sonder die nodige mediese toestande nie. Van diaree tot hande wat opswel van insekbyte, naarheid en braking, seer knieë en neus wat net nie wou ophou bloei nie, asook sommiges wat griepsimptome begin ontwikkel het, maar die span het soos een saamgestaan en almal het mekaar gehelp tot by die volgende hut en verder. Die kos is elke aand ingedeel tussen die stappers wat moes bykos en nagereg voorsien, hulle moes dit voorberei en na die ete ook die kombuis opruim. Koos en Lieneke het selfs vir ons ‘n tafel gedek met groot klip, groenigheid en skulpe met blou servette as versiering. Dankie aan almal wat so mooi saamgewerk het en mekaar ondersteun het. Dit het die lei van groep vir seker baie vergemaklik. Wat ‘n wonderlike voorreg om met so ‘n lekker groep te kon stap. Baie dankie aan Niel en Sharon vir die rëelings en leiding. ‘n Ekstra dankie aan Niel vir die reël van die permitte. Klimhoogte: 1830m.

Durbanville Meander, 11 Junie 2022

Altesaam 21 stappers vergader vroegoggend by die Doordekraaldam. Ons stap langs Doordekraaldam in die rigting van Majic Forest. By Majic Forest is alles pragtig groen en rustig. Ons neem die paadjie deur die bos tot aan die einde van die park en draai dan regs met ‘n steil grond pad wat ons verby Van Riebeeckshof-woonbuurt neem. Ons volg die steil voetpaadjies tot aan die bopunt van die koppie onder die bome. Hier skrop ons elkeen ‘n sitplek en geniet ons kospakkies. Die pad terug motors toe bied pragtige uitsigte oor die Bolandse berge en is boonop heelpad afdraand. Om 11h30 is ons almal veilig terug by die motors, groet en verdaag. Baie dankie aan Edna en Kobus Terblanche vir die stapreëlings en die stapleiding. Goeie stap wat ons gerus kan herhaal. Klimhoogte: 150m.

Olive Glen: Saterdag 28 Mei 2022

Die groep van 20 kom om 07:30 bymekaar en ons handel die admin af. Dis koelerig en reën word eers vir die middag voorspel. Ons is gewapen met reënbaadjies en een stapper het selfs ‘n sambreel!  Dis ‘n stywe klim tot by die nek – ons vorder goed en neem gereeld ‘n 5-minute staan-breek. Ons kry druppels reën maar niks wat ons keer om voort te stap. Ons hou ‘n kort teetyd en teen ongeveer 11:00 is ons by Castle Rock wat dan ook ons draaipunt is. Die uitsig na die Wemmershoek-dam is pragtig. Toe ons egter opstaan na ons breek begin dit toetrek en ons besluit om maar vinnig te stap want niemand wil regtig natreën nie. Ons het goeie uitsigte gehad met die afkom. Ons het weer ‘n kort middagete op pad af gehad en toe ons onder by die motors aankom, staan Avril (eienaar) en wag vir ons met heerlike warm HOT CHOCOLATE. Avril vertel ons bietjie meer van die plaas se geskiedenis. Teen 13:30 is ons klaar en almal het net begin groet en toe sak reën uit! Baie dankie aan Brenda Sideratos en Werner Booyens vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte = 510m.

Jonkershoek Circuit, Stellenbosch, 21 Mei 2022

Agt van ons kom lekker vroeg in die donker by die hek van die Jonkershoek-reservaat bymekaar. Dis om te verseker ons is een van die motors wat kan inry. Ons handel die admin en die permitte af wat ek vroeër deur MTO se webtuiste gekoop het en ry na die begin van die roete by Witbrug. Ons stap met die jeeptrack langs terug tot by die begin van Swartboskloof, waar ons dan opgaan. Dit is ‘n lekker klim, maar die uitsigte en die watervalle langs die pad maak op daarvoor.  o gekom kies ons eers pad na die uitkykpunt wat afkyk op die Helderbergkom. Dit is ‘n lieflike dag en ons kan tot in die verte sien. Van daar stap ons aan oor die plato en stop plek plek vir foto’s. By die bokant van Kurktrekkernek stop ons weer vir ‘n breek. Ons kies weer pad vir Bergriviernek. Die paadjie tussen Kurktrekkernek en Bergriviernek is bietjie rowwer as gewoonlik, veral die op net na Kurktrekkernek en die af net voor Bergriviernek. Ons geniet middagete op Bergriviernek. Van hier kies ons koers terug na die motor by Witbrug. Dis af, kontoer en weer af.  ‘n Lekker lang uitdagende stap met die mooiste uitsigte. Baie dankie aan Werner Dalziel vir al die reëlings en die stapleiding. Klim 1262m.

Grootvadersbos, 13-15 Mei 2022

Ons het oorspronklik bespreek om te kamp en dan die twee dagstappe te doen. CapeNature skakel ons toe en noem dat hulle steeds besig is met die ablusiegeriewe en of ons sal omgee om in die huisies te bly? Natuurlik sal ons dit neem! Ons kry toe vier huisies wat elkeen vier mense slaap. Die Vrydagaand is daar heerlik gebraai. Ons doen 2 dagstappe van onderskeidelik 15 km (Grysbokroete) en 10 km (Bushbuck Trail). Drie dapper stappers besluit om in die yskoue swembadwater af te koel na afloop van die stap. Ons braai die Saterdagaand weer en almal verkeer gesellig met ‘n snaakse hoed op die kop. Ons neem foto’s, gesels, lag en kuier heerlik. Sondagoggend pak ons op en skuif die motors na die ingang van die reservaat voordat ons die dagstap aanpak. Die Redwoods is deel van die Bushbuck Trail en dit is ook hier waar ons lekker rus vir teetyd en die pragtige bome aanskou. Teen 14:00 is ons almal terug by ons motors, ons groet en is met ‘n heerlike 25km agter die blad en rus vir die siel huis toe. Dankie aand Werner en Abrie wat gesorg het vir die braai en dankie ook aan Werner en Brenda wat die twee stappe gelei het asook die naweek gereël het. Totale klimhoogte is 974m.

Landdroskop: 1-2 Mei 2022

Altesaam 12 van ons het die Saterdagoggend by die Nuweberg-natuurreservaat buite Grabouw bymekaar gekom vir die Landdroskop-naweekstap. Vir baie van ons was dit die eerste oornagstap met ‘n groot rugsak vir die jaar (maar op die ou end pak mens net so swaar vir ‘n naweekstap as vir ‘n vyfdagstap oor al die ‘creature comforts’ wat ook moet saam, wat in hierdie geval vleis vir die aand se braai ingesluit het). Die eerste deel van die stap is opdraand met ‘n jeeppad tot by ‘n kol bome waar ons ontbyt geëet het. Dan draai ons af op die stappaadjie en klim ons geleidelik tot by ‘n punt waar jy die hut kan sien as jy weet waar om te kyk. Ons eet middagete in een van die klipklofies en pak dan die laaste deel op die kontoer tot by die hut aan (wat altyd verder is as wat dit lyk). Ons kom vroegmiddag by die hut aan en sit buite rond in die son met sop, tee, koffie of iets dergliks. Die aand maak ons ‘n groot vuur in die hut, en braai en kuier lekker. Die volgende oggend is dit meestal afdraand. Ons stop by die ‘Smiley Face’ rots vir foto’s en drink agterna koffie by die Zipline-mense se koffie shoppie. Die voordele van hierdie stap is dat dit mooi en naby aan die Kaap is, goeie oefening bied sonder om ekstreem te wees, en ‘n gesellige oornaghut het. Baie dankie aan Amanda Matthee vir die reëlings en aan Beulagh Keulder vir die stapleiding. Klimhoogte: 700 m.

Bakoven, Seepunt: 23 April 2022

Altesaam 19 stappers ontmoet mekaar op ‘n heerlike koel oggend by Queen’s parkeerarea in Seepunt. Kobus deel ‘n paar statistieke oor die eiendomme in hierdie area. Die duurste woning in Suid-Afrika, gedoop”Casablanca”, is tans gelys vir R545000000 (35 miljoen dollar). Dit is geleë in Kampsbaai. Die area is bekend vir luukse eiendomme en is veral gewild onder huiskopers van Gauteng. Ons begin 08:00 stap en volg die roete padlangs van waar ons die pragtige seeuitsig te geniet, asook so ‘n bietjie droom oor al die mooi huise langs die pad. By Bakoven draai ons af see se kant toe en nuttig ontbyt op die groot rotse oorkant die Nasionale Seereddingsinstituut. Ons gesels lekker en neem ‘n paar foto’s. Desire vermaak ons op pad terug na die motors met ‘n demonstrasierit op ‘n geleende elektroniese skopfiets! Ongelukkig het niemand kans gesien vir die yskoue water nie en het die swembroeke in die rugsakke gebly. Ongeveer 11h35 is almal veilig terug by die motors. Baie dankie aan Kobus en Edna Terblanche vir die stapreëlings en stapleiding. Klimhoogte: 60 m.

Kogelberg: 9 April 2022

Ons kom almal lekker vroeg by die Kogelberg-nattuurreservaat buite Kleinmond bymekaar. Ons handel vinnig die administrasie af en pak die lang roete aan. Ons stap eers in die rigting van Oudeboskloof, waar die moeilikste klim van die dag vir ons voorlê. Ons stap op in die kloof en dit is immer groen en ons verwonder ons aan die natuur. Na die klim draai ons regs op die Kogelberg roete. Ons stap aan verby die mooiste landskappe, al om Platberg, voordat ons weer by die jeeptrack aansluit.  Net voor ons afsak na die jeeptrack, geniet ons middagete met asemrownde uitsigte oor Louwsbos en die Lousrivier. Ons volg die jeeptrack al langs die Louwsrivier langs tot ons uiteindelik by die Palmiet roete aansluit. Ons het so fluks gestap dat ons ‘n lekker 30 minute by die Palmiet-strand langs die Palmietrivier kan deurbring. Ons pak die laaste paar kilometers aan terug tot by die begin. Hierdie is ‘n lekker langs stap, maar bitter mooi en het ‘n ietsie van alles vir almal. Baie dankie aan Werner Dalziel vir die reëlings en stapleiding. Klimhoogte: 706m

Dolphin Beach: 2 April 2022

Roete: Woodbridge vuurtoring tot Ons se Huisie en terug.

Ons het Saterdag 14 stappers by Woodbridge eiland by die Vuurtoring bymekaar gekom.Die hoogte en ander intresante feite is bespreek. Om 07:40 begin die stap strandlangs met ‘n lige wind wat in ‘n Noordelike rigting waai, lekker van agter teen die rug. Wynand stap voor en Madie agter met Pippa ‘n 4 maande oue Greatdane. Oorkant KFC in Table view het ons tee tyd en iets om te eet geniet. Daarna stap ons tussen “kite Surfers” op die strand tot Blaauwberg net voor Ons se Huisie. Op die rotse word middag ete gehou en lekker koffie by die plaaslike winkeltjie gekoop. Madie en Pippa verlaat die groep met die bakkie wat gelos was vroër die oggend. Daar was wel ‘n versoek met die wind wat opkom om van die bestuurders per voertuig terug Milnerton toe te neem maar na ons dit met die groep stappers bespreek was het almal ingestem hulle stap eerder terug, die brawe groep mense, ons het wel langs die pad gestap tot by Dolphin Beach Hotel en daarna af op die strand, teen die tyd het die wind goed opgetel en die
laaste 3 km het stadig verby gegaan, Alana het pyn beleef met blase en Wynand het gehelp om haar rugsak te dra, Beulagh het saam agter gestap. Niel ,Sharon, Amanda en Gerna het saam gewag vir die laaste stappers van die span. Ons arriveer 13:15 terug by die voertuie na ‘n lekker veeleisende stap danksy die Kaapste dokter!

Rooiheuwel-Noord, Botrivier: 19 Maart 2022

Roete: Rooiheuwel na Sentinel Hill

Ons was 9 stappers wat hierdie mooi roete op die plaas in Botrivier gaan stap het. Na die admin afgehandel is klim ons oor heinings om die paadjie berg op te volg. Die weer is heerlik koel en almal gesels lekker saam. Die steil paadjie wat gelukkig zig-zag is aanhoudend en flous jou op die eerste hoogte, want agter die bult is nog ‘n opdraend. Ons stop vir ‘n vinnige koffie by die laaste skuiling agter rotse waarna ons die laaste bult gryp. Met die wind onder ons blaaie is ons sommer vinnig bo en word rugsakke afgegooi en sit ons sommer plat op die grond agter rotse vir n ordentlike ruskans, om die innerlike te voed en weer krag te kry vir die aanhoudende af. Wat op gaan moet weer af. Ons het 360 grade uitsigte wat tot doer in die toekoms kyk. Ons sien Constantiaberg, Theewaterskloof, Caledon en
Botrivier soos ons in die rondte draai, en dit is net mooi. Ons begin lui-lui die afdraende aan te pak en halfpad af begin ons bene te bewe en los klippe maak dat ons mooi moet konsentreer. Ons is bly om onder te kom en speel bietjie met die plaas hond wat ons vriendelik inwag. Ons gaan drink ietsie koel onder in Botrivier by die Shuntin Shed waarna ons groet en almal huiswaarts terugkeer. Dankie aan almal wat saamgestap het, lekker gesels, lekker lag en ook vir Niel se stapleiding. Klimhoogte 653m

Oudekraal Ravine – Tafelberg: 12 Maart 2022

Roete: Oudekraal Ravine

11 Van ons kom vroeg die oggend in Theresalaan te Bakoven bymekaar. Ons handel die admin af en pak die roete aan. Die eerste klim tot op die kontoer laat die hart lekker vinnig klop. Ons volg die pipe track tot by die grot/oorhang waar ons lekker ietsie te ete en drinke geniet. Hierna soek ons die afdraai na Oudekraal Ravine. Ons volg die paadjie en ons geniet die interesante rots formasies en die uitsigte oor die Atlantiese oseaan. Ons kom aan die onderkant van Oudekraal Ravine aan en klim op in die kloof. Dit swoeg maar lekker, maar kort voor lank is ons bo. Aan die voet van Grootkop wat ons ‘n welverdiende ruskans. Hiervandaan gaan maak ons eers ‘n draai by Tranquility Cracks, maar slegte weer kom in op die berg en ons kan nie lank vertoef nie. Ons vat toe die paadjie af met Corridor Ravine en volg die Pipe Track al die pad terug tot by die motors. Klimhoogte: 1090m

Grotto Bay: 5 Maart 2022

Roete: Ostrich Trail

Vroeg Saterdagoggend het ‘n stewige groep van 33 stappers by die Conservation Centre binne Grotto Bay Estate bymekaar gekom om die Volstruis-sirkelroete wat deur die reservaat loop, aan te durf. Ons mis eers die beginpunt met so 100 meter, maar daarna vind die nuweling-stapleiers wel hul voete (of altans die pad waarop daardie voete moet stap)! Die eerste gedeelte van die stap neem ons deur die strandveld se fynbos. Op ‘n stadium hardloop ‘n volstruis so ‘n entjie voor ons in die paadjie, asof om aan te dui ons loop op sy roete! By die kurkdroë Modderrivier draai ons seewaarts, met die dikker sand wat so bietjie meer van ‘n uitdaging lewer. Ons haal die halfpadmerk waar die rivier die see mond en verpoos kort daarna by ‘n rotsstapel vir iets te ete. ‘n Paar dapperes gaan baljaar vlugtig in die yskoue Atlantiese oseaanwater. Met vol mae stap ons met die kuslyn af. Hierdie deel staan bekend as die Oystercatcher Trail en bied pragtige seeuitsigte met unieke rotsformasies. Die klim en klouter oor rotse verloop heel gemaklik en die ebgety speel saam. Ons loop verby ‘n paar vissers (nie Sharon en Niel nie!) op die rotse, wat beduie dat die visse maar traag is om te byt. Daarna kom ons by ‘n “spookstrandhuis” met graffiti oral teen die mure. Hier word Esther Warnich se 1,000 totale km-mylpaal, wat sy op die roete bereik het, summier met ‘n slukkie vonkelwyn gevier. Intussen speel die groep lekker saam om die geheime leuse (“Walk4joy”) te ontsyfer en op hul kaartjies in te vul – enkeles verwar ‘n 4 met ‘n 2 of Warnich met Booyens, maar feitlik almal kry dit wel op die ou ent reg. Die laaste deel draai ons weer binnelands, loop verby Grotto Bay Estate se spoghuise, verdwaal amper weer hier kort voor die eindstreep, maar bereik almal die motors met ons litte goed los. Magda Kritzinger Le Roux wen die “lucky draw” prys en ‘n houtmedalje/yskasmagneet daarmee saam. Sowat helfte van die groep gaan nuttig daarna ‘n happie of twee by Groote Post en party beproef die landgoed se lekker wyne. Dankie aan almal – dit was vir my (Freddie) en Susan ‘n plesier om julle aan boord te hê. Gelukkig was daar meer blaf as byt in hierdie roete! 10 (9.4) km is afgelê en ons het selfs 86m hoogte bygevoeg.

Banhoek, Kylemore: 26 Februarie 2022

Roete: Volstruis -, Eikenhofkloof en Dragoon buttress

8 Van ons kom lekker vroeg in Banhoek bymekaar vir ‘n stap wat voorlê. Na die admin afgehandel is begin ons te stap in die rigting van Volstruiskloof. Na ‘n lekker opdraend en ‘n waaghalsige kettingklou episode kom ons in die kloof aan. Party van ons swem en van ons trek skoene uit vir ‘n bietjie lafenis in die koue water. Na ‘n lekker ruskansie loop ons net om die draai tot by Eikenhofkloof. Ons besluit om eers op te klim tot bo-op Dragoon Buttress om die ergste klim agter die rug te kry voordat die dag se hitte arriveer. Die uitsigte vanaf Dragoon buttrress is asemrowend. Mens kan die hele Kylemore, Pniel area sien en uitsigte op Simonsberg. Ons vertoef so rukkie hier. Ons stap toe terug af in Eikenhofkloof en neem die paadjie tot by die tweede waterval. Hier is van ons weer in die water in vir die laaste afkoel. Na ‘n lekker middagete stap ons met die paadjie terug tot by die motors. Uit en uit ‘n baie mooi stap. Klimhoogte: 750m

Franskraal-naweek 18 – 20 Februarie 2022

Roete: Platbos, Tafelberg en Stanford’s cove na Die stal

Vrydag arriveer 13 stappers by Strandskloof woonwa park net buite Franskraal. Braaivleis vure word aangesteek en, ten spyte van stormwinde, braai en gesels ons lekker om die vuur. Saterdag om 07h45 vertrek 10 stappers na ‘n splinternuwe roete wat die klub nog nooit gestap het nie. By Platbos betaal ons permitte en wandel deur die pragtige ou bos wat deur ‘n familie hervestig word. Permitgeld word gebruik vir die resourasie van die bos, asook hervestiging van die oorspronklike plantegroei. Ons kom af op ‘n hout struktuur met 3 vlakke wat gebruik kan word om die bos se voëls te bestudeer. Ons stap verby vele Wit-stinkhout bome, asook ‘n paar bome waarvan die geskatte ouderdom van elk ±1000 jaar is. Volgende kies ons koers na die nabygeleë berg. ‘n Stywe, steil klipperige pad neem ons deur ‘n fynbos area tot bo-op Tafelberg. Nou ja, dit is beslis nie die “Tafelberg” wat ons almal so goed ken nie! Ons gebruik ons verbeelding en probeer verstaan waarom die omgewing se mense hierdie naam gekies het. Hier geniet ons ‘n blaaskans en ietsie te ete, terwyl ons die omgewing bewonder. Die pragtige uitsigte van berg, see, rivier, ons kampeer area ver onder, Lomond-plaas met sy massiewe dam en ook die vars reuk van die veld. Ons stap terug, nou darem bult af! Onder volg ons die pad deur die res van Platbos tot by die motors. Nadat almal in die swembad by die kamp afgekoel het, vertrek ál 13 van ons na Lomond en geniet ‘n heerlike “plankie ete”. Die middag word weer geswem en gebraai. Vrydag en Saterdag aand het ‘n paar van ons in die warm swembad ontspan. Sondag vertrek 11 stappers om 07h45 na Stanford’s Cove en stap al kuslangs in die rigting van De Kelders. Ons geniet die seebriesie en die pragtige uitsigte oor die see en rotformasies. Ons stap verby De Kelders en Duiwelsgat in die rigting van die bekende “Stal” grotte. Net bokant die grot geniet ons ‘n blaaskans en die kosblikke word uitgehaal. Ons stap rustig terug motors toe. By Franskraal koel ons af met ‘n welverdiende draai-roomys van elkeen se keuse. Dankie aan almal wat hierdie kamp bygewoon het – ek en Kobus waardeer julle samewerking. Meters gestyg = 400m

Bergrivierdam: 12 Februarie 2022

Roete: Rondom die dam / Dam 360

18 van ons kom by die hek by die boonste punt van die Bergrivierdam bymekaar. Na die admin afgehandel is begin ons te stap. Ons stap eers al aan die voet van Matoppie langs aan die oostelike oewer van die Bergrivierdam voordat ons links draai om onder die damwal die Bergrivier oor te steek. Hier trek paar skoene uit en ander stap sommer net deur. Ons breek vir ‘n oomblik voordat ons verder stap en eers nog ‘n tak van die rivier moet oorsteek. Ons klim aan die oorkanste oewer van die dam uit en die hitte begin ons te voel. Ons stap al langs die westelike oewer langs en soms raak die paadjie maar bietjie weg. Ons kom aan by Wolwekloof waar ons middagete geniet en bietjie in die dam swem. Die “sandmonster” vang ‘n hele paar van ons uit en ons sink weg in die sand tot bo die knieë. Ná middagete stap ons al langs die suidelike oewer van die dam langs tot ons uiteindelik by die wier uitkom. Van die stappers besluit om deur te druk tot by motors, maar die res van ons will eers weer bietjie afkoel. Ons almal gaan lê lekker in die rivier en koel af. Daarna die stap al die pad terug tot by die motors. Lank en warm, maar
genotvol. Klimhoogte: 245m

Tafelberg – Disas 2022 (Moeilike roete): 5 Februarie 2022

Roete: Skeletongorge, Echo Valley, Valley of Isolation, Cecilia Ridge

Ses van ons kom vroeg die oggend by Cecilia Forest se parkeerarea bymekaar. Nadat almal parkering gesoek het en die admin afgehandel is, val ons in die pad. Ons klim rustig tot op die kontoer voordat ons regs draai in die rigting van Skeleton Gorge. Daar aangekom klim ons stadig maar seker op in die kloof tot heel bo waar ons ‘n welverdiende breek vat om asem te skep en om ‘n ietsie te eet om die energie vlakke te herstel. Hiervandaan stap ons met die Smuts Track tot by Window Gorge waar ons die eerste Disas gewaar en foto’s word geneem. Ons stap aan tot by die akwadukt waar ons nog baie Disas gewaar en nog foto’s word geneem nadat ons eers bietjie onder die waterval afgekoel het. Ons stap aan tot by die volgende waterval waar daar ‘n alternatiewe roete is oor na Echo Valley. Ons neem eers nog foto’s by die waterval en hier kom ons ook die “maklike” groep stappers teë. Ons stap aan in die rigting van Echo Valley terwyl ons nog Disas langs die pad gewaar. Ons stap verder via die Valley of Isolation waar ons dan middagete geniet by die rots oorhang wat uitkyk op die damme. Hier kon ons weer die “maklike” groep sien en spioeneer so bietjie op hulle. Ons stap aan ná ete in die rigting van Ash Valley voordat ons uiteindelik by Cecilia Ridge aankom en hierdie baie steil paadjie aanpak na onder. Dit gaan maar stadig en versigtig en jy moet mooi trap. Die hitte begin ook sy tol eis. By die kontoer aangekom rus ons ‘n oomblik voordat ons aanstap na Cecilia Waterval. Ons is heeltemal alleen daar en almal maak ‘n draai onder die waterval om ordentlik af te koel. Ons stap aan onder die bome tot terug by die motors. ‘n Lekker warm uitdagende stap waarvan die afstand en klimhoogte saam boekdele spreek. Klimhoogte: 975m

Tafelberg – Disas 2022 (Maklike roete): 5 Februarie 2022

Roete: Vanaf Constantianek

Altesaam 16 van ons het Saterdag 5 Februarie 2022 om 07:00 by Constantianek bymekaar gekom om disas te gaan kyk. Ons het in die vroegoggend koelte tot ons voordeel benut en die “trappe”-pad tot bo by die jeeppad geneem, en toe tot by die Woodhead-dam op die agterste tafel gestap waar ons onder die bome ontbyt geëet het. Van daar af het ons oor die damwal gestap en toe koers gekies in Disakloof op. Ons het sommer gou op die eerste disas afgekom. Dit maak nie saak of dit die eerste of hoeveelste keer is wat jy ‘n disa sien nie, dit bly spesiaal. ‘n Klompie het opgestap na die akwaduk (waar hulle Werner se “extreme” stappers gekry het) terwyl die res nog ‘n rukkie by die stroom gebly het en toe in die koelte van die Hely-Hutchinson-damwal gaan skuiling soek het teen Februarie se hitte. Ons is toe almal weer met dieselfde pad ondertoe. (Ons moet in die toekoms onthou dat die twee krane op die berg nie meer werk nie en dat ons genoeg water saamdra.) Baie dankie aan Abrie Marais vir die stapleiding en aan Amanda Matthee vir die reëlings. Klimhoogte = 668 meter.

Klipspringer roete – Kogelbaai: 29 Januarie 2022

Die maklike kombinasie van berg en see stap begin met n 50m klim en al 15 stappers is sommer vinnig bo waar ons eers asem skep met n lieflike uitsig oor Kogelbaai, met Kaappunt wat ook in die mis sigbaar is. Die paadjie loop dan kronkelend teen die voet van die berg totdat ons die jeeptrack na die dam kry. Ons draai dan regs af om by die see uit te kom. Eers moet ons die grootpad kruis en kruip ons dan om ‘n paal teen die heining en hek van Klippiesbaai waar ons op die rotse gaan sit vir ontbyt. Ons begin dan die los sand van Kogelbaai aandurf. Die verskillende bloue van die see skep ‘n pragtige prentjie. Groterige klippe sorg vir so bietjie mooi trap totdat ons anderkant by Dappat se gat uitkom. Hier is paar dapperes wat die kruis strome, koue water en rowwe see trotseer. Die ander kruip rond in die grotte en neem ook klomp fotos. Niel vertel van die legende van Dappat se gat waarna ons begin terug stap. Van ons moet rats om die rotse hardloop om die branders met hooggety wat intussen ingekom het vry te spring. Ons loop weer oor die klippe en stap dan op om die kampterein se pad te vind vir koelte. Ons was nie eerste daar nie en moet die pad deel met ‘n hele trop bobbejane. Terug by die hoof hek van die kamp terrein groet ons en keer almal terug huis toe. Dankie aan al die stappers vir lekker gesels en opvang van stories. Dankie ook aan Niel en Sharon vir die reël en leiding van hierdie stap. Meters gestyg – 131m

Leeukop-kontoerpad: 22 Januarie 2022

Roete: Kloofnek-parkering, Seinheuwel en Kontoerpad

11 Volwassenes en 2 kinders het op 22 Januarie 2022 om 6:45 bymekaargekom by die Kloofnek parkeerterrein. Temperature van laat 30s tot vroeë 40s is vir die dag voorspel. Nadat die administrasie afgehandel is doen Niel vir ons ‘n gebed. Ons begin stap met die kwik wat reeds op 30 grade celsius staan. Die paadjie teen die eerste bult is effe steil en vinnig besef ons dat ons vandag gaan stap om klaar te kry. Die hitte is voelbaar vanuit die grond en die sirkulêrende lug. Gelukkig waai daar ‘n effense windjie wat help om die sweet te verdamp. Ons stap by die Seinheuwel kramat verby waarvan daar geskryf is: ” The circle of Kramats in Cape Town is a shrine to Muslim holy men buried in Cape Town. Legend goes that it is this circle that protects Cape Town from earthquakes and National disasters. Kramats or Mazaars, the holy shrines of Islam, mark the graves of Holy Men of the Muslim faith who have died at the Cape. There are more than 20 recognized kramats in the Peninsula area, with at least another three in the outlying districts of Faure, Caledon, Rawsonville and Bains Kloof.” (https://www.sahistory.org.za/place/circle-kramats-cape-town). Ons sien etlike ander grafte langs die pad soos wat ons op beweeg tot by die valskermsweefarea op Seinheuwel. Hier sit etlike mense lui rond en die valskermspan wag ongeduldig vir die wind om op te kom sodat hulle toeriste en inwoners kan uitneem op ‘n sweef avontuur. Onder die bome sit ons vlugtig en rus vir 10minute voordat ons die laaste deel van die stap aandurf. Dit is vinnig besig om ernstig warm te raak. Met die vele afdraaipaadjies en baie gesels, mis ons die eerste afdraai na die kontoerpad. Ons stap dus maar weet tot by die Kramat waarvandaan ons op die kontoerpad kom. Ons stap tussen bloekombome bokant pragtige huise met Robbeneiland in die vêrte en die wye blou see wat voor ons uitstrek. Onder ons lê Clifton se strand, gepak met swemmers en strandgangers wat ‘n lafenis in die koel water soek. Onder die bome rus ons weer ‘n rukkie waarvandaan ons na die motors terugkeer. Die kwik lees 38 grade celsius en almal is haastig om ‘n koel lafenis in die see of swembad te vind.
Baie dankie aan Michael wat die agterloper was en aan elke stapper wat die hitte getrotseer het om saam te stap. Volgende keer durf ons die valskermsweef aan! Meters geklim = 262m

Danie Miller-roete: 15 Januarie 2022

17 van ons kom om 7:30 bymekaar op die parkeerplek oorkant Talla’s Tavern. Nadat die admin en ander formaliteite afgehandel is begin ons om 7:40 stap. Ons loop deur die dorp met Kusweg, Sir Lowrystraat, Boundaryweg (lekker steil), Chapmanlaan en Auroraweg om by die beginpunt van die Danie Miller-staproete uit te kom. Dáár word eers foto’s geneem in die laaste skaduwee voordat ons die roete aanpak. Ons vorder goed maar beland op ‘n stadium op ‘n stukkie pad wat maar rof is voordat ons weer op die regte paadjie beland. Volgens ‘n ander stapper wat daar verbykom moes ons ‘n entjie vroeër die paadjie links van ‘n groot klip geneem het ipv regs. Ons stop by die bekende GB (Generaal Botha) klipformasie vir ‘n versnappering. Die laaste gedeelte is redelik maklik en ons verlaat die berg by die bekende Walvisuitkykpunt. Vandaar stap ons via Bikini Beach terug na die parkeerplek by Talla’s Tavern. ‘n Klompie van ons gaan eet iets lig en/of drink ietsie koel by Talla’s Tavern. Hoogte gewen: 210m

Kleinmond-seestap: 8 Januarie 2022

Roete: Kuslangs na Palmietrivier en terug

8 Van ons kom lekker vroeg die oggend by Kleinmond se strand bymekaar. Ons is bietjie bekommered oor die weer, want dis bietjie koud en lyk reënerig. Ons handel egter die admin af en pak die roete aan. Ons stap al seelangs, verby die hawe, tot amper by die mond van die Palmiet rivier. Hier draai ons binneland en stap al met die oewer van die rivier langs tot by die R44 se brug. Dit begin al lekker warm word en ons soek vir ons ‘n gaatjie langs die rivier. Van ons klim in die water om ‘n bietjie af te koel. Nadat meeste van ons ‘n bietjie afgekoel het pak ons die res van die roete aan, aan die oorkantste oewer van die rivier. Ons stap tot by mond waar ons deur die diep water moet loop om tot op die strand te kom. Ons soek vir ons ‘n gaatjie op die sand en van ons druk ons voete in die seewater. Dis egter yskoud en swem is nie ‘n opsie nie. Hierna pak ons toe dieselfde roete terug aan tot by Kleinmond se strand. Ons stop egter lekker halfpad by die hawe vir ‘n koeldrank of roomys. Klimhoogte: 61m